South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 2008 >> [2008] ZASCA 145

| Noteup | LawCite

S v Bredenhann (732/07) [2008] ZASCA 145; [2009] 2 All SA 135 (SCA) (27 November 2008)

Download original files

PDF format

RTF format

Links to summary

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share



DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


UITSPRAAK


Saaknommer: 732/07

Geen gesagswaarde

In die saak tussen:



MADLEEN ALBERTINA MARIKE BREDENHANN APPELLANT



en



DIE STAAT RESPONDENT



Neutral citation: Bredenhann v S (732/07) [2008] ZASCA 145 (27 November 2008)



CORAM: CLOETE, COMBRINCK ARR et BORUCHOWITZ WNDE AR


DATUM: 11 NOVEMBER 2008


GELEWER: 27 NOVEMBER 2008


GEKORRIGEER:


OPSOMMING: Moord – feitevraag of appellant skuldig is aan moord of begunstiging by die pleging van moord.

Murder – factual issue whether appellant was guilty of murder or being an accessory after the fact to murder. (Judgment in Afrikaans.)




BEVEL


Op appèl vanaf: Pretoria se Hooggeregshof

Mynhardt, Molopo & Du Plessis RR (Volle hof)


1. Die appèl word van die hand gewys.


UITSPRAAK


COMBRINCK JA (Cloete AR et Boruchowitz Wnd AR stem saam)


[1] Drie vrouens van dieselfde familie, 'n 27-jarige dogter, haar moeder en ouma aan moederskant, het saamgewoon in 'n huis in 'n voorstad van Pretoria. Die moeder en ouma het 'n slaapkamer gedeel en die dogter het in 'n aparte slaapkamer langsaan geslaap. Gedurende die vroeë oggendure van Saterdag 13 April 2003 is die moeder en ouma wreed met 'n byl aangerand terwyl hulle in hul beddens gelê het. Hulle het albei aan hul beserings beswyk. Die dogter, die huidige appellant, is aangekla van die moord op haar moeder en ouma. Die saak het in die Pretoria se Hooggeregshof voor Botha R gedien. Hy het die appellant op beide klagtes skuldig bevind en haar tot twee termyne lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Sy het tot die volbank van die provinsiale afdeling teen die skuldigbevinding appelleer. Met 'n meerderheid van twee teen een is die skuldigbevinding bekragtig. Mynhardt R het die meerderheidsuitspraak gelewer en Molopa R het saamgestem. Du Plessis R het die minderheidsuitspraak geskryf. Laasgenoemde was van mening dat die staat nie daarin geslaag het om te bewys dat appellant aan moord skuldig was nie en dat daar slegs bewys is dat sy skuldig was aan begunstiging by die pleging van moord. As gevolg van hierdie bevinding is spesiale verlof tot appèl tot hierdie hof toegestaan.


[2] Die getuienis voor die verhoorhof is breedvoerig uiteengesit in al drie uitsprake en 'n gedetailleerde uiteensetting in hierdie uitspraak sal oorbodig wees. 'n Bondige opsomming van die vernaamste bewese feite sal voldoen. Verskeie bure het die oggend van 13 April 2003 tussen 4 en 5 uur as gevolg van honde wat geblaf het en geluide wat hulle gehoor het, wakker geword. Hulle het vermoed dat die geluide vanaf die huis waar die drie genoemde vrouens gewoon het, gekom het. Twee van die bure het getuig dat hulle 'n venster hoor breek het en by verdere ondersoek vasgestel dat dit appellant se slaapkamervenster was wat gebreek was. Die een getuie, mnr Du Plessis het appellant buite die venster sien staan, besig om glas uit haar hare te vee. Die ander, mev Wesselman, het appellant in die kamer gesien waar sy besig was om iets uit 'n hangkas te haal. Sy het vir haar geskree en gevra of daar by hulle ingebreek is en of hulle kon help. Appellant het geantwoord dat sy 'OK' is maar dat daar nog iemand in die huis was. Sy het toe die polisie op die noodnommer 10111 ontbied. Appellant het toe met haar motor Pretoria-Noord Polisiestasie toe gery waar sy omtrent 5 vm opgedaag het en aan sersant Robinson vertel het dat daar by haar woning ingebreek is en dat sy by haar moeder en ouma se kamer in is en dat daar net bloed was. Sy het gevra dat die nooddienste ontbied word. Sersant Robinson het gemerk dat daar bloedspatsels op haar arm was. Verskeie polisielede is na die huis waar hul eers moes wag vir die appellant om terug te keer om die motorhek oop te sluit. In die hoofslaapkamer het hulle die lyke van die oorledenes gevind. Hulle het op hulle onderskeie beddens gelê. By appellant se moeder, mev Bredenhann, was daar baie bloedspatsels op die muur, plafon en meubels. Behalwe vir 'n bloedbesmeerde kussing was daar min bloed in die omgewing van wyle mev Wambach, die ouma. Op die bed langs die oorledene het 'n bloedbesmeerde byl gelê. Beide oorledenes is verskeie kaphoue teen die kop toegedien. Die moordtoneel is grafies in fotos wat by die verhoorhof ingedien is, uitgebeeld. Die polisie het opgemerk dat daar bloedspatsels aan appellant se bloes was. Daar is daarop beslaggelê en dit is gestuur vir forensiese ontleding. Appellant het daardie oggend aan verskillende persone uiteenlopende mondelinge verklarings gemaak oor wat die nag gebeur het. Deskundige getuienis deur die staat aangebied, wat nie betwis is nie, het die volgende bewys: eerstens dat beide oorledenes dood is aan bloedverlies as gevolg van die kopwonde wat hulle toegedien is; tweedens, dat doksalimien in beide se bloed gevind is. Dit het daarop gedui dat hul elk 'n normale dosis slaapmiddel ingeneem het. Derdens, dat die bloed wat op die byl gevind is, dié van wyle mev Bredenhann was. Vierdens, dat die bloed wat op appellant se bloes gevind is dié van haar moeder, mev Bredenhann, was. Vyfdens, dat ten einde daardie tipe bloedspatsels op haar bloes te gekry het, moes appellant nie meer as twee meter van die oorledene gestaan het toe die kophoue toegedien is nie.


[3] Appellant het getuig dat sy die nag wakker gemaak is deur die hondjie wat by haar slaap. Sy het opgestaan en gaan water drink in die badkamer oorkant die gang. Sy hoor toe 'n geluid in die kombuis en toe sy kyk, sien sy twee figure. Sy kruip toe weg in die badkamer en sien een persoon gaan by haar kamer in. Sy hardloop toe na haar ma se kamer om haar en haar ouma te waarsku. Toe sy by haar ma se bed kom, kom daar 'n persoon die slaapkamer binne en skakel die lig van die badkamer (wat 'en-suite' was) aan. Sy hurk toe laag langs haar ma se bed. Die persoon kom na haar ma se bed, leun oor en kap na haar ma. Sy spring toe op, skree en gryp hom en probeer hom wegstamp. Hulle stoei en die aanvaller stamp haar toe weg, mik 'n hou na haar, mis en slaan haar ma raak. Sy kruip toe hande-viervoet oor haar ma en haar ouma en vlug by die kamerdeur uit. Die aanvaller skree toe: 'Madeleen (appellant se voornaam) is op pad na jou.' Sy identifiseer die stem as dié van haar oom, Ludwig Wambach. Sy kruip toe weereens weg in die badkamer en daarna hardloop sy haar kamer binne en sluit die deur. Die aanvallers probeer by die kamer inkom en dreig haar dat as sy iets sê oor wat sy gesien het, dieselfde met haar sal gebeur. Die tweede aanvaller se stem het geklink soos dié van Ludwig se seun, Dieter, maar sy was nie seker nie. Daar volg toe twee kaphoue teen die deur. Sy breek toe die venster met haar leeslampie, spring uit, besef sy het haar motorsleutels vergeet, spring terug in die kamer, kry haar sleutels en 'n trui uit die kas en spring weer uit. Sy bevestig dat mnr Wesselman haar gevra het of daar ingebreek is en dat sy gesê het sy is 'OK' maar dat daar nog iemand in die huis is. Sy is toe met haar motor weg polisiestasie toe. Sy het erken dat sy die weergawe van die gebeure aan niemand vertel het voor haar arrestasie nie – nie eens aan haar familielede nie.


[4] Die appellant se getuienis is deur die verhoorhof verwerp as nie redelik moontlik waar nie. Die bevinding is deur die belese regters in die meerderheids- en die minderheidsuitspraak bevestig. Die appellant se advokaat het in sy betoogshoofde aanvanklik aangevoer dat die bevinding van die vier regters verkeerd was. Gedurende betoog voor ons het hy egter toegegee dat hy geen gronde gehad het om die bevinding in twyfel te trek nie. Gevolglik is die feit dat die appellant 'n valse weergawe gegee het van wat gebeur het nie in hierdie appèl in geskil nie. Vir die redes in al drie uitsprake verskaf is ek van mening dat appellant se advokaat se toegewing gegrond is en ek ag dit onnodig om weereens die redes te herhaal waarom haar getuienis verwerp moet word.


[5] Die verhoorhof het bevind dat die omstandigheidsgetuienis teen appellant baie sterk was. Die appellant was in die huis en een van die slagoffers se bloed was op haar klere. Haar verduideliking oor hoe dit gebeur het is vals. Die enigste redelike afleiding wat gemaak kan word is dat sy aandadig was aan die aanval op die twee oorledenes. Die hof het gevolglik dit nie nodig geag om 'n bevinding te maak oor hoe presies die moorde gepleeg is en wie almal betrokke was nie. Die meerderheid in die volbank was van mening dat appellant 'n mededader was. Sy was, so is bevind, deel van 'n komplot en het die werklike daders bygestaan deur te help om die huis binne te kom, die moorde te pleeg en hulle uit die voete te maak. Dit is onwaarskynlik dat sy enige van die moordhoue toegedien het. Du Plessis R in sy minderheidsuitspraak het bevind dat die bloed op appellant se bloes wel aantoon dat sy by was by die moorde, maar nie dat sy noodwendig goedkeurend by was nie. Daar kan nie met sekerheid afgelei word dat appellant haar met die aanval vereenselwig het nie. Die omstandighede in geheel beskou, so is bevind, laat steeds die moontlikheid dat appellant 'n vals weergawe gegee het om die werklike dader te beskerm.


[6] Op die keper beskou draai hierdie appèl om die vraag of die verhoorhof, soos deur Du Plessis R bevind, misgetas het deur te bevind dat daar voldoen is aan die tweede toets in R v Blom1 deurdat 'n ander redelike afleiding uit die bewese feite gemaak kon word, naamlik dat die appellant nie-goedkeurend by was toe die moorde gepleeg is. Hierdie tweede toets blyk uit die volgende dictum van Watermeyer AR in Blom2:

'The proved facts should be such that they exclude every reasonable inference from them save the one sought to be drawn. If they do not exclude other reasonable inferences, then there must be a doubt whether the inference sought to be drawn is correct.'


[7] Voordat hierdie vraag behandel word, is dit dienlik om weer die vermaning in R v Mlambo3 te herhaal:

'An accused's claim to the benefit of a doubt when it may be said to exist must not be derived from speculation but must rest upon a reasonable and solid foundation created either by positive evidence or gathered from reasonable inferences which are not in conflict with, or outweighed by, the proved facts of the case.

Moreover, if an accused deliberately takes the risk of giving false evidence in the hope of being convicted of a less serious crime or even, perchance, escaping conviction altogether and his evidence is declared to be false and irreconcilable with the proved facts a court will, in suitable cases, be fully justified in rejecting an argument that, notwithstanding that the accused did not avail himself of the opportunity to mitigate the gravity of the offence, he should nevertheless receive the same benefits as if he had done so.'

(Sien verder S v Steynberg4.)


[8] Daar bestaan drie moontlikhede as dit kom by die vraag oor wie die moordenaar(s) was, naamlik, eerstens, een of meer vreemdeling(e), of tweedens, 'n persoon of persone aan appellant bekend en derdens, die appellant. By die tweede moontlikheid is die vraag of die appellant goedkeurend by was in die sin dat sy deur haar dade haar assosieer het met die moorde en of sy nie-goedkeurend bygestaan het. Die eerste moontlikheid, (dat vreemdelinge betrokke was), kan onmiddellik uitgeskakel word. Daar was geen gedwonge toegang tot die huis verkry nie. Die drie honde het nie geblaf nie. Met 'n ooggetuie by is dit hoogs onwaarskynlik dat so 'n gewelddadige moordenaar appellant ongedeerd sou gelaat het. Die appellant het dan ook geen rede gehad om 'n valse weergawe te gee van wat gebeur het nie. Indien die appellant self die moorde gepleeg het – die derde moontlikheid hierbo genoem – is sy tereg skuldig bevind aangesien die aard van die aanval sodanig was dat sy nie nodige direkte opset moes gehad het om te moor. Wat die tweede moontlikheid betref, was beide die verhoorhof en die meerderheid in die volbank van mening dat dit te betwyfel is dat die appellant die moordhoue toegedien het en dat sy bystand moes gehad het. Ek kan egter nie sien waarom daar op die getuienis sodanige twyfel moes wees nie. Nie een van die bure het enige ander persone gesien nie. Een het net 'n motor soortgelyk aan haar pa s'n sonder ligte aan in die straat sien verbyry ongeveer die tyd van die moorde, maar dit insigself is niksseggend. Die polisie kon ook geen teken in die huis of daarbuite van enige derde persone vind nie. Die enigste getuienis van ander persone wat betrokke was by die moorde is dié van die appellant en sy was bevind 'n leuenaar te wees. Die waarskynlikhede dui na my mening daarop dat die appellant op haar eie sonder bystand die moorde gepleeg het.


[9] Indien die moorde wel deur 'n persoon (of persone) aan die appellant bekend gepleeg is en sy haar vereenselwig het met sy (of hulle) dade, dan was die verhoorhof korrek en is sy tereg skuldig bevind. Die enigste oorblywende moontlikheid is dat die aanval deur iemand aan die appellant bekend gepleeg is en dat sy haar nie met die misdade vereenselwig het nie, maar slegs hulp verleen het aan die dader deur sy identiteit te weerhou en sodoende hom toegelaat om vervolging vry te spring. Na my mening kan op sterkte van die appellant se optrede die moontlikheid dat sy nie-goedkeurend bygestaan het terwyl die moorde gepleeg is, verwerp word.


[10] Dit is duidelik dat hierdie moorde beplan was – die aanval het nie voortgespruit uit 'n skielike rusie of 'n onverwagte gebeurtenis nie. Die moordtoneel self bewys dit. 'n Vreemde byl is op die ouma se bed gevind – 'n mens bring nie 'n byl in 'n slaapkamer in tensy jy dit as 'n wapen gaan gebruik nie. Dit is duidelik van die posisies waarin die lyke gevind is dat hulle op hul beddens gelê en slaap het toe hulle aangeval is. Die feit dat hulle oënskynlik geen weerstand gebied het (behalwe dat die ouma 'n hou moes probeer afweer het, aangesien een van haar vingers afgekap is) en nie geskree het nie, getuig ook hiervan. As daar 'n geheimsinnige maar bekende aanvaller was, moes hy geweet het dat die appellant ook in die huis sou wees en dat hy 'n plan moes maak met haar. Tog, volgens die hipotese, stap hy by haar kamer verby om die moorde te pleeg sonder om hom oor haar te bekommer – en wanneer sy wel op die moordtoneel verskyn, doen hy haar geen leed aan nie. Die vraag ontstaan eerstens, hoe het sy in die moordkamer beland en tweedens, hoe het dit gekom dat sy binne twee meter van haar ma gestaan het toe dié aangeval is?


[11] Óf die appellant het geweet die aanval gaan plaasvind en sy het saam met of net na die moordenaar die kamer binnegegaan, óf sy was onbewus van wat gaan gebeur en het as gevolg van ander faktore onwetend dat iets gaan gebeur, ingegaan. In die eerste geval sou dit beteken sy was goedkeurend by die moorde. In die tweede geval sou 'n mens verwag dat sy onmiddellik sou gil en vlug toe sy 'n persoon met 'n byl in haar moeder se kamer waargeneem het – wat sy nie gedoen het nie.


[12] Die vraag oor hoe sy baie naby haar ma was toe die dodelike houe toegedien is strook ook glad nie met die 'nie-goedkeurende bystander' teorie nie. Volgens die fotos en sketsplan wat ingehandig is, het die twee beddens waarop die oorledenes gelê het so te sê teen mekaar gestaan met die ouma se bed naaste aan die deur. Tussen die moeder se bed en die ver kant se muur het 'n laaikas en 'n bedkas gestaan met 'n spasie van ongeveer 'n halwe meter tussen die kant van die bed en die kaste. Die aanvaller moes in hierdie spasie gestaan het toe hy die dodelike houe toegedien het. Appellant kon nie langs hom gestaan het nie – die spasie is te nou en sy moes dus half voor hom gestaan het om die bloed op haar bloes te gekry het. Hoe sy as 'nie-goedkeurende' toeskouer in hierdie posisie kon beland het, is onverklaarbaar. As sy die houe en die bloed wat gespat het waargeneem het, sou 'n mens ook verwag dat sy al gillend uit die kamer sou vlug en gaan hulp soek. Maar wat maak sy? Sy gaan terug na haar kamer, breek 'n venster en as haar buurvrou navraag doen oor wat aangaan, sê sy sy is 'allright'. Sy sê niks van die gruweltoneel wat sy waargeneem het en dat haar ma baie ernstig beseer is nie. Sy kon immers nog noodhulp ontbied het om haar ma te behandel – sy kon toe nie al geweet het dat sy dood is nie. Sy het dan nog tyd gehad om daaraan te dink om 'n trui uit die kas te haal om vermoedelik saam te neem indien sy koud kry. Sy het verder ook tyd gehad om, nadat sy by die buitehek uit is, te stop, die hek toe te maak en te sluit – dit terwyl haar moeder en ouma besig is om dood te bloei. Sy moes ook by gewees het to haar ouma aangeval is, aangesien sy vir haar vorige kêrel se suster, wat sy op pad polisiestasie toe gebel het, gesê het dat haar moeder en haar ouma beseer is.


[13] 'n Verdere vraag wat nie rym met die 'nie-goedkeurende bystander' moontlikheid is waarom appellant valse weergawes aan verskeie mense gegee het oor wat gebeur het. Aan sersant Robinson het sy gesê daar is by haar woning ingebreek. Aan inspekteur Otto, een van die eerste polisiemanne op die toneel, het sy gesê dat sy in haar kamer gelê het en toe iemand in die woning gehoor het. Sy het 'n ruit gebreek, uitgeklim en polisiestasie toe gery. Aan 'n mnr Fouche, 'n paramedikus wat haar vir skok behandel het dieselfde oggend, het sy gesê dat sy alleen in haar kamer was toe sy kapgeluide hoor. Sy het geskree sy gaan die polisie bel en is toe by die gebreekte venster uit polisiestasie toe. Aan haar broer, Albertus Bredenhann, het sy vertel dat toe sy agtergekom het dat daar mense in die huis was, sy haar deur gesluit het. Sy het nie gesê dat sy iemand gesien of herken het nie. Voor haar arrestasie het sy ontken dat sy op die moordtoneel was. Eers toe dit blyk dat sy moet verduidelik hoe haar moeder se bloed op haar bloes gekom het, het sy met die weergawe gekom wat sy ook in die verhoorhof herhaal het – wat vals was. As sy haarself nie met die moorde assosieer het nie en slegs ten doel gehad het om die identiteit van die aanvaller te weerhou om hom te beskerm, waarom nie van die begin af vertel dat sy 'n ooggetuie was tot die moorde, maar dat die moordnaar aan haar onbekend was of 'n masker aangehad het en sy hom nie kon identifiseer nie?


[14] Alles in ag genome is ek van mening dat daar geen moontlikheid bestaan dat die appellant nie die moorde goedgekeur het nie. Óf sy het die moorde self gepleeg wat myns insiens die waarskynlikste is, óf sy het haar vereenselwig met dade van die aanvaller en hom aktief bygestaan in die pleeg van die misdrywe.


[15] Die appèl word van die hand gewys.




………………………..

P C COMBRINCK

APPÈLREGTER



VERSKYNINGS:


VIR APPELLANT: J P KRIEL (PROKUREUR)

IN OPDRAG VAN: J P KRIEL & KIE

PRETORIA

KORRESPONDENTE: NAUDES

BLOEMFONTEIN



VIR RESPONDENT: E C J WAIT



IN OPDRAG VAN: DIE DIREKTEUR VAN OPENBARE VERVOLGING

PRETORIA

KORRESPONDENTE: DIE DIREKTEUR VAN OPENBARE VERVOLGING

BLOEMFONTEIN




2 Te 202 in fine - 203

3 1957 (4) SA 727 (A) te 737F-738D