South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2004 >> [2004] ZAFSHC 59

| Noteup | LawCite

S v Mofokeng en Andere (798/2004) [2004] ZAFSHC 59 (10 June 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersiening Nr. 798/2004


In die hersiening tussen


DIE STAAT


en


AUBUTI PIET MOFOKENG Beskuldigde 1

PULE PAUL DUMZELA Beskuldigde 2

JOSEPH NYANYAN MALETE Beskuldigde 3


___________________________________________________________


CORAM: CILLIé et VAN DER MERWE, RR

___________________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN DER MERWE, R

___________________________________________________________


GELEWER OP: 10 JUNIE 2004

___________________________________________________________


[1] Die drie beskuldigdes in hierdie saak is tereg skuldig bevind aan roof van ‘n hangertjie ter waarde van R120,00 en ‘n paar skoene ter waarde van R220,00. Elkeen van die beskuldigdes is daarna gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf.


[2] Na my oordeel moet die vonnisse van beskuldigdes 1 en 3 bekragtig word, maar nie dié van beskuldigde 2 nie.


[3] Individualisasie is ‘n grondbeginsel by vonnisoplegging. Dit is een van die hoekstene van die diskresie van die vonnisoplegger. In my oordeel, vir die redes wat volg, is hierdie beginsel oor die hoof gesien by die vonnisoplegging van beskuldigde 2 in hierdie geval.


[4] Dit blyk uit die oorkonde dat beskuldigde 1 19 jaar oud is. Dit is beskuldigde 1 wat tydens die roof die mes hanteer het en die slagoffer daarmee bedreig het. Dit blyk ook dat die onderhawige paar skoene in die besit van beskuldigde 1 gevind is. Beskuldigde 1 is op 15 Januarie 2001 en 22 Mei 2002 onderskeidelik skuldig bevind aan huisbraak en diefstal en huisbraak en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy is by elke geleentheid ‘n opgeskorte vonnis opgelê. Dit blyk verder dat beskuldigde 1 ten tye van die onderhawige vonnisoplegging besig was om ‘n vonnis van twee jaar gevangenisstraf uit te dien vir roof en aanranding.


[5] Beskuldigde 3 is 21 jaar oud. Hy het besit geneem van die gemelde hangertjie. Hy is op 15 Januarie 2001 skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal en ‘n opgeskorte vonnis opgelê in dieselfde saak waarin beskuldigde 1 gevonnis is. Ook was beskuldigde 3 tydens vonnisoplegging in hierdie saak in die proses van uitdiening van ‘n vonnis van twee jaar gevangenisstraf vir huisbraak en diefstal.


[6] Beskuldigde 2 is 18 jaar oud. Sy enigste deelname aan die betrokke rooftog was dat hy saam met beskuldigde 3 die skoene van die slagoffer uitgetrek het. Hy het geen voordeel uit die roof getrek nie. Sy enigste erkende of bewese vorige veroordeling was een van besit van vermoedelik gesteelde goed waarvoor hy op 2 Mei 2003 ‘n uitgestelde vonnis opgelê is. Beskuldigde 2 is werkloos en ongetroud.


[7] Die verhoorlanddros lê in sy redes klem op die hoë voorkoms van hierdie tipe oortreding binne sy regsgebied en wys daarop dat dit veral deur jong oortreders gepleeg word. Beskuldigde 2 het ook reeds met die reg gebots. Op grond hiervan is ek tevrede dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis is. Die vonnis moet egter weens voormelde oorwegings ligter wees dan dié van sy medebeskuldigdes en nie van so ‘n aard wees dat dit die beskuldigde se kanse op rehabilitasie sal verydel nie. Ek meen dat ‘n vonnis van agtien (18) maande gevangenisstraf in al die omstandighede gepas is.


[8] Gevolglik word die vonnis van beskuldigde 2 tersyde gestel en vervang met ‘n vonnis van agtien (18) maande gevangenisstraf en word die verrigtinge origens bekragtig.




___________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R





EK STEM SAAM



_____________

C.B. CILLIé, R




/scd