South Africa: Eastern Cape High Court, Grahamstown Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Eastern Cape High Court, Grahamstown >> 2015 >> [2015] ZAECGHC 147

| Noteup | LawCite

S v A.L (CC/7115) [2015] ZAECGHC 147 (23 November 2015)

Download original files

PDF format

RTF format


 

Sekere persoonlike/private besonderhede van partye of getuies in die dokument is geredigeer in ooreenstemming met die wet en SAFLII se beleid.   

 

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA

OOS KAAPSE AFDELING, GRAHAMSTAD

 

Saak no. CC/7115

Datum aangehoor: 10-12/11/15

Datum gelewer: 23/11/15

Nie raporteerbaar nie

In die saak tussen:

 

DIE STAAT

en

AL



UITSPRAAK

 

PLASKET, R:

[1] Die beskuldigde staan tereg op ‘n aanklag van verkragting. Die Staat beweer dat, op 6 Julie 2015, hy sy dogter, ‘n 14 jarige meisie, verkrag het. Hy het onskuldig gepleit en ‘n verduideliking van sy pleit gegee.

[2] Die klaagster het getuig dat op die aand van 6 Julie 2015 was sy en haar pa alleen by die huis toe ‘n vriend van haar pa wat vir ‘n rukkie gekuier het geloop. Sy het gaan slaap maar haar pa het haar kamer binnegekom en vir haar gesê dat sy saam met hom in die sitkamer televisie moet kyk.

[3] Die klaagster het geweier om sitkamer toe te gaan aangesien dit laat was en sy moeg was. Toe het haar pa gesê dat hy saam met haar sal slaap. Weereens het sy geweier om dit toetelaat.

[4] Die beskuldigde het vir haar gesê dat sy konnie vir hom sê wat hy kan doen nie. Hy het op die bed geklim en begin om haar klere uit te trek. Hy het haar deur die gesig geklap en vir haar gesê dat sy stil moet bly. Hy het ook ‘n mes uitgehaal en haar met die dood gedreig.

[5] Hy het haar sitkamer toe gevat, waar hy gewoonlik slaap, en daar het hy haar op ‘n matrass verkrag. Daarna het hy ‘n emmer water gaan haal en haar beveel om te was. Sy het geweier om te was en hy het vir haar gesê dat hy haar gaan ‘dood slaan’. Hy het na die kombuis geloop, klaarblyklik om ‘n stok te gaan haal, maar toe hy weg was het die klaagster deur ‘n venster gespring en van die huis ontsnap    

[6] Die klaagster het na die huis van ene L, sowat 50 meter weg, gehardloop. Sy het soontoe gegaan omdat dit die enigste huis was waar ‘n lig gebrand het. Sy het aan die deur geklop en L het oopgemaak. Sy het vir hom gesê dat haar pa haar verkrag het en L gevra om die polisie te roep. Hy het na sy suster se huis gegaan om haar te roep. Hy het teruggekeur saam met sy suster. Die klaagster het saam met L se suster geloop en toe was die polisie ontbied. Die polisie het die klaagster eers na die polisie stasie te Joubertina gevat (waar sy ‘n eedsverklaring om 1;30 die oggend van 7 Julie 2015 afgelȇ het) en toe na die hospital te Humansdorp waar sy deur ‘n dokter medies ondersoek was.

[7] L het getuig en die weergawe van die klaagster oor wat by sy huis gebeur het bevestig. Hy het bevestig dat die lig van sy huis gebrand het; dat sy vir hom gesê het dat haar pa haar verkrag het; dat hy sy suster geroep het; en dat die klaagster en sy suster sy huis verlaat het om na sy suster se huis te gaan.

[8] Dr Lungiswa Mseleni, ‘n dokter werksaam by die Humansdorp Hospitaal, het die klaagster om tussen 7 uur en 7;30 die oggend van 7 Julie 2015 medies ondersoek. Haar belangrikste bevindings is soos volg in haar verslag genotuleer:

1. tear posterior fourchette

2. clitoris tear

3. clear serous fluid secreting from vagina

4. anterior vaginal wall tear

5. cervix erosion.’

[9] Sy het van hierdie waarnemings die gevolgtrekking gemaak dat seksuele aanranding ‘cannot be ruled out’ en dat positiewe tekens van ‘forceful penetration’ teenwoordig was. Sy het ook gesê dat die beserings wat sy opgemerk het nog vars was en dat die geneesings proses nog nie begin het. Sy het geskat dat die beserings toegedien was binne 24 ure vanaf haar ondersoek.

[10] ‘n Eedsverklaring afgelê deur die klaagster se moeder was met die ooreenstemming van die Staat en verdediging ingehandig. Dit bewys dat die klaagster op 24 Junie 2001 gebore was. Sy was dus op 6 Julie 2015, 14 jaar oud.

[11] Dit is gemene saak dat op die aand van 6 Julie 2015 het die beskuldigde en ene P by die beskuldigde se huis saam met die klaagste gesit en gepraat terwyl hulle televisie kyk. Die beskuldigde en P het wyn gedrink. Op ‘n stadium het P geloop en daarna was die klaagste en die beskuldigde alleen in die huis.

[12] Volgens die getuienis van die beskuldigde het die klaagster in haar kamer gaan slaap terwyl hy ‘n film op DVD gekyk het. Hy het die wyn wat hy en P vroeȅr gedrink het agter ‘n bank weggesit. Hy het aan die slaap geraak maar later die nag het hy wakker geword. Hy was, soos hy dit gestel het, ‘babelaas en lus vir drank’. Hy het die klaagster wakker gemaak deur haar te roep. Hy het haar gevra waar was die wyn. Sy het geantwoord dat sy weet glad nie. Hy het kwaad geraak. Hy het vir haar gesê dat hy haar sal ‘vrekslaan’ en kombuis toe gegaan om ‘n besem stok te gaan haal.

[13] Toe hy terug kom het hy aangemerk dat sy deur ‘n venster ontsnap het en weggehardloop het. Hy het haar geroep, maar sy het nie geantwoord nie of teruggekom huistoe nie. Hy het haar nie aftervolg nie want, sȇ hy, hy was kaalvoet. Hy het wyn gedrink en gaan slaap. Hy was verbaas toe, die volgende oggend, die polisie opgedaag het en hom arresteer het op ‘n aanklag van verkragting.

[14] Volgens die beskuldigde het die klaagster hom valslik beskuldig omrede sy nie saam met hom wil bly nie aangesien hy ‘n streng pa is en disipline in sy huis streng toepas. Om hierdie stelling te probeer bewys het hy getuienis gelewer oor verskeie insidente, wat oor vyf jaar strek, waar hy en die klaagster na bewering koppe gestamp het. Myns insiens was hierdie getuienis hoofsaaklik irrelevant en, in elk geval, het dit nie geslaag om ‘n komplot te bewys nie. Dit is so dat die getuienis dui aan dat die beskuldige ‘n streng pa is, en dat hy van tyd tot tyd die klaagster ‘n pakslae gegee het maar die getuienis van die beskuldigde se venoot, ene D, was dat die klaagster eintlik ‘n redelike goeie kind was wat haar pa lief het, of ten minste, niks teen hom het nie. Sy het redelik goed toegepas in die huis, al was daar probleme nou en dan.

[15] Die verskille tussen die Staat en die verdediging is eintlik nou. Dit is of die beskuldigde die klaagste in die huis verkrag het of hy bloot van plan was om haar aan te rand toe sy ontsnap het.

[16] Die klaagster was ‘n enkel getuie. Sy is ook ‘n kind. Ek moet haar getuienis met versigtigheid benader as gevolg van altwee die feite. Disnieteenstaande moet dit in gedagte gehou word dat, soos dit deur Holmes AR in S v Snyman 1968 (2) SA 582 (A) op 585G-H, gesȇ was dat ‘the exercise of caution should not be allowed to displace the exercise of common sense’.

[17] Die getuienis van die klaagster dat sy verkrag is word deur die mediese getuienis van Dr Mseleni gesteun. Haar getuienis is ook gesteun, onderworpe aan die kwalifakasie wat hieronder uiteengesit is, deur die getuienis van L. Hy het getuig dat die klaagster aan hom geraporteer het dat sy deur haar pa verkrag was. In terme van art 58 van die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) 32 van 2007 is getuienis ‘met betrekking tot vorige gelykluidende verklarings deur ‘n klaer of klaagster’ toelaatbaar ‘in strafregtelike verrigtinge waarby die beweerde pleeg van ‘n seksuele misdruif betrokke is’. Sulke getuienis steun die konsekwentheid van die klaagster se getuienis. Volgens Schwikkard en Van der Merwe Principles of Evidence (3de uitgawe) op 115, ‘neither s 58 nor s 59 has abolished the common law rule that a previous consistent statement (the complaint) has the limited probative value of proving consistency’. Verder, was dit die getuienis van L dat die klaagster in ‘n emosionele toestand was toe sy die verkragting aan hom geraporteer het. Volgens L het die klaagster gehuil en sy was deurmekaar. Hierdie getuienis steun haar weergawe dat sy wel verkrag is. Sien S v Kruger 2014 (1) SASV 647 (HHA), para 9; S v Hammond 2004 (2) SASV 303 (HHA), paragrawe 15, 16, 21 en 22.  

[18] Ek het geen rede om die getuienis van L te twyfel nie. Dit was nie in geskil deur die verdeiging geplaas nie. Hy het voorgekom as ‘n eerlike getuie en ek aanvaar sy getuienis. Die selfde geld vir Dr Mseleni.

[19] Die klaagster as getuie het nou en dan gesukkel, weens haar emosionele toestand. Sy het dit baie moeilik gevind om oor die verkragting self te getuig en die hof moes ‘n paar keer verdaag om haar kans te gee om haarself te kalmeer. As gevolg daarvan was sy deur Mnr Ntsila, die Staats aanklaer, nie in groot detail gelei nie. Sy was deeglik kruisondervra deur Mej Opperman, wie namens die beskuldigde opgetree het.

[20] Dit is so dat daar enkele weersprekings was tussen haar getuienis en ‘n verklaring wat sy gemaak het. Ek is tevrede dat hierdie weersprekings of nie wesenlik was, soos of die beskuldigde ‘n graaf in die kombuis gaan haal het, of nie in werklikheid ‘n weerspreking was soos die gedeelte van haar verklaring waar melding gemaak is van ‘n kapmes. Dit was aan haar gestel dat as haar pa die kapmes sou gaan haal het sou dit nie moontlik gewees het vir haar om deur die venster te ontsnap omdat die kapmes op die bokant van ‘n muur gebêre was tussen haar kamer en ‘n gang. In haar verklaring het sy die volgende gesê:

Hy het toe gevra vir wat wag ek, hoekom was ek my nie. Ek het niks geantwoord. Hy het toe gesê hy gaan die kapmes gaan haal en my eerder doodkap en in die rivier gooi en as iemand vra dan sal hy sê ek [is] weg en hy weet nie waar ek is nie. Hy het toe weer kombuis toe gegaan toe spring ek na sy slaapkamer toe en spring deur die kamervenster.’

Dit is duidelik dat die klaagster het nie in haar verklaring gesê dat die beskuldigde die kapmes in die kombuis gaan haal het, soos dit aan die klaagster gestel was. Die gedeelte van die verklaring wat ek uiteengesit het bedoel dat die beskuldigde haar gedreig het met verwysing na ‘n kapmes voordat hy weer na die kombuis gegaan het. (Die beskuldigde se getuienis was dat hy kombuis toe gegaan het om ‘n besem stok te gaan haal waarmee hy haar wou aanrand.)

[21] Sy was ook gekritiseer weens ‘n verwysing na verwurging in Dr Mseleni se verslag. Sy het neergeskryf dat ‘father slapped her in face, strangulated her neck and grabbed her arms. . .’. Die klaagster het ontken dat sy vir die dokter vertel het dat die beskuldigde haar verwurg het. Sy het dan bygevoeg dat haar tante, wie teenwoordig was toe sy haar verklaring gemaak het en by die ondersoek, dit vir die dokter gesê het. Hierdie weerspreking kan nie dus aan die klaagster toegeskryf word nie

[22] Myns insiens was die klaagster ‘n gooie getuie wie getuig het in baie moeilike omstandighede, al het sy getuig met die hulp van ‘n tussenganger. Sy kan, tot ‘n mate, gekritiseer word oor enkele aspekte van haar getuienis maar na my mening was sy ‘n voldoende getuie in alle wesenlike aspekte. Haar getuienis word ook deur ander getuienis in belangrike aspekte gesteun.    

[23] Die beskuldigde het my glad nie as getuie beindruk nie. Hy was bewysend en ontwykend. Byvoorbeeld, hy het getuig dat toe hy en P by die huis gekom het was daar niks fout met die klaagster en sy was kalm. Sy het hulle gegroet, saam met hulle gepraat en televisie gekyk. Toe hy die rede vir die vraag uitgewerk het het hy sy antwoord probeer aanpas. Toe het hy gesê dat hy nie geweet of daar enigiets fout met die klaagster was nie. Hy het bygevoeg dat sy die hele dag op haar eie by die huis deurgebring het en enigiets kon gebeur het. Hy het ook geweier om toegewings te maak waar hy moes. Hy het, tot ‘n mate, van sy pleitverduideliking afgewyk oor die rede dat hy kwaad vir die klaagster geraak het. Op die een hand word dit namens hom gesê dat hy gedink het dat die klaagster die wyn gesteel het, maar in kruisondervraging het hy gesê dat hy die wyn agter ‘n bank gesit het, vergeet daarvan toe hy wakker geword het en kwaad geraak het as gevolg van ‘babelaas’ en ‘drank lus’.

[24] Die belangrikste gebreke in sy getuienis is dat sy weergawe maak glad nie sin nie and dat dit heelwat onwaarskynlik is. Dit maak nie sin dat hy, die enigste persoon wat geweet het waar hy self die wyn gebêre het, die klaagster sal wakker maak in die middel van die nag om haar te vra oor iets waarvan, tot sy eie wete, sy niks sou weet. En dan, as sy vir hom sê dat sy weet niks oor die wyn nie, hy dan kwaad raak. Dit moet in gedagte gehou word dat sy getuienis was dat alhoewel hy gedrink het, hy nie baie dronk was nie. Dit is heeltemaal onwaarskynlik, in hierdie omstandighede, dat hy sou besluit om die klaagster aan te rand. Nadat die klaagste deur die venster gespring het en in die middel van die nag weggehardloop het, het hy besluit om haar nie te agtervolg nie omdat hy kaalvoet was. In plaas om vir haar te gaan soek het hy wyn gedrink en gaan slaap. Sy weergawe kannie verklaar hoe en wanneer die klaagste beserings opgedoen het wat aandui dat sy seksueel aangerand was. Dit is onwaarskynlik dat sy die besering vroeër die dag opgedoen het, as mens die klaagster se gedrag in gedagte hou toe die beskuldigde en Patrick Mbali by die huis aangekom het, en daarna.

[25] Die weergawe van die klaagster, inteendeel, is konsekwent, heelwat meer waarskynlik en deur ander getuinenis gesteun. Daar was oenskynlik niks fout met haar toe P die huis verlaat het maar ‘n paar uur later maak sy ‘n verslag dat sy deur die beskuldigde verkrag was en vroeg die volgende oggend bevind Dr Mseleni vars beserings konsekwent met haar bewerings.

[26] Ek is van mening dat dit heeltemaal onwaarskynlik is dat die klaagster haar pa valslik beskuldig het soos hy beweer. Vir die geldigheid van hierdie bewering moet die volgende gebeur het. Iemand anders moes haar vroeër die dag seksueel aangerand het. Sy moes besluit het om niks daaroor te doen nie. En dan, toevallig, wou haar pa haar daardie selfe aand aanrand. Toe sy van die huis ontsnap het moes sy besluit het om haar pa valslik te beskuldig en toe sy die 50 meter tussen haar huis en L se huis gehardloop het, die hele storie opgemaak het. Ek glo nie dat sy die bevoedheid het om so ‘n storie optemaak nie en ek glo nie dat sy so gedoen het nie.

[27] Vir die redes wat ek hierbo uiteengesit het aanvaar ek die getuienis van die klaagster, L en Dr Mseleki. Ek verwerp as onwaar bo redelike twyfel die getuienis van die beskuldigde. Ek is van mening dat die Staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.  

[28] Die beskuldigde word skuldig bevind soos aangekla.

 

 

__________________

C Plasket

Regter

 

VERSKYNINGS

Namens die Staat: Mnr Mtsila

Namens die beskuldigde: Mej Opperman