![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Last Updated: 8 June 2005
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Rapporteerbaar
Saaknommer : 038 /
04
In die appèl van
PATRICK
RHODE APPELLANT
en
SARAH DOROTHY
STUBBS RESPONDENT
Regbank : MPATI AP, CAMERON,
MTHIYANE, BRAND en CONRADIE ARR
Verhoordatum : 15 MAART 2005
Datum van Uitspraak : 29 MAART 2005
SAMEVATTING
Hersiening van besluite van Pniël Oorgangsraad en Departement van
Plaaslike Bestuur en Behuising Wes-Kaap – geldigheid
van besluite hang
enkel daarvan af of daar samesmelting was van boedels van erflaters aan wie
‘n bemaakte erf behoort het –
boedelsamesmelting as regsfiguur
bespreek - riglyne vir uitleg van gesamentlike en wederkerige testament
herbevestig.
______________________________________________________________________________
U I T S P R A A K
______________________________________________________________________________
CONRADIE AR
[1] Eiendomsreg op alle grond binne die regsgebied van
die Pniël Oorgangsraad het vroeër jare permanent in die Staat
gevestig.
Grondbewoners binne die dorp kon egter op aanbeveling van die
Oorgangsraad en na goedkeuring deur die provinsiale owerheid okkupasieregte
verkry. As deel van ‘n transformasieproses kan grondbewoners of hulle
regsopvolgers nou langs dieselfde weg eiendomsreg op
die betrokke grondstukke
verkry. Die Pniël Oorgangsraad en die Direkteur-Generaal van Plaaslike
Bestuur en Behuising: Wes-Kaap
was respondente in die hof benede. Hulle het die
aangevraagde regshulp nie teengestaan nie en wag ook die beslissing van hierdie
hof af.
[2] Die respondent het voor Van Heerden et N C Erasmus RR
‘n bevel verkry dat sy op ‘n halwe onverdeelde aandeel in twee
erwe
op die dorp geregtig is. Die appellant se aanspraak op die geheel van een van
die erwe is nie gehandhaaf nie. Hy appelleer
met verlof van hierdie hof teen die
beslissing.
[3] Attie en Lettie Williams was binne gemeenskap van goed
getroud. Hulle het gewoon op erf 124 waarop daar twee wonings was. Saam
het
hulle ‘n testament verly waarin bepaal word dat erf 124 na die dood van
die eerssterwende in twee min of meer gelyke
dele verdeel moes word, een deel
met die sogenaamde ou woning en die ander deel met die nuwe woning daarop. Die
ou woning word bemaak
aan Archie Williams, ‘n seun van die egpaar; Ethyl
Mentoor (later Ethyl Robyn), Attie se kind uit ‘n vorige huwelik,
kry die
erf met die nuwe woning.
[4] Attie Williams is eerste oorlede. Kragtens
die likwidasie- en distribusierekening van sy boedel word, uit hoofde van die
huwelik
binne gemeenskap van goed, ‘n halwe onverdeelde aandeel in elkeen
van die erwe aan Lettie toegeken. Attie se halwe onverdeelde
aandeel in die erf
met die nuwe woning daarop word toegeken aan Ethyl Robyn en sy halwe onverdeelde
aandeel in die ander erf aan
Archie Williams.
[5] Voor Lettie se dood op
20 Januarie 1969 was die posisie dus dat Ethyl Robyn geregtig was op een
onverdeelde helfte van die erf
met die nuwe woning (wat later die nommer 171
gekry het). Archie Williams was geregtig op ‘n onverdeelde helfte van die
ander
erf, en die weduwee Williams het onverdeelde helftes van albei die erwe
besit.
[6] Die vraag wat tans ter sprake kom, ontstaan toe Lettie
Williams in haar testament haar onverdeelde helfte van erf 171 aan haar
seun uit
‘n vorige huwelik, Charles Stubbs, bemaak. Haar onverdeelde aandeel in die
ander erf bemaak sy aan
Archie Williams. Sy volle reg op hierdie stuk grond
word deur niemand betwis nie. Charles Stubbs was in lewe die eggenoot van die
respondent wat ingevolge ‘n herverdelingsooreenkoms tussen sy intestate
erfgename geregtig geword het op wat hy ook al van
Lettie ge-erf
het.
[7] In weerwil van die bepalings van die likwidasie- en
distribusierekeninge (wat natuurlik deur die Meester goedgekeur is) en
waarvolgens
Ethyl Robyn reghebbende op slegs ‘n helfte van erf 171 is,
ken die Pniël Oorgangsraad alleenokkupasiereg op die hele
erf 171 aan haar
toe. Met die latere onderverdeling van erf 171, word alleenokkupasiereg op die
twee onderverdelings (wat aanvanklik
192 en 193 genommer is en toe, na ‘n
tyd, 383 en 411 geword het) ondanks betoë aan die Oorgangsraad weer aan
Ethyl Robyn
toegeken.
[8] In 1993 kom Ethyl Robyn ooreen om haar regte op
een van die onderverdelings, erf 411, aan haar skoonseun, die appellant, oor te
dra. Die ander onderverdeling, erf 383, bemaak sy aan haar seun, Arthur Mentoor.
Hy is in die hof benede as die vyfde respondent
siteer, maar neem nie aan
hierdie verrigtinge deel nie.
[9] Indien dit Lettie vrygestaan het om
haar halwe aandeel in die twee erwe te bemaak soos sy wou, sou Ethyl Robyn
‘n halwe
onverdeelde aandeel in erf 171 gehad het (wat aan haar in die
gesamentlike testament van Attie en Lettie bemaak is); sy en Charles
Stubbs (aan
wie die ander onverdeelde halwe aandeel in Lettie se testament bemaak is) sou
derhalwe elk geregtig wees op ‘n
halwe onverdeelde aandeel in erf 171 of
sy onderverdelings, erwe 383 en 411. Ethel Robyn sou derhalwe hoogstens
‘n onverdeelde
helfte van erf 383 aan haar seun, Arthur Mentoor, kon
oordra en hoogstens ‘n halwe onverdeelde aandeel in erf 411 aan haar
skoonseun, die appellant. Indien Lettie nie oor haar halwe aandeel in erf 171
kon beskik nie, sou Ethyl die alleenreghebbende daarop
geword
het.
[10] Dit is derhalwe gemene saak dat die regte van die betrokkenes,
en daarmee die juistheid van die Oorgangsraad en die Departement
van Plaaslike
Bestuur en Behuising se besluite, enkel en alleen daarvan afhang of Attie en
Lettie Williams se testament hulle boedels
saamgesmelt het.
[11] By
boedelsamesmelting word die geheel of gedeeltes van een of meer testateurs
(gewoonlik gades) se boedels vir doeleindes van
testamentêre beskikking in
‘n gekonsolideerde eenheid saamgevoeg. Vir samesmelting is dit dus nodig
dat die een testateur
oor sowel sy eie boedel, of ‘n deel daarvan, as oor
die boedel, of ‘n deel daarvan, van die ander
beskik.
[12] ‘The two elements then which must concur,’
verklaar Innes HR in The Receiver of Revenue Pretoria v CH Hancke and Others
[1] ‘in order to deprive the
survivor of the right to revoke the mutual will are a disposition of the
survivor’s property
or a specific portion of it after the survivor’s
death, and an acceptance by the survivor of some benefit under the will. Upon
electing to take the benefit, he automatically assents to the bequest. On the
other hand if he elects to reject the benefit, he reverts
to his legal position
before the testator’s death, the mutual arrangement falls away, and the
will of the first dying operates
only upon his share of the
property.’
[13] Sedertdien staan dit egter vas dat ‘n
beskikking na die eerssterwende se dood ook boedelsamesmelting kan
bewerkstellig[2] en van die oorlewende
kan verg om ‘n eleksie uit te oefen, m a w om die erflating te verwerp of
dit onderhewig aan ‘n
modus te
aanvaar.[3] As die erflating sub
modo aanvaar word, is die oorlewende vanselfsprekend aan die uitvoering van
die modus gebonde.
[14] Dit is nie in geskil dat die weduwee
Williams, soos in die testament bepaal, vruggebruik van die hele vaste eiendom
geniet het
nie. In sy beantwoordende verklaring sê die appellant dat hy
deur sy regsverteenwoordigers geadviseer is dat ‘Lettie
Williams se keuse
om die voordele van die gesamentlike testament te aanvaar, tot gevolg gehad het
dat boedelsamesmelting plaasgevind
het.’ Die advies is nie korrek
nie.
[15] Aanvaarding van voordele uit ‘n wederkerige testament kan
nie op sigself boedelsamesmelting bewerkstellig nie. As daar
in die eerste plek
geen samesmelting was nie, is enige handeling van die langslewende wat andersins
op adiasie sou dui, betekenisloos.[4]
Adiasie is weliswaar vir die effektiwiteit van ‘n samesmelting
nodig,[5] maar nie vir die
totstandkoming daarvan nie. Daarteenoor het boedelsamesmelting op sigself ook
geen uitwerking nie; dit stel die
oorlewende slegs voor die keuse om voordele
ingevolge die testament te aanvaar en terselfdertyd aan enige opgelegde laste
gebonde
te wees.
[16] Wanneer twee (of meer) testateurs saam in ‘n
testament beskik, ontstaan daar dikwels ‘n grammatikale onduidelikheid.
Die gebruik van die (aangewese) eerste persoon meervoud dra nie ondubbelsinnig
aan ‘n leser van die testament oor of elke testateur
sy wense net ten
behoewe van homself of ook ten behoewe van die ander erflater(s) uitspreek nie.
‘n Oplossing vir die uitlegprobleem
waartoe hierdie strukturele
onduidelikheid aanleiding gee, vind ons reg in die reël dat wederkerige of
gesamentlike testamente
van binne gemeenskap van goed getroude gades in die
eerste plek as aparte testamente gelees moet word.
[6] Die ontleder van so ‘n testament
gaan dus van die veronderstelling uit dat hy of sy met afsonderlike testamente
te doen het
totdat die teendeel duidelik blyk. Die rede vir hierdie benadering
lê in ons gemene reg veranker.
[17] In Joubert v Ruddock and
Others 1968 (1) SA 95 (E) at 98F-G haal Eksteen R ‘n passasie uit
Van Leeuwen Censura Forensis 3.11.6 aan waarin hy die belangrikheid
daarvan onderstreep dat iemand tot aan die einde van sy dae bevoeg behoort te
bly om sy testament
te verander en die stelling motiveer deur te sê
(Schreiner se vertaling) ‘...there is nothing to which men are more
entitled
than that their power of making a last will should be free, and hence
the rule; that no one can deprive himself of this power.’
[18] Die
stelling is nie ongekwalifiseerd korrek nie. ‘n Testateur kan hom
deur boedelsamesmelting die reg ontneem om ‘n eie testament te maak, maar
as daar enige twyfel oor sy bedoeling
bestaan,[7] moet die testament
uitgelê word om die grootste moontlike testeervryheid te laat. Dit gee
aanleiding tot die ondergeskikte
uitlegreël, die vermoede teen
boedelsamesmelting, wat geld wanneer die goue reël vir die uitleg van
testamente, naamlik
om binne die raamwerk van ‘n testament betekenis aan
‘n erflater se woorde te gee,[8]
weens vaagheid of dubbelsinnigheid versaak.
[19] Attie en Lettie Williams
se testament begin met ‘n verklaring van voorneme wat soos volg
lui:‘Ons verklaar dat die
testateur die eienaar is van twee wonings te
Pniël, Paarl distrik met aangrensende grond en dit is ons wens en begeerte
dat
na die dood van die eers-sterwende van ons, die eiendom verdeel sal
word...vir die gesamentlike vrye gebruik van die eienare of bewoners
van die
twee wonings op die eiendom.’
[20] Die verklaring van voorneme is
vatbaar vir die uitleg dat elk van die egliede, as mede-reghebbende, slegs
toestem tot die onderverdeling
van sy eie halwe aandeel in die grond. (Die
feitelike uiteensetting in die testament is nie korrek nie. Die egliede was nie
eienaars
van die grond nie, maar bewoners daarvan en elkeen het ‘n
onverdeelde aandeel op die okkupasiereg gehad; dit is egter
onbelangrik.
[21] Die verdere relevante bepalings van die testament lui
soos volg: 3.’Ons bemaak aan ETHEL MENTOOR (gebore Williams)
dogter van die testateur...die een deel van bogenoemde eiendom na verdeling soos
hierbo beskrywe met die een woning
daarop bekend as die Nuwe
Woning.... 4.Ons bemaak aan ARCHIE WILLIAMS, die seun van die
Testateur en Testatriese, die ander gedeelte van bogenoemde eiendom...met die Ou
Woning daarop. 5.Ons bemaak
aan die langslewende van ons al die huismeubels
en huisgoed nagelaat by die afsterwe van die eers-sterwende van ons. 6.Die
bemakings
van ons vaste eiendom aan ETHEL MENTOOR (geb. Williams) en ARCHIE
WILLIAMS verklaar ons is onderhewig aan die voorwaarde dat, en
ons skenk aan die
langslewende van ons die reg in volle en ongestoorde besit daarvan te bly en die
vruggebruik daarvan te geniet
in die geval van die Testateur tot sy dood en
indien die testatriese die testateur oorleef dan tot haar dood of
hertroue. 7.Indien
die testateur voor die testatriese te sterwe mag kom
verklaar ons dat ons Eksekuteur verplig sal wees om binne drie maande na die
dood van die Testateur ons motorvoertuie en ander losse bate nagelaat by die
dood van die Testateur en wat nie spesiaal bemaak is
in dit ons testament nie,
te verkoop op Publieke Veiling, en die opbrengs daarvan te belê op rente
en op goedgekeurde sekuriteit,
en die rente daarop van tyd tot tyd te gebruik
vir die onderhoud van Freddy Williams, seun van die Testateur. Na afstwerwe van
genoemde
Freddy Williams is dit ons wens en begeerte en verklaar (ons) dat ons
kinders dan in lewe die genoemde kapitaal met rente sal erf
in gelyke
dele. 8. Ons benoem en stel aan die kinders verwek uit ons huwelik as die
erfgename van die restant van ons gesamentlike
boedel en nalatenskap, losse
goedere sowel as vaste eiendom...en begeer dat hulle die restant sal erf in
gelyke dele. 9.As Eksekuteur
van dit ons testament, beredderaar van ons
boedel en nalatenskap en voog oor ons onmondige kinders stel ons aan EDWARD
WILLIAMS...
10.
Ons behou die reg te alle tye hierna om die testament te
verander of by te voeg, dit wil sê deur ‘n ander testament óf
kodisil aan dit ons testament, soos ons mag
goeddink.’
[22] Klousule 8, handel met die beskikking van
‘ons gesamentlike boedel’ ná die dood van die langslewende.
Indien
uit die bewoording van hierdie klousule sou blyk dat die eerssterwende
bedoel het om nie net oor sy eie goed nie, maar ook oor dié
van die
langslewende te beskik, sou dit op ‘n samevoeging van die boedel
dui.[9] Die bepaling is egter nie
naastenby duidelik genoeg om die vermoede teen boedelsamesmelting te
weerlê nie. Eerstens dui die
uitdrukking ‘ons gesamentlike boedel en
nalatenskap’ nie onteenseglik daarop dat die erflaters hulle boedels wou
saamsmelt
nie.[9] Die bepaling is op
sy eie vir twee vertolkings
vatbaar.[10] Dit mag egter nie buite
die samehang van die hele testament gelees word
nie.[11] Daar moet dus na die
gebruik van die woord ‘ons’ in ander paragrawe van die testament
gekyk word.
[23] In klousule 5 is daar die sinsnede ‘ons bemaak aan
die langslewende van ons al die huismeubels en huisgoed’ wat natuurlik
beteken dat die eerssterwende ‘n bemaking aan die langslewende maak.
‘Ons’ moet hier in die enkelvoud verstaan
word: die erflater is die
een wat eerste sterf. In klousule 6 word die vruggebruik oor die vaste eiendom
wat aan Ethyl Mentoor (later
Robyn) en Archie Williams
bemaak word, deur
‘ons’ aan die langslewende geskenk. Weer eens is dit duidelik dat
die erflaters met ‘ons’
die eerssterwende bedoel.
[24] In
klousule 7 (wat met die afsterwe van die testateur vóór die
testatriese handel) word die voorgestelde eksekuteur
‘ons’
eksekuteur genoem; hy is natuurlik die eksekuteur, nie van albei nie, maar van
die testateur, die enigste oorledene
op daardie
stadium.[12] Klousule 7 handel,
terloops, waarskynlik net met die testateur se boedel: Dit is voorsorg wat die
testateur uit sy helfte van die
boedel vir sy seun uit ‘n vorige huwelik
tref. Dieselfde voorsorg blyk uit paragraaf 3 waar Ethyl Mentoor (Robyn), die
testateur
se dogter, verplig word om vir Freddie Williams, die testateur se
seun, ‘n vruggebruik oor die nuwe woning in te
ruim.[13] Die ‘motorvoertuie
en losse bate’ wat die eksekuteur by die afsterwe van die testateur te
gelde moet maak, sou dus kwalik
goed kon insluit wat aan die testatrise
behoort.
[25] Die bewoording van Attie en Lettie se gesamentlike
testament is nie bestand teen die vermoede dat dit as twee testamente vertolk
moet word nie. Saamgevat is die regsposisie dus soos volg: die respondent, Sarah
Dorothy Stubbs is geregtig op ‘n halwe onverdeelde
aandeel in erwe 383 en
411. Arthur Mentoor, die vyfde respondent in die hof benede, is geregtig op
‘n halwe onverdeelde aandeel
in erf 383. Patrick Rhode, die appellant, is
geregtig op ‘n halwe onverdeelde aandeel in erf 411. Daar kan nie met die
bevel
van die hof benede ingemeng word nie.
Die appèl word met koste
van die hand gewys.
J H CONRADIE
APPÈLREGTER
SAMESTEMMEND:
MPATI AP
CAMERON AR
MTHIYANE
AR
BRAND AR
[1] 1915 AD 64 at
72.
[2] Lawsa 1st
reissue vol 31 p242 para 364; Union Government (Minister of Finance) v
Leask’s Executors 1918 AD 447 te
458.
[3] Lawsa 1st
reissue vol 31 p 243 para 365.
[4]
Mills and Another v Estate van Blerk and Others 1914 CPD 857 at
862.
[5] Rohm v The Master and
Another 1950 (1) SA 135 (SR) te
137.
[6] Secretary South African
Association v Mostert 1873 Buch. 31 (PC); Mills and Another v Estate Van
Blerk and Others 1914 CPD 857 at 862 - 863; Vaughan’s Executrix v
The Master 1919 TPD 363; De Kock v Estate De Kock 1922 CPD
110.
[7] D’Oyly-John v
Lousada 1957 (1) SA 368 (N) at
373E-G.
[8] Cuming v Cuming and
Others 1945 AD 201 te
206.
[9]1915 AD 64 te 113.
[9] Estate Coaton v The
Master 1915 CPD 318 te 322-323; De Kock v Estate de Kock 1922 CPD 110
te 115.
[10] Perry and
Another v Executors Estate Oats and Others 1941 TPD 91 at 97:
‘...”our” prima facie means that each of the two
testating parties says “my”, when referring to his or her half
share, not that the whole joint
estate is dealt
with.’.
[11] Ondergeskikte
bepalings doen nie afbreuk aan ‘n dominante bepaling tensy die bedoeling
duidelik is nie: In re Estate van Aardt 1925 CPD 250 te
255.
[12] Vgl Scheidel v The
Master and Others 1936 CPD 287 at
291.
[13] Afgesien van die
langslewende se vruggebruik oor die hele eiendom, die oorspronklik erf
124.
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2005/18.html