South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 51

| Noteup | LawCite

Offset Press Supplies (Pty) Ltd t/a Printech Engineering v Goldfields Carriers (1108/2005) [2005] ZAFSHC 51 (26 May 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak Nr. : 1108/2005



In die saak tussen:


OFFSET PRESS SUPPLIES (PTY) LTD Eiser

t/a PRINTECH ENGINEERING


en


GOLDFIELD CARRIERS CC Verweerder




CORAM: CILLIé R

_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 17 MEI 2005

_____________________________________________________


UITSPRAAK: CILLIé R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 26 MEI 2005

_____________________________________________________


[1] Hierdie is ‘n aansoek van die verweerder om die wysiging van sy verweerskrif. Daardie wysiging behels egter die terugtrekking van ‘n erkenning. Die erkenning wat beoog staan teruggetrek te word, is die toegewing dat die verweerder ‘n sorgsaamheidsplig (“duty of care”) teenoor die eiser gehad het ten aansien van ‘n sekere masjien van eiser wat verweerder vervoer het. In ‘n ondersteunende eedsverklaring van verweerder word verduidelik dat die besondere paragraaf, dit is paragraaf 5 van eiser se besonderhede van eis, bona fide verkeerdelik erken was terwyl die erkenning sodanig strydig met die verweer is dat die paragraaf eintlik ontken moes word. Die eiser bestry die aangevraagde wysiging.


[2] Die beginsels van toepassing by aansoeke van hierdie aard is so welbekend dat dit nouliks nodig is om weer te gee. Ek benader die geskil op die basis dat dit verkieslik is om wysigings toe te staan sodat die werklike geskil tussen die partye na vore kom. Wanneer ‘n erkenning teruggetrek wil word, word ‘n aanvaarbare verduideliking vir die intree van die foutiewe toegewing geverg. Só ‘n party moet ook aantoon dat dit nie nadeel, wat nie met ‘n kostebevel reggestel kan word nie, vir die teenparty inhou. Feitelike erkennings sal minder geredelik toegelaat word om teruggetrek te word dan erkennings wat in die aard van ‘n regskonklusie is.


[3] Terwyl die omstandighede in hierdie aansoek sodanig is dat dit in normale omstandighede toegestaan behoort te word, opper die betoog van Mnr. Roeloffze, namens die eiser, ‘n aspek wat verdere oorweging noodsaak. Hy voer naamlik aan dat, al word dit aanvaar dat dit die verweerder se bedoeling was om nie die erkenning te maak nie, dit uit al die stukke wat reeds voor die Hof is duidelik is dat die erkenning in elk geval korrek gemaak was. Dit, sê hy, impakteer negatief op die verweerder se vooruitsigte om tydens die verhoor met die beoogde ontkenning te slaag. Hierdie betoog van Mnr. Roeloffze het ‘n hele debat, rondom die ou twispunt naamlik of daar ruimte is vir ‘n deliktuele eis in gevalle waar die skuldoorsaak sy ontstaan eintlik uit ‘n kontraktuele verband het, tussen die advokate ontketen.


[4] Die stukke dui aan dat eiser met ‘n instansie genaamd Containerised Cargo & Trucking (Pty) Ltd gekontrakteer het vir die vervoer van die masjien. Laasgenoemde het die vervoer op ‘n subkontrak uitgegee aan Transcape Bemarking wat dit weer op sy beurt aan die verweerder subkontrakteer het. Tydens verweerder se vervoer daarvan is dit beskadig, beweerdelik deur verweerder se nalatigheid. Daar is dus geen kontraktuele verbintenis tussen die eiser en die verweerder nie, maar dit is wel so dat die vervoer sy aanvanklike ontstaan het uit ‘n kontrak.


[5] Mnr. van Amstel, namens die verweerder, betoog met verwysing na OTTO v SANTAM VERSEKERING BPK EN 'N ANDER 1992 (3) SA 615 (O) en ALFA LAVAL AGRI (PTY) LTD EN 'N ANDER v FERREIRA EN 'N ANDER NNO 2004 (2) SA 68 (O) beide uitsprake van hierdie Hof, dat daar in sulke omstandighede geen ruimte is vir deliktuele aanspreeklikheid synde die grondslag waarop die eiser se eis teen verweerder in sy besonderhede van eis geformuleer is nie. Aldus, betoog Mnr. van Amstel, is die gewraakte erkenning dat verweerder wel ‘n sorgsaamheidsplig teenoor eiser gehad het, ‘n regskonklusie wat regtens foutief is en waaraan verweerder nie gebonde gehou behoort te word nie. Mnr. Roeloffze betoog met verwysing na veral LEON BEKAERT SOUTHERN AFRICA (PTY) LTD v RAUTIES TRANSPORT (PTY) LTD 1984 (1) SA 814 (W), dat die beginsel uiteengesit in voormelde beslissings van hierdie Hof nie oral as korrek aanvaar word nie.

[6] Ek meen nie dat dit aangewese is om op hierdie stadium van die geding uitsluitsel te gee oor die korrektheid van die onderskeie betoë nie. Dit is voldoende om te konstateer dat beide sienswyses oënskynlik deur bepaalde beslissings ondersteun word. Dit alleen is al rede meen ek waarom die aangevraagde regshulp verleen behoort te word. Dit sal die verhoorhof in staat stel om nadat volledige getuienis aangehoor is aangaande die presiese aard van die aangevoerde “kontraktuele ontstaan” van die eis te bereg of dit ‘n korrekte regskonklusie was aldan nie. Só ‘n benadering kom my voor in pas te wees met die benadering dat die Hof moet meehelp om die werklike geskilpunte behoorlik belug te kry in die pleitstukke.


[7] Die party wat die tegemoetkoming van die Hof vra, dra normaalweg die koste teweeggebring deur die aangevraagde wysiging. Dit is ook so deur Mnr. van Amstel, namens die verweerder, aanvaar. Mnr. Roeloffze, namens die eiser, het egter aangevoer dat die laat stadium waarop die wysiging aangevra word addisionele koste meegebring het wat ‘n spesiale kostebevel regverdig. Dié “laat stadium” verwys na die feit dat kennis van die aangevraagde wysiging 12 dae voor die verhoor gegee was en die aansoek self op die eerste dag van die periode wat vir die verhoor bestem was, argumenteer was. Geen mala fides aan die kant van die verweerder is egter aangetoon nie. Alhoewel die eiser se bestryding van die aansoek om wysiging nie onredelik was nie, kon eiser die wysiging vroeër toegegee het. In al die omstandighede meen ek nie dat ‘n spesiale kostebevel geregverdig is nie. Verweerder behoort egter die eiser se koste van bestryding te betaal asook die koste van die uitstel. Bygevolg word die volgende bevel gemaak:


1. Verlof word aan die verweerder verleen om die erkenning vervat in paragraaf 6 van sy verweerskrif terug te trek.

2. Verweerder se verweerskrif word gewysig deur paragraaf 6 daarvan te skrap en te vervang met die volgende:


AD PARAGRAAF 5 DAARVAN:

Die inhoud hiervan word ontken en eiser word tot die bewys daarvan geplaas.”


3. Verweerder moet die koste teweeggebring deur die wysiging, wat inlsuit die koste van bestryding van die aansoek en die verspilde koste vanweë die uitstel van die verhoor, op die gewone skaal, d.w.s. soos tussen party en party betaal.





____________

C.B. CILLIé, R




Namens die eiser: Adv A L Roeloffze

In opdrag van:

Webbers

BLOEMFONTEIN



Namens die verweerder: Adv C Ploos van Amstel SC

In opdrag van:

Honey Prokureurs

BLOEMFONTEIN



/sp