![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Last Updated: 3 December 2005
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
Rapporteerbaar
SAAK NR: 483/04
In die saak tussen :
DIE LID VAN DIE UITVOERENDE RAAD
VAN DIE
VRYSTAAT BELAS MET ONDERWYS EN
KULTUUR Appellant
- en -
MANDA LOUW Eerste
Respondent
MARTIN LOURENS OOSTHUIZEN Tweede Respondent
________________________________________________________________________
Coram: SCOTT, STREICHER, NAVSA, MTHIYANE & VAN HEERDEN ARR
Verhoor: 8 SEPTEMBER 2005
Gelewer: 23 SEPTEMBER 2005
Opsomming: Nalatige handeling deur 'n personeellid in diens van 'n openbare skool in die uitvoering van haar dienspligte - art 20(10) van Wet 84 van 1996 sluit nie Staat se aanspreeklikheid vir skade uit nie.
________________________________________________________________________
U I T S P R A A K
________________________________________________________________________
STREICHER AR
STREICHER AR:
[1] Kan die Staat aanspreeklik gehou
word vir skade veroorsaak deur 'n nalatige handeling of versuim van 'n werknemer
in diens van
'n openbare skool? Dit is die vraag wat in hierdie appèl
beslis moet word.
[2] Die respondente het as eisers aksie ingestel in die
Hoë Hof te Bloemfontein teen die appellant alternatiewelik die
Primêre
Skool Ficksburg (‘die Skool’) vir betaling van
skadevergoeding ten opsigte van breinskade deur 'n skoolseun, Armand Louw,
opgedoen, toe hy byna verdrink het. Die respondente het in hulle besonderhede
van vordering onder andere beweer dat die voorval veroorsaak
is deur die
nalatigheid van 'n personeellid wat in diens van die Skool was en in die
uitvoering van haar dienspligte gehandel het.
Hulle het verder beweer dat die
appellant ingevolge die bepalings van art 60(1) van die Suid-Afrikaanse Skolewet
84 van 1996 (‘die
Skolewet’) aanspreeklik is vir die skade of
verlies veroorsaak deur die handeling of versuim van die personeellid.
[3] Beide die appellant en die Skool het 'n spesiale verweer ten opsigte van
die respondente se vordering afgelewer ingevolge waarvan
elkeen aangevoer het
dat hy nie aanspreeklik gehou kon word vir die gevorderde skade nie. Die hof a
quo het die Skool se spesiale
verweer gehandhaaf en die respondente se eise teen
die Skool van die hand gewys. Die appellant se spesiale verweer is egter van die
hand gewys. Met die verlof van die hof a quo appelleer die appellant teen
laasgenoemde beslissing.
[4] In sy spesiale verweer het die appellant
aangevoer dat die Skool 'n openbare skool soos bedoel in die Skolewet was; dat
die personeellid
ingevolge die bepalings van art 20(4) alternatiewelik
art 20(5) van die Skolewet deur die Skool in diens geneem is; dat
die
appellant vir doeleindes van die Skolewet die Staat is; en dat, ingevolge die
bepalings van art 20(10), die Staat nie aanspreeklik
gehou kan word vir 'n
handeling of versuim van 'n persoon wat so in diens geneem is
nie.
[5] Ingevolge art 15 van die Skolewet is elke openbare skool 'n
regspersoon met die wetlike bevoegdheid om sy werksaamhede ingevolge
die
Skolewet te verrig. Artikel 20(4) bepaal, behoudens sekere voorbehoude, dat 'n
openbare skool opvoeders in diens kan neem en
art 20(5) bepaal, ook
onderhewig aan sekere voorbehoude, dat 'n openbare skool nie-opvoeders in diens
kan neem.[1]
[6] Artikel 60(1) van
die Skolewet, synde die artikel waarop die respondente steun, bepaal dat die
Staat aanspreeklik is vir enige
skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg
van enige daad of versuim in verband met enige opvoedkundige aktiwiteit wat deur
'n
openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik
sou gewees het by gebrek aan die bepalings van die artikel.
Enige eis weens
skade of verlies in die subartikel beoog, moet ingevolge subartikel (3) teen die
betrokke Lid van die Uitvoerende
Raad ingestel word soos wat in hierdie geval
gedoen is.[2]
[7] In sekere gevalle
word die aanspreeklikheid van die Staat egter uitgesluit. Artikel 20(10) bepaal
naamlik dat ‘ondanks art
60’ die Staat nie aanspreeklik is
‘vir enige handeling of late by 'n openbare skool wat voortspruit
uit sy kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeel
aangestel ingevolge subartikels (4) en
(5) nie’. Dit is op grond van
hierdie bepaling dat die appellant aanvoer dat die Staat nie aanspreeklik gehou
kan word vir
die handeling of late van die betrokke personeellid nie.
[8] Die hof a quo het bevind dat art 20(10) slegs die aanspreeklikheid van
die Staat uitsluit ten opsigte van 'n openbare skool se
kontraktuele
verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeellede wat deur die skool
self aangestel is, soos byvoorbeeld die
verpligting om 'n salaris te betaal. Die
hof a quo was van mening dat die weglating in art 20(10) van die woorde 'skade
of verlies'
wat in art 60(1) gebruik word, die uitleg dat art 20(10) nie bedoel
was om ‘delikte te betrek nie’ versterk. Verder dat
die woorde
‘teenoor die personeel’ in art 20(10) daarop dui ‘dat die
bedoeling was om te verwys na eise van die
personeel self teen die skool en nie
na eise van andere en wat voortspruit uit die skool se posisie as werkgewer van
so 'n personeellid
nie’.[3]
[9] Die advokaat vir
die appellant het betoog dat die hof a quo fouteer het deur te bevind dat art
20(10) nie betrekking het op onregmatige
dade nie. Hy het betoog dat art 60 nie
die Staat aanspreeklik maak vir die kontraktuele verpligtinge van 'n openbare
skool nie en
dat die woorde ‘ondanks artikel 60’ in art 20(10) geen
doel dien indien laasgenoemde artikel slegs bedoel is om die aanspreekliheid
van
die Staat vir die kontraktuele verantwoordelikhede van die openbare skool
teenoor sy personeellede uit te sluit nie. Aldus sy
betoog sluit die artikel
aanspreeklikheid aan die kant van die Staat uit ten opsigte van skade of verlies
gely as gevolg van 'n handeling
of late voortspruitende uit die kontraktuele
verhouding tussen die openbare skool en personeel aangestel deur die openbare
skool
ingevolge subartikels (4) en (5).
[10] Die hof a quo het dus beslis dat
art 20(10) 'n openbare skool se aanspreeklikheid om 'n handeling te verrig of
nie te verrig
uitsluit terwyl die appellant betoog het dat die artikel
aanspreeklikheid vir skade of verlies as gevolg van 'n handeling of late
uitsluit.
[11] Die Engelse weergawe van art 20(10) lees soos
volg:
‘Despite section 60, the State is not liable for any act or
omission by the public school relating to its contractual responsibility
as the
employer in respect of staff employed in terms of subsections (4) and
(5).’
Dit verskil van die Afrikaanse weergawe wat praat van 'n
handeling of late ‘by’ (nie deur) 'n openbare skool. Die artikel
is
in die Wet ingevoer deur die Wysigingswet op Onderwyswette 100 van 1997 waarvan
die Afrikaanse weergawe deur die President geteken
is. Artikel 82 van die
Konstitusie bepaal dat die ondertekende eksemplaar van 'n Parlementswet afdoende
bewys van die bepalings van
daardie wet is. 'n Hof kan egter die bewoording van
'n statutêre bepaling aanpas waar dit nodig is om gevolg te gee aan die
duidelike bedoeling van die
wetgewer.[4] Dit is onwaarskynlik dat
die bedoeling kon gewees het dat die Staat aanspreeklik sou wees vir die
nakoming van kontraktuele verpligtinge
teenoor personeel by die openbare skool
maar nie elders nie. Dit is ewe onwaarskynlik dat die bedoeling kon gewees het
dat die Staat
nie aanspreeklik sou wees vir skade of verlies as gevolg van 'n
handeling voortspruitend uit die kontraktuele verantwoordelikheid
van 'n
openbare skool teenoor sy personeel indien die handeling by die skool verrig is
maar nie indien dit elders verrig is nie.
Verder dui die feit dat die
‘handeling of late’ een moet wees wat voortspruit uit die openbare
skool se kontraktuele
verantwoordelikheid as werkgewer teenoor sy personeel
daarop dat 'n handeling of late ‘deur’ die openbare skool, soos
in
die Engelse teks, bedoel word en dit is hoe die artikel na my mening
uitgelê moet word.
[12] Artikel 20(10) handel dus met 'n handeling of
late deur 'n openbare skool en nie met die verpligting van 'n openbare skool om
'n handeling te verrig of nie te verrig nie. Die woorde ‘ondanks art
60’ verleen steun aan hierdie uitleg. Artikel 60
handel met skade of
verlies wat veroorsaak word deur 'n daad of versuim en nie met die verpligting
om 'n handeling te verrig of nie
te verrig nie. Die woorde dui dus ook daarop
dat art 20(10) gerig is op die gevolge van 'n handeling of late deur 'n openbare
skool
en nie op die verpligting om die handeling te verrig of nie te verrig nie.
Verdere steun vir hierdie uitleg is te vinde in die feit
dat 'n openbare skool
'n regspersoon is. Dit volg dus nie uit die magtiging aan so 'n openbare skool
ingevolge subartikels (4) en
(5) om dienskontrakte aan te gaan dat die Staat
aanspreeklik is vir die kontraktuele verpligtinge so deur die openbare skool
aangegaan
nie. Die Skolewet bepaal ook nie dat die Staat vir sulke kontraktuele
verpligtinge aanspreeklik sal wees nie. Daar was dus geen rede
om sodanige
kontraktuele verantwoordelikhede uit te sluit nie wat dit onwaarskynlik maak dat
dit die doel beoog met art 20(10) was.
[13] Hierdie uitleg van art 20(10)
help die appellant egter nie, selfs nie indien aanvaar word dat die handeling of
late van die betrokke
personeellid 'n handeling of late deur die Skool was nie.
Die aanspreeklikheid van die Staat word uitgesluit ten opsigte van 'n handeling
of late wat voortspruit uit 'n openbare skool se ‘kontraktuele
verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeel aangestel
ingevolge
subartikels (4) en (5)’. In hierdie geval het die personeellid se
handeling of late moontlik voortgespruit uit haar
kontraktuele
verantwoordelikheid teenoor die Skool maar het dit duidelik nie voortgespruit
uit die kontraktuele verantwoordelikheid
van die Skool teenoor haar soos vereis
deur die artikel nie.
[14] Artikel 20(11) sluit dus nie die aanspreeklikheid
van die Staat uit ten opsigte van die skade wat deur die respondente gevorder
word nie. Dit volg dat die hof a quo tereg die appellant se spesiale pleit van
die hand gewys het.
[15] Die appèl word van die hand gewys met koste,
insluitende die koste van twee advokate.
_________________
STREICHER AR
SCOTT AR)
NAVSA AR)
MTHIYANE AR) STEM SAAM
VAN HEERDEN
AR)
[1] Artikels 20(4) en (5) lees soos volg:
'(4) Behoudens hierdie Wet, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en enige ander toepaslike wet kan 'n openbare skool poste vir opvoeders instel en opvoeders in diens neem bykomstig tot die diensstaat deur die Lid van die Uitvoerende Raad bepaal ingevolge artikel 3(1) van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1994.
(5) Behoudens hierdie Wet, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en enige ander toepaslike wet kan 'n openbare skool poste vir nie-opvoeders instel en nie-opvoederspersoneel in diens neem bykomstig tot die diensstaat wat ingevolge die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994), bepaal is.'
[2] Artikels 60(1) en (3) lees soos volg:
'(1) Die Staat is aanspreeklik vir enige skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige opvoedkundige aktiwiteit wat deur 'n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het by gebrek aan die bepalings van hierdie artikel.
(3) Enige eis weens skade of verlies in subartikel (1) beoog moet teen die betrokke Lid van die Uitvoerende Raad ingestel word.'
[3] Die volledige art 20(10) lees soos volg:
'(10) Ondanks artikel 60 is die Staat nie aanspreeklik vir enige handeling of late by 'n openbare skool wat voortspruit uit sy kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeel aangestel ingevolge subartikels (4) en (5) nie.'
[4] Durban City Council v Gray 1951 (3) SA 568 (A) at 580B.
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2005/85.html