South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2003 >>
[2003] ZAFSHC 30
| Noteup
| LawCite
S v Cloete (A325/2003) [2003] ZAFSHC 30 (27 November 2003)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèlnommer : A325/2003
In die appèl tussen:
DIE STAAT Appellant
versus
EDUARD BERNARD CLOETE Respondent
CORAM: LOMBARD, HATTINGH et BECKLEY RR
UITSPRAAK: LOMBARD R
AANGEHOOR OP: 17 NOVEMBER 2003
UITSPRAAK GELEWER OP: 27 NOVEMBER 2003
Die respondent is op 12 Februarie 2003 op ‘n klagte van moord deur Malherbe RP aan strafbare manslag skuldig bevind. Voor vonnisoplegging het die respondent sowel as Mev Erna Vermaak, ‘n geregistreerde maatskaplike werkster ter strafversagting getuig. Hierop het die Staat onder meer ‘n maatskaplike werker in diens van die Departement van Korrektiewe Dienste, Mnr Johannes Antonie Van der Merwe as getuie geroep. Die respondent is op 4 Junie 2003 tot 4 jaar gevangenisstraf ingevolge die bepalings van artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet gevonnis. Die appellant kom nou, met verlof van die Verhoorhof, in hoër beroep teen sy vonnis.
Die tersaaklike feite wat tot die skuldigbevinding en vonnis aanleiding gegee het, is in ‘n neutedop die volgende:
Gedurende Oujaarsnag van 2001 het die respondent en ‘n vriend (hy was beskuldigde 2 in die Hof a quo) kuierplekke in en buite Bloemfontein besoek waar hulle onder meer sterk drank gedrink het. Voordat hulle in die vroeë oggendure van die laaste een wou vertrek, is hulle deur die oorledene genader met die versoek om haar ‘n geleentheid Bloemfontein toe te gee. Hulle het haar opgelaai en nadat hulle by nog nagklubs aangedoen en gekuier het, het hulle om ongeveer 5.30 vm by die woonstelgebou waar respondent destyds woonagtig was, aangekom waar verder gedrink was totdat hulle om ongeveer 8.00 vm die buurman se woonstel verlaat en na die respondent s’n teruggekeer het.
Respondent se relaas was dat hy kan onthou dat die oorledene op ‘n stadium op die dubbelbed in sy slaapkamer met ‘n pistool in haar hand en terwyl daar bloed uit haar neus gevloei het gesit en huilend gesê het:
“Hulle weet waar ek is. My baba. My baba. Ek is in die moeilikheid. Dis nie jou skuld nie.”
In ‘n poging om die pistool van haar af te neem, het hy haar met die plathand in die gesig getref en sy het op die bed geval – so ook die pistool.
Die volgende wat hy onthou, is dat hy by sy werkplek in Bloemfontein MacRib Restaurant, om ongeveer 11 vm opgedaag het toe hy deur sy werkgewer huis toe gestuur was omdat hy onder die invloed van drank was.
By sy woonstel aangekom, was die deur oop en alles was deurmekaar en die oorledene het op die bed gelê – die matras was vol bloed – sy was dood.
Hy was geskok, het paniekerig geword en was bang om die polisie te ontbied. Hy het onder meer die matras omgedraai en die bloed van die matras en mat probeer verwyder, maar sonder sukses.
Ongeveer 5.00 nm het hy gaan werk en na werk die oorledene se liggaam in ‘n laken toegedraai en ± 50 km buite Bloemfontein in die veld gaan wegsteek – hier het hy ook haar denim langbroek uitgetrek en dit by die munisipale vullishope buite Bloemfontein gaan weggooi.
Sedert daardie dag totdat hy op 12 Januarie 2002 deur die polisie gekonfronteer is, was hy verward en kon met niemand oor die oorledene praat nie – gedurende hierdie periode het hy, onder meer, by sy ouers op hul plaas in die Clocolan-distrik gekuier.
Die oorledene se liggaam is op 13 Januarie 2002 deur die respondent aan die polisie op die plek waar hy dit op 1 Januarie versteek het, uitgewys.
Op 14 Januarie is ‘n lykskouing op haar liggaam deur Dr Wagner uitgevoer – dit was alreeds tot so ‘n mate ontbind dat die totale oorskot slegs 9.7 kg geweeg het. Hy het, onder meer, frakture aan die middel van die voorkop, die linkeroogbank en die buitenste hoek van die regteroogkas waargeneem – die neusbene en bokaak was na regs verskuif. Hierdie frakture is, volgens hom, versoenbaar met ‘n geweldige harde vuishou wat op sigself noodlottig kon wees. Hy was voorts van mening dat meer as een toepassing van geweld die beserings en die hoeveelheid bloed moes veroorsaak het.
Die bevoegdheid van hierdie Hof as ‘n Hof van appèl om met die vonnis hierin in te meng, is beperk en verg streng gesproke geen herhaling nie. Ek volstaan met slegs die volgende dictum van Mahomed HR in S v SALZWEDEL AND OTHERS 1999(2) SASV 586 (HHA) op 591d-h:
“[10] Mr Myburgh, who appeared for the respondents on appeal, submitted that the determination of a proper sentence for an accused person fell primarily within the discretion of the trial Judge and that this Court should not interfere with the exercise of such a discretion merely because it would have exercised that discretion differently if it had been sitting as the court of first instance. This submission is undoubtedly correct, but it is clear that:
`[T]he Court of appeal, after careful consideration of all the relevant circumstances as to the nature of the offence committed and the person of the accused, will determine what it thinks the proper sentence ought to be, and if the difference between that sentence and the sentence actually imposed is so great that the inference can be made that the trial court acted unreasonably, and therefore improperly, the Court of appeal will alter the sentence.’
An appeal Court is entitled to interfere with a sentence imposed by a trial court in a case where the sentence is `disturbingly inappropriate’, or totally out of proportion to the gravity or magnitude of the offence, or sufficiently disparate, or vitiated by misdirections of a nature which shows that the trial court did not exercise its discretion reasonably. It has also been held that:
`[T]he over-emphasis of the effect of the appellant’s crimes, and the underestimation of the person of the appellant, constitutes ..... a misdirection and in the result the sentence should be set aside.’
This must be equally true when there is an over-emphasis of the personal circumstances of the accused and an underestimation of the gravity of the offence.”
By die deurlees van die uitspraak word die indruk, myns insiens, gewek dat alhoewel die geleerde Regter-President aanvaar het dat by die oplegging van straf die belange van die respondent (beskuldigde), die belange van die gemeenskap en die erns van die misdaad gelyke oorweging verg, hy hom, met respek doodgestaar het teen eersgenoemde ten koste van die ander. Die volgende illustreer sodanige siening.
(a) Die Verhoorhof het as ‘n feit bevind dat die respondent ware berou getoon het en ter stawing daarvan uit sy getuienis aangehaal dat hy elke aand tydens gebed ‘n kersie vir die oorledene aansteek.
Mnr van der Merwe het getuig dat:
“Berou kan nie gevestig word voordat daar nie ‘n skuldbesef is nie. Dit is tog in sosiaal-wetenskaplike terme die basiese vereiste vir berou. Ek kan nie jammer wees oor iets wat ek nie aanvaar wat ek gedoen het nie. Die beskuldigde op hierdie stadium, selfs in die laaste gesprek wat ek redelik lank by hom was, het nog nie daardie ware skuldbesef sodat hy tot ware berou kan oorgaan nie. Dat hy ‘n mate van berou toon in terme van dat hy jammer vir die Else-familie oor hulle verlies, dit sal ek toegee, maar nie in terme van dat hy die oorsaak daarvan was nie, nee.”
(Oorkonde p 923-924)
Op ‘n vraag deur die Verhoorhof of hierdie aansteek van die kersie elke aand “sommer net skyn (is) as hy dan nou nie wil erken hy het die oorledene se dood veroorsaak nie”, het Van der Merwe as volg geantwoord:
“Nee, hy het aan my gesê dat as hy ‘n bydrae gelewer het of wat ook al sy bydrae was, hy was in die woonstel, hy was teenwoordig in die woonstel daardie nag en die persoon is dood in die woonstel en daarom het hy simpatie met die familie van die oorledene en uit die aard daarvan steek hy elke aand die kersie op. Dit is nie omdat hy oortuig daarvan is dat hy die misdaad gepleeg het nie, dit is glad nie die afleiding wat ek gemaak het nie. Hy het aan my ook gemeld dat hy die kersie elke aand brand.
Het u rede om dit te betwyfel? – Nee, ek het nie rede om te betwyfel dat hy ‘n kers aansteek nie.”
(Oorkonde p 956-957)
Op ‘n verdere vraag deur die Verhoorhof:
“Verstaan ek u reg, u sê hierdie man het nie ‘n skuldbesef nie daarom kan hy nie opregte berou hê nie”
was Van der Merwe se antwoord as volg:
“Ja, hy kan nie berou hê oor hy die dood van die slagoffer veroorsaak het nie, daaroor kan hy nie berou hê nie.”
(Oorkonde p 958)
Die respondent self het getuig dat:
“..... it is very difficult for me to show remorse as I do not remember exactly what happened and what did not happen, but I know there is great pain which I feel and both the Else family and my own family, I want to say sorry for what happened.”
(Oorkonde p 835)
Wat die respondent dus sê, is dat hy besef dat hy die Else-familie en sy eie familie leed aangedoen het maar terselfdertyd is daar nog steeds geen uitdruklike erkenning dat hy die oorledene se dood veroorsaak het soos deur die Verhoorhof bevind was nie. Maw op die getuienis van Van der Merwe en die respondent is daar na my oordeel geen ware berou deur die respondent aangetoon nie.
(b) Die geleerde Regter-President in sy uitspraak handel nie pertinent en/of afsonderlik met die erns van die misdaad en die belange van die gemeenskap nie. Al wat in hierdie verband gesê word, is:
“Although the accused was convicted of having negligently caused the deceased’s death, her precious life was ended on that fateful day. The sanctity of her life should also be reflected in the sentence of the Court. Her death has left a young boy without a mother and has caused much pain and anguish and tears for her relatives and loved ones. And also for those of the accused.”
(Oorkonde p 967)
Ex facie die uitspraak blyk dit dat namens die respondent en op sterkte van Mev Vermaak se getuienis betoog is dat die respondent ‘n straf wat hy buite die gevangenis kan uitdien, opgelê moes word terwyl namens die Staat aangevoer is dat aan die hand van Van der Merwe se onbetwiste relaas direkte gevangenisstraf (medium tot langtermyn) aangewese was.
Ter oorweging van hierdie uiteenlopende vonnisse sê die geleerde Verhoorregter, onder meer, die volgende:
“I have given the question of sentence in this case much anxious thought. I have read and re read the reports by Mrs Vermaak and Mr Van der Merwe and seriously considered a non custodial sentence, especially in view of the negative impact of imprisonment upon a person such as the accused.”
(Oorkonde p 967/8)
Nadat daar verwys is na ‘n beslissing waar ‘n vonnis van korrektiewe toesig ter sprake was, gaan die geleerde Verhoorregter as volg voort:
“It other words the accused may well be an impeccable candidate for correctional supervision as submitted by Mrs Matthews but the offence and the circumstances under which it was committed may render such a sentence inappropriate. In my view this is such a case.”
(Oorkonde p 968/9)
Maw tot op daardie stadium is daar blykbaar geen of ten minste geen ernstige oorweging aan die oplegging van direkte gevangenisstraf verleen nie. Die alternatiewe betoog namens die respondent dat ‘n vonnis ingevolge artikel 276(1)(i) oorweeg kon word, is onmiddellik aan die hand van die respondent se goeie gedrag in die gevangenis in die verlede en moontlik in die toekoms aangegryp, sonder om weereens enige ander vonnis te oorweeg – dit nadat Van der Merwe weens die erns van die misdaad so ‘n vonnis ook as onvanpas beskou het.
(c) Mej Bester, namens die Staat, het ook op S v ODENDAAL (ongerapporteerde beslissing van hierdie Hof gedateer 2 September 2002) gesteun vir die oplê van medium tot ‘n langtermyn van gevangenisstraf. Dit was ‘n geval waar die beskuldigde van moord aangekla was maar aan strafbare manslag, vanweë onder meer sy besopenheid, skuldig bevind is. Die feite in ‘n neutedop was dat nadat hy op die betrokke aand die oorledene (sy werknemer) noodlottig aangerand het hy hom op sy bakkie gelaai en vir ‘n afstand van ± 5 km deur die strate van Sasolburg gesleep en later in die veld afgelaai het. Hy is tot 10 jaar gevangenisstraf, waarvan 3 jaar vir 4 jaar voorwaardelik opgeskort was, gevonnis. Alhoewel daar na ODENDAAL in die uitspraak verwys word, het dit geen kommentaar uitgelok nie.
Ek is terdeë bewus van die feit dat gewoonweg die blote versuim om ‘n besondere feit of aspek van ‘n saak pertinent in ‘n uitspraak te opper nie noodwendig aanduidend is dat dit nie oorweeg was nie. Dit het myns insiens egter nie hierin gebeur nie. Die een faktor wat die respondent begunstig het (sy persoonlike omstandighede) is telkens pertinent oorweeg, terwyl die faktore wat die Staat bevoordeel en uit die aard van die saak die respondent benadeel het (die erns van die misdaad en die belange van die gemeenskap) is deurgaans onaangetas gelaat.
As die beginsels soos in SALZWEDEL hierbo uiteengesit op die feite hierin toegepas word, is dit na my oordeel ‘n sprekende voorbeeld van “an over emphasis of the personal circumstances of the accused and an underestimation of the gravity of the offence”. Dit is gevolglik ‘n mistasting aanduidend van die feit dat die geleerde Regter-President nie sy diskresie op ‘n behoorlike of redelike wyse uitgeoefen het nie. (S v PILLAY 1977(4) SA 531 (A) op 535D-F.) Dit staan hierdie Hof nou vry om vonnis de novo te oorweeg. Ek kan net meld dat selfs al sou daar geen mistasting aangetoon gewees het nie, die vonnis hierin in elk geval verskerp sou word aangesien dit in al die omstandighede treffend onvanpas is.
Die eenvoudige maar lastige vraag is nou wat is ‘n gepaste vonnis?
Dit behoef geen betoog dat die oorledene op ‘n gewelddadige wyse deur die respondent gedood is nie – die mediese getuienis staaf dit onomwonde. Sy was ‘n tengerige jong vrou, die moeder van ‘n 3-jarige seuntjie wat daardie nag deur die respondent in sy woonstel gedood is sonder dat daar enige getuienis is wat daarop dui dat sy hom enigsins geprovokeer, beledig en/of gedreig het. Sy was weerloos teen sy aanslag en is gedood terwyl hy letterlik nie ‘n skrapie opgedoen het nie. Sodanige sinnelose geweld is en bly onaanvaarbaar en uiters laakbaar.
Onlosmaaklik aan bogemelde is die belange van die gemeenskap gekoppel. Ons land gaan nou al vir jare gebuk onder ‘n golf van geweld en wetteloosheid – daar is geen respek vir die lewe van ‘n medemens nie. Die gemeenskap is siek en sat daarvoor en kyk verlangend na die Howe vir hulp en leiding en veral vir die versekering dat sodanige afstootlike en weersinwekkende optrede nie geduld en/of kondoneer kan word nie. Die enigste of altans mees effektiewe wyse waarop Howe hul afkeur en renons daaromtrent kan onderstreep, is om gepaste vonnisse op te lê wat onder meer as ‘n afskrikmiddel vir potensiële oortreders kan en behoort te dien. Die Howe durf nie toelaat dat hul geloofwaardigheid enigsins onder verdenking kom en/of bevraagteken word nie want dit kan daartoe aanleiding gee dat persone die reg in eie hande neem – iets wat eweneens verkeerd en onaanvaarbaar is.
Die versagtende faktore is volledig in die uitspraak uiteengesit en verg geen herhaling nie. Vir soverre dit die verswarende faktore aangaan, is onder meer die respondent se optrede na die gebeure daardie betrokke oggend na my oordeel van belang. Dit is as volg deur die Verhoorregter in sy uitspraak op skuldigbevinding weergegee:
“Toe hy vasstel sy is dood en homself oortuig dat hy geen skuld daaraan het nie, omdat hy konsuis nie bloed aan sy klere gehad het nie, soek hy nie onmiddellik hulp van enige aard nie. Hy hardloop nie na die naaste bure nie. Hy bel nie die polisie of sy werkgewer of sy familie nie. Hy swyg soos die graf. Hy probeer angsbevange alle tekens van bloed uitwis. In die donker van daardie nag gaan versteek hy oorledene se liggaam kilometers vanaf Bloemfontein en trek haar jeans uit in ‘n poging om moontlike uitkenning te bemoeilik. Dit is nie die optrede van iemand wat haar bloot liggies met die hand weggestoot het nie.”
(Oorkonde p 824)
Sodanige optrede is na my mening aanduidend van gevoelloosheid teenoor die lewe van ‘n medemens.
Aangaande die vonnis in ODENDAAL opgelê, moet die waarskuwing van Brand AR in S v McMILLAN 2003(1) SASV 27 (HHA) op 34f-g in gedagte gehou word:
“Dit is waar dat elke saak op sy eie meriete beoordeel moet word en dat vonnisse wat in soortgelyke sake opgelê is nie die vonnisopleggger se diskresie bind nie, maar slegs riglyne by vonnisoplegging bied. Terselfdertyd is dit tog ‘n onmiskenbare vereiste van geregtigheid dat vonnisse as konsekwent waargeneem moet word. Hierdie oorweging laat nie toe vir die oplegging van ‘n vonnis wat geheel en al uit pas is met vonnisse in vergelykbare sake nie. Dit is myns insiens wat hier gebeur het.”
In al die omstandighede is ek van mening dat direkte gevangenisstraf van ‘n redelike lang tydperk aangewese is maar dat ‘n gedeelte daarvan, vanweë onder meer die respondent se relatiewe jeugdige ouderdom, opgeskort behoort te word sodat dit as ‘n swaard oor sy kop kan hang om hom aan die kosbaarheid van ‘n mens se lewe te herinner.
Die bevel van die Hof is:
Die appèl teen die vonnis slaag.
Die vonnis word deurgehaal en met die volgende vervang:
“10 jaar gevangenisstraf waarvan 2 jaar opgeskort word vir 4 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan moord of strafbare manslag waar die toepassing van geweld op ‘n persoon ‘n element is en wat gepleeg is binne die opskortingstydperk nie.”
Die vonnis sal geag word op 4 Junie 2003 opgelê te gewees het.
________________
DJ LOMBARD, R
EK STEM SAAM:
________________
GA HATTINGH, R
EK STEM SAAM:
_______________
AP BECKLEY, R
Namens Appellant : Adv A Bester
Iov
Direkteur: Openbare Vervolgings
Namens Respondent : Adv S Matthews
Iov
Webbers
/Jacobs