South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 127

| Noteup | LawCite

Matla v S [2005] ZAFSHC 127 (17 June 2005)

Download original files

PDF format

RTF format



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak Nr.: 354/2002



In die saak tussen:


MOLEFE JOHANNES MATLA Appellant


en


DIE STAAT Respondent



CORAM: HANCKE R et WRIGHT R



AANGEHOOR OP: 13 JUNIE 2005



UITSPRAAK: HANCKE, R



GELEWER OP: 17 JUNIE 2005

_____________________________________________________


Die appellant hierin is skuldig bevind aan verkragting en gevonnis tot 10 jaar gevangenisstraf. Hy kom nou in hoër beroep teen sy skuldigbevinding en vonnis.


Die appellant het onskuldig gepleit by die aanvang van die verhoor en te kenne gegee dat hy wel gemeenskap met die klaagster gehad het maar dat dit met haar toestemming plaasgevind het.


Die eerste getuie namens die staat was Dr. Johan Brink, ‘n mediese dokter, wat getuig het dat die klaagster geagiteer was en dat haar bloes geskeur was. Andersins het hy tydens ondersoek gevind dat haar privaatdele normaal was. Daarna het die staat die getuienis van die klaagster Alice Motlaung aangebied wat getuig het dat sy saam met Elizabeth Sefatsa was by haar perseel waar hulle TV gekyk het tot ongeveer 9 namiddag, waarna sy haar vriendin vergesel het. Oppad het hulle die appellant teëgekom wat haar aangerand het en gemeenskap teen haar sin met haar gehad het. Sy het getuig dat daar ‘n liefdesverhouding tussen haar en appellant was wat vir ongeveer vyf maande geduur het, waarna die verhouding verbreek was.


Die staat het ook vir Elizabeth Sefatsa geroep, wat getuig het dat terwyl hulle gestap het, het hulle die appellant ontmoet en het hy aangedui hy wil met die klaagster praat. Hulle het vir ‘n end saamgestap waarna appellant vir haar gesê het sy kan maar gaan. Later in die aand het die klaagster na haar plek gekom terwyl daar trane in haar oë was. Na sluiting van die staatsaak het die appellant in sy eie verdediging getuig en onder andere verklaar dat die liefdesverhouding tussen hulle nog nooit beëindig is nie. Hy het ook vir Elizabeth Mosia as ‘n getuie geroep ter bevestiging van die liefdesverhouding. Die landdros het in sy uitspraak verwys na die feit dat die enigste geskilpunt die vraag is of die gemeenskap met die klaagster se toestemming geskied het. In hierdie verband het hy die volgende verklaar:


The onus is on the state to prove the guilt of the accused beyond a reasonable doubt. What needs to be enquired, if there is any version from the defence, is whether on a balance of probabilities is it reasonbly possibly true.”


Mnr. Marais, advokaat namens die appellant, het daarop gewys dat die landdros die verkeerde bewysmaatstaf toegepas het. Dit is geykte reg dat ‘n beskuldigde se weergawe slegs redelik moontlik waar hoef te wees en dat hy nie opgesaal is met enige bewyslas hoegenaamd nie.


Dit blyk verder dat, alhoewel die klaagster beweer dat die appellant haar aangerand het, sy geen sodanige rapport aan Elizabeth Sefatsa, of die dokter gemaak het nie. Alhoewel die geneesheer gevind het dat haar bloes geskeur was, is dit ‘n aspek waaroor die klaagster geensins getuienis aangebied het nie, en is dit nie duidelik onder watter omstandighede die bloes geskeur was nie.


Alhoewel daar aanduidings is dat die gemeenskap sonder toestemming plaasgevind het, is daar na my mening, in die lig van die gebreke in die staatsaak, ‘n redelike twyfel, en is die appellant geregtig is op die voordeel daarvan.


Bygevolg slaag die appèl en word die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel.





________________

S.P.B. HANCKE, R



Ek stem saam.







______________

G.F. WRIGHT, R



Namens die appellant: Adv. E. Marais

In opdrag van:

Regshulpraad

BLOEMFONTEIN



Namens respondent: Adv. B.G. Claassens

In opdrag van:

Die Direkteur van Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN



/em