South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2004 >>
[2004] ZAFSHC 170
| Noteup
| LawCite
Prior en Andere v de Reuck en Andere [2004] ZAFSHC 170; [2004] ZAFSHC 5 (19 February 2004)
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Aansoek No.: 4106/2003
In die saak tussen:
ALLAN TIMOTHY PRIOR 1ste Applikant JR 1047 INVESTMENTS BK 2de Applikant RHINOS BOTTLE STORE BK 3de Applikant J E GENERAL DEALERS BK 4de Applikant
En
LINDA DE REUCK 1ste Respondent STAMATIOS TSANGARAKIS N.O. 2de Respondent CHAVONNES COOPER N.O. 3de Respondent C MAREDI 4de Respondent J.J. FEUTH 5de Respondent DIE MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF 6de Respondent ELLENBERGER & KAHTS AFSLAERS 7de Respondent
_____________________________________________________________________
CORAM: VAN COPPENHAGEN, R _____________________________________________________________________
AANGEHOOR OP: 12 FEBRUARIE 2004 _____________________________________________________________________
GELEWER OP: 19 FEBRUARIE 2004 _____________________________________________________________________
[1] Onder aansoek 1614/2003 het eerste respondent aansoek gedoen vir ‘n bevel nisi waarin as eerste stap in sekwestrasieverrigtinge gevra word dat eerste respondent se boedel voorlopig gesekwestreer word. Die skuldoorsaak was daadwerklike insolvensie.
Die aansoek was heftig opponeer en by verskeie kere was aan eerste applikant uitstel verleen om, so blyk uit die stukke, sy finansiële huis in orde te kry en sy skuldeisers ten volle te betaal.
In een van die aansoeke om uitstel (aansoek nr. 2565/2003) is deur Beckley R aangeteken dat eerste applikant erken dat hy aan eerste respondent ‘n bedrag van R1 235 000,00 verskuldig is.
Op 4 September 2003 het Beckley R ‘n voorlopige sekwestrasiebevel met spesifieke opdragte ten aansien van betekening keerbaar op 2 Oktober 2003 verleen.
Die bevele ten aansien van betekening was nagekom en het Musi R op 2 Oktober 2003 die voorlopige sekwestrasiebevel finaal gemaak.
[2] In die veelvuldige aansoeke om uitstel was dit deurgaans eerste applikant se kontensie dat hy oor voldoende bates beskik wat, indien te gelde gemaak word, voldoende sal wees om alle skuldeisers ten volle te betaal en ook nog ‘n oorskot sal lewer. Die bates het bestaan uit onroerende eiendom in eerste applikant se naam geregistreer en ook onroerende eiendom in tweede, derde en vierde applikante, waarvan eerste applikant die houer van ‘n deurslaggewende ledebelang was, se name geregistreer was.
[3] Finale sekwestrasie van eerste applikant se boedel het die wiele van die sekwestrasieproses aan die rol gesit, met tweede, derde en vierde respondente as dié deur sesde respondent aangestelde kurators.
In die sekwestrasieproses was ‘n veiling met sewende respondent as afslaer vir die verkoping van die onroerende eiendomme in eerste applikant se naam geregistreer, asook die eiendomme van tweede, derde en vierde applikante vir 4 Desember 2003 en 19 Desember 2003 gereël.
[4] Op 4 Desemebr 2003 het eerste applikant namens homself en tweede tot vierde applikante ‘n bevel verkry wat die veilings afgelas en voorts ‘n bevel nisi in terme waarvan die respondente redes moet aanvoer waarom op die keerdatum die finale sekwestrasiebevel nie tesyde gestel sal word nie, bekom.
[5] Op die uitgestelde keerdatum was die aansoek om tersydestelling wel met ‘n lywige 660 bladsye pak dokumente as materiaal beredeneer.
In die aansoek voer applikante aan dat vyfde respondent, wat as prokureur vir eerste respondent op die keerdatum van die voorlopige sekwestrasiebevel, te wete 2 Oktober 2003, verskyn het, wesenlike inligting, wat die bevel deur die Voorsittende Regter kon en op waarskynlikhede sou beïnvloed om nie die bevel finaal te maak nie, van voormelde te weerhou het.
Met ‘n beroep op die uitspraak in NATIONAL DIRECTOR OF PUBLIC PROSECUTIONS v BASSON 2003 (1) SA 419 (SCA) op 429 [21] word aangevoer dat die weerhouding van wesenlike inligting ook in die onderhawige geval per se tersydestelling van die sekwestrasiebevel regverdig.
Die feitlike bewering ten grondslag van die voormelde submissie word in eerste applikant se steunende verklaring uiteengesit:
“67. Ek steun op die feite soos uiteengesit in die verklaring van my prokureur le Roux wat deel vorm van aanhangsel ATP5, en op die basis daarvan is dit my saak dat die bevel wederregtelik en verkeerdelik aangevra is, en dat die vyfde respondent, wat in die hof verskyn het, hom aan wangedrag skuldig gemaak het deurdat hy nie die wesenlike feite aan die Agbare Hof geopenbaar het nie. Die feite wat hy verswyg het was dat my prokureur en advokaat gevra het dat die aansoek ‘n wyle moet afstaan terwyl hulle stukke opstel om die verdere Georgiou dokumente en die bankwaarborg voor die hof te plaas. Dit is verder my saak dat die vyfde respondent inderdaad daarvan bewus was en desnieteenstaande het hy dit aan die Voorsittende Regter verswyg.”
[6] In die opponerende verklaring van vyfde respondent, waaruit selektief aangehaal word, word die gebeure op 2 Oktober 2003 verduidelik:
“6.1 Aangesien geen verdere opponerende stukke vanaf eerste applikant onvang is nie, is die aangeleentheid op die onbestrede rol geplaas.
6.2 Geen taal of tyding vanaf eerste applikant en/of sy prokureurs van rekord is ontvang tot en met die keerdag, te wete 2 Oktober 2003 nie.
6.4 Dit blyk uit aanhangsel “ATP5” tot applikant se huidige aansoek vir tersydestelling van die finale sekwestrasiebevel, dat beide eerste applikant sowel as sy regsverteenwoordigers bewus was van die feit dat die aansoek vir bekragtiging sou dien op 2 Oktober 2003.
6.6 Om ongeveer 09h15 het ek by G hof arriveer. (Dis waar die onbestrede mosies aangehoor sou word). Die mosiehof verrigtinge het ‘n aanvang geneem om 09h30.
6.7 Net voor die Mosiehof ‘n aanvang sou neem (om ongeveer 09h30) het Adv Edeling, wat geklee was in ‘n pak vir my genader.
6.13 Advokaat Edeling het my versoek dat die aangeleentheid afstaan.
6.14 Ek het gevra waarom die aangeleentheid moes afstaan. Hy het my meegedeel dat hy nie in daardie stadium in ‘n posisie was om my te antwoord nie, aangesien hy nie geweet het nie.
6.15 Vanweë die geskiedenis van die aangeleentheid en die feit dat Adv. Edeling nie aan my ‘n rede kon verstrek waarom die aangeleentheid moes afstaan nie, het ek aan hom vermeld dat ek van voornemens was om voort te gaan met die aansoek en om die Hof te versoek om die bevel te bekragtig. Ek het pertinent aan hom vermeld dat ek nie bereid was om toe te stem daartoe dat die aangeleentheid afstaan nie.
6.16 Die aangeleentheid was redelik vroeg op die mosiehofrol en het ek, nadat die aansoek geroep is, opgestaan en my verskyning namens die applikant aangekondig.
6.17 Adv. Edeling het hierop, terwyl ek besig was om die Hof toe te spreek, ‘n kollega te wete Adv Phillip Rudolph Cronje, (wat ‘n stawende beëdigde verklaring aflê het wat deel vorm van aanhangsel “ATP5” tot die aansoek om tersydestelling) genader en hom versoek om die aangeleentheid te laat afstaan.
6.18 Adv Cronje het inderdaad op versoek van Adv Edeling opgestaan en die Agbare Hof versoek om die aangeleentheid te laat afstaan. (Geen rede is aan die Voorsittende Regter verskaf waarom die aangeleentheid moet afstaan nie).
6.20 Ek het op daardie stadium die indruk gekry van Adv Edeling dat hy onderweg was om sy hofklere te gaan haal en het ek verwag dat hy onmiddellik sou terugkeer.
6.21 Ek het geensins my bedoeling en/of my instruksies teenoor Adv Edeling verswyg nie. Dis duidelik uit aanhangsel “ATP5” insoverre Mnr Le Roux onder eed verklaar dat Adv Edeling hom meegedeel het dat ek van voorneme was om vir ‘n finale bevel te vra.
6.22 Op geen stadium het ek teenoor Adv Edeling onderneem dat die aangeleentheid uitgestel sou word of dat ek die Hof sou versoek om die saak te laat afstaan nie. Dis ook duidelik dat Adv Edeling onder geen sodanige indruk verkeer het tydens sy gesprek met Mnr Le Roux nie. Ek wil beklemtoon dat nog Adv Edeling nog mnr. Cronje enigsins ‘n rede verstrek het waarom die aangeleentheid moes afstaan.
6.23 Mosiehofverrigtinge het voortgegaan en Adv Edeling het nie weer sy verskyning by die Mosiehof gemaak nie.
6.24 Ongeveer 11h00 het ek die Mosiehof verlaat en Adv Cronje en Adv J A Fourie, buite die hof aangetref.
6.25 Adv Cronje het aan my vermeld dat hy onseker is oor rakende wat hom verder te doen staan, aangesien hy die aangeleentheid vroeër op versoek van Adv Edeling laat afstaan het maar sedertdien geen verdere tyding van hom ontvang het nie. Adv Cronje was onseker of hy maar kon terugkeer na sy kamers.
6.26 Ek het op daardie stadium aan hom gemeld dat hy maar self moes besluit wat hom te doen staan. Ek het daarop teruggekeer na die Mosiehof.
6.27 Adv Cronje het geensins op daardie stadium (of op enige ander stadium) aan my gemeld dat Adv Edeling op pad was Hof toe nie of dat hy en mnr. Le Roux by sy kamers gewag het op dokumente nie. Hy het beslis ook nie gemeld dat hulle besig was om stukke op te stel nie.
6.28 Teen die einde van die Mosiehofrol het die Griffier die sake wat afgestaan het weer in chronologiese volgorde begin roep.
6.29 Toe die aansoek die tweede keer geroep word deur die Griffier, en voordat ek Sy Edele Regter Musi, kon begin toespreek, het laasgenoemde gevra of dit die aangeleentheid is waarin daar vroeër die dag ‘n verskyning was. Ek het bevestigend geantwoord en terwyl ek besig was om die Voorsittende Beampte toe te spreek het Adv Fourie my aandag getrek en aan my meegedeel dat Adv Edeling oënskynlik onderweg was. Ek het hierdie mededeling onmiddellik onder die Voorsittende Regter se aandag gebring en het hy toe voorgestel dat die aangeleentheid dan maar verder moes afstaan om weer geroep te word nadat die sake wat afgestaan het, klaar afgehandel is.
6.30 Die aangeleentheid is toe ‘n derde keer geroep waarop ek aan die voorsittende beampte vermeld het dat daar steeds geen verskyning namens die eerste applikant was nie. Hierop het die Agbare Regter aangedui dat hy wel bereid was om die aansoek aan te hoor. Ek het die Hof toegespreek en die voorlopige sekwestrasie bevel is bekragtig.”
[7] Uit die voorafgaande bewerings is dit minstens duidelik dat eerste applikant wat deurgaans geweet het dat die aansoek op die rol was, versoek het dat die aansoek tot later moes afstaan en dat vyfde respondent selfs daardie versoek nie tegemoet sou kom nie.
Dit is dan ook duidelik dat eerste applikant nieteenstaande die wete dat enige versoek dat die aangeleentheid vertraag moet word sou beveg, nie die moeite getroos het om toe te sien dat indien saak wel geroep was dat hy teenwoordig is nie.
[8] Die wesensvraag is nie of vyfde respondent sekere inligting aan die Voorsittende Regter oorgedra het nie, maar oor welke inligting hy beskik het en weerhou het.
Dit was nie, en kon nie aangevoer word, dat vyfde respondent die inligting waaroor hy verklaar het hy beskik het, nie aan die Voorsittende Regter oorgedra het nie.
Oor welke inligting vyfde respondent beskik het, veskil die partye hewiglik en fel.
[9] Oplossing van die feitegeskil, omdat beide partye versoek het dat die aansoek slegs op die verklarings beslis moet word, sal vir sukses deur applikante, behels dat bevind moet word dat vyfde respondent se weergawe so vergesog en onhoudbaar is dat op grond van die stukke alleen dit verwerp moet word of dat viva voce getuienis nie die oorwig van waarskynlikhede wat uit die stukke mag blyk sal versteur nie (ADMINSTRATOR, TRANSVAAL AND OTHERS v THELETSANE AND OTHERS [1990] ZASCA 156; 1991 (2) SA 192 (AA) te 197A-B).
Die getuienis uit die stukke regverdig myns insiens nie verwerping van vyfde respondent se bewerings as onhoudbaar en vergesog nie, en is die waarskynlikhede gelyk gebalanseer.
Vyfde respondent se bewerings wat dan as feitebasis moet dien (cf. PLASCON-EVANS PAINTS LTD v VAN RIEBEECK PAINTS (PTY) LTD [1984] ZASCA 51; 1984 (3) SA 623 (A) te 634E-635C) regverdig nie ‘n bevel soos deur applikante aangevra nie.
[9] Die volgende bevele moet volg:
1. Die aansoek word afgewys met koste wat insluit die koste van twee advokate. 2. Die koste sal betaalbaar wees deur die insolvente boedel van die eerste applikant.
__________________________ G. VAN COPPENHAGEN, R
Namens Applikante: Adv. J.G. Cilliers i.o.v. Symington & De Kok
Namens Respondente: Adv. A.J.R. van Rhyn SC Bygestaan deur: Adv. N. Snellenburg i.o.v. Honey Prokureurs
/scd
|