South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2003 >> [2003] ZAFSHC 1

| Noteup | LawCite

Oosthuizen v Lid van die Uitvoerende Raad Belas met Plaaslike Regering en Behuising and Another (2955/2002) [2003] ZAFSHC 1; 2004 (1) SA 492 (O) (23 January 2003)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE-VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)

 

Saaknommer : 2955/2002

 

In die saak tussen:

AP OOSTHUIZEN Applikant

en

DIE LID VAN DIE UITVOERENDE RAAD BELAS MET PLAASLIKE REGERING EN BEHUISING Eerste Respondent

 

en

DIE SPEAKER VAN DIE HUIS (PROVINSIALE WETGEWER)

Tweede Respondent

 

_______________________________________________________________
AANGEHOOR OP: 28 NOVEMBER 2002
_______________________________________________________________
AANGEHOOR DEUR: VAN COLLER R
_______________________________________________________________
UITSPRAAK GELEWER OP: 23 JANUARIE 2003
_______________________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: VAN COLLER R
_______________________________________________________________

 

 

 

Die applikant, ‘n lid van die Vrystaatse Wetgewer, doen aansoek om ‘n bevel:

"Dat die eerste respondent gelas word om skriftelik en volledig te antwoord op die vrae soos gestel deur die applikant op 7 Maart 2001 en wat blyk uit Bylaag APO 2 tot die aansoekstukke binne tien dae na datum van hierdie bevel en sodanige antwoord af te lewer by die applikant se prokureurs van rekord hierin, en ‘n afskrif daarvan te verskaf aan die Sekretaris van die Vrystaatse Wetgewer."

Geen regshulp word teen die tweede respondent, die Speaker van die Vrystaatse Wetgewer, aangevra nie. 

Dit blyk uit die stawende beëdigde verklaring van die applikant dat hy so lank gelede as 7 Maart 2001 ooreenkomstig die voorskrifte van die Staande Reëls en Orders (SRO) vrae aan die eerste respondent, in sy hoedanigheid as Lid van die Uitvoerende Raad belas met Plaaslike Regering en Behuising, gestel het. Die twee vrae wat tersaaklik is vir die doeleindes van hierdie aansoek, lui soos volg: 

"Hoeveel raadslede daar tans in die Vrystaat is wat geld vir dienste, belasting of vir enige ander rede aan die betrokke plaaslike owerheid skuld."

"Wat is die name van die raadslede, hulle posisies wat hulle beklee, wat is die bedrag wat deur elkeen verskuldig is en aan watter plaaslike owerheid skuld hulle die betrokke bedrag?"

Ondanks skriftelike navrae en aanmanings het die eerste respondent met ‘n antwoord getalm tot 6 Junie 2002 toe hy in die Wetgewer mondelings op die vrae gereageer het. ‘n Afskrif van die ongeredigeerde transkripsie van die eerste respondent se reaksie op die applikant se vrae is aangeheg as Bylaag APO 10. Die applikant beweer dat die eerste respondent se reaksie hoegenaamd nie aangemerk kan word as ‘n antwoord of antwoorde op sy vrae nie, dat hy nie sy vrae wou of kon beantwoord nie of dit doelbewus omseil het. 

Aangaande die eerste respondent se antwoord op die vrae, en wat in die Wetgewer gebeur het nadat die antwoord gegee is, lees die transkripsie soos volg: 

"The MEC for Local Government and Housing, Mr LS Tsenoli, replied:

There are quite a number of councillors who owe municipalities in the Province in the same way that other residents do. Many of them made arrangements for payment of their debts. Some of these debts were incurred on the basis of ordinary transaction acquiring land and so on. These are being paid.

There are others who, because of the nature of the building system that we have, are paying in the request we sort from the municipalities found that these reports were not accurate. That many of them were paying, but his was not reflected in the documentation of the crisis.

This is partly true to the fact that many of councils right now as we speak, are not only in the process of finalising their IDPs, but they are building, and other systems also have new that need to be appropriately set in place.

Some of these inaccuracies are part of this process. Therefore, 1.2 is a problem for us we do not want to be in a situation which we mention people’s names and their position what they owe and that that information is inaccurate and therefore leads to unnecessary embarrassment of the people who are otherwise legitimately having transactions and paying municipalities.

There is a third category that we may mention, that during our review conference - if Members attended we were very clear about this, that we do expect councillors to be exemplary so that in fact, when the question of credit control is imposed councillors are found without problems themselves that cannot be explained.

Therefore, it one of the issues that we frequently are in public meetings with them and in private meetings them, we raise that issue for that purpose.

Mnr AP OOSTHUIZEN: Agb Speaker, die agb LUR het nie my vraag beantwoord nie.

Hierdie vraag is nou reeds op die Ordelys. Die datum van Maart 2002 is verkeerd. Dit was in .....

Die SPEAKER: Kan u asseblief ‘n bietjie stilbly?

Mr AP OOSTHUIZEN: Sir, I want to address you on the answer of the hon MEC for Local Government and Housing. Just one minute - I will address you in one minute’s time.

Die agb LUR het nie my vraag beantwoord nie .....

The SPEAKER: But usually you stand and get permission. You just started off by shooting. You can continue for that minute.

Mr AP OOSTHUIZEN: Thank you, Mr Speaker.

Mnr die Speaker, ek wil vandag kennis gee dat hierdie vraag is op die Ordelys van 14 Maart 2001.

Dit is ‘n Reël van hierdie Wetgewer; dit is ‘n Reël van die Grondwet dat inligting beskikbaar gestel moet word, want as Raadslede nie betaal nie, hoe gaan jy die persoon op grondvlak aanmoedig om te betaal? Daarom wil vandag kennis gee dat in die lig van die feit dat hierdie LUR nou vir meer as ‘n jaar hierdie verantwoordelikheid ontduik, ek geen ander keuse sal hê as om my te wend tot die Hooggeregshof van die Vrystaat nie. Dan sal die Hof die LUR dwing om hierdie vraag te beantwoord.

Mr LS TSENOLI (MEC): On a point of Order. (Laughter) Speaker, the Province which this House runs its affairs on behalf of the people of the Free State is called the Free State Province. I do not know which province is he talking about.

THE REPORTS OF THE AUDITOR-GENERAL

(Tabling of)

The SPEAKER: Point of Order sustained. Let us continue with the business of the day."

In paragrawe 6 en 7 van sy stawende beëdigde verklaring verwys die applikant na die SRO en sê hy die volgende:

6.

6.1 Die lede van die Vrystaatse Wetgewer, insluitende dus ekself en die eerste respondent, is onderhewig aan sekere staande reëls en orders wat, ondermeer, die vergadering van die Wetgewer en die gedrag en optrede van lede daarvan reël en prosedures vir, ondermeer, die rig of stel en beantwoording van vrae voorskryf.

6.2 Bogemelde staande reëls en orders beslaan tans bykans 100 bladsye en sal ek dit by die aanhoor van hierdie aansoek beskikbaar hê, maar ten einde hierdie aansoek nie onnodig te belas nie, heg ek slegs ‘n ware afskrif van reëls 45 tot 51 hierby aan as BYLAAG APO 1.

Gemelde reëls en orders maak ongelukkig nie spesifiek voorsiening vir sanksies teen lede soos die eerste respondent wat nie vrae beantwoord nie of dit omseil en die magte of verpligtinge van die tweede respondent in sulke gevalle nie en ook nie vir die regte van persone wie se vrae onbeantwoord gelaat is nie."

Reëls 45 tot 51 waarna die applikant verwys, handel onder andere met kennisgewing van vrae wat gevra word asook die vorm van vrae. 

Die applikant beweer dat hy geregtig is op die verskaffing van ‘n behoorlike en volledige antwoord op sy vrae en dat hy geen ander remedie het om sodanige antwoorde te kry dan om die Hof vir gepaste regshulp te nader nie. 

In sy opponerende verklaring sê die eerste respondent dat in sy antwoord op die vrae wat gevra is hy ten volle al die inligting wat tot sy beskikking was geopenbaar het. Hy sê dat selfs al sou hy toegang tot die rekords van plaaslike owerhede se skuldenaars gehad het, is die rekords dikwels onbetroubaar en deur skuldenare in twyfel getrek. Dit sou onredelik, onregverdig en inderdaad onregmatig wees om die posisie, soos in die rekords gereflekteer, te openbaar. Die eerste respondent beweer dat daar wel, alhoewel nie uitdruklik nie, voorsiening in die SRO is vir meganismes om te handel met beweerde oortredings van lede van die Wetgewer. Hy verwys in dié verband na die beëdigde verklaring van die tweede respondent. Hy beweer dat die applikant versuim het om hierdie meganismes te gebruik. Die eerste respondent beweer ook dat hy geadviseer is dat hierdie aangeleentheid verband hou met die interne verrigtinge van die Wetgewer en dat die Hof nie sal inmeng in aangeleenthede soos die onderhawige nie. 

In paragrawe 6 en 7 van sy beëdigde verklaring sê die tweede respondent die volgende: 

"6. I confirm the accuracy of Rules 45 - 51 annexed to Applicant’s founding affidavit and also confirm that no express sanction is provided for in the Standing Rules and Orders relating to the aspect of questions in the Legislature.

7.     It should, however, be pointed out that the Legislature is empowered to regulate its own internal proceedings. To this end Rules 187 provides for an appropriate mechanism to address any alleged infringements by members. The Applicant accordingly enjoyed the right to engage this internal mechanism, which he failed to do." 

Die eerste vraag wat oorweeg moet word is of ‘n bevel, soos wat aangevra word, inmenging met die interne verrigtinge van die Wetgewer sou wees, en indien wel of die Hof so ‘n bevoegdheid het. Hoofstuk 6 van die Grondwet van die Republiek van SA , Wet 108 van 1996 (die Grondwet) handel met Provinsies. Artikel 104 handel met die wetgewende gesag van provinsies en artikel 104(3) bepaal dat ‘n Provinsiale Wetgewer slegs deur die Grondwet en, indien hy ‘n grondwet vir sy provinsie aangeneem het, ook deur daardie grondwet gebind is, en moet in ooreenstemming met, en binne die perke van, die Grondwet en daardie provinsiale grondwet, optree. Die Vrystaat het nog nie ‘n grondwet nie. In artikel 116 van die Grondwet word aan ‘n Provinsiale Wetgewer die bevoegdheid verleen om reëls en orders betreffende sy werksaamhede te maak. In subartikel (2) word voorgeskryf waarvoor die reëls en orders van ‘n Provinsiale Wetgewer voorsiening moet maak. 

Artikel 133 van die Grondwet bevat bepalings aangaande die aanspreeklikheid en verantwoordelikheid van die lede van die Uitvoerende Raad. In subartikel (2) word bepaal dat lede van die Uitvoerende Raad van ‘n provinsie gesamentlik en afsonderlik teenoor die Wetgewer aanspreeklik is vir die uitoefening van hul bevoegdhede en die verrigting van hul funksies. 

Wat in die onderhawige saak in die Wetgewer plaasgevind het, het na my mening plaasgevind tydens interne verrigtinge. Sekere vrae is deur ‘n lid van die Wetgewer gevra ingevolge die SRO en sekere antwoorde is deur die LUR verstrek. Deur ‘n bevel te maak wat die eerste respondent gelas om ‘n beter antwoord te verstrek deur die name van die skuldenare te verstrek sal klaarblyklik inmenging met die verrigtinge van die Wetgewer beteken. Ek is van mening dat ‘n Hof nie die bevoegdheid het om in te meng met die interne verrigtinge van die Wetgewer nie en dus nie die aangevraagde bevel kan maak nie. Artikel 133(2) van die Grondwet bepaal uitdruklik dat die lede van die Uitvoerende Raad van ‘n provinsie teenoor die Wetgewer aanspreeklik is vir die uitoefening van hul bevoegdhede en die verrigting van hul funksies. Indien aanvaar word dat die verpligting om die vrae wat gevra is te beantwoord deel van die funksies van die eerste respondent is, dan is sy versuim om dit te beantwoord of na behore te beantwoord ‘n aangeleentheid waarvoor hy verantwoordelik is teenoor die Wetgewer. 

Die onderhawige is nie ‘n geval waar daar ‘n inbreukmaking was op die grondwetlike regte van ‘n lid van ‘n Wetgewer nie soos in die saak van SPEAKER OF THE NATIONAL ASSEMBLY v DE LILLE AND ANOTHER 1999(4) SA 863 (HHA). In so ‘n geval kon daar deur ‘n Hof ingegryp word teen die optrede van ‘n wetgewende gesag teen een van sy lede. In R v NDOBE 1930 AD 484 is daar met verwysing na die destydse Suid-Afrika Wet van 1909 op bl 497 die volgende gesê:

"Under section 58 of the South Africa Act, each House of Parliament is free to prescribe its own rules with respect to the order and conduct of its business and proceedings. Into the due observance of such rules this Court is not competent to enquire."

Huidiglik bepaal artikel 57 van die Grondwet ook dat die Nasionale Vergadering sy eie interne reëlings, verrigtinge en prosedures bepaal en beheer. Artikel 116 van die Grondwet se magtiging aangaande interne reëlings, verrigtinge en prosedures aan Provinsiale Wetgewers is identies bewoord. Insgelyks is ‘n Hof dus na my mening nie bevoeg om ondersoek in te stel na die behoorlike nakoming van die reëls van die Provinsiale Wetgewer nie. Mnr Potgieter, namens die eerste respondent, het ook verwys na CHIKEREMA AND OTHERS v THE UNITED AFRICAN NATIONAL COUNCIL AND ANOTHER 1979(4) SA 258 (ZRAD) waar die volgende gesê is op 273E: 

"The refusal of the Courts to interfere in the internal affairs of Parliament is based on centuries of experience and interference would be both `impracticable and undesirable’."

Seer sekerlik sal inmenging oor die beantwoording van vrae onprakties en onwenslik wees. Inmening van hierdie aard mag ‘n Hof betrek en vasvang in ‘n netwerk van politieke dispute. Lord Diplock tref na my mening ‘n insiggewende onderskeid waar hy in INLAND REVENUE COMISSIONERS v NATIONAL FEDERATION OF SELF-EMPLOYED AND SMALL BUSINESSES LTD 1982 AC 617 die volgende op bl 644F-G sê: 

"It is not, in my view, a sufficient answer to say that judicial review of the actions of officers or departments of central government is unnecessary because they are accountable to Parliament for the way in which they carry out their functions. They are accountable to Parliament for what they do so far as regards efficiency and policy, and of that Parliament is the only judge; they are responsible to a court of justice for the lawfulness of what they do, and of that the court is the only judge."

Die lang tydsverloop en die wyse waarop die vrae beantwoord is, mag bestempel word as onbekwaamheid waarvoor die eerste respondent teenoor die Wetgewer aanspreeklik is, maar kan nie as onregmatige optrede bestempel word waaroor ‘n Hof moet beslis nie. 

Mnr Wessels, namens die applikant, het aangevoer dat daar in die SRO van die Vrystaatse Wetgewer geen voorsiening gemaak word in terme waarvan die eerste respondent verplig kan word om te antwoord nie. Hy het daarop gewys dat die Speaker niks gedoen het nie en dat daar geen bepaling is wat die Speaker magtig om die eerste respondent te beveel om die vrae te antwoord nie. Die tweede respondent beweer egter in sy verklaring dat Reël 187 ‘n meganisme daarstel ten opsigte van oortredings deur lede van die Wetgewer. Die Reël het bepalings aangaande die samestelling van ‘n Privilegie Komitee, en Reël 187(2) en (3) lees soos volg: (Die Engelse Reël word hier aangehaal aangesien die Afrikaanse Reël nie sin uitmaak nie.) 

"(2) The Privileges Committee shall, at the request of the Speaker, investigate and advise him or her upon alleged infringements by Members of this House which do not involve the privileges or proceedings of this House or a Committee of this House.

    1. The Privileges Committee shall, at the request of the Rules and Orders Committee, investigate and advise the Rules and Orders Committee upon alleged infringements by Members of this House, including the proceedings of this House or the proceedings of a Committee of this House."

Hierdie Reël moet saamgelees word met Reël 185(1) wat handel met die aanstelling van ‘n Komitee vir Reëls en Orders "wat alle aangeleenthede rakende die Huis oorweeg en besluite na goeddunke neem". Die Speaker is die voorsitter van hierdie Komitee. Versuim om ‘n vraag te beantwoord kan wel as ‘n "oortreding" beskou word wat aan die Komitee vir Reëls en Orders voorgelê kan word om ‘n besluit oor te neem. Afgesien hiervan kan daar opgetree word by wyse van ‘n mosie ingevolge die bepalings van Reël 52. Ingevolge hierdie reël kan ‘n lid ‘n onderwerp vir bespreking, of ‘n konsepbesluit vir goedkeuring as ‘n besluit van die Huis voorstel. Ingevolge Reël 73 kan ‘n lid geskors word in geval van ‘n ernstige oortreding. Dit word deur die applikant in sy repliserende verklaring beweer dat blykens die trant van die respondente se verweer dit duidelik is dat selfs insoverre hy verdere optrede ingevolge die Reëls en Orders kon versoek, dit hom nie sou gebaat het nie. Alvorens daar gepoog is om ‘n sanksie teen die eerste respondent te verkry kan dit tog sekerlik nie aanvaar word dat dit nie sou slaag nie, alhoewel die applikant, as lid van ‘n opposisie party se optrede ingevolge die Reëls moontlik nie suksesvol sou gewees het nie. Daar kon na my mening, ingevolge die Staande Reëls en Orders teen die eerste respondent opgetree gewees het, en hoeveel twyfel daar mag wees aangaande die sukses van so ‘n optrede, is nie nou tersake nie. 

Mnr Wessels het ook gesteun op wat in FEDERAL CONVENTION OF NAMIBIA v SPEAKER, NATIONAL ASSEMBLY OF NAMIBIA AND OTHERS 1994(1) SA 177 (NSC) op 191J-192A gesê is. Soos duidelik blyk uit wat daar gesê is, het die Hof die bevoegdheid om toe te sien dat bepalings van die Grondwet, selfs waar dit verband hou met interne aangeleenthede van die parlement, nagekom word. Dit is nie die geval in die onderhawige aansoek nie. 

Aangesien ek tot die slotsom gekom het dat daar nie ingemeng kan word in die interne sake van die Wetgewer nie, kan die aangevraagde bevel nie verleen word nie. Dit is dus nie nodig om te handel met die ander verwere wat ook geopper is nie.  

Alhoewel die respondent die suksesvolle party is, volg dit nie noodwendig dat die gewone reël dat koste aan die suksesvolle party toegeken word, moet volg nie. Die Hof het ‘n diskresie by die maak van ‘n kostebevel. Aangaande die basiese tersaaklike beginsels sê Holmes AR onder andere, in WARD v SULZER 1973(3) SA 701 (A) op 706G-H die volgende: 

"In awarding costs the Court has a discretion, to be exercised judicially upon a consideration of all the facts; and, as between the parties, in essence it is a matter of fairness to both sides. ..... Ethical considerations may also enter into the exercise of the discretion; see MAHOMED v NAGDEE 1952(1) SA 410 (AD) at p 420 in fin."

Hoewel die applikant se aansoek vir die redes reeds vermeld afgewys moet word, is daar die volgende aspekte wat na my mening tersaaklik is ten opsigte van die kostebevel wat gemaak moet word. Die applikant het reeds op 7 Maart 2001 die vrae aan die sekretaris van die Vrystaatse Wetgewer oorhandig. Op 5 September 2001 het die applikant skriftelik navraag gedoen wanneer sy vrae beantwoord gaan word. Op 21 September 2001 het die sekretaris van die Wetgewer laat weet dat die eerste respondent uitstedig is en aandag aan die aangeleentheid sal gee by sy terugkeer. Daar was egter geen verdere reaksie nie en die applikant het sy prokureurs vir advies en optrede genader. Op 22 Januarie 2002 en weer op 18 Februarie 2002 het die applikant se prokureurs ‘n brief aan die eerste respondent aangaande die vrae gerig. Op 26 Februarie 2002 het die eerste respondent in antwoord op die brief van 22 Januarie 2002 berig dat hy onder geen verpligting is om die nodige inligting te verskaf nie en dat volgens sy inligting die applikant reeds oor die inligting beskik. Nieteenstaande hierdie bewerings het die eerste respondent egter op 6 Junie 2002 tydens ‘n sitting van die Vrystaatse Wetgewer wel gereageer op die vrae wat meer as ‘n jaar vantevore gestel is. ‘n Mens sou die versuim om op die briewe te reageer en die lang tydsverloop sekerlik nie as hoflike optrede kon bestempel nie. Hierdie optrede, asook die antwoord wat uiteindelik gegee is, staan in skrille kontras tot die eerste respondent se rede uiteengesit in die opponerende verklaring waarin hy uiteindelik die antwoorde gegee het. Hy sê naamlik die volgende: 

"Upon reflection, I decided to respond to the questions orally on 6 June 2002 in a spirit of constructive engagement with the deponent who is the leader of the Freedom Front in the Legislature."

Soos blyk uit die antwoord wat die eerste respondent in die Wetgewende vergadering gegee het, het hy wel die nodige inligting wat gevra is, gehad. Sy antwoord, afgesien daarvan dat dit geensins ‘n toonbeeld van duidelikheid is nie, is geen behoorlike antwoord op die vrae nie. Dit sou ook nie onregmatig gewees het, soos deur die eerste respondent beweer word, om die inligting behoorlik te verstrek nie. 

Dit wil voorkom dat daar eintlik geen rede bestaan waarom die inligting nie behoorlik verstrek is nie. Indien dit wel behoorlik verstrek is, sou daar bes moontlik geen aansoek gewees het nie. Die volgende opmerkings van Colman, R aangaande die optrede van die respondent in die saak van HOWE, NO v ESSEY 1963(3) SA 402 (T) op 404A-B is na my mening ook hier van toepassing.

"In my judgment the respondent’s behaviour was unreasonable, unco-operative, and discourteous. If she had behaved properly, and I am speaking now not about compliance with legal obligations but merely with normal and reasonable courtesy in a matter of business, the application would probably not have had to be made. In these circumstances I am not disposed to disallow any part of the applicant’s costs."

In die lig van al die omstandighede is ek van mening dat dit billik sal wees indien geen kostebevel in hierdie aansoek gemaak word nie.

Die aansoek word van die hand gewys en geen kostebevel word gemaak nie.

 

 

 

__________________
AP VAN COLLER, R

 

 

Namens Applikant : Adv MH Wessels, SC Iov Rosendorff en Reitz Barry

 

 

Namens Eerste Respondent : Adv D Potgieter, SC Iov Staatsprokureur