South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2004 >> [2004] ZAFSHC 50

| Noteup | LawCite

S v Maliehe (410/2004) [2004] ZAFSHC 50 (27 May 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersiening Nr. 410/2004


In die hersiening tussen:


DIE STAAT


En


CLIFTON THABENG MALIEHE


___________________________________________________________


CORAM: LOMBARD et WRIGHT, RR

___________________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: WRIGHT, R

___________________________________________________________


GELEWER OP: 27 MEI 2004

___________________________________________________________



Die beskuldigde, ‘n 32-jarige man, is skuldig bevind aan diefstal van twee sakke varkgroei (meel) met ‘n waarde van R200,00 en gevonnis tot 36 maande gevangenisstraf waarvan 18 maande op gepaste voorwaardes opgeskort is.


Die beskuldigde het skuldig gepleit en oop kaarte met die hof gespeel en gevra dat die hof hom moet waarsku. Dit blyk egter dat hy verskeie vorige veroordelings het waarop die landdros baie klem gelê het in sy redes. Hy het drie oortredings van huisbraak, maar een het reeds in 1988 plaasgevind en twee is ten opsigte van oortredings wat op dieselfde dag plaasgevind het. Dan het hy ook twee oortredings van diefstal, een waarvan reeds in 1989 plaasgevind en hiervoor is hy gevonnis tot vier houe met ‘n ligte rottang. Die ander oortreding is nie relevant nie. Alhoewel sekere van die oortredings relevant is, moet die geheel van die oortredings in perspektief gesien word.


Die landdros het verder daarop staat gemaak dat daar baie diefstalle by die betrokke plaas plaasgevind het, maar dit wil natuurlik nie sê dat daar enigsins ‘n afleiding gemaak kan word dat hierdie beskuldigde daarby betrokke was nie. Dit is nogtans ook ‘n verswarende faktor.


In geheel gesien moet daar egter ook gelet word op die waarde van die goedere wat gesteel is en die feit dat die beskuldigde vir ongeveer drie maande in hegtenis was. Indien daar na al die omstandighede gekyk word wat hierbo vermeld is asook al die faktore wat blyk uit die oorkonde, meen ek dat die vonnis sodanig onvanpas is dat daarmee ingemeng behoort te word.


Bygevolg word die skuldigbevinding bekragtig, maar die vonnis tersyde gestel en vervang met die volgende:


Vier en twintig (24) maande gevangenisstraf waarvan agt (8) maande gevangenisstraf opgeskort word vir drie (3) jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan die misdryf diefstal of poging tot diefstal, gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.


Die vonnis moet geag word opgelê te gewees het op 2 Maart 2004.


________________

G.F. WRIGHT, R



EK STEM SAAM



__________________

D.J. LOMBARD, R



/scd