South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2007 >> [2007] ZAWCHC 68

| Noteup | LawCite

De Wet v Minister van Veiligheid en Sekuriteit (8955/07) [2007] ZAWCHC 68; 2008 (5) SA 418 (C); (29 November 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


RAPPORTEERBAAR


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(KAAP DIE GOEIE HOOP PROVINSIALE AFDELING)



SAAKNR. 8955/07



In die saak tussen:




ALMA DE WET, N.O. Applikant




en




DIE MINISTER VAN VEILIGHEID EN

SEKURITEIT Respondent




_________________________________________________________


UITSPRAAK GELEWER OP HIERDIE 29ste DAG VAN NOVEMBER 2007

_________________________________________________________



THRING, R.:



Hierdie is ’n aansoek ingevolge art. 3(4) van die Wet op die Instel van Regsgedinge teen Sekere Staatsorgane, No. 40 van 2002, waarna ek gerieflikheidshalwe as “die Wet” sal verwys, vir kondonasie van die applikant se versuim om betyds aan die respondent ingevolge art. 3(1)(a) van die Wet skriftelik kennis te gee van haar voorneme om namens ene David Smit, na wie ek gerieflikheidshalwe as “David” sal verwys, ’n regsgeding teen die respondent vir skadevergoeding in te stel. Die tersaaklike bepalings van art. 3 van die Wet lui soos volg:


“(1) Geen regsgeding vir die invordering van ’n skuld word teen ’n staatsorgaan ingestel nie tensy –


  1. die skuldeiser die betrokke staatsorgaan skriftelik kennis gegee het van sy of haar voorneme om die betrokke regsgeding in te stel; of


  1. die betrokke staatorgaan skriftelik toegestem het tot die instel van daardie regsgeding –

    1. sonder sodanige kennisgewing; of

    2. by ontvangs van ’n kennisgewing wat nie aan al die vereistes in subartikel (2) uiteengesit, voldoen nie.


(2) ’n Kennisgewing moet-

(a) binne ses maande vanaf die datum waarop die skuld opeisbaar geword het, ooreenkomstig artikel 4(1) aan die staatsorgaan beteken word; en


  1. bondig uiteensit –

    1. die feite wat tot die skuld aanleiding gegee het; en

    2. die besonderhede van sodanige skuld waarvan die skuldeiser kennis dra.

.....................................


(4) (a) Indien ’n staatsorgaan steun op ’n skuldeiser se versuim om ingevolge subartikel (2)(a) ’n kennisgewing te beteken, kan die skuldeiser by ’n hof wat regsbevoegheid het, aansoek doen vir kondonasie van sodanige versuim.


  1. Die hof kan ’n aansoek in paragraaf (a) bedoel, toestaan indien dit tevrede is dat –

    1. die skuld nie deur verjaring uitgewis is nie;

    2. daar gegronde rede vir die skuleiser se versuim bestaan; en

    3. die staatsorgaan nie onredelik deur die versuim benadeel is nie.


(c) Indien ’n aansoek ingevolge paragraaf (b) toegestaan word, kan die hof verlof tot die instel van die betrokke regsgeding verleen, op die voorwaardes met betrekking tot kennisgewing aan die staatsorgaan wat die hof goedvind.”


David is op 20 Mei 1988 gebore. Sy ouers is plaasarbeiders, wie se adresse aan die applikant onbekend is. Hulle misbruik drank. Hulle het belangstelling in hom verloor en hom geabandonneer. Tot Februarie 2006 het hy in haglike omstandighede in ’n plakkerskamp te Sir Lowry’s Pas by ’n sogenaamde “Rasta” ingewoon. Hy is erg verwaarloos. Gelukkig is hy in Februarie 2006 deur ’n sekere mev. Wilhelmina Bailey, wat by die Cape Town Society for the Blind werksaam is, by haar in haar huis ingeneem, en sy sorg nou vir hom.


Na bewering is David op of ongeveer 1 November 2004 te Sir Lowry’s Pas deur ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ene Kaptein Young, wat te Somerset-Wes gestasioneer is, met traangas direk in sy oë gespuit. David moes toe 16 jaar oud gewees het. Hy is nou in albei oë permanent blind. Sekere rekords van die Hottentots-Holland Hospitaal dui aan dat hy in November 2004 daar behandel is nadat hy gekla het dat hy drie weke vantevore met traangas in die oë gespuit was, dat hy daarna nie behoorlik kon sien nie, en dat sy oë pynlik en rooi was.


Op 3 November 2006 het David se prokureurs ’n skriftelike kennisgewing ingevolge art. 3(1)(a) en (2)(b) van die Wet aan die respondent ten opsigte van die beweerde insident versend. Dit was natuurlik ongeveer 18 maande nadat dit ingevolge art. 3(2)(a) behoort beteken te gewees het. In hierdie kennisgewing het die prokureurs die volgende besonderhede van die voorval verskaf:


“Op of omtrent 01 November 2004 en te Sir Lowry’s Pass, Somerset-Wes (‘die misdaadstoneel’), en binne die regsgebied van die Hooggeregshof van Suid-Afrika, Kaap die Goeie Hoop Provinsiale Afdeling, was David die slagoffer van ’n geweldsmisdaad deurdat hy sonder provokasie deur ’n SAPD lid, ene Kaptein Young van Somerset-Wes SAPD tydens die uitvoering van sy werkspligte en gedurende sy diensbestek David agter sy nek gegryp en traangas in sy oë gespuit het (‘die geweldsmisdaad’).”


Hulle het namens hom ook beweer dat as gevolg van die “geweldsmisdaad” David sy sig heeltemal verloor het en hulle het die bedrag van R1.5 miljoen as skadevergoeding van die respondent geëis. Op 5 Maart 2007 het die respondent se superintendent van regsdienste vir die Weskaap op hierdie kennisgewing gereageer deur uit te wys dat die kennisgewing nie vir die respondent aanvaarbaar was nie omdat dit ontvang is meer as ses maande na die datum waarop die beweerde skuld opeisbaar sou geword het.


Op 22 Mei 2007 het David se prokureurs die respondent se Provinsiale Kommissaris versoek om sy besluit in die lig van die besondere omstandighede van die geval te heroorweeg, en om ingevolge art. 3(1)(b) van die Wet tot die instel van ’n aksie toe te stem. Op 7 Junie 2007 het die respondent se voormelde superintendent van regsdienste namens hom egter skriftelik geweier om sodanige toestemming te verleen. Dus die nodigheid van die onderhawige aansoek.


Op 20 Junie 2007 is die applikant op aansoek van mev. Bailey deur hierdie Hof as David se kurator ad litem aangestel.


In art. 3(4)(b) van die Wet word drie vereistes genoem waaraan voldoen moet word alvorens ‘n Hof ‘n aansoek om kondonasie ingevolge art. 3(4)(a) kan toestaan: die Hof moet naamlik tevrede wees dat –

  1. die skuld nie deur verjaring uitgewis is nie;


  1. daar gegronde rede vir die skuldeiser se versuim bestaan; en


  1. die betrokke staatsorgaan nie onredelik deur die versuim benadeel is nie.




Mnr. van der Schyff, wat namens die respondent verskyn, het betoog dat die Hof wat so ’n aansoek oorweeg ook die betrokke applikant se vooruitsigte van sukses by ’n uiteindelike verhoor in ag moet neem. Hy het verwys na Melane v. Santam Insurance Company Ltd., 1962(4) SA 531 (A) op 532 C-D, Casserley v. Stubbs, 1916 TPD 310 op 312, Law Society of the Cape of Good Hope v. C., 1986(1) SA 616 (A) op 639 E en Bills of Costs (Pty.) Ltd. & Another v. Registrar, Cape, N.O. & Another, 1979(3) SA 923 (A) op 942 D-E. Hy het aangevoer dat hierdie gemeenregtelike vereiste nie deur die betrokke wetgewing uitgesluit of afgeskaf is nie. Ek stem met hom in hierdie opsig saam, en ek sal binnekort weer na hierdie aspek terugkeer, wat mnr. van der Schyff betoog het van belang is.


Maar eerstens wat die drie wetregtelike vereistes vir kondonasie betref: van die eerste, naamlik dat David se eis teen die respondent nie deur verjaring uitgewis moet gewees het nie, kan daar geen sprake wees dat dit nie die geval is nie. Kragtens art. 3(a) van die Verjaringswet, No. 68 van 1969 verjaar sy eis eers drie jaar nadat hy mondig geword het. Op die vroegste sal dit dus op 19 Mei 2009 verjaar, naamlik drie jaar nadat hy die ouderdom van 18 jaar bereik het (sien art. 17 van die Kinderwet, No. 38 van 2005). Die teendeel is nie namens die respondent aangevoer nie.


Met betrekking tot die tweede vereiste, naamlik dat daar gegronde rede moet wees vir David se versuim om betyds aan die respondent kennis van sy eis te gee, kan ’n mens skaars aan ’n geval dink waar die redes meer gegrond kan wees as wat hulle hier is. Hier het ons te doen met ‘n 16- of 17-jarige kind wat deur sy ouers geabandonneer is, wat verwaarloos, in haglike omstandighede en sonder enige bystand van enige volwassene in ’n plakkerskamp bly, wie se opvoeding waarskynlik ook veel te wense oorlaat, en wat boonop sedert November 2004 heeltemal blind is. Daar kon seer sekerlik nie van hom verwag word om tydiglik aan die formele vereistes van die Wet te voldoen het nie, of selfs van die bestaan daarvan te geweet het.


Weliswaar het daar ’n vertraging plaasgevind vanaf Februarie 2006, toe hy onder mev. Bailey se sorg gekom het, tot die versending van die kennisgewing aan die respondent op 3 November 2006. Hierdie vertraging van ongeveer nege maande is egter na my oordeel in mev. Bailey se beëdigde verklaring voldoende verduidelik: sy moes eers David se vader vind en met hom kontak maak, wat in die omstandighede nie maklik was nie, sodat hy, as David se voog, instruksies aan die prokureurs kon gee, wat eers op 1 September 2006 plaasgevind het. Die tydsverloop is na my oordeel nie onredelik lank nie. Daarna het die respondent natuurlik meer as vier maande gewag voordat hy eers op die kennisgewing op 5 Maart 2007 gereageer het. Mnr. van der Schyff het nie met enige groot geesdrif betoog dat die aansoek op hierdie grond moes misluk nie, en ek dink tereg so. Myns insiens het die applikant daarin geslaag om die bestaan van gegronde redes vir die versuim aan te toon.


Die derde wetteregtelike vereiste is dat die respondent nie deur die applikant se versuim onredelik benadeel moet wees nie. Mnr. van der Schyff het in hierdie verband betoog dat die aangeleentheid na verloop van drie jaar vir die respondent moeilik is om behoorlik te ondersoek omdat rekords in die tussentyd verlore mag gegaan het en die geheue van getuies mag vervaag het, en dat die respondent gevolglik deur die applikant se versuim benadeel is.


In die eerste plek is dit myns insiens onsuiwer om te sê dat die nodige ondersoek deur die respondent eers nou kan begin: die respondent het sedert vroeg November 2006 volledige en skriftelike kennis van David se eis via sy prokureurs in sy besit gehad; daar is geen rede waarom die ondersoek nie reeds ’n jaar gelede kon begin het nie.


Tweedens kom dit uit mev. Bailey se beëdigde verklaring voor dat David die beweerde insident nie aan die polisie aangemeld het nie. Hierdie bewering word nie deur of namens die respondent weerlê nie. Daar sal gevolglik na my oordeel nie juis veel in die vorm van relevante rekords of aantekeninge bestaan het wat intussen verlore kon gegaan het nie. Weliswaar beweer mev. Rozelle Kruger, ’n amptenaar in die respondent se diens, in haar opponerende beëdigde verklaring dat Kaptein Young se dagboek vir die jaar 2004 nie in die argief opgespoor kon word nie. Maar sy skryf hierdie probleem nie aan die tydsverloop toe nie. Sy sê dat die nie-beskikbaarheid van die dagboek “due to an inadequate record keeping system occasioned by budgetary constraints” is. Dit is skaars iets waarvoor David verantwoordelik gehou kan word. Die relevante polisie voorvalleboek is volgens haar in elk geval wel nog beskikbaar, maar daarin sê sy is geen inskrywing oor die betrokke insident nie. In die lig van die afwesigheid van ’n klagte of aanmelding daarvan deur die beweerde slagoffer, David, is dit nie verbasend nie. Mev. Kruger het Kaptein Young gekontak. Hy is nog altyd as getuie vir die respondent beskikbaar, indien nodig. Hy kan egter blykbaar niks van die beweerde insident onthou nie.


Na sorgvuldige oorweging is ek van oordeel dat enige nadeel wat die respondent mag gely het as gevolg van die feit dat die kennisgewing van David se eis ongeveer 18 maande laat was, nie in die omstandighede as onredelik bestempel kan word nie. Afgesien van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander staatsorgane, moet menigte ander groot instellings wat privaat is, soos byvoorbeeld banke en groot maatskappye, daarmee genoëe neem dat hulle soms tot drie jaar moet wag, en by geleentheid selfs langer, waar die eiser byvoorbeeld minderjarig is of was, voordat hulle deur indiwidue vir skadevergoeding of op ander eisoorsake gedagvaar word. Tog gaan daar tot die beste van my kennis nie stemme op dat hierdie tydsverloop in hulle geval onbillik is, of dat dit tot regskendings of onregverdigheid in hul geval lei nie. Waarom moet ’n vertraging van slegs ongeveer twee jaar dan in die respondent se geval as onredelik beskou word? Ook moet in hierdie verband in ag geneem word dat, alhoewel dit nie altyd perfek of heeltemal doeltreffend werk nie, die respondent oor die byna onbeperkte middele van die staat beskik, beide wat finansies en mannekrag betref. Dit sluit natuurlik in die masjienerie wat nodig is om gesofistikeerde rekords te hou en behoorlik te bewaar. Daarteenoor staan David alleen, ’n arm, blinde tienderjarige wie se ouers hom geabandonneer het. Die stryd is hier byna letterlik een tussen David en Goliat.


Dit bring my tot die kwessie van die applikant se vooruitsigte van sukses by ’n verhoor. Weliswaar word die aansoek nie deur ’n beëdigde verklaring van David self gestaaf nie. Was daar so ’n beëdigde verklaring, sou sy saak in hierdie opsig ongetwyfeld sterker gewees het. Daarteenoor is die feit egter dat die respondent die bewerings wat David maak, nie ontken nie: Kaptein Young sê net dat hy die beweerde insident nie kan onthou nie. Die bewering dat David se blindheid deur die polisie se traangas veroorsaak is, is ook deur die respondent in twyfel getrek. Dit is egter alles geskilpunte wat by ’n verhoor behoorlik ondersoek en beslis sal kan word, en dit sou voorbarig van my wees om op hierdie stadium ’n mening daaroor uit te spreek. Ek volstaan deur te sê dat die vooruitsigte van sukses vir die applikant myns insiens nie as so skraal beskou moet word dat dit meer waarskynlik is dat haar eis van die hand gewys sal word, as andersom.


Ook is die vooruitsigte van sukses nie die enigste gemeenregtelike faktor wat die Hof by ’n aansoek soos hierdie in ag moet neem nie. In Melane v. Santam Insurance Co. Ltd., supra, loc. cit. het Holmes, A.R. gesê:


“In deciding whether sufficient cause has been shown, the basic principle is that the Court has a discretion, to be exercised judicially upon a consideration of all the facts, and in essence it is a matter of fairness to both sides. Among the facts usually relevant are the degree of lateness, the explanation therefor, the prospects of success, and the importance of the case. Ordinarily these facts are interrelated: they are not individually decisive, for that would be a piecemeal approach incompatible with a true discretion, save of course that if there are no prospects of success there would be no point in granting condonation.”




Die laaste faktor wat die geleerde Appèlregter hier noem is myns insiens in hierdie geval van aansienlike belang, naamlik die belangrikheid van die saak vir die eiser. Vir David is sy eis teen die respondent van die allergrootste belang wat ’n mens jou kan verbeel: die uitslag daarvan kan sy hele toekoms vir die res van sy lewe verander; dit kan die verskil maak tussen onbepaalde jare van ellende en haglike, blinde armoede aan die een kant, en ’n betreklik draaglike lewe met ordentlike behuising, mediese behandeling, ens. aan die ander. Die tersaaklike faktore is, soos in Melane se saak, supra, loc. cit., gesê is, “interralated”: as een sterk in die guns van die applikant tel, kan dit ’n ander een, wat nie so sterk is nie, oortref. Die belangrikheid van die saak neutraliseer na my mening in die onderhawige geval enige swakhede wat daar by die vooruitsigte van sukses van die aksie mag bestaan.


In die uitoefening van my diskresie, en om die redes wat ek hierbo genoem het, kom ek tot die gevolgtrekking dat die aansoek toegestaan moet word.


Wat die koste van die aansoek betref: gewoonlik word beveel dat die koste van so ’n aansoek koste in die geding moet wees, of dat dit vir latere beslissing moet oorstaan. Hierdie is egter weens sy omstandighede ’n ietwat buitengewone geval. David se jeug, onbeholpenheid, armoede, kwesbaarheid en sy ander persoonlike faktore, en die feitlik lewensbelangrikheid van sy eis (van sy oogpunt beskou), gekoppel met die feit dat die respondent sy bewerings oor die traangas-insident nie kan ontken nie, het ’n meer simpatieke houding aan laasgenoemde se kant myns insiens verdien toe hy versoek is om sy diskresie in David se guns uit te oefen en om tot die instel van ’n aksie toe te stem sonder die vereiste kennisgewing. As gevolg van die respondent se weiering om aldus toe te stem het hierdie aansoek nodig geword. Dit behoort nie nodig te gewees het nie. Verdere tyd is daardeur verspil, en onnodige koste moes aangegaan word. Wat ook al die uitslag van die aksie mag wees, dink ek dat regverdigheid in hierdie omstandighede vereis dat die respondent die koste van hierdie aansoek moet betaal.


Gevolglik word die volgende bevel gemaak:


  1. Ingevolge artikel 3(4)(a) van die Wet op die Instel van Regsgedinge teen Sekere Staatsorgane, No. 40 van 2002 (“die Wet”) word aan die applikant kondonasie verleen vir die versuim voor haar aanstelling as kurator ad litem om betyds aan die respondent ingevolge artikel 3(1)(a) van die Wet kennis te gee van die voorgenome regsgeding waarna verwys word in paragraaf 2 hieronder.


  1. Ingevolge artikel 3(4)(c) van die Wet word verlof aan die applikant verleen tot die instel van ’n regsgeding teen die respondent vir die verhaal van skadevergoeding voortspruitend uit beserings wat die minderjarige kind David Smit op of ongeveer 1 November 2004 te of naby Sir Lowry’s Pas opgedoen het toe ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens na bewering traangas in sy oë gespuit het.


  1. Die applikant word gemagtig om die voorgenome regsgeding in te stel binne 30 kalenderdae vanaf die datum van hierdie bevel.


  1. Die respondent word gelas om die koste van hierdie aansoek te betaal.




_____________________

THRING, R.