South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2005 >>
[2005] ZAFSHC 109
| Noteup
| LawCite
Khoza and Others v S [2005] ZAFSHC 109 (13 October 2005)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèlnr. : A137/2005
In die appèl van:-
MAGUMANE TERDOSIO KHOZA Eerste Appellant
MALEFETSANE JOHANNES SESING Tweede Appellant
MAHLOMOLA JUSTICE MOSALA Derde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
_____________________________________________________
CORAM: CILLIé R et VAN DER MERWE R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 10 OKTOBER 2005
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: CILLIé R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 13 OKTOBER 2005
_____________________________________________________
[1] Die drie appellante is skuldig bevind aan ‘n eerste klagte van roof met verswarende omstandighede. Appellante een en twee is verder skuldig bevind aan ‘n tweede klagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen ter oortreding van die Wet op Wapens en Ammunisie, Nr. 75 van 1969. Op die eerste klagte is die eerste appellant gevonnis tot 8 (agt) jaar gevangenisstraf en tweede en derde appellante elk tot 9 (nege) jaar gevangenisstraf. Op klagte twee is eerste en tweede appellante elk gevonnis tot 2 (twee) jaar gevangenisstraf welke gelas is samelopend uitgedien kan word met die vonnis op klagte een opgelê. Hul appèlle is gerig teen die skuldigbevindings sowel as die opgelegde vonnisse.
[2] Die appellante se skuldigbevindings spruit voort uit ‘n voorval wat plaasgevind het op 22 Desember 2001 toe die klaer en sy eggenote in hul drankwinkel oorval en beroof is van ‘n vuurwapen. Op 1 Januarie 2002 is die appellante in mekaar se geselskap arresteer. Die voormelde vuurwapen is toe in besit van eerste appellant gevind.
[3] Die klaer het in sy getuienis die eerste en tweede appellante uitgewys as twee van die drie rowers, terwyl sy eggenote die derde appellant uitgewys het. Hierdie uitkenning is deur die verhoorlanddros as betroubaar bevind en berus die appellante se skuldigbevindings op aanklagte een op hierdie uitkenning. Die eerste en tweede appellante se skuldigbevindings op aanklagte twee is op ietwat eienaardige gronde baseer. Na hul arrestasie was daar oor en weer beskuldigings tussen eerste en tweede appellante aangaande wie se vuurwapen dit is. Dit skyn asof die verhoorlanddros op hierdie grondslag toe beide aan die besit van die vuurwapen skuldig bevind het. Die regsposisie is natuurlik dat indien beide eerste en tweede appellante betrokke was by die berowing van die klaer en sy eggenote, die vuurwapen synde die buit van die rooftog, dan deur beide (trouens ook deur derde appellant) besit sou wees onafhanklik daarvan wie dit nou eintlik tydens arrestasie ‘n paar dae later besit het. Vergelyk S v KHAMBULE 2001 SASV 501 (HHA) op 508 C en verder. Tweede appellant se skuldigbevinding aan klagte twee is dus afhanklik van bewys van sy deelname aan die roof. Indien dit nie bewys is nie, is daar ook geen bewys dat hy die vuurwapen besit het nie.
[4] Namens die appellante is op appèl aangevoer dat hul uitkenning deur die klaer en sy eggenote nie betroubaar genoeg is om daarop ‘n skuldigbevinding te baseer nie. Hierdie betoog maak dit nodig om kortliks na die aangevoerde gebreke in die uitkenningsgetuienis te verwys en daarmee te handel. Dit word gedoen teen die agtergrond van die welbekende beginsels van toepassing op uitkenningsgetuienis en wat uiteengesit is o.a. in die bekende beslissing van S v MTHETWA 1972 (3) SA 766 A.
[5] Geen uitkenningsparade:
Dit blyk dat na die appellante se arrestasie geen uitkenningsparade gehou was so as wat verwag sou word nie. Waarom dit nie gedoen is nie, is nie duidelik nie. Die resultaat hiervan was dat die klaer en sy eggenote se uitkenning van die appellante geskied het onder omstandighede waar die appellante tydens die verhoor in die beskuldigdebank gestaan het en die klaer en sy eggenote eenvoudig gevra was of die rowers teenwoordig is in die hof. Die onwenslikheid van so ‘n “dock identification” is welbekend. Vergelyk S v MATWA 2002 (2) SASV 350 E en verder. Die getuieniswaarde daarvan is twyfelagtig. Die onderhawige uitkenning het geskied nadat die klaer en sy eggenote meermale by vorige uitstelle van die saak die geleentheid gehad het om die appellante in die beskuldigdebank waar te neem.
[6] Voorkoms van die appellante:
In sy polisieverklaring wat kort na die gebeure afgelê was, het die klaer gemeld dat die aanvallers jonk nl. tussen 18 en 20 jaar oud was. Slegs die eerste appellant beantwoord aan hierdie beskrywing. Die tweede en derde appellante was tydens die verhoor onderskeidelik 44 en 33 jaar oud. Die klaer het onder kruisverhoor toegegee dat die tweede en derde appellante nie by sy voormelde beskrywing inpas nie en dat tweede en derde appellante opsigtelik lyk na persone van 44 en 33 jaar oud.
[7] Kenmerke:
Die klaer en sy eggenote kan geen besondere identifiserende kenmerke meld waaraan hulle die appellante herken nie en volstaan by die appellante se algemene voorkoms.
[8] Die klaer en sy eggenote was ook nie voor die voorval met die appellante bekend nie.
[9] Uit wat bovermeld is, is dit duidelik dat daar heelwat gebreke in die uitkenningsgetuienis van die klaer en sy eggenote is. Dit is wel so dat die voorval helder oordag plaasgevind het en dat daar voldoende geleentheid vir waarneming was. Daarby lees die getuienis van veral die klaer se eggenote goed en lyk haar uitkenning van derde appellant op die oog-af oortuigend. Dit moet egter beklemtoon word dat die klaer en sy eggenote nie mekaar oor en weer staaf in hul uitkenning nie, omdat klaer die eerste en tweede appellante uitken en sy eggenote die derde appellant. Dit sou, myns insiens, riskant wees om op die klaer en sy eggenote se uitkenning as enkele faktor te bevind dat die appellante wel by die voorval betrokke was.
[10] Die feit dat die geroofde vuurwapen in besit van die eerste appellant gevind is, verleen egter sterk stawing aan die klaer se uitkenning van die eerste appellant as een van die rowers. Die eerste appellant het by sy arrestasie op verdagte wyse van die vuurwapen ontslae probeer raak. Daarna het hy allerlei weersprekende verduidelikings vir sy besit van die vuurwapen gegee. Alles inaggenome is daar voldoende bewys bo redelike twyfel van sy aandadigheid aan die roofvoorval.
[11] Dieselfde geld egter nie ten aansien van tweede en derde appellante nie. Daar is geen stawing hoegenaamd vir die aangeduide gebrekkige uitkenningsgetuienis wat hulle met die voorval verbind nie. Hul skuldigbevindings op klagte een kan dus nie gehandhaaf word nie. Daar is geen bewys dat tweede appellant ooit die vuurwapen wat die onderwerp van klagte twee is, besit het nie. ‘n Skuldigbevinding, soos reeds aangedui, aan die tweede klagte is afhanklik van sy skuldigbevinding op die eerste klagte en wel op die basis dat die vuurwapen dan deel van die buit van die rooftog sou wees. As tweede appellant se aandadigheid aan die roof nie bewys is nie, is dit gevolglik ook nie bewys dat hy ooit die vuurwapen besit het nie.
[12] Die vonnis eerste appellant opgelê, is nie sodanig dat dit inmenging regverdig nie. Dit is wel so dat eerste appellant tydens die voorval 17 jaar oud was, maar dit is duidelik dat hy die lewe van ‘n volwassene lei. Daarby is dit ‘n uiters ernstige misdryf waaraan hy hom skuldig gemaak het.
Bygevolg word eerste appellant se appèl afgewys en sy skuldigbevinding en vonnis hom opgelê op beide klagtes een en twee, word bekragtig. Die appèl van tweede en derde appellante slaag en word tweede appellant se skuldigbevinding en vonnisse aan klagte een en twee, sowel as derde appellant se skuldigbevinding en vonnis aan klagte een, tersyde gestel.
____________
C.B. CILLIé, R
Ek stem saam.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Namens die appellante : Adv. T.B. van Rensburg
In opdrag van:
Regshulpraad
KROONSTAD
Namens die respondent: Adv. S. Scheepers
In opdrag van:
Direkteur Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp