South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2011 >> [2011] ZAWCHC 505

| Noteup | LawCite

S v Veldsman (A508/2011) [2011] ZAWCHC 505 (3 February 2011)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)

SAAKNOMMER: A508/2011

DATUM: 3 FEBRUARIE 2011


In die saak tussen:


WILLEM J VELDSMAN .......................................................................................Appellant


en


DIE STAAT …...................................................................................................Respondent




UITSPRAAK




VELDHUIZEN, R:



Die Appellant is in die streekshof skuldig beskuldig bevind aan verkragting ingevolge artikel 3 van die Strafregwysigingswet, 32 van 2007. Hy is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Die appellant appelleer nou na hierdie hof teen sy skuldigbevinding en vonnis.



Die klaagster is op 8 Februarie 1996 gebore. Tydens die verhoor was sy 15 jaar oud en tydens die pleging van die beweerde misdaad was sy 11 tot 13 jaar oud. Die klaagster het deur middel van 'n tussenganger getuig dat sy op 9 November 2009 wakker geword het omdat die appellant, wat haar stiefpa is, haar gevryf het. Hy sou daarna op haar gele het en op en af bewegings gemaak het. Hy het net gepoog om sy penis in haar vagina te sit. Die klaagster se suster, Sharlene, het die kamer binnegekom waarop die appellant opgespring het en voorgegee het dat hy sy knieskerm soek. Haar suster het haar skoolklere gaan haal en is die vertrek uit. Die klaagster se ouma het ingekom en haar gevra of iemand met haar lol. Aanvanklik het sy dit ontken maar toe haar ouma haar weer vra, het sy gemeld dat die appellant haar molesteer. Haar oom Morne is geroep en die aangeleentheid is uiteindelik aan die polisie gerapporteer. Sy is dieselfde dag na 'n dokter geneem en ondersoek.



Sy het verder getuig dat die appellant oor 'n periode van ongeveer twee jaar gereeld met haar gemeenskap gehad het en onsedelike dade met haar gepleeg het. Sy meld dat hy soms sy vinger natgemaak het en in haar vagina gedruk het om dit nat te maak. Hy sou dan ook voor haar masturbeer tot hy 'n klimaks bereik. Sy het die dade nie aangemeld nie want die appellant het haar met die dood gedreig indien sy vir iemand sou vertel wat hy met haar doen.



Me Sharlene Adams, 'n 19-jarige stiefsuster van die appellant, het in wese die klaagster se getuienis van die oggend van 9

November 2009 se gebeure gestaaf. Sy het getuig dat toe sy die kamer binnegekom het, het die appellant vanaf die klaagster opgespring en gemaak asof hy horn uitstrek. Sy het daarna die voorval aan haar moeder gerapporteer en haar broer Morne geskakel. Hy het kort daarna opgedaag.



Dr D M Andrews het die klaagster op 9 November 2009 ondersoek. Hy getuig dat die klaagster veelvuldige skeure van haar maagdevlies gehad het en ook vars skaafmerke aan haar perineum. Hy het getuig dat die skaafmerke tussen ses en 24 uur oud was.



Die klaagster se onderwyseres neem die Staat se saak nie veel verder nie. Sy het slegs bevestig dat die klaagster aan haar genoem het dat die appellant haar oor 'n lang tydperk gemolesteer het.



Die appellant het ontken dat hy ooit die klaagster gemolesteer het. Volgens horn het hy bloot die oggend na die klaagster se kamer gegaan om sy knieskerm te haal. Dit sou op die rusbank, waarop die klaagster geslaap het, se leuning gewees het. Hy het oorgeleun om dit te kry en toe hy orent kom, het me Adams ingekom.


Die klaagster se ouma, dit is die appellant se moeder, het getuig en ontken dat die klaagster aan haar sou erken het dat die appellant haar gemolesteer het. Volgens haar het die klaagster die aantyging ontken. Sy erken wel later dat me Adams aan haar genoem het dat sy die appellant vanaf die rusbank sien opspring het.



'n Blote lees van die oorkonde toon dat sy nie 'n goeie getuie was nie.



Die verhoorhof het, met inagneming van die versigtigheidsreel ten opsigte van enkel jong getuies asook die klaagster se verstandelike gestremdheid, die klaagster se getuienis aanvaar en die van die appellant verwerp. Ek kon geen mistasting in die landdros se redes vind nie. In die afwesigheid van enige mistasting staan dit nie hierdie Hof vry om met die landdros se gevolgtrekkings in te meng nie tensy ons oortuig is dat dit verkeerd is. Sien R v Dlumavo 1948 (2) SA 677 (A).



Na my mening toon die mediese getuienis onteenseglik dat die klaagster meermale gepenetreer is. Die skaafmerke staaf ook die klaagster se getuienis dat die appellant daardie oggend gepoog het om met haar gemeenskap te hou. Hier is geen moontlikheid dat die klaagster haar oor die identiteit van haar molesteerder kon vergis het nie. Ek kan geen rede vind waarom sy die appellant valslik sou aanwys as die persoon wat haar gemolesteer het nie. Die klaagster se getuienis aangaande die oggend se gebeure word in wesenlike opsigte deur me Adams gestaaf. Ek vind geen gronde waarop hierdie Hof geregtig sou wees om die landdros se bevinding te versteur nie, inteendeel ek stem daarmee saam.



Die opgelegde vonnis staan egter op 'n ander voet. Die landdros het bevind dat daar nie wesenlike en dwingende omstandighede, soos in artikel 51(3) van Wet 105 van 1997 bedoel, teenwoordig is wat 'n ligter vonnis as die voorgeskrewe een regverdig nie.



'n Belangrike faktor, na my mening, is die feit dat die dade wat teenoor die klaagster gepleeg is nie met onnodige geweld gepaard gegaan het nie. Behalwe vir die feit dat die klaagster se hymen geskeur is, het sy nie enige fisiese letsels opgedoen nie. Hoewel die appellant 'n lang lys vorige veroordelings, wat veroordelings vir geweld insluit, is hy nog nooit vir enige noemenswaardige tyd gevangenis toe gestuur nie.



By oorweging van al die faktore het die landdros, na my mening, die misdaad oorbeklemtoon. Wanneer die gepastheid van 'n vonnis oorweeg word, kan die oogmerke van vonnisoplegging ook nie uit die oog verloor word nie. Hulle is voorkoming, afskrikking, hervorming en vergelding. Elk van hierdie oogmerke moet na gelang van die omstandighede van elke geval gewig gegee word. Uit die aard van die saak sal een of meer van hierdie oogmerke swaarder weeg as die ander.



Wanneer ek al hierdie feite en omstandighede opweeg, meen ek dat die opgelegde vonnis buitensporig swaar en nie geregverdig is nie. Die gevolg is dat die vonnis nie kan bly staan nie. Die feit is dat hierdie misdaad 'n ernstige vergryp teenoor 'n jong kind was wat oor 'n lang tyd geduur het. Die appellant het ook 'n lelike rekord en het homself bewys as 'n persoon wat nie respek vir die regte van andere het nie. Hy verdien 'n lang termyn gevangenisstraf.



Bygevolg word die appellant se appel teen sy skuldigbevinding van die hand gewys, die skuldigbevinding bekragtig maar die appel teen die vonnis gehandhaaf, die vonnis tersyde gestel en vervang met die volgende: AGT1EN (18) JAAR GEVANGENISSTRAF.




VELDHUIZEN, R


I agree.




SAMELA, J