South Africa: Supreme Court of Appeal
You are here: SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 2009 >> [2009] ZASCA 46 | Noteup | LawCiteJohaar and Another v S (652/08) [2009] ZASCA 46; 2010 (1) SACR 23 (SCA) ; [2009] 3 All SA 520 (SCA) (21 May 2009)
Download original files | Bookmark/share this page |
DIE HOOGSTE HOF VAN APPéL
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
UITSPRAAK
Saaknommer: 652/08
In die saak tussen:
WAYNE JOHAAR EERSTE APPELLANT
GLENNEAL OCTOBER TWEEDE APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
Neutral citation: Johaar v Die Staat (652/2008) [2009] ZASCA 46 (21 Mei 2009)
Coram: Cloete, Snyders ARR en Griesel Wnde AR
Verhoor: 6 Mei 2009
Gelewer: 21 Mei 2009
Opsomming: Vonnis – menseroof en veelvuldige aanklagte van roof met verswarende omstandighede – eerste appellant gevonnis tot effektiewe termyn van 30 jaar gevangenisstraf en tweede appellant tot 16 jaar gevangenisstraf – of kumulatiewe effek van die opgelegde vonnisse buitensporig is.
BEVEL
Op appél vanaf: Kaapstadse Hooggeregshof (Le Grange R en Samela Wnde R), sittende as ’n hof van appèl teen ’n uitspraak van die streekhof:
Bevel:
‘Beide appèlle word van die hand gewys.’
UITSPRAAK
GRIESEL Wnde AR (Cloete en Snyders ARR stem saam):
Inleiding
[1] Beide appellante het onsuksesvol geappelleer na die Kaapstadse Hooggeregshof (Le Grange R en Samela Wn R) teen die vonnisse aan hulle opgelê in die streekhof te Kaapstad ten opsigte van ’n verskeidenheid van misdade. Met verlof van die hof a quo kom die appellante tans in hoër beroep na hierdie Hof teen die opgelegde vonnisse.
[2] Die twee appellante het oorspronklik, as beskuldigdes 2 en 3 onderskeidelik, saam met ’n derde mede-beskuldigde (die eertydse beskuldigde 1) in die streekhof tereg gestaan op die volgende aanklagte:1
1. menseroof;
2. roof met verswarende omstandighede;
3. gebruik van ’n motorvoertuig sonder die eienaar se toestemming;
4. roof met verswarende omstandighede;
5. roof met verswarende omstandighede (slegs beskuldige 2);
6. roof met verswarende omstandighede (motorvoertuig);
7. huisbraak met die opset om te steel en diefstal (slegs beskuldige 2);
8. roof met verswarende omstandighede (slegs beskuldige 2);
9. roof met verswarende omstandighede (slegs beskuldige 2);
10. roof met verswarende omstandighede (slegs beskuldige 2);
11/12. onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie (slegs beskuldige 2);
13. roekelose bestuur (slegs beskuldige 2).
[3] Beskuldigde 2 het op al dertien aanklagte skuldig gepleit terwyl beskuldigde 3 op aanklagte 1, 2, 3, 4 en 6 skuldig gepleit het. Skriftelike verklarings ingevolge art 112(2) van die Strafproseswet is namens die beskuldigdes ingehandig en hulle is behoorlik skuldig bevind soos aangekla op grond van die bewerings vervat in hul verklarings. Na bewys van sekere vorige veroordelings teen beskuldigde 2 en na verkryging van proefbeampteverslae ten opsigte van beide appellante is hulle soos volg gevonnis:
Beskuldigde 2:
Aanklag 1: 10 jaar gevangenisstraf
Aanklagte 2, 4, 5, 8, 9 en 10: elke aanklag 5 jaar gevangenisstraf
Aanklag 3: 12 maande gevangenisstraf in geheel opgeskort
Aanklag 6: 12 jaar gevangenisstraf
Aanklag 7: 3 jaar gevangenisstraf
Aanklagte 11 & 12 (saam geneem): 3 jaar gevangenisstraf
Aanklag 13 (roekelose bestuur): gewaarsku en ontslaan
Beskuldigde 3:
Aanklag 1: 8 jaar gevangenisstraf
Aanklagte 2 en 4: elke aanklag 4 jaar gevangenisstraf
Aanklag 3: 12 maande gevangenisstraf in geheel opgeskort
Aanklag 6: 10 jaar gevangenisstraf. 2
[4] In die geval van beskuldigde 2 kom dit neer op ’n totaal van 58 jaar gevangenisstraf, maar ten einde die kumulatiewe effek van die vonnisse te versag, het die streeklanddros gelas ‘dat 28 jaar van hierdie vonnis samelopend uitgedien sal word’; met ander woorde ’n effektiewe vonnis van 30 jaar gevangenisstraf. In die geval van beskuldigde 3 het die hof gelas dat 10 jaar van die totaal van 26 jaar samelopend uitgedien word, dus ’n effektiewe vonnis van 16 jaar.
[5] Die vraag vir beregting is of die kumulatiewe effek van hierdie vonnisse so buitensporig is dat hierdie Hof geregtig is om op appèl daarmee in te meng.
Feitelike agtergrond
[6] Die getuienis rondom die agtergrond tot die gebeure is effens karig en is slegs op die beskuldigdes se verklarings ingevolge art 112(2) gebaseer. Daaruit blyk dit dat die reeks misdade gepleeg is gedurende die periode tussen 25 en 29 Junie 2001 en op verskillende plekke tussen Kaapstad en Mosselbaai. Die eerste reeks misdade het op 25 Junie 2001 in Zonnebloem in Kaapstad begin toe beskuldigdes 2 en 3 vir die klaer, mnr Adam Donnely, met ’n vuurwapen gedreig het en hom gedwing het om sy Ford Fiesta motorkar aan hulle te oorhandig en saam met hulle te ry. Hulle het ook geld van hom geëis, waarop hy R60 kontant aan die appellante oorhandig het (aanklagte 1–3).
[7] By ’n Engen vulstasie aan die N2 het die appellante by ’n Quickstop-winkel ingegaan, die winkelassistente met ’n vuurwapen gedreig en hulle gedwing om R200 kontant, een pakkie sigarette en vuurhoutjies te oorhandig (aanklag 4). Daarvandaan het hulle Mosselbaai toe gery (waar beskuldigde 3 skynbaar vandaan kom). Hulle het by ’n sekere huis daar aangeklop en ‘’n tyd lank daar deurgebring’. Later het hulle daar aan die slaap geraak en nadat hulle wakker geword het, het die appellante ‘pille gekoop en daar dit gerook’. Daarvandaan het hulle teruggery Kaap toe. Donnely was steeds saam met hulle en het in ’n sekere stadium self die motor bestuur tot by Caledon, waar beskuldigde 2 die plaaslike tak van American Swiss beroof het van R3 000 deur die winkelassistente met die vuurwapen te dreig (aanklag 5). By ’n onbekende bestemming het die appellante uitgeklim en die klaer se R60 aan hom teruggegee, saam met ’n verdere bedrag van R50, met die opdrag dat hy niemand moes vertel van sy ondervinding nie. (Vermoedelik het die beskuldigdes ook in daardie stadium sy motor aan hom teruggegee, alhoewel dit nie uitdruklik so in die verklarings vermeld word nie.)
[8] Ongeveer twee dae later, op 28 Junie 2001, toe die appellante terug was in die Kaap en nadat beskuldigde 1 ook by hulle aangesluit het, het die drie van hulle in Vredehoek ‘in die rondte geloop’ toe hulle Me Michelle Churchill opmerk waar sy met haar GTS Golf by haar motorhuis intrek. Beskuldigde 2 het haar in haar motorhuis met ’n vuurwapen gedreig terwyl beskuldigdes 1 en 3 haar van die sleutels van haar motor sowel as ’n handsak met R1 000 kontant en ’n selfoon beroof het (aanklag 6).
[9] Met die gesteelde voertuig het die drie beskuldigdes weer die pad gevat Mosselbaai toe. Op Riviersonderend het hulle stilgehou en het beskuldigdes 1 en 2 by die besigheidsperseel van Glenville Hill BJ’s Restaurant ingebreek en ’n geldlaai bevattende ongeveer R1 280 kontant gesteel (aanklag 7).
[10] Later, by ’n vulstasie in Albertinia, het beskuldigde 2 weer eens die betrokke winkelassistente met ’n vuurwapen gedreig en hulle beroof van kontant ter waarde van ongeveer R4 500 (aanklag 9).
[11] Op dieselfde dag het beskuldigde 2 op sy eie ’n verdere vulstasie te Mosselbaai beroof van R2 239 kontant en telefoonkaarte ter waarde van R1 068 (aanklag 8). (Beskuldigdes 1 en 3 het by ’n huis in Mosselbaai agtergebly.) Daarvandaan het beskuldigde 2 ’n sportwinkel in Mosselbaai besoek, waar hy die winkelassistent met die vuurwapen gedreig en van drie paar skoene beroof het (aanklag 10). Toe die beskuldigde die winkel verlaat, het ’n sekuriteitsbeampte alarm gemaak, wat daartoe gelei het dat die polisie ontbied is. Beskuldigde 2 het probeer om van die polisie weg te jaag en het hom in die proses skuldig gemaak aan roekelose bestuur (aanklag 13). Hy is egter uiteindelik deur die polisie aangekeer en gearresteer. Hy was op daardie stadium in onwettige besit van ’n .38-rewolwer en een rondte ammunisie (aanklagte 11 en 12).
[12] Soos reeds genoem, het al drie beskuldigdes by die aanvang van die verhoor skuldig gepleit op die onderskeie aanklagte wat op elk van hulle betrekking het. Al drie het ook onder eed berou uitgespreek oor hul optrede en het die klaers (in dié se afwesigheid) om vergifnis gevra.
Bespreking
[13] Die benadering op appèl ten opsigte van vonnis is welbekend en hoef nie hierin herhaal te word nie. Namens die appellante is die opgelegde vonnisse oor ’n wye front aangeveg. Daar is onder andere aangevoer dat die streeklanddros misgetas het deur die minimum vonniswetgewing as beginpunt te gebruik, eerder as om aandag te skenk aan die proporsionaliteit van die onderskeie vonnisse, soos deur hierdie Hof vereis is in Vilakazi v S.3 Volgens my oordeel steek daar niks in hierdie betoog nie. Die streeklanddros het inderdaad verwys na die toepaslike bepalings van die minimum vonniswetgewing, maar het bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig was wat die oplegging van vonnisse minder as die voorgeskrewe minimum regverdig. Sy het daarop voortgegaan en vonnisse opgelê wat veel minder is as die voorgeskrewe vonnisse. Ek is derhalwe tevrede dat geen mistasting in hierdie opsig deur die streeklanddros begaan is nie.
[14] Wat die individuele aanklagte aanbetref, was dit veral die vonnisse opgelê ten opsigte van die aanklag van menseroof – 10 jaar en 8 jaar gevangenisstraf onderskeidelik – wat namens die appellante gekritiseer is. Weens my siening van die saak as geheel is dit egter nie nodig om ’n finale mening hieroor uit te spreek nie. Selfs indien die appellante ten opsigte van die vonnis op hierdie aanklag gelyk gegee sou word, sou dit myns insiens geen verskil maak aan die uiteindelike vonnis nie. Waar ’n veelvuldigheid van misdade bestraf moet word, moet die hof ag slaan op die totaliteit van die betrokke misdadige optrede en sigself afvra wat die gepaste vonnis is vir al die misdade gesamentlik.4 Waar die vonnis ten opsigte van aanklag 1 dus moontlik gekritiseer mag word dat dit te swaar is, is die vonnisse op ander aanklagte (bv die aanklagte van roof met verswarende omstandighede), aan die ander kant, op die oog af aan die ligte kant. Ook wat aanklag 13 aanbetref, is dit die eerste keer waarvan ek weet dat ’n beskuldigde weens roekelose bestuur van ’n motorvoertuig op ’n openbare pad met slegs ’n waarskuwing en ontslag daarvan afkom.
[15] Die enigste vraag wat dus oorbly, is of daar so ’n treffende onderskeid is tussen die effektiewe vonnisse opgelê deur die streekhof en die vonnisse wat hierdie Hof sou opgelê het dat inmenging geregverdig is. In hierdie verband is namens die appellante betoog dat die streekhof nie die kumulatiewe effek van die vonnisse behoorlik in ag geneem het nie met die gevolg, aldus die betoog, dat ‘die vonnis skokkend onvanpas en buitensporig swaar is’. Voorts is betoog dat ’n hele reeks versagtende faktore, hoewel genoem deur die streeklanddros, nie genoegsame gewig verleen is by vonnisoplegging nie.
[16] Ek stem nie met hierdie betoë saam nie. Dit blyk uit die uitspraak oor vonnis dat die streeklanddros sorgvuldige oorweging geskenk het aan al die tersaaklike faktore, insluitend die persoonlike omstandighede van elke beskuldigde, sowel as die feit dat al drie berou getoon het. Verder is dit opvallend dat die streeklanddros by vonnisoplegging doelbewus daarna gestreef het om deur middel van ’n verskeidenheid meganismes die kumulatiewe effek van die vonnisse te versag. Nie alleen het sy gelas dat ’n groot gedeelte van die totale vonnisse samelopend uitgedien moet word nie; sommige aanklagte is saam geneem vir doeleindes van vonnis (aanklagte 11 en 12); vonnis ten opsigte van een van die aanklagte is in geheel opgeskort (aanklag 3); beskuldigde 2 is op een van die aanklagte gewaarsku en ontslaan (aanklag 13); vonnisse is opgelê – veral ten opsigte van die roofaanklagte – wat veel ligter is as wat elke individuele misdaad normaalweg sou verdien (aanklagte 2, 4, 5, 8, 9 en 10).
[17] Waar dit voorheen, tot ongeveer die vroeë 1990’s, ongewoon was vir ons howe om vonnisse van meer as 25 jaar gevangenisstraf op te lê, was daar niks om dit te belet nie.5 Sedertdien – veral sedert inwerkingtreding van die minimum-vonnis-wetgewing ingevolge Wet 105 van 1997 – het daardie tendens verander. In sigself kan ’n vonnis van 30 jaar gevangenisstraf dus nie as buitensporig of steurend onvanpas bestempel word nie. Die vraag is bloot of dit wel ’n gepaste vonnis in die huidige saak is. In hierdie verband hou ek in gedagte –
‘. . . dat die bepaling van ’n spesifieke tydperk van gevangenisstraf in ’n gegewe geval nie volgens enige eksakte, objektief-geldende maatstaf kan geskied nie, en dat daar dikwels ’n area van onsekerheid kan bestaan waarbinne menings oor die gepaste termyn van gevangenisstraf geldiglik kan verskil; in so ’n geval, selfs al sou hierdie Hof meen dat hy ’n heelwat ligter vonnis sou opgelê het, sou hy nogtans nie ingryp nie, omdat die nodige oortuiging sou ontbreek dat die Verhoorregter nie redelikerwyse die vonnis kon opgelê het waarop hy besluit het nie.’ 6
[18] Die hof a quo het opgemerk dat die opgelegde vonnisse weliswaar ‘aan die swaar kant’ is, maar ‘nie buite verhouding tot die aard en erns van die misdrywe, die belange van die gemeenskap en die appellante se persoonlike omstandighede nie’. Waar die onderhawige vonnisse tot dusver deur drie ervare vonnisopleggers as gepas beskou is, is dit ’n faktor wat myns insiens nie geïgnoreer behoort te word nie.
[19] Wat die aard en erns van die onderhawige misdade aanbetref, het die hof a quo verklaar dat die appellante ‘soos twee rampokkers te werk gegaan het met die pleging van hierdie misdrywe’. Geen kritiek kan myns insiens teen hierdie beskrywing of teen die hof se algemene benadering geopper word nie. Die misdade waaraan die beskuldigdes skuldig bevind is, is klaarblyklik ernstig. Wat gewapende roof van motorvoertuie aanbetref, het hierdie hof in S v Khambule 7 onder andere die volgende gesê:
‘In gevalle van ’n gewapende roof van ’n motorvoertuig, met die voor die hand liggende gevaar van ontvoering, ernstige aanranding en moord op die bestuurder en insittendes, kan die howe nie anders as om swaar strawwe op te lê nie. Die pleeg van hierdie misdaad het so alledaags geword, veral in en om ons groot stede, dat onskuldige mans en vrouens met beklemming op die pad gaan en die ergste vrees. Die brutale optrede van rowers doen ons land enorme skade aan en gooi ’n donker skaduwee oor die vertroue van ons gemeenskap in polisiëring, vervolging en regspleging.‘
[20] Verder moet in gedagte gehou word dat die misdade waaraan die appellante skuldig bevind is nie eenmalige gebeurtenisse was wat by ’n enkele geleentheid op die ingewing van die oomblik gepleeg is nie; dit was ’n hele reeks misdade wat oor ’n periode van vier of vyf dae gepleeg is. Beskuldigde 2 het ruiterlik teenoor die proefbeampte erken dat hy die leidende rol gespeel het in die beplanning en uitvoering van die reeks misdade. Hy en sy mede-beskuldigdes het oorgenoeg geleentheid gehad om tot besinning te kom en hul misdadige optrede te staak, maar hulle het desnieteenstaande voortgegaan om verdere misdade te pleeg. Dit was slegs die tydige tussenkoms van die polisie in Mosselbaai waardeur die reeks rooftogte beëindig is.
[21] Namens die appellante is ook betoog dat die verhoorhof misgetas het deur nie hul vooruitsigte op rehabilitasie in ag te neem nie. In die eerste plek is ek nie oortuig dat die verhoorhof wel hierdie aspek oor die hoof gesien het nie. Die blote feit dat dit nie uitdruklik in die uitspraak vermeld word nie beteken nie dat dit nie in aanmerking geneem is nie. In ieder geval moet die oogmerk van rehabilitasie in die geval van ernstige misdade soos hierdie dikwels terugstaan vir oogmerke soos afskrikking en vergelding.8 Soos dit gestel is in S v Mhlakaza:9
‘Given the current levels of violence and serious crimes in this country, it seems proper that, in sentencing especially such crimes, the emphasis should be on retribution and deterrence. . . . Retribution may even be decisive.’
[22] Wat betref beskuldigde 2 se persoonlike omstandighede, was hy ten tyde van die pleging van die misdade 23 jaar oud, ongetroud en werkloos. Op daardie stadium het hy egter alreeds die volgende rekord opgebou:
Hy is op 4 Februarie 1998 gevonnis tot 18 maande korrektiewe toesig sowel as 288 uur gemeenskapsdiens op twee aanklagte van huisbraak en twee aanklagte van diefstal.
Minder as ses maande later pleeg hy weer diefstal, waarvoor hy op 21 April 1999 gevonnis is tot ’n boete van R600 of 60 dae gevangenisstraf.
Intussen, en slegs ’n maand na die vorige diefstal, pleeg die beskuldigde weer huisbraak met die opset om te steel en diefstal, waarvoor hy op 12 November 1998 gevonnis word tot 18 maande gevangenisstraf. Beide laasgenoemde misdade is dus gepleeg terwyl hy veronderstel was om onder korrektiewe toesig te wees.
Hy is op 22 Junie 1999 op parooltoesig vrygelaat tot 10 Julie 2000. Minder as ’n jaar na verstryking van sy parool pleeg die beskuldigde die huidige reeks misdade.
[23] Uit hierdie geskiedenis, sowel as sy gedrag tydens die reeks misdade tans onder bespreking, is die afleiding onafwendbaar dat die appellant min respek toon vir die regte van ander en die waardes van ’n ordelike gemeenskap. Die geleenthede wat die howe hom in die verlede gebied het om homself te rehabiliteer het hy nie benut nie. Die moontlikheid van herhaling van sy misdadige gedrag is dus sterk en ten einde dit te voorkom, is dit noodsaaklik dat hy vir ’n lang tyd uit die gemeenskap verwyder word.
[24] Wat beskuldigde 3 se posisie aanbetref, is hy weliswaar ouer as beskuldigde 2 (27 jaar), maar het hy ’n mindere rol as beskuldigde 2 gespeel en is hy ook aan minder aanklagte skuldig bevind. Daarbenewens het hy, anders as beskuldigde 2, geen vorige veroordelings nie. Daarvoor het die streekhof hom egter volle krediet gegee deur hom te vonnis tot ongeveer die helfte van die effektiewe vonnis van beskuldigde 2. Indien in gedagte gehou word dat die voorgeskrewe vonnis vir een aanklag van roof met verswarende omstandighede normaalweg 15 jaar gevangenisstraf is vir ’n eerste oortreder, het beskuldigde 3 – wat op drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede sowel as menseroof skuldig bevind is – myns insiens geen rede om te kla oor die ‘afslag’ wat hy op die totaliteit van die misdade ontvang het nie.
Gevolgtrekking
[25] In al die omstandighede is ek van oordeel dat daar geen gronde is om met die opgelegde vonnisse in te meng nie. Beide appèlle word gevolglik van die hand gewys.
________________________
B M GRIESEL
WNDE APPèlrEGTER
VERSKYNINGS:
NMS APPELLANTE: M Calitz
In opdrag van
Regshulpkantoor
Kaapstad
Regshulpkantoor
Bloemfontein
NMS RESPONDENT: W Tarantal
In opdrag van
Direkteur van Openbare Vervolgings
Kaapstad
Direkteur van Openbare Vervolgings
Bloemfontein
1 Geriefshalwe verwys ek hierin na die onderskeie beskuldigdes ooreenkomstig hul beskrywing in die streekhof.
2 Die eertydse beskuldigde 1 is op aanklagte 6 en 7 skuldig bevind en gevonnis tot altesaam 17 jaar gevangenisstraf.
3 [[2008] ZASCA 87; 2008] 4 All SA 396 (HHA) para 18.
4 ‘(T)he court must look at the totality of the criminal behaviour and ask itself what is the appropriate sentence for all the offences’. (Thomas Principles of Sentencing 2ed (1979) p 56, met goedkeuring aangehaal in S v Mpofu 1985 (4) SA 322 (ZH) op 324G–J.)
5 S v Nkosi 1993 (1) SASV 709 (A) op 717a–c en die sake daarin aangehaal.
6 S v Pieters 1987 (3) SA 717 (A) op 734G–I.
7 2001 (1) SASV 501 (HHA) para 24. Sien ook art 51(1), saamgelees met Deel II van Bylaag 2 van die Strafregwysigingswet 105 van 1997.
8 S v Mungati 1992 (1) SASV 550 (A); Vilakazi v S [2008] ZASCA 87; [2008] 4 All SA 396; Mokoena v S [2009] ZASCA 14 para 11.
9 1997 (1) SA 515 (HHA) op 519d–e.

RTF format