South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2004 >>
[2004] ZASCA 43
| Noteup
| LawCite
De Jongh v Du Pisanie (220/2003) [2004] ZASCA 43; [2004] 2 All SA 565 (SCA); 2005 (5) SA 457 (SCA) (25 May 2004)
Download original files | Links to summary |
Last Updated: 4 September 2004
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Saaknommer : 220/2003
In die saak tussen :
CHRISTIAAN DE JONGH
APPELLANT
en
PIETER JOHANNES DU PISANIE NO RESPONDENT
CORAM : MARAIS, BRAND ARR et JONES WND AR
DATUM : 4 MEI 2004
GELEWER : 25 MEI 2004
Opsomming: Kwantifisering van skadevergoeding – liggaamlike
beserings – veral breinbeserings – koste van versorging –
voorsiening vir gebeurlikhede – algemene skadevergoeding – bevel in
para
70.
_____________________________________________________
UITSPRAAK
BRAND AR/
BRAND AR :
[1] Die respondent tree op in sy hoedanigheid as kurator
ad litem vir mnr J G Rabe ('Rabe') wat op 9 Julie 1993 in 'n motorongeluk
beseer is. Ten tyde van die ongeluk was die appellant die bestuurder
van die
betrokke motorvoertuig en Rabe 'n passasier daarin. Voortspruitend hieruit het
die respondent, namens Rabe, die appellant
as verweerder in die Kaapse
Hooggeregshof aangespreek vir die skade wat Rabe as gevolg van sy beserings gely
het. Geriefshalwe sal
ek vervolgens na die partye verwys soos in die hof a
quo. Aanvanklik is die geskilpunte rondom die meriete van die verweerder se
aanspreeklikheid afsonderlik bereg en in Oktober 2000 teen
die verweerder
beslis. By hierdie beslissing het die verweerder hom berus. Gevolglik is in Mei
2002 oorgegaan tot die verrigtinge
ter kwantifisering van Rabe se skade. In die
loop van hierdie verrigtinge is etlike getuies namens beide partye geroep. Aan
die einde
daarvan het die verhoorhof (Thring R) Rabe se skade in 'n bedrag van
R5 697 388.14 vasgestel. Met verlof van die hof a quo kom die
verweerder nou in hoër beroep teen hierdie vasstelling.
[2] Blykens
die verhoorhof se uitspraak is die vasgestelde bedrag onder die volgende hoofde
ingedeel:
(a) Toekomstige mediese koste en aanverwante
uitgawes
R3 778 921.70
(b) Verlies aan verdienste
R1 096 225.00
(c) Algemene skadevergoeding R
400 000.00
(d) Koste van kurator bonis (7.8 persent
van
totaal van bostaande) R 412 241.44
R5 697 388.14
[3] By verre die grootste gedeelte
van die bedrag in (a) word verteenwoordig deur voorsiening vir Rabe se
toekomstige versorging.
Volgens die verhoorhof se bevindings sal die
gekapitaliseerde koste daaraan verbonde R3 306 720 beloop. Bygevolg
is, na
'n aftrekking vir gebeurlikhede, wat deur die verhoorhof op 10 persent
bepaal is, 'n bedrag van R2 976 048 vir sodanige
versorging
toegeken.
[4] Die verhoorhof se beslissings aangaande 'n hele aantal van
die geskilpunte wat tydens die verhoor bestaan het, word op appèl
aanvaar. Die besware wat op hierdie stadium nog deur die verweerder teen die
verhoorhof se bevindings geopper word, is dus beperk
en hou verband met aspekte
wat onder die volgende vier hoofpunte saamgevat kan word:
(a) Die tipe
versorging wat Rabe in die toekoms sal benodig.
(b) Die gebeurlikheidsfaktor
wat die verhoorhof by die berekening van beide toekomstige versorgingskoste en
toekomstige verlies
aan verdienste op 10 persent bepaal het. (c) Twee van die
talle individuele items wat by die berekening van toekomstige mediese
uitgawes
toegelaat is.
(d) Die bedrag wat vir algemene skade toegeken
is.
AGTERGROND
[5] Die feite wat die oorblywende geskilpunte
ter grondslag lê is op hierdie stadium grotendeels onbetwis. Ek handel
vervolgens
daarmee in die breedste moontlike trekke wat deur die perke van 'n
sinvolle beredenering toegelaat word.
[6] Rabe is gebore op 5 November
1957. Ten tyde van die ongeluk op 9 Julie 1993 was hy dus 35 jaar oud. Beide hy
en die verweerder
was op daardie stadium as werknemers van Eskom by die
onderhoud van hoogspanningskraglyne betrokke. Hulle was juis na 'n werksterrein
op pad toe Eskom se bakkie, waarin hulle gereis het, van die pad geloop en
omgeslaan het. Die liggaamlike beserings wat Rabe opgedoen
het was ernstig en
die gevolge daarvan ingrypend, soos binnekort sal blyk. Benewens verskeie
kneusings het hy beserings van sy nek,
rug, regterskouergewrig, regterknie en
regterenkel opgedoen. As gevolg van hierdie beserings het Rabe reeds 'n operasie
aan sy skouer
ondergaan en sal hy na verwagting nog verdere ortopediese
operasies moet ondergaan. Hierdie beserings het hom ook gelaat met aansienlike
pyn, ongerief en gedeeltelike ongeskiktheid wat met verloop van tyd tot 'n mate
afgeneem het. Dit duur egter nog steeds voort. Hy
kla nog steeds van hoofpyn en
van pyn in sy nek, skouer, knie, enkel en lae rug. Verder is die beweging van sy
nek, skouer, knie
en enkel in 'n sekere mate ingekort. Die verwagting is nie dat
sy toestand in die toekoms wesenlik sal verbeter nie.
[7] Die ernstigste
van Rabe se beserings was egter dié wat in die mediese verslae beskryf is
as '′n uitgebreide verbrokkelde
frontale skedelfraktuur wat tot in die
oogkaste en wangbene gestrek het'. Hierdie beserings het 'n ekstradurale
hematoom tot gevolg
gehad wat bewusteloosheid veroorsaak het. Dit is die dag na
die ongeluk chirurgies verwyder, waarna Rabe 'n tydperk van meer as 'n
maand in
hospitale moes deurbring. Voorts het die skedelfraktuur gepaard gegaan met
onderliggende breinskade van tweërlei aard.
Eerstens was daar ekstensiewe
fokale skade aan beide frontale sowel as beide temporale lobbe van die brein.
Tweedens was daar diffuse
konkussiewe skade wat die hele brein betrek het maar
meer matig van aard was. Dit is gemene saak dat hierdie breinbeserings 'n
verandering
in Rabe se persoonlikheid asook 'n inkorting van sy verstandelike
vermoë meegebring het. Die persoonlikheidsveranderinge wat
deur die
deskundiges beskryf is as tipies van wat by frontale en temporale
breindisfunksie verwag kan word, het sigself veral gemanifesteer
in apatie,
woedebuie, aggressie, 'n gebrek aan insig en oordeel asook 'n verhoogde
seksdrang. Daarby het Rabe ook sy reuk- en smaaksin
verloor. Daar is 'n beperkte
geskil oor die werklike afname in verstandelike vermoëns wat die ongeluk
vir Rabe meegebring het,
asook oor die erns en gevolge van sy
persoonlikheidsveranderings. Daarby kom ek aanstons terug. Wat egter ook
vasstaan is dat Rabe
nou, as gevolg van sy breinbeserings, epileptiese aanvalle
kry. Hy het sy eerste aanval in November 1994 gehad. Daarna het die frekwensie
van die aanvalle toegeneem tot gemiddeld vyf per maand. Met verloop van tyd is
dit egter deur medikasie verminder. By die verhoor
was dit een tot twee
aanvalle per maand. Die neuroloog wat Rabe vir sy epilepsie behandel, was nie
optimisties dat daar in die toekoms
veel meer beheer oor die frekwensie van sy
aanvalle verkry kan word nie.
[8] Die veranderinge in Rabe se
persoonlikheid en sy epileptiese aanvalle het 'n ingrypende effek op sy beroeps-
en gesinslewe gehad.
Aangaande sy gesinslewe, blyk dit dat hy in 1981 getroud is
met mev Anneline Rabe wat 'n raps minder as twee jaar jonger is as hy.
Ten tye
van die ongeluk in 1993 was sy dus 33 jaar oud. Uit hulle huwelik is twee seuns
en 'n dogter gebore. In 1993 was die seuns
onderskeidelik 12 en 10 en die
dogter, 8 jaar oud. Voor die ongeluk was die Rabes 'n gelukkige gesin. Hulle was
sosiaal bedrywig
met 'n uitgebreide vriendekring wat gereeld saamgekuier het.
Die ouers was nou betrokke by die kinders se skool en buitemuurse bedrywighede.
Eskom se sport- en ontspanningsklub, waar Rabe vroeër rugby gespeel het en
later jare op die bestuur gedien het, het ook 'n
vername rol in die gesin se
sosiale lewe gespeel.
[9] Wat sy beroep betref, het Rabe in 1982 by Eskom
begin werk. In 1993 het hy reeds verskeie spesialiseringskursusse gedoen. Onder
meer was hy opgelei om onderhoud en herstelwerk aan lewende hoogspanningslyne
vanuit 'n helikopter te doen. Hy was gelukkig in hierdie
werk. Na die ongeluk
het Rabe in Januarie 1994 weer begin werk. Weens die beperkings wat sy beserings
meegebring het, was hy egter
nie in staat om soos voorheen aan lewende kraglyne
te werk nie. Sy take was minder veeleisend, soos byvoorbeeld, om oor die oopkap
van bome en plantegroei onder kraglyne toesig te hou. In November 1994 het hy
egter begin om epileptiese aanvalle te kry. Gevolglik
het hy, op aanbeveling van
sy neuroloog, om ontslag weens mediese redes aansoek gedoen. Hierdie aansoek is
met effek vanaf einde
November 1996, deur Eskom toegestaan. Daarna het Rabe
nooit werklik daarin geslaag om enige betalende werk te bekom nie. By die
verhoor
was dit gemene saak dat hy, weens die gevolge van sy liggaamlike
beserings, permanent ongeskik is om enige lonende betrekking te
beklee.
[10] Oor hoe die Rabes se sosiale lewe en gesinslewe nou, na die
ongeluk, daar uitsien, was mev Rabe die eiser se vernaamste getuie.
Volgens haar
het sy, kort nadat haar man uit die hospitaal ontslaan is, agtergekom dat hy nie
meer dieselfde persoon was nie. Hy
was aggressief en het ontoepaslik in woede
uitgebars vir die geringste irritasie of frustrasie. In die nege jaar wat tussen
die ongeluk
en die verhoor verloop het, het sy gedrag, volgens haar, nie werklik
verbeter nie, hoewel sy intussen tog geleer het om dit in 'n
mate te hanteer.
Rabe is steeds koppig en eiesinnig. Hy skree en vloek op haar en die kinders. By
verskeie geleenthede het hy haar
al fisies aangerand. Hy gooi borde kos rond en
breek die meubels. As hy 'n voorwerp probeer regmaak en nie daarin slaag nie,
raak
hy frustreerd en slaan hy dit met 'n hamer stukkend. Die kinders is bang
vir hom en vlug van hom weg. Weens Rabe se onbeheersde en
ontoepaslike gedrag en
opmerkings kry hulle bykans geen besoek meer van vriende nie en gaan hulle selde
uit.
[11] Daarbenewens is Rabe apaties en sonder dryfkrag. Hy verwyl sy
ure deur televisie en videos te kyk of om op die rekenaar speletjies
te speel.
Hy raak dikwels in die middel van die nag wakker en neem dan sy plek voor die
televisie in. Hy is fisies wel in staat om
homself te versorg, maar vergeet om
sy tande te borsel, te bad, skoon klere aan te trek asook om sy medikasie te
neem. Sy moet hom
gedurig aan hierdie take herinner. Daarby skep sy epileptiese
aanvalle 'n groot probleem. Hy kry dit sonder waarskuwing en dit is
vir mev Rabe
verskriklik om te aanskou. Sy kan nie daaraan gewoond raak nie. Weens sy
epilepsie kan sy hom nooit alleen laat nie
en mag hy ook nie 'n motor bestuur
nie. Nietemin dring hy daarop aan om dit te doen. As sy hom teëgaan raak hy
so onredelik
kwaad dat sy vir hom bang raak. Dan gee sy maar toe. So het dit
gebeur dat hy by geleentheid 'n epileptiese aanval agter die stuur
van sy
voertuig gekry het. Gelukkig was een van sy seuns by en kon hy die voertuig tot
stilstand bring. Dit alles, sê mev Rabe,
het eintlik al vir haar te veel
geword. Sy het al dikwels daaraan gedink om hom te verlaat. Wat haar egter
steeds genoop het om deur
te byt, is dat sy hom steeds lief
het.
[12] Volgens die verhoorregter het mev Rabe ''n uitstekende goeie
indruk' op hom gemaak en was hy van 'geen rede bewus waarom enige
aspek van haar
getuienis in twyfel getrek moet word nie'. Op my beurt kan ek geen gronde vind
waarop hierdie hof geregtig sou wees
om met die geloofwaardigheidsbevinding ten
gunste van mev Rabe in te meng nie. Tog moet daar by beoordeling van mev Rabe se
getuienis
in gedagte gehou word dat 'n aansienlike deel daarvan nie werklik
neerkom op 'n uiteensetting van konkrete feite nie, maar eerder
op haar weergawe
van hoe sy haar onhoudbare situasie oor 'n tydperk van meer as nege jaar ervaar
het. By evaluering van daardie deel
van haar getuienis moet weer rekening gehou
word met haar psigiese en emosionele toestand toe sy getuig het. Sy en haar
kinders het
klaarblyklik deur diep waters gegaan. Volgens haar eie beskrywing,
het sy byna breekpunt bereik. Dit is nie onverwags dat sy Rabe
se algemene
toestand deur 'n heel donker bril waargeneem het nie. Gevolglik is dit heel
verstaanbaar dat die prent van Rabe se toestand
wat deur die getuienis van sy
vriende en kennisse geskilder is, hoewel ook maar donker, tog van 'n ligter
skakering as mev Rabe s'n
was.
[13] So het 'n vroeëre kollega en
vriend van Rabe, mnr Harold Visser, namens die verweerder getuig dat hy na die
ongeluk steeds
met Rabe kontak gehad het. Nietemin het hy nooit Rabe se
onbeheersde woedebuie ervaar of opgemerk dat hy ontoepaslik optree nie.
In
Desember 2000 het dit toevallig so gekom dat hulle twee weke saam by 'n
vakansieoord langs die Bergrivier deurgebring het. In
daardie tyd het hy vir
Rabe en sy gesin gereeld gesien en het hulle vir hom na 'n hegte familie
voorgekom. Kort voor hy getuig het,
was Visser op 'n verjaardagpartytjie waar
die Rabes ook teenwoordig was. Hy het 'n groot deel van die aand met Rabe gesit
en gesels.
Volgens sy ervaring het die gesprek heel sinvol verloop. Hy het ook
opgemerk hoe Rabe by geleentheid met sy vrou gedans het. In kruisverhoor
namens
die eiser is nie aan Visser gestel dat hy sy getuienis versin het nie. Wat wel
aan hom gestel is, was dat hy nie geweet het
watter aggressie en onsmaaklike
optrede deur Rabe sy gesin gedurende die vakansie langs die Bergrivier moes
verduur nie.
[14] 'n Verdere getuie namens die verweerder was 'n
onderwyser wat tot in 1998 vir die Rabes se oudste seun skoolgehou het. Volgens
hom was die seun 'n goeie sportman en het Rabe, ook na sy ongeluk, groot
belangstelling in die seun se sportbedrywighede getoon.
Hy het dan ook gereeld
die seun se oefeninge en wedstryde bygewoon en gehelp waar hy kon.
[15] Namens die verweerder is die Rabes se gemeente predikant, ds Dirk
Bester, ook as getuie geroep. Hy het die gesin oor 'n tydperk
van jare, voor en
na die ongeluk, goed leer ken. Volgens ds Bester is hy na die ongeluk by
geleentheid deur mev Rabe ontbied wanneer
Rabe onbeheerbaar geraak het en kon hy
tog daarin slaag om Rabe te kalmeer. Mev Rabe se antwoord hierop was, in die
breë, dat
Rabe hom wel gedra wanneer buitestaanders aanwesig is, maar met
sy woedeuitbarstings en agressiewe optrede begin sodra hy weer alleen
is met die
lede van sy gesin.
[16] Na alles wil dit dus voorkom asof Rabe, hoewel hy
nie alleen gelaat kan word nie en versorging nodig het, tog daarin slaag om
in
'n mate van dag tot dag te funksioneer. Voorts lyk die afleiding geregverdig dat
Rabe voldoende insig en oordeel behou het om
homself in teenwoordigheid van
buitestaanders toepaslik te gedra en dat hy terselfdertyd steeds oor voldoende
selfbeheer beskik om
sy optrede dienooreenkomstig in te rig.
[17] Wat die
toekoms betref, is daar 'n mate van verskil tussen die deskundige getuies oor
die vraag of Rabe se onaanvaarbare gedrag
wat deur sy
persoonlikheidsveranderings meegebring is, hetsy deur medikasie of terapie,
verbeter kan word. Dit is duidelik dat geeneen
van die deskundiges hieroor
dogmaties kan wees nie. Nietemin is die verweerder se deskundiges oor die
algemeen meer positief oor
Rabe se prognose as die eiser se deskundiges. Alles
inaggenome moet egter myns insiens aanvaar word dat Rabe se funksionering en
gedrag in die toekoms nie dermate sal verbeter dat dit 'n noemenswaardige
verskil sal maak by die beoordeling van die uitstaande
geskilpunte nie. Dit stem
ook in wese ooreen met die verhoorhof se slotsom in dié
verband.
[18] Dit bring my by die afname in Rabe se verstandelike
vermoëns wat deur sy breinbeserings teweeggebring is. Daar is geen
getuienis
beskikbaar oor wat Rabe se intelligensie kwosient ('IK') voor die
ongeluk was nie. In November 1994, ongeveer 18 maande na die ongeluk,
is wel
psigometriese toetse op hom gedoen. Dit het gedui op inkorting van sommige
kognitiewe funksies, veral sy geheue en sy vermoë
om te konsentreer.
Nietemin het sy praktiese IK op daardie stadium 117 getoets, sy verbale IK 89 en
sy globale IK 103.
[19] In Mei 2001 is Rabe egter weer psigometries
getoets deur dr Alison Madden, 'n neuro-sielkundige, wat namens die eiser as
getuie
geroep is. Volgens die resulate van dr Madden se toetse was Rabe se
verbale IK en sy prestasie IK op daardie stadium beide in die
omgewing van 70.
Sy globale IK was 69. Hiervolgens was sy intellek in die heel onderste tweede
persentiel van die samelewing en het
dit hom in die kategorie van verstandelik
gestremdes geplaas. 'n Jaar daarna, dit is in Mei 2002, is Rabe weer
geëvalueer deur
me Cora de Villiers, 'n neuro-sielkundige wat namens die
verweerder getuig het. Die resultate van haar toetse was wesenlik dieselfde
as
die van dr Madden.
[20] Vir die dramatiese afname in veral Rabe se
praktiese IK tussen 1994 en 2001 was daar geen voor-die-hand-liggende rede nie.
Gevolglik
het dit aanleiding gegee tot botsende teorieë deur die
verskillende deskundige getuies oor wat die oorsaak daarvan kon wees.
Dr Madden
se teorie het daarop neergekom dat Rabe ly aan progressiewe demensie waardeur sy
verstandelike vermoëns stelselmatig
afgetakel word. Daarteenoor was me De
Villiers se teorie dat Rabe tydens die toetsing in 2001 en 2002 sy kognitiewe
tekortkominge
gesimuleer het, oftewel doelbewus oordryf het. 'n Derde teorie was
dat die dramatiese afname in Rabe se verstandelike vermoëns
aan 'n
kombinasie van faktore toegeskryf moet word. Faktore wat by hierdie kombinasie
ingesluit word, behels, onder andere, sy herhaalde
epileptiese aanvalle en die
medikasie wat hy daarvoor gebruik, sy swak geheue en die totale gebrek aan
stimulasie uit sy omgewing
sedert November 1996 toe hy opgehou het om te werk.
Daarby is daar 'n gebrek aan dryfkrag en emosionele beheer wat 'n inherente
gevolg
is van sy frontale lob beserings en wat sigself sou manifesteer in die
afwesigheid van enige motivering om in die psigometriese toetse
te
presteer.
[21] In die loop van die verhoor is aansienlik tyd spandeer aan
die verdediging en weerlegging van die onderskeie teorieë. In
die uitspraak
van die verhoorhof is die simulasie-teorie van me De Villiers pertinent verwerp.
Ek vind dit egter onnodig om oor hierdie
geskilpunt uitsluitsel te gee.
Eerstens, omdat Rabe se oorblywende probleme wat op die uitstaande geskilpunte
betrekking het, eerder
te make het met sy epileptiese aanvalle en die
veranderinge in sy persoonlikheid as met die afname in sy verstandelike
vermoëns.
Tweedens, is al die deskundiges dit in elk geval met mekaar eens
dat die resultate van psigometriese toetse op 'n breinbeseerde persoon
misleidend kan wees aangaande die persoon se werklike intellektuele
vermoëns. Wanneer die uitslae van sielkundige toetse dus
merkbaar verskil
van die betrokke persoon se intellektuele funksioneringsvlakke wat deur
kollaterale bronne aangedui word, moet die
kollaterale inligting by die bepaling
van die persoon se werklike intellektuele vermoë, voorrang geniet.
Gevolglik was die deskundige
getuies dit met mekaar eens dat die bepaling van 'n
breinbeseerde persoon, soos Rabe, se werklike verstandelike vermoëns nie
so
seer afhang van die uitslae van psigometriese toetse nie, maar van hoe hy
daagliks sy lewe hanteer.
VERSORGING
[22] Teen hierdie
agtergrond kan ek nou oorgaan na die geskilpunte aangaande die tipe versorging
wat Rabe in die toekoms nodig sal
hê. Dit is gemene saak dat Rabe nie sy
eie sake kan hanteer nie; dat daar vir hom 'n kurator bonis aangestel
moet word en dat die verweerder aanspreeklik is vir die koste wat daaraan
verbonde sal wees. Eweneens is dit gemene saak
dat Rabe, veral weens sy
epilepsie en persoonlikheidsveranderings, nie meer na homself kan omsien nie en
dat hy voortdurend sorg
nodig het. Die deskundiges aan beide kante is dit ook
met mekaar eens dat vir solank mev Rabe nog met haar man saamleef, hy as
eggenoot
en vader in die gesinswoning moet aanbly en dat dit dus onwenslik sou
wees om hom te institusionaliseer. Hy moet dus aan huis versorg
word. Gedurende
die nege jaar wat tussen die ongeluk en die verhoor verloop het, het mev Rabe
hierdie versorgingstaak alleen verrig.
Dit is egter nie die verweerder se saak
dat sy daarmee moet voortgaan nie. Gevolglik is dit ook gemene saak dat die
verweerder aanspreeklik
is vir betaling van die koste wat nodig is om aan Rabe
se redelike versorginsbehoeftes te voorsien. Die geskil tussen die partye
draai
om welke tipe versorging redelikerwys voldoende sal wees.
[23] Die
voorstel van die eiser se deskundiges is in kort dat Rabe vir die res van sy
lewe voltyds, dit is vir 24-uur per dag en vir
sewe dae in die week, versorg
moet word. Daarbenewens stel hulle voor dat die versorger bedags (dit is van
sewe voormiddag tot sewe
namiddag) 'n gekwalifiseerde stafverpleegster en snags
(dit is van sewe namiddag tot sewe voormiddag) 'n verpleegassistent moet wees;
dat beide van hierdie versorgers opleiding en ervaring moet hê in die
hantering van psigiatriese pasiënte en dat oor beide
van hulle toesig gehou
moet word deur 'n professionele persoon in diens van 'n verpleegagentskap.
Hierteenoor kan daar, volgens die
verweerder se deskundiges, aan Rabe se
versorgingsbehoeftes voldoen word deur 'n huishoudster/versorger wat opgelei is
om Rabe se
epileptiese aanvalle en gedragsprobleme te hanteer en wat op weeksdae
vir mev Rabe met sowel die huishouding as Rabe se versorging
kan bystaan.
[24] Die gekapitaliseerde waardes van die uitgawes wat die onderskeie
versorgingsmodelle sal meebring, is by ooreenkoms bepaal. Hieruit
blyk dat die
verskil aansienlik is. Die gekapitaliseerde waarde van die uitgawes wat aan die
implementering van die eiser se model
verbonde sal wees, is die
volgende:
Stafverpleegster (gedurende die
dag) R1 939 310
Verpleegassistent (gedurende die
nag) R1 342 930
Toesighouding deur verpleegagentskap R
24 480
Totaal R3 306 720
Hierteenoor sal die verweerder se
voorstelle die volgende uitgawes meebring:
Huishoudster/versorger @
R2 250 per maand
plus 'n dertiende bonustjek en 'n verdere R700
per
maand vir akkommodasie en 'n vervangende
versorger tydens vier weke se
jaarlikse verlof
met voorsiening vir twee weke
siekteverlof R639 280
Opleiding vir huishoudster/versorger @
R1 000 elke vyf jaar R 3 470
Toesig oor huishoudster @
R250 per maand R 45 970
Totaal R688 720
As 'n variasie op hierdie voorstel het die
verweerder aanvaar dat die salaris van die huishoudster moontlik R3 000 in
plaas van
R2 500 per maand kan bedra. Die gekapitaliseerde bedrag van
sy/haar salaris sal dan verhoog tot R795 250 en die totale
koste van
versorging tot R844 690. Die verhoorhof het die voorstelle van die eiser se
deskundiges aanvaar. Dit het die bevinding
meegebring waarna reeds ter aanvang
verwys is, naamlik dat die gekapitaliseerde koste verbonde aan Rabe se
toekomstige versorging,
R3 306 720 sal beloop.
[25] Die
vernaamste voorstanders van die eiser se voorstel was 'n arbeidsterapeut, me
Elke Carey. Hoewel sy hoofsaaklik ondersteun
is deur 'n psigiater, prof Tuviah
Zabow, het die eiser se ander deskundige getuies hulle ook in beginsel by haar
voorstel geskaar.
Daarteenoor is die verweerder se voorstel verdedig deur me
Marion Fourie, wat ook 'n arbeidsterapeut is, en 'n psigiater, dr Frans
Hugo.
[26] Die eiser se deskundiges gee toe dat 'n huishoudster opgelei kan
word om na Rabe om te sien wanneer hy 'n epileptiese aanval
kry. Hul standpunt
is egter dat slegs 'n verpleegkundige met opleiding en ervaring in die hantering
van psigiatriese pasiënte
in staat sal wees om Rabe se gedragsprobleme en
veral sy woedeuitbarstings en aggressie te hanteer. Volgens me Carey moet so 'n
verpleegkundige
verkieslik ook oor die volgende eienskappe beskik: hy moet 'n
fisies sterk man wees, omdat Rabe minder geneig sal wees om in die
teenwoordigheid van 'n fisies sterk man tot geweld oor te gaan; hy moet 'n
blanke wees want Rabe is geneig tot rassisme; hy moet
Afrikaanssprekend wees en
sy opvoedkundige status min of meer gelyk aan die van Rabe, sodat hy vir Rabe
kan trakteer en besig hou.
Hy moet ook 'n bestuurderslisensie hê. Op die
stelling aan haar dat dit eenvoudig nie moontlik sal wees om 'n versorger te
kry
wat aan al hierdie vereistes, of selfs die meerderheid daarvan, voldoen nie, was
haar antwoord die volgende:
'I agree ... this is pretty much the ideal ...
finding the ideal is very difficult but one has to have a starting point of
defining
the ideal carer and then adapt to the situation.'
[27] Een punt
waarop Carey onwrikbaar vasgestaan het, was dat niemand anders as 'n
stafverpleegster met psigiatriese opleiding en
ervaring in staat sal wees om
Rabe se gedragsprobleme te hanteer nie. Hierin is sy deur prof Zabow en verskeie
ander van eiser se
deskundiges ondersteun. As rede waarom daar ook gedurende die
nag 'n verpleegster aan diens moet wees, het me Carey aangevoer dat
Rabe dikwels
in die middel van die nag wakker word en dan iemand nodig het om hom te versorg.
Hoewel hierdie versorger ook in staat
moet wees om Rabe se gedragsprobleme te
hanteer, hoef dit nie 'n opgeleide verpleegster te wees nie. 'n
Verpleegassistent met psigiatriese
ervaring sal dan voldoende wees. 'n Verdere
element van Carey se voorgestelde model is dat die versorgers, beide bedags en
snags,
geroteer moet word. Om hierdie rede was haar verdere voorstel dat die
versorgers deur 'n verpleegagentskap verskaf moet word wat
dan terselfdertyd,
teen 'n fooi, professionele toesig oor hulle kan uitoefen.
[28] Beide me
Fourie en dr Hugo gaan uit van die standpunt dat 'n buitestaander nie die rol
van primêre versorger by mev Rabe
kan oorneem nie. Solank sy teenwoordig
is, sê hulle, sal sy veral in die oë van Rabe, sy primêre
versorger bly.
Die rol van die versorger sal dus wees om mev Rabe te ondersteun.
Na hulle mening hoef die versorger nie 'n opgeleide verpleegkundige
te wees om
hierdie ondersteunende funksie te vervul nie. Hulle stem nie saam dat slegs 'n
verpleegkundige met psigiatriese opleiding
en ervaring in staat sal wees om Rabe
se gedragsprobleme te hanteer nie. Ook 'n huishoudster met volwassenheid en die
vermoë
om met mense te werk kan, volgens hulle, sekere basiese tegnieke
aangeleer word om gedragsprobleme, soos aggressiewe uitbarstings,
te hanteer.
Hulle wys daarop dat by inrigtings wat juis daarin spesialiseer om na
breinbeseerdes met gedragsprobleme om te sien,
daar nie van opgeleide
verpleegkundiges gebruik gemaak word nie. Soos by hierdie inrigtings, sê
hulle, sal die taak van die
versorger nie wees om Rabe te behandel en deur
terapie te probeer rehabiliteer nie. Dit sal die taak wees van psigiaters en
neuroloë
vir wie se fooie reeds onder die hoof van 'toekomstige mediese
kostes' voorsiening gemaak is.
[29] Volgens die verweerder se deskundiges
sal die feit dat die versorger 'n opgeleide verpleegkundige is ook nie vir mev
Rabe enige
addisionele beskerming bied teen fisiese aanrandings deur haar man
nie. Wanneer die versorger teenwoordig is, sal sy blote aanwesigheid,
afgesien
van sy opleiding, sodanige beskerming verskaf. Wanneer mnr en mev Rabe aan die
anderkant alleen is, soos hulle dikwels sal
wees, kan die feit dat die versorger
'n opgeleide verpleegkundige is, nouliks 'n aanranding wat volg op 'n impulsiewe
woedeuitbarsting,
verhoed. Positiewe inmenging deur die fisies sterk man wat me
Carey voorstel, sal volgens die verweerder se deskundiges, juis die
situasie
vererger. Voorts, sê die verweerder se deskundiges, kan buitestaanders wat
op 'n roterende basis permanent in Rabe
se teenwoordigheid is vir hom 'n
verdere bron van irritasie wees wat op sigself die oorsaak van woedeuitbarstings
kan wees.
[30] 'n Verdere onderwerp van verskil tussen die onderskeie
deskundiges het gewentel om die beskikbaarheid van die verpleegkundiges
met
opleiding en ervaring in die hantering van psigiatriese pasiënte. Die
mening van die verweerder se deskundiges was dat sodanige
verpleegkundiges
onbekombaar sal wees. Ter weerlegging van hierdie mening is die verteenwoordiger
van 'n verpleegagentskap namens
die eiser geroep om te getuig dat dit tog
moontlik is om die dienste van sulke verpleegsters te bekom. Hy moes egter op
die ou end
in kruisverhoor toegee dat hoewel nie onmoontlik nie, dit
onwaarskynlik is dat hy sulke verpleegkundiges vir Rabe se privaat verpleging
sal vind.
[31] Volgens die verhoorregter se uitspraak het hy, na aanhoor
van al die deskundiges, meriete in beide die teenoorstaande standpunte
gesien.
Gevolglik het hy self vir mev Rabe aan die einde van die verhoor as getuie
teruggeroep en haar pertinent voor die keuse gestel
welke van die voorgestelde
modelle sy wil aanvaar. Nie heeltemal onverwags nie, het sy toe haar voorkeur
vir die eiser se model uitgespreek.
Dit het die verhoorregter in 'n groot mate
beïnvloed om dieselfde keuse te maak.
[32] By beoordeling van die
teenoorstaande modelle wat voorgestel is, moet die feite wat volg myns insiens
as gegewe aanvaar word.
Rabe het geen fisiese versorging nodig nie. Hoewel hy
soms vergeet om sy medikasie te neem of om na sy persoonlike higiëne om
te
sien, kan hy dit self doen as hy daaraan herinner word. Hoewel sy verstandelike
vermoë drasties ingekort is, is hy tog in
staat om in sy beperkte omgewing
van dag tot dag te funksioneer. Hy kan homself tot 'n mate vermaak deur
televisie te kyk en speletjies
op 'n rekenaar te speel. Hy neem tog nog by
geleentheid deel aan sosiale aktiwiteite, soos om deur verjaardagpartytjies en
sportaktiwiteite
by te woon. Hy gaan soms nog met sy familie uitkamp. Hoewel sy
oordeel en selfbeheer ernstig gekompromiteer is, het hy dit nie heeltemal
verloor nie. So byvoorbeeld kan hy homself daarvan weerhou om in die
teenwoordigheid van derdes sy vrou fisies aan te rand. Weens
sy epileptiese
aanvalle, kan hy nie vir enige noemenswaardige tydperk alleen gelaat word nie.
Bystand aan 'n epileptikus kan egter
deur enigiemand verleen word wat 'n basiese
opleiding ontvang het om dit te hanteer. Sodanige basiese opleiding kan aan
enige verantwoordelike
persoon gegee word. Rabe sal in die toekoms terapie
ontvang om sy gedrag te probeer verbeter. Sodanige terapie sal egter nie verskaf
word deur sy versorger nie, maar deur deskundiges en die koste daaraan verbonde
sal vir die verweerder se rekening wees.
[33] Beide die teenoorstaande
modelle is gebaseer op die premis dat Rabe en sy vrou nog saamleef in dieselfde
huis. Indien die Rabes
se samewoning om een of ander rede beëindig sou
word, is daar, volgens die deskundiges, eintlik geen rede waarom hy nog in
sy
eie woning versorg moet word nie. In daardie omstandighede sal dit eintlik vir
hom beter wees om opgeneem te word in 'n inrigting
wat in die versorging van
breinbeseerdes soos hy spesialiseer. Die koste verbonde aan sodanige
institusionalisering sal minder wees
as die versorgingskoste tuis waarvoor selfs
ooreenkomstig die verweerder se goedkoper model voorsiening gemaak word.
[34] Aanvaarding van mev Rabe se teenwoordigheid in dieselfde huis bring
aanvaarding mee van die gegewe dat die Rabes as egpaar by
geleentheid, hetsy met
vakansie of in die slaapkamer, noodwendig alleen in mekaar se geselskap sal moet
wees. Enige model wat gebou
is op die veronderstelling dat die versorger
voortdurend in hul teenwoordigheid sal wees, is dus nie alleen onwerkbaar nie
maar ook
onwenslik. Daarmee saam moet in gedagte gehou word dat Rabe se
woedebuie as 'n reël onverwags is en van korte duur. As hy dan
sy vrou in
so 'n onverwagse woedebui sou aanrand terwyl hulle twee alleen is, sal daar
weinig wees wat enige versorger, afgesien
van sy opgeleiding, daaraan kan doen.
Voorts moet dit aanvaar word dat Rabe sy vrou, wat hom die afgelope elf jaar
alleen versorg
het, steeds as sy primêre versorger sal beskou. Hoewel dit
waar is, soos die eiser betoog, dat die verweerder nie sy verpligtinge
as
delikpleger op mev Rabe kan afwentel nie, kan die voorgaande realiteite nie
geïgnoreer word nie. As sy vrou by is, sal Rabe,
ten spyte van 'n
versorger, steeds haar hulp inroep as sy in die nabyheid is en sy sal dit uit
die aard van hulle verhouding, steeds
verleen.
[35] Daarbenewens moet as
realiteit aanvaar word dat geen versorger mev Rabe effektief kan verskans teen
die onaangenaamhede wat samelewing
met Rabe in sy veranderde toestand steeds vir
haar sal meebring nie. Wat gedoen kan word, is om aan haar die geleentheid te
bied
wat sy gedurende die afgelope elf jaar ontbeer het, om soms vir 'n slag op
haar eie te wees en om, hetsy deur werk of ontspanning,
haarself te verwesenlik.
Wanneer sy tuiskom, sal sy egter maar weer gekonfronteer word deur haar man se
epileptiese aanvalle en sy
periodieke woedebuie. Dit is die ongelukkige
werklikheid van die situasie waarin mev Rabe haar bevind solank sy die eerbare
weg volg
deur by hom te bly. Uiteraard het mev Rabe ook behoefte aan beskerming
teen haar man se aanrandings. Volgens haar eie ervaring in
die verlede sal dit
waarskynlik nie in teenwoordigheid van 'n derde gebeur nie. In hierdie opsig sal
die kwalifikasie van die versorger
egter ook geen wesenlike verskil maak nie.
[36] Teen die agtergrond van al hierdie oorwegings kan ek in die eerste
plek nie saamstem met die bevinding van die hof a quo dat Rabe ook
gedurende die nag en vir sewe dae in die week versorging nodig het nie. Me Carey
se motivering vir haar voorstel tot
dien effekte is dat Rabe gereeld in die
middel van die nag wakker word en dat hy dan 'n verpleegkundige nodig het om sy
gedragsprobleme
te hanteer. Die hoogwatermerk van die eiser se saak in hierdie
verband is egter dat Rabe in die nag wakker word en voor die televisie
gaan sit.
Dit spreek van self dat Rabe nie 'n versorger nodig het wanneer hy maar net sit
en televisie kyk nie. Me Carey se voorstel
kom dus daarop neer dat daar 'n
verpleegkundige dwarsdeur elke nag in die Rabes se huis aan diens moet wees
bloot ter voorsiening
van die moontlike gebeurlikheid dat Rabe hom dalk een nag
mag wangedra. Dit getuig myns insiens van oordadigheid. Miskien is hierdie
oordadigheid toe te skryf aan wat blyk me Carey se algemene uitgangspunt te
wees, naamlik dat vir 'n ideale model van versorging
voorsiening gemaak moet
word. So 'n uitgangspunt is natuurlik verkeerd. Die juiste vraag is welke
versorging Rabe redelikerwys nodig
het.
[37] Uiteindelik, so wil dit
voorkom, is die verhoorhof se bevinding dat Rabe voltydse sorg nodig het egter
nie soseer op die mening
van deskundiges nie, maar op die getuienis van mev Rabe
gefundeer. Sy het die behoefte aan voltydse versorging aangevoer op die
grondslag
dat sy van plan is om weer te gaan werk en dat sy iemand nodig het om
haar by te staan wanneer sy saans moeg van die werk af kom.
Sy het ook die
bekommernis uitgespreek dat sy dit nie sal kan hanteer as Rabe haar nagrus
versteur terwyl sy die volgende oggend
moet gaan werk nie.
[38] Op
hierdie argument van mev Rabe is daar egter myns insiens ten minste drie
antwoorde. Eerstens is dit onwaarskynlik dat mev
Rabe ooit weer sal gaan werk.
Sy het slegs 'n standerd 8 (nou graad 10) kwalifikasie. Sedert haar oudste kind
se geboorte in 1981
het sy nog nooit gewerk nie en voor dit het sy klerklike
werk gedoen. In hierdie omstandighede moet die kanse dat mev Rabe 'n werk
sal
bekom, baie skraal wees. Tweedens is daar die oorweging waarna ek reeds verwys
het; dat terwyl mev Rabe met haar man saamleef,
niemand haar werklik kan
verskans teen die realiteite wat daardie samelewing vir haar meebring nie.
Wanneer sy van die werk af kom
sal sy, versorger of te nie, steeds met sy gedrag
moet saamleef en in die nag sal hy haar waarskynlik steeds pla. Derdens dui
gesonde
verstand op die juistheid van die mening uitgespreek deur die verweerder
se deskundiges, dat die gedurige teenwoordigheid van roterende
buitestaanders in
die Rabes se huis eerder verdere stremming op die Rabes se verhouding sal plaas
en 'n bron van irritasie vir Rabe
sal wees.
[39] Bowendien moet in
gedagte gehou word dat mev Rabe getuig het in 'n toestand wat sy self as naby
breekpunt beskryf het. Dit is
te verstane. Op daardie stadium moes sy vir nege
jaar sonder enige hulp of respyt na Rabe omsien en sy onaanvaarbare gedrag
hanteer.
Sy sal nou verligting kry. Welke model ook al aanvaar word, sal sy
geleentheid kry om gedurende elke weeksdag op haar eie te wees.
In hierdie
veranderde omstandighede is daar geen rede om te glo dat sy, selfs wanneer sy
weer tot verhaal gekom het, steeds nie sal
kans sien om saans en oor naweke na
Rabe om te sien nie.
[40] Ook wat betref die versorger se kwalifikasie
kan ek nie saamstem met die verhoorhof se bevinding dat Rabe gedurende die dag
slegs
deur 'n stafverpleegster met opleiding en ervaring in die hantering van
breinbeseerdes versorg kan word nie. Uiteindelik draai die
vernaamste verskil
tussen die deskundiges in hierdie verband om die vraag of 'n huishoudster met
die regte persoonlike eienskappe
en opleiding in staat sal wees om Rabe se
aggressie en woedeuitbarstings te hanteer. Die verweerder se deskundiges
sê sy sal
kan, terwyl die eiser se deskundiges die teenoorstaande
standpunt inneem. Oor hierdie aspek neem mev Rabe se eie getuienis nie die
saak
verder nie.
[41] Beide die eiser se deskundiges, me Fourie en dr Hugo, het
aansienlike ervaring in die behandeling en hantering van pasiënte
wat
breinskade opgedoen het. Hul mening is onder meer gefundeer op die basis dat
inrigtings wat in die versorging van breinbeseerde
pasiënte spesialiseer
ook nie van verpleegsters nie, maar van huishoudsters met die regte persoonlike
eienskappe en die toepaslike
opleiding gebruik maak om in die daaglikse
behoeftes van hulle pasiënte te voorsien. Mev Fourie het dan ook getuig dat
sy self
in die verlede die toepaslike opleiding aan sulke versorgers verskaf
het. Uiteraard is hierdie versorgers by inrigtings nie vir die
terapie van
breinbeseerdes verantwoordelik nie. Op die verweerder se voorstel sal dieselfde
egter ook vir Rabe geld. Sy terapie asook
die basiese opleiding van die
versorger sal verskaf word deur deskundiges vir wie se fooie die verweerder
aanspreeklik sal wees.
[42] Die mening van die verweerder se deskundiges
kan nie sonder meer verwerp word nie. Inteendeel, is dit logies goed
verantwoord.
In elk geval is daar, op die beste vir die eiser, geen rede waarom
hulle mening minder gewig moet dra as die teenoorstaande mening
van die eiser se
deskundiges nie. Gevolglik is die bevinding nie geregverdig dat die goekoper
model wat hulle voorstel waarskynlik
nie voldoende sal wees nie. In die
omstandighede kan die verweerder nie verplig word om vir die aansienlik duurder
model te betaal
nie. Die feit dat die duurder model nog beter mag wees, is nie
ter sake nie.
[43] 'n Verdere oorweging in die verweerder se guns is dat
die versorger wat aan die vereistes van die eiser se deskundiges voldoen,
waarskynlik nie bekom sal word nie. Die verhoorhof se antwoord hierop was dat
dit geen rede is om Rabe die addisionele uitgawe wat
aan sodanige versorging
verbonde sal wees, te ontsê nie. Ek stem egter nie saam nie. In beginsel
kan die verweerder nie aanspreeklik
gehou word vir die addisionele koste van
versorging wat waarskynlik nooit aangegaan sal kan word nie.
[44] Soos
reeds aangedui, behels die verweerder se model twee alternatiewe voorstelle. Die
eerste is dat die huishoudster/ versorger
R2 250 per maand sal verdien
terwyl die tweede voorsiening maak vir 'n salaris van R3 000 per maand. Aan
die hand van me
Fourie se getuienis is ek van oordeel dat, weens die besondere
eise wat Rabe se versorging sal meebring, daar vir die hoër salaris
voorsiening gemaak moet word. Met verwysing na die partye se ooreenkoms rakende
die kapitalisering van toekomstige uitgawes, sal
die koste van Rabe se
versorging derhalwe R844 690 in totaal bedra.
GEBEURLIKHEID
[45] Die verweerder se tweede beswaar teen die
uitspraak van die hof a quo het betrekking op die gebeurlikheidsfaktor
van 10 persent wat ten opsigte van sowel Rabe se versorgingskoste as sy
toekomstige verlies
aan verdienste toegelaat is.
[46] Wat toekomstige
verlies aan verdienste betref is die betoog namens die verweerder dat dit
onderworpe gemaak moet word aan 'n
aftrekking van minstens 25 persent vir
gebeurlikhede. Ter ondersteuning hiervan is veral drie oorwegings aangevoer.
Eerstens, dat
Rabe 'n gevaarlike werk gedoen het wat onder meer behels het dat
hy vanuit 'n helikopter aan lewendige hoogspanningskabels gewerk
het. Tweedens,
dat hy dikwels vir sy werk moes reis wat meegebring het dat hy in 'n groter mate
as die normale aan die risiko van
motorongelukke blootgestel was. Derdens, dat
hy vanaf 'n vroeë ouderdom aan hipertensie gely het. In die lig hiervan, so
is
namens die verweerder betoog, moet voorsiening gemaak word vir 'n
gebeurlikheid van minstens 25 persent dat Rabe, afgesien van die
ongeluk, in elk
geval, weens dood of besering in die toekoms 'n verlies aan inkomste sou ly.
[47] Gebeurlikheidsfaktore kan uiteraard nie met matematiese presiesheid
bepaal word nie. Dit hang ten nouste saam met die feite en
omstandighede van die
bepaalde saak. Die verhoorregter moet die billike gebeurlikheidsfaktor, met in
agneming van hierdie feite en
omstandighede, in die uitoefening van sy diskresie
bepaal. Op appèl word slegs met die uitoefening van hierdie diskresie
ingemeng
as dit nie behoorlik uitgeoefen is nie (sien bv Van der Plaats v SA
Mutual Fire & General Co Ltd 1980 (3) SA 105 (A) 114F-115D). In hierdie
lig vind ek dit onnodig om die betoog wat namens die verweerder in hierdie
verband aangevoer is in besonderhede
te oorweeg. Ek volstaan deur die bevinding
te boekstaaf dat ek geen fout kan vind met die wyse waarop die verhoorregter sy
diskresie
uitgeoefen het nie.
[48] By versorgingskoste is die posisie
ietwat anders. Die verhoorhof het klaarblyklik die gebeurlikheidsfaktor van 10
persent bepaal
met verwysing na die model wat hy aanvaar het, synde die model
wat die eiser aan hom voorgehou het. Indien hierdie hof die verweerder
se model
aanvaar ontstaan die vraag of die gebeurlikheidsfaktor van 10 persent moet bly
staan. Namens die verweerder is betoog dat
selfs in dié omstandighede
toegelaat moet word vir 'n gebeurlikheidsfaktor van minstens 20 persent. Ter
ondersteuning hiervan
is in die eerste plek verwys na die moontlikheid dat Rabe
se vrou hom in die toekoms mag verlaat, in welke geval hy waarskynlik in
'n
inrigting sal beland waar sy versorgingskoste heelwat minder sal wees. Voorts is
daar ook gewys op die getuienis waarvolgens Rabe
daarop aandring om dinge te
doen wat in die lig van sy potensiële epileptiese aanvalle vir hom verbode
is, soos om sy motor
te bestuur, waardeur sy risiko van mortaliteit aansienlik
verhoog word.
[49] Myns insiens is daar meriete in die verweerder se
betoog. Aan die anderkant is daar 'n gebeurlikheid wat in die eiser se guns
in
ag geneem moet word, naamlik dat die koste verbonde aan sy toekomstige
versorging moontlik tog meer mag wees as wat by aanvaarding
van die verweerder
se model toegelaat word. In al die omstandighede dui oorwegings van billikheid
myns insiens aan dat geen aftrekking
vir gebeurlikheid gemaak word van die
gekapitaliseerde koste wat vir Rabe se versorging voorsien word
nie.
[50] Wat betref die restant van die toekomstige mediese uitgawes is
geen rede aan die hand gedoen waarom ingemeng sal word met die
verhoorhof se
beslissing dat 10 persent vir gebeurlikhede afgetrek moet word nie. Hierdie
beslissing moet derhalwe bly staan.
DIE BESWAAR TEEN TWEE INDIVIDUELE
ITEMS WAT AS DEEL VAN TOEKOMSTIGE MEDIESE KOSTE TOEGESTAAN IS
[51] Die
eerste item waarteen die verweerder beswaar maak, behels 'n bedrag van
R110 400. Dit verteenwoordig die gekapitaliseerde
koste vir maandelikse
psigiatriese sessies vir die res van Rabe se lewe teen R500 per sessie. Die
verweerder ontken dat Rabe geregtig
is op maandelikse sessies vir die res van sy
lewe. Sy betoog is dat Rabe slegs vir vier jaar op maandelikse sessies geregtig
is en
daarna op een sessie elke ses maande. Aanvaarding van die verweerder se
betoog sal meebring dat die gekapitaliseerde koste verbonde
aan psigiatriese
sessies slegs R17 000 sal bedra. Die aansienlike verskil van R93 400
tussen die twee bedrae hang ten nouste
saam met dr Hugo se meer optimistiese
siening as dié van prof Zabow oor die mate waarin Rabe deur terapie
gerehabiliteer sal
kan word. Alles inaggenome kan die verhoorhof myns insiens
nie fouteer word in sy aanvaarding van prof Zabow se meer pessimistiese
siening
nie. Hiervolgens is die moontlikheid van suksesvolle terapie eerder 'n
gebeurlikheid, wat inderdaad as sodanig deur die verhoorhof
in ag geneem is.
Gevolglik moet die toekenning van R110 400 bly staan.
[52] Die
tweede beswaar is teen die voorsiening van R77 270 vir psigometriese
medikasie. Die verweerder voer aan dat hierdie
toekenning neerkom op 'n
duplikasie omdat daar reeds vir dieselfde medikasie voorsiening gemaak is onder
die hoof van behandeling
vir epilepsie.
[53] Dit blyk dat daar inderdaad
onder die hoof 'koste weens epilepsie' voorsiening gemaak is vir die koste van
medikasie ten bedrae
van R720 per maand wat dan 'n gekapitaliseerde uitgawe van
om en by R320 000 meebring. Daar is ook aanduidings op die getuienis
dat
die medikasie wat vir Rabe se epilepsie voorgeskryf word en die psigotropiese
medikasie vir beheer van sy gedrag, dieselfde is.
Die sterkste aanduiding van
duplikasie blyk egter uit 'n verslag van die eiser se psigiater, prof Zabow,
waarin hy die volgende stelling
maak:
'Medical expenses for Mr Rabe are
estimated as follows:
...
Psychotropic and anticonvulsant
medication : R750.00 per month' (My beklemtoning).
[54] In antwoord op
die onderhawige beswaar verwys die eiser na 'n vorige verslag van prof Zabow
waarin hy aandui dat die koste van
psigotropiese medikasie 'between R300 and
R400 per month' sal wees. Dit is duidelik dat die R77 270 waarteen die
onderhawige
beswaar gerig is, op die basis van hierdie verslag bereken is. Teen
hierdie agtergrond is die eiser se teenargument dus dat die beswaar
van
duplikasie nie ontvanklik is nie, omdat dit berus op 'n dubbelsinnigheid
voortspruitend uit twee verslae van prof Zabow wat nooit
in kruisverhoor met hom
opgeklaar is nie. Die antwoord op hierdie teenargument is myns insiens
tweeledig. Eerstens is die beraamde
bedrag van R750 per maand wat volgens prof
Zabow die koste van beide epileptiese en psigotropiese medisyne sal dek, net te
na aan
die bedrag van R720 wat vir epilepsie medikasie voorsien is, om bloot
toevallig te wees. Tweedens kan die eiser nie die voordeel
kry van 'n
onopgeklaarde dubbelsinnigheid in die getuienis van sy eie deskundige nie.
Gevolglik moet myns insiens ten gunste van
die verweerder aanvaar word dat die
beswaar van duplikasie geldig is en dat die bedrag van R77 270 derhalwe
verkeerdelik toegestaan
is.
ALGEMENE SKADE
[55] Rabe se
belewenis van die ontstellende verlies wat die verweerder se onregmatige daad in
sy lewe teweeggebring het, is vir die
buitestaander nouliks denkbaar. In sy
dertigerjare het hy sy werk verloor en hy sal nooit weer enige betrekking kan
beklee nie. Waar
hy vroeër 'n gelukkige gesinsman was, is sy kinders nou
bang vir hom en loop hy gevaar om sy vrou te verloor. Indien dit gebeur
is sy
vooruitsig om die res van sy lewe in 'n inrigting te slyt. Sy vriendekring het
drasties verklein. Hy is bewus daarvan dat hy
in 'n groot mate beheer oor sy eie
gedrag verloor het en dat sy verstandelike vermoëns aansienlik verminder
het. Hy kry epileptiese
aanvalle en gevolglik mag hy nie meer 'n motor bestuur
nie. Dit pla hom dat hy nie meer vir sy gesin kan sorg nie en van 'n permanente
versorger afhanklik is. Sy daaglikse aktiwiteite is beperk en sy wêreld
het gekrimp. Daarbenewens bring sy ortopediese beserings
steeds vir hom pyn,
ongerief en ongeskiktheid mee, welke toestand na verwagting nie in die toekoms
sal verbeter nie.
[56] Rabe is geregtig op billike kompensasie vir
hierdie verlies. Die bedrag van sodanige kompensasie moet egter ook billik wees
teenoor
die verweerder. Dit is juis in 'n geval soos hierdie waar die hof moet
waak teen die menslike geneigdheid om te oorkompenseer. Of,
soos Innes HR dit
gestel het in Hulley v Cox 1923 AD 244.246 'we cannot allow our sympathy
for the claimants in this very distressing case to influence our
judgment'.
[57] Nadat die verhoorhof 'n uiteensetting gegee het van alles
wat Rabe verloor het, het hy hom soos volg uitgelaat:
'Kan daar verbeel word
dat enige bonus paterfamilias ooit sou toestem dat hy in Rabe se huidige
posisie geplaas word, wat die skadevergoeding daarvoor ookal mag wees? Ek dink
nie so nie.'
Dit is nie heeltemal duidelik wat hierdie stelling beteken nie.
Word daarmee 'n maatstaf geïntroduseer waarvolgens die vraag
is hoeveel
geld die bonus paterfamilias sou aanvaar om die eiser se beserings op te
doen? Hoewel hierdie toets blykbaar soms in die Verenigde State van Amerika
aangewend
word (sien Visser en Potgieter, Skadevergoedingsreg 2de uitgawe
443 vn 35) sou dit in ons reg op 'n mistasting neerkom. Soos wat Schreiner AR
immers uitdruklik in Sigournay v Gillbanks 1960 (2) SA 552 (A) 572D-E
gesê het:
'...as has frequently been observed, one cannot attempt to
award an amount which anyone in his senses would accept in return for this
happening to him.'
Ek aanvaar egter dat dit nie is wat die verhoorhof bedoel
het nie; dat hy maar net wou aandui dat geen bedrag geld ooit genoeg sal
wees om
Rabe te vergoed vir dit wat hy verloor het nie.
[58] Die probleem is
natuurlik dat kompensasie slegs in geld betaal kan word en die hof se dilemma
juis is om 'n geldwaarde toe te
ken vir 'n verlies van dit wat geen geld kan
koop nie. Een van die aanvaarde riglyne wat die howe ter oplossing van hierdie
dilemma
aanwend, is om te kyk na vorige toekennings in vergelykbare gevalle. Met
verwysing na hierdie riglyne is die verweerder se vernaamste
argument juis dat
die verhoorhof se toekenning van R400 000 geheel en al buite verhouding is
met die toekennings wat voorheen
in vergelykbare sake gemaak is. Ter
ondersteuning van hierdie argument is verwys na sake soos Mautla v Road
Accident Fund ('RAF') Corbett & Honey, Quantum of Damages in Bodily
and Fatal Injury Cases Vol V, B3-1; Bridgman NO v RAF op cit
B4-1; Harcourt NO v RAF op cit B4-29 en Botha en 'n ander v Santam
Beperk op cit B4-39. Aan die hand van die toekennings in hierdie sake,
waarin die eisers almal ook breinbeserings opgedoen het, was die betoog namens
die verweerder dat 'n billike vergoeding vir Rabe se algemene skade hoogstens
R120 000 kan wees.
[59] Die hof a quo se antwoord op die
verweerder se gelykluidende beroep op toekennings in vorige beslissings was
hoofsaaklik dat daar 'in van die jongste
beslissings 'n neiging by party van ons
howe [te bespeur] is om groter bedrae as algemene skadevergoeding in gevalle van
ernstige
beserings toe te ken as wat soms in die verlede die geval was'.
En,
het die verhoorhof voortgegaan:
'Hierdie opwaartse neiging in toekennings vir
algemene skadevergoeding in ernstige gevalle is myns insiens te verwelkom ...
In ernstige gevalle soos die onderhawige is skadevergoeding 'n powere
plaasvervanger vir die menigte genietinge, plesiere en vervullings
wat 'n
gesonde lewe die mens aanbied: dit betaam nie 'n beskaafde samelewing om in
verdienstelike gevalle daarmee suinig te wees
nie.'
[60] Die stygende
tendens vir toekennings in algemene skade in die meer onlangse verlede is
duidelik waarneembaar. Ek kan egter nie
saamstem met die verhoorhof se
uitgangspunt waarvolgens dit toegeskryf moet word aan 'n siening dat suinigheid
met vergoeding vir
ernstige beserings nie 'n beskaafde samelewing betaam nie.
Aangesien dit nie die gemeenskap is wat moet betaal nie, maar die verweerder,
het suinigheid aan die kant van die gemeenskap met die saak niks te make nie.
Dit betaam net so min die gemeenskap (of dan die hof)
om te gulhartig te wees
met die verweerder se geld, al was hy of sy regtens aanspreeklik weens sy of
haar nalatige gedrag. Die volgende
uitlating van Holmes R in Pitt v Economic
Insurance Co Ltd 1957 (3) SA 284 (D) 287E-F vind dus eweneens toepassing in
onderhawige verband:
'[T]he court must take care to see that its award is
fair to both sides – it must give just compensation to the plaintiff, but
it must not pour out largesse from the horn of plenty at the defendant's
expense.'
Konserwatisme by die toekenning van algemene skadevergoeding het sy
oorsprong in 'n behoefte dat daar ook teenoor die verweerder billikheid
moet
geskied en nie in die suinigheid van die gemeenskap teenoor die eiser
nie.
[61] In hierdie hof het die eiser die verhoorhof se toekenning van
R400 000 op twee grondslae ondersteun. Eerstens, op die basis
van die
opwaartse neiging in jonger beslissings waarna reeds verwys is en, tweedens, op
die basis dat Rabe se beserings en die gevolge
daarvan heelwat ernstiger was as
dié van die eisers in die sake waarop die verweerder
steun.
[62] Volgens die eiser se betoog is die uitgangspunt van 'n
stygende tendens deur hierdie hof onderskryf in Road Accident Fund v
Marunga 2003 (5) SA 164 (SCA). In Marunga, so is betoog, het hierdie
hof die toekenning deur die Natalse Afdeling, gedurende 1997, in die saak van
Wright v Multilateral Vehicle Accident Fund Corbett & Honey op cit
Vol IV E3-31, as riglyn aanvaar. Dit is ook aanvaar dat die toekenning van
R65 000 in Wright vergelykbaar was met 'n bedrag van R81 000
ten tyde van die Marunga-saak (para 26, 170E). Nietemin het hierdie hof
aan Marunga algemene skadevergoeding in 'n bedrag van R175 000
toegeken (para 34, 172E-F). Dit, so is namens die eiser betoog, regverdig
die
afleiding dat die stygende tendens na hierdie hof se oordeel 'n toekenning
regverdig het van meer as dubbel die bedrag wat deur
die bestaande riglyn
aangedui is.
[63] Die wyse waarop in die eiser se voorafgaande betoog met
die riglyn van vorige toekennings omgegaan word, is eenvoudig onaanvaarbaar.
Die
voorgestelde werkswyse kom daarop neer dat eers gepoog word om sake te vind
waarin die beserings en sequelae min of meer dieselfde is. Daarna word
die toekennings in daardie sake met matematiese presiesheid by huidige
geldwaarde aangepas.
Hierdie aangepaste bedrag word dan, weer eens met
matematiese eksaktheid, vermenigvuldig met 'n faktor van twee, of wat ook al.
Die
som van hierdie berekeninge is dan die skadevergoeding wat aan die eiser
toegeken moet word. Op die ou end bly daar van die hof se
diskresie weinig oor.
[64] Die benadering wat van oudsher deur hierdie hof gevolg word, is
egter juis andersom (sien byvoorbeeld, Hulley v Cox supra 246,
Sigournay v Gillbanks supra 556 en Protea Assurance Co Ltd v Lamb
1971 (1) SA 530 (A) 535). Volgens hierdie benadering is die beginsel juis
dat die vasstelling van nie-patrimoniële skade in die diskresie van
die hof
is. By die uitoefening van die hof se diskresie is vergelyking met toekennings
in vorige sake 'n nuttige hulpmiddel omdat
dit darem vir die hof die breë
parameters oftewel 'n patroon aandui waarbinne sy toekenning tuisgebring moet
word. Dit is ook
'n nodige riglyn omdat konsekwentheid in toekennings 'n
inherente vereiste van billikheid is. Nietemin bly dit steeds 'n riglyn.
Dit
vervang nie die hof se diskresie met 'n letterknegtige gebondenheid aan die
aangepaste waarde van vorige toekennings nie.
[65] Die stygende tendens
van toekennings in die onlangse verlede is, soos ek alreeds gesê het,
duidelik waarneembaar. Die effek
daarvan is egter weer eens nie met matematiese
presiesheid bepaalbaar nie. Dit is nie seker presies wanneer die tendens begin
het
en wanneer dit sal eindig nie. Dit het bes moontlik reeds tot 'n einde
gekom. 'n Bepaalde toekenning uit die verlede waarna verwys
word kon dus reeds
met inagneming van die tendens geskied het. As die vorige beslissing wat as
maatstaf dien reeds met inagneming
van die stygende tendens gemaak is, kan dit
nouliks geregverdig word om op grond van dieselfde oorwegings sonder enige
bykomstige
rede, 'n verdere styging toe te laat. Daarbenewens verg die tendens
klaarblyklik nie die vermenigvuldiging van vroeëre toekennings
met 'n
voorafbepaalde of bepaalbare faktor nie. Op die ou end is die tendens maar net
nog 'n oorweging wat die hof geregverdig is
om in ag te neem wanneer hy, by die
uitoefening van sy diskresie, na vorige toekennings, veral in ouer sake, as
riglyn verwys.
[66] Dit bring my by die eiser se betoog wat berus op die
beslissing van hierdie hof in die Marunga-saak. Volgens hierdie betoog
stel dié beslissing in wese 'n waterskeiding daar en is dit gesag vir die
proposisie dat toekennings
na die waterskeiding dramaties hoër, en
selfs tot twee maal soveel, as toekennings in vergelykbare sake voor die
waterskeiding moet wees. As dit inderdaad is wat Navsa AR in die
Marunga-saak sê, kan ek met respek, nie met hom saamstem nie. Dit
is egter nie hoe ek sy uitspraak verstaan nie. Myns insiens verleen
hy nie aan
die stygende tendens in toekennings 'n groter rol as wat ek voorstel nie. Hy dui
immers uitdruklik aan dat hierdie stygende
tendens maar slegs een van die
oorwegings is op grond waarvan sy uiteindelike toekenning berus. Daarbenewens
verwys hy pertinent
(in para 34, 172E) na dicta uit die
Wright-saak wat daarop dui dat die toekenning in daardie saak, wat hy as
maatstaf aangelê het, reeds met inagneming van die stygende
tendens gemaak
is. Om op grond van dieselfde oorwegings die toekenning in daardie saak te
verdubbel, of selfs dramaties te verhoog,
sou nouliks regverdig kon
word.
[67] Waarmee ek my egter wel vereenselwig is die verdere betoog
namens die eiser dat die sequelae van Rabe se beserings en die indirekte
gevolge wat dit vir hom meegebring het, heelwat ernstiger is as dié wat
ter sprake gekom
het in die beslissings waarop die verweerder hom
vergelykenderwys beroep. Dit is veral so omdat Rabe, benewens die
sequelae van sy breinbeserings, ook nog te kampe het met die permanente
pyn, ongeskiktheid en ongerief wat sy ortopediese beserings vir hom
meegebring
het. Alles inaggenome sou ek, as hof van eerste instansie, 'n toekenning van
R250 000 vir Rabe se algemene skadevergoeding
maak. Dit verskil so drasties
van die verhoorhof se toekenning van R400 000 dat inmenging deur hierdie
hof geregverdig is.
SAMEVATTING
[68] In die lig van die
voorgaande moet die verhoorhof se toekennings myns insiens aangepas word soos
blyk uit dit wat volg:
1. Toekomstige mediese koste en aanverwante
uitgawes
Onder hierdie hoof het die verhoorhof, voor aanpassing vir
gebeurlikhede, 'n bedrag van R4 209 913 toegestaan. Daarvan moet
twee
bedrae afgetrek word. Eerstens die bedrag van R3 306 720 wat die
verhoorhof, op aanvaarding van die eiser se model,
vir versorgingskoste voorsien
het en, tweedens, die bedrag van R77 270 wat vir psigometriese medikasie
toegeken is. Die balans
van R825 923 is onderworpe aan 'n verdere
aftrekking van 10 persent vir gebeurlikhede. Dit laat 'n bedrag van
R743 330.70.
Daarby moet die bedrag van R844 690 getel word wat
ooreenkomstig die verweerder se model vir Rabe se versorging nodig is. Dit
bring
die toekenning onder hierdie hoof op R1 588 020.70 te
staan.
2. Verlies aan verdienste
Met die verhoorhof se toekenning
van R1 906 225 onder hierdie hoof, word nie ingemeng
nie.
3. Algemene skadevergoeding
Die toekenning van R400 000
wat die verhoorhof onder hierdie hoof gemaak het, word ter syde gestel en
vervang met die bedrag
van R250 000.
4. Koste van die kurator
bonis
Dit is gemene saak dat die toekenning onder hierdie hoof
gelyk moet wees aan 7,8 persent van die vorige drie toekennings. Dit is
(R1 588 020.70
+ R1 906 225 + R250 000 =
R3 744 245.70 x 7,8%) =
R292 051.16.
5. Totaal
Hiervolgens bedra die totale bedrag van
skadevergoeding dus R4 036 296.80.
[69] Aangaande koste, volg
dit uit die verweerder se wesenlike sukses in hierdie hof dat die eiser die
koste van appèl moet
betaal. Met verwysing na die koste in die verhoorhof
het daardie hof gelas dat 'geen kostebevel op hierdie stadium gemaak word nie'.
Hy het klaarblyklik die moontlikheid voorsien dat die appellant 'n bedrag by die
hof inbetaal het wat, uiteraard, by toekenning van
koste 'n rol mag speel. Weens
dieselfde oorwegings vind ek dit raadsaam dat daardie kostebevel bly staan. Ook
die hof a quo se bevel ten aansien van rente is nie aangeveg nie en moet
dus eweneens bly staan.
[70] Gevolglik slaag die appèl met koste. Die
verhoorhof se bevel word tersyde gestel en vervang met die volgende:
'Vonnis
word ten gunste van die eiser teen die verweerder soos volg
toegestaan:
(1) R4 036 296.80 synde skadevergoeding;
(2) Rente
daarop teen die koers wat ingevolge die bepalings van die Wet op Voorgeskrewe
Rentekoers 55 van 1975 voorgeskryf word
vanaf 14 dae na datum hiervan (synde 23
Desember 2000) tot datum van betaling;
(3) Geen kostebevel word op hierdie
stadium gemaak nie.'
....................
F D J
BRAND
APPÈLREGTER
Stem saam:
Marais AR
Jones Wnd AR