South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2011 >> [2011] ZAWCHC 484

| Noteup | LawCite

Lemmer NO v Rademan (17823/2011) [2011] ZAWCHC 484 (30 November 2011)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share



IN DIE WES-KAAP Hoe HOF, KAAPSTAD



SAAK NR: 17823/2011

In die saak tussen:

RIANA LEMMER N.O. …..........................................................................Applikant

en

ANDRe KEITH RADEMAN


Hof: VAN STADEN, WnR

Verhoordatum: 29 NOVEMBER2011
Uitspraak:
30 NOVEMBER 2011




UITSPRAAK



VAN STADEN. WnR

1. Die Applikant in hierdie aangeleentheid is 'n praktiserende prokureur wat as curator bonis et personae vir Me Laureen Borngraber ("die pasient") aangestel is.

2. Hierdie is die keerdag van 'n aansoek, wat op n dringende basis aanhangig gemaak is en ten opsigte waarvan 'n bevel nisi op 7 September 2001 toegestaan is, ingevolge waarvan die Respondent verbied is om:

2.1. Op enige wyse met die pasient kontak te maak, hetsy direk of indirek; en

2.2. Die woning waar die pasient vantevore gebly het te Reservoir- weg 18, Somerset-Wes te betree.


AGTERGRONDSFEITE

3. Die agtergrondsfeite wat hierna uiteengesit word, is feite wat nie geskil is nie, of feite wat met inagneming van die Plascon Evans-reel aanvaar word.

4. Die Respondent, Mnr Rademan het die Applikant in haar hoedanigheid as 'n prokureur genader vir regsadvies in verband met die pasient se finansiele sake, wat hy op daardie stadium ingevolge 'n skriftelik volmag behartig het. Dit het uiteindelik daartoe gelei dat die Applikant as kurator vir die pasient aangestel is. Later, toe die Applikant sekere optrede van die Respondent bevraagteken het, het die verhouding tussen hulle versuur. Vir doeleindes van hierdie aangeleentheid is dit nie nodig om in detail met hierdie aspekte te handel nie. Dit is genoegsaam om te noem dat die partye reeds in litigasie betrokke was toe die gewraakte insidente waarna hieronder verwys word op 19 en 20 Augustus 2011 plaasgevind het en dat daar steeds sake tussen hulle hangende is. 'n Kriminele saak is ook teen die Respondent aanhangig gemaak, maar hy het ontslag gekry en is onskuldig bevind.

5. Op 19 Augustus 2011, het die Respondent gepoog om die polisie se samewerking te kry om na die woning van die pasient te gaan. Op 20 Augustus 2011 het hy, vergesel van n polisiebeampte, ene Sersant Pretorius, en 'n arbeidsreg-konsultant, Mnr Kobus Venter, asook versorgers wat vantevore in diens by die betrokke woning van die pasient was, by hierdie woning opgedaag. Hulle wou toegang tot die woning he. Die Applikant het opdrag gegee dat toegang nie aan hulle gegee moet word nie en dit is so aan hulle oorgedra.

6. Die klokkie is aanhoudend gelui en Me Welman, 'n versorger wat na die pasient omgesien het ("Welman") het die Respondent die volgende oomblik by die agterdeur opgemerk terwyl hy met sy vuis teen die agterdeur en kombuisvenster gehamer het. Die Respondent het aanhoudend op Welman geskreeu om die deur oop te maak en gedreig om dit andersins af te breek. Welman is ook gedreig dat die Respondent alles oor haar sou uitvind, meer spesifiek ook die redes vir die afsterwe van die pasient se man wat die vorige dag oorlede is. Dit het vir Welman voorgekom asof die insident die pasient hewig ontstel het.

7. Die Applikant het daarna op 23 Augustus 2011 'n e-pos aan die Respondent gestuur waarin hy gewaarsku is dat, tensy hy voor 24 Augustus 2011 skriftelik bevestig d at hy horn sal weerhou van die optrede omvat in die bevel nisi, 'n interdik teen horn aanhangig gemaak sou word. Die Respondent het in beledigende terme op hierdie e-pos geantwoord en aangedui dat hy nie belangstel om dit te doen wat hy versoek word om nie te doen nie, maar hy het egter nie spesifiek die onderneming gegee waarvoor hy gevra is nie.

8. 'n Afskrif van die aansoek vir die interdik is persoonlik op die Respondent beteken. 'n Prokureur het daarna namens horn 'n skrywe gedateer 5 September 2011 aangestuur waarin die Applikant se weergawe van die gebeure op 19 en 20 Augustus 2011 ontken word. In hierdie skrywe is verder te kenne gegee dat die Respondent reeds volledig met die gebeure gehandel het in sy e-pos van 23 Augustus 2011 waarna hierbo verwys word. In die betrokke skywe word verder te kenne gegee dat die Respondent ook in daardie e-pos aangedui het dat hy nie weer die perseel sal betree nie en dat dit daarom onnodig was om vir die interdik aansoek te doen. Verder word gemeld dat die Respondent nie die aansoek gaan opponeer nie, omdat hy nie 'n probleem het met die versoek van die Applikant vervat in die gemelde e-pos nie.

9. Op 6 September 2011, het Applikant haar voorneme om met die aansoek vir 'n interdik voort te gaan aan Respondent se prokureurs bevestig. Sy is toe versoek om Respondent se prokureurs van die uitslag van die aansoek te verwittig.

10. Ten spyte van die aanduiding van sy prokureur dat Respondent nie die aansoek gaan opponeer nie, het hy op die keerdag in persoon verskyn en die bekragtiging van die bevel nisi ge-opponeer. Die aansoek is daarna by twee geleenthede uitgestel na onderskeidelik 21 en 28 Oktober 2011 en die bevel nisi dienooreenkomstig verleng. Op 28 Oktober 2011, is die aansoek weereens uitgestel en die bevel verleng na 29 November 2011, die dag waarop die aansoek deur hierdie hof aangehoor is.

11. In sy antwoordende beedigde verklaring het die Respondent gesteun op 'n
beedigde verklaring van Sersant Pretorius wat die bewerings vervat in 'n skrywe van die genoemde Mnr Kobus Venter bevestig. Hierdie weergawe kom daarop neer dat die Respondent saam met Pretorius en Venter na die betrokke woning gegaan het, vergesel van die personeellede wat vantevore afgedank is deur die Applikant, om hul saak te bevorder. Venter en Pretorius het die klokkie gelui en Pretorius het die Respondent toestemming gegee om oor die heining te klim. In sy skrywe beweer
Venter dat Respondent na sowat 2 minute teruggekeer het na die voorste hek waar hulle was. Daar word egter glad nie met die spesifieke bewerings van Welman gehandel oor wat presies die Respondent alles gese en gedoen het nie, behalwe dat die in bree trekke ontken word.


BESPREKING

12. Die redes waarom Pretorius en Venter dit goed geag het om saam met die Respondent na die pasient se woning te gaan en die rede waarom Pretorius die Respondent toegelaat het om oor die heining te klim word na my mening glad nie bevredigend in die Respondent se beedigde verklaring en die aanhangsels daartoe verduidelik nie.

13. In sy hoofde van argument het Mnr McLachlan, die advokaat wat vir die Applikant verskyn het, na die vereistes vir 'n finale interdik verwys soos uiteengesit in LAWSA1. Die Respondent wat persoonlik voor hierdie hof verskyn het, het aangedui dat hy die aansoek vir 'n finale bevel opponeer, op die grondslag dat die Applikant nie bewys het dat sy die nodige locus standi het nie en dat daar ook nie voldoen is aan een van die drie vereistes vir 'n finale interdik nie.

14. Wat locus standi betref is die Applikant se magte spesifiek deur die Meester uitgebrei ingevolge 'n e-pos, gedateer 22 Augustus 2011, wat daarvoor voorsiening maak dat die betrokke aansoek teen die Respondent aanhangig gemaak mag word. Daar kan dus geen geskil wees oor die Applikant se locus standi nie.

15. Die Appellant het 'n plig om die belange van die pasient te beskerm en het klaarblyklik 'n duidelik reg om enige dreigende optrede, soos die optrede van die Respondent in hierdie geval te probeer verhoed.

16. Die Respondent het deur sy intimiderende optrede, met die hulp van Sersant Pretorius en Mnr Venter, inbreuk gemaak op hierdie reg van die pasient, verteenwoordig deur die Applikant. Die Respondent se antwoord op die Applikant se e-pos van 23 Augustus 2011 en meer spesifiek die versuim om 'n skriftelik onderneming te gee soos versoek, het na my mening, teen die agtergrond van die gespanne verhouding tussen die Applikant en die Respondent, daartoe bygedra dat daar 'n redelik vrees bestaan het dat soortgelyke gedrag van die Respondent weer herhaal sal word.

17. Daar is in die tersaaklike geval geen sprake van 'n alternatiewe remedie nie en in soverre die hof 'n diskresie het, ook geen rede waarom 'n diskresie uitgeoefen moet word om die aansoek vir 'n interdik van die hand te wys nie. My gevoigtrekking is dus dat die bevel nisi finaal gemaak moet word.

18. Die Respondent het tydens die aanhoor van die aansoek, soos ook in sy beedigde verklaring, te kenne gegee dat hy die pasient as sy moeder beskou en dat hy haar graag wil besoek. Sy is intussen verplaas vanaf die woning waar sy vantevore gebly het in Reservoirstraat, Somerset-Wes na 'n hoesorg-eenheid. Sy ly aan Alzheimer se siekte en het ook reeds beroertes gehad. Ek is meegedeel dat sy nogtans van tyd tot tyd 'n mate van begrip toon.

19. In al die omstandighede glo ek dat dit reg en billik sou wees om die Respondent die geleentheid te gun om die pasient van tyd tot tyd te besoek. In die uitoefening van my diskresie glo ek dat hierdie besoeke behoorlik gereguleer moet word.

20. In die omstandighede word 'n finale bevel in die volgende terme toegestaan:


1. Die Respondent word verbied om:

1.1. Die woning gelee te Reservoirweg 18, Somerset-Wes te betree vir solank as wat dit geregistreer is in die naam van die pasient.

1.2. Op enige wyse met die pasient kontak te maak, hetsy direk of indirek, behalwe dat maandelikse besoeke van 15 minute met vooraf-kennisgewing aan die Applikant gereel kan word. Sodanige besoeke sal plaasvind in die teenwoordigheid van enige persoon of persone wat deur die Applikant genomineer word en verder onderhewig wees aan billike en redelike voorwaardes waartoe die Applikant versoek.

2. Die Respondent word beveel om die Applikant se koste van die aansoek te betaal.


W H VAN STADEN

Waarnemende Regter Van Die Hoe Hof 30 November 2011


1The Law of South Africa (1st Re-issue) - Volume II paragraaf 309 tot 313