![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Last Updated: 8 June 2005
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
Rapporteerbaar
SAAK NR: 265/03
In die appèl van:
GERT LEOPOLD EHLERS NO Eerste
Appellant
DANIEL HUGO EHLERS NO Tweede Appellant
WILLEM JACOBUS
ERASMUS NO Derde Appellant
TANGENI BOERDERY NR 2 Vierde
Appellant
- en -
HENDRIK GRAPHORN NO Eerste
Respondent
DIE KWAZULU-NATAL NATUURBEWARINGSRAAD Tweede
Respondent
ERF 1435 SINOVILLE (EDMS) BEPERK Derde
Respondent
SAAK NR 278/03
In die appèl en kruisappèl van:
HENDRIK
GRAPHORN Eerste Appellant
ERF 1435 SINOVILLE (EDMS) BEPERK Tweede
Appellant
- en –
DIE KWAZULU-NATAL
NATUURBEWARINGSRAAD Respondent
______________________________________________________________________________
Before: STREICHER, BRAND, CLOETE, HEHER & VAN HEERDEN ARR
Heard: 18 FEBRUARIE 2005
Delivered: 15 MAART 2005
Summary: Nalatige wanvoorstelling – stilswyende term van 'n ooreenkoms.
______________________________________________________________________________
U I T S P R A A K
____________________________________________________________________________
STREICHER AR
STREICHER AR:
[1] Op 20 Junie 1998 het die Kwazulu
Natal Natuurbewaringsraad ('die Raad') 'n wildveiling gehou waartydens, onder
andere, buffels
verkoop is. Die buffels is in 'n katalogus en elders beskryf as
siektevry wat aanduidend daarvan was dat hulle nie met korridorsiekte
besmet was
nie. Dit het egter geblyk nie die geval te wees nie. Van die buffels wat deur
Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk ('Sinoville')
op die wildveiling aangekoop is, is
daarna, ingevolge `n kontrak met `n vennootskap, Tangeni Boerdery Nr 2
('Tangeni'), losgelaat
op die plaas Kleine Waterval waar Tangeni met, onder
andere, beeste geboer het. Korridorsiekte is vanaf die buffels na die beeste
oorgedra as gevolg waarvan talle van die beeste gevrek het en die buffels van
kant gemaak is. Tangeni het daarna aksie vir skadevergoeding
teen die Raad sowel
as teen Sinoville ingestel. In die geval van die Raad beweer Tangeni dat die
Raad 'n nalatige wanvoorstelling
gemaak het dat die buffels siektevry was. In
die geval van Sinoville beweer Tangeni dat dit 'n stilswyende term van sy
kontrak met
Sinoville was dat die buffels siektevry was. Sinoville het ook aksie
teen die Raad ingestel vir skadevergoeding op grond van 'n nalatige
wanvoorstelling dat die buffels siektevry was, alternatiewelik vir terugbetaling
van die koopprys op grond van dwaling ten opsigte
van die koopsaak. Die aksies
is in die Natalse Provinsiale Afdeling ('die hof a quo') ingestel. Hulle
is gekonsolideer en die hof a quo het op versoek van die partye eers met
die aanspreeklikheidsvraagstuk gehandel. Na die aanhoor van getuienis het die
hof a quo bevind:
1.1 Dat die wanvoorstelling deur die Raad aangaande die siektevrye status van die buffels nie nalatiglik gemaak is nie en dat Tangeni sowel as Sinoville se eise teen die Raad gebaseer op 'n nalatige wanvoorstelling, van die hand gewys moes word.
1.2 Dat die koopkontrak tussen die Raad en Sinoville gesluit is op die gemeenskaplike veronderstelling dat die buffels siektevry was; dat die dwaling van beide redelik was; dat die kontrak gevolglik nietig was; en dat Sinoville geregtig was op terugbetaling van die koopprys.
1.3 Dat die kontrak tussen Tangeni en Sinoville nie 'n stilswyende term bevat het dat die buffels siektevry was nie en dat Tangeni se vordering teen Sinoville gevolglik van die hand gewys moes word.
[2] Met die verlof van
die hof a quo appelleer Tangeni nou teen die afwysing van sy
skadevergoedingseise teen die Raad en Sinoville, Sinoville appelleer teen die
afwysing
van sy skadevergoedingseis teen die Raad en die Raad appelleer teen die
bevel dat hy die koopprys moet terugbetaal aan Sinoville.
In die lig van die
gevolgtrekking waartoe ek kom ten opsigte van Sinoville se skadevergoedingseis
teen die Raad op grond van nalatige
wanvoorstelling, sal dit blyk onnodig te
wees om met Sinoville se alternatiewe vordering vir terugbetaling van die
koopprys te handel.
Die enigste oorblywende geskilpunte waarmee gehandel moet
word is of die voorstelling gemaak deur die Raad nalatiglik gemaak is en
of dit
'n stilswyende term van die ooreekoms tussen Tangeni en Sinoville was dat die
buffels siektevry sou wees.
[3] Korridorsiekte is 'n bosluis oorgedraagte
siekte. Besmette buffels is gewoonlik simptoomlose draers van die siekte. Van
besmette
buffels kan die siekte deur 'n bosluis bekend as `n bruinoorbosluis
oorgedra word na onbesmette buffels of beeste. Omdat buffels
kudde diere is en
baie noue kontak met mekaar het, sal daar baie gou verspreiding na al die ander
buffels in 'n spesifieke populasie
wees indien een van die buffels in die kudde
besmet raak en daar bruinoorbosluise in die omgewing is. Wanneer die siekte na
beeste
oorgedra word is die gevolge rampspoedig aangesien meer as 80% van die
aangetaste diere binne 'n periode van 'n maand na aantasting
kan
vrek.
[4] Die bruinoorbosluis is 'n driegasheerbosluis. Sy lewenssiklus begin
by 'n eiertjie wat gelê word deur 'n wyfie nadat sy
'n bloedmaal van 'n
gasheer geneem het. Die eerste stadium van die bosluis wat uit die eier uitbroei
is 'n larfie. Dit is 'n sespotige
bosluismodelletjie met 'n harde doppie wat
kleiner as 'n speldekoppie is. Vir oorlewing moet hy 'n gasheer kry. Vir
dié doel
klim hy teen grashalmpies op waar hy sal sit totdat daar 'n
gasheer verbyloop. Hy kan slegs 'n klein hoeveelheid bloed inneem en
nadat hy
dit gedoen het, los hy waar hy vasgebyt het en val af. Hy vervel dan en kom uit
sy doppie as 'n nimf, synde 'n bietjie groter
bosluismodel. Die nimf kan tot vyf
maande lank oorleef in die veld en gaan deur dieselfde proses as die larf. Nadat
hy vervel het
verskyn hy as 'n volwasse vierpotige bosluis wat óf `n
mannetjie óf `n wyfie kan wees. Ook die volwasse bruinoorbosluis
kan vir
etlike maande in die veld oorleef. Oorlewing van die spesie vereis nou nie
alleen 'n maaltyd nie maar ook die vind van 'n
maat. In die geval van die
volwasse bruinoorbosluis is die voorkeur bytplek die ore. Dit is waar die
mannetjie die wyfie sal vind
en waar hulle sal kopuleer nadat albei vasgebyt
het. Hulle kan vir 'n week of wat op 'n gasheer rondloop voordat hulle vasbyt en
kan afgeskuur word of afval omrede hulle nie van die gasheer hou nie. Eers nadat
twee bosluise gekopuleer het, sal die wyfie haarself
vol suig. Die mannetjie
daarenteen suig homself nooit vol nie. Hy soek wyfies en is meer beweeglik. Hy
kan tot drie maande op `n
buffel rondloop.
[5] Besmetting word nie van die
wyfiebosluis na haar nageslag oorgedra nie met die gevolg dat die larf nie
korridorsiekte kan oordra
nie. Sou so 'n larf egter aan 'n besmette buffel suig
kan hy besmet raak wat tot gevolg het dat hy in sy nuwe gedaante van nimf wel
die besmetting kan oordra. Omdat 'n nimf klein is en klein volumes bloed inneem,
is hulle oordragpotensiaal kleiner as dié
van die volwasse bosluis.
Onderhewig aan die kwalifikasie hierna vermeld verloor 'n besmette nimf of
volwasse bosluis sy besmetting
wanneer hy aan 'n onbesmette dier suig. Dit is
egter nog nie wetenskaplik vasgestel of die mannetjie moontlik sy besmetting
langer
behou vanweë die feit dat hy klein hoeveelhede bloed per geleentheid
inneem nie.
[6] Die buffels in die Addo Olifantpark ('Addo'), waar die
bruinoorbosluis nie voorkom nie, is nie met korridorsiekte besmet nie.
Hulle kan
slegs so besmet raak indien hulle in aanraking sou kom met besmette
bruinoorbosluise. Dit volg dat indien voorsorg getref
word dat Addo buffels nie
in aanraking kom met besmette bruinoorbosluise nie hulle vry van korridorsiekte
gehou kan word.
[7] Ingevolge regulasies uitgevaardig ingevolge die Wet op
Dieresiektes 35 van 1984 mag buffels slegs verskuif word indien gemagtig
deur 'n
permit uitgereik deur die verantwoordelike staatsveearts en dan slegs van en na
grond wat ingevolge die regulasies geregistreer
is by die Direkteur van die
Direktoraat van Dieregesondheid van die Departement van Landbou. Grond word
geregistreer vir die aanhouding
van buffels ooreenkomstig hulle siektestatus
d.w.s. korridorsiektevrye buffels word aangehou op grond wat as
korridorsiektevry geregistreer
is.
[8] As gevolg van die beheermaatreëls
het dit algemene gebruik geword om na buffels wat van Addo afkomstig was en
hulle op geregistreerde
buffelplase bevind, te verwys as siektevrye buffels of
as Addo buffels, al was hulle reeds meerdere geslagte van Addo verwyder.
Mettertyd
het die beskrywing 'siektevry' ook ander siektes soos tering,
bek-en-klouseer en besmetlike misgeboorte ingesluit.
[9] In 1998 was dit
reeds moontlik om by wyse van patologiese toetse te bepaal of buffels inderdaad
vry van korridorsiekte was al
dan nie. Die koste van die toetse het tussen
ongeveer R620 en R1200 per buffel bedra. Vir doeleindes van die toetse moes die
buffels
geïmmobiliseer word ten einde bloedmonsters te bekom.
Nieteenstaande die beskikbaarheid van hierdie patologiese toetse is algemeen
aanvaar dat buffels wat van Addo oorsprong was en hulle op grond geregistreer
vir die aanhouding van siektevrye buffels, bevind het,
siektevry was. Sulke
buffels is algemeen bloot op die basis van hulle herkoms as siektevry verkoop
sonder dat die toetse op hulle
uitgevoer is.
[10] Die buffels wat op die Raad
se wildveiling verkoop is, was afkomstig van die Weenen Natuurreservaat
('Weenen'). Voor 1983 was
daar geen buffels op Weenen. Agtien buffels van Addo
oorsprong is gedurende die periode 1983 tot 1984 op Weenen gevestig. Gedurende
April 1990 is 10 buffels vanaf Weenen na Ithala Natuurreservaat ('Ithala')
oorgeplaas. Op 6 Augustus 1996 is 'n verdere 24 buffels
vanaf Spioenkop
Natuurreservaat ('Spioenkop') oorgeplaas na Weenen. Geen ander buffels is op
Weenen gevestig nie.
[11] Die Spioenkop-buffels het die volgende oorsprong:
Vyf is gedurende September 1988 oorgeplaas vanaf die Willem Pretorius
Natuurreservaat
('Willem Pretorius'); ses is gedurende 1989 oorgeplaas vanaf
Willem Pretorius; en twee is gedurende 1991 oorgeplaas vanaf die Pretoria
Dieretuin. Al hierdie buffels was van Addo oorsprong. Aanvanklik het die rekords
van die Raad aangetoon dat 12 buffels vanaf 'n private
landgoed in Spioenkop
opgeneem is. Heelwat tyd is gedurende die verhoor in beslag geneem deur
getuienis in hierdie verband. Aan die
einde van die verhoor was dit egter
duidelik dat aanvaar moes word dat die buffelkudde te Spioenkop geen ander
oorsprong as Willem
Pretorius en die Pretoria Dieretuin gehad het
nie.
[12] Soos in die geval van Addo kom die bruinoorbosluis nie voor in
Willem Pretorius nie. In Weenen en Spioenkop kom hy egter algemeen
voor.
[13] Nadat 24 buffels gedurende Augustus 1996 vanaf Spioenkop na Weenen
oorgeplaas is was daar nog slegs drie buffels te Spioenkop.
Die oorblywende drie
is voor einde September 1996 van kant gemaak. Na ongeveer nege maande is
buffels, synde afstammelinge van Zoeloelandse
buffels, wat te Kimberley
siektevry geteel is, na Spioenkop oorgeplaas.
[14] In 'n brosjure waarin die
wildveiling geadverteer is, sowel as in die katalogus met betrekking tot die
veiling, word die buffels
wat te koop aangebied is, as siektevry beskryf. Die
afslaer het ook tydens die veiling na die buffels verwys as synde siektevry.
Die
stelling dat die buffels siektevry was, is nie gemaak op sterkte van enige
patologiese toetse wat uitgevoer is om die siektestatus
van die buffels te
bepaal nie maar is bloot op die herkoms van die buffels gebaseer.
[15] Die
veiling is bygewoon deur mnre Graphorn en Ehlers. Graphorn het namens Sinoville
ses buffels (Lot 801) teen 'n koopprys van
R636 000 aangekoop. Indien hy
nie van mening was dat die buffels siektevry was nie sou hy hulle nooit
aangekoop het nie. Buffels
wat nie siektevry was nie, sou maar 'n prys van
ongeveer R15 000 per buffel behaal het. Vanaf die veiling is die buffels
geneem
na 'n geregistreerde buffelplaas te Cullinan vanwaar hulle later (via
‘n geregistreerde buffelplaas te Rustenburg) geneem is
na die plaas Kleine
Waterval. Laasgenoemde verskuiwing het plaasgevind ingevolge 'n skriftelike
ooreenkoms aangegaan tussen Tangeni
verteenwoordig deur Ehlers en Sinoville
verteenwoordig deur Graphorn. Die terme van die ooreenkoms is vervat in 'n brief
geskryf
deur Ehlers en lees soos volg:
'Hiermee stel ek voor dat u u buffels
op my eiendom vestig, op die volgende voorwaardes.
1 Buffels gevestig bly u eiendom.
2 Dieselfde getal as buffels gevestig se eerste kalwers bly u eiendom.
3 Alle kalwers daarna 50% u eiendom.
4 Verwydering van u buffels te eniger tyd.
5 Uitbreek van buffels of vrektes bly u risiko.
6 Verblyf op wildplaas gratis, met vooraf bespreking.'
[16] Die
verskuiwing na Kleine Waterval het plaasgevind op 20 September 1998. Die
bruinoorbosluis kom op die plaas voor. Gedurende
Januarie en Februarie 1999 het
meer as 200 van die beeste op die plaas gevrek as gevolg van korridorsiekte.
Patologiese toetse het
aangetoon dat die buffels wat op Kleine Waterval gevestig
is, met korridorsiekte besmet was. Daaropvolgende toetse op die buffels
te
Weenen, Addo, Ithala, Pretoria Dieretuin, Spioenkop en Willem Pretorius het
aangetoon dat die Weenen- en Spioenkop-buffels besmet
was maar nie die ander
nie. In die lig van die feit dat die patologiese toetse aangetoon het dat die
Ithala-buffels siektevry was
en dat die Kimberley-buffels na hulle verskuiwing
na Spioenkop besmet geraak het, is die logiese gevolgtrekking, wat ook
gemeensaak
is, dat die Weenen-buffels na 1990 besmet geraak het; dat die
Spioenkop-buffels wat in 1996 na Weenen oorgeplaas is, besmet was;
en dat die
laasgenoemde Spioenkop-buffels die besmetting oorgedra het na
Weenen.
[17] Dit is gemeensaak dat óf die invoer van 'n besmette
buffel óf die invoer van 'n besmette bosluis die besmetting
van die
Spioenkop-buffels veroorsaak het. Die partye het nie betoog en op die getuienis
kan nie betoog word, dat een of meer van
die buffels wat vanaf Willem Pretorius
ingevoer is moontlik besmet kon wees nie. In die geval van die Pretoria
Dieretuin is die posisie
egter anders. In 1979 het 'n Amerikaanse bison wat in
'n hok net langs die buffels aangehou is, gevrek en die moontlikheid bestaan
dat
korridorsiekte die oorsaak was. Die feit dat die Pretoria Dieretuin-buffels in
1999 nie met korridorsiekte besmet was nie sluit
nie die moontlikheid uit dat
die buffels wat in 1991 daarvandaan oorgeplaas is na Spioenkop met die siekte
besmet was nie. Dr Cooper,
'n veearts in diens van die Raad, het naamlik
getuig:
'How (do) the negative tests affect the possibility that there still
(was) corridor disease at the Pretoria Zoo when buffalo (were
sent) to
Spioenkop? – It's possible that the infected buffalo were no longer there
or if the buffalo had been kept under tick
free conditions, the possibility
might exist that they had lost that infection.'
Die advokaat wat vir die Raad
opgetree het, het ook self aan dr Potgieter, die Waarnemende Direkteur van
Onderstepoort, gestel: 'Wat
dit vir ons sê is dat die Pretoria Dieretuin
se buffels vandag die datum van die toets, negatief was, maar natuurlik weet ons
nie wat `n moontlike toestand vroeër was nie.' Potgieter het bevestigend
geantwoord. Op die getuienis is dit onwaarskynlik dat
enige ander buffel
verantwoordelik vir die besmetting van die Spioenkop-buffels kon wees.
[18] Indien 'n besmette buffel nie die oorsaak van die besmetting van die
Spioenkop-buffels was nie, was 'n besmette bosluis waarskynlik
die oorsaak. In
Augustus 1999 het dr Cooper, in 'n memorandum aangaande, onder andere, die
onderhoud van siektevrye buffelkuddes
in die natuurbewarings beheerde gebiede
van die Raad soos volg verslag gedoen:
'At this point in time it has not been
possible to link the spread of corridor disease to the Spioenkop buffalo through
the previous
introduction of an infected animal. It is therefore necessary to
consider the possibility that the infection may have been introduced
through the
introduction of an infected tick rather than an infected buffalo thus
necessitating additional control measures.
. . .
At this point in time the
only presumed disease free herd of buffalo left in
NCS[1] controlled areas is the Ithala
herd. For obvious reasons everything possible must be done in order to maintain
it as such.
. . .
Every precaution must be taken to ensure that no brown ear ticks are transported to Ithala either in capture vehicles or on materials used in capture operations. The risk is increased if the capture team has been working in a corridor and buffalo area such as HUP[2] just prior to moving to Ithala. This should be taken into account when planning capture operations.
1) All transport vehicles must be thoroughly sprayed with an acaricide (Bayticol) prior to moving to Ithala.
2) Separate capture material such as netting and plastic should be obtained exclusively for use in Ithala and kept on the Reserve. As an interim measure the netting and plastic material intended for use in Ithala must be sprayed with Bayticol before being packed and transported to Ithala. In addition the material used in Itala should not have been used in a brown ear tick area where buffalo are present for a period of at least two weeks prior to being used in Ithala.
3) Capture and Veterinary staff who may be called to Ithala to treat or capture animals on an ad hoc basis must be aware that they may be carrying infected brown ear ticks and should take precautions to prevent this from occurring. At the very minimum a fresh change of clothing would be required before entering the Reserve.'
Nalatige wanvoorstelling
[19] Dit is
gemeensaak dat die Raad 'n wanvoorstelling gemaak het dat die buffels siektevry
was. Die hof a quo het egter bevind dat nie bewys is dat die voorstelling
nalatiglik gemaak is nie en het gevolglik Tangeni sowel as Sinoville se eise
teen die Raad op grond van nalatige wanvoorstelling van die hand
gewys.
[20] Indien 'n redelike man in die posisie van die Raad onder die
omstandighede nie die voorstelling sou gemaak het nie het die Raad
nalatig
opgetree deur dit wel te maak, andersins nie (sien Sea Harvest Corporation
(Pty) Ltd v Duncan Dock Cold Storage (Pty) Ltd 2000 (1) SA 827 (HHA) op
839G). Die hof a quo het sy bevindings dat die Raad nie die voorstelling
nalatiglik gemaak het nie op die volgende bevindings gebaseer:
a) Die deskundige getuies was van mening dat die Raad, deur nie die buffels voor die veiling patologies te toets nie, binne die aanvaarde norme wat gegeld het ten tyde van die veiling opgetree het en dat hulle self net so sou opgetree het.
b) Die permitstelsel het vir baie jare gegeld en is beskou as voldoende maatreël ten einde die verspreiding van siekte te voorkom.
c) Die Departement van Veeartsenydienste het nie toetsing vereis nie en het die houding ingeneem dat dit nie nodig was om die buffels wat van Weenen na die kopers verskuif sou word te toets nie.
d) Waar dit nie verklaar kan word hoe die buffels besmet geraak het nie dien dit as bewys dat die besmetting van die buffels nie redelik voorsienbaar was nie.
[21] Dr de Waal, die Assistent-Direkteur: Parasitologie van
Onderstepoort Veeartsenykunde Instituut het getuig:
'Gedurende daardie jare
wat daardie stelsel gegeld het, (het u nooit gedink) dat daardie stelsel nie
suksesvol sal werk en dat 'n
mens 'n ander stelsel moet hê nie? –
Nie spesifiek nie, nee.
En daardie praktyk om diere te verkoop of te vervoer,
en hulle status te bepaal deur oorsprong, was algemeen dwarsdeur die land
gebruik
en toegepas? – So ver ek weet, ja.
Dit was die algemene praktyk
wat almal wat buffels wou verkoop of skuif, toegepas het? – Korrek,
ja.'
Dr Krige, wat tot kort voor die verhoor in die hof a quo die
Adjunk-Direkteur van die Departement van Veeartsenydienste was, het getuig dat
niemand wat in 1998 buffels wou verkoop daaraan
sou gedink het om hulle te toets
nie en dat om buffels sonder toetsing te verkoop en te vervoer redelike optrede
was.
'n Gedeelte van mnr Lambrechts, voormalige Direkteur en Hoof van
Natuurbewaring van Gauteng, se getuienis lees soos volg:
'So u sê dit
was glad nie nodig om enige navrae of ondersoeke te doen in verband met sy
siektetoestand nie? – 'n Addo
buffel was skoon, so daarom was dit nie
nodig nie.
Is dit nie so dat sy siektestatus was bepaal deur sy herkoms? – Dis korrek.'
Dr Potgieter het ook getuig:
'Iemand wat tot in 1998
in die natuurbewaringsbedryf buffels verkoop het en die status bepaal (het) deur
herkoms, het redelik opgetree.
– Edelagbare, hulle het binne die aanvaarde
norme wat gegeld het ten tye, opgetree.'
Dit is op sterkte van hierdie
getuienis wat die hof a quo beslis het dat die Raad binne die aanvaarde
norme wat gegeld het ten tyde van die veiling opgetree het.
[22] Lambrechts
het met sy verwysing na 'n Addo buffel bedoel 'n 'buffel wat sy oorsprong direk
vanaf Addo gehad het, wat aangehou
is onder omstandighede wat hy die benaming
Addo buffel verdien'. Later het hy dit nog duideliker gemaak dat slegs in
besondere gevalle
op grond van oorsprong 'n aanname gemaak kon word dat buffels
siektevry is. Hy het naamlik getuig:
'[A]s jy jou lyn sonder kontaminasie kan
terugvoer na 'n skoon buffel en in alle opsigte dit kan waarborg, dan is u
heeltemal korrek,
dan was dit die gebruik om hulle nie te toets nie, want dit
was nie nodig nie.'
‘'n Skoon buffel het in die merendeel van gevalle
sy oorsprong gehad vanaf Addo, wat daar 'n direkte lyn was vanaf Addo na die
plek waar hulle aangehou was met geen sprake, geen moontlikheid van kontaminasie
nie. Daarom is u heeltemal korrek om te sê
in die volksmond word na die
Addo of na die Willem Pretorius buffels verwys as synde Addo buffels, want daar
is geen moontlikheid
van kontaminasie nie, maar dit is vir seker nie die geval
met buffels wat in gebiede gevestig is waar die oorsprong daarvan, van
die
diere, nie klinkklaar kon vasgestel word nie en veral waar daar 'n periode
verloop het waar eksterne invloede wel 'n invloed
kon gehad het, soos met
Weenen.’
[23] Lambrechts se getuienis is duidelik korrek. Die feit dat
verkopers buffels as siektevry verkoop het op grond van hulle oorsprong
kan nie
tot gevolg hê dat dit in alle omstandighede redelik is om dit te doen nie,
selfs indien 'n redelike man sou voorsien
het dat die buffels moontlik in
aanraking gekom het met 'n besmette bosluis of 'n besmette buffel (in 'n gebied
waarin die bruinoorbosluis
voorkom) en hom sou vergewis het van die korrektheid
van die voorstelling. 'n Persoon wat in sulke omstandighede 'n buffel as
siektevry
verkoop is per definisie nalatig. Insoverre De Waal, Krige en
Potgieter bedoel het om te sê dat volgens die aanvaarde norme
van die tyd
`n buffel op grond van herkoms as siektevry verkoop kon word selfs in die
voormelde omstandighede, moet hulle getuienis
gevolglik verwerp word. Dit skyn
egter vir my onwaarskynlik te wees dat hulle dit bedoel het. Indien wel was dit
in stryd met ander
getuienis deur hulle gelewer. De Waal het byvoorbeeld ook
getuig dat indien sy advies gevra sou gewees het, sou hy aanbeveel het
dat die
buffels getoets word alvorens hulle as siektevry verkoop word. Krige het getuig
dat as jy buffels as siektevry adverteer
is die enigste aanvaarbare optrede om
hulle deur 'n veearts te laat toets. Potgieter se getuienis was dat vanuit `n
wetenskaplike
oogpunt is daar geen regverdiging voor om die siektevrye status
van buffels te bevestig sonder om toetse te doen nie. Hy het ook
getuig:
'Indien honderd persent akkurate en betroubare lewensgeskiedenis van sulke
diere voorsien kan word, wat wel op individuele basis identifiseerbaar
is, kan
aannames gemaak word. Ondervinding het egter die risikos van sulke aannames
blootgelê en daarom is die reeks laboratoriumtoetse,
die enigste
betroubare bevestiging van die siektestatus van buffels.'
[24] In elke geval
moet steeds bepaal word of 'n redelike persoon in die posisie van die Raad in
die lig van al die omstandighede
die voorstelling sou gemaak het dat die buffels
siektevry was. Alvorens 'n redelike persoon so 'n voorstelling sou gemaak het,
sou
hy homself eers die vraag afgevra het of daar 'n moontlikheid bestaan dat
die buffels sedert hulle, of hulle voorgeslagte, van Addo
verskuif is, besmet
kon geraak het. Die advokate wat vir die Raad opgetree het, het die korrektheid
van hierdie stelling toegegee
maar het betoog dat 'n redelike persoon, in die
lig van al die omstandighede, sou geoordeel het dat die kanse dat die buffels op
Spioenkop besmet was so gering was dat 'n redelike persoon nietemin die
voorstelling sou gemaak het dat hulle siektevry was.
[25] Namens die Raad is,
soos wat suksesvol gedoen is in die hof a quo, gesteun op die
permitstelsel. Die permitstelsel kan egter hoogstens 'n faktor wees by
beoordeling van die vraag of buffels moontlik
sedert hulle verskuiwing van Addo
besmet geraak het. Vir doeleindes van uitreiking van die permit het die betrokke
staatsveearts
niks meer gedoen as om hom te vergewis van die herkoms van die
betrokke buffels en dat hulle verskuif word van grond na grond wat
geregistreer
is vir die aanhouding van siektevrye buffels nie. Geen ondersoek is gedoen om
vas te stel of die buffels inderdaad siektevry
was nie. Dit sou dus totaal
onredelik wees om 'n permit as bewys van siektestatus te beskou. Dit is nooit as
sulks bedoel nie.
[26] Die feit dat die Departement van Veeartsenydienste nie
toetsing vereis het nie en die houding ingeneem het dat dit nie nodig
was om die
buffels wat van Weenen na kopers verskuif sou word te toets nie, kan ook nie
beskou word as 'n vorm van versekering deur
die Departement dat die buffels
siektevry was nie. Die Departement gee nie voor kennis te dra dat die buffels
nie aan besmetting
blootgestel is nadat hulle of hulle voorgeslagte van Addo
verwyder is nie en kan gevolglik nie geag word so 'n voorstelling te maak
deur
nie toetsing te vereis nie.
[27] Ek stem ook nie saam met die vierde rede
verstrek deur die hof a quo naamlik dat nie verklaar kan word hoe die
buffels besmet geraak het nie en dat dit as bewys dien dat die besmetting van
die buffels
nie redelik voorsienbaar was nie. Dit is gemeensaak dat die
invoering van `n besmette buffel of bosluis of beide die besmetting veroorsaak
het.
[28] Op die getuienis is dit moontlik dat een of beide van die buffels
afkomstig vanaf die Pretoria Dieretuin besmet was. 'n Staatsveearts
het wel 'n
permit uitgereik vir die vervoer van die buffels vanaf die Pretoria Dieretuin na
Spioenkop in welke permit die buffels
as Addo-buffels beskryf is, maar dit dui
niks meer aan as dat die buffels van Addo oorsprong was en dat Pretoria
Dieretuin en Spioenkop
geregistreer was as grond waarop siektevrye buffels
aangehou kon word nie. Die permit dui nie aan dat die buffels inderdaad
siektevry
was nie. Onder die omstandighede sou 'n redelike man hom nie bloot op
die permit verlaat het nie maar sou hy verdere navraag gedoen
het om te bepaal
of die buffels nie moontlik wel besmet was nie. Die Raad het egter geen sodanige
navrae gedoen nie.
[29] Namens die Raad is betoog dat nie bevind kon word dat
die Pretoria Dieretuin-buffels moontlik besmet was nie omrede hulle deur
die
partye as siektevry aanvaar is. Dit blyk wel dat nie in die hof a quo
betoog is dat die Dieretuin-buffels die oorsaak van die besmetting was nie maar
dit blyk ook dat dit nie tydens die verhoor toegegee
is nie die geval te wees
nie. Soos reeds aangetoon, is tydens die verhoor, meer spesifiek tydens die
getuienis van Potgieter en Cooper,
gehandel met die vraag of die Pretoria
Dieretuin-buffels moontlik besmet was en was die getuienis dat dit wel 'n
moontlikheid was.
Onder die omstandighede en by gebrek aan enige getuienis tot
die teendeel, moet bevind word dat daar wel so 'n moontlikheid bestaan
het en
dat navrae in die verband die moontlikheid aan die lig sou gebring
het.
[30] Indien die Pretoria Dieretuin-buffels nie verantwoordelik was vir
die besmetting van die Spioenkop-buffels nie moes dit 'n besmette
bosluis wat
van elders ingevoer is, gewees het. Verskeie van die getuies het getuig ten
aansien van die moontlikheid dat 'n bruinoorbosluis
Spioenkop binnegebring kon
word. Geen een van die getuies kon die moontlikheid uitsluit nie en geen een kon
die moontlikheid kwantifiseer
nie. Krige het wel getuig dat 'n bruinoorbosluis
'met die hand' ingedra kon word maar dat die kans dat dit kon gebeur het, een in
'n paar miljoen was. Dit is egter duidelik dat hy geen basis vir sy
kwantifisering van die moontlikheid gehad het nie. Later het
hy getuig dat
bosluise op nette kon voorkom maar dat die kanse skraal was en dat hy ook aan
gras en hooi gedink het maar dat hy nie
'weet nie'.
[31] Volgens Potgieter
word veesiektes dikwels van een gebied na 'n ander oorgedra deur besmette
bosluise. Dit is 'n algemene praktyk
om diere met bosluisdoders te behandel
voordat hulle vervoer word ten einde die verspreiding van siektes te voorkom. Hy
het getuig
dat bosluise moontlik op ander diere of in vangnette wat gebruik is
om diere te vang of in die 'beddegoed' van diere wat verskuif
word vanuit
bruinoorbosluis endemiese gebiede Spioenkop binnegebring kon gewees het.
[32] Dr W H Stoltsz, 'n senior dosent in die Departement Tropiese Siektes,
Fakulteit Veeartsenywetenskap van die Universiteit van
Pretoria, het wel getuig
dat die kanse dat 'n besmette bruinoorbosluis Spioenkop op 'n gasheer
binnegebring is 'rather remote' was
maar 'for a lack of hard evidence' was hy
nie in staat om 'n persentasie daarop te plaas nie. Hy was van mening dat die
kanse van
die invoer van 'n besmette bosluis so gering was dat niemand gedink
het om voorsorgmaatreëls te tref nie. Tog het hy die moontlikheid
genoem
dat hulle in die beddegoed of in nette ingebring kon word en dat die kans dat
dit kon gebeur van verskeie omstandighede afhanklik
was.
[33] Dr L P Stoltz,
'n voormalige direkteur van die Vrystaatse Direktoraat Natuur en
Omgewingsbewaring was van mening dat 'n besmette
bosluis Spioenkop moontlik
binnegebring kon word maar dat dit onwaarskynlik was. J J Kooy, 'n professionele
wildvanger, het getuig
dat hy nie bewus is van 'n geval waar 'n siekte oorgedra
is deur 'n bosluis wat deur hom vervoer is nie. Hy het verder getuig dat
dit
bykans nie moontlik is dat die besmetting van die buffels in Spioenkop
veroorsaak kon gewees het deur 'n bosluis wat op 'n ander
dier ingebring is nie.
Hy kon geen redes vir hierdie stelling van hom verstrek nie. Hy het ook getuig
dat bosluise in vangnette opgerol
kon word maar dat hy nog nooit gesien het dat
dit gebeur nie. Hy moes egter toegee dat hy nooit aandag daaraan geskenk het
nie.
[34] Cooper het getuig dat dit, met inagneming van die lewenssiklus van
die bruinoorbosluis en die feit dat hy sy besmetting verloor
nadat hy 'n
bloedmaal van 'n dier wat nie besmet is, geneem het, hoogs onwaarskynlik is dat
'n bruinoorbosluis die oorsaak van die
besmetting kon wees. Hierdie getuienis
van hom is egter geensins oortuigend nie. Dit is nie duidelik hoekom die
lewenssiklus van
die bruinoorbosluis die oordrag van besmetting deur 'n bosluis
onwaarskynlik maak nie. Verder affekteer die feit dat die bruinoorbosluis
sy
infeksie verloor op die genoemde wyse nie die moontlikheid dat 'n besmette
bosluis in beddegoed of nette of op 'n ander dier in
'n gebied ingebring kon
word nie. Sy getuienis dat duisende diere vanuit bruinoorbosluis geaffekteerde
gebiede na gebiede waar siektevry
buffels voorkom deur die Raad oorgeplaas is en
dat hy gesien het hoe nette onmiddellik nadat hulle in eersgenoemde gebiede
gebruik
is, in laasgenoemde gebiede gebruik word, versterk die moontlikheid dat
'n besmette bruinoorbosluis op dié wyse Spioenkop
binnegekom het. Die
beddegoed wat gebruik is, is gekoop waar ookal gras beskikbaar was en is saam
met nette en ander toerusting gehou
in skure te Hluhluwe en Umfolozi waar die
bruinoorbosluis vry algemeen voorkom.
[35] Die buffels is reeds vir etlike
jare aangehou in 'n gebied waar die bruinoorbosluis voorkom en waar wild vanaf
besmette gebiede
ingevoer word. Onder die omstandighede was die gevaar van
besmetting van die kudde deur die invoer van 'n bruinoorbosluis veel groter
as
byvoorbeeld in Willem Pretorius waar die bosluis nie voorkom nie of in gebiede
waar nie soveel wild vanaf besmette gebiede ingevoer
word nie. Die besmette
bosluis sal sy besmetting verloor sodra hy aan 'n onbesmette buffel suig en al
sou daardie buffel besmet raak,
is nog bosluise nodig om die besmetting te
versprei.
[36] Nadat die besmetting ondek is het die Raad klaarblyklik
aanvaar dat 'n besmette bruinoorbosluis van een gebied na `n ander oorgedra
kon
word en is stappe geneem om dit te voorkom. Hierdie aanvaarding het nie gespruit
uit enige nuwe kennis wat ten opsigte van die
bruinoorbosluis opgedoen is nie.
Volgens Cooper het hy steeds gemeen dat dit onwaarskynlik was dat 'n bosluis die
besmetting oorgedra
het maar was die bestuurders bekommerd en is algemeen
bespiegel dat dit wel die geval was. Die bekommernis is gedeel deur G R Smith
wat in beheer van Spioenkop was.
[37] Hierdie getuienis toon duidelik dat, as
die Raad voor die wildveiling oorweging geskenk het aan die moontlikheid dat die
buffels
te Spioenkop besmet kon geraak het deur 'n besmette bosluis, hy tot die
gevolgtrekking sou gekom het dat dit wel moontlik was, dat
die moontlikheid nie
gekwantifiseer kon word sonder 'n behoorlike studie nie maar dat dit nie 'n
vergesogte moontlikheid was nie.
Soos reeds gemeld sou 'n redelike man in die
posisie van die Raad oorweging geskenk het aan die voormelde moontlikhede. Hy
sou tot
dieselfde gevolgtrekking gekom het.
[38] Die vraag ontstaan dan of 'n
redelike man nietemin die voorstelling sou gemaak het dat die buffels siektevry
was. Na my mening
sou hy nie en wel vir die volgende redes:
1) Die moontlikheid van besmetting kon nie gekwantifiseer word nie.
2) Die gevolge, indien die buffels wel besmet was, kon katastrofies wees wat betref siektevrye buffelkuddes sowel as beeste.
3) Hy kon homself teen minimale koste in vergelyking met die waarde van die buffels en die potensiële skade wat veroorsaak kon word, vergewis van die ware siektestatus van die buffels. Die immobilisasie van die diere sou geen probleme skep nie aangesien die diere in elk geval voor die veiling in bomas gehou is en verdoof is om etikette aan hulle ore te sit.
[39] Onder die omstandighede het die Raad se gedrag, gemeet
aan die standaard van die redelike man, te kort geskiet. Die wanvoorstelling
deur die Raad is gevolglik nalatiglik gemaak. Dit volg dat die hof a quo
fouteer het deur Tangeni en Sinoville se vorderings teen die Raad gebaseer op
nalatige wanvoorstelling van die hand te wys en deur
slegs op grond van
Sinoville se alternatiewe vordering teen die Raad ten gunste van Sinoville te
bevind. Sinoville se appèl
teen die Raad moet dus slaag en die Raad, wat
aangevoer het dat Sinoville selfs nie op mindere regshulp geregtig was nie, se
appèl
teen Sinoville moet van die hand gewys word.
Tangeni se aksie
teen Sinoville
[40] Soos reeds aangetoon het Tangeni beweer dat dit `n
stilswyende term van die kontrak tussen Tangeni en Sinoville was dat die buffels
wat ingevolge die kontrak op Kleine Waterval gevestig sou word, siektevry sou
wees.
[41] Ehlers het getuig dat toe hy genader is in verband met die
vestiging van die buffels het hy onmiddellik onthou dat dit sogenaamde
'skoon'
buffels was. Hy het altyd die hoogste agting vir die Raad gehad en het kinderlik
geglo dat as die Raad sê buffels is
siektevry dan is hulle siektevry. Hy
het dit duidelik gemaak dat hy nie vir Graphorn uitgevra het oor die
siektestatus van die buffels
nie, dat Graphorn nie gesê het dat die
buffels siektevry was nie en dat hy, wat die siektestatus van die buffels
betref, gesteun
het op wat by die veiling gebeur het. As die Raad nie betrokke
was nie sou hy aangedring het op `n toets ten einde die siektestatus
van die
buffels te bepaal. Hy het getuig:
'[E]k het hom [Graphorn] nog nooit op enige
stadium kwalik geneem dat hy die skuld kan hê dat die buffels wel besmet
was nie.
Dit sou onbillik vir my gewees het, want ek weet presies waarvandaan
die buffels kom.'
[42] Graphorn het ook getuig dat beide hy en Ehlers aanvaar
het dat die buffels siektevry was en dat hulle glad nie daaroor gepraat
het nie.
Hy het wel ook getuig dat dit 'n term van die ooreenkoms was dat die buffels
siektevry was en later dat dit 'n stilswyende
voorwaarde was dat die buffels
siektevry moes wees. In antwoord op die vraag of hy dan aanvaar dat hy versuim
het om siektevrye buffels
te lewer het hy egter geantwoord: 'nee, volgens my
opinie het ons skoon buffels gelewer, want dit is – dit is wat ons gekoop
het.' In die lig van hierdie antwoord is dit moontlik dat hy met sy stelling dat
dit 'n term van die ooreenkoms was dat die buffels
siektevry was, nie bedoel het
om meer te sê as dat dit 'n term was dat hy die 'siektevrye buffels' wat
hy by die Raad gekoop
het, moes lewer nie.
[43] 'n Stilswyende term kan of
die werklike bedoeling van die partye of die bedoeling wat hulle geag moet word
te gehad het, weergee.
Eersgenoemde sal die geval wees waar beide partye
inderdaad aan die term gedink het en bedoel het dat dit deel van hulle
ooreenkoms
moet wees maar dit as so vanselfsprekend beskou het dat dit die geval
was dat hulle dit nie uitdruklik vermeld het nie. 'n Term sal
geag word deel van
die ooreenkoms te wees indien, alhoewel die partye nie daaraan gedink het nie,
met vertroue gesê kan word
dat beide partye, indien hulle ten tyde van
kontraksluiting daarna gevra sou gewees het, sou gesê het dat dit 'n term
van die
ooreenkoms was, dat hulle dit nie uitdruklik ooreengekom het nie omdat
dit vanselfsprekend die geval is. (Sien Wilkins NO v Voges 1994 (3) SA
130 (A) op 136I-137D).
[44] In die onderhawige geval is dit duidelik dat nie
bevind kan word dat die partye inderdaad bedoel het dat dit 'n term van die
ooreenkoms moes wees dat Sinoville siektevrye buffels moes lewer nie. Uit Ehlers
se getuienis blyk dit duidelik dat hy gesteun het
op wat hy by die veiling
gehoor het en nie op enige onderneming hetsy uitdruklik of stilswyend deur
Graphorn nie.
[45] Dit is ewe duidelik dat Ehlers nie indien hy tydens
kontraksluiting daarna uitgevra is, sou gesê het dat Sinoville
aanspreeklik
sal wees indien dit sou blyk dat die buffels inderdaad nie
siektevry was nie. Wat die siektestatus van die buffels betref het hy
gesteun op
die wanvoorstelling deur die Raad.
[46] Namens Tangeni is betoog dat op grond
van Graphorn se getuienis bevind moet word dat die term wel 'n stilswyende term
van die
ooreenkoms was. Aangesien 'n stilswyende term die bedoeling, werklik of
geag, van beide partye weergee, volg dit, in die lig van
Ehlers se getuienis,
dat nie bevind kan word dat die term wel 'n stilswyende term van die ooreenkoms
was nie wat ookal die bedoeling
van Graphorn mag gewees het. In ieder geval is
dit nie vir Graphorn om te sê of die term `n stilswyende term van die
ooreenkoms
was nie en is hy ook nie gekwalifiseerd om dit te doen nie. Dit is
vir die hof om in die lig van die uitdruklike terme van die ooreenkoms,
toelaatbare getuienis ten aansien van die omringende omstandighede en die gedrag
van die partye na kontraksluiting te bepaal of dit
die geval is. (Sien
Wilkins NO v Voges op 136J-137A en 143C en Botha v Coopers &
Lybrand 2002 (5) SA 347 (HHA) para 25.)
[47] Dit volg dat Tangeni se
appèl teen Sinoville van die hand gewys moet word.
Bevel
1 Die appèl van Tangeni Boerdery Nr 2 teen die Kwazulu-Natal Natuurbewaringsraad slaag met koste insluitende die koste van twee advokate.
2 Die appèl van Tangeni Boerdery Nr 2 teen Erf 1453 Sinoville (Edms) Bpk word van die hand gewys met koste.
3 Paragraaf 1(b) van die bevel gemaak deur die hof a quo in saakno. 2753/99 word vervang met die volgende bevel:
‘(b) Dit word verklaar dat die Raad aanspreeklik is teenoor Tangeni Boerdery Nr 2 vir die deliktuele skade gely deur Tangeni Boerdery Nr 2 as gevolg van die wanvoorstelling wat gemaak is deur die Raad, dat die buffels, synde Lot 801, wat verkoop is op die wildveiling van 20 Junie 1998 gehou deur die Raad, siektevry was.
(c) Die Raad word beveel om Tangeni Boerdery Nr 2 se koste te betaal insluitende die koste van twee advokate en die kwalifiserende fooie en uitgawes van die deskundige getuies dr Krige, dr De Waal, dr Potgieter en mnr Lambrechts.’
4 Die appèl van Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk teen die Raad slaag met koste en die appèl van die Raad teen Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk word van die hand gewys met koste.
5 Paragraaf 2 van die bevel van die hof a quo in saakno 2058/01 word vervang met die volgende bevel:
'(a) Dit word verklaar dat die Raad aanspreeklik is teenoor Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk vir die deliktuele skade gely deur Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk as gevolg van die wanvoorstelling wat gemaak is deur die Raad, dat die buffels, synde Lot 801, wat verkoop is op die wildveiling van 20 Junie 1998 gehou deur die Raad, siektevry was.
(b) Die Raad word beveel om die koste van Erf 1435 Sinoville (Edms) Bpk te betaal.'
...............................
STREICHER AR
BRAND AR)
CLOETE AR)
HEHER AR) STEM SAAM
VAN HEERDEN
AR)
[1] Nature Conservation
Services.
[2] Hluhluwe and Umfolozi
Park.
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2005/6.html