South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2004 >> [2004] ZAFSHC 139

| Noteup | LawCite

Lichtenburg Graan Trustees (Edms) Bpk v Uys N.O and Another (1911/2004) [2004] ZAFSHC 139 (2 September 2004)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Saak No.: 1911/2004



In die saak tussen:



LICHTENBURG GRAAN TRUSTEES (EDMS) BPK


en


NICOLAAS PETRUS UYS N.O.

JACQUES PIETER UYS N.O.



UITSPRAAK: KRUGER R



AANGEHOOR OP: 26 AUGUSTUS 2004



GELEWER OP: 2 SEPTEMBER 2004



[1] Applikant doen aansoek vir die voorlopige sekwestrasie van die Uys Familie Trust waarvan die twee respondente die trustees is. Die hoofverweer is dat die applikant nie ‘n gelikwideerde skuld bewys het soos bedoel in artikel 9 (1) van die Insolvensiewet nie.



[2] Vir sy locus standi steun applikant op ‘n lening in die bedrag van R4 373 623,86. Applikant sê dit is gelde werklik deur die applikant aan die trust geleen en voorgeskiet ingevolge ‘n skriftelike produksie ooreenkoms.


[3] Die applikant gaan dan voort in die funderende eedsverklaring deur te sê dat aksie in die Landdroshof ingestel is op grond van daardie skuld welke aksie verdedig is. Daar was ‘n aansoek om summiere vonnis en verlof om te verdedig is toegestaan maar, sê applikant, in daardie aansoek het die trust die kwantifisering gekwalifiseerd erken en erken dat daar ‘n bedrag van R1 119 656,74 aan applikant verskuldig is. Gelees in konteks van die verklaring is dit duidelik dat hierdie nie ‘n erkenning van aanspreeklikheid is nie. Daar word slegs gesê dat “dit blyk op sigwaarde asof respondente aan applikant R1 119 656,74 verskuldig is”. Dit is nie ‘n erkenning van aanspreeklikheid nie. Elders sê die respondent dat hy ‘n skadevergoedingseis teen applikant het.


[4] Verder, soos mnr Claassen voor my aangetoon het, is die produksie ooreenkoms waarop applikant steun glad nie ‘n leningsooreenkoms nie. Die produksie ooreenkoms maak op die beste vir applikant voorsiening daarvoor dat die Bank geld aan respondent sal leen uit ‘n rekening in die applikant en respondent se gesamentlike name. Die verhouding tussen die applikant en respondent ten opsigte van die geldlening is glad nie duidelik nie, ‘n mens weet ook nie wat die verhouding van daardie twee partye teenoor die Bank is - wie aanspreeklik sal wees vir wat nie. Moontlik is dit ‘n tipe borgkontrak. Dit is duidelik dat dit nie ‘n eenvoudige geldleningsooreenkoms is soos wat die applikant in die funderende stukke beweer nie.


[5] Klaarblyklik het mnr Zietsman, vir applikant, hierdie probleem besef en in argument voor my aangevoer dat dit duidelik is dat die respondent feitlik insolvent is, op sy eie weergawe, omdat hy nie verwys na al sy skulde nie. Verder voer mnr Zietsman aan dat die skuld waarop gesteun word dié is waarin die respondent in die antwoordende eedsverklaing erken dat daar ‘n geldleningsooreenkoms met ene mnr Van Rooyen aangegaan is wat namens die applikant opgetree het ten opsigte van gelde wat betaal is aan die Allem Broers.


[6] Daardie is ‘n heel ander geldleningsooreenkoms as dié waarop applikant in die funderende stukke steun. In Mosieverrigtinge is die applikant gebonde aan sy beweringe in die funderende eedsverklaring. Sien TITTY’S BAR AND BOTTLE STORE (PTY) LTD v ABC GARAGE (PTY) LTD AND OTHERS 1974 (4) SA 362 (T) te 368 H; en SHEPHERD v MITCHELL COTTS SEAFREIGHT (SA) (PTY) LTD 1984 (3) SA 202 (T) te 205 E.


[7] Die hele doel van die reël wat ‘n applikant beperk tot sy beweringe in die funderende verklaring is om die respondent ‘n billike kans te gee om daarop te antwoord. ‘n Mens kan nie nou kyk na wat in die repliek gesê word in antwoord op die antwoordende beweringe, want dit word dan nie in die konteks gesien van ‘n antwoord op beweringe waarop die eiser steun nie. Dit is vir daardie rede dat ‘n applikant beperk word tot die saak wat hy in sy funderende eedsverklaring gemaak het. As die verskuldigheid van die respondente op bona fide en redelike gronde betwis word, sal ‘n aansoek om sekwestrasie normaalweg van die hand gewys word. Sien KALIL v DECOTEX (PTY) LTD AND ANOTHER 1988 (1) SA 943 (AD) te 980 B – C.


[8] Op die stukke het die applikant nie bewys dat daar ‘n gelikwideerde skuldbedrag is soos vereis deur artikel 9(1) van die Insolvensiewet nie en op daardie basis alleen kan hierdie aansoek nie slaag nie.


[9] Mnr Zietsman het aangevoer dat daar wel dade van insolvensie gepleeg is by wyse van die vervreemding van goedere tot nadeel van skuldeisers en in besonder wat betref die ooreenkoms wat aangegaan is met Eerste Nasionale Bank. Die feit dat respondent ‘n daad van insolvensie gepleeg het, beteken nie dat ‘n sekwestrasie aansoek toegestaan moet word nie. In die konteks van hierdie aangeleentheid het eiser egter nie daarin geslaag om my te oortuig dat daar ‘n gelikwideerde verskuldigheid is nie.


[10] Verder dien ook daarop gelet te word dat artikel 10 van die Insolvensiewet ‘n diskresie verleen om sekwestrasie te weier selfs as aan die vereistes voldoen is. Veral in hierdie geval waar die kontrak waarop applikant steun ‘n ingewikkelde een is wat, soos mnr Claassen aangevoer het, moontlik aanvegbaar is, is daar soveel groter rede om die aansoek te weier.


[11] ‘n Verdere kwessie wat hier ter sprake is, is die feit dat hier landdrosverrigtinge ten opsigte van die skuld waarop applikant in die funderende aansoek steun, hangende is. Namens die respondent word aangevoer dat toe die applikant sien dat daar probleme is met die opponering van ‘n spesiale pleit van mediasie of arbitrasie verrigtinge in die landdroshof en dat die applikant dus nie daar met sy eis kon slaag nie hy daarom die sekwestrasie verrigtinge ingestel het. Mnr Zietsman sê in antwoord hierop dat wat gebeur het is dat die applikant inderdaad gesien het dat daardie verrigtinge moontlik kan skipbreuk ly en dat die respondend inderdaad insolvent is en dat dit sonder enige punt is om daardie verrigtinge verder te voer. Die belangrike punt is egter dat daardie bewering nie in die stukke gemaak word nie. In die stukke word glad nie gesê dat daar nie voortgegaan word met die landdroshof verrigtinge omdat die pleit ‘n goeie pleit is en omdat die applikant gesien het dat die respondent in feite insolvent is en dat die verrigtinge sonder enige doel sou wees nie. Inteendeel word beweer dat in die summiere vonnis verrigtinge daar ‘n erkenning van aanspreeklikheid gemaak word wat eenvoudig nie waar is nie want dit is nie ‘n erkenning van aanspreeklikheid nie.


[12] Die applikant het nie ‘n gelikwideerde eis bewys nie, en dus nie ‘n saak uitgemaak het waarom vorlopige sekwestrasie toegestaan moet word nie.


[13] Die aansoek word met koste van die hand gewys.





____________

A. KRUGER R



Namens Applikant: Advokaat P Zietsman

i.o.v.

EG Cooper & Seuns

BLOEMFONTEIN


Namens Respondent: Advokaat Claassen

i.o.v.

Naudes

BLOEMFONTEIN





/ec