South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 15

| Noteup | LawCite

Oos Vrystaat Kaap Bedryf Beperk v Bester (3031/2005) [2005] ZAFSHC 15 (10 November 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak Nr. : 3031/2005



In die saak tussen:-


OOS VRYSTAAT KAAP BEDRYF BEPERK Eiser


en


HENDRIK JACOBUS BESTER Verweerder


_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 27 OKTOBER 2005

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: HANCKE R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 10 NOVEMBER 2005

_____________________________________________________


[1] Hierdie is ‘n aansoek om voorlopige vonnis gebaseer op ‘n skulderkenning ingevolge waarvan eiser ‘n bedrag van R597 834,92 van die verweerder vorder, tesame met rente en koste.


[2] Verweerder het verskeie verwere teen eiser se vordering geopper. Eerstens, is dit die verweerder se saak dat sy ledebonusfondse en ledeheffingsfondse groter is as die geëisde bedrag en dat eiser verplig was om skuldvergelyking toe te pas. In hierdie verband het Mnr. van Rhyn, namens die verweerder, gesteun op die bewoording van artikel 96(6) wat soos volg lui:


Die bedrae betaalbaar aan ‘n lid kragtens hierdie artikel word aangewend ter vereffening of gedeeltelike vereffening van enige bedrag wat daardie lid aan die koöperasie verskuldig mag wees.”


[3] Genoemde betaling het betrekking op die ledeheffingsfonds terwyl artikel 95(5) gelykluidende bepalings het ten opsigte van die ledebonusfonds. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die bedrae waarna hier verwys word, betaalbaar is “kragtens hierdie artikel” by die plaasvind van ‘n sekere gebeurtenis, naamlik by onder andere die afsterwe van die lid, of indien die lid die ouderdom van vyf en sestig jaar bereik het en so meer. Dit is verder belangrik om daarop te let dat kragtens klousule 12.2 van die skulderkenning die verweerder uitdruklik afstand doen van enige reg om skuldvergelyking toe te pas. Daar het dus geen verpligting op eiser gerus om skuldvergelyking toe te pas nie. Verweerder se verdere betoog in hierdie verband, naamlik dat daar ‘n oorverhaling van rente was, was afhanklik van die sukses van hierdie verweer op die basis dat indien skuldvergelyking toegepas word, was die geëisde kapitale bedrag uitgewis en dus nie sprake van enige betaling van rente nie. Hierdie verweer kan dus nie slaag nie.


[4] Mnr. van Rhyn het betoog dat die skulderkenning voorwaardelik was en dus nie ‘n likiede dokument is nie. In hierdie verband het hy gesteun op klousule 2.2.3 daarvan; waar:


..... die debiteur erken dat die uitstelreëlings hierin vervat, onderworpe is aan die voorwaarde dat gemelde uitstelreëlings op ‘n maand-tot-maand basis verleen word en op ‘n maandelikse basis hersien sal word om te bepaal of die debiteur steeds voldoen aan al die vereistes vir kredietverlening .....”


[5] In teenstelling met ‘n wissel, tjek of promesse, is daar geen statutêre omskrywing van ‘n verhandelbare dokument nie. Vir doeleindes van die verlening van voorlopige vonnis, kan daar volstaan word met die volgende omskrywing wat Wessels, A.R. in RICH AND OTHERS v LAGERWEY 1974 (4) SA 748 (A) op 754 G – H gegee het:


In my opinion, however, it is not the type of transaction which determines whether the related document signed by the debtor is one upon which provisional sentence may properly be granted. If the document in question, upon a proper construction thereof, evidences by its terms, and without resort to evidence extrinsic thereto, is an unconditional acknowledgment of indebtedness in an ascertained amount of money, the payment of which is due to the creditor, it is one upon which provisional sentence may properly be granted.”


Sien ook UNION SHARE AGENCY & INVESTMENT LTD v SPAIN 1928 AD 74 te 79.


[6] In HARROWSMITH v CERES FLATS (PTY) LTD 1979 (2) SA 722 (T) word op 731 G – H die volgende verklaar:


The Court drew a distinction between the indebtedness being subject to the happening of an event and the payment or performance of the indebtedness being so subject. If the indebtedness is subject to a condition then there is no liquidity because the debt cannot then be described as clear and certain or unconditional and the document containing the indebtedness cannot support a claim for provisional sentence. If payment or performance depends on some simple condition or event, it is sufficient for the plaintiff to allege that the condition has been complied with or that the event has happened without destroying the liquidity of the document containing the indebtedness for the purpose of provisional sentence.”


[7] Daar moet dus onderskei word tussen ‘n verskuldigheid wat voorwaardelik is (wat nie vatbaar is vir voorlopige vonnis) en ‘n betaling wat onderhewig is aan ‘n voorwaarde. Alhoewel die woord “voorwaarde” gebruik word, is dit duidelik dat hierdie ‘n bepaling is uitsluitlik ten gunste van die eiser om die reëling tussen die partye te hersien, indien verweerder nie voldoen aan die vereistes vir kredietverlening nie – hier is dus nie sprake daarvan dat nόg die verskuldigheid nόg betaling onderhewig is aan ‘n voorwaarde nie. Die skulderkenning is dus ‘n likiede dokument wat onvoorwaardelik is en voldoen dus aan die vereistes wat gestel word vir ‘n likiede dokument.


[8] Mnr. van Rhyn het verder betoog dat die skuldversekeringspremies nie bepaalbaar is nie en dat ekstrinsieke getuienis nodig is om dit te bepaal. Dit is egter belangrik om te let op die bepalings van klousule 3 van die skulderkenning, wat soos volg lui:


Die debiteur onderneem om skuldversekeringspremies maandeliks op die volle verskuldigde bedrag aan die krediteur te betaal teen R2-52 per R1 000-00 (eenduisend rand) welke premies maandeliks tot die hoofskuld toegevoeg sal word.”


[9] Die regsposisie in hierdie verband word deur Herbstein en Van Winsen The Civil Practice of the Supreme Court of South Africa (Vierde Uitgawe) op p. 964 soos volg opgesom:


The practice of our courts has allowed what appears to be an exception to the rule, by granting provisional sentence on amounts that are not set out and acknowledged in the liquid document sued upon, but are referred to in it, for instance insurance premiums, bank charges or legal charges. Such a claim must relate to a ‘liquid debt’ in the sense that ‘its money value has been ascertained or in the sense that it is capable of prompt ascertainment’.”


[10] Dit is duidelik dat die skuldversekeringspremies bepaalbaar en berekenbaar is, naamlik teen ‘n koers van R2,52 per R1 000,00 welke premies maandeliks tot die hoofskuld gevoeg kan word. UNION SHARE AGENCY & INVESTMENT LTD v SPAIN supra te 80. Die betoog in hierdie verband kan dus nie opgaan nie.


[11] Verweerder het verder daarop gesteun dat daar ‘n novasie was of ‘n skikking op 20 April 2005 bereik is. Dit blyk egter uit eiser se skrywe ten opsigte van die samesprekings wat gehou is op gemelde datum dat daar nie sprake is van ‘n tussentydse ooreenkoms nie. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat eiser gewapen is met ‘n likiede dokument en geregtig is op voorlopige vonnis tensy die verweerder


..... satisfy the court on a preponderance of probability that it is unlikely that the plaintiff will succeed in the principal case ..... This onus, moreover, can only be discharged upon facts raised on affidavit and not on inferences from the facts.”


(SYFRETS MORTGAGE NOMINEES LTD v CAPE ST FRANCIS HOTELS (PTY) LTD 1991 (3) SA 276 (SOK) te 286 D – E. Sien ook RANDCON (NATAL) (PTY) LTD v FLORIDA TWIN ESTATES (PTY) LTD 1973 (4) SA 181 (D) te 190 C – D.)


[12] Mnr. van Rhyn het verder namens die verweerder betoog dat die sertifikaat nie voldoen aan die vereistes soos gestel deur klousule 7 van die skulderkenning, wat soos volg lui:


Die DEBITEUR bevestig dat ‘n sertifikaat onderteken deur enigeen van die SKULDEISER se direkteure ..... waarop die bedrag insluitende rente, rentekoerse, addisionele finansieringskoste, addisionele finansieringskostekoerse sowel as premies verskuldig ten opsigte van ‘n skuldversekeringskema wat volgens die SKULDEISER deur die DEBITEUR op enige gegewe tyd verskuldig en betaalbaar aangetoon word, vir doeleindes van alle geregtelike verrigtinge teen die DEBITEUR, vir verhaal van sodanige bedrag, prima facie bewys sal wees van die feite in daardie sertifikaat vermeld en van die bedrag, rente, rentekoerse, addisionele finansieringskoste en addisionele finansieringskostekoerse sowel as premies ten opsigte van die skuldversekeringskema deur die DEBITEUR aan die SKULDEISER verskuldig, sonder bewys van die aanstelling van die betrokke ondertekenaar van sodanige sertifikaat.”

[13] Klousule 2 van die betrokke sertifikaat lees soos volg:


Dat die bedrag verskuldig en betaalbaar aan Oos Vrystaat Kaap Bedryf Bpk op rekeningnommer 200100 deur Hendrik Jacobus Bester op 30 Junie 2005 die bedrag van R597 834.92 (vyfhonderd sewe-en-negentig duisend agthonderd vyf-en-dertig rand en twee-en negentig sent) beloop, plus rente daarop teen 17% per jaar vanaf 1 Julie 2005 tot datum van vereffening plus kredietversekering.”


[14] Dit blyk nie dat die skulderkenning dit as ‘n vereiste stel dat elke item volledig uiteengesit behoort te word nie; inteendeel maak dit voorsiening daarvoor dat die bedrag wat van die verweerder verhaalbaar is items soos rente en finansieringskoste kan insluit, wat by wyse van die betrokke sertifikaat prima facie bewys daar kan stel. Wat die dagvaarding betref, blyk dit dat dit eiser se saak is dat twee bedrae betaal is, synde ‘n totale bedrag van R921 477,80 latende ‘n balans van R755 652,60 wat minder is as die geëisde bedrag, en dus tot voordeel van die verweerder is.


[15] Die laaste verweer waarop verweerder gesteun het, is die feit dat eiser nie sou voldoen het aan die bepalings van Hofreël 8(3) deur die nie-aanhegting van dokumentasie waarop die eis gebaseer is.


[16] Gemelde subreël lui soos volg:


“Afskrifte van alle dokumente waarop die eis berus, word aan die dagvaarding geheg en tesame daarmee beteken.:


[17] In hierdie verband verwys die skulderkenning na die statuut soos volg:


Die bepalings van die maatskappy se statuut soos wat dit van tyd tot tyd aangepas en gewysig mag word, maak deel uit van hierdie ooreenkoms asof dit spesifiek hierin opgeneem en herhaal is.”


[18] In LONGTILL CONSTRUCTION LTD v LIRHOBERN (PTY) LTD 1978 (2) SA 240 (W) verklaar Nestadt, R op 244 C die volgende:


In the light of what has been stated above, any one of the following (similar) criteria fall to be applied in determining whether the building contract is a document upon which the plaintiff's claims are founded (thus necessitating it having to be annexed to the summons): Whether it is necessary to determine the defendant's liability; or material to the plaintiff's cause of action; or whether the action is so dependent on it that it cannot proceed without a consideration of it; or whether it forms a vitally important part of the plaintiff's claims against the defendant.”


[19] Bogemelde saak is, na my mening, onderskeibaar van die huidige saak, aangesien voorlopige vonnis in eersgenoemde saak aangevra was op grond van ‘n argiteksertifikaat. Die argitek se magtiging, wat ‘n wesenlike bestanddeel was van eiser se vordering, het slegs geblyk uit die skriftelike boukontrak en addendum, wat nie aangeheg was aan die eiser se dagvaarding nie. Voorlopige vonnis is, na my mening, tereg geweier.


[20] In Herbstein en Van Winsen, a.w. word op p. 966 die volgende verklaar:


The mere fact that the instrument sued upon contains a reference to some other written agreement does not destroy its liquidity, although it enables the defendant to raise a defence which he may not otherwise be entitled to raise.”

[21] In die huidige saak het die verweerder gesteun op die bepalings van die eiser se statuut, welke verweer egter nie opgaan, soos hierbo aangetoon. Na my mening was die aanhegting van die betrokke statuut nie nodig om verweerder se aanspreeklikheid te bepaal, nog minder is dit wesenlik tot die eiser se skuldoorsaak. Dit blyk dus dat dit onnodig was om die eiser se statuut aan te heg.


[22] Dit volg dus uit die voorgaande dat die eiser daarin geslaag het om , insoverre dit ingeskil geplaas is, die nodige feite aan te toon ten einde ‘n skuldoorsaak op die skulderkenning te fundeer, maar dat die verweerder nie daarin geslaag het om, ten opsigte van die meriete, hom van die onus te kwyt dat die balans van die waarskynlikhede om in die hoofsaak te slaag, in sy guns is nie; gevolglik is eiser dus geregtig op voorlopige vonnis soos aangevra. Erasmus Superior Court Practice B 1 - 80.


[23] Bygevolg word voorlopige vonnis verleen ingevolge bede 1, 2a en 3 van die dagvaarding.


________________

S.P.B. HANCKE, R

Namens die eiser: Adv. J.P. de Bruyn SC

In opdrag van:

Symington & De Kok

BLOEMFONTEIN



Namens die verweerder: Adv. A.J.R. van Rhyn SC

In opdrag van:

Naudes

BLOEMFONTEIN


/sp