![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Last Updated: 24 August 2004
DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
Saaknommer : 644/02
In die saak tussen :
PREMIER VAN DIE
GAUTENGSE
PROVINSIALE REGERING APPELLANT
en
JOHANNES JACOBUS MYBURGH RESPONDENT
CORAM : HARMS, SCOTT, MTHIYANE, BRAND ARR en PONNAN Wnd AR
DATUM : 11 MAART 2004
GELEWER : 29 MAART 2004
Opsomming: Pensioengratifikasie betaalbaar deur Pensioenfonds ingevolge
Proklamasie 21 van 1996 – beweerde ooreenkoms dat die
appellant uit hoofde
van afsonderlike ooreenkoms vir betaling van rente op gratifikasie aanspreeklik
is – bestaanbaarheid van
beweerde ooreenkoms met art 26 van die
Proklamasie
UITSPRAAK
BRAND AR/
BRAND AR :
[1] Aanvanklik het die huidige respondent, na wie ek
geriefshalwe as die 'eiser' sal verwys, die appellant (die 'verweerder') in die
Landdroshof van Johannesburg aangespreek vir 'n bedrag van R13 186.18. Daar
is die eis met koste van die hand gewys. Op appèl
na die TPD is die eiser
egter deur Kirk-Cohen R, met wie Roux R saamgestem het, gelyk gegee. Vervolgens
het hierdie hof aan die verweerder
verlof verleen om die onderhawige
appèl voort te sit, maar met die voorbehoud beoog in art 20(5)(a) van die
Hooggeregshofwet
59 van 1959 dat die verweerder die koste van die appèl
betaal, ongeag die uitslag daarvan.
[2] Ten spyte van heelwat onsekerheid
oor die eiser se gedingsoorsaak op die pleitstukke, is die onderliggende feite
eintlik heel
eenvoudig en grotendeels gemene saak. Tot en met 30 November 1996
was die eiser in diens van die verweerder. Sy diensbeëindiging
op 30
November 1996 het gevolg toe die verweerder sy aansoek om op vervroegde aftrede
te gaan, aanvaar het. By aftrede het die eiser
op 'n vrywillige skeidingspakket
geregtig geword. Deel van hierdie vrywillige skeidingspakket was 'n
pensioengratifikasie van R690 030.05,
wat op 15 Januarie 1997 aan hom
betaal is. Die eiser se saak is dat hy reeds op die datum van sy
diensbeëindiging, dit is 30
November 1996, op betaling van hierdie bedrag
geregtig was. Die R13 186.18 wat hy eis verteenwoordig moratore rente,
bereken
teen die statutêre koers van 15,5% per jaar op die bedrag van sy
pensioengratifikasie vir die 45 dae wat hy vir uitbetaling
moes wag. In sy
besonderhede van vordering is die eiser se gedingsoorsaak soos volg
geformuleer:
'Die verweerder het 'n regsplig gehad om op die laaste dag
van diensbeëindiging aan die eiser sy pensioenvoordele te oorhandig.
Die
eiser se diens het geëindig op 30 November 1996. Nieteenstaande die
verpligting wat op die verweerder gerus het om op datum
van
diensbeëindiging die pensioenvoordele aan die eiser oor te betaal, is die
pensioenvoordele in stede van 30 November 1996
eers op 15 Janarie 1997 in die
bedrag van R690 030.05 aan die eiser oorbetaal.'
[3] Volgens die
eiser se nadere besonderhede het hierdie regsplig aan die kant van die
verweerder sy ontstaan gehad in 'n kontrak.
Aangaande die totstandkoming en die
bepalings van hierdie kontrak, was die eiser se saak dat sy aansoek om
vervroegde aftrede, wat
uiteindelik deur die verweerder aanvaar is, geskied het
in antwoord op 'n uitnodiging wat in 'n omsendbrief deur die Departement
van
Staatsdiens en Administrasie, gedateer 22 Mei 1996 ('die omsendbrief') beliggaam
is, welke brief deur die verweerder aan hom
voorgehou is. Bygevolg, het die
eiser aangevoer, het die inhoud van hierdie omsendbrief regtens deel van 'n
kontrak tussen die partye
geword. Uitgaande van hierdie vertrekpunt, het die
eiser hom in besonder beroep op para 17(a) van die omsendbrief, wat soos volg
lui:
'17. For purposes of the payment of the pension benefits relating to
the voluntary severance package, the Department of Finance (Chief
Directorate:
Pensions Administration) indicated/requested that –
(a) since affected
members of the Government Employees Pension Fund are entitled to expect that
their pension benefits be paid to
them promptly, departments/administrations
must take whatever steps may be necessary to ensure that all relevant documents
are fully
and correctly completed to reach the Department of Finance: Pensions
Administration not later than six weeks before the date on which a person's
services are terminated'.
(Onderstreping deel van die
oorspronklike.)
Volgens die eiser moet die term 'promptly' in hierdie
paragraaf verstaan word as 'n verwysing na die dag waarop die betrokke amptenare
se diens beëindig is. Gevolglik was die verweerder, volgens die eiser,
ingevolge para 17(a), kontraktueel verplig om te voldoen
aan sy verwagting
waarna in die paragraaf verwys word, naamlik, dat hy sy pensioengratifikasie op
datum van diensbeëindiging
sou ontvang.
[4] In sy pleit het die
verweerder ontken dat hy kontraktueel die verpligting op hom geneem het waarop
die eiser se saak berus. Volgens
die verweerder is die betaling van rente op die
eiser se pensioengratifikasie statutêr gereël deur art 26 van
Proklamasie
21 van 1996 ('die Proklamasie') wat in die Staatskoerant van 19
April 1996 deur die President afgekondig is. Die gedeelte van art 26
waarop
die verweerder hom beroep, lui soos volg:
'26(1) Notwithstanding
anything to the contrary in any law contained, a benefit payable in terms of
this Law shall be paid to the
member ... entitled to such benefit within a
period of 60 days after the date on which the Board receives a duly completed
statement
in the prescribed form or, if the Board receives such statement before
the date on which a benefit is payable to the member or pensioner
concerned in
terms of this Law, within a period of 60 days after the date on which such
benefit is so payable.
(2) If a benefit is not paid within the period
referred to in subsection (1), interest shall be paid by the Fund to the member
... on any part of the amount of the benefit not paid within the period of 60
days referred to in subsection (1) at the rate prescribed.'
In die lig
van hierdie bepalings, so het die verweerder aangevoer, sou die eiser eers op
rente geregtig wees indien hy nie binne 60
dae na sy diensbeëindiging sy
pensioengratifikasie ontvang het nie. Aangesien die gebeurlikheid waarvoor in
art 26(2) voorsiening
gemaak is nooit gerealiseer het nie, was die eiser nie op
enige rente geregtig nie.
[5] Volgens die pleitstukke het beide partye
skynbaar van die vertrekpunt uitgegaan dat dit die verweerder was wat vir die
betaling
van die eiser se pensioengratifikasie aanspreeklik was. Soos aanstons
sal blyk, was hierdie vertrekpunt kennelik verkeerd. Betaling
van die eiser se
pensioengratifikasie was die verpligting van die Government Employees Pension
Fund ('die Fonds') wat ingevolge art
2 van die Proklamasie tot stand gekom het.
In hierdie lig was die eiser se saak uiteindelik dat daar, benewens die
verbintenis tussen
hom en die Fonds, in die lig van para 17(a) van die
omsendbrief 'n aparte kontraktuele verhouding tussen hom en die verweerder
ontstaan
het waarvolgens die verweerder onderneem het om toe te sien dat die
Fonds sy gratifikasie op datum van sy diensbeëindiging betaal.
So gesien,
ontstaan die vraag waarom die eiser geregtig sou wees op die moratore rente wat
hy eis, eerder as op skadevergoeding weens
kontrakbreuk. Daarmee gepaardgaande
is die verdere vraag hoekom die omvang van die eiser se skade noodwendig gelyk
gestel moet word
aan rente teen die koers van 15,5% per jaar, wat in terme van
die Wet op die Voorgeskrewe Rentekoers 55 van 1975 vir moratore rente
voorgeskryf is. Moratore rente, wat eintlik 'n surrogaat vir skadevergoeding
weens kontrakbreuk is, is immers slegs verhaalbaar van
die party wat vir die
hoofskuld aanspreeklik is en wat versuim het om dit tydig te betaal (sien
byvoorbeeld Thoroughbred Breeders Association v Price Waterhouse 2001 (4)
SA 551 (HHA) 593A-G). Hierdie probleme in die eiser se saak is egter ondervang
deur 'n ooreenkoms wat by die aanvang van
die verhoor namens die partye
aangegaan is. In terme hiervan is die geskilpunte tussen hulle beperk tot die
volgende twee vrae:
(a) Het daar 'n ooreenkoms tussen die partye tot stand
gekom waarvolgens die verweerder verplig was om toe te sien dat die eiser sy
pensioenvoordele op die laaste dag van sy diens ontvang?
(b) Indien wel, is
sodanige ooreenkoms uitgesluit deur die bepalings van art 26 van die
Proklamasie?
[6] Hierdie formulering wat daarop neerkom dat die vrae
rondom die kontrak waarop die eiser steun tweeledig van aard is, dra nie werklik
by tot groter helderheid nie. By behoorlike ontleding van die party se
teenoorstaande standpunte is die vernaamste vraag in hierdie
verband eintlik
maar een, naamlik of die ooreenkoms waarop die eiser hom beroep bestaanbaar is
met die bepalings van art 26 van die
Proklamasie.
[7] Met verwysing na
die geskilpunte soos in die verhoorhof geformuleer, was die landdros se
beslissing dat die eiser nie die ooreenkoms
waarop hy hom beroep, bewys het nie.
Hierdie beslissing was hoofsaaklik die resultaat van die landdros se bevinding
dat 'promptly'
in para 17(a) van die omsendbrief nie sinoniem is met die datum
van sy diensbeëindiging nie. Die landdros se beslissing ten
gunste van die
verweerder op geskilpunt (a) het dit vir hom onnodig gemaak om te handel met
geskilpunt (b).
[8] Hierteenoor het die hof benede op appèl die
eiser gelyk gegee in sy standpunt dat para 17(a) inderdaad in 'n ooreenkoms
tussen die partye beliggaam is en dat 'promptly' in die konteks van dié
paragraaf, 'can only mean at the date of retirement
and not thereafter'. Dit het
die hof a quo genoodsaak om ook geskilpunt (b), rakende art 26 van die
Proklamasie, te beslis. Hieroor was die hof se beslissing dat, aangesien
art 26
slegs op die verhouding tussen die eiser en die Fonds betrekking gehad het, die
bepalings van die artikel nie die verweerder (in teenstelling met die
Fonds) verhoed het om 'n kontrak aan te gaan soos dié waarop die eiser
hom beroep nie.
[9] Die oorweging van die hof a quo se bevindings
verg, eerstens, 'n nadere beskouing van die onderlinge verhouding tussen die
eiser, die verweerder en die Fonds en,
tweedens, 'n behoorlike uitleg van
klousule 17(a) teen die agtergrond van die omsendbrief as
geheel.
[10] Blykens die Proklamasie is die Fonds geskep om vir die
betaling van pensioenvoordele aan staatsamptenare, insluitende amptenare
van
die verweerder, voorsiening te maak. Die eiser was 'n lid van die Fonds en die
betaling van sy pensioengratifikasie op 15 Januarie
1997 is deur die Nasionale
Departement van Finansies (Hoofdirektoraat: Pensioenadministrasie) uit die Fonds
gedoen. Ingevolge art
2(2) van die Proklamasie is die Fonds 'n regspersoon.
Artikel 29(1) van die Proklamasie maak voorsiening vir die uitvaardiging van
reëls vir die Fonds. Hierdie reëls, wat as skedule 1 tot die
Proklamasie toegevoeg is, is in terme van art 29(5) van
die Proklamasie
bindend op die eiser, die verweerder en die Fonds. Die Proklamasie en die
reëls bevat uitvoerige bepalings,
onder meer, oor hoe 'n lid se
pensioenvoordele bereken moet word asook oor wanneer en op welke wyse en
voorwaardes sodanige voordele
aan hom betaalbaar sou word. Artikel 20(1) van die
Proklamasie bepaal, onder meer, dat 'no award of a benefit or any increase
thereof
and no alteration of any condition ... shall be lawful unless the award,
increase [or] alteration ... is authorized by an Act of
Parliament'. Soos op die
ou end tereg deur die eiser aanvaar is, het hy in die lig van hierdie uitvoerige
statutêre bepalings
geen aanspraak op betaling van sy pensioenvoordele
teenoor die verweerder gehad nie. Sy reg op hierdie voordele, wat sy
gratifikasie ingesluit het, was teenoor die Fonds en is gereël deur die
bepalings
van die Proklamasie en die reëls van die Fonds.
[11] Dit
bring my by die omsendbrief. Dit is 'n brief van die Direkteur-generaal van die
Nasionale Departement van Staatsdiens en
Administrasie gerig aan alle
staatsdepartemente en provinsiale administrasies. Dit het vergesel gegaan van
sewe aanhangsels gemerk
A tot G. Ter inleiding verduidelik die brief dat die
aantal amptenare in die Staatsdiens, ooreenkomstig 'n kabinetsbesluit, afgeskaal
moes word en dat daar gevolglik 'n uitnodiging aan staatsamptenare in diens van
die geadresseerdes gerig moes word om vir vervroegde
aftrede aansoek te doen.
Die res van die omsendbrief en sy aanhangsels kan myns insiens in twee breë
kategorieë verdeel
word. Eerstens, bevat dit 'n uiteensetting van voordele,
insluitende pensioen- en ander voordele, waarop amptenare in verskillende
klasse
by vervroegde aftrede geregtig sou wees. Die instansies aan wie die brief gerig
is, is dan gevra om die aard en omvang van
hierdie voordele aan hulle amptenare
oor te dra en nader toe te lig. Wat die aard en omvang van pensioenvoordele
betref, is die verduideliking
gebaseer op die bepalings van die Proklamasie en
die reëls van die Fonds. Inderwaarheid is uittreksels van daardie gedeeltes
van die reëls wat op pensioenvoordele by vervroegde aftrede betrekking het
as aanhangsels by die brief aangeheg. Voorts is die
geadresseerdes versoek om 'n
afskrif van die volledige Proklamasie, insluitende die reëls, te bekom, ten
einde hulle nadere
toeligting aan potensiële aansoekers aan die hand
daarvan te doen. Wat pensioenvoordele betref het die omsendbrief dus in wese
gesê dat suksesvolle aansoekers by vervroegde aftrede geregtig sou wees
op daardie voordele wat in die Proklamasies en die
reëls uiteengesit
is.
[12] Benewens die uiteensetting van die voordele, bevat die
omsendbrief 'n tweede kategorie inligting wat hoofsaaklik bestaan uit
voorskrifte en instruksies deur die Nasionale Departement van Staatsdiens en
Administrasie aan die geadresseerde staatsdepartemente
en provinsiale
administrasies. Hierdie voorskrifte handel, enersyds, oor die kriteria wat by
die oorweging van aansoeke om vervroegde
aftrede toegepas moes word en,
andersyds, oor die prosedures wat gevolg moes word met betrekking tot amptenare
wie se aansoeke aanvaar
is.
[13] Dit staan vas dat die eiser se
diensverhouding met die verweerder ingevolge 'n ooreenkoms tussen die partye
beëindig is,
welke ooreenkoms tot stand gekom het toe die verweerder die
eiser se aansoek om vervroegde aftrede aanvaar het. Dit is eweneens duidelik
dat, vir soverre die eiser staatgemaak het op die uiteensetting van voordele in
die omsendbrief toe hy sy aansoek om vervroegde aftrede
gedoen het, hierdie
uiteensetting van voordele regtens beskou moet word as bepalings van die kontrak
wat tussen die partye tot stand
gekom het. Myns insiens kan dieselfde egter nie
gesê word van die tweede kategorie van mededelings in die omsendbrief,
bestaande
uit voorskrifte of instruksies aan departemente en administrasies,
nie.
[14] Teen hierdie agtergrond kan nou oorweeg word of die eiser sy
saak uitgemaak het dat klousule 17(a) van die omsendbrief gekonstrueer
moet word
as 'n kontraksbepaling waarvolgens die verweerder teenoor die eiser onderneem
het dat hy sy pensioengratifikasie op die
laaste dag van sy diens sal ontvang.
Die verweerder se vernaamste verweer was dat hy hom nie tot so 'n onderneming
kon verbind nie
omdat art 26 van die Proklamasie dit verbied. Ek vind dit
onnodig om finaal oor die meriete van hierdie verweer te beslis, omdat
daar
verskeie ander redes is waarom klousule 17(a) van die omsendbrief eenvoudig nie
die saak wat die eiser daarop probeer bou het,
kan dra nie.
[15] Eerstens
val klousule 17(a) myns insiens nie in die eerste kategorie van mededelings in
die omsendbrief, bestaande uit beloftes
van voordele nie, maar in die tweede
kategorie, bestaande uit instruksies deur die Departement van Staatsdiens en
Administrasie aan
die geadresseerde instansies. Hierdie instruksies is deur
niemand beoog om kontraksbepalings te word nie. Meer pertinent, die wese
van
klousule 17(a) is nie 'n onderneming dat vervroegde uittreders hulle
pensioenvoordele 'promptly' sal ontvang nie. Dit is 'n instruksie aan die
geadresseerdes, insluitende die verweerder, dat hulle die tersaaklike dokumente
voor die bepaalde datum moet voorsien sodat
die Fonds die suksesvolle aansoekers
se pensioenvoordele 'promptly' kan betaal. Hierdie instruksie het net so min 'n
bepaling van
die kontrak tussen die eiser en die verweerder geword as,
byvoorbeeld, die instruksies wat in die verdere sub-paragrawe van para
17 van
die omsendbrief volg. Hiervolgens is die geadresseerde instansies aangesê
om toe te sien dat aansoeke om pensioenvoordele
gedoen word op die wyse en in
die vorms wat deur die Proklamasie en die reëls van die Fonds voorgeskryf
is.
[16] In die tweede plek kan ek nie saamstem met die standpunt van die
hof a quo dat 'promptly' die laaste dag van die eiser se diens beteken
nie. In sy konteks verwys 'promptly' myns insiens nie na 'n bepaalde
dag nie;
eerder het dit betrekking op stiptelike betaling in ooreenstemming met die
toepaslike voorskrifte rakende pensioenbetalings.
Die bedoeling met para 17(a)
was, soos met die res van die omsendbrief, klaarblyklik nie om van die
Proklamasie en die reëls
van die Fonds af te wyk nie, maar juis om toe te
sien dat dit toegepas word. So gesien beteken klousule 17(a) dat die
administrasie
aangesê word om die betrokke dokumente minstens ses weke
voor die amptenaar se uittrede te verskaf sodat aan die amptenaar
se verwagting,
dat hy sy pensioenvoordele in ooreenstemming met die toepaslike voorskrifte van
die Fonds sal ontvang, voldoen kan
word. In die konteks kan die toepaslike
voorskrifte maar net dié wees wat in art 26 van die Proklamasie vervat is
wat immers
uitdruklik reël presies wanneer pensioenvoordele betaalbaar is
en welke rente betaalbaar is indien dit nie op daardie datum
betaal word
nie.
[17] Derdens dig die konstruksie van klousule 17(a) waarop die eiser
steun aan die verweerder 'n aanbod toe om uit eie fondse beter
pensioenvoordele
te betaal as wat in terme van die Proklamasie en die reëls van die Fonds
betaalbaar is. Myns insiens is daar,
in die lig van art 26 saamgelees met
art 20(1) van die Proklamasie, 'n saak uit te maak vir die verweerder se
standpunt dat
so 'n aanbod verbode sou wees. Soos ek egter reeds aangedui het,
is dit nie nodig om 'n finale beslissing oor die juistheid van hierdie
standpunt
te gee nie. Afgesien daarvan of die verweerder regtens in staat was om so 'n
aanbod te maak of nie, is so 'n aanbod in
al die omstandighede hoogs
onwaarskynlik en kan dit nie bloot op grond van 'n vae verwysing na 'promptly'
in para 17(a) afgelei word
nie.
[18] Gevolglik het die eiser
myns insiens nie die ooreenkoms bewys waarop sy saak berus nie. Wat koste
betref, is die verweerder,
ooreenkomstig die voorwaarde wat hierdie hof by die
toestaan van verlof tot appèl opgelê het, aanspreeklik vir die
eiser se koste in die onderhawige appèl. Daar is egter geen rede waarom
die eiser nie vir die koste van sy appèl in
die hof a quo
verantwoordelik gehou moet word nie. Die slotsom waartoe ek kom beteken immers
in wese dat die landdros van die begin af reg was.
[19] (a) Die
appèl slaag.
(b) Die appellant word gelas om die koste van die
appèl te betaal.
(c) Die bevele van die hof a quo word ter
syde gestel en vervang met die volgende:
'Die appèl word van die
hand gewys met koste.'
.......................
F D J
BRAND
APPÈLREGTER
Stem saam:
HARMS AR
SCOTT AR
MTHIYANE AR
PONNAN
Wnd AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2004/18.html