South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 134

| Noteup | LawCite

Van Vuuren v Van der Merwe and Another (1442/2005) [2005] ZAFSHC 134 (29 September 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak Nr. : 1442/2005


In die saak tussen:


JACOBUS MARAIS VAN VUUREN Applikant


en


JACOB STEPHANUS DANIëL VAN DER MERWE 1ste Respondent

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 2de Respondent

KERKRAAD VAN ROSENDAL


_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 22 September 2005

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: KRUGER R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 29 September 2005

_____________________________________________________



1. Inleiding


[1] Die applikant en eerste respondent is beide emeriti leraars. Die eerste respondent woon in Pretoria. Die applikant sê die eerste respondent het ‘n Akte van Demissie ontvang wat aandui dat hy steeds ‘n predikant is en dat eerste respondent tans nog diens verrig as predikant. Eerste respondent sê hy doen net op geleentheidsbasis sulke werk. Die tweede respondent is die kerkraad van Rosendal Nederduitse Gereformeerde Gemeente.


2. Regshulp versoek


[2] Die applikant vra in die Kennisgewing van Mosie die volgende regshulp:


1. Die Rosendal Kerkraad se bevindings gedateer 9 November 2004, tersyde gestel word;


2. Die demissie van akte op 26 Oktober 2003 geneem deur die Eerste Respondent, tersyde gestel word;


3. Dat die tugondersoeke wat teen die Eerste Respondent aanhangig gemaak was, afgehandel word;


4. Stuiting in die diens van die Eerste Respondent totdat alle onafgehandelde sake afgehandel word;


5. Die Eerste Respondent te beveel om nie betrokke te raak by die ondersoeke nie;


6. Stiptelike uitvoering van Artikel 63.8.10 van die Kerkorde, naamlik dat die koste van ‘n tugondersoek is die verantwoordelikheid van die Kerkvergadering, met dien verstande dat die partye self verantwoordelik is vir die koste van hul getuies;


7. Buitengewone Kerkraad Vergadering te beveel binne 14 dae na afhandeling van bogenoemde aansoek ten einde die bevel uit te voer;


8. Bevel, indien die Eerste Respondent sy lidmaatskap met die Nederduitse Gereformeerde Kerk beëindig het, om die tugverhoor te verskuif na die bevoegde Burgerlike Hof;


9. Koste van die geding;


10. Verdere en/of alternatiewe regshulp;”


[3] Applikant sê hy versoek nie hersiening nie maar slegs verklarende bevele. Applikant sê die regshulp wat hy versoek is dat die tugondersoeke wat teen die eerste respondent aanhangig gemaak is, afgehandel moet word.


[4] Die eerste bede van die Kennisgewing van Mosie verwys na die bevindings van die Rosendal Kerkraad gedateer 9 November 2004. Applikant vra dat daardie bevindings tersyde gestel word. Skynbaar bedoel die applikant om te verwys na die brief op bladsy 220 gedateer 9 November 2004 waarby die notule van die kerkraadsvergadering van 25 Oktober 2004 aangeheg word.


[5] Mnr. Wannenburg wat namens applikant verskyn het, sê hierdie is nie ‘n versoek om hersiening nie. Hiervoor steun hy op VAN VUUREN v KERKRAAD VAN DIE MôRELIG GEMEENTE VAN DIE NG KERK IN DIE OVS 1979 (4) SA 548 (O) te 555 H. Uit die hofverslag blyk nie dat daar in daardie saak ‘n soortgelyke bede was as bede 1 in hierdie saak nie. Daar was slegs verklarende bevele aangevra. In die huidige aansoek word nêrens in die Kennisgewing van Mosie uitdruklik ‘n verklarende bevel aangevra nie.


[6] Dit is moeilik om te begryp hoe ‘n hof ‘n besluit kan tersyde stel sonder om dit te hersien. Ek sal egter in die guns van die applikant aanvaar dat hy in wese ‘n verklarende bevel soek dat –

  1. die Akte van Demissie van 26 Oktober 2003 tersyde gestel word; en

  2. die tugondersoeke wat teen eerste respondent aanhangig gemaak is, afgehandel word.


[7] Ek aanvaar dat die versoek om ‘n verklarende bevel soortgelyk is as die versoek in die VAN VUUREN-saak hierbo vervat in bevel nr. 4 op 562 F, dat respondent gelas word om met die klagtes te handel ooreenkomstig die voorskrifte van die kerkorde.


[8] In die onderhawige saak is die wese van die regshulp, soos ook aanvaar deur Mnr. Wannenburg, dat die tweede respondent gelas moet word om die tugondersoeke wat die applikant teen die eerste respondent aanhangig gemaak het, af te handel (bede 3 van die Kennisgewing van Mosie). Al die ander regshulp wat gevra word, hang saam met hierdie versoek.


[9] Die Akte van Demissie staan moontlik op ‘n ander grondslag. Mnr. de Bruin sê dat geen gronde in die applikant se saak voorkom waarop die Akte van Demissie tersyde gestel kan word soos versoek in die Kennnisgewing van Mosie nie. Die hof word nie gevra om die besluit waarkragtens dit verleen is op een of meer van die erkende gemeenregtelike gronde te hersien en tersyde te stel nie. Geen verduideliking word gegee waarom daar so lank gewag is na die verlening van die Akte van Demissie totdat regshulp daaroor gevra is nie.


[10] Die applikant se saak is skynbaar dat die eerste respondent nie kan voortgaan om ‘n onaangetaste predikant te wees voordat die tugondersoek afgehandel is nie. Verder sê die eerste respondent dat hy as gevolg van ‘n administratiewe fout ‘n verkeerde Akte van Demissie gekry het. Die eerste respondent sê dat hy tans geen diens verrig as predikant, behalwe miskien op ‘n geleentheidsbasis. Hy is ge-emeriteer en is slegs ‘n belydende lidmaat van die NG kerk Sesmylspruit te Pretoria.


[11] Die vraag is of die kerkraad weens ‘n wanvertolking van die kerkorde buite die grense van sy bevoegdheid en sodoende regtens onreëlmatig, opgetree het – DU PREEZ EN ANDERE v NEDERDUITSE GEREFORMEERDE GEMEENTE, DE DEUR 1994 (2) SA 191 (W) te 195 E – F.

[12] Die N G Kerk is ‘n vrywillige vereniging – THERON EN ANDERE v RING VAN WELLINGTON VAN DIE NG SENDINGKERK IN SUID-AFRIKA EN ANDERE 1976 (2) SA 1 (A) te 25 F – G.


[13] Die kerkorde word uit ‘n regspunt wesenlik as die ooreengekome grondwet tussen die partye beskou – DU PREEZ (hierbo) te 194 G – H.


[14] Wanneer die gekose bewoording van die kerkorde mank gaan aan terkortkominge soos wesenlike vaagheid, onduidelikheid, kan toeligting buite die bewoording van die kontrak gesoek word. So sou op die agtergrondsomstandighede gelet kan word – DU PREEZ (hierbo) op 196 F – H.


  1. Die geskilpunt


[15] In paragraaf 77 van die Funderende Eedsverklaring sê die applikant dat daar op geen stadium enige tugondersoeke gehou was teen die eerste respondent ten einde die klagtes te besleg nie.

[16] Die tweede respondent sê hy het, soos hy geregtig was om te doen, ‘n kommissie aangestel om die klagtes te ondersoek. Dit was die dagbestuur van die tweede respondent.


[17] Die vraag wat dus beslis moet word, is of die tweede respondent geregtig was om sodanige kommissie aan te stel en daarvolgens te handel en of soos wat die applikant sê ‘n tugondersoek gehou moet word.


  1. Die klagtes


[18] Mnr. Wannenburg sê dat die klagtes wat tweede respondent moet ondersoek, die klagtes is soos vervat in bylaes JMV30, 31 en 32 vanaf bladsye 128 tot 273.


[19] In die Funderende Eedsverklaring verwys paragrawe 50 – 68 na die oortredings van die eerste respondent. Die datums wat vermeld word, strek vanaf 29 April 1975 (paragraaf 50) tot 12 Februarie 1981 (paragraaf 66). Paragraaf 67 verwys na die klagstaat aangeheg by die applikant se brief van 17 November 2000. Paragraaf 68 verwys na insidente vanaf 13 Februarie 2001 tot 11 Februarie 2003.


[20] Mnr. de Bruin sê die klagstaat wat aangeheg is by die applikant se brief van 17 November 2000 was die klagstaat wat voor die tweede respondent gedien het. Dit is ook die onderwerp van bede 1 van die Kennisgewing van Mosie. Die besluit van die tweede respondent wat applikant tersyde wou stel, is die van 25 Oktober 2004 waarna verwys word in die brief van 9 November 2004.


[21] In die Kennisgewing van Mosie verwys die applikant slegs na “tugondersoeke”.


[22] Die klagtes teen eerste respondent verskyn in ‘n klagstaat wat onder dekking van ‘n brief van 17 November 2000 aan hom gestuur is. Die opskrif van die klagstaat lees:


Klagstaat teen Ds. J.S.D. van der Merwe en sy aanhangers se leer en lewe te Bethlehem tydens 1967 en veral vanaf Augustus 1971 tot en met 1978.”

(Bladsy 114; Bylae JMV25)

Die klagstaat beslaan ses enkelgespasieerde getikte bladsye.


[23] Dit is miskien dienlik om hier ‘n kronologie rondom die klagtes uiteen te sit.


Kronologie

Bladsy Datum Dokument/Gebeurtenis

248 17 Nov. 2000 Klagstaat

121 13 Feb 2001 Tweede respondent tree nie op

nie (paragraaf 9.4)

231 27 Mrt. 2001 Brief tweede respondent aan

applikant: verwys na Heilbron

Ring se uitspraak van 21 Feb

1983. Weier om klagtes te

oorweeg

274 20 Jan. 2003 Applikant sê aan tweede

respondent dat hy gaan

appelleer

275 21 Jan. 2003 Appèlgronde gestuur aan Ring

van Lindley

359 9 Jun. 2003 Ring sê dat hy nie die saak

gaan aanhoor nie

221 25 Okt. 2004 Dagbestuur – notule

229 25 Okt. 2004 Verslag van dagbestuur

224 25 Okt. 2004 Kerkraad – Notule item 49.1

220 9 Nov. 2004 Kerk se brief wat notules

aanheg


  1. Die hantering van ‘n klag


[24] Artikel 63.3 van die kerkorde handel met die aanvanklike hantering van ‘n klag, gerug of verslag. Mnr. Wannenburg sê met verwysing na artikel 63.3.1.5 dat die klag nie sonder toestemming van die betrokke kerkvergadering of sy kommissie teruggetrek kan word nie. Mnr. Wannenburg sê daar is twee maniere om met ‘n klag te handel:


    1. deur getuienis aan te hoor; of

    2. as die klag teruggetrek word.


[25] Artikel 63.3.1 en 63.3.1.2 bepaal soos volg:


63.3.1 By ontvangs van ‘n klag, gerug of verslag en vόόrdat besluit word om dit amptelik in behandeling te neem:


63.3.2.1 ...........


        1. Stel die kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie eers vas of die klag, gerug of verslag tot ‘n amptelike ondersoek van beweerde tugwaardige sonde sou kon lei;”


[26] Die eerste stap is dus dat die kerkraad of sy gevolmagtigde kommissie moet vasstel of daar ‘n basis is vir ‘n tugondersoek.


  1. Die redes waarom tweede respondent nie die klag hanteer het nie


[27] Die dagbestuur se redes waarom nie met die tugverhoor voortgegaan moet word nie, is die volgende:


(a) dat die klagtes reeds verjaar het;


(b) dat die eerste respondent ‘n regsgeldige verweer het, naamlik vorige vryspraak deur die Ring van Heilbron;


(c) dat die tweede respondent nie jurisdiksie het om die saak aan te hoor nie (bladsy 221).


[28] Hierdie punte word in meer besonderhede bespreek in die dagbestuur se verslag (bladsy 229). Paragraaf 3 van daardie verslag lees soos volg (bladsy 230):


3. Ds van der Merwe is op 25 Julie 1999 op aanbeveling van die Kerkkantoor in Bloemfontein beroep na die NG Gemeente Rosendal. ‘n Dienskontrak is met hom aangegaan vir ‘n vasgestelde termyn wat jaarliks hersien is. Die Kerkraad is skriftelik kennis gegee deur Van der Merwe dat hy nie sy kontrak vir nog ‘n jaar verleng nie en dat hy die gemeente aan die einde van Oktober 2003 gaan verlaat. Daar was wilsooreenstemming tussen die partye en het die Dienskontrak verval na aanvaarding van Ds van der Merwe se bedankingsbrief. Al wat oorgebly het was om aan die betrokkene ‘n Akte van Demissie te gee. Dit is juis waaroor Marais van Vuuren se klagte gaan.


Ons insiens moet die Kerkraad bloot beoordeel hoe die Bedienaar van die Woord se leer en lewe was tydens sy bediening in Rosendal. Ons kan onomwonde verklaar dat Ds Jacob van der Merwe se leer en lewe as Bedienaar van die Woord onkreukbaar was en dat daar geen rede ooit was om sy werk vir die Koninkryk te bevraagteken nie. Hy was ‘n eerlike, opregte Bedienaar van die Woord wie respek by sy gemeente afgedwing het. Marais van Vuuren se versoek om ‘n Akte van Demissie terug te hou moet dus volgens u kommissie van die hand gewys word.”


[29] Vervolgens bespreek ek die meriete van elk van die dagbestuur se gronde.


6.1 Verjaring


[30] By die verjaringsaspek verwys die dagbestuur na die Strafproseswet 51 van 1977. Daardie Wet geld vir misdade. Kyk mens egter na die onderliggende doel van uitwissende verjaring, blyk dat die doel is om regsekerheid te skep en die skuldenaar te beskerm. Met die verloop van tyd behoort die skuldenaar met vertroue te kan aanvaar dat die lei skoongevee is. Sien Loubser, Extinctive Prescription bladsy 23.


[31] Die Grondwet gee aan elkeen die reg tot billike administratiewe optrede in GW 33(1). Dit sou onbillik wees om ‘n persoon aan ‘n tugverhoor te onderwerp oor klagtes wat 20 – 30 jaar oud is.


6.2 Vorige vryspraak


[32] Uit die vorige vryspraakpunt is dit duidelik dat die tweede respondent inaggeneem het dat soortgelyke klagtes deur applikant gebring is en reeds in 1983 deur die Ring te Heilbron ongegrond bevind is. Dit word uiteengesit in die brief vanaf die dagbestuur aan die applikant gedateer 27 Maart 2001 wat op bladsy 231 verskyn:


“Die Skriba

N G Kerkraad

Posbus 29

ROSENDAL

9720

27 Maart 2001


Ds. J.J. Marais van Vuuren

Posbus 48064

ROOSEVELT PARK

2129


Geagte Dominee


KLAGSKRIF: USELF / DS J.S.D. VAN DER MERWE


Na aanleiding van u jongste skrywe, gedateer 26 Februarie 2001, het die Kerkraad ‘n uittreksel van die uitspraak van die Ring van Heilbron op 21 Februarie 1983 e.v.d. bekom, welke ondersoek gegaan het oor min of meer dieselfde klagtes teen kollegas van ds van der Merwe in die Ring van Bethlehem na aanleiding van u ontslag met die gemeente Bethlehem Môrelig.


Volgens genoemde uitspraak het die Ring:

  1. alle Aangeklaagdes van alle blaam vrygespreek.’

  2. onder die indruk gekom van ‘n diepe gevoel van verontregting en vervolging in die gemoed van die Klaer (dit wil sê u) wat na verloop van jare hom steeds gelei het in ‘n optrede wat ongelukkig spreek van agterdog en selfs vergelding...’

  3. bevind dat ten onregte beweringe gemaak word van ‘valse lasterstukke en onwettige optredes’.

  4. met leedwese betuig dat die Ring uit die getuienis moet bevind u nie te alle tye ‘n betroubare getuienis gelewer en verklarings gedoen het nie; en dit as sy oorwoë mening uitspreek dat u beslis apologie verskuldig is teenoor elkeen van die aangeklaagdes.

  5. Besluit dat u die volle bedrag van die kostes, nl. R3 688,73 moet betaal.


Die Kerkraad verneem dus graag of u teen bogenoemde uitspraak van die Ring van Heilbron appèl aangeteken het, al dan nie. Indien wel, wat die uitslag was en indien nie, waarom nie. Verder verneem die Kerkraad of u die kostes betaal het?


Dit blyk verder ook dat u in 1977 reeds sonder sukses beswaar gemaak het teen ds van der Merwe se beroep na Port Elizabeth De Duin. Die Kerkraad van die N G Kerk Rosendal kan dus nie insien op sterkte waarvan u dit nou weer aanhangig kan maak nie.


Ten slotte wil ons u daarop wys dat u nie op hoorsê of namens ander klagtes aanhangig kan maak nie.


Die uwe


_____________________________

VOORSITTER VAN DAGBESTUUR”


[33] Hierdie vorige verhoor het ook ‘n rol gespeel by die besluit van die Ring van Lindley op 21 Januarie 2003 dat hy nie applikant se appèl wou toestaan nie:


2. Dit blyk dat u saak reeds deur ‘n ander ring ondersoek is, in opdrag van die hof. U moet asseblief vir my die verbatum verslag van daardie ondersoek verskaf, asook ‘n bewys van die betaling van die onkostes verbonde aan daardie ondersoek. Voordat ons ring ‘n klagte deur u sal ondersoek wil ons die versekering hê dat u gehoor sal gee aan die eis van die kerkorde dat die klaer moet instaan vir enige onkoste verbonde aan so ‘n ondersoek. Weens die geografiese opbou van ons ring sal daar verseker groot onkostes aan so ‘n ondersoek verbonde wees.”


[34] Weereens, selfs al is die klagtes nie absoluut identities nie, sou dit onbillik wees ingevolge die Grondwet om eerste respondent aan ‘n tugondersoek bloot te stel ten opsigte van bewerings wat reeds ondersoek en ongegrond bevind is. Dit sou ook strydig wees met die beginsel van natuurlike geregtigheid. Dit is een van die gronde wat howe in ag neem by die oorweging van besluite van beheerliggame soos die kerk. Vergelyk CONSTANTINIDES v JOCKEY CLUB OF SOUTH AFRICA 1954 (3) SA 35 (K) op 44 E – F.


6.3 Jurisdiksie


[35] Applikant sê die tweede respondent het wel jurisdiksie omdat in die tyd wat die klagtes aanhangig gemaak is, was die eerste respondent leraar by tweede respondent.


[36] Die eerste respondent woon sedert 26 Oktober 2001 in Pretoria. Hy is nie in die Ring van Lindley nie en ook nie in die Vrystaatse Sinode nie. Hy ressorteer dus nie onder die gemeente of die betrokke ring waar die beweerde misdraginge plaasgevind het nie. Mnr. de Bruin sê die hof sal nie die tweede respondent beveel om ‘n tugondersoek te hou ten opsigte waarvan hulle nie die nodige regsbevoegdheid het nie.


[37] Wat die jurisdiksiepunt betref, het die tweede respondent, myns insiens, ook gelyk. Die klagstaat maak dit duidelik dat dit betrekking het op die leer en lewe van die eerste respondent te Bethlehem. Eerste respondent woon sedert 26 Oktober 2003 te Pretoria. Hy is nie in die Lindey Ring nie en ook nie in die Vrystaatse Sinode nie. Applikant se advokaat se punt dat die klagtes ingedien is op ‘n datum wat hy daar was, help hom nie want selfs op daardie stadium sou die tweede respondent nie jurisdiksie gehad het oor wat jare gelede elders gebeur het nie. Spesifiek verwys die klagstaat na die eerste respondent se leer en lewe daardie tyd te Bethlehem.


[38] Daar is nie ‘n pertinenete bewering dat daardie gedrag - van 20 – 30 jaar gelede – tans voortduur nie.


7. Moet ‘n tugverhoor in alle gevalle waar ‘n klagte gelê word, gehou word?


[39] Die tweede respondent sou hom aan skadevergoedingsaksies blootstel as hy goedsmoeds tugverhore instel in alle gevalle waar klagtes gelê word. Sekerlik het hy die plig om te besluit of daar ‘n saak is. Artikel 63.3.1.2 (hierbo aangehaal) maak dit duidelik dat in so ‘n geval daar eers ‘n ondersoek moet wees. Eers word ‘n ondersoek ingestel en dan word ‘n aksie ingestel. Daar is ook ‘n appèlprosedure wat applikant gebruik het na die ring. Ook die ring kon geen saak vind om teen die eerste respondent in te stel nie.


[40] Die applikant se verbandhoudende klagte teen eerste respondent is dat eerste respondent die tweede respondent beïnvloed het om nie met die klagte voort te gaan nie. In hierdie verband bepaal artikel 63.3.1.1:


Word die kerkvergadering of die gevolmagtigde kommissie gesuiwer van die persone oor wie die klag, gerug of verslag gaan asook van die klaer of aanbringer van die gerug of verslag;”


[41] Uit die brief vanaf die ring gedateer 9 Junie 2003 (bladsy 359) is dit duidelik dat die ring volledig op hoogte was van applikant se klagtes. Die ring het die klagtes oorweeg wat applikant gestuur het. Die feit dat die kerkraad moontlik nie “gesuiwer” was toe besluit is om nie met die klag voort te gaan, was nie ‘n faktor wat die ring sou beïnvloed om anders te besluit nie – die ring het na die klagtes gekyk. Wat betref die besluit van die dagbestuur en die kerkraad van 25 Oktober 2003, wat die applikant wil laat ter syde stel ingevolge bede 1 van die Kennisgewing van Mosie, daar was eerste respondent glad nie betrokke nie – hy was al weg na Pretoria. Die voorsitter van die tweede respondent se kerkraad was toe Ds. Cronje (bladsy 223).


[42] Die tweede respondent het korrek opgetree deur by wyse van sy gevolmagtigde kommissie ingevolge artikel 63.3.1.2 van die kerkorde vas te stel of die klag tot ‘n amptelike ondersoek van beweerde tugwaardige sonde sou kon lei. Daardie kommissie het bevind dat daar geen basis vir ‘n tugverhoor was nie en die kerkraad het dit korrek bekragtig.


  1. Die klagstaat


[43] Billike administratiewe optrede vereis ‘n behoorlike akte van beskuldiging met duidelike opgawe van die aard, plek en die datum van die beweerde oortreding. Artikel 63.4.4 van die kerkorde bepaal in hierdie verband:


63.4.4 ‘n Geformuleerde klag wat ondersoek word moet skriftelik die aard, plek en tyd van die beweerde sonde vermeld.”


Vergelyk ook DE VOS v DIE RINGSKOMMISSIE VAN DIE RING VAN DIE NG KERK, BLOEMFONTEIN, AND ANOTHER 1952 (2) SA 83 (O) op 95 F – G waar die hof sê:


Die aanklag moet as 'n behoorlike akte van beskuldiging opgestel word met duidelike opgawe van die aard, die plek en die datum van die beweerde oortreding.”


[44] Die klagstaat waarop die applikant ‘n tugverhoor wil laat hou, is allesbehalwe duidelik. Dit beslaan vyf enkelgespasieerde getikte bladsye.


[45] Enkele uittreksels uit die klagstaat lees soos volg: (Bladsye 114 – 117)


2. Hy en sy ondersteuners het te alle tye opgetree as of God nooit sal optree nie en [Jak. 2]: 12 geheel en al spottend geignoreer: Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak.

3. Hy en sy valse kerk was die skrywers van lasterlike sg. klagstate waarna hulle wrede satansregters en -laksmanne was. Deur die optredes namens Satan het Jak. 4: 11 – 12 in die slag gebly, nl. Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet. En as jy die wet veroordeel, handel jy nie meer volgens die wet nie maar speel jy regter daaroor. Daar is egter maar een Wetgewer en Regter, en dit is Hy wat die mag het om te red en te verdelg. Maar jy, wie is jy om regter te speel oor jou naaste?

4. Hy en die mederegters het bewys, met hulle optredes en uitlatings, dat hulle minder vrees vir God Drie Enige het as Satan, hulle hoof. Jak. 2: 18 – 20 Maar iemand kan miskien sê: ‘Die een het die geloof en die ander het die dade. ‘Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook en hulle sidder van angs. Jou dwaas, wil jy ‘n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is?

5. Uit bostaande is hy geen vriend van Jesus Christus nie. Joh. 15: 14 – 15 Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het aan julle bekend gemaak het.

8. Hy en sy ondersteuners het Jesus Christus se huis ‘n rowersnes gemaak: Matt. 21: 13 en Mark. 11: 17 en vir hulle gesê: ‘Daar staan geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed wees.’ Maar julle maak dit ‘n rowersnes.’ Toe het Hy die mense geleer en vir hulle gesê: ‘Staan daar nie geskrywe: My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak.’

11.1 Omdat hy betrokke was met die goddelose minagting van Christus se tugprosedure, is hy skuldig aan die ignorering en minagting van God se gesag, soos gevestig in die Gemeente en Kerkraad van Jesus Christus te Bethlehem Môrelig. 1 Tim. 3: 1 – 13. Die instelling van ouderlinge en diakens. Hiermee het hulle vir hulleself ‘n goddelose, onwettige en vernietigende gesag en mag opgeeis en toegepas teen God se kinders, los van God se Woord, of die Belydenisskrifte en die kerkorde.

11.2 Later het hy en sy aanhangers talle kerkrade mislei om Christus se tugopdrag te verwerp, om hulleself te laat geld en te beskerm, soos hulle te alle tye met klagtes gedoen het, wat hulle dade sou openbaar het. Hiermee het nie net God se woord die belydenisskrifte, die kerkorde, maar ook die Hooggeregshof saak 260/1978 se verdoemende uitspraak, teen hulle goddelose sensuurbedrog, in die slag gebly.”


[46] Die frustrasies met die applikant se onduidelike klagtes blyk uit die Ring van Lindley se brief gedateer 9 Julie 2003 op bladsy 359:


Die ring van Lindley het besluit om nie gehoor te gee aan u eise nie, aangesien u nie ‘n duidelik, ondubbelsinnig geformuleerde klag teen ‘n besluit van ‘n kerkraad in die ringsresort gemaak het nie. U lang, omslagtige briewe maak dit bykans onmoontlik om te verstaan wat u klag presies is.

.....................

Neem dan asselbief van die volgende kennis:

1. U moet ‘n kort, duidelike klag rakende ‘n besluit van ‘n kerkraad in die ringsresort inhandig. Ook moet u nie probeer om sake uit ander ringsresorte by te sleep nie – die ring het net die mag om ondersoek te doen rondom relevante, tydige klagtes in ons eie resort. Die hele aangeleentheid rondom die gebeure in Bethlehem val dus buite die opdrag en taak van die ring van Lindley.”

  1. Feitegeskil


[47] Die feitegeskil in hierdie aangeleentheid gaan hoofsaaklik oor wat gebeur het by die Ring van Heilbron in 1983 (soos blyk uit die brief wat op bladsy 231 verskyn).


[48] Lees mens die brief van 27 Maart 2001 (bladsy 231) versigtig, blyk dat die huidige applikant die klaer was teen kollegas van die eerste respondent (nie die eerste respondent nie). Die ondersoek van die ring in 1983 het dus nie gegaan oor klagtes teen eerste respondent nie. Die brief van 27 Maart 2001 maak dit egter duidelik dat daar ‘n ondersoek na kollegas van eerste respondent was “oor min of meer dieselfde klagtes” (bladsy 231).


[49] Die besluit van die Ring van Heilbron in 1983 was nie ‘n vorige vryspraak van die eerste respondent nie; dit was wel ‘n vryspraak in ‘n geval waar min of meer dieselfde klagtes gedien het, welke klagtes ongegrond bevind is. Dit lyk asof die ring se probleem eerder met die aard en gefundeerdheid van die klagtes was, as met die feit of die aangeklaagdes die gedrag gepleeg het. Dit is opvallend dat die applikant nie sy reaksie op die vrae in die brief van 27 Januarie 2001 aanheg of daarna verwys nie.


[50] Daar is geen basis om enige aspek van hierdie saak na getuienis te verwys nie.


  1. Die bedes


[51] Daar is geen basis vir die toestaan van enige van die bedes nie. Ek het reeds gehandel met bedes 1 en 3 wat oor ‘n tugondersoek gaan. Daar is geen basis uitgemaak waarom die besluit van die dagbestuur om nie voort te gaan met die saak van die tweede respondent verkeerd was nie. As daar nie ‘n basis is vir ‘n tugverhoor, is daar ook geen basis waarom die Akte van Demissie tersyde gestel moet word nie (bede 2).


[52] Bede 4 is onduidelik. Die eerste respondent is ‘n emeritis leraar wat reeds vir ‘n geruime tyd in Pretoria woon. Die vraag ontstaan wat mag hy nie doen nie? As daar geen tugverhoor is, val enige moontlike basis vir hierdie bede weg.


[53] Daar is geen basis vir hierdie smeekbede nie, want daar is geen ondersoek hangende nie.


[54] Dieselfde geld vir bede 6 wat stiptelike nakoming van die kerkorde vra. Dit is nie die hof se plek om sodanige bevel op hierdie stadium te maak nie.


[55] Bede 7 wat vra dat ‘n buitengewone kerkraadsvergadering gehou word, is afhanklik van die ander regshulp en dit kan nie op sigself staan nie.


[56] Bede 8 versoek dat hierdie hof moet gelas dat ‘n ander burgerlike hof ‘n tugverhoor moet oorneem. Daar is geen basis voor, geen gronde vir die toestaan daarvoor in die stukke of argument gegee nie.

11. Koste


[57] Respondente vra dat applikant se aansoek met ‘n spesiale kostebevel bestraf word, omdat dit ‘n misbruik van die regsproses daarstel. Mnr. Wannenburg sê die applikant beskou dit as sy plig om hierdie aansoek te bring uit hoofde van sy aanstelling as predikant.


[58] Daar is geen meriete in hierdie aansoek nie. Die lywige stukke verbloem die regspunte. Die Kennisgewing van Mosie is verwarrend. Dit grens aan ‘n misbruik van die regsproses. Ek meen egter in die omstandighede nie dat ‘n spesiale kostebevel aangewese is nie.


12. Bevel


[59] Die aansoek word met koste afgewys.




__________

  1. KRUGER



Namens die applikant: Adv. W. Wannenburg

In opdrag van:

Israel Sackstein Matsepe Ing

BLOEMFONTEIN



Namens die respondente: Adv. J.P. de Bruin

In opdrag van:

Naudes

BLOEMFONTEIN


/sp