South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2004 >>
[2004] ZAFSHC 37
| Noteup
| LawCite
Plaaslike Boerediens (Edms) Bpk h/a Greenlands v Die Trustees vir tyd en wyl van AMM Claasen Trust [2004] ZAFSHC 37 (17 May 2004)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. 455/2002
In die saak tussen:
PLAASLIKE BOEREDIENSTE (EDMS) BPK Appellant
h/a GREENLANDS
en
DIE TRUSTEES VIR TYD EN WYL VAN Respondent
A M M CLAASSENS TRUST
_____________________________________________________________________
CORAM: HANCKE et WRIGHT, RR
_____________________________________________________________________
AANGEHOOR OP: 17 MEI 2004
_____________________________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: WRIGHT, R
_____________________________________________________________________
GELEWER OP: 17 MEI 2004
_____________________________________________________________________
[1] Appellant het ‘n voorlopige vonnis dagvaarding teen respondent uigereik en gesteun op twee gedishonoreerde tjeks ten bedrae van
R66 346,46 en R72 049,22 onderskeidelik.
[2] Na die liassering van beantwoordende sowel as repliserende beëdigde verklarings en die aanhoor van betoë is die volgende bevel verleen deur Landdros Van der Walt:
“Die aansoek om voorlopige vonnis word van die hand gewys. Koste staan oor vir latere beregting.”
[3] Hierop het appellant ‘n gewysigde besonderhede van vordering geliasseer deur in die alternatief staat te maak op skuldoorsake van goedere verkoop en gelewer.
[4] Namens respondent is nadere besonderhede hiertoe aangevra en uiteindelik ‘n spesiale verweerskrif geliasseer. Die verweerskrif verskyn te die oorkonde, p.47 tot 52. Die kruks van hierdie spesiale verweer hou in dat Landdros Van der Walt se beslissing die voorlopige vonnisverrigtinge finaal tot ‘n einde gebring het, met uitsondering van die koste-aspek, en dat appellant nie met sy voorlopige vonnisverrigtinge kon voortgaan nie.
[5] Landdros T.M. Viljoen het die spesiale pleit gehandhaaf en is die appellant se voorlopige vonnis dagvaarding van die hand gewys met koste.
[6] Daar moet net daarop gewys word dat die respondent slegs ‘n spesiale pleit geliasseer het en glad nie gepleit het op die meriete van die saak nie.
[7] Die tersaaklike Hofreël is Landdroshofreël 14A(8) wat aan ‘n hof wat voorlopige vonnis weier die mag gee om verlof aan die verweerder te verleen om ‘n verweerskrif te liasseer binne ‘n voorgeskrewe tyd en ook sodanige kostebevel kan maak as wat in die omstandighede regverdig mag wees.
[8] Die regsposisie waarop gesteun is, word soos volg opgesom in Jones & Buckle, The Civil Practice of the Magistrate’s Courts in South Africa, 9de uitg. Vol II deur Erasmus & Van Loggerenberg op p.14A-18.
“The use of the word “may” in the subrule indicates that the court’s power to order a defendant to file a plea is discretionary and that the right to deliver a plea is exerciseable if the court makes an order to that affect. Where provisional sentence is refused and no order is made in terms of which the defendant is permitted to file a plea, the provisional sentence is dismissed and the proceedings are at an end. The court clearly will exercise its discretion to order a plea to be filed by the defendant where the defendant has discharged the onus of showing that the probabilities in the principal case are in his favour.”
(Vgl. BARCLAYS NATIONAL BANK v WOLLACH 1986 (1) SA 535 (K) te 358H en HOCHFELD COMMODITIES (PTY) LTD v THERON 2000 (1) SA 557 (O) te 546B-C).
[9] Dit is duidelik dat die aansoek om voorlopige vonnis nie afgewys is omdat die betrokke twee tjeks nie likiede dokumente is nie. Dit blyk nie uit die oorkonde of die Landdros wat die eerste bevel gegee het dit enigsins oorweeg het of verlof aan verweerder verleen moes word om ‘n pleit te liasseer nie.
[10] Die appellant se argument kom daarop neer dat by ‘n behoorlike interpretasie van die eerste Landdros se bevel die verweerder in elk geval ‘n pleit moet liasseer. Voorts het die appellant betoog dat die respondent deur nie beswaar aan te teken teen die wysiging nie, toegestem het daartoe dat die saak op normale wyse voortgesit moet word en derhalwe verplig is om te pleit op die meriete indien hy wil voortgaan met sy verdediging.
[11] Dit is derhalwe nodig om die aanvanklike bevel met betrekking tot die voorlopige vonnisverrigtinge te interpreteer en myns insiens is die woorde glad nie vaag of onduidelik nie.
[12] Deur te beveel dat die koste oorstaan vir latere beregting kon die Landdros moontlik bedoel het dat die voorlopige vonnisverrigtinge weer te rolle geplaas moet word sodat die koste besleg kon word of hy kon bedoel het dat daar tot die prinsipale saak oorgegaan moet word aan die einde waarvan die koste van die voorlopige vonnisverrigtinge bereg moes word. Die noodwendige implikasie is egter dat daar ‘n voortsetting van die saak sou wees om die koste-kwessie af te handel.
[13] Indien die saak slegs vir die aanhoor van die koste-kwessie te rolle geplaas is (wat blykbaar nie gebeur het nie), is daar niks wat die eiser sou belet het om ‘n bevel te versoek wat sou gelas dat die verweerder ‘n pleit moes liasseer nie. Die verweerder sou nie beswaar kon maak indien daar so ‘n bevel versoek is nie.
[14] In terme van die bepalings van die betrokke Hofreël moet die Landdros immers drie aspekte bereg by ‘n voorlopige vonnisondersoek:
(a) Of voorlopige vonnis toegestaan moet word al dan nie.
(b) Of daar verlof verleen moet word aan verweerder om ‘n pleit in te dien, al dan nie.
(c) ‘n Gepaste kostebevel.
Indien die voorlopige aansoek van die hand gewys is met koste, sou dit moontlik daarop gedui het dat die Landdros nie bereid was om verlof te verleen dat ‘n pleit ingedien word nie.
[15] Die feit dat die koste oorgestaan het vir latere beregting beteken dat die verrigtinge nie afgehandel was nie en derhalwe ook nie vatbaar was vir appèl ooreenkomstig artikel 83(b) van Wet 32 van 1944 nie. Indien die voorlopige vonnis afgewys sou gewees het met koste, sou appellant die geleentheid gehad het om daarteen te appelleer. Dit is duidelik dat die bevel nie so geïnterpreteer kan word nie. Bogemelde gevolgtrekking blyk ook duidelik uit die beslissing van SCOTT-KING (PTY) LTD v COHEN 1991 (1) SA 806 (WLD). Die beslissing maak dit ook duidelik dat die bevel van die eerste Landdros in die onderhawige saak nie ‘n bevel is wat ‘n finale effek het nie.
Sien ook AVTJOGLOU v FIRST NATIONAL BANK OF SOUTHERN AFRICA LTD 2004 (2) SA 453 (SCA) waar die volgende dictum in Van Zyl, Judicial Practice, 4de uitg. te 164-4 met goedkeuring aangehaal word:
“But whether provisional sentences has been refused or granted, the disappointed party can always go into the principal case provided the refusal of provisional sentence is not owing to a bad or defective summons; (Hol Cons vol 2, Con 137) and the summons used in the provisional case will, if good, stand as the summons for the principal case; and the proceedings may take place as if provisional sentence had never been claimed.”
Die effek hiervan is dat die korrektheid van die gesag in paragraaf [8] hiervan betwyfel moet word.
[16] Die waarskynlike interpretasie van die bevel is dat die landdros aanvaar het dat die prinsipale saak voortgesit sou word op die basis dat die dagvaarding bly staan en die verweerder pleit en dat die koste aan die einde van die saak bereg sou word. Dit blyk dan ook dat dit die interpretasie is wat die partye aanvanklik aan die bevel gegee het (totdat verweerder besluit het om die spesiale pleit te liasseer) en wat ook ooreenstem met die gemeenregtelike posisie. Indien die Landdros slegs bedoel het dat koste later geargumenteer sou word, sou hy waarskynlik die bevel anders geformuleer het, bv. deur te gelas dat die partye die saak weer te rolle kan plaas ten opsigte van koste.
[17] Dit is duidelik dat op enige interpretasie van die eerste bevel soos dit daar staan dat dit nie ‘n bevel is wat die voorlopige vonnisverrigtinge finaal afhandel nie. Om hierdie rede kon die spesiale pleit nie gehandhaaf gewees het nie, en moet die appèl slaag. Dit is derhalwe nie nodig om met die appellant se ander argument te handel nie.
[18] Bygevolg sou ek beveel dat die appèl slaag met koste en dat die bevel van die hof a quo tersyde gestel word en vervang word met die volgende bevel:
(a) Die spesiale pleit word van die hand gewys met koste.
(b) Die verweerder moet binne 15 dae sy pleit indien, indien hy wil voortgaan met die verdediging van die saak.
________________
G.F. WRIGHT, R
EK STEM SAAM EN DIT WORD ALDUS GELAS
__________________
S.P.B. HANCKE, R
Namens Appellant: Adv. H.J. Benade
i.o.v.
Symington & De Kok
Namens Respondent: Adv. J.P. Daffue
i.o.v.
McIntyre & Van der Post
/scd