![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Last Updated: 11 August 2004
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Saaknommer: 441/2003
In die saak tussen :
SAMUEL MAWAKE
MATLARE APPELLANT
en
DIE STAAT RESPONDENT
CORAM : SCOTT, BRAND en LEWIS ARR
DATUM : 2 MAART 2004
GELEWER : 11 MAART 2004
Opsomming: Oortreding van a 34(1)(b) van Wet 90 van 1989 –
aanbieding van vervalste banknote – die appellant se verweer dat hy
geen
aandeel gehad het in die aanbieding van die vervalste note deur sy
medebeskuldigde nie – tereg deur die verhoorhof
verwerp.
_________________________________
UITSPRAAK
_________________________________
BRAND AR/
BRAND AR:
[1] Die
appellant en sy medebeskuldigde ('beskuldigde 2') het in die streekhof te Bela
Bela, destyds Warmbad, tereggestaan. Die aanklag
teen hulle was dat hulle op 28
Oktober 1999, 5 570 vervalste R200-note 'aangebied het, wetende dat dit
vervals is' en hulle
sodoende aan 'n misdaad ingevolge a 34(1)(b) van die Wet op
die Suid-Afrikaanse Reserwebank 90 van 1989, skuldig gemaak het. Beide
die
beskuldigdes het onskuldig gepleit. Aan die einde van die verhoor is hulle egter
skuldig bevind soos aangekla en albei gevonnis
tot twaalf jaar gevangenisstraf
waarvan vier jaar voorwaardelik vir 'n tydperk van vyf jaar opgeskort is. Die
appellant se appèl
teen beide hierdie skuldigbevinding en vonnis na die
Pretoriase Hooggeregshof is van die hand gewys. Daarna het die hof a quo
(Motata R en Jooste Wn R), sonder enige opgaaf van redes, aan die appellant
verlof verleen om hierdie verdere appèl, weer
eens teen beide
skuldigbevinding en vonnis, aan hierdie hof te rig.
[2] Die appellant
ontken nie dat die ten laste gelegde misdaad in sy teenwoordigheid gepleeg is
nie. Sy weergawe is dat dit gepleeg
is deur beskuldigde 2 en dat hy niks daarmee
te doen gehad het nie. Die meriete van die appèl teen skuldigbevinding
wentel
uitsluitlik om die vraag of die verhoorhof se verwerping van die
appellant se weergawe geregverdig was. Die Staat het slegs een getuie
geroep,
synde inspekteur O Oosthuizen, wat indertyd aan die bedrogtak van die
Suid-Afrikaanse Polisiediens verbonde was. In breë
trekke kom Oosthuizen se
getuienis daarop neer dat hy reeds aan die begin van 1999 inligting ontvang het
van mense wat vervalste
geld wil verkoop. Daarop het hy vir die voornemende
verkopers 'n strik gestel deur dit rugbaar te maak dat hy in so 'n transaksie
sou belangstel. 'n Paar dae later het ene Pieter, wat later geblyk het
beskuldigde 2 te wees, in die strik getrap deur telefonies
met Oosthuizen in
verbinding te tree. Volgens Pieter, oftewel beskuldigde 2, wou hy vervalste note
met 'n sigwaarde van om en by
R1 miljoen 'verkoop'. Die note was egter nie by
hom nie maar in besit van sy vriend Sam. Ten einde so 'n verkoopstransaksie te
beklink
het Oosthuizen verskeie afsprake met beskuldigde 2 gemaak. By elkeen van
hierdie geleenthede het beskuldigde 2 egter sonder Sam en
sonder die vervalste
geld opgedaag. Gevolglik het geen transaksie by daardie geleentheid plaasgevind
nie.
[3] Op die ou end het Oosthuizen egter die ontmoeting met
beskuldigde 2 gereël wat tot die arrestasie van hom en die appellant
aanleiding gegee het. Volgens Oosthuizen het hy en beskuldigde 2 vooraf
afgespreek dat die ontmoeting op die betrokke aand van 28
Oktober 1999 sou
plaasvind op die parkeerterrein van 'n winkel in Bela Bela en dat beskuldigde 2
sou opdaag in 'n wit bakkie waarvan
hy 'n volledige beskrywing gegee het, onder
meer, dat dit met 'n kappie en getinte ruite toegerus was. Ter nakoming van die
afspraak
het Oosthuizen toe die aand saam met twee ander polisiebeamptes op die
afgesproke tyd en plek vir beskuldigde 2 en sy metgeselle
ingewag. 'n Wit bakkie
wat aan beskuldigde 2 se vooraf beskrywing voldoen het, het opgedaag. Daar was
drie persone in die voertuig.
Eers het slegs beskuldigde 2 uitgeklim. Oosthuizen
het egter daarop aangedring dat die ander twee insittendes ook uitklim. Toe al
drie buite was het Oosthuizen gevra waar die geld is. Hierop het beskuldigde 2
die appellant versoek om die sak geld voor uit die
bakkie te gaan haal. Die
appellant het aan die versoek voldoen en met 'n blou plastiese drasak te
voorskyn gekom. Die sak is oopgemaak
en die geld wat daarin was is aan die
aanwesiges vertoon. By latere ondersoek het dit geblyk 5 570 vervalste
R200-note te wees.
Vervolgens het Oosthuizen en beskuldigde 2 onderhandel oor 'n
prys. Tydens die onderhandelinge het beskuldigde 2 met die appellant
gekommunikeer in 'n taal wat Oosthuizen nie verstaan het nie. Uiteindelik is
daar toe op 'n 'koopprys' van R240 000 ooreengekom.
Na sluiting van die
ooreenkoms het Oosthuizen en sy kollegas hulle as polisiebeamptes
geïdentifiseer en al drie insittendes
van die bakkie gearresteer. Die
appellant en beskuldigde 2 het egter daardie selfde aand nog vir die polisie
gesê dat die derde
insittende, wat later geblyk het mnr M Ngwane te wees,
slegs die voertuig bestuur het en dat hy met die hele saak niks te make gehad
het nie. Gevolglik is die vervolging teen Ngwane nie voortgesit nie. In
kruisverhoor namens die appellant is nie aan Oosthuizen gestel
dat sy getuienis
in enige opsig betwis word nie.
[4] Die appellant se verweer was in wese
'n ontkenning dat hy hoegenaamd van die vervalste geld in die sak bewus was.
Volgens sy getuienis
het hy op die toneel van die misdaad beland omdat hy vir
beskuldigde 2, vir wie hy ongeveer drie maande tevore ontmoet het, 'n guns
wou
bewys. Laat die namiddag van 28 Oktober 1999, so het die appellant verduidelik,
het beskuldigde 2 hom in die dorp Northam genader
vir 'n geleentheid na Bela
Bela waar hy, beskuldigde 2, sy broer wou gaan sien. Die appellant kon nie aan
die versoek voldoen nie
omdat sy voertuig stukkend was. Tog wou hy graag vir
beskuldigde 2 van hulp wees omdat dié hom vantevore uitgehelp het toe
hy
in die nood was. Toevallig het 'n ou bekende van die appellant, Ngwane, met sy
wit bakkie op die toneel verskyn waarop die appellant
hom genader het om vir
beskuldigde 2 na Bela Bela te neem. Ngwane het ingestem op voorwaarde dat die
appellant hulle vergesel aangesien
beskuldigde 2 vir hom 'n totale vreemdeling
was.
[5] So het die drie van hulle toe na Bela Bela afgereis voor in
Ngwane se wit bakkie. Die appellant het gesien dat beskuldigde 2 'n
blou
plastiese drasak by hom het, maar hy het nie geweet wat in die sak was nie. In
Bela Bela aangekom het beskuldigde 2 hulle na
die parkeerterrein van 'n winkel
beduie waar hy sy broer sou ontmoet. Daar het hulle, weer eens op beskuldigde 2
se aanwysing, langs
die voertuig gestop waarin Oosthuizen en sy twee kollegas
gery het. Beskuldigde 2 het met sy plastiese sak uit die voertuig geklim
en met
'n man wat later geblyk het Oosthuizen te wees, gepraat. Hoewel hierdie gesprek
in die appellant se teenwoordigheid plaasgevind
het, kon hy nie sê
waaroor hulle gepraat het nie. So het hy byvoorbeeld glad nie gehoor dat die
bedrag van R240 000 genoem
word nie. Op 'n stadium het hy wel in Setswana
by beskuldigde 2 navraag gedoen waaroor die gesprek gaan waarop beskuldigde 2
geantwoord
het dat Oosthuizen sê 'die geld wat hy vra is baie'. Hierdie
antwoord, wat, sonder meer, onsinnig is, het die appellant nie
verstaan nie. Hy
het egter nie kans gehad om beskuldigde 2 verder uit te vra oor die betekenis
daarvan nie omdat Oosthuizen en sy
twee kollegas hulle op daardie stadium as
polisiebeamptes geïdentifiseer het en vir appellant-hulle onder arres
geplaas het.
Volgens die appellant het hy geen idee gehad waarvoor hy
gearresteer word nie. Van die vervalste geld in besit van beskuldigde 2
was hy
geheel en al onbewus. Hoewel Oosthuizen se getuienis, dat dit die appellant was
wat die geld in die bakkie gaan haal het
en dat die inhoud van die sak op die
toneel vertoon is, nie in kruisverhoor betwis is nie, het die appellant dit in
sy getuienis
as onwaar ontken. Oor waarom hy hom nie die betrokke aand teenoor
die polisie verontskuldig het nie was die appellant se verduideliking
dat hy nie
die geleentheid daartoe gehad het nie. Daarteenoor het die appellant erken dat
hy en beskuldigde 2 wel vir Oosthuizen
gesê het dat Ngwane bloot die
bakkie bestuur het en met die hele saak niks te make gehad het nie. Die
appellant het ook toegegee
dat hy oor die algemeen as 'Sam' bekend
staan.
[6] Benewens die appellant self is Ngwane namens hom as getuie
geroep. Hy het die appellant se weergawe in alle wesenlike opsigte
ondersteun.
Verdere getuienis namens die appellant het gehandel oor 'n brief wat na bewering
deur beskuldigde 2 aan die appellant
geskryf is welke bewering namens
beskuldigde 2 ontken is. Hoewel daar tydens die verhoor van die brief heelwat
gewag gemaak is, is
dit in hierdie hof tereg namens die appellant toegegee dat
die brief as onsaaklik buite rekening gelaat kan word.
[7] Namens
beskuldigde 2 is in kruisverhoor aan die appellant gestel dat hy die eintlike
verkoper van die vervalste geld was terwyl
beskuldigde 2 slegs as tussenganger
opgetree het. Hoewel die staat gepoog het om op hierdie stellings te steun, het
beskuldigde 2
nie getuig nie en moet hierdie stellings namens hom derhalwe by
die beoordeling van die appellant se weergawe buite rekening gelaat
word.
[8] Die verhoorhof het Oosthuizen 'n geloofwaardige getuie bevind. In
die lig daarvan het die hof beslis dat die appellant se weergawe
nie redelik
moontlik waar kon wees nie. Die hof a quo het hierdie bevinding sonder
enige kenbare ontleding van die getuienis aanvaar. In hierdie hof is die
geloofwaardigheidsbevinding
ten gunste van Oosthuizen nie aangeveg nie.
Desondanks is namens die appellant betoog dat 'n wesenlike gedeelte van die
appellant
se weergawe, soos gestaaf deur Ngwane, nie direk deur Oosthuizen
betwis kon word nie en dat hierdie onbetwiste gedeeltes van die
appellant se
weergawe redelike twyfel oor sy betrokkenheid by die misdaad skep.
[9] As 'n algemene reël beteken die blote feit dat gedeeltes van 'n
beskuldigde persoon se weergawe nie direk deur die staatsgetuies
betwis kan word
nie, nie dat daardie gedeeltes sonder meer deur die hof as die waarheid aanvaar
moet word nie. Dit mag wees dat daardie
gedeeltes, in die lig van die bewese
feite, so onwaarskynlik is dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie. Myns
insiens is dit
presies wat hier gebeur het. Omdat Oosthuizen se
geloofwaardigheid bo verdenking staan, moet sy weergawe as deel van die bewese
feite
aanvaar word. Hiervolgens is dit deel van die bewese feite dat beskuldigde
2 reeds ongeveer tien maande voor die voorval na sy meeloper
verwys het as 'Sam'
en dat hy reeds tydens die vooraf reëling van die betrokke ontmoeting,
Ngwane se wit bakkie in besonderhede
aan Oosthuizen beskryf het. Dit alles maak
natuurlik die appellant se weergawe waarvolgens die teenwoordigheid van hom en
Ngwane
op die misdaadtoneel bloot toevallig was, hoogs onwaarskynlik.
[10] Voorts is daar 'n hele aantal oorwegings voortspruitend uit
Oosthuizen se beskrywing van wat op die misdaadtoneel gebeur het
wat net nie te
rym is met die appellant se bewerings van salige onskuld nie. In die eerste plek
sou beskuldigde 2 dit nouliks waag
om in teenwoordigheid van 'n onskuldige
buitestaander 'n ernstige misdaad te pleeg, en om dan boonop hierdie onskuldige
buitestaander
te vra om die sak met vervalste note uit die voertuig te haal.
Voorts is dit hoogs onwaarskynlik dat die appellant niks sou agterkom
uit die
trant van die onderhandelinge tussen Oosthuizen en beskuldigde 2 nie. Die mees
ooglopende onwaarskynlikheid is egter dat
die appellant, selfs toe 'n groot
bedrag geld in die plastiese sak vertoon is, steeds nie sou agterkom dat alles
nie pluis is nie.
Hierdie ooglopende onwaarskynlikheid is dan ook klaarblyklik
die voor-die-hand-liggende rede waarom die appellant in sy getuienis
ontken het
dat die geld op die toneel vertoon is, terwyl hierdie feit nou, ooreenkomstig
die toegewings namens die appellant, tesame
met die res van Oosthuizen se
getuienis, as 'n gegewe aanvaar moet word.
[11] 'n Verdere kraak in die
appellant se verhaal is die teenstrydigheid dat hy wel tyd gehad het om vir die
polisie te sê dat
Ngwane met die hele saak niks te doen het nie, maar
terselfdertyd onvoldoende geleentheid gehad het om sy eie betrokkenheid teenoor
die polisie te ontken. In al die omstandighede was die verhoorhof dus myns
insiens korrek in sy beslissing dat die weergawe wat deur
die appellant en
Ngwane voor die hof geplaas is so onwaarskynlik is dat dit nie redelik moontlik
waar kan wees nie. Hieruit volg
dat die appèl teen die skuldigbevinding
nie kan slaag nie.
[12] Dit bring my by die appèl teen vonnis. In
hierdie verband is die appellant se saak nie dat die verhoorhof enige wesenlike
mistasting by vonnisoplegging begaan het nie. Die betoog namens hom was dat die
opgelegde vonnis so buitensporig swaar is dat dit
die afleiding regverdig dat
die verhoorhof die erns van die misdaad ten koste van sy persoonlike
omstandighede oorbeklemtoon het.
Ek stem nie saam met hierdie betoog nie.
Ooreenkomsig die besonderhede wat voor die verhoorhof geplaas is, was die
appellant 'n 40-jarige
eerste oortreder wat reeds 15 jaar by dieselfde werkgewer
in diens was. Hy is ook die vader van drie minderjarige kinders wat deels
van
hom afhanklik is. Dit alles, sê die verhoorhof in sy uitspraak, het hy by
vonnisoplegging in ag geneem. Daarteenoor wys
die hof, myns insiens, tereg
daarop dat die misdaad waaraan die appellant skuldig bevind is, ernstig van aard
is. Die sigwaarde van
die vervalste banknote het 'n aansienlike bedrag
verteenwoordig en dit behoef nouliks enige betoog dat misdade van hierdie aard
tot
groot skade in die handelsverkeer aanleiding kan gee. In al die
omstandighede kan die appèl teen vonnis, myns insiens, ook
nie slaag nie.
[13] Die appèl teen die skuldigbevinding en vonnis word van die
hand gewys.
......................
F D J
BRAND
APPÈLREGTER
Stem saam:
Scott AR
Lewis AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2004/5.html