South Africa: Constitutional Court

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Constitutional Court >>
1996 >>
[1996] ZACC 14
| Noteup
| LawCite
S v Julies (CCT7/96) [1996] ZACC 14; 1996 (7) BCLR 899; 1996 (4) SA 313 (11 June 1996)
Download original files | Links to summary |
KONSTITUSIONELE HOF VAN SUID-AFRIKA
SAAK NR
CCT 7/96
DIE
STAAT
teen
JULIES
Gelewer op: 11 Junie
1996
UITSPRAAK
KRIEGLER
R
[1] Hierdie saak dien voor ons by wyse van ’n verwysing deur
die Kaapse Provinsiale Afdeling van die
Hooggeregshof.[1] Dit gaan om die
grondwetlike bestaanbaarheid van a 21(1)(a)(iii) van die Wet op Dwelmmiddels en
Dwelmsmokkelary Nr 140 van 1992
(“die Wet”). N∴g die
verwysende hof n∴g die Wes-Kaapse prokureur-generaal twyfel dat die
bepaling wel ongrondwetlik
is en die verwysing geskied bloot omdat hierdie hof
uitsluitlike jurisdiksie het om Parlementswetgewing ongrondwetlik te
verklaar.[2] Die verhoorlanddros
voor wie die beskuldigde in die Paarl tereggestaan het, was dieselfde mening
toegedaan. Ons stem saam.
[2] Die beskuldigde is daaraan skuldig bevind
dat hy handel gedryf het in drie metakaloon tablette (meer algemeen bekend as
Mandrax),
’n ongewenste afhanklikheidsvormende stof, in stryd met die
bepalings van die Wet. Vir die skuldigbevinding het die verhoorhof
staat gemaak
op die gewraakte wetsvoorskrif wat, vir sover hier ter sake, so lui:
21. Vermoedens met betrekking tot handeldryf in dwelmiddels.— (1) Indien daar by die vervolging van iemand weens ’n misdryf bedoel—
(a) in artikel 13(f) bewys word dat die beskuldige—
. . . .
(iii) in besit van ’n ongewenste afhanklikheidsvormende stof . . . gevind is,
word vermoed, totdat die teendeel bewys word, dat die beskuldigde in sodanige . . . stof handel gedryf het.
[3] Hoewel daar geen
regstreekse gesag oor die grondwetlikheid van hierdie spesifieke voorskrif is
nie, is die uitspraak van O’Regan
R, namens die eenparige hof in S v
Bhulwana; S v Gwadiso,[3]
feitlik vierkantig van toepassing. D<<r is bevind dat a 21(1)(a)(i), waar
die einste vermoede in werking tree waar iemand
in besit van meer as 115 gram
dagga gevind word, bots met die vermoede van onskuld en swygreg in a 25(3)(c)
van die tussentydse Grondwet,
en nie deur a 33(a) daarvan gered word nie. In
die geval van dagga, ook ’n gelyste ongewenste afhanklikheidsvormende
stof,
laat die blote besit van enige hoeveelheid nie die vermoede intree nie
maar net die besit van ’n meer noemenswaardige hoeveelheid.
Hier skep die
besit van enige hoeveelheid die vermoede. Die redenasie in gemelde saak is dus
des te meer hier van toepassing.
Volgens geen denkbare logika kan die besit van
byvoorbeeld ’n halwe Mandrax tablet op sigself vir ’n rasionele mens
enige
aanduiding wees dat die besitter enige besondere voorneme daarmee gehad
het nie. Van handeldryf, daadwerklik of voorgenome, eerder
as persoonlike
gebruik is dit bepaald geen aanduider nie. Die betrokke voorskrif is daarop
gemik om ’n besitter op te saal
met ’n bewyslas wat eenvoudig nie
met gesonde verstand en gebillikte afleiding strook nie. Wat ookal die
beleidsoorwegings
wat die voorskrif gemotiveer het, is dit, om die redes wat
gemelde uitspraak aanstip,[4]
onbestaanbaar met die standaarde van a 25(3)(c) van die tussentydse Grondwet en
nie ingevolge a 33(1) regverdigbaar nie.
[4] Wat die aangewese bevel
betref, is die redenasie in S v Bhulwana; S v
Gwadiso[5] en S v Mhlungu
and Others[6] ewe seer hier van
toepassing. Geregtigheid vereis dat reg geskied aan diegene wat met welslae
ongrondwetlikheid aanvoer, maar is
traag om net hulle vir beskerming uit te
sonder. Terselfdertyd sou dit die regspleging ontwrig as daar nie ’n
sinvolle perk
aan die trefwydte van ’n ongeldigheidsverklaring gestel sou
word nie. Die bevel in eersgenoemde
saak[7] hou die ewewig en word
nagevolg.
[5] Bevel
(a) Die bepalings van a 21(1)(a)(iii) van die Wet op Dwelmmiddels en Dwelmsmokkelary Nr 140 van 1992 is onbestaanbaar met die tussentydse Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika No 200 van 1993 en word met ingang van die datum van hierdie uitspraak ongeldig en kragteloos verklaar.
(b) Ingevolge a 98(6) van die tussentydse Grondwet word gelas dat sodanige ongeldigheidsverklaring van toepassing is op die aanwending van bedoelde subartikel in enige strafsaak waar die skuldigbevinding n< die inwerkingtrede van die Grondwet geskied het en ’n appΠl of hersiening op datum van hierdie uitspraak hangende is of nog betyds aangeteken kan word.
(c) Die saak word na die Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof terugverwys vir afhandeling ooreenkomstig hierdie uitspraak.
J C KRIEGLER
Regter
van die Konstitusionele Hof
Chaskalson P, Mahomed Adj P en
Ackermann, Dicott, Langa, Madala, Mokgoro, O’Regan en Sachs RR stem
saam.
[1]Ingevolge a 102(1) van die tussentydse Grondwet Nr 200 van 1993 en r 22 van die ReΝls van die Konstitusionele Hof.
[2]Ingevolge a 98(2)(a) van die tussentydse Grondwet saamgelees met a 101(3)(c) daarvan.
[3][1995] ZACC 11; 1996 (1) SA 388 (CC); 1995 (12) BCLR 1579 (CC).
[4]Id paras 19-24.
[5]Id paras 30-3.
[6][1995] ZACC 4; 1995 (3) SA 867 (CC); 1995 (7) BCLR 793 (CC) para 48.
[7]Supra n 3 para 34.