South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2003 >>
[2003] ZAFSHC 2
| Noteup
| LawCite
Alfa Laval Agri (Pty) Ltd and Another v Ferreira and Another (2327/2002) [2003] ZAFSHC 2; 2004 (2) SA 68 (O) (13 February 2003)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN
SUID-AFRIKA
(ORANJE-VRYSTAATSE
PROVINSIALE AFDELING)
Saaknommer : 2327/2002
In die saak tussen:
ALFA LAVAL AGRI (PTY) LTD Eerste Eiser
JR BRITS Tweede Eiser
en
IGNATIUS STEPHANUS FERREIRA SNR NO Eerste Verweerder
IGNATIUS STEPHANUS FERREIRA JNR NO Tweede Verweerder
_______________________________________________________________
AANGEHOOR
OP: 23 JANUARIE
2003
_______________________________________________________________
AANGEHOOR
DEUR: VAN COLLER
R
_______________________________________________________________
UITSPRAAK
GELEWER OP: 13
FEBRUARIE
2003
_______________________________________________________________
UITSPRAAK
DEUR: VAN COLLER
R
_______________________________________________________________
In hierdie geding, wat nog op verhoor moet gaan, doen van die partye aansoek om wysiging van hul pleitstukke. Die verweerders doen aansoek om wysiging van hul teeneis en die tweede eiser doen aansoek om wysiging van sy replikasie. Albei die aansoeke word geopponeer. Ek handel eerstens met die verweerders se aansoek om wysiging van hul teeneis.
Die tweede eiser vorder in sy dagvaarding betaling van die bedrag van R41 926,29 uit hoofde van ‘n verkoop en installeringskontrak van ‘n 9 Punt Alpro Melk Masjien. Dit word beweer dat die kontrak op 17 Desember 1998 gesluit is. In die verweerskrif erken die verweerders dat die melkmasjien geïnstalleer is, dog ontken dat dit aan hulle verkoop is. In die alternatief (par 2) word gepleit dat die melkmasjien op onvakkundige en onproffesionele wyse geïnstalleer is, as gevolg waarvan die verweerders skade gely het soos in die teeneis uiteengesit is.
In par 3 van die teeneis word beweer dat die tweede eiser gedurende 1998 ‘n 9 Punt Alpro Melk Masjien te die verweerders se perseel geïnstalleer het. Dit word verder beweer dat die melkmasjien op ‘n onproffesionele en onvakkundige wyse geïnstalleer is en dat die verweerders skade gely het. In par 4 word die skade wat gely is uiteengesit. In die kennisgewing van die voorgenome wysiging van die teeneis word gemeld dat die wysiging beoog om par 3 en 4 te vervang met die volgende par 3 en 4, wat soos volg lees:
3
3.1 Op 17 Maart 1998 en te Marseilles het Alfa Laval Agri (Edms) Beperk en verweerders ‘n ooreenkoms aangegaan in terme waarvan ooreengekom is dat gemelde Alfa Laval Agri (Edms) Beperk vir verweerders 9 eenhede van die Alpro Visgraad Melksisteem (die melksisteem’) sou verkoop, lewer, oprig en installeer teen ‘n ooreengekome prys van R188 776,00 plus 14% verkoopsbelasting, wat insluit installasie en oprigting.
3.2 Die gemelde ooreenkoms was deels mondeling en deels skriftelik, ‘n afskrif waarvan hierby aangeheg word as AANHANGSEL `A’.
3.3 Tydens die aangaan van die ooreenkoms is Alfa Laval Agri (Edms) Beperk verteenwoordig deur ene Rykie Visser en het tweede verweerder namens die verweerders opgetree.
4
4.1 Op of ongeveer 17 Maart 1998 en te Marseilles het gemelde Alfa Laval Agri (Edms) Beperk en eiser ‘n ooreenkoms aangegaan in terme waarvan ooreengekom is dat eiser as sub-kontrakteur vir gemelde Alfa Laval Agri (Edms) Beperk, verweerders se melksisteem sou oprig en installeer.
4.2 Dit was ‘n uitdruklike term van die gemelde ooreenkoms:
4.2.1 dat eiser die inwerkingstelling, oprigting en installering op ‘n volledige, bevredigende, behoorlike en vakkundige wyse sou verrig, en met vaardigheid, nougesetheid en die gebruik van geskikte materiaal, onderdele en komponente, die betrokke oprigting en inwerkingstelling sou voltooi en verdermeer werknemers sou gebruik wat oor die nodige bedrewenheid en kennis sou beskik om die inwerkingstelling van die melksisteem, bevredigend te voltooi;
4.2.2 dat die inwerkingstelling, oprigting en installasie deur eiser onderneem en voltooi sou word binne ‘n redelike tydperk;
4.2.3 die oprigting en installasie sou geskied ooreenkomstig voorgeskrewe en aanvaarde norme en standaarde, soos deur Alfa Laval Agri (Edms) Beperk neergelê, ook wat betref elektriese beveiliging;
4.2.4 die melksisteem na installering daarvan, behoorlik getoets sou word vir korrekte en optimale werking, ten einde Alfa Laval Agri (Edms) Beperk in staat te stel om ‘n waarborg aan verweerders uit te reik.
4.3 Die gemelde ooreenkoms is deur en tussen Alfa Laval Agri (Edms) Beperk en die eiser aangegaan, terwyl beide bewus was van die volgende feite en die ooreenkoms is op daardie basis aangegaan:
4.3.1 dat verweerders handel dryf as melkprodusente;
4.3.2 dat verweerders hul melkproduksie bemark;
4.3.3 dat die melksisteem aangewend en gebruik sal word vir doeltreffende melkekstraksie ten einde melkproduksie te verhoog en betroubaarheid van lewering te bewerkstellig;
4.3.4 dat sodanige doeltreffende melksisteem noodsaaklik is vir die behoorlike bedryf van verweerders se besigheid;
4.3.5 dat verweerders ernstige direkte en indirekte skade sal ly indien die melksisteem nie geskik sou wees vir die doel waarvoor dit aangekoop is nie, of nie funksioneel of in korrekte werking sou wees nie of defektief sou raak of die fisiese integriteit van die melkkudde sou aantas;
4.3.6 dat verweerders in so ‘n geval, noodgedwonge besigheid, winste en opbrengs aan melkproduksie, sou verloor.
4.4.1 Eiser is ‘n oprigter en installeerder van melksisteme en verbandhoudende toebehore;
4.4.2 Eiser gee openlik voor oor deskundige kennis te beskik aangaande die voorsiening, oprigting en installering van melksisteme;
4.4.3 Daar het ‘n regsplig op eiser gerus om behoorlike sorg aan die dag te lê ten einde te verseker dat verweerders se redelike verwagtinge met betrekking tot doeltreffende melkekstraksie nie verydel word nie, om behoorlike sorg aan die dag te lê in die uitoefening van sy deskundige bekwaamheid en kennis en om die intrede van verliese vir verweerders te verhoed deur behoorlike sorg aan die dag te lê by die oprigting en installasie van die melksisteem.
4.5 Strydig met die gemelde regsplig het eiser nalatig opgetree in soverre hy:
4.5.1 die gemelde melksisteem op ‘n onprofessionele en onvakkundige wyse geïnstalleer het;
4.5.2 die gemelde masjien strydig met die vervaardigers se voorskrifte geïnstalleer het;
4.5.3 versuim het om die masjien behoorlik te toets na die installasie daarvan, ten einde te verseker dat dit korrek funksioneer;
4.5.4 versuim het om die nodige waarborg uit te reik of Alfa Laval Agri (Edms) Beperk in staat te stel daartoe;
4.5.5 versuim het om voldoende stappe en voorsorgmaatreëls te tref om die gemelde melksisteem te beveilig teen die risiko van ingetrede gebeurlikhede, ondermeer elektriese gebeurlikhede en weerlig;
4.5.6 versuim het om te verseker dat die melksisteem binne aanvaarbare vakuumvlakke opereer.
4.6 In die vooropstelling was eiser nalatig in die uitvoering van sy kontraktuele verpligtinge teenoor Alfa Laval Agri (Edms) Beperk en het eiser onregmatiglik versuim om verweerders se ingetrede skade soos hieronder uiteengesit, te verhoed en te voorkom, welke skade volgens die wete en kennis van eiser voorkom kon word deur die blote nakoming van sy professionele en kontraktuele plig teenoor Alfa Laval Agri (Edms) Beperk.
4.7 Verweerders se ingetrede skade is deur eiser voorsien as ‘n waarskynlike gevolg van sy versuim om die melksisteem op ‘n professionele, vakkundige en behoorlike wyse te installeer; alternatiewelik behoort verweerders se ingetrede skade aldus deur eiser voorsien te gewees het.
4.8 As direkte en uitsluitlike gevolg van die eiser se voormelde onregmatige en nalatige optrede, het die verweerders skade gely in die bedrag van R155 333,60, welke bedrag verminder word tot R100 000,00 en as volg bereken en saamgestel word:
4.8.1 die bedrag van R93 400,00 skade weens verlies aan toekomstige inkomste weens die verkorte lewensverwagting van 211 Holstein melkbeeste. Eiser (moet lees: verweerders) doen egter afstand van die bedrag van R34 585,00 in terme van artikel 38(1) van die Wet op Landdroshowe om die vordering binne die jurisdiksiegebied van die Agbare Hof te bring.
4.8.2 Die bedrag van R56 073,60 skade oor ‘n periode van 10 maande, weens die verlies aan inkomste as gevolg van die verhoogde stres van die koeie weens die toestand en die handeling van die verhoogde insidensie van kliniese en sub-kliniese mastitis en die verhoging in die somatiese seltelling. Eiser (moet lees: verweerders) doen egter afstand van die bedrag van R3 325,00 in terme van artikel 38(1) van die Wet op Landdroshowe om die vordering binne die jurisdiksiegebied van die Agbare Hof te bring.
4.8.3 Die bedrag van R5 860,00 skade as gevolg van die verhoogde veearts-koste vergeleke met die voorafgaande 12 maande periode weens die verhoogde insidensie van kliniese en sub-kliniese mastitis vergeleke met die vorige 12 maande periode."
(Aangesien daar ‘n konsolidasie van aksies was, moet "eiser" gelees word as "tweede eiser".)
Die tweede eiser se beswaar teen die beoogde wysiging is dat die deliksaksie wat gepleit is, nie uitgebrei kan word tot die verhaling van bloot geldelike verlies wat voortvloei uit die verbreking van ‘n kontraksverpligting nie. Daar word gesteun op die saak van LILLICRAP, WASSENAAR AND PARTNERS v PILKINGTON BROTHERS 1985(1) SA 475 (A).
Die argument van mnr Lüderitz, namens die tweede eiser, is kortliks die volgende. Die skade wat in die voorgenome teeneis beweer word, is suiwer ekonomiese verlies en nie skade aan eiendom van die verweerders nie. Daar word slegs kontrakbreuk gepleit en nie dat ‘n regserkende belang, wat onafhanklik van die kontrak bestaan, aangetas is nie. In die LILLICRAP-saak was daar, na die oordrag van regte en verpligtinge wat tussen die partye plaasgevind het, geen direkte kontraktuele verbintenis tussen die eiser en die subkontrakteur nie. Die Appèlhof het egter beslis dat die verhouding tussen die drie partye steeds een was wat sy oorsprong in kontrak gehad het en dat dieselfde oorwegings wat geld teen deliktuele aanspreeklikheid waar die partye in ‘n direkte kontraktuele verhouding staan van toepassing is op die situasie waar die verhouding drieledig is, naamlik dat die deliktuele remedie onnodig is. Soos verder uit die uitspraak van Grosskopf WAR blyk, is beslis dat beleidsoorwegings nie vereis dat deliktuele aanspreeklikheid toepassing behoort te vind by die verbreking van ‘n kontrak van die soort wat ter sprake was in daardie saak nie. Die beleidsoorwegings is, kortliks gestel, dat die partye se posisie beheer was deur kontraktuele bepalings wat die partye self verkies en verwag het van toepassing sou wees.
In die onderhawige saak is daar ook, volgens die bewerings in die voorgenome teeneis, geen direkte kontraktuele verbintenis tussen die tweede eiser en die verweerders nie. Die tweede eiser is egter die subkontrakteur van die eerste eiser wat ‘n kontrak met die verweerders het. Daar is geen bewerings dat die kontrakbreuk van die tweede eiser skade aan die verweerders se eiendom berokken het nie. Dit is slegs die melkproduksie van die verweerders se beeste wat aangetas is en die ekonomiese verlies veroorsaak het. Hier is ook ‘n drieledige ooreenkoms en op sterkte van die LILLICRAP-saak sou beleidsoorwegings dit ongewens maak om die Aquiliese aksie hier toepassing te laat vind.
Mnr Ploos van Amstel namens die verweerders, het na my mening, tereg toegegee dat daar geen bewerings is dat die kontrakbreuk van die tweede eiser skade aan die verweerder se eiendom berokken het nie. Mnr Lüderitz se argument is na my mening korrek, en op sterkte van die LILLICRAP-saak kan die voorgenome wysiging nie toegestaan word nie.
Mnr Ploos van Amstel het egter, met ‘n beroep op die saak van PINSHAW v NEXUS SECURITIES (PTY) LTD AND ANOTHER 2002(2) SA 510 (K) aangevoer dat die bewerings in die beoogde teeneis wel voldoende bewerings bevat waarop ‘n regsplig en deliktuele aanspreeklikheid fundeer kan word. In die PINSHAW-saak gee Comrie R ‘n oorsig van die sake waarin die LILLICRAP-beslissing sedert 1985 ter sprake gekom het. Hy behandel ook oorsese gesag. In hierdie saak was daar ‘n kontrak tussen die eiseres (mev Pinshaw) en ‘n maatskappy Nexus, terwyl Nexus se werknemer, Van Zyl, al die transaksies met die eiseres behartig het. Daar was geen kontrak tussen die eiseres en Van zyl nie. Beleggings wat deur Van Zyl as werknemer van Nexus vir die eiseres gedoen is, het skeef geloop, en afgesien van ‘n aksie teen Nexus, het die eiseres Van Zyl ook aangespreek. Die vordering teen Van Zyl was op delik gebaseer en die vraag wat op eksepsie beslis moes word, was of die besonderhede van eis voldoende bewerings bevat het om ‘n regsplig aan die kant van Van Zyl teenoor die eiseres te fundeer. Comrie R sê in die loop van sy uitspraak aangaande die LILLICRAP-saak die volgende op bl 526F:
"LILLICRAP chose a course and set a direction, both generally in regard to delictual liability for pure economic loss and in particular where an element of contractual concurrency is present. It did not proffer all the answers."
Op bl 534-536 gee hy die gevolgtrekkings waartoe hy geraak het. Dit is nodig om die volgende tersaaklike gevolgtrekkings op bl 535F-J en op bl 536A-B na te verwys:
"(7) LILLICRAP’s case supra, was concerned with professional engineers rendering their professional services in terms of a contract with Pilkington Brothers and later in terms of a sub-contract. In my respectful opinion, LILLICRAP should not be extended to quasi-professionals, such as Nexus, offering financial services and holding themselves out, expressly or by implication, as possessing appropriate skills. Nor should LILLICRAP be extended to the employees of such quasi-professionals. This is not to say that companies offering financial services, or their employees, will always attract a legal duty of care to their clients. That must depend on the circumstances. It is more than 15 years since LILLICRAP was decided. The cases in this developing area of the law, in this country and elsewhere, do not indicate a need to extend the LILLICRAP embargo to a broader class of defendants. On the contrary, the case law in my view supports the need to retain flexibility.
(8) It seems to me that the particular facts alleged, and their highly probable implications, point toward Van Zyl having attracted a legal duty of care, albeit an attenuated duty, to Mrs Pinshaw. Those facts are: that Van Zyl, as a director of Nexus, enjoyed a senior status; that he represented Nexus in concluding the agreement with Mrs Pinshaw; that Van Zyl must expressly or impliedly have held himself out as having appropriate investment skills; that Mrs Pinshaw, to Van Zyl’s knowledge, would be absent in Australia, thus increasing her reliance not only on Nexus, but also on the person(s) within Nexus who managed her portfolio; that Van Zyl was the director and employee who de facto assumed responsibility for such management; and that Mrs Pinshaw, so she claims, placed `total reliance’ on Van Zyl’s proper management.
(9) In my judgment; these facts are provisionally sufficient to found the duty. In the absence of countervailing considerations of policy, I would therefore be disposed to hold for Mrs Pinshaw on this issue."
Soos uit die aangehaalde gedeelte blyk, word daarin die mening gehuldig dat die LILLICRAP -saak nie uitgebrei moet word na quasi-professionele instansies soos Nexus, wat finansiële dienste aanbied en voorgee uitdruklik of by implikasie, oor professionele vaardighede te beskik nie. Waarom dit nie so uitgebrei moet word, is nie vir my heeltemal duidelik nie, veral nie in gevalle waar die verhouding tussen die partye wel ‘n kontraktuele oorsprong het nie. Die bewerings word in die onderhawige beoogde wysiging gemaak dat die eerste eiser openlik voorgee dat hy oor deskundige kennis beskik aangaande die voorsiening, oprigting en installering van melksisteme. Moet die eerste eiser beskou word as iemand wat professionele dienste lewer soos ‘n ingenieur of moet hy beskou word as ‘n quasi-professionele persoon? Hoe dit ookal sy, dit kom my voor dat die PINSHAW-saak in elk geval op die feite onderskei kan word van die onderhawige saak. Vergelyk die bewerings dat Van Zyl ‘n direkteur van Nexus was; senior status geniet het; hom direk of by implikasie voorgehou het as ‘n persoon met die toepaslike beleggingsvaardighede (of hier wel nalatige wanvoorstellings deur hom was soos deur mnr Lüderitz aan die hand gedoen is, is nie duidelik nie) en die totale vertroue wat die eiseres in Van Zyl se behoorlike bestuursvermoë gehad het, met die bewerings in die onderhawige saak. Hier word bloot melding gemaak van die redelike verwagtinge van die verweerders met betrekking tot doeltreffende melkekstraksies maar hier is geen bewerings van ‘n direkte vertrouensverhouding soos in die PINSHAW-saak nie. Dit blyk verder dat in die PINSHAW-saak beleidsoorwegings, verwys na op bl 536C-F ook in aanmerking geneem is ten gunste van die bevinding dat daar wel ‘n regsplig bestaan. In die onderhawige saak is sodanige beleidsoorwegings na my mening, nie aanwesig nie.
Ek het tot die slotsom geraak dat in die onderhawige geval die bewerings wat gemaak is nie sodanig is dat ‘n regsplig daarop gefundeer kan word nie. Na my mening is hierdie nie ‘n geval waar die bewerings sodanig is dat die Aquiliese aksie uitgebrei kan word om ook op hierdie teeneis toepassing te kan vind nie. Die beoogde teeneis openbaar dus nie ‘n skuldoorsaak nie.
Die aansoek om wysiging kan dus nie toegestaan word nie.
Die tweede wysiging wat in hierdie saak ter sprake is, is die tweede eiser se aansoek om wysiging van sy replikasie. Daar is reeds na die bewerings in die besonderhede van eis en die verweerskrif verwys. Wat die alternatiewe verweer wat gepleit is betref, moet vermeld word dat die verweerder se pleit lui dat die eisers die "Milking Point Controllers" moes vervang na aanleiding van weerligskade aan die melkmasjien wat nie sou plaasgevind het indien die melkmasjien op ‘n vakkundige en professionele wyse geïnstalleer was nie.
In die replikasie word met verwysing na die alternatief wat gepleit is, beweer dat in terme van par 11 van die verkoopsvoorwaardes aanspreeklikheid vir weerligskade uitgesluit is. In die voorgenome wysiging van die replikasie wil die tweede eiser ‘n nuwe paragraaf invoeg wat betrekking het op die verweerders se ontkenning van die koopooreenkoms. Die beoogde nuwe paragraaf lui soos volg:
" 1.AD `THE DEFENDANTS’ DENIAL OF AN AGREEMENT OF SALE’:
1.1 The plaintiff reiterates that he sold nine milking point controllers to the Marseille Holstein Trust at the latter’s special instance and request.
1.2 In the alternative to paragraph 1.1 above and only if it is found that no agreement of sale was concluded as alleged by the plaintiff, then the plaintiff pleads that:
1.2.1 In the bona fide and reasonable belief that the agreement of sale was valid and binding, the plaintiff delivered and installed the nine milking point controllers at the premises of the Marseille Holstein Trust (`the installation’);
1.2.2 the plaintiff was, in the absence of a valid and binding agreement of sale between the parties, under no legal obligation to effect the installation;
1.2.3 the defendants are unwilling and/or unable to perform their obligations in terms of the invalid agreement of sale, viz the payment of the amount of R41 926,29.
1.3 The defendants were accordingly unjustly enriched with the amount of R41 926,29 at the expense of the plaintiff."
Die verweerders (wat die trustees is van die Marseille Holstein Trust vermeld in die beoogde replikasie) het beswaar gemaak teen die beoogde wysiging op grond van die volgende:
"1. Die wysiging stel ‘n nuwe skuldoorsaak daar;
2. Dat verjaring reeds ingetree het teenoor die voorgenome gewysigde skuldoorsaak."
Dit kom voor dat die bewerings wat in die beoogde gewysigde replikasie gemaak word eintlik nie ‘n antwoord is op die bewerings wat in die verweerskrif gemaak is nie. ‘n Replikasie moet ‘n antwoord wees op die bewerings in die verweerskrif gepleit. Sien DE BEER v MINISTER OF POSTS AND TELEGRAPHS 1923 AD 653 op 657. Mnr Lüderitz het egter aangevoer dat dit wel ‘n antwoord op die bewerings in die verweerskrif is. Die betoog is dat indien daar geen ooreenkoms, soos gepleit is, was nie, maar die goedere wel ontvang is, dan kan dit net beteken dat daar verryking was. Na my mening is die argument nie korrek nie want dit is geen antwoord op die verweer nie, maar dit stel ‘n nuwe saak daar wat verskil van dié een in die besonderhede van eis. In die lig van die bevinding waartoe ek op die verrykingsaspek gekom het, is dit egter nie nodig om verder hierop in te gaan nie, asook nie met die argument dat die aspek nie in die gronde van beswaar geopper is nie.
Die verjaringstermyn hier ter sprake is drie jaar, en die verrykingsaksie sou dus reeds op 16 Desember 2001 verjaar het. Die vraag ontstaan of die verjaring gestuit is.
Artikel 15(1) van die Verjaringswet 68 van 1969 bepaal dat verjaring gestuit word:
"..... deur die betekening aan die skuldenaar van ‘n prosesstuk waarin die skuldeiser betaling van die skuld vorder."
Mnr Ploos van Amstel het aangevoer, na my mening tereg, dat die korrekte benadering dus moet wees om te praat van ‘n vorderingsreg (claim) en nie van ‘n skuldoorsaak (cause of action) nie. Sien FROL HOLDINGS (PTY) LTD v SWORD CONTRACTORS CC 1996(3) SA 1016 (O) op 1020C-J en SENTRACHEM LTD v PRINSLOO 1997(2) SA 1 (A) op 15E-G. Hy het aangevoer dat die beoogde vordering ‘n heeltemal nuwe vordering is en dat betekening van die oorspronklike dagvaarding nie verjaring gestuit het nie.
Mnr Lüderitz het aangaande die toets in verband met stuiting van verjaring verwys na wat Colman R in MAZIBUKO v SINGER 1979(3) SA 258 (WPA) op 266B-C gesê het, naamlik:
"Did plaintiff, in the earlier process, claim payment of the same debt as now forms the subject matter of the claim which is said to be prescribed?"
Dit volg dan dat indien die antwoord op hierdie vraag positief is, verjaring gestuit is, selfs al is die gronde waarop die vordering nou gebaseer is, verskillend van die gronde waarop voorheen gesteun is. Mnr Lüderitz het aangevoer dat in die voorgestelde wysiging presies dieselfde skuld, alhoewel op ander gronde gevorder word.
Ek kan nie hiermee saamstem nie. Die skuld wat die eiser in die dagvaarding probeer afdwing is ‘n skuld wat voortvloei uit ‘n kontrak, en dit is ‘n totaal ander skuld wat voortvloei uit verryking. In die SENTRACHEM-saak op 15J en 16A-C het Eksteen AR die volgende gesê wat ook hier van toepassing is:
"Die eintlike toets is om te bepaal of die eiser nog steeds dieselfde, of wesenlik dieselfde skuld probeer afdwing. Die skuld of vorderingsreg moet minstens uit die oorspronklike dagvaarding kenbaar wees, sodat ‘n daaropvolgende wysiging eintlik sou neerkom op die opklaring van ‘n gebrekkige of onvolkome pleitstuk waarin die vorderingsreg, waarop daar deurgaans gesteun is, uiteengesit word. ..... So ‘n wysiging sal uiteraard nie ‘n ander vorderingsreg naas die oorspronklike kan inbring nie, of ‘n vorderingsreg wat in die oorspronklike dagvaarding prematuur of voorbarig was, te red nie, of om ‘n nuwe party tot die geding te voeg nie."
Die onderhawige wysiging poog juis om ‘n ander vorderingsreg naas die oorspronklike in te bring wat nie gedoen mag word nie.
In die omstandighede is die verjaring nie gestuit nie en het die vordering in die beoogde replikasie reeds verjaar. Die aansoek om wysiging kan dus nie toegestaan word nie.
Die volgende bevele word gemaak:
1. Die aansoek om wysiging van die teeneis word van die hand gewys met koste.
2. Die aansoek om wysiging van die replikasie word van die hand gewys met koste.
__________________
AP
VAN COLLER, R
NAMENS EISERS : Adv KW Luderitz Iov Honey & Vennote
NAMENS VERWEERDERS : Adv C Ploos van Amstel SC Iov Bezuidenhouts & Milton Earle Ing