South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 103

| Noteup | LawCite

De Wet v Senwes Bpk (858/2004) [2005] ZAFSHC 103 (8 September 2005)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak Nr. : 858/2004



In die saak tussen:


PAUL VENTER DE WET Eiser


en


SENWES BPK Verweerder


_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 30 AUGUSTUS 2005

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN COPPENHAGEN R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 8 SEPTEMBER 2005

_____________________________________________________



[1] Eiser het in saak nr. 18555/2002 in die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika aksie ingestel. Die aksie was deur verweerder verdedig.


Op 4 Junie 2004 was in voormelde Hof die volgende bevel uitgereik:


1. DAT in terme van Artikel 9(1) van die Hooggeregshof Wet word hierdie saak oorgeplaas na die Vrystaatse Hooggeregshof vir verhoor.


  1. DAT die koste voorbehou word.”


Die koste van die aansoek om oorplasing was kragtens voormelde bevel aan die orde gestel in die onderhawige saak en sal hierinlater aangespreek word.


[2] In saak nr. 98/2554 in hierdie Hof het die verweerder in die onderhawige aksie die eiser in hierdie aksie aangespreek vir betaling van gelde verskuldig.


Die aksie was verdedig en was op 5 September 2000, blykens die oorkonde van die verrigtinge in voormelde saak, bewysstuk “A”, o.a. aan Van Coller R, aan wie die verhoor toegedeel was, deur die partye se advokate die volgende mededeling gemaak:


MNR. VAN ROOYEN : Soos ons u in Kamers meegedeel het, u Edele, is hierdie saak geskik en soos ooreengekom my Geleerde Vriend sal die skikking in die band inlees.

HOF : Ja, ek is bly om dit te hoor.

MNR. VAN ROOYEN : Soos dit u behaag.

HOF : Ja, mnr. Brand?

MNR. BRAND : Mag dit u Edele behaag, ek verskyn vir die verweerder. Ek bevestig wat my Kollega gesê het en met u verlof sal ek die skikking wat die partye bereik het net op rekord inlees. Die saak is as volg geskik:

1. Verweerder onderneem om aan eiser die bedrag van R73 000 te betaal voor of op 28 Februarie 2001.

2. Verweerder onderneem om aan eiser die bedrag van R130 000 te betaal voor of op 5 September 2001. Teen betaling van laasgemelde bedrag, sal die eiser toestem dat die verband wat tans geregistreer is oor ‘n onroerende eiendom ter versekurering van hierdie bedrag gekanselleer word.

HOF : Net ‘n oomblik, sê u teen betaling van laasgenoemde bedrag sal?

MNR. BRAND : Sal die eiser toestem dat die verband wat oor ‘n onroerende eiendom geregistreer is ter versekurering van hierdie bedrag gekanselleer word.

HOF : Oor ‘n onroerende eiendom?

MNR. BRAND : Oor ‘n onroerende ..... ons het ongelukkig nie die beskrywing nie. Daar is net een verband, so daar is nie ‘n kwessie oor dit nie.

HOF : Ek neem nou aan die onroerende eiendom is seker die van die verweerder?

MNR. BRAND : Van die verweerder.

HOF : Moet ‘n mens dit daar insit?

MNR. BRAND : Soos u behaag, u Edele.

HOF : Want anders is dit ‘n onroerende eiendom.

MNR. BRAND : Oor die onroerende eiendom van die verweerder.

HOF : Geregistreer is, gekanselleer word.

MNR. BRAND : Gekanselleer word.

HOF : Ja?

MNR. BRAND : Derdens, die verweerder onderneem om ‘n polis, nommer 10998671X1, op sy lewe en opbrengs waarvan eiser die sessionaris is, in stand te hou.

HOF : Kan u net vir my weer daardie nommer gee?

MNR. BRAND : 10998671X1. Vierdens, verweerder betaal aan eiser ‘n bedrag van R20 000 as bydrae tot regskostes voor of op 5 Oktober 2000.

HOF : Voor of op 5 Oktober?

MNR. BRAND : 5 Oktober, dit is ‘n maand vanaf vandag. En dan vyfdens en laastens, indien die verweerder in verstek sou wees by die bepaling van enige bedrae voormeld, stem hy toe dat eiser vonnis kan neem soos geëis in die dagvaarding en die partye versoek beide, as dit u behaag, om hierdie ooreenkoms ‘n bevel van die Hof te maak.

HOF : Ja, is dit dan so?

MNR. VAN ROOYEN : Ek bevestig so, u Edele. Net volledigheidshalwe, daardie verbandakte wat gekanselleer word, is verbandakte 11213/84.

HOF : Ja, laat ek net die plek kry, deur betaling van laasgenoemde bedrag sal die eiser toestem dat die verband, dan sê u dit is ‘n nommer?

MNR. VAN ROOYEN : Dit is ‘n nommer, 11213/84.

HOF : Is dit nou 1984?

MNR. VAN ROOYEN : 1984.

HOF : Gekanselleer word.

MNR. VAN ROOYEN : Andersins stem ek saam dat dit die ooreenkoms is.

HOF : U sê die bedrae was R73 000 en R130 000?

MNR. BRAND : Dit is R73 000 en R130 000 inderdaad, u Edele.”


Van Coller R het, nadat die bepalings van die skikking aan hom oorgedra was, die volgende bevel gemaak:


“WORD DIT GELAS DAT : (By ooreenkoms)


[1] Verweerder onderneem om aan eiser die bedrag van R73 000 voor of op 28 Februarie 2001 te betaal.

[2] Verweerder onderneem om aan eiser die bedrag van R130 000 voor of op 5 September 2001 te betaal. Teen betaling van laasgenoemde bedrag, sal die eiser toestem dat die verband nommer 11213 van 1984 wat oor ‘n onroerende eiendom van die verweerder geregistreer is, gekanselleer word.

[3] Verweerder onderneem om polisnommer 10998671X1 op sy lewe, die opbrengs waarvan eiser die sessionaris is, in stand te hou.

[4] Verweerder betaal aan eiser die bedrag van R20 000 as bydrae tot regskostes voor of op 5 Oktober 2000.

[5] Indien die verweerder in verstek sou wees met betaling van enige van die bedrae soos voormeld, stem hy toe dat die eiser vonnis kan neem soos gevorder in die dagvaarding.”


[3] Paul Venter de Wet, die aanvanklike eiser in die onderhawige aksie, en verweerder in die saak waarin die bovermelde bevel gemaak was, is nadat die onderhawige saak ter rolle geplaas was, oorlede en is vervang met die eksekuteurs in sy boedel. Ek sal egter steeds na eiser verwys as Paul Venter de Wet.

In die dagvaarding word deur eiser gevorder:


1. ‘n Bevel ingevolge waarvan verklaar word dat die eiser geregtig is op terugsessie van Sanlampolis nr. 10998671X1.

  1. Koste van geding.

  2. Verdere en/of alternatiewe regshulp.”


[4] Verweerder verdedig die aksie en het tydens die verrigtinge die bede in die teeneis, met uitsluiting van koste, beperk tot:


2.2 ‘n Bevel ingevolge waarvan eiser gelas word om die volle opbrengs van polis nr. 10998671X1 aan verweerder te sedeer en alle dokumentasie wat nodig mag wees om sodanige sessie te bewerkstellig, te onderteken, alternatiewelik dat die adjunk-balju van Bloemfontein gemagtig en gelas word om sodanige dokumentasie te onderteken indien eiser sou versuim om sodanige dokumentasie te onderteken binne 14 dae na datum van hierdie bevel.”


[5] Die partye was dit eens en so ook was dit bevestig deur die getuienis van Joubert, die enigste getuie namens eiser en Pitout, die enigste getuie namens verweerder, dat die bevel deur Van Coller R gemaak inderdaad die skikking van hulle geskille in gemelde aksie boekstaaf.


Die partye het beklemtoon dat die genotuleerde bevel ‘n ware skikking in die regstegniese sin van die woord is.


[6] Die effek van ‘n skikking word deur A.A. Roberts se Wessels’ Law of Contract in South Africa, Vol. I paragraaf 2471 p. 736 verduidelik:


2471. In the law of contract a valid transaction has an effect similar to novation, for the transactio or compromise extinguishes ipso jure the pre-existing litigious or uncertain obligation and puts in its place the new obligation created by the compromise (Voet, 46.2.3; Robertson v Strydom 1924 C.P.D 199: 1923 J.D.R 344).”


In Kontraktereg en Handelsreg van De Wet & Van Wyk (Vyfde Uitgawe) p. 270 word bostaande regsbeginsel met byhaling van oorredende gesag onderskryf.


R.H. Christie se Law of Contract (Vierde Uitgawe) p. 535 beklemtoon dat die gevolge van ‘n skikking dieselfde as res judicata op ‘n vonnis met toestemming is, d.w.s. dat enige vorige bestaande of nie-bestaande regsband uitgewis word en vervang word met die verbintenis wat uit die skikking ontstaan.


[7] Die bevel van Van Coller R het die gevolg gehad dat alle vorige verbintenisse tussen die partye tot ‘n einde gekom het. Dit sou ook beteken dat, indien die skuldgrond wat weens ‘n skikking beëindig word, onderliggend was tot ‘n sessie, daar die sessie ook beëindig word. (LAWSA Volume 2: Sv. Cession paragraaf 274 p. 172.)


[8] Die hofbevel, die ooreenkoms tussen die partye, moet dus interpreteer word met as vertrekpunt dat aan vorige verbintenisse wat voorafgaande die skikking in geskil was, nie enige impak het nie.


[9] Die argumente en geskil het sentreer om die interpretasie van klousule 3 van die hofbevel. Vir gerief word dit herhaal:


[3] Verweerder onderneem om polisnommer 10998671X1 op sy lewe, die opbrengs waarvan eiser die sessionaris is, in stand te hou.”


Die vertrekpunt moet wees dat by interpretasie, die bedoeling van die woorde in die konteks waarin dit gebruik word, die gewone grammatikale betekenis gegee moet word. Indien duidelik, sal daarvan nie afgewyk word nie. (FIRESTONE SOUTH AFRICA (PTY) LTD v GENTICURO AG 1977 (4) SA 291 (A) 304 E.)


Die betrokke klousule behels, myns insiens, in duidelike terme dat die feit van ‘n sessie van die opbrengs van ‘n polis op die lewe van die verweerder (eiser in hierdie saak) bevestig word en voorts dat verweerder (in hierdie saak) die polis in stand moet hou. Bevestiging van die sessie as feit en die sessie t.o.v die volle opbrengs is en kan niks anders beteken as dat die sessionaris ergo die verweerder in die onderhawige saak geregtig is op die opbrengs van die polis nie.


[10] Die voorafgaande noop tot die konklusie dat eiser se eis afgewys moet word en verweerder se teeneis moet slaag.


[11] Koste van die aksie behoort die resultaat te volg.


Die koste van die aansoek om oorplasing vanaf die Transvaalse Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika na hierdie Afdeling, verg egter oorweging.


Dit moet aanvaar word dat die aansoek om oorplasing genoodsaak was, weens die feit dat eiser beswaar gemaak het teen die jurisdiksie van die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof, om die teeneis te bereg.


Die aansoek om oorplasing was geïnisieer deur verweerder en was in wese ‘n versoek of vergunning. Die feit dat eiser moontlik nie beswaar teen die voorgestelde oorplasing geopper het nie, het nie noodwendig tot gevolg dat eiser nie koste gehad het wat die aansoek om oorplasing betref nie. Daardie koste kom eiser toe, omdat verweerder die vergunning versoek het.


[12] Die volgende bevele moet volg:


  1. Eiser se eis word afgewys met koste.


  1. Verweerder se teeneis slaag met koste en word bevind dat die opbrengs van polis nr. 10998671X1 op die lewe van Paul Venter de Wet op die uitkeerdatum daarvan aan verweerder betaal moet word.


  1. Verweerder om die koste van die aansoek om oorplasing van die saak vanaf die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika (saak nr. 18555/2002) te betaal.



_______________________

G. VAN COPPENHAGEN, R



Namens die eiser: Adv. G.C. Muller

In opdrag van:

Webbers

BLOEMFONTEIN



Namens die verweerder: Adv. N. Davis

In opdrag van:

Phatshoane Henney Inc.

BLOEMFONTEIN

/sp