South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 2002 >> [2002] ZASCA 7

| Noteup | LawCite

Absa Bank Bpk v Janse Van Rensburg (107/2001) [2002] ZASCA 7 (14 March 2002)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share



IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID AFRIKA

RAPPORTEERBAAR

SAAK NO: 107/2001


In die saak tussen:



ABSA BANK BEPERK Appellant



en



GERT JANSE VAN RENSBURG Respondent




________________________________________________________________________



CORAM: HARMS, STREICHER EN BRAND ARR


________________________________________________________________________



Verhoordatum: 28 Februarie 2002



Uitspraak: 14 Maart 2002


Bank se eis op oortrokke rekening - kliënt se aanspraak op oorverhaalde rente - teeneis nie verweer nie - kliënt nie geregtig op debat van rekening nie.

________________________________________________________________________



U I T S P R A A K


________________________________________________________________________


BRAND AR



BRAND AR

[1] Die appellant is 'n handelsbank. Die respondent, 'n boer van Frankfort in die Vrystaat, is sedert November 1969 'n kliënt van die appellant. Gedurende Augustus 1997 het die appellant die respondent in die Vrystaatse Afdeling aangespreek vir betaling van 'n bedrag van R174 530,87, synde die beweerde debietbalans op die respondent se oortrokke bankrekening, tesame met moratore rente daarop. Die respondent het die appellant se eis betwis en ook 'n teeneis ingestel op grond daarvan dat die appellant in die verlede te veel rente van hom verhaal het. Die Hof a quo (Van Coppenhagen R) het die respondent in beginsel gelyk gegee wat betref beide sy verweer op die hoofeis as sy teeneis. Daarteen kom die appellant met die nodige verlof op appèl na hierdie Hof.

[2] Die vertrekpunt van die respondent se verweer sowel as van sy teeneis is sy bewering dat hy en die appellant by die aanvang van hulle verbintenis in November 1969 ooreengekom het dat rente op sy oortrokke rekening gehef sou word teen een persent bokant die appellant se prima koers, welke ooreenkoms van krag was tot 28 Maart 1992. In stryd met hierdie ooreenkoms, so beweer die respondent in sy pleitstukke, het die appellant, egter gedurende die tydperk voor 28 Maart 1992 sy oortrokke rekening gedebiteer met rente wat bereken is teen meer as die ooreengekome koers, welke rente die respondent betaal het terwyl hy van die appellant se kontrakbreuk onbewus was. Op grond hiervan ontken die respondent in sy pleit dat hy die bedrag wat die appellant eis verskuldig is en vorder hy in sy teeneis dat die appellant aan hom 'n staat van rekening verskaf ten aansien van elke rentedebiet wat voor 28 Maart 1992 op sy rekening aangebring is, debatering van die staat en vonnis vir sodanige bedrag as wat die appellant na die debat aan hom verskuldig blyk te wees.

[3] In sy pleit op die teeneis ontken die appellant dat hy voor 28 Maart 1992 meer rente van die respondent verhaal het as waarop hy geregtig was. In elk geval, sê die appellant, het die respondent volgens sy eie bewering reeds in 1993 bewus geword van die beweerde oorverhaling van rente en is enige eis vir terugbetaling wat hy mog gehad het reeds deur verjaring uitgewis voordat die respondent sy teeneis in Februarie 1998 geliasseer het.

[4] By die aanvang van die verhoor het die Verhoorhof, ingevolge hofreël 33(4), mero motu gelas dat die kwantifisering van beide die appellant se hoofeis en die respondent se teeneis oorstaan tot na beregting van al die ander geskilpunte.

[5] Blykens die pleitstukke sowel as die getuienis wat by die verhoor aangebied is, is 28 Maart 1992 'n waterskeiding in die respondent se saak. Die respondent opper geen beswaar teen enige bedrae, insluitende rente, wat na daardie datum teen sy bankrekening gedebiteer is nie. Sy beswaar het slegs betrekking op rentedebiete voor daardie datum. Die jaar 1992 was, volgens die getuienis, ook weens ander gebeure in daardie jaar van belang by die beoordeling van die saak. Eerstens is die enigste getuie wat namens die appellant geroep is, mnr SA Redelinghuys, eers gedurende 1992 by die appellant se Frankfort-tak aangestel. Gevolglik het hy geen persoonlike kennis gedra aangaande die verbintenis tussen die appellant en die respondent voor 1992 nie. In besonder kon hy nie op grond van sy eie kennis betwis dat daar in November 1969 'n ooreenkoms met die respondent aangegaan is waarvolgens hy geregtig was op 'n koers van prima plus een persent, soos wat die respondent getuig het, nie. Die hoogwatermerk van Redelinghuys se getuienis in hierdie verband was derhalwe dat dit, in die lig van die respondent se wisselvallige krediet-geskiedenis, onwaarskynlik was dat oortrokke fasiliteite aan hom verleen sou word teen die gunstige koers van prima plus een persent.

[6] Die tweede tersaaklike gebeurtenis in 1992 was dat die appellant begin het om in sy briewe aan kliente sowel as op kliente se bankstate aan te dui teen welke koers rente op die oortrokke rekening gehef word. Volgens Redelinghuys het hierdie bankpraktyk feitlik oornag in 1992 ontstaan juis weens bewerings wat op daardie stadium teen verskeie banke gemaak is dat hulle meer as die ooreengekome rente van hulle kliente verhaal. Gevolglik het die appellant geen skriftelike bewys gehad van welke rentekoers voor 1992 aan die respondent voorgehou is nie.

[7] Die derde tersaaklike gebeurtenis in 1992 was dat die respondent, nadat hy op aandrang van die appellant een van sy plase verkoop het, die debietbalans op sy bankrekening afgelos het. Bygevolg het sy rekening vanaf die einde van 1992 vir ongeveer 3 maande 'n nulbalans getoon, waarna dit weer in debiet gegaan en sy oortrokke rekening stelselmatig gegroei het tot die bedrag wat die appellant in sy dagvaarding eis. Hieruit volg dit dat alle bedrae waaruit die geëiste bedrag saamgestel is, eers in die tydperk na 28 Maart 1992 teen die respondent se rekening gedebiteer is. Omdat die respondent geen beswaar geopper het teen enige debiet wat na 28 Maart 1992 teen sy rekening aangeteken is nie, volg dit dat daar geen dispuut bestaan oor die verskillende debiete waaruit die geëiste bedrag saamgestel is nie.

[8] In die Hof a quo is namens die appellant toegegee dat by ontstentenis aan enige getuienis tot die teendeel, die respondent se weergawe waarvolgens die rentekoers op sy oortrokke rekening voor 28 Maart 1992 by ooreenkoms tot prima plus een persent beperk is, aanvaar moes word. Aangesien die respondent se rekening van meet af aan met rente van meer as prima plus een persent gedebiteer is, moes die Hof gevolglik ook aanvaar dat die appellant voor 28 Maart 1992 meer rente van die respondent verhaal het as waarop hy geregtig was. Die appellant se antwoord was egter, in wese, dat hierdie oorverhaling van rente voor 28 Maart 1992 nie die geldigheid van die appellant se eis wat in geheel na 28 Maart 1992 ontstaan het, beïnvloed het nie. Die respondent se remedie, so is namens die appellant betoog, was om die rente wat hy te veel betaal het met die condictio indebiti terug te eis, welke eis egter intussen verjaar het.

[9] Hierdie betoog namens die appellant het nie by die Hof a quo byval gevind nie. Volgens die Hof se benadering was die appellant se eis vir betaling van die uitstaande balans op 'n lopende rekening wat in November 1969 ontstaan het. Gevolglik, beslis die Hof, moes die appellant die korrektheid bewys van elke bedrag wat sedert November 1969 teen die rekening gedebiteer is. Aangesien dit namens die appellant toegegee is dat die rentedebiete voor 28 Maart 1992 verkeerd was, volg dit vanself dat die appellant nie die juistheid van die totale bedrag wat hy eis, bewys het nie.

[10] Ten aansien van die respondent se teeneis vir 'n debat van rekening, beslis die Hof dat aangesien die saak op die feite analoog is aan Doyle and Another v Fleet Motors PE (Pty) Ltd 1971 (3) SA 760 (A), die respondent in beginsel geregtig was om op lewering van 'n rekening en 'n debat daarvan aan te dring. Blykens sy uitspraak is die Verhoorhof egter meegedeel dat, in die lig van die berekeninge wat die partye reeds gesamentlik, gedoen het, die respondent nie meer aandring op 'n debat van rekening nie en daarom is dit nie gelas nie.

[11] Die appellant se betoog dat die respondent se terugvordering van rente wat hy te veel betaal het inmiddels verjaar het, is volgens die siening van die Hof a quo gebaseer op 'n wanopvatting, naamlik dat elke rentedebiet vir doeleindes van verjaring, as 'n afsonderlike "skuld" beskou moet word. Inderwaarderheid, so beslis die Hof, is die enigste "skuld" wat kon verjaar die balans wat verskuldig was op die oortrokke rekening. Hiervolgens kon verjaring nie begin loop alvorens hierdie balans finaal bepaal is nie. Gevolglik is die appellant se verweer van verjaring van die hand gewys.

[12] Ooreenkomstig sy bevindings rakende die geskilpunte tussen die partye, het die Hof a quo 'n verklarende bevel met twee bepalings uitgereik. Volgens die eerste bepaling was die appellant ten aansien van die periode voor 28 Maart 1992 slegs geregtig om rente op die respondent se oortrokke rekening te hef teen een persent bo die prima koers. Luidens die tweede bepaling was die respondent vir die tydperk na 28 Maart 1992 aanspreeklik vir rente op sy oortrokke rekening, eers teen 2 persent en later teen 2,25 persent bo prima, synde die rentekoerse waarop daar, volgens die onbetwiste getuienis van Redelinghuys, vir hierdie tydperk ooreengekom is.

[13] Ek kan my nie met die Hof a quo se uitgangspunt waarvolgens die appellant die juistheid van elke rentediebiet voor 28 Mei 1992 moes bewys, vereenselwig nie. Die juiste vertrekpunt is myns insiens dat die respondent se oortrokke rekening op 'n stadium na 28 Maart 1992 'n nulbalans getoon het. Aangesien die respondent geen beswaar het teen enige bedrag wat na 28 Maart 1992 teen sy rekening gedebiteer is nie, staan die bedrag wat die appellant eis in wese onbetwis. Die respondent se enigste verweer is dat die appellant voor 28 Maart 1992 bedrae teen sy rekening gedebiteer het waarop hy die geregtig was nie. Die "skuld" wat hierdie debiete verteenwoordig het, is egter intussen deur betaling uitgewis. Dit verskyn nie meer op die respondent se rekening nie, die appellant maak nie meer op betaling daarvan aanspraak nie en hy hoef dit derhalwe ook nie te bewys nie. Ek plaas "skuld" in aanhalingstekens omdat dit nou, volgens die respondent se weergawe, by nabetragting blyk dat hierdie "skuld" inderdaad nooit bestaan het nie. Nietemin het die respondent dit betaal. Waarop dit neerkom, is derhalwe dat die respondent, op sy weergawe, voor 28 Maart 1992 onverskuldigde betalings aan die appellant gemaak het omdat hy verkeerdelik geglo het dat hy daarvoor aanspreeklik is. Op hierdie weergawe was die respondent se remedie om sy onverskuldigde betalings met die condictio indebiti terug te eis. Die feit dat die verskillende transaksies tussen die partye op 'n lopende rekening plaasgevind het kan aan hierdie onderliggende basiese beginsels geen verskil maak nie.

[14] So gesien, is die verdere onvermydelike bevinding dat die respondent se eis vir terugbetaling intussen verjaar het, soos wat dan ook tereg in hierdie Hof namens die respondent toegegee is. Die vraag of elke rentedebiet vir doeleindes van verjaring 'n afsonderlike "skuld" is, kom glad nie eens ter sprake nie. Volgens die respondent se weergawe het sy eis om terugbetaling van oorverhaalde rente voor 28 Maart 1992 opeisbaar geword en het hy laatstens in 1993 daarvan bewus geword dat die appellant sy rekening met meer as die ooreengekome koers gedebiteer het. Ek aanvaar dat die respondent nadat hy hiervan bewus geword het nog die presiese bedrag van sy eis moes laat bereken. Nietemin het die respondent op daardie stadium oor voldoende kennis beskik om die loop van verjaring ingevolge artikel 12(1) - saamgelees met artikel 12(3) - van die Verjaringwet 68 van 1969 in werking te stel. Artikel 12(3) vereis immers nie dat 'n skuldeiser oor voldoende kennis moet beskik om sy vordering finaal te bewys alvorens verjaring teen hom begin loop nie. (Sien Nedcor Bank Beperk v Regering van die Republiek van Suid Afrika [2000] ZASCA 154; 2001 (1) SA 987 (SCA) 995J - 996A.) Al wat vereis word, is dat die skuldeiser kennis moet dra van die wesenlike feite waaruit sy eis ontstaan (sien die Nedcor Bank saak 997F). Die feit dat die respondent toe in 1998 lewering van 'n rekening en 'n debat daarvan, in plaas van betaling van 'n bepaalde bedrag geld geëis het, maak hieraan geen verskil nie. Op die ou end was die respondent se eis tog maar vir terugbetaling van die rente wat hy te veel betaal het, welke bedrag hy in 'n debat met die appellant wou bepaal. Aangesien enige eis vir terugbetaling wat hy mog gehad het reeds deur verjaring uitgewis was, kon 'n debat ter bepaling van die bedrag van so 'n eis nouliks enige doel dien.

[15] In elk geval verskil ek ook met die Hof a quo se bevinding dat die respondent in beginsel geregtig was om op die lewering en debatering van 'n rekeningstaat aan te dring. Dit is gemene saak dat die respondent op 'n gereelde grondslag bankstate ontvang het en daar is nooit aangevoer dat die inligting daarin vervat in enige opsig ontoereikend was nie. Ten einde met sy aanspraak op debatering van hierdie rekening te slaag moes die respondent aantoon óf dat (a) hy en die appellant in 'n vertrouensverhouding tot mekaar gestaan het; óf dat (b) die appellant hom kontraktueel daartoe verbind het; óf dat (c) daar 'n statutêre verpligting op die appellant gerus het om 'n rekening te verskaf en daaroor debat te voer. (Sien byvoorbeeld Rectifier and Communications Systems (Pty) Ltd v Harrison 1981 (2) SA 283 (C) 289 H.

[16] Die respondent het nie verwys na enige kontraktuele term of wetsbepaling waarvolgs die appellant verplig sou wees om 'n rekeningstaat - anders as bankstate - aan die respondent te verskaf of om dit met hom te debateer nie. Die Hof a quo verwys ter ondersteuning van sy bevinding dat daar sodanige verpliging op die appellant gerus het, by wyse van analogie, na Doyle and Another v Fleet Motors PE (Pty) Ltd (supra). In daardie saak het die eiser sy aanspraak op 'n debat van rekening gefundeer op die bewering dat daar 'n vertrouensverhouding, voorspruitend uit 'n vennootskap, tussen hom en die verweerder bestaan het. Hiervolgens was die Hof a quo dus van mening dat daar ook tussen die appellant en die respondent 'n vertrouensverhouding bestaan het. Die enigste moontlike grondslag vir so 'n mening is 'n toegewing in kruisverhoor deur Redelinghuys dat die appellant as die respondent se bankier, inderdaad in 'n vertrouensverhouding met hom was. Toe Redelinghuys egter gevra is om hierdie standpunt nader toe te lig, het hy verwys na die beginsel dat 'n bank nie sy kliënt se vertroulike inligting aan buitestaanders mag openbaar nie. Hieruit blyk dit dat Redelinghuys die bank se vertrouensplig eerder as 'n vertrouensverhouding, ooreenkomstig die eintlike betekenis van laasgenoemde term, in gedagte gehad het. Hoe dit ookal sy, die vraag of daar vir die doeleindes van die onderhawige 'n vertrouensverhouding tussen 'n bank en sy kliënt bestaan, is 'n regsvraag wat onafhanklik van Redelinghuys se mening uitgemaak moes word. Hoewel die verhouding tussen 'n bank en sy kliënt meerdere fasette het, word algemeen aanvaar dat die kontraktuele verbintenis onderliggend aan die bedryf van 'n lopende rekening, dié van skuldeiser en skuldenaar is. (Sien byvoorbeeld Standard Bank of SA Ltd v Oneanate Investments (Pty) Ltd 1995 (4) SA 510 (C) 530G - 631B en die gesag daar aangehaal.) Dit spreek eintlik vanself dat daar nie 'n vertrouensverhouding tussen skuldeiser en skuldenaar bestaan nie. Voorts is die respondent se eis in beginsel vir die terugbetaling van dit wat sy skuldeiser teveel van hom verhaal het en ek kan nie aan enige rede dink waarom 'n skuldeiser in dié omstandighede regtens verplig sou wees om die bedrag van die eis teen homself, te help bepaal nie.

[17] Vir hierdie redes moet die appèl dus slaag met koste. Wat oorbly is drie bykomende aangeleenthede. Eerstens, het die appellant gevra vir die koste van twee advokate. Ten spyte van die respondent te betoog tot die teendeel, is ek van oordeel dat aan hierdie versoek voldoen moet word. Agterna gesien, was die saak heel eenvoudig. Dit was egter nie altyd so nie. Die respondent, wat 'n uitspraak in sy guns gehad het, het dit immers self op 'n stadium raadsaam geag om van die dienste van twee advokate gebruik te maak. Tweedens, is dit namens die respondent aangevoer dat aangesien die Hof a quo die kwantifisering van die appellant se eis laat oorstaan het vir latere beregting, die saak vir dié doel na die Verhoorhof terug verwys moet word. Myns insiens kan sodanige terugverwysing geen doel dien nie. Die kapitale bedrag van die appellant se vordering is saamgestel uit debiete op die respondent se oortrokke rekening wat nie betwis word nie. Gevolglik is die appellant geregtig op vonnis in die bedrag wat hy eis. Derdens, is daar die koers waarteen moratore rente op die kapitale bedrag toegestaan moet word. Volgens die ooreenkoms tussen die partye is die appellant geregtig om rente te hef teen 2,25 persent bo sy heersende prima koers. Hoewel die appellant in sy dagvaarding rente eis teen 22,5 persent, was die partye dit in hierdie Hof eens dat, aangesien die prima koers van tyd tot tyd wissel, moratore rente toegestaan moet word in ooreenstemming met die terme van die onderliggende ooreenkoms.

[18] Gevolglik slaag die appèl met koste, insluitende die koste van twee advokate, en word die bevel van die Hof a quo ter syde gestel en vervang met die volgende:

"Vonnis word ten gunste van eiser toegestaan vir:

(a) Die bedrag van R174 530,87;

(b) Rente op hierdie bedrag bereken teen 'n koers van 2,25 persent bo die prima koers wat van tyd tot tyd deur die eiser gehef is, of word, vanaf 26 Julie 1997 tot datum van betaling.

(c) Gedingskoste"


_____________________

FDJ BRAND

APPèLREGTER


STEM SAAM:


HARMS AR

STREICHER AR