South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2004 >> [2004] ZAFSHC 81

| Noteup | LawCite

S v Moeketsi (992/2004) [2004] ZAFSHC 81 (29 July 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersienings Nr. 992/2004


In die hersiening tussen:


DIE STAAT


En


THEPO ERNEST MOEKETSI


___________________________________________________________


CORAM: MALHERBE RP & VAN DER MERWE R

___________________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: MALHERBE RP

___________________________________________________________


GELEWER OP: 29 JULIE 2004

___________________________________________________________


Die beskuldigde is in die Landdroshof te Koppies skuldig bevind op 2 aanklagte van veediefstal en gevonnis tot swaar boetes met alternatiewe termyne van gevangenisstraf, plus opgeskorte gevangenisstraf. Hy was deurgaans verteenwoordig deur ‘n prokureur van Kroonstad, Mnr. Van Wyk.


Op 3 Julie 2003 het die Staat aansoek gedoen vir die intrekking van beskuldigde se borgtog. Die aansoek het misluk. Op 11 Augustus 2003 het die verhoor ‘n aanvang geneem toe beskuldigde onskuldig gepleit het op beide aanklagte. Daarna is die verhoor op verskeie datums voortgesit totdat die getuienis op 15 Oktober 2003 afgehandel is. Nadat die verdedigingsaak gesluit is, vind die volgende gesprek tussen die Landdros en Mnr. Van Wyk plaas:

MNR. VAN WYK : As ek ‘n begeerte van my hart sal uitspreek dan is dit soos u dit bepaal, dit liewers op ‘n later stadium, as dit dalk getik sou word, dan het ‘n mens die voordeel.

HOF : Want kyk, die saak was ‘n bietjie, al ‘n hele rukkie terug, ek sal graag deur ‘n getikte oorkonde liewers wil gaan en nie net op my notas nie. Maar dan dink ek, moet ons net ‘n oomblik verdaag dat ek net hoor wat is die reëling met betrekking tot die tik van die oorkonde. As hulle dit nie hier kan laat doen nie, dan moet ek dit saam met my vat.

MNR. VAN WYK : Die saak is reg.

HOF : En ons sukkel ‘n bietjie lank die laaste tyd om hulle getik te kry. Maar dan kan ons dalk net ‘n oomblik verdaag.

HOF VERDAAG VIR ‘N RUKKIE – MET HERVATTING

AANKLAER : Ons het ‘n datum gereël, 24 November. Die beskuldigde is op borg.

HOF : Uitstel tot 24 November 2003, 8:30 die oggend. Die saak word uitgestel vir betoë en uitspraak.”


Op 24 November 2003 word die volgende deur die Landdros genotuleer:

“Mnr. Van wyk afwesig, het gereël.

SA : Transkripsie is nog nie beskikbaar nie.”


Na nog ‘n paar uitstelle vind die volgende plaas op 7 April 2004:

“______?____ : Ek verskyn namens mnr. Van Wyk, die beskuldigde se prokureur. Dit is my instruksies om namens mnr. Van Wyk.

HOF : Kan u ook dan net u name op rekord plaas?

MNR. DE WET : My naam is De Wet, ‘n plaaslike prokureur hier op Koppies.

HOF : Ja?

MNR. DE WET : Dit is my instruksies om namens mnr. Van Wyk as prokureur vir die beskuldigde te onttrek in hierdie aangeleentheid.

HOF : En die rede synde?

MNR. DE WET : Die beskuldigde het nie mnr. Van Wyk in fondse geplaas om hom verder te verteenwoordig nie.

HOF : Wil u iets sê?

BESKULDIGDE : Ek sal ‘n ander prokureur bekom, mnr. Van Rensburg van Kroonstad.

HOF : Waar is hy?

BESKULDIGDE : Hy is op Kroonstad.

HOF Ek gaan u nie verder uitstel gee in hierdie aangeleentheid nie, want u is besig om te speel met die Hof so ek gaan die saak vir u ‘n oomblik laat afstaan. U is verskoon, u kan maar gaan. Ek gaan die saak vir ‘n oomblik laat afstaan, want ek wil ‘n ondersoek hou met betrekking tot hoekom die ...(onhoorbaar) ondersoekbeampte ...(onhoorbaar) nie betyds ...(onhoorbaar). Is die ondersoekbeampte hierso?”


Nadat die Landdros die ondersoekbeampte uitgetrap het omdat die beskuldigde laat by die Hof was, gaan die saak soos volg voort:

HOF : Beskuldigde, wat is die posisie met betrekking tot u prokureur?

BESKULDIGDE : Vroeër vandag het hy onttrek van die saak af.

HOF : Hoekom het u nie die prokureur in fondse geplaas nie?

BESKULDIGDE : Ek was in aanhouding, ek het nie gewerk nie, om hom te betaal nie.

HOF : Nou hoe werk dit dat u nou ‘n ander prokureur het, hoekom het u ‘n ander prokureur?

BESKULDIGDE : Dit is die nuwe prokureur op ‘n ander saak op Kroonstad. En ek gaan met hom reël ek moet hom afbetaal.

HOF : Hoekom is u prokureur nie hier vandag nie.

BESKULDIGDE : Die Hof het my meegedeel dat vandag die prokureur onttrek homself van die saak en nou ek is bereid om daardie ander een wat my verdedig op ‘n ander saak in Kroonstad ook hierso te kry. Nou vandag ...(tussenbei).

HOF : U aansoek om uitstel op hierdie saak word geweier, want u is nie ernstig met die afhandeling van hierdie saak nie. Hierdie saak kom nou al van 23 Junie 2003 af en daar is geen begeerte by u om die saak af te handel nie. As hierdie saak in die begin was sou ek dit nog oorweeg het om u uitstel te gee. Die getuienis is klaar gelewer, al die getuies is geroep, die saak is net uitgestel vir betoë en uitspraak. So wat my aanbetref is daar minimale benadeling vir u en in die lig van wat ek nou gesê het gaan ek hierdie saak nou afhandel. Het die Staat enige betoog?

AANKLAER SPREEK DIE HOF TOE VOOR UITSPRAAK

HOF : Wil u iets sê op die meriete van die saak?

BESKULDIGDE : Ek sal vra dat die Hof my ‘n kans gee vir my prokureur, alhoewel dit kan môre wees.

HOF : U uitstel is reeds geweier, wil u iets sê op die meriete van die saak?

BESKULDIGDE : Ek kan nie, want ek word hier onderdruk.

HOF : U is nie onderdruk nie, u het hierdie saak vir ‘n baie lang tyd gehad om die geleentheid te kry vir die saak en u prokureur in fondse te plaas. Ek vra vir u of u op die meriete van die saak wil iets sê en of ek moet voortgaan met uitspraak.

BESKULDIGDE : Die Hof weet, ek hoor, dit is nou die eerste keer om te hoor vandag dat mnr. Van Wyk hom onttrek het. As ek by die laaste verhoor gehoor het dat hy homself gaan onttrek ek sou ‘n ander prokureur gekry het. Met ander woorde, ek word nie ‘n kans ...(tussenbei).

HOF : Ek ken mnr. Van Wyk ten minste 20 jaar. Ek glo dit vir geen oomblik dat hy vir u nie betyds in kennis sal stel as hy onttrek het nie. Mnr. Van Wyk is ‘n ervare prokureur en ek het hom nog altyd beskou as ‘n uiters verantwoordelike persoon, so daar bestaan by my geen twyfel dat hy u nie baie lank voor die tyd, ten minste ‘n redelike kennis sou gegee het dat hy onttrek nie. So ek vra nou vir u vir die laaste keer of u wil iets sê voordat ek voortgaan met uitspraak.

TOLK : Hy sê hy gaan nie op die meriete praat nie, hy praat ...(onhoorbaar) mnr. Van Wyk.”


Daarna gaan die Landdros voort en gee uitspraak.


Dit is duidelik uit die oorkonde dat beide Mnr. Van Wyk en die Landdros die voordeel van ‘n getikte oorkonde wou gehad het voordat hulle onderskeidelik betoog of uitspraak gee – klaarblyklik omdat daar heelwat onderbrekings in die saak was en hulle nie graag slegs op hulle geheues of notas wou staatmaak nie. Dit is volkome te verstane.


Die oorkonde toon verder aan dat Mnr. De Wet op 7 April 2004 vir die eerste keer die Hof meegedeel het dat Mnr. Van Wyk nie langer namens beskuldigde gaan verskyn nie weens gebrek aan fondse. Beskuldigde se mededeling aan die Landdros dat hy op dieselfde datum ook vir die eerste keer van Mnr. Van Wyk se onttrekking verneem het, is na my mening verkeerdelik deur die Landdros verwerp. Dit is belangrik om te onthou dat beskuldigde in hegtenis was – blykbaar op ‘n ander aanklag.


Ek meen ook dat die oorkonde aantoon dat beskuldigde nie kans gesien het om te betoog nie en die bystand van sy “nuwe” prokureur wou gehad het. Dit is net so goed te verstane. In die lig van die gebeure op 7 April 2004 het ek die volgende navraag aan die Landdros gerig:


“Het die Landdros se weiering van ‘n verdere uitstel op 7 April 2004 nie in effek die beskuldigde die geleentheid ontneem om die hof toe te spreek nie? Was dit nie onreëlmatig nie? (Sien artikel 175 van die Strafproseswet en Hiemstra, 6de uitgawe pp454-455). Watter sinvolle betoog sou beskuldigde self kon voordra na so ‘n lang verhoor waarin selfs sy prokureur graag ‘n getikte oorkonde wou hê voordat hy die hof toespreek? (Vgl S v Zingilo 1995 (2) BCLR 1186 (O)).”


Ek haal die tersaaklike gedeelte van die Landdros se redes aan:


“1. Ek het ongelukkig nie die beslissing van S v Zingilo 1995 (2) BCLR 1186 (O) ter hand nie. As ek langer neem om dit eers te bekom word beskuldigde weens die tydsverloop moontlik benadeel meer so as die skuldigbevinding op hersiening ter syde gestel word. Met wat tot my beskikking is, sal ek dus na die beste van my vermoë redes verskaf.

2. Ek wil begin deur te sê dat ek bewus daarvan is dat dit ‘n ernstige onreëlmatigheid is om die beskuldigde die geleentheid te ontneem om die hof toe te spreek na die getuienis aangevoer is.

In die onderhawige saak is die beskuldigde nie van sy reg ontneem om die hof toe te spreek nie. Die beskuldigde het self besluit om nie die hof toe te spreek toe hy die geleentheid daartoe gehad het nie. Nadat uitstel geweier is toe beskuldigde se prokureur onttrek het omdat beskuldigde hom nie in fondse geplaas het nie het beskuldigde geweier om die hof toe te spreek.

Ek gaan nie verder argumenteer oor my besluit om uitstel te weier nie, die saak sloer vanaf 23 Junie 2003 beskuldigde was by geleentheid op borgtog vrygelaat hy het genoeg tyd gehad om sy prokureur in fondse te plaas. Sy aansoek om verdere uitstel is op behoorlike gronde geweier. Hy meen ek was met vertragingstaktiek besig.

3. Met die grootste respek meen ek dit is ‘n oorvereenvoudiging om die weiering van uitstel en beskuldigde se daaropvolgende weiering om die hof toe te spreek gelyk te stel aan ‘n ontneming van die beskuldigde se reg om die hof toe te spreek. Dit mag ‘n lang verhoor gewees het, maar volgens my was die getuienis nie omvangryk of ingewikkeld nie. Dit het nie gegaan oor ingewikkelde regsargumente nie. Die feit dat beskuldigde se prokureur ‘n afskrif van die saak wou hê om later te betoog is nie sondermeer genoegsame rede vir die beskuldigde om te weier om die hof toe te spreek nie. Beskuldigde is nie ongeletterd nie hy is ‘n geskoolde gesondheidswerker.

4. Ek wil kortliks net na een saak verwys. In Staat versus Vermaas 1997 (2) SA 454 op bladsy 459 sê die geleerde Regter die volgende:- “Waar ‘n beskuldigde of sy regsverteenwoordiger weier om te betoog verbeur hy die betrokke reg – ongeag die motief waarom hy geweier het. (My onderstreping). Ek het die beskuldigde gevra of hy wil betoog hy het ‘n keuse uitgeoefen en geweier om te betoog ek glo nie die hof moet blameer word vir ‘n keuse wat die beskuldigde uitoefen nie. Verder is dit so dat die beskuldigde deurentyd regsverteenwoordig was tot voor betoog stadium. Ek het die getuienis wat gelewer is beoordeel en daarop ‘n bevinding gemaak. Daar was volgens my nie sodanige benadeling dat die skuldigbevinding ter syde gestel behoort te word nie.”


Die VERMAAS-saak waarna die Landdros verwys, is gladnie vegelykbaar met die onderhawige saak nie. Die volgende aanhalings uit die uitspraak illustreer die verskille:

“Die beskuldigde is ‘n prokureur met jare ondervinding van strafproses in hierdie Hof; hy was deur ‘n advokaat en prokureur bygestaan en het ook, soos Cooper, geweet wat sy regte was, ‘but he made no attempt to exercise them’. Inderdaad het hy geweier om so te doen.”


“Ek het vanoggend alreeds ‘n kort uitspraak gegee in verband met die beskuldgide se ‘voorlopige’ beëindiging van adv. Toweel en prokureur Van Huyssteen se mandate om namens hom op te tree. In die woorde van adv. Toweel is hy en sy prokureur deur die beskuldigde gesê om voorlopig van die saak te onttrek. Advokaat Toweel het gesê dat as gevolg van ‘n wesenlike botsing tussen sy plig teenoor hierdie hof en sy plig teenoor die beskuldigde, hy nie verder aan die verrigtinge kon deelneem nie en het hy onttrek. Mnr. Van Huyssteen het ook onttrek.

Die beskuldigde het bekragtig dat hy die opdragte beëindig het deur hulle te vra om ‘voorlopig’ te onttrek. Hy het klem gelê op die woord ‘voorlopig’, klaarblyklik omdat, wanneer dit hom sal pas, hy van plan is om hulle weer aan te stel. Dit was klaarblyklik deel van die beskuldgide se taktiek. Ek was op daardie stadium nie seker wat die omvang van die beskuldigde se taktiek was nie, maar dit was ‘n poging om te verhoed dat enige verdere gedeelte van die betoog nou gelewer word.

Een probleem wat adv. Toweel gehad het was dat hy deur die beskuldigde opgedra is dat hy nie ‘n erkenning of toegewing mag maak sonder die voorafverkreë toestemming van die beskuldigde nie. Ek het uitgewys dat ‘n advokaat nie ‘n houtpop is nie en dat die lewering van ‘n betoog in hierdie Hof nie ‘n toneelspel is nie.

Ek verwys na die uitsprake wat ek sedert Maandag, 7 Oktober gelewer het. Dit blyk dat die beskuldigde ‘n aansoek wil loods om getuies terug te roep en ook verdere getuies te roep. Ek het beveel dat intussen die betoog moet aangaan en enige verdere uitstel geweier. Ek het bevind dat daar tallose aspekte is waaroor betoog nou gelewer kan word wat nooit deur enige verdere getuies of getuienis geaffekteer kan word nie. Daaroor kon adv. Toweel betoog.

Deur die ‘voorlopige’ beëindiging van die mandate het die beskuldigde adv. Toweel en prokureur Van Huyssteen weer soos houtpoppe probeer behandel. Dit affekteer ook hierdie Hof en ek mag byvoeg dat ek ook nie onderworpe aan die beskuldigde se taktiek is of sal wees nie.”


“Nadat ek op die beskuldigde geroep het om met sy betoog voort te gaan, het sy taktiek toe duidelik geword. Hy het beweer dat hy nie in staat is om dit te doen nie omdat die getuienis wat hy wil aanbied die hele betoog sal verander en dat dit onmoontlik is om enige aspekte van die saak nou te behandel. Daardie stelling word geheel en al verwerp.”


“Daar is dus verskillende aspekte van hierdie saak wat nooit in der ewigheid getref kan word deur die getuies wat adv. Toweel gemeld het nie.

Waarom het die beskuldigde sy advokaat se mandaat beëindig (dit maak nie saak of dit voorlopig of finaal was nie)? Hy het besef dat adv. Toweel met die betoog sou begin het en dit het die beskuldigde besluit hy glad nie sal duld nie. Die eerste stap in sy taktiek was om sy mandaat te beëindig, wat hy gedoen het. Die volgende stap in die taktiek is dat die beskuldigde nou weier om self oor enige aspekte van die saak te betoog. Sy beweerde rede daarvoor is dat elke aspek van die saak deur die beoogde heropeningsaansoek geaffekteer sal word. Dit verwerp ek; dit kan nie so wees nie. Die beskuldigde het wel geweet dat, indien die mandate beëindig word, hierdie Hof op hom sou roep om te betoog en, tot die mate dat dit sy saak is dat hy nie dit kan doen nie, het hy die voortsetting van betoog verydel deur doelbewuste taktiek.

Om die beskuldigde se optrede op te som word bevind dat hy besluit het dat geen betoog nou gelewer sal word nie en dat hy hierdie Hof se bevele van 7 en 9 Oktober deur sy taktiek sal verydel en tot niet maak. Op die totaliteit van hierdie feite het die beskuldigde besluit om te weier om te betoog, óf deur sy advokaat en prokureur óf deur homself.”


“Waar ‘n beskuldigde of sy regsverteenwoordiger weier om te betoog verbeur hy die betrokke reg – ongeag die motief waarom hy geweier het. Die feit in casu dat die beskuldigde doelbewus besluit het om twee hofbevele nie te eerbiedig nie en hulle te frustreer is derhalwe geen verskoning vir sy optrede nie. Klaarblyklik wou adv. Toweel nie sodanige taktiek uitvoer nie; derhalwe is sy mandaat beëindig. Dit help die beskuldigde ook nie. Ek sal in ag neem wat die beskuldigde self gedurende 1994 betoog het asook die betoog van adv. Toweel wat alreeds gelewer is.

Die feite in die huidige saak is sterker as enige van die sake waarna verwys word. Deur sy taktiek het die beskuldigde verhoed dat sy advokaat met betoog kon voortgaan en hyself het ook geweier om so te doen. Die beskuldigde het as gevolg van die voorafgaande sy reg van verdere betoog verbeur en/of geabandonneer.”


Na my mening het die beskuldigde in die onderhawige saak nie vrywillig verkies om nie te betoog nie en kan daar derhalwe nie sprake daarvan wees dat hy die reg om te betoog verbeur of geabandonneer het nie.


In S v VERMAAS (supra) word daar verwys na R v KALENI (2) 1959 (4) SA 453 (E) en word die volgende passasie aangehaal:


“It is clear that failure to afford a party or his legal representative an opportunity to address the court at the conclusion of a trial constitutes a gross irregularity, whether this failure is due to a deliberate refusal, or merely to an oversight. If such an irregularity is calculated to cause prejudice and the court is not satisfied that prejudice in fact did not result it is bound to set the proceedings aside.”


In die ZINGILO-uitspraak waarna ek in my navraag verwys het, het die Landdros per abuis nagelaat om aan die beskuldigde ‘n geleentheid te bied om die hof toe te spreek voor uitspraak. Die skuldigbevinding is op hersiening tersyde gestel.


In die onderhawige geval meen ek dat die Landdros se weiering van die gevraagde uitstel die beskuldigde effektiewelik die geleentheid ontneem het om die hof toe te spreek. Dit was ‘n growwe onreëlmatigheid wat tot gevolg gehad het dat die beskuldigde nie ‘n billike verhoor gehad het nie. Die skuldigbevinding kan derhalwe nie bly staan nie.


Gevolglik word beide die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel.


___________________

J.P. MALHERBE R.P.




EK STEM SAAM



__________________________

C.H.G. VAN DER MERWE R



/scd