[28]
‘n Hof het die inherente bevoegdheid om ‘n misbruik van die hofproses te voorkom deur die
belange van die benadeelde litigant te beskerm. In die omstandighede is ABSA dus geregtig dat sekuriteit gestel word vir die verkoopprys van die betrokke silosertifikate. Mnr Wepener,
namens ABSA, het aan die hand gedoen dat Du Preez en Beyplas gelas word om alle tersaaklike dokumente ten opsigte van die verkoop
van die silosertifikate te verifieer en binne vyf dae aan die Griffier te lewer. Hy het verder versoek dat sekuriteit de restituendo tot bevrediging van die Griffier vir die waarde van die silosertifikate in geskil, verskaf word. Alhoewel dit gepas is, na my mening,
dat Du Preez en Beyplas gelas word om sekuriteit te stel, soos versoek, het ek ‘n probleem om die Griffier te belas met die
vasstelling van die omvang daarvan. Die enigste bevoegdheid van die Griffier in hierdie verband, is die bepaling van die bedrag ten
opsigte van die sekuriteit vir koste, soos in die vooruitsig gestel deur Hofreël 47 (2) en (6). Indien Du Preez en Beyplas sou
poog om para 3(b) van die bevel te ontduik, of versuim om daaraan te voldoen, sal ABSA geregtig wees om die Hof te nader vir die
nodige regsverligting, met ‘n gepaste kostebevel. Die verkoopprys van graan op SAFEX op 6 Oktober 2005, synde datum
van eksekusie, is openbare kennis, en behoort dit nie moeilik vir ABSA te wees om dit vas te stel nie. Indien Du Preez en Beyplas
‘n ander prys elders verkry het, staan dit hulle vry om hierdie inligting aan ABSA te openbaar.
[29]
Wat koste betref, is namens ABSA betoog dat ‘n bestraffende kostebevel verleen moet word ten opsigte
van hierdie aansoek. Alhoewel hier sprake is van laakbare optrede aan Du Preez en Beyplas se kant, is dit, na my mening, nie van
so ‘n ernstige aard om hulle met ‘n bestraffende kostebevel te penaliseer nie. Alhoewel hulle fouteer het, het hulle
klaarblyklik die betrokke silosertifikate te gelde gemaak omdat hulle geglo het dat dit hulle s’n was.
[30]
In die lig van die slotsom waartoe geraak is, is dit onnodig om te handel met die ander argumente geopper
deur ABSA se advokaat.
[31]
Bygevolg word die volgende bevele verleen ten opsigte van beide saak nr 343/06 en saak nr 344/06:
1.
Die appèl slaag met koste, welke koste sal insluit dié verbonde aan twee advokate.
2.
Die bevel van die Hof a quo en die bevel nisi, met gepaardgaande kostebevele, word ter syde gestel en vervang met die volgende:
‘(a)
Die aansoek word na verhoor verwys.
(b)
Die koste van die aansoek sal koste in die geding wees.
(c)
Die kennisgewing van mosie sal as enkelvoudige dagvaarding en die antwoordende
eedsverklaring
as ‘n kennisgewing van voorneme om te verdedig staan.
(d)
Die applikant word gelas om ‘n deklarasie te liasseer binne 30 dae vanaf datum van
hierdie bevel.
(e)
Die teenaansoek ingevolge art 9 (1) van die Wet op Hooggeregshof, 1959 (Wet 59
van 1959)
word afgewys met koste.’
3.
(a)
Die aansoek ingevolge art 22 van die Wet op Hooggeregshof,
1959 (Wet 59 van 1959) slaag met koste.
(b)
Die deklarasie in 2(d) hierbo mag nie afgelewer
word alvorens
die eerste respondent sekuriteit de restituendo vir die
verkoopprys van die sertifikate in geskil, verskaf het nie.
(c)
Indien die eerste respondent versuim om aan bevele
2(d) en
3(b) hierbo te voldoen, word verlof aan ABSA
verleen om die
saak op die rol te plaas en vonnis te neem
vir die verkoopprys
van gemelde silosertifikate.
___________________
S P B HANCKE Wn AR
STEM SAAM:
SCOTT
AR
HEHER
AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2007/67.html