South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2004 >> [2004] ZAFSHC 66

| Noteup | LawCite

S v Mogoloza (A372/2003) [2004] ZAFSHC 66 (17 June 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Appèl Nr. A372/2003


In die saak tussen:


PHILLIP MOGOLOZA Appellant


en


DIE STAAT Respondent


___________________________________________________________


CORAM: MALHERBE R.P. et VAN COPPENHAGEN R

___________________________________________________________


AANGEHOOR OP: 24 MEI 2004

___________________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN COPPENHAGEN R

___________________________________________________________


GELEWER OP: 17 JUNIE 2004

___________________________________________________________



[1] In die klagstaat was dit appellant, wat as beskuldigde 2 siteer was, en sy mede-beskuldigdes ten laste gelê;

(a) dat hulle op 7 September 2000 die huis van ene L.H. Pretorius oopgebreek en binnegegaan het met die opset om goed te steel en inderdaad goedere gesteel het soos in die aanhangsel uiteengesit – klagte 1;


(b) dat hulle op 7 September 2000, 1 x Aya haelgeweer, 1 x 12 boor Harrington en Richards haelgeweer en 1 x 308 Musgrave geweer ter oortreding van artikel 2 gelees met artikels 39((i)(h), 39(2)(a) en 39(2)(b) van Wet 75 van 1969 besit het – klagte 2; en


(c) dat hulle op 7 September 2000 gepoog het om L.H. Pretorius te vermoor – klagte 3.


Op voormelde klagtes het appellant en sy mede-beskuldigdes na arrestasie op 3 November 2000 uiteindelik op 28 Januarie 2002 onskuldig gepleit.


Appellant en sy mede-beskuldigdes was egter op al drie die ten laste gelegde klagtes op 12 Desember 2002 skuldig bevind en op dieselfde datum gevonnis as volg:


Klagte 1: 3 jaar gevangenisstraf ingevolge artikel 276(1)(b) van Wet 51 van 1977;

Klagte 2: 2 jaar gevangenisstraf ingevolge artikel 276(1)(b) van Wet 51 van 1977; en

Klagte 3: 12 jaar gevangenisstraf ingevolge artikel 276(1)(b) van Wet 51 van 1977.


Teen die skuldigbevindings en vonnisse hom opgelê kom appellant nou in hoër beroep.


[2] In die verhoor was dit gemeensaak dat op 7 September 2000 tussen ongeveer 17:30 en 18:35 in die afwesigheid van mnr. L.H. Pretorius, die klaer, toegang tot laasgenoemde se woning op die plaas Klein Rocklands, distrik Bloemfontein, verkry was. Verskeie items, onder andere, twee haelgewere, ‘n .308 jaggeweer, R42,00 kontant, ‘n radio en verkyker met ‘n totale waarde van nagenoeg R16 800,00 was gesteel.


Met klaer se terugkeer op die plaas om ± 18:35 net nadat hy by die woning aangekom en uit sy voertuig geklim het, was hy in die linkerarm deur ‘n projektiel afkomstig uit ‘n geweer getref.


Klaer se linkerarm was as gevolg van die verwonding geamputeer.


[3] Klaer, wat net een aanvaller in die persoon van appellant se mede-beskuldigde gesien het, het laasgenoemde as die skut geëien, en dit terwyl hy nog steeds klaer se 308 jaggeweer in sy hand gehad het en op klaer gerig gehou het.


[4] Filemon Pelesa was deur die Staat as medepligtige tot die aanval op klaer beskou en was as sulks ingevolge artikel 204 van Wet 51 van 1977 voor aflegging van getuienis namens die Staat gewaarsku.


Blykens sy getuienis was appellant en sy mede-beskuldigdes kort voordat klaer verwond was in besit van twee vuurwapens, ‘n tang, ‘n radio en ‘n verkyker, wat volgens hulle mededeling uit klaer se huis geneem was. Appellant het ook gesê dat hy klaer wou skiet omdat laasgenoemde aan hom geld skuld.


n Rukkie na voormelde gesprek en mededeling het klaer met sy voertuig na sy woning gery waarna ‘n geweerskoot deur die getuie gehoor was.


[5] Kagiso Dimpane se getuienis, kortliks, was dat appellant se mede-beskuldgide op ‘n stadium ‘n geweer met ‘n teleskoop aan hom gegee het as betaling vir herstelwerk aan sy, appellant se mede-beskuldigde, se skoene en dat die mede-beskuldigde en die polisie later die vuurwapen kom soek het. Hy het ook getuig dat appellant later tydens ‘n gesprek tussen appellant se mede-beskuldigde en homself opgedaag het.


[6] Charles Garing het getuig dat hy die radio wat klaer as sy gesteelde eiendom geëien het, by appellant gekoop het.


[7] Die Staat het ook getuienis van uitwysings en mededelings daartydens wat na ‘n binneverhoor as getuienis toegelaat was, aangebied.


[8] Uit die totaliteit van die aangebode en aanvaarde Staatsgetuienis is die afleiding onvermydelik dat:


(a) appellant en sy makkers wel klaer se woning binnegegaan het met die opset om te gaan steel;


(b) dat hulle inderdaad die goedere soos deur klaer vermis, onder andere ook die vuurwapens, gesteel het, en dit as deel van die gesamentlike buit besit het;


(c) dat nadat hulle die goedere gesteel het, dit die uitgesproke bedoeling en voorneme was om klaer te gaan skiet; en


(d) dat klaer inderdaad deur appellant se mede-beskuldigde in uitvoering van daardie voorneme geskiet was.


[9] Appellant en so ook sy mede-beskuldiges se getuienis is tot die effek dat elke Staatsgetuie wat hulle impliseer ‘n leuenaar is en dat die Staatsgetuies in ‘n amperse onheilige alliansie saamgespan het.


[10] Die landdros het appellant en sy mede-beskuldigdes se getuienis verwerp; ‘n bevinding wat slegs omvergewerp kan word indien appellant kan oortuig dat die landdros ‘n onreëlmatigheid begaan het, hom wanvoorgelig het of dat die bevinding duidelik verkeerd is (cf. J v S 1998 (2) All SA 267 (A) te 271C; S v FRANCIS 1991 (1) SASV 198 (A) te 204c-e).


[11] In haar betoogshoofde het adv. Wright, namens die appellant, nie ‘n enkele aspek gerep of voorgehou waarom die landdros se geloofwaardigheidsbevindings met betrekking tot die uitwysings en die mededelings daartydens, fouteer kon word nie. Ek kon ook nie enige mistasting vind nie.

Die getuienis aangaande die uitwysings en die mededelings daartydens is alleenstaande verdoemend teen appellant en word die bevinding van die landdros wanneer gemelde getuienis in samehang met die ander getuienis oorweeg word, onaanvegbaar.


[12] Die appèl teen die skuldigbevinding kan om voormelde rede nie slaag nie.


[13] Die opgelegde vonnisse word aangeveg op grond daarvan dat die landdros nie die appellant as persoon behoorlik oorweeg het nie, deur die aard en erns van klagte 3, poging tot moord, te oorbeklemtoon en dat die kumulatiewe effek van die vonnisse buitensporig swaar en onvanpas is.


[14] Die landdros het wat betref die aard en erns van die misdrywe, veral dan klagte 3, die volgende beklemtoon:


(a) die toename in voorkoms van die betrokke misdade;

(b) die feit dat die dade almal vooraf beplan was;


(c) die feit dat klaer sy linkerarm as gevolg van die aanval verloor het.


Myns insiens kon die landdros byvoeg tot voormelde -

(d) dat klaer mediese koste van nagenoeg R180 000,00 weens die aanval moes aangaan;


(e) die feit dat klaer twee jaar na die voorval nog steeds pyn moet verduur;


(f) die feit dat klaer se verlies aan goedere in finansiële terme ongeveer R15 600,00 bedrae; en


(g) die feit dat appellant by klaer gewerk het en van sy intieme kennis van klaer se bewegings misbruik gemaak het.


[15] Die persoonlike omstandighede van appellant, te wete dat hy 21 jaar oud en ongetroud is, asook dat hy ‘n eerste oortreder is wat bykans twee jaar in aanhouding was en as tuinier R600,00 per maand verdien het, word deur die verhoorlanddros aangeteken en was, so moet aanvaar word, by oorweging van ‘n gepaste vonnis in aanmerking geneem.


[16] Oplegging van ‘n vonnis is primêr die taak van die verhoorbeampte wat ‘n diskresie uitoefen. Met daardie diskresie uitoefening sal nie ligtelik ingemeng word nie.


[17] Die omstandighede heersend ten tye van die pleging van die misdrywe, die gesindheid waarmee die misdrywe gepleeg is en die aard en omvang en erns van veral die poging tot moord verg myns insiens dat die strafdoelstellings voorkoming, afskrikking en retribusie in ‘n gepaste vonnis weerklank moet vind. Alles in ag genome is die vonnis van 12 jaar vir gemelde misdaade opgelê nie buitensporig nie.


[18] Die vonnis van drie jaar gevangenisstraf opgelê vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal is die gebruiklike vir gemelde oortreding. As sulks kan dit nie fouteer word nie.


[19] Die onwettige besit van ‘n vuurwapen is in die huidige tyd ‘n ernstige oortreding. Wat die laakbaarheid van die oortreding vererger is dat die wapen gesteel was skynbaar met die doel om die waarlike eienaar daarvan te skiet. Twee jaar gevangenisstraf is in die omstandighede nie onvanpas nie.


[20] Die effek van voormelde is dat appellant 17 jaar gevangenisstraf moet uitdien. Indien die twee jaar wat appellant verhoorafwagtend was bygereken word, is die totaal wat hy in die gevangenis moet deurbring 19 jaar. Negentien jaar mag vir ‘n eerste oortreder miskien as ‘n strawwe vonnis voorkom. Die vonnis wat ek in gedagte het verskil egter nie dermate van die opgelegde vonnisse dat laasgenoemde as onvanpas aangemerk kan word nie.


[21] Die volgende bevele word gemaak:


Die appèl word afgewys. Die skuldigbevindings en vonnisse word bekragtig.



__________________________

G. VAN COPPENHAGEN R



EK STEM SAAM


___________________

J.P. MALHERBE R.P









Namens Appellant: Adv. G.J.M. Wright

i.o.v.

Regshulpraad

Bloemfontein






Namens Respondent: Adv. N.J. Keulder

i.o.v.

Direkteur: Openbare Vervolgings

Bloemfontein



/scd