![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Last Updated: 3 December 2005
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
Saaknommer : 600/04
In die saak tussen :
FREDERIK DE BEER
APPELLANT
en
DIE RAAD VIR GESONDHEIDSBEROEPE
VAN SUID-AFRIKA RESPONDENT
CORAM : HARMS, STREICHER, BRAND, LEWIS et MLAMBO ARR
DATUM : 18 NOVEMBER 2005
GELEWER : 29 NOVEMBER 2005
Samevatting:
Appèl
ingevolge art 20 van Wet 56 van 1974 – teen beslissing van die
Geneeskundige en Tandheelkundige beroepsraad om
die appellant se naam uit die
register van geneeshere te skrap – geen wesenlike mistasting deur die raad
– straf ook
nie buitensporig swaar – appèl gevolglik van die
hand
gewys.
_____________________________________________________
UITSPRAAK
BRAND AR/
BRAND AR :
[1] Die respondent is deur die Wet op
Gesondheidsberoepe, 56 van 1974 ('die Wet') tot stand gebring om as
oorkoepelende liggaam vir
die beroepsrade van die verskillende
gesondheidsberoepe te dien. Een van hierdie beroepsrade is die Geneeskundige en
Tandheelkundige
Beroepsraad ('die raad'). Die appellant is by die raad as 'n
algemene praktisyn geregistreer. Die appèl het sy oorsprong in
'n
beslissing van die raad dat die appellant se naam uit die register van
geneeshere geskrap word. Teen hierdie beslissing het die
appellant ingevolge
artikel 20 van die Wet na die Pretoriase Hooggeregshof geappelleer. In 'n
uitspraak, wat intussen gerapporteer
is onder die verwysing De Beer v Health
Professions Council of South Africa 2005 (1) SA 332 (T), is dié
appèl deur Patel R, met wie Maluleke R saamgestem het, van die hand
gewys. Die verdere appèl
na hierdie hof is met die verlof van die hof
a quo.
[2] Voortspruitend uit formele klagtes van onprofessionele
gedrag wat deur vier van die appellant se pasiënte teen hom gelê
is,
het die raad 'n tugkomitee onder voorsitterskap van een van sy lede aangestel
om die aangeleentheid te ondersoek. Die tugkomitee
het bestaan uit drie
verteenwoordigers van die mediese professie wat bygestaan is deur 'n
regsassessor. Die ondersoek het 'n aanvang
geneem op 16 November 2000, dit is
voordat die jongste regulasies betreffende sodanige ondersoeke op 24 Augustus
2001 (by wyse van
goewermentskennisgewing R765) in die Staatskoerant afgekondig
is. Ingevolge regulasie 12(2) van hierdie regulasies moes 'n ondersoek
wat voor
die inwerkingtreding daarvan begin het, afgehandel word onder die vorige
regulasies wat op 28 September 1990 (by wyse van
goewermentskennisgewing 2303)
afgekondig is. Bygevolg was die bepalings van die 1990-regulasies deurentyd op
die onderhawige aangeleentheid
van toepassing.
[3] Volgens die klagstaat
sou vier aanklagte van onprofessionele gedrag, almal van 'n seksuele aard,
teenoor vier verskillende pasiënte,
ondersoek word. By die aanvang van die
ondersoek is aanklag 2 egter deur die pro forma aanklaer teruggetrek. Op
aanklagte 3 en 4 is die appellant aan die einde van die vyf dae ondersoek deur
die tugkomitee onskuldig
bevind. In terme van die toepaslike regulasies was dit
die einde van hierdie twee aanklagte. Die appèl wentel dus slegs om
aanklag 1.
[4] Wat aanklag 1 betref het die tugkomitee by die raad
aanbeveel dat die appellant skuldig bevind word aan onprofessionele gedrag
wat
skandelik van aard is. Aangaande die toepaslike straf was die tugkomitee se
aanbeveling dat die appellant vir 'n tydperk van
twee jaar in sy praktyk geskors
word, maar dat die skorsing vir vyf jaar opgeskort word op voorwaardes waarna ek
aanstons sal terugkeer.
[5] Hierdie aanbevelings is aan die raad
voorgelê tydens sy vergadering in September 2001. Na oorweging het die
raad besluit
om die tugkomitee se aanbeveling ten opsigte van skuldigbevinding
te aanvaar. Wat die aanbevole straf betref, was die raad egter
prima
facie van oordeel dat 'n opgeskorte vonnis as straf onvoldoende sou wees en
dat die appellant se naam van die register verwyder behoort
te word. Gevolglik
is die appellant genooi om die raad deur skriftelike vertoë tot ander
insigte te oortuig. Hierdie uitnodiging
is deur die appellant aanvaar. In die
skriftelike vertoë het die appellant ook gevra dat sy regsverteenwoordiger
toegelaat moet
word om mondelinge argument aan die raad voor te dra. Die
volgende vergadering van die raad was op 4 en 5 Maart 2002. Tydens hierdie
geleentheid is die appellant se versoek om mondelinge betoog geweier. Vervolgens
is besluit dat as straf die appellant se naam uit
die register van geneeshere
verwyder word. Daarbenewens is die terugplasing van die appellant se naam op die
register onderworpe
gemaak aan die voorwaarde dat hy toepaslike psigiatriese
behandeling ontvang vir die sielkundige probleme wat tot sy onprofessionele
gedrag aanleiding gegee het en dat hy hierdie terapie suksesvol deurloop.
[6] Die appellant aanvaar dat hy tereg skuldig bevind is aan
onprofessionele gedrag van 'n skandelike aard. Die beswaar is dus slegs
teen die
straf wat hom opgelê is. In wese is sy saak dat die raad die tugkomitee se
aanbevelings moes aanvaar het. Ter ondersteuning
hiervan is verskeie argumente
aangevoer wat beter verstaanbaar is teen die agtergrond van die feite wat die
aanklag waaraan hy skuldig
bevind is ten grondslag gelê het.
[7] Die aanklag waaraan die appellant skuldig bevind is het betrekking
op sy optrede teenoor een van sy vroulike pasiënte, mev
M, op 25 September
1996. Hoewel mev M se naam in die uitspraak van die hof a quo vermeld
word, vind ek herhaling daarvan onnodig. Howe moet meer bedag wees daarop om nie
die name van onskuldige partye te openbaar
waar sodanige openbaring geen bydrae
tot die uitspraak lewer nie. Mev M het die appellant reeds ses maande vantevore
vir die eerste
keer besoek aan die hand van 'n verwysing deur 'n groep wat as
die Depression and Anxiety Support Group bekend gestaan het. Hierdie
groep het
hulle daarop toegespits om pasiënte wat aan angs en depressie ly, tot hulp
te kom. Die appellant het indertyd op
die adviesraad van die groep gedien en was
ook op die paneel van geneeshere na wie hulle gereeld pasiënte verwys het.
Reeds
tydens die eerste besoek het die appellant mev M gediagnoseer as 'n
pasiënt wat emosioneel onstabiel is en wat aan erge depressie
en
angsversteuring ly, vir welke toestande hy medikasie voorgeskryf het.
[8] Tussen haar aanvanklike besoek in Maart 1996 en die gebeure op 25
September 1996, het mev M die appellant by ongeveer tien geleenthede
besoek.
Tydens elkeen van hierdie besoeke het die appellant haar in fyn besonderhede
uitgevra oor die mees intieme aspekte van haar
persoonlike lewe. Na aanleiding
hiervan het sy hom onder meer meegedeel dat sy en haar man reeds vanaf die begin
van hulle huwelik
eintlik geen seksuele omgang gehad het nie. Sy was ongemaklik
oor hierdie intieme ondervraging en het hom verseker dat seks nie vir
haar
belangrik was nie. Daarteenoor het die appellant al haar sielkundige probleme
aan seksuele frustrasie toegeskryf en haar aangemoedig
om oor seks te fantaseer.
[9] Volgens mev M se beskrywing van wat op 25 September 1996 plaasgevind
het, het die appellant op dié dag, aan die einde van
hul konsultasie,
haar uit die bloute beveel om te ontklee. Toe sy haar onwilligheid te kenne gee,
het die appellant kwaad geword
en op intimiderende wyse daarop aangedring dat sy
dit doen. Hierna het hy die konsultasiekamer verlaat met die opmerking dat hy na
vyf minute sou terugkeer en dat sy intussen moes besluit 'of sy wou gesond word
of nie'.
[10] Terwyl die appellant uit die kamer was, het mev M haar toe
ontklee en 'n jurk aangetrek wat sy toegeknoop het. By sy terugkoms
was die
appellant se bui heel anders. Hy het haar met 'n glimlag versoek om op die bed
te gaan lê. Hierop het hy toe haar jurk
oopgeknoop, die gordyne rondom die
bed toegetrek en begin om haar op mees intieme wyse te betas. 'n Uiteensetting
van mev M se beskrywing
van wat daarna gevolg het, blyk uit die klagstaat en uit
haar getuienis waarvan 'n getroue weergawe in, onderskeidelik, para 4 en
para 11
van die hof a quo se uitspraak (op 336C-G en 337F-I) te vinde is. Ek vind
herhaling daarvan onnodig. Om dit kort te sny; op die ou end het die appellant
orale gemeenskap met haar beoefen en homself in die proses tot by die punt van
ejakulasie bevredig.
[11] Hoewel die appellant uiteindelik in sy getuienis
nie mev M se beskrywing van die gebeure in enige wesenlike opsig betwis het
nie,
het hy, deur aanvanklik onskuldig te pleit, haar die verleentheid aangedoen om
haar weergawe in al sy intieme detail voor die
tugkomitee te herhaal. In die
omstandighede is hierdie optrede nouliks verstaanbaar of verskoonbaar. Nog
minder verstaanbaar was
die wyse waarop mev M in kruisverhoor oor al hierdie
intieme detail uitgevra is. Ek aanvaar egter ten gunste van die appellant dat
hy
nie persoonlik vir hierdie strategie verantwoordelik was nie en laat dit
daar.
[12] Aan die einde van die gebeure op 25 September 1996 het die
appellant, volgens mev M, aan haar voorgestel dat hulle 'n buite-egtelike
verhouding aanknoop. Hoewel sy hoegenaamd nie hiervoor te vinde was nie, het sy
vir omtrent twee weke die aangeleentheid verswyg.
Daarna het sy vir die
appellant 'n brief geskryf waarin sy hom in wese daarvan beskuldig het dat hy
oneties en verkeerd opgetree
het. Hierdie brief het sy persoonlik aan hom
oorhandig en ook die inhoud aan hom oorgedra. Die appellant het toe met haar
saamgestem
dat dit wat hy aan haar gedoen het, professioneel oneties en moreel
onregverdigbaar was. Hy het haar egter versoek om vir niemand
van die voorval te
vertel nie. Hoewel sy aanvanklik aan hierdie versoek voldoen het, sê mev
M, het sy uiteindelik gevind dat
sy nie met die ervaring kon saamleef nie.
Gevolglik het sy bykans agt maande na die gebeure, in ongeveer Mei 1997, vir een
van die
sielkundiges by die Depression and Anxiety Support Group daarvan vertel.
Op daardie stadium was sy in so 'n toestand dat sy onder
meer na die hoof van
psigiatrie by die Johannesburg Algemene Hospitaal, prof Michael Berk, vir
behandeling verwys is.
[13] Mev M se openbaarmaking van die gebeure het
daartoe gelei dat die appellant deur die voorsitter van die Depression and
Anxiety
Support Group, me Zane Wilson, en prof Berk daarmee gekonfronteer is.
Volgens me Wilson en prof Berk, wat beide voor die tugkomitee
getuig het, het
die appellant reeds by hierdie geleentheid mev M se weergawe van die gebeure
erken. Hy het toegegee dat hy 'n probleem
het en onderneem om te gaan vir
sielkundige behandeling. Hy het hulle ook meegedeel dat hy in elk geval van
voorneme was om in die
nabye toekoms sy praktyk op te gee en om as mediese
adviseur vir 'n maatskappy te gaan werk. Dit alles het me Wilson en prof Berk
laat besluit om nie die klagte teen die appellant verder te voer nie.
[14] Me Wilson se getuienis was dat sy toe weer in 1999 verdere klagtes
ontvang het van pasiënte wat deur die Depression and
Anxiety Support Group
na die appellant verwys is dat hy hom weer aan ernstige wangedrag van 'n
seksuele aard sou skuldig gemaak het.
Hierop het sy besluit om die
aangeleentheid by die raad aanhangig te maak. Die latere klagtes is, terloops,
dié waarop die
appellant op die ou end deur die tugkomitee onskuldig
bevind is.
[15] Nadat die tugkomitee aangedui het dat hulle by die raad
sou aanbeveel dat die appellant op aanklag 1 skuldig bevind word aan
onprofessionele gedrag wat skandelik van aard is, is twee getuies namens die
appellant ter versagting geroep, synde, sy gemeente
predikant, ds P A Venter, en
'n psigiater, prof J L Roos. Volgens ds Venter het die appellant hom in die
middel van 1997 kom spreek,
onmiddellik nadat hy deur me Wilson en prof Berk met
die klagtes teen hom gekonfronteer is. Die appellant het sy skuld erken en sy
berou te kenne gegee. Hy was gebroke en het telkens in trane uitgebars. Vir ds
Venter het die skuldbelydenis en berou eg oorgekom.
Hy kon hom egter nie daaroor
uitlaat of dit ook sou gebeur het indien die saak nie toe reeds op die lappe
gekom het nie.
[16] Prof Roos is deur die appellant gekonsulteer met die
spesifieke oogmerk om getuienis ter versagting af te lê. Een van die
hoofoorsake van die gebeure was, na prof Roos se oordeel, dat die appellant, as
algemene praktisyn, nooit behoorlik toegerus was
om aangeleenthede van intiem
persoonlike aard met pasiënte te hanteer nie. Hy is dus as 't ware aan die
psigiatriese diepkant
ingegooi. Prof Roos se aanbeveling was dat die appellant
psigoterapie ontvang om 'n herhaling van sy optrede te voorkom en dat dit
aan
die betrokke sielkundige of psigiater opgedra word om die vordering met sodanige
terapie aan die raad te rapporteer.
[17] Wat die appellant se
professionele loopbaan betref, was die getuienis voor die tugkomitee dat hy in
1988 op 26-jarige ouderdom
as geneesheer gekwalifiseer het en in 1992 met 'n
privaat praktyk begin het. In 1997 het hy, soos wat hy vir me Wilson en prof
Berk
gesê het, sy praktyk gestaak en as mediese adviseur vir 'n maatskappy
gaan werk. Hierdie maatskappy is egter in 1998 gelikwideer,
as gevolg waarvan
die appellant na sy privaat praktyk teruggekeer het. Aan die einde van 1999 het
hy weer sy praktyk laat vaar en
begin werk as 'n senior assistent in die trauma
eenheid van 'n hospitaal in Johannesburg.
[18] In die lig van hierdie
feite het die tugkomitee toe, soos ek reeds aangedui het, besluit om by die raad
aan te beveel dat appellant
vir 'n tydperk van twee jaar in sy praktyk geskors
word, maar dat hierdie skorsing vir vyf jaar opgeskort word. Benewens die
algemene
voorwaarde dat die appellant hom nie gedurende die tydperk van
opskorting weer aan 'n soortgelyke oortreding skuldig maak nie, het
die
tugkomitee die volgende twee opskortings-voorwaardes aanbeveel:
(a) Dat die
appellant verbied word om 'kliniese werk binne privaat praktyk verband'
gedurende die opskortingstydperk te doen.
(b) Dat die appellant hom onderwerp
aan toepaslike psigoterapie deur 'n kliniese sielkundige en behandeling deur 'n
psigiater soos
deur hom/haar bepaal en dat, in dié verband, drie
maandeliks verslae deur die twee terapeute aan die raad voorgelê word
tot
tyd en wyl die raad aandui dat hierdie verslae nie meer nodig is
nie.
[19] Blykens die komitee se redes vir sy aanbeveling is as
uitgangspunt aanvaar dat die appellant se oortreding so ernstig van aard
was dat
dit sonder meer sy skrapping van die register sou regverdig. Opweging van die
strafversagtende omstandighede wat blyk uit
die getuienis van ds Venter en prof
Roos, so het die tugkomitee voortgegaan, het hom egter genoop om die oplegging
van 'n opgeskorte
skorsing aan te beveel. Die opskortings-voorwaarde dat die
appellant hom aan psigiatriese terapie onderwerp ten einde 'n herhaling
van sy
optrede te voorkom, was op voorstel van prof Roos. Die toevoeging van die
verdere opskortingsvoorwaarde, nl dat die appellant
hom van kliniese werk in
privaat praktyk weerhou, sou, volgens die tugkomitee se oordeel, voldoende wees
om die publiek teen 'n herhaling
van soortgelyke optrede te beskerm tot tyd en
wyl die appellant die terapie suksesvol deurloop het. Uiteraard het die
appellant se
werk as senior assistent by 'n trauma eenheid binne die kader van
hierdie opskortingsvoorwaarde geval.
[20] In die skriftelike betoog wat
namens die appellant op uitnodiging aan die raad voorgelê is, is die
tugkomitee se aanbevole
straf ondersteun en die komitee se redes vir hierdie
aanbeveling herhaal en onderstreep. In die loop van die betoog is weer eens
besondere klem gelê op die versagtende omstandighede wat uit die getuienis
van ds Venter en prof Roos blyk. Voorts is benadruk
dat die appellant in die
trauma eenheid waar hy werksaam is, waardevolle gemeenskapsdiens verrig en
terselfdertyd, weens sy geringe
kontak met pasiënte, slegs 'n geringe
risiko skep dat hy deur herhaling van sy gewraakte optrede verdere nadeel kan
veroorsaak.
[21] In die antwoordende beëdigde verklaring wat namens
die respondent in die hof a quo geliaseer is, stel die voorsitter van die
raad, dr L H Becker, dit onomwonde dat die raad, benewens die tugkomitee se
aanbevelings
en die redes wat ter motivering daarvoor verstrek is, ook die
skriftelike vertoë namens die appellant, behoorlik oorweeg het.
Desnieteenstaande, sê dr Becker, het die raad tot die slotsom gekom dat
die opgeskorte vonnis wat deur die tugkomitee aanbeveel
is, 'n ontoereikende
straf sou wees.
[22] Blykens dr Becker se verklaring was die
onderliggende oorwegings vir hierdie slotsom in wese tweeledig. Eerstens, dat
die appellant
in sy huidige psigiese toestand nie geskik is om as geneesheer te
praktiseer nie omdat hy 'n risiko vir pasiënte inhou, welke
risiko, na die
raad se mening, nie voldoende ondervang sou word deur die voorgestelde
opskortingsvoorwaardes nie. Tweedens, dat die
skandelike gedrag waaraan die
appellant hom skuldig gemaak het, so ernstig van aard was dat dit eenvoudig nie
na behore deur die
oplegging van 'n opgeskorte vonnis bestraf sou word nie.
Anders gestel, dat die voorgestelde vonnis 'n verkeerde boodskap sou oordra
aangaande die erns waarmee die raad wandade van seksuele aard deur geneeshere
teenoor hulle pasiënte bejeen.
[23] Wat die raad, volgens dr
Becker, in die onderhawige geval verswarend gevind het, was die feit dat mev M
juis weens die sielkundige
en emosionele probleme waarvoor sy by die appellant
om hulp aangeklop het, besonder kwesbaar was en gevolglik swaar op die appellant
geleun het. In die proses het mev M, volgens die appellant se eie getuienis,
buitengewoon afhanklik van hom geraak en het daar 'n
besondere
vertrouensverhouding tussen hulle ontstaan waarin sy, onder meer, haar mees
intieme geheime met hom gedeel het. Die appellant
se brutale skending van
hierdie vertrouensverhouding, so het die raad bevind, het die pasiënt
ernstig benadeel.
[24] Dr Becker wys daarop dat dit spesifiek deur
art 15A van die Wet aan die raad opgedra word (in sub-art (g)) om 'die
waardigheid
van die [mediese] beroep en die integriteit van die persone wat die
beroep beoefen, te handhaaf en te bevorder' en (in sub-art (h))
om 'die publiek
te beskerm'. In die lig hiervan, sê dr Becker, was die raad van oordeel
dat hy, ten spyte van die klaarblyklike
versagtende omstandighede waarna die
tugkomitee verwys het, sou versuim om die pligte wat deur die Wet aan hom opdra
word na te kom
indien hy die tugkomitee se aanbeveling van 'n opgeskorte vonnis
sou aanvaar.
[25] Dit is teen die agtergrond van hierdie feite wat die
hof a quo geweier het om ingevolge art 20 van die Wet met die straf wat
deur die raad opgelê is, in te meng. Wat blykens die hof se uitspraak
'n
aansienlike mate van verwarring veroorsaak het, is die vraag of art 20 'n
hersieningsaansoek of dan wel 'n appèl in die
vooruitsig stel. Aan die
einde van sy beredenering aangaande hierdie vraag (paras 35-38 te 343E-344C) kom
die hof a quo, skynbaar op gesag van Simaan v South African Pharmacy
Board 1980 (1) SA 764 (T) te 767G, tot die slotsom dat art 20 inderwaarheid
'n hersieningsaansoek beoog, wat daarop neerkom dat
'the Court cannot
interfere with the finding of fact by the board if it had evidence before it
upon which it could reasonably and
honestly have arrived at the conclusion at
which it did. ...'
[26] Hierdie siening oor wat art 20 van die Wet beoog,
is eenvoudig verkeerd. Dit blyk onder meer uit die volgende dictum van
Van Heerden AR in Health Professions Council of SA v De Bruin [2004] 4
All SA 392 (SCA) para 23 (te 403c-e):
'The appeal to the High Court created
by s 20 of the Act has (in my view correctly) been described as "an appeal in
the ordinary sense",
i e "a rehearing on the merits but limited to the evidence
or information on which the decision under appeal was given, and in which
the
only determination is whether that decision was right or
wrong.'
[27] Soos egter ook in De Bruin (para 24 te 403h-404f)
gesê word, is 'n appèl teen straf, soos die onderhawige, onderworpe
aan die geykte beginsel dat
die appèltribunaal, weens verskeie redes wat
reeds by etlike geleenthede in die verlede geboekstaaf is, slegs met die
opgelegde
straf kan inmeng indien die strafoplegger 'n wesenlike mistasting
('misdirection') begaan het of indien die straf as 'ontstellend
onvanpas'
oftewel 'startlingly inappropriate' bestempel kan word (sien bv S v
Whitehead 1970 (4) SA 424 (A) te 436C-E; S v Pillay 1977 (4) SA 531
(A) te 535E-G; S v Malgas 2001 (1) SASV 469 (SCA) para 12 te 478d-h).
Dermate was die hof a quo dus reg in sy uitgangspunt dat sy bevoegdheid
om in die onderhawige geval, in terme van art 20, met die opgelegde straf in te
meng,
beperk was. Dit was egter so, nie omdat art 20 'n hersieningsaansoek beoog
nie, maar eenvoudig omdat dit 'n appèl teen straf
was.
[28] Die
'wesenlike mistasting' wat die raad volgens die appellant se betoog begaan het,
was om nie die tugkomitee se aanbeveling
te aanvaar nie. Ter ondersteuning van
hierdie betoog is aangevoer dat die posisie van die raad analoog was aan
dié van 'n
appèl tribunaal. Hiervolgens kon die raad dus slegs van
die tugkomitee, as primêre strafoplegger, se aanbevole straf
afwyk indien
die tugkomitee 'n wesenlike mistasting begaan het of indien die aanbevole straf
as 'ontstellend onvanpas' beskryf kon
word. Myns insiens is daar geen meriete in
hierdie betoog nie. Volgens regulasie 15(1) kan die raad 'die aanbeveling van 'n
tugkomitee
wysig of bekragtig of ... weier om dit te bekragtig of ... die saak
na die tugkomitee verwys vir verdere oorweging en verslagdoening.'
Hiervolgens
maak die tugkomitee slegs 'n aanbeveling oor welke straf die raad moet
oplê. Die tugkomitee lê self geen
straf op nie. Die primêre
strafoplegger is dus die raad, nie die tugkomitee nie. Van 'n appèl vanaf
die tugkomitee na
die raad kan daar geen sprake wees nie. Die hof a quo
het die onderhawige betoog van die hand gewys op die grondslag dat die
tugkomitee eintlik geen 'decision' of 'finding' gemaak het
nie (sien paras 20-26
te 339F-341B). Dit is nie reg nie. Die tugkomitee het inderdaad 'n 'besluit'
geneem en 'n 'bevinding' gemaak,
maar die resultaat van hierdie besluit was
slegs 'n aanbeveling en nie strafoplegging nie. Die strafoplegger was die
raad.
[29] Die appellant se verdere kritiek teen die raad se werkswyse
was gerig teen die weiering van appellant se versoek dat, benewens
skriftelike
vertoë, ook mondelinge betoog namens hom toegelaat word. In sy argument
voor hierdie hof wou die appellant se advokaat
nie hierdie punt van kritiek tot
'n bewering van 'n 'wesenlike mistasting' verhef nie. Ten besluite was dit dus
geensins duidelik
waarheen aanvaarding van die betoog veronderstel was om te lei
nie. Hoe dit ook al sy, die punt van kritiek is in elk geval ongefundeerd.
Soos
in De Bruin (para 15 te 410A-B), op 'n uitleg van dieselfde regulasies
beslis is, was die appellant nie geregtig om op mondelinge vertoë
aan te
dring nie en was die raad gevolglik geregtig om sy versoek te dien effekte te
weier. Die appellant het klaarblyklik voldoende
geleentheid gehad om sy saak te
stel voordat die raad op 'n gepaste straf besluit het.
[30] Laastens, was
die appellant se betoog dat die straf wat hom opgelê is in al die
omstandighede ontstellend onvanpas was.
Na my oordeel is daar hoegenaamd geen
meriete in hierdie betoog nie. As vertrekpunt moet soos in De Bruin (para
23 te 403d-g) aanvaar word dat die raad en nie die hof nie die primêre
custos morum van die mediese beroep is. Daarbenewens en in elk geval het
ek reeds verwys na die oorwegings wat, volgens dr Becker, die raad se
besluit
ten grondslag gelê het. In die lig hiervan is die kort antwoord op die
appellant se betoog, myns insiens, dat daar
geen geldige kritiek ingebring kan
word, teen óf die raad se onderliggende oorwegings, óf die slotsom
aangaande die
straf waartoe dit hom gelei het nie.
[31] Gevolglik word
die appèl met koste van die hand gewys.
.......................
F D J
BRAND
APPÈLREGTER
Stem saam:
HARMS AR
STREICHER AR
LEWIS AR
MLAMBO AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2005/115.html