South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2004 >>
[2004] ZAFSHC 65
| Noteup
| LawCite
Zwarts v Straszacker (3175/2002) [2004] ZAFSHC 65 (17 June 2004)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. 3175/2002
In die saak tussen
J H ZWARTS Eiser
en
N U F STRASZACKER Verweerder
___________________________________________________________
CORAM: BECKLEY, R
___________________________________________________________
AANGEHOOR OP: 1, 2, 3 & 4 JUNIE 2004
___________________________________________________________
GELEWER OP: 17 JUNIE 2004
___________________________________________________________
Die eiser vorder in hierdie geding betaling deur die verweerder van die bedrag van R376 885,24, synde skade wat die eiser gely het as gevolg van die verweerder se kontrakbreuk, alternatiewelik vanweë sekere wanvoorstellings. By die aanvang van die verhoor is gelas, ingevolge Hofreël 33(4) dat die quantum van eiser se skade sal oorstaan om later beslis te word. Wat derhalwe in die onderhawige verrigtinge beslis moet word, is of die verweerder kontrakbreuk gepleeg het, alternatiewelik sekere wanvoorstellings gemaak het as gevolg waarvan die eiser skade gely het. Dit is ook nodig om te beslis of die verweerder kan skuil agter ‘n voetstootsklousule in die verkoopsvoorwaardes ingevolge waarvan die Jersey-koeie aan die eiser verkoop is.
Ek handel vervolgens met die eiser se getuienis: Hy is ‘n melkboer wat in die Standerton distrik reeds 27 jaar ‘n melkery bedryf. Gedurende die relevante tyd het hy vars melk aan die Nestlé melkdepot gelewer en daarna aan kopers in Johannesburg. Elf jaar gelede het hy ‘n depot begin waar hy suiwelprodukte soos room, kaas en jogurt verkoop het. Aanvanklik het hy met Holstein Friesbeeste geboer, maar dit het later geblyk dat hy melk met ‘n hoër roominhoud oftewel ryker melk benodig, waarop hy toe besluit het om Jerseybeeste aan te koop. In die Landbou Weekblad het hy ‘n advertensie gesien waarin Jerseys- en Holsteinbeeste deur die verweerder adverteer word. Die relevante passasie van die advertensie lees as volg:
“Algehele Uitverkoping 224 Jerseys & 108 Holsteins .....
Afslaers Nota: •Mnr. Staszacker melk reeds vanaf 1978 •
Hoofsaaklik word van KI gebruik gemaak • Die kudde word 6 weekliks deur ‘n veearts besoek deur Dr. Pieter Malherbe van Vrede • Geen 3-speen of probleem diere sal aangebied word nie • Die kudde is geënt teen Knopvelsiekte en die verse teen BM • TB neg. getoets op 7/2/99 en BM neg. getoets op 10/8/99 en 23/9/99 (sertifikate beskikbaar)”
Die eiser se getuienis was dat hy op daardie stadium ‘n geslote kudde gehad het, in die sin dat hy van meet af van kunsmatige inseminasie gebruik gemaak het; sy plaaswerkers het nie vee aangehou nie en hy het nooit tevore diere van buite aangekoop nie. Dit is nie in geskil dat hy ‘n nougesette en suksesvolle boer was en is nie. Hy het belang gestel in die diere wat in die advertensie te koop aangebied was en, aangesien hy oortuig was dat dié beeste wat adverteer is, ook uit ‘n skoon kudde kom, het hy die veiling bygewoon op 26 Januarie 2000. Hy getuig dat, met sy aankoms, hy ‘n katalogus ontvang het, waarvan die voorblad ooreengestem het met die advertensie in die Landbou Weekblad. Op ‘n bladsy in die katalogus het hy sy besonderhede ingevul en aan ‘n lid van die afslaer se personeel oorhandig. Hy was nie bewus daarvan dat daar sekere voorwaardes in fynskrif aan die agterkant van die blad waarop hy sy besonderhede ingevul het, gedruk was nie. Niemand het sy aandag daarop gevestig nie. Hy het ook nie gevra om die sertifikate te sien waarvan melding gemaak is in die advertensie en die dekblad nie. Hy het na die beeste gekyk, en het getuig dat, voordat die veiling ‘n aanvang geneem het, die afslaer die voornemende kopers se aandag gevestig het op die verkoopsvoorwaardes en aangedui waar hulle te lees was. Daarna het hy 54 beeste gekoop, wat later na sy plaas vervoer is. Op sy plaas het hy die 54 Jerseybeeste in sy eie kudde integreer. Die melk van die Jerseys is apart gehou en is nie na die Nestlé-depot gestuur nie, maar gebruik om produkte te vervaardig wat hy in sy eie depot verkoop het.
Eiser het getuig dat maandeliks melkringtoetse deur Nestlé gedoen is. Sedert hy begin het met sy melkboerdery, het hy nog nooit probleme gehad met melk wat besmet was of wat ‘n positiewe melkringtoets getoon het nie. Gedurende Maart en Aprilmaand 2000 het die Jersey-koeie begin kalf. Hy was nie gelukkig met die wyse waarop die Jerseys in sy bestaande kudde ingeskakel het nie, en het ook verwag dat die Jerseys beter sou presteer. Hy het besef dat die groter Friesbeeste die Jerseybeeste domineer en verdruk en het besluit om hulle te verkoop. In Meimaand 2000 het hy ‘n advertensie in die Landbou Weekblad geplaas, en kort daarna van die Jerseybeeste aan ene Kriek verkoop.
Gedurende Junie 2001 het van sy eie Friesbeeste begin aborteer, wat ‘n vreemde verskynsel was aangesien hy nooit tevore sodanige verskynsel in sy kudde gehad het nie. Die koeie wat geaborteer het, was ongeveer sewe maande dragtig. Melkringtoetse is onmiddellik deur Nestlé gedoen en het sterk positief getoets. Daarna is onmiddellik reëlings getref om die beeste te “bloei”, met ander woorde deur bloedmonsters daarvan te neem, en is bloedmonsters van 235 vroulike diere getoets, naamlik al die vroulike diere wat in melk was asook dragtige diere. Onder die diere was 28 Jerseys waarvan 8 positief getoets het, en uit die 270 Frieskoeie het ook 8 diere positief getoets vir besmetlike misgeboorte. Omgesit in persentasiepunte was dit 38% van die Jerseys en 2,8% van die Friesbeeste wat positief getoets het vir besmetlike misgeboorte. Kort daarna het Kriek, aan wie die eiser die Jerseys verkoop het, aksie teen hom ingestel vir skade wat Kriek gely het as gevolg van besmette diere wat Kriek beweer het hy by die eiser aangekoop het. Eiser het daarop besef dat hy ‘n besmetlike misgeboorte-probleem in sy kudde het; die besmette diere is afgesonder en daarna geslag. Daarna, met verwysing na die nommers van die individuele diere wat die eiser by die verweerder gekoop het, het hy vasgestel dat 18 van die diere wat hy by verweerder gekoop het, glad nie getoets is vir besmetlike misgeboorte nie, terwyl slegs 6 diere daarvan een maal getoets is en 10 van die koeie twee maal getoets is vir besmetlike misgeboorte.
Onder kruisondervraging het die eiser toegegee dat, voordat die veiling begin het, die afslaer kopers se aandag op die verkoopsvoorwaardes gevestig het. Ondanks die feit dat hy bewus was van die voorwaardes, het hy dit nie gelees nie, want hy het gedink dat daar nie iets in kan wees wat hom kan benadeel nie. Hy het voorts getuig dat, toe die Staatsveearts nadat die positiewe melkringtoetse ontvang is bloedmonsters van sy diere geneem het, wat alle volwasse diere ingesluit het, omdat hulle deur die sisteem beweeg het en op ‘n stadium gemelk is. Hy het ook getuig dat, in teenstelling met die advertensie, waarin na ‘n sertifikaat verwys is, die dokument waarop die verweerder steun, nie ‘n sertifikaat is nie, maar ‘n verklaring. Volgens hom bestaan daar ‘n groot verskil tussen ‘n verklaring en ‘n sertifikaat en word die sertifikaat slegs uitgereik in die geval van ‘n geakkrediteerde kudde, want die sertifikaat verwys na al die diere in ‘n kudde wat ‘n geslote kudde moet wees.
Benewens die eiser, het dr. Van Aard, ’n veearts, getuig, wat hoofsaaklik as veearts te Kroonstad betrokke was by gevalle van besmetlike misgeboorte. Ook mnr. Naude, wat ses maande gelede begin werk het by die kantoor van die Staatsveearts te Bethlehem het getuienis afgelê, mnr. Danie Cronje, wat by Nestlé gewerk het tot 31 Maart 2004. Laasgenoemde getuie het getuig dat Nestlé maandeliks melkringtoetse doen op die melk van produsente in hul laboratorium te Harrismith. Die resultate word opgesom en aan die Staatsveearts gestuur. Volgens hom het hy die positiewe toets met die verweerder bespreek en hom meegedeel dat die melkringtoets positief was en dat dit ‘n aanduiding kan wees dat sy kudde of van sy diere besmet is met besmetlike misgeboorte. Tydens kruisondervraging het hy getuig dat die boer wie se melkringtoets ‘n positiewe uitslag lewer, soms na ‘n tweede toets gekontak word. Mnr. Craus, wat tans verbonde is aan Nestlé Harrismith as ‘n landboukundige, het verduidelik dat daar maandeliks melkmonsters geneem word uit die massatenks van ‘n melkboer, dat die monsters dan deur die vragmotorbestuurder wat die melk vervoer, na die laboratorium vervoer waar die nodige toetse uitgevoer word. Ek meen nie dat dit nodig is om in detail te handel met die getuienis van laasgenoemde aantal getuies nie, aangesien dit nie geblyk het dat die korrektheid van enige van die inligting wat uit die dokumente blyk wat onder voormelde getuies se beheer is, betwis of bevraagteken word nie.
Laastens het dr. Jurgens, die Staatsveearts te Standerton vanaf 1999 tot en met April 2003, getuig rakende die bakterium Brucella abortus, oftewel besmetlike misgeboorte. Hy het getuig dat dit ‘n beheerde siekte is en dat, sodra ‘n melkmonster positief toets in ’n melkringtoets, dit die Staat se verpligting is om die diere wat positief toets, te identifiseer. Die prosedure wat gevolg is nadat die instansie wat die varsmelk koop, in die onderhawige gevalle Nestlé, vind dat ‘n melkringtoets positief is, word die boer gekontak en aldus meegedeel. Dan word ‘n datum gereël waarop die Staatsveearts die kudde kan besoek en al die lakterende diere bloei. Nadat hy bewus geword het van die feit dat die eiser vermoedelik besmetlike misgeboorte in sy kudde het, is bloedmonsters geneem van al die vroulike diere wat dragtig is en ouer. Die resultate is aan hom voorgelê, waarna kwekings in ‘n laboratorium te Ermelo gemaak is waarop hy vasgestel het dat 4 diere se bloedmonsters tekens toon van Brucella abortus biotipe 2. Voorts was sy getuienis dat die melkringtoets primêr aangewend word om besmetlike misgeboorte te identifiseer; ‘n positiewe toets kan ook egter voorkom as gevolg van mastitis, diere wat of baie kort of baie lank in laktasie is, asook sekere entstof, maar dat die eerste oorsaak van die positiewe melkringtoets wat uitgeskakel moet word, besmetlike misgeboorte is.
Vir doeleindes van die beregting van die onderhawige saak, meen ek nie dat mastitis of ander oorsake die positiewe melkringtoets kon veroorsaak nie, in die lig van sekere toegewings wat deur die verweerder self gemaak is, en bevind derhalwe dat die positiewe melkringtoets van die eiser se diere in alle waarskynlikheid die gevolge was van die teenwoordigheid van besmetlike misgeboorte. Dr. Jurgens het dan ook getuig dat die lang tydsverloop tussen die aankoopdatum in Januarie 2000 en die datum van die eerste aborsies in Junie 2001, vreemd voorgekom het maar dat, nadat hy die eiser se rekords van elke koei, die sogenaamde “koeikaarte” in detail ontleed het, hy van mening was dat die diere van die eiser wat aborteer het, die besmetlike misgeboorte kiem gekry het vanaf die Jerseybeeste wat hy by die verweerder aangekoop het. Dit blyk uit sy kruisondervraging dat die hele doel van serulogiese bloedtoetse is om die grootste moontlike getal vroulike diere van ‘n spesifieke boer te toets. Hy het ook getuig dat, indien twee serulogiese toetse ses weke uitmekaar negatief is, nadat so ‘n sterk positiewe toets ondervind is, hy met serulogiese toetse sal voortgaan totdat hy die rede vind vir die positiewe melkringtoets. Hy het ook daarop gewys dat dit nie noodwendig volg, indien diere twee of drie maande vroeër getoets is, dat dit dan ‘n paar maande later steeds die geval sal wees nie.
Namens die verweerder is die getuienis aangebied van ene Goosen, wat betrokke was by die hou van die veiling van die verweerder se Jerseybeeste. Volgens hom is die gebruik van die afslaer om die persone by die veiling in te lig dat die veiling gehou gaan word op die voorwaardes wat op die keersy van die registrasiedokument aangebring is. Volgens hom is die verkoopsvoorwaardes nog nooit in die afgelope 18 jaar gewysig nie.
Die verweerder self het getuig dat hy reeds sedert 1978 ‘n melkboer is. Sy kudde, bestaande uit Holsteins en Jerseys is gemelk en hy het aanvanklik melk gelewer te Harrismith en Standerton. Teen die einde van 1999 was hy moeg vir die melkboerdery en wou ‘n veiling hou in September 1999. Kort nadat hy besluit het om ‘n veiling te hou, is hy deur ene Pieters, wat volgens hom die Staatsveearts was, telefoniese meegedeel dat Nestlé te kenne gegee het dat daar ‘n probleem met sy melk is aangesien die melkringtoets positief was en die beeste gebloei moet word. Hy getuig dat, indien Pieters hom nie van die probleem vertel het nie, hy sou voortgaan met die veiling. Nadat hy van die probleem verneem het, het hy egter die veiling uitgestel. Op ‘n latere datum was Pieters op die plaas en is al die produserende beeste se bloedmonsters geneem. Die uitslag was negatief en ses weke daarna is opvolg-bloedtoetse geneem van die produserende diere wat ook negatief was. Pieters het hom daarop meegedeel dat hy kan voortgaan met die reëlings vir die veiling en dat ‘n sertifikaat uitgereik sal word ten opsigte van sy kudde. Later het hy ‘n dokument ontvang waarna hy as die sertifikaat verwys het. Die veiling is toe later in Januarie 2000 gehou, waartydens eiser die voormelde Jerseybeeste gekoop het. Aangesien van die verweerder se beeste nie verkoop is nie, het hy weer ‘n melkboerdery begin, meer melkbeeste aangekoop en ‘n winkel begin waar hy van die melk verkoop het. Tydens kruisondervraging het hy getuig dat sy Fries- en Jerseybeeste deurmekaar loop en dat die kudde dus nie ‘n geslote kudde kan wees nie. Van sy plaaswerkers het ook beeste, wat hy by sy beeste laat loop en hulle drink water uit dieselfde krip. Hy het toegegee dat tydens ‘n geleentheid op 23 Mei 2002 bloedmonsters van diere op sy plaas geneem is, waaronder ‘n koei van een sy werknemers, Petrus, wat positief getoets het vir besmetlike misgeboorte. Hy het volhard dat, tydens die veiling waarby die eiser die Jerseybeeste gekoop het, hy nie ‘n vermoede gehad het dat sy kudde met besmetlike misgeboorte besmet was nie. Toe hy deur Pieters meegedeel is van die probleem, was hy geskok maar het Pieters nie uitgevra nie. Hy getuig ook dat, toe Pieters die bloedmonsters kom neem, hy die hele kudde wou laat toets, alhoewel hy nie vir Pieters versoek het dat dit inderdaad gedoen word nie. Hy het volhard dat hy nie weet dat daar ‘n verskil bestaan tussen ‘n sertifikaat en ‘n verklaring nie en dat hy tevrede was dat die dokument wat hy ontvang het, aangetoon het dat sy kudde negatief getoets is. Dit was sy houding, ondanks die feit dat hy geweet het dat nie al die diere getoets is nie.
Voorts het die verweerder erken tydens kruisondervraging dat hy in Januarie 2004 van sy melkbeeste verkoop het tydens ‘n veiling wat gehou is op sy buurman, Fanie Ferreira, se plaas. Hy het ook getuig dat, indien ‘n dier serulogies positief toets, met ander woorde dit positief toets vir besmetlike misgeboorte, dit met ‘n hoofletter “C” gemerk en verkoop moet word. Hy het erken dat hy desnieteenstaande daardie kennis, beeste wat nie met ‘n “C” gemerk is nie maar wel besmet is, op die veiling verkoop het “vir slagdoeleindes”. Dit blyk ook dat hy rou melk, dit wil sê ongepasteuriseerde melk, by sy depot verkoop het, wel wetende dat die melk afkomstig was van die diere wat positief getoets het vir besmetlike misgeboorte. Al wat hy gedoen het met die diere wat positief getoets is, was om hulle apart te laat wei, maar hulle is saam met sy ander beeste gemelk. Hy het inderdaad toegegee dat eiser se beeste in alle waarskynlikheid besmet is deur die Jerseys wat die eiser by hom aangekoop het, en hy het ook toegegee dat die leser van die advertensie in die Landbou Weekblad die indruk kon kry dat sy Jerseybeeste nie in aanraking kom met ander beeste nie en dat die advertensie dan in daardie opsig misleidend is. Hy het ook erken dat hy mense bedrieg het op sy eie weergawe, maar het volhard dat hy nie destyds gedink het dat die advertensie misleidend is nie.
Dr. Coetzee, die Staatsveearts te Bloemfontein, se getuienis stem wesenlik ooreen met dié van dr. Jurgens. Hy het egter daarop gewys dat, alhoewel die verklaring deur die Staatsveearts uitgereik word nadat bloedmonsters geneem is van ‘n aantal beeste, die boer normaalweg onder die indruk verkeer dat die verklaring verwys na die hele kudde. Hy het ook getuig dat in die boerderybedryf, die boere nie die verskil verstaan tussen ‘n sertifikaat en ‘n verklaring wat uitgereik word vir doeleindes van die vraag of ‘n kudde “skoon” is of nie. Hy het egter getuig dat die verklaring wat uitgereik word inderdaad nie die hele kudde waarborg nie en dat al die beeste wat gemelk was toe die melkringtoets positief getoets het, se bloed getoets moet word. Volgens hom is Brucellose ‘n ernstige siektetoestand, aansteeklik teenoor diere sowel as mense en dat dit noodsaaklik is om dringend aandag daaraan te skenk sodra dit geïdentifiseer word.
Dit, dan, wat die getuienis betref. Wat geloofwaardigheid betref, was mnr,. Van der Merwe, namens die eiser, en mnr. Jordaan, namens die verweerder, dit eens dat slegs die geloofwaardigheid van die eiser en die verweerder in geskil is. Ek aanvaar derhalwe vir doeleindes van hierdie uitspraak dat die getuienis van die ander getuies, insluitende die deskundiges, dr. Jurgens en dr. Coetzee, aangemerk kan word as geloofwaardige getuies.
Ek handel eerstens met die eiser se getuienis. Mnr. Jordaan se kritiek teen die eiser se geloofwaardigheid is beperk tot die argument dat hy sy getuienis met betrekking tot die sertifikaat of verklaring aanpas en dat die veskil tussen die twee dokumente die kern van sy skuldoorsaak is. Laasgenoemde argument is nie korrek nie: In die pleitstukke word geensins verwys na die verskil tussen ‘n verklaring en ‘n sertifikaat nie. Trouens, eiser het nie eers tydens hoofverhoor na sodanige verskil verwys nie: Eers tydens kruisondervraging het hy getuig dat die dokument wat deur verweerder uitgereik is waarop hy steun, nie ‘n sertifikaat is nie, maar bloot ‘n verklaring. Toe hy op ‘n latere stadium herroep is, was sy verdere antwoorde tydens kruisondervraging dat ‘n sertifikaat slegs uitgereik word in die geval van ‘n geakkrediteerde kudde, en wat vir een jaar geldig is. Sy getuienis met betrekking tot die verskil tussen ‘n verklaring en ‘n sertifikaat is in ieder geval in ooreenstemming met die regulasies wat uitgereik en gepubliseer is in terme van artikel 10 van die Wet op Dieresiektes, Wet Nr. 35 van 1984. Artikel 21 daarvan handel met die onderskeid tussen ‘n sertifikaat en ‘n verklaring.
Selfs met laasgenoemde kritiek in gedagte, het die eiser beïndruk as ‘n geloofwaardige en eerlike getuie. Soos hierinlater uiteengesit, strook sy getuienis ook met die waarskynlikhede.
Dieselfde kan ongelukkig nie van die verweerder gesê word nie. Sy weergawe in die Hof is eerstens strydig met die pleitstukke: In sy getuienis meld hy dat hy in Augustus 1999 ingelig is van ‘n positiewe melkringtoets, as gevolg waarvan hy beeste laat bloei het en bloedtoetse laat neem het. In die pleitstukke word beweer dat hy nie kennis dra van die melkringtoetse nie. Toe hy met hierdie teenstrydigheid gekonfronteer is, was die verweerder nie in staat om dit te verduidelik nie. Uiteraard speel so ‘n weerspreking ‘n belangrike rol rakende sy geloofwaardigheid. Daarbenewens was hy wat talle opsigte optref ontwykend, en moes vrae tot vier maal herhaal word voordat hy bereid was om ‘n antwoord op die vraag te verskaf. Hy het ook in antwoorde op talle vrae uiters vae antwoorde verskaf. So het hy byvoorbeeld getuig dat, wanneer ‘n dier serulogies positief toets, sodanige dier verkoop mag word; later het hy toegegee dat so ‘n dier met ‘n hoofletter “C” gemerk moet word en op ‘n veiling verkoop mag word “vir slagdoeleindes”; nog later het hy getuig dat, ondanks die feit dat hy sedert 1978 ‘n melkboer is, hy nie 100% seker was of so ‘n dier geslag moet word of nie. Eers nadat ‘n passasie aan hom voorgelees is uit die kopstuk van die Advies oor die Beheer van Brucellose, het hy getuig hy “kom dit nou weer agter”. Voormelde passasie is weliswaar afkomstig uit ‘n kennisgewing wat aan die eiser verskaf is nadat van sy beeste positief getoets is, maar die verweerder het nooit te kenne gegee dat hy nie bewus was van sodanige voorskrif nie. Die voorskrif lees as volg:
“Neem asseblief kennis dat u volgens dieregesondheidswetgewing verplig is om al u bure in kennis te stel dat u kudde besmet is. U is ook verplig om enige voornemende kopers van beeste vanuit die kudde in te lig oor die status van die kudde. U kan verantwoordelik gehou word vir die koste van besmetting van ‘n ander persoon se kudde indien u sou versuim om dit te doen. Diere wat negatief toets in ‘n besmette kudde kan in die inkubasie stadium van die siekte wees, en hoewel hulle nog nie positief toets op daardie stadium nie, kan hulle moontlik die siekte oordra. ‘n Eienaar van ‘n melkkudde mag melk verkoop indien dit vooraf gepasteuriseer of gekook is, of dit aan “maatskappye” verkoop wat melk pasteuriseer. Verkoop van of gebruik van rou melk vanaf ‘n besmette Brucellose kudde is verbode.
Die volgende beeste is positief en moet met ‘n “C” gebrandmerk word so gou moontlik. Dit is in u eie belang dat hulle geïsoleer word van alle ander beeste op die plaas. Indien hulle nie onmiddellik afgesonder word nie sal die totale kudde onder kwarantyn en beperking van beweging geplaas word. Alle beeste, ook die wat direk in kontak was, is onder kwarantyn tot hulle van die plaas verwyder word direk na ‘n abattoir onder beskerming van ‘n rooikruis permit (uitgereik deur hierdie kantoor) vir slagdoeleindes, so gou as moontlik.”
Desondanks die feit dat die verweerder nie ontken het dat hy kennis dra van voormelde voorskrifte nie, het hy erken dat ‘n groot aantal van sy beeste gedurende Mei 2002 tot Augustus 2002 positief getoets is besmetlike misgeboorte en dat hy daarvan kennis gedra het, dat hy ook die beeste op sy plaas aangehou het en dat hy van die beeste wat hy geweet het positief getoets is, sonder dat hulle met ‘n “C” gemerk is, gedurende Januarie 2004 verkoop is op ‘n veiling van sy buurman. Hy het toegegee dat “dit kan wees dat ek roekeloos was”. Daarbenewens het hy erken dat hy ‘n melkdepot op Vrede het waar hy vir ‘n geruime tyd van die rou (ongepasteuriseerde) meld van die besmette diere aan die publiek verkoop het terwyl hy geweet het dat dit kan lei tot miskrame indien swanger vrouens van die melk gebruik.
Voormelde erkennings van roekelose en onverantwoordelike gedrag is moeilik te versoen met die verweerder se weergawe dat hy geglo het dat sy kudde “skoon is” toe hy die advertensie geplaas het waarop die eiser gereageer het.
Die verweerder se geloofwaardigheid kom ook in die gedrang rakende die vraag of hy kennis gedra het van melkringtoetse wat deur Nestlé Harrismith gedoen is, die korrektheid waarvan nie betwis word nie, en wat daarop dui dat melk wat deur die verweerder gelewer is positief getoets het by ses geleenthede gedurende 1999, drie maal gedurende 2000, nege maal gedurende 2001, 10 maal gedurende 2002 en agt maal gedurende 2003. Die verweerder getuig dat hy onbewus was hiervan: Dit is uiters onwaarskynlik, in ag genome die gesondheidsimplikasies wat dit ingehou het en die erns van sodanige situasie.
Sy getuienis dat hy geskok was toe hy van die positiewe toets ingelig is in Augustus 1999, is ook onwaarskynlik en verdag: ondanks die feit dat hy, aldus sy getuienis, geglo het dat sy kudde “skoon” is, vra hy nie vir dr. Pieters, terwyl hy onder die indruk was dat dr. Pieters die Staatsveearts was, en hy dit inderdaad nie was nie, oor die datums van die positiewe melkringtoetse nie, ongeag sy toegewing dat hy bewus is daarvan dat die datum waarop die melkringtoets positief was, belangrik is. Sy getuienis dat Pieters slegs die produserende diere wou toets is ewe onwaarskynlik op sy eie weergawe, aangesien dit ‘n sinnelose prosedure sou wees om nie al die vroulike diere te toets nie, soos dr. Coetzee getuig omdat die besmette diere dan nie identifiseer kan word nie.
Dit blyk ook duidelik uit sekere korrespondensie dat die verweerder toetse aangevra het vanaf die Staatsveearts se kantoor te Bethlehem. Die rede waarom hy dit aangevra het, volgens sy getuienis, is die feit dat hy ‘n aanmaningskrywe ontvang het vanaf die eiser se prokureurs. Voormelde rede kan egter nie die waarheid wees nie, aangesien hy reeds op 8 September 2001 die toetsresultate ontvang het, terwyl die aanmaningskrywe se datum eers 11 September 2001 is.
Dit is nie in geskil dat ‘n groot aantal van die verweerder se koeie wat aan die eiser verkoop is, se bloed nooit serulogies getoets is nie: Die eiser se getuienis, wat onbetwis is, is dit 18 sodanige beeste glad nie getoets is nie, ander beeste slegs een maal getoets is. Gegewe die feit dat die verweerder inderdaad probleme met besmetlike misgeboorte gehad het voor die veiling, dat die beeste wat eiser gekoop het, in alle waarskynlikheid reeds besmet was voor die veiling, die feit dat die eiser nooit sedert hy begin het as melkboer enige probleme met besmetlike misgeboorte gehad het tot en met Junie 2001 nie, regverdig die afleiding as die mees voor-die-hand-liggende afleiding dat die eiser se diere besmet is as gevolg van kontak met die verweerder se besmette diere. Dit was ook trouens die getuienis van die verweerder en mnr. Jordaan het, heel tereg, nie ernstig tot die teendeel betoog nie.
Wanneer oorweeg moet word of die eiser of die verweerder se getuienis aanvaar behoort te word, meen ek dat die eiser se getuienis vir voormelde redes aanvaar moet word en nie die getuienis van die verweerder nie. In soverre die verweerder se getuienis strydig is met dié van die eiser en met die inherente waarskynlikhede, word sy getuienis verwerp.
Ek handel vervolgens met die verkoopsvoorwaardes. Eiser se getuienis is dat hy geweet het van die voorwaardes en dat die afslaer voor die veiling daarna verwys het. Hy het dit nie gelees nie omdat hy nie gedink het dat daar iets in kan wees wat hom nadeling kan affekteer nie. Na my mening is die eiser nieteenstaande gebonde aan die voorwaardes. In SLABBERT, VERSTER & MALHERBE v GELLIE SLAGHUISE, 1984 (1) SA 491 (O) te 498 is die posisie as volg opgesom deur Malherbe WnR soos hy destyds was:
“’n Lid van die publiek wat so ‘n veiling bywoon sal besef dat die voorwaardes op sy aankoop of verkoping betrekking het en is daaraan gebonde of hy dit lees of nie. Versuim hy om dit te lees, het hy net homself te blameer.”
Voormelde sienswyse is in ooreenstemming met dié wat gevolg is in SUN COURIERS (PTY) LTD v KIMBERLEY DIAMOND WHOLESALERS, 2001 (3) SA 110 (A) te 120D-E en AFROX HEALTH CARE v STRYDOM 2002 (6) SA 21 (A). Die verkoopsvoorwaardes bevat, onder andere, die volgende klousule:
“6. Iedere en elke lot word voetstoots verkoop, sonder enige waarborg, vrywaring of voorstelling en alle risikos verbonde aan ‘n lot sal oorgaan op die KOPER onmiddellik met die val van die AFSLAER se hamer, nieteenstaande die feit dat lewering nog nie deur die KOPER geskied het nie.”
Mnr. Van der Merwe se argument is, selfs al is klousule 6 van toepassing, die Hof behoort te bevind dat die verweerder bewus was van die probleem in sy kudde, dat hy dit verswyg het en dat hy derhalwe nie op die voetstoots-klousule kan steun nie. In VAN DER MERWE v MEADES, 1991 (2) SA 1 (A) handel Joubert, WnHR volledig met die gemenereg wat hierdie aspek betref en kom dan tot die gevolgtrekking dat ‘n koper wat ‘n verkoper sy beskerming onder die voetstoots-klousule wil ontneem, moet bedrog aan die kant van die koper bewys en dus dat die verkoper by die aangaan van die koop bewus was van die bestaan van die verborge gebrek wat hy opsetlik verberg het met die oogmerk om koper te bedrieg.
Of die eiser hom van bogemelde bewyslas gekwyt het, moet gelet word op die verweerder se getuienis en, van groter belang, die toegewings wat hy gemaak het in die loop van sy kruisondervraging. Die toegewings behels die volgende:
(a) Dat die bewering in die advertensie dat die Jersey-kudde ‘n geslote kudde is, misleidend is omdat die eiser onder die indruk kon wees dat die Jerseys nie in aanraking kom met ander diere nie, terwyl die Jerseys- en Friesbeeste gemeng word. Volgens die verweerder se getuienis beteken die verwysing na ‘n geslote kudde dat die eienaar van die kudde nie ander beeste inkoop nie. Mnr. Jordaan het tydens sy argument voorgehou dat ‘n geslote kudde ‘n genetiese betekenis het. Dit is nie die getuienis nie: Die verweerder se getuienis is dat sy Friese en Jerseys deurmekaar loop en dat die kudde derhalwe nie ‘n geslote kudde kan wees nie. Dit spreek na my mening vanself, dat die kudde van die verweerder des te minder ‘n geslote kudde kan wees indien sy plaaswerkers se beeste met sy eie melkbeeste meng.
(b) Dat die indruk geskep word in die advertensie dat die hele kudde getoets is vir besmetlike misgeboorte en dat die resultate negatief was, terwyl hy geweet het dat die “kudde” nie getoets is nie, maar slegs lakterende diere. Soos hierinlater blyk, kan daar nie sprake wees van slegs ‘n paar diere wat nie getoets is nie, inaggenome die aantal diere wat deur die eiser gekoop is wat nooit getoets is nie.
(c) Dat hy mense bedrieg het op sy eie weergawe met die bewoording van die advertensie en dat die advertensie bedrieglik is.
Benewens die bogemelde toegewings, blyk dit ook dat verdere aspekte in die advertensie gemeld word wat nie korrek is nie. Die indruk wat geskep word, is dat dr. Pieter Malherbe vir geruime tyd die kudde besoek elke ses weke, terwyl dit blyk uit die verweerder se getuienis dat dr. Malherbe slegs by enkele geleenthede die kudde besoek het. Die klaarblyklike inlywing van die naam van dr. Malherbe in die advertensie is myns insiens om die indruk te skep dat die verweerder se kudde deurlopend of minstens gereeld deur dr. Malherbe besoek is. Daar is, voorts, kennis gegee van die feit dat dr. Malherbe as ‘n deskundige getuie geroep gaan word deur die verweerder, terwyl hy nie geroep is nie, omdat, aldus die verweerder, hy nie bereid was om te getuig nie.
Verder het die verweerder toegegee dat hy nie die eiser kan verkwalik indien hy die “sertifikate” in die advertensie bestempel het as synde sertifikate inteenstelling met verklarings nie. In ieder geval, wat betref die gebruik van sertifikate of ‘n verklaring, is dit belangrik om daarop te let dat die gebruikmaking van sodangie dokumente verbied word in die regulasies. Regulasie 25(1) lees as volg:
“Niemand mag ‘n verklaring wat ingevolge artikel 21(2), (3) of (4) van hierdie Skema uitgereik is, in verband met die advertering of verkoop van die beeste ten opsigte waarvan dit uitgereik is, gebruik nie op ‘n wyse wat voorgee of heet voor te gee dat die betrokke beeste ten tyde van so ‘n advertensie of verkoping vry van beesbrucellose is.”
Die laaste aspek wat oorweeg moet word, is of die verweerder bewus was van die feit dat sy Jersey-kudde besmet was met besmetlike misgeboorte toe hy die advertensie geplaas het en die diere verkoop het. Ek het reeds daarop gewys dat hy nie ‘n geloofwaardige getuie is nie. Dit kan nie betwis word dat hy bewus was van die moontlikheid van besmetlike misgeboorte onder sy kudde nie; minstens het hy geweet van die positiewe melkringtoets. Sy getuienis dat Pieters slegs lakterende diere se bloedmonsters wou neem, is uiters onwaarskynlik in die lig van die getuienis van drs. Coetzee en Jurgens. Mnr. Van der Merwe se argument hieromtrent was dat die hele basis van die verweerder se onkunde berus op die mededeling van Pieters, naamlik dat slegs lakterende diere getoets moet word. Desondanks die feit dat dit in geskil geplaas is, is Pieters nooit geroep as ‘n getuie namens die verweerder nie. Verder is dit ondenkbaar dat die verweerder nooit in kennis gestel sou wees van die feit dat die melkringtoetse vir etlike maande positief was nie. Die voor-die-hand-liggende afleiding is dat die verweerder geweet het daarvan, en dat dit die rede is waarom hy nie enige navraag gerig het toe Pieters hom, aldus sy getuienis die skokkende nuus meedeel nie, omdat hy nie rede gehad het om geskok te wees nie.
Voorts is dit ondenkbaar dat hy aanvaar het (na ontvangs van die verklaring) dat sy kudde “skoon” is, terwyl hy geweet het dat talle diere of slegs een maal of glad nie getoets is nie. Die onbetwiste getuienis van die eiser was dat, van die 54 diere wat hy by die verweerder gekoop het, 18 diere, dit wil sê ⅓, glad nie getoets is nie en dat, van die oorblywende 36, slegs 6 diere een maal getoets is. Die afleiding is in daardie omstandighede onafwendbaar dat die verweerder minstens roekeloos was om te beweer in die advertensie dat die kudde negatief getoets is. Hy moes en het in alle waarskynlikheid besef dat daar ‘n baie sterk moontlikheid is dat van die diere wat nooit getoets is nie (en wat in alle waarskynlikheid die rede was vir die positiewe melkringtoets) wel besmet is en dat hulle op die veiling aangebied sou word om verkoop te word.
Roekelose optrede aan die verweerder se kant is duidelik te bespeur toe hy in Januarie 2004 ‘n aantal beeste wat besmet was met besmetlike misgeboorte na die veiling van sy buurman gestuur het en, daarbenewens, besmette rou melk aan die publiek verkoop het wel wetende dat dit onbehoorlike en bedrieglike optrede is.
Die gevolgtrekking is dus dat die verweerder geweet het van die risiko van besmette beeste, dat hy, terwyl hy dit geweet het, die advertensie se misleidende bewoording ooglopend goedgekeur het en dat hy bygevolg nie kan skuil agter die voetstoots-klousule nie.
Bygevolg word die volgende bevel verleen:
1. Daar word verklaar dat die verweerder aanspreeklik is vir sodanige skade as wat die eiser in staat is om te bewys.
2. Die verweerder word gelas om die koste van die geding te betaal.
_________________
A.P. BECKLEY, R
Namens Eiser: Adv. M.P. van der Merwe
i.o.v.
McIntyre & Van der Post
Namens Verweerder: Adv. A.F. Jordaan SC
i.o.v.
Naudes
/scd