![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
IN DIE HOOGSTE HOF VAN
APPÈL
VAN
SUID-AFRIKA
RAPPORTEERBAAR
Saaknr:
A/222/99
In die aangeleenthede tussen —
LEON FERDINAND
SMUTS Appellant
en
WILFRED
BOOYENS Respondent
en
Saaknr:
257/99
MARKPLAAS (EDMS) BPK Eerste Appellant
LEON
FERDINAND SMUTS Tweede Appellant
en
WILFRED
BOOYENS Respondent
VOOR: VIVIER, NIENABER, OLIVIER, SCHUTZ EN CAMERON ARR
AANGEHOOR: 5 MAART
2001
GELEWER: 2 April 2001
‘n Privaatmaatskappy se
aandele kan nie strydig met beperkings op die oordrag daarvan in die maatskappy
se statute (soos vervat
in artikels 21-24 van Tabel B van Bylae 1 van die
Maatskappywet 61 van 1973) aan ‘n derde party oorgedra word, selfs al dra
die derde geen kennis van sodanige beperkings nie.
U I T S P
R A A K
CAMERON AR:
Hierdie is twee
aanverwante appèlle. In beide is die kernvraag of ‘n
privaatmaatskappy se aandele, strydig met bepalings
in die maatskappy se statute
wat oordrag daarvan verbied of beperk, aan ‘n onskuldige derde oorgedra
kan word. In die eerste
appèl het die vraag in die Hof a
quo ter sprake gekom omdat die kurator van die verkoper se insolvente
boedel die tersydestelling van ‘n ooreenkoms waarvolgens
die verkoper se
aandeelhouding in ‘n privaatmaatskappy verkoop is, teen die koper as
verweerder aangevra het. Du Plessis R
het aan die einde van die eisers se saak
absolusie van die instansie toegestaan. Kort daarna het die koper ‘n
aansoek geloods
om deur middel van rektifikasie van die lederegister registrasie
van die betrokke aandele op sy naam te verkry. Coetzee WndR het
die verlangde
regshulp toegestaan. Teen beide bevele word nou ge-appelleer, in die eerste met
die verlof van hierdie Hof en in die
tweede met die verlof van die Hof a
quo. Die partye was dit tydens argument eens dat indien die eerste
appèl suksesvol is die tweede ook moet slaag.
In 1983 is Markplaas
(Edms) Bpk (“Markplaas”)(die eerste appellant in die tweede
appèl) gestig. Die twee stigters,
Smuts (die eerste appellant in die
eerste appèl en die tweede appellant in die tweede appèl) en Roux,
was gelyke houers
van die uitgereikte aandele asook die enigste direkteure. In
1993 het Roux sonder Smuts se wete en in stryd met ‘n voorkoopsreg
wat in
die statute van Markplaas ten gunste van Smuts vervat is, ‘n ooreenkoms
(“die koopooreenkoms”) met Booyens
(die respondent in beide
appèlle) gesluit. Daarin is onder meer ooreengekom dat Booyens Roux se
aandeelhouding in Markplaas
(tesame met Roux se belang in verskeie
leningsrekeninge wat deur Markplaas aan vier maatskappye verskuldig is waarin
Roux ‘n
belang het) teen ‘n bedrag van R250 000 aankoop. Roux het
daarna in Januarie 1994 ‘n vergadering van Markplaas se aandeelhouers
bygewoon en in daardie hoedanigheid standpunt oor ‘n aangeleentheid wat
die maatskappy raak ingeneem. Later in dieselfde maand
het hy ‘n
ooreenkoms onderteken waarin hy die betrokke aandele gesedeer het as sekuriteit
vir ‘n lening. Gedurende September
1994 is Roux voorlopig gesekwestreer.
Die bevel is word gedurende Oktober 1994 bekragtig. Die eerste vergadering van
skuldeisers
het op 28 November 1994 plaasgevind. Die dag daarna het Roux die
aandelesertifikaat by Markplaas se ouditeure afgehaal en dit aan
Booyens
besorg.
In die Hof a quo is om tersydestelling van die
koopooreenkoms by wyse van ‘n aansoek gedoen met die kurator van Roux se
boedel as eerste
applikant, en met Smuts, Roux se mede-direkteur en
-aandeelhouer as tweede applikant, en die sessionaris wat by die Januarie
1994-lening
betrokke was as derde applikant. Die sewe respondente was
onderskeidelik Booyens, Markplaas, die Meester van die Hooggeregshof en
die vier
maatskappye waarin Roux ‘n belang gehad het en wat by die koopooreenkoms
betrokke was. Die aansoek is vir verhoor
verwys. Die gronde vir
tersydestelling wat in die verhoorhof deur die kurator aangevoer is, het in
hoofsaak op die bepalings van
die Insolvensiewet 24 van 1936 gesteun. Met die
wegval van die kurator as gedingsparty is hulle tans nie meer ter sake nie.
Daar
is egter ook deur Smuts op Roux se versuim gesteun om die bepalings van
Markplaas se statute betreffende die verkoop van aandele
na te kom en ‘n
bevel is aangevra waarin verklaar word dat die betrokke verkoop ongeldig was en
dat Roux se aandeelhouding
in die kurator vestig.
Du Plessis R het onder
andere bevind dat die statute bloot ‘n persoonlike reg geskep het en dat
Smuts gevolglik moes bewys het
dat Booyens van die bestaan en nie-nakoming van
Smuts se voorkoopsreg bewus was. (Vergelyk Associated South African
Bakeries (Pty) Ltd v Oryx & Voreinigte Bäckereien (Pty) Ltd en
Andere.)[1] By gebrek aan enige
sodanige getuienis het hy absolusie van die instansie verleen.
Coetzee
WndR het daarna bevind dat die blote aangaan van die koopooreenkoms vir Booyens
die reghebbende ten aansien van die aandele
gemaak het en dat Booyens derhalwe
prima facie geregtig was om as aandeelhouer in die lederegister
aangeteken en geregistreer te word. Hy was van mening dat geeneen van Markplaas
en Smuts se verwere teen dié aansoek deugdelik was nie. Hy het die
betoog dat die Hof sy diskresie teen Booyens moes uitoefen,
verwerp, asook dat
die aansoek in die lig van die verrigtinge vir tersydestelling voor du Plessis R
(ten aansien waarvan daar ‘n
petisie om verlof tot appèl hangende
was) voorbarig was.
In hierdie Hof het Smuts sy argument in hoofsaak
daarop gegrond dat die bepalings in die maatskappy se statute op ‘n
ooreenkoms
neergekom het om nie regte oor te dra nie (‘n pactum de non
cedendo) wat, by onstentenis van voldoening van die prosedure in die statute
neergelê, verhoed het dat Booyens ooit reghebbende van
die aandele kon
word. Die kernvraag op appèl is dus of die verhoorhof korrek was in sy
bevinding dat bewys dat Booyens kennis
gedra het (van die bepalings en van die
nie-voldoening daaraan) noodsaaklik was. Die betoog verg oorweging van vrae wat
nog nie
vantevore in dié opsig deur hierdie Hof besleg is nie. In vorige
analoë gevalle (waar ‘n privaatmaatskappy se
statute afgedwing is),
was die koper se kennis van die beletsel nie as sodanig ter sprake nie en het
die statute daarbenewens ‘n
uitdruklike verbod op oordrag
bevat.[2] Die advokaat namens Booyens
het tereg toegegee dat indien bevind sou word dat Booyens se kennis van die
beletsel irrelevant was,
die appèl moet slaag en dat Smuts op
ooreenstemmende regshulp geregtig sou wees.
Die vraag vereis oorweging van
Roux se bevoegdheid om regte deur middel van die koopooreenkoms aan Booyens oor
te dra en die effek
van daardie ooreenkoms. In Liquidators, Union Share
Agency v Hatton[3] het Innes HR
beklemtoon dat die grondslag van aandeelhouding in ‘n maatskappy aan
wetgewing ontleen word en dat die aard daarvan
derhalwe deur wetgewing bepaal
word:
“A share in a joint stock company is a jus in personam, a right of action, the extent and nature of which and the liability attaching to the ownership of which depend upon statute.”
Uiteraard moet
die beginpunt by die beantwoording van dié vraag dus die bepalings van
die Maatskappywet 61 van 1973 (“die
Maatskappywet” of “die
Wet”) wees. Volgens art 20(1) “beteken die uitdrukking
‘private maatskappy’”
in die Wet —
“‘n maatskappy met ‘n aandelekapitaal wat deur sy statute –
(a) die reg om sy aandele oor te dra beperk; en
(b) sy ledetal (met uitsondering van persone wat
in diens van die maatskappy is en van persone wat voorheen in diens van die
maatskappy
was en gedurende sodanige dienstyd lede van die maatskappy was en na
afloop van hulle dienstyd lede gebly het), tot vyftig beperk;
en
(c) ‘n
aanbod aan die publiek vir inskrywing op aandele of skuldbriewe van die
maatskappy verbied.”
Volgens art 20(3) mag geen private maatskappy
sy statute op so ‘n wyse wysig dat dit nie meer al die bepalings in subart
(1)
bevat nie tensy hy terselfdertyd in ‘n publieke maatskappy omskep
word. Artikel 20(4) bepaal dat indien ‘n privaatmaatskappy
versuim om die
bepalings van sy statute soos in subart (1) bedoel na te kom terwyl hulle in die
statute ingesluit is, word hy (tensy
die Hof op aansoek anders beveel) onverwyld
aan die vereistes wat uitreiking van finansiële jaarstate en tussentydse
verantwoording
wat op ‘n openbare maatskappy betrekking het,
onderworpe.
Hierdie bepalings regverdig drie opmerkings. Ten eerste blyk
dit dat oordragsbeperkings ten aansien van aandele ‘n onontbeerlike
eienskap is van ‘n privaatmaatskappy soos in die Wet omskryf. Die Wet
bepaal by wyse van definisie dat ‘n privaatmaatskappy
een is wat so
‘n beperking in sy statute bevat; by onstentenis hiervan is dit regtens
onmoontlik dat die betrokke entiteit
‘n privaatmaatskappy kan wees. Dat
die tersaaklike beperkings betrekking het op die regsaard en -essensie van
só ‘n
maatskappy is (soos later sal blyk) myns insiens van belang
by die bepaling van hulle effek en betekenis.
Tweedens vereis die Wet dat
“die reg” om aandele oor te dra, beperk moet
word.[4] Die gebruik van die
omvattende begrip “die reg” in art 20(1)(a) is opvallend. Dit dui
op die wetgewing se bedoeling
dat die aandeelhouer se bevoegheid om die
maatskappy se aandele hoegenaamd oor te dra in die statute beperk moet
word.
Derdens behels ‘n oordrag in die volle en tegniese sin van
die woord ‘n reeks stappe wat die aangaan van ‘n oordragsooreenkoms
insluit. Soos Rumpff AR verduidelik het in Inland Property Development
Corporation (Pty) Ltd v
Cilliers[5] (‘n saak
aangaande art 24bis van die Maatskappywet 46 of 1926):
“In regard to shares, the word ‘transfer’ in its full and technical sense, is not a single act but consists of a series of steps, namely an agreement to transfer, the execution of a deed of transfer and, finally, the registration of the transfer.”
Daar is geen aanduiding
in die Wet te bespeur dat die beperking van slegs een van hierdie stappe in art
20(1)(a) beoog word nie.
Inteendeel, dit blyk na my mening uit die bepaling dat
dit die wetgewing se bedoeling was dat ‘n privaatmaatskappy se statute
die
oordrag van sy aandele in die “volle en tegniese sin” waarop Rumpff
AR wys, moet beperk; wat die statute gevolglik
moet beperk, is “die
reg” om die hele reeks stappe wat in ‘n oordrag behels word, aan te
gaan. En dit omvat die
aangaan van ‘n ooreenkoms om oor te dra, die
verlyding van ‘n oordragsakte en die uiteindelike registrasie van die
oordrag.
Artikel 91 sluit hierby aan. Dié bepaling, wat ook
betrekking het op die oordraagbaarheid van ‘n privaatmaatskappy se
aandele, is getiteld “Aard van aandele” en lui:
“Die aandele of ander belang wat ‘n lid in ‘n maatskappy het, is roerende goed en oordraagbaar op die wyse deur hierdie Wet en die statute van die maatskappy bepaal.”
Die bedoeling wat uit art 91
spreek, is klaarblyklik om te verhoed dat aandele op ‘n wyse anders as
deur die Wet en die maatskappy
se statute bepaal, oorgedra kan word. Artikel 91
skyn met ander woorde ‘n beletsel te plaas op gepoogde aandele-oordragte
wat nie strook met die wyse deur die Wet en die statute bepaal nie: word die
beperkings in die statute vervat, nie nagekom nie, is
die aandele volgens art 91
glad nie oordraagbaar
nie.[6]
Dit is teen hierdie
statutêre agtergrond dat die bepalings van Markplaas se statute beskou
moet word. Dit staan ‘n maatskappy
se stigters (en daarna sy lede)
natuurlik vry om binne die beperkings wat die Wet neerlê die inhoud van
die statute te bepaal.
Artikel 59(2)(b) van die Wet skep bloot die moontlikheid
dat Tabel B van Bylae 1 van die Wet ingelyf kan word (soos in Markplaas
se geval
wel gebeur het) en selfs dan is die aanname van die statute onderworpe aan die
moontlikheid van aanpassings en latere wysigings
(art 62) na gelang van die
stigters (en lede) se voorkeure. Tabel B van Bylae 1 van die Wet behels
‘n beperking op die oordraagbaarheid
van aandele. Waar die oorspronklike
aandeelhouers nie by ooreenkoms daarvan afwyk nie, behels dit dus by inlywing
daarvan ‘n
kontraktuele beperking tussen die aandeelhouers
onderling.
In Borland’s Trustee v Steel Brothers & Co
Ltd[7] beklemtoon Farwell R die
tweeledige aard van ‘n maatskappy se statute. Enersyds is die statute
‘n reeks verbintenisse
tussen die aandeelhouers. In dié opsig is
hulle kontraktueel van aard. Andersyds word die kontrak in ooreenstemming met
en binne die perke van die maatskappywetgewing aangegaan. Aan die aard van die
regte wat in die aandeelhouding vervat word, word
derhalwe statutêre
beslag gegee. In ‘n bekende passasie stel Farwell R dit soos volg:
“A share is the interest of a shareholder in the company measured by a sum of money, for the purpose of liability in the first place, and of interest in the second, but also consisting of a series of mutual covenants entered into by all the shareholders inter se in accordance with s 16 of the Companies Act, 1862. The contract contained in the articles of association is one of the original incidents of the share.”[8]
Daar
word herhaaldelik in die Suid-Afrikaanse regspraak met goedkeuring na dié
beslissing verwys[9] en dit beeld na
my mening die verhouding tussen die statutêre grondslag enersyds en die
onderlinge kontraktuele reëling
andersyds wat die statute van ‘n
maatskappy beslaan ook in ons reg juis uit.
Teen hierdie agtergrond moet
die tersaaklike bepalings van Markplaas se statute ontleed word. Die maatskappy
se statute is kragtens
art 59(2)(b) van die Maatskappywet aan Tabel B van Bylae
1 ontleen. Artikels 21-24 bepaal soos volg:
“21. Indien ‘n lid van die maatskappy verlang om al of enige van sy aandele van die maatskappy te verkoop, moet hy skriftelik kennis van sy voorneme om te verkoop aan die direkteure gee en die prys vermeld wat hy vir daardie aandele verlang.
22. Die direkteure moet binne een maand na die
datum van ontvangs van die kennisgewing in statuut 21 bedoel die inhoud daarvan
aan
elke ander lid van die maatskappy meedeel en elke sodanige lid het die reg
om die aandele aldus aangebied, te verkry binne een maand
na die datum van
ontvangs van daardie mededeling: Met dien verstande dat indien meer as een lid
‘n aanbod maak vir al die aandele
aldus aangebied die aandele in gelyke
dele aan elke sodanige lid verkoop word en waar breukdele van aandele oorbly,
word sodanige
lede gesamentlike houers van sodanige breukdele van die
aandele.
23. Indien die lede van die maatskappy nie oor die verkoopprys van
die aandele kan ooreenkom nie, kan die ouditeur van die maatskappy
versoek word
om die ware en redelike waarde daarvan te bepaal, en die lede moet daardie
waarde as die verkoopprys van die aandele
aanvaar.
24. Indien nie een van
die lede van die maatskappy aanbied om die aandele te koop binne die tydperk in
statuut 22 bedoel of indien
lede van die maatskappy aanbied om ‘n deel van
die aandele aldus aangebied, te koop, kan die lid wat die aandele te koop
aanbied,
die aandele of die oorblywende deel van die aandele wat nie deur lede
van die maatskappy gekoop is nie, te koop aanbied aan ‘n
ander persoon en,
nieteenstaande die bepalings van statuut 11, moet die direkteure die registrasie
van die aandele op die naam van
daardie persoon goedkeur, tensy hulle gegronde
rede het om so ‘n registrasie te weier.”
Artikel 11 verleen
aan die direkteure die bevoegdheid om sonder opgaaf van redes te weier om die
oordrag van aandele van die maatskappy
te registreer.
In Estate Milne
v Donohoe Investments (Pty)
Ltd[10] het Ogilvie Thompson AR
daarop gewys dat die beperking wat op aandele-oordragte in ‘n
privaatmaatskappy se statute bevat word
“essentially one of construction
of the relevant articles” is en dat “the prima facie right of
a shareholder to deal freely with his shares must perforce yield to contrary
provisions ascertained on a correct construction
of the company’s
articles”. Só gesien kan daar op die volgende wesenlike aspekte
van drie artikels (21, 22 en
24) van die statute gewys word. Waar ‘n lid
verlang om sy aandeelhouding te verkoop, vereis art 21 dat hy eers kennis van
sy
voorneme aan die direkteure “moet”
gee.[11] Artikel 22 verleen in
hierdie omstandighede aan die ander lede “die reg” om die betrokke
aandele “te verkry”
vóórdat die aandele aan iemand
anders te koop aangebied mag word. Die ooreenkoms tussen die bewoording in die
Wet
self en in art 22 is na my mening nie bloot toevallig nie: die
“reg” wat volgens art 20(1)(a) van die Wet beperk moet
word, is juis
die “reg” wat art 22 aan die ander lede verleen, naamlik om deur
aanbod en aanname die sluit van ‘n
koopooreenkoms, gevolg deur die
verlyding van ‘n oordragsakte en daarna registrasie, oordrag van die
aandele te “verkry”.[12]
Eers ná voldoening aan die voorgaande vereistes verleen art 24 aan die
lid die bevoegdheid (“kan”) om die aandele
hoegenaamd aan ‘n
buitestander te koop aan te bied.
Gelees in die lig van art 20(1)(a) van
die Wet, blyk dit dus dat die statute van Markplaas ‘n onderlinge
ooreenkoms tussen die
maatskappy se aandeelhouers inter se bevat wat in
ooreenstemming met die wetsbepaling die reg om die maatskappy se aandele oor te
dra, beperk deur gebiedend te vereis
dat die uiteengesette prosedure eers
nagevolg moet word voordat die aandele hoegenaamd regtens aan ‘n
buitestander aangebied
of oorgedra kan word. Dié slotsom regverdig die
verdere gevolgtrekking dat die beperking, in die woorde van Farwell R, ‘n
oorspronklike eienskap in die aandele self daarstel en dat by onstentenis van
nakoming van die prosedure wat die statute bevat geen
regte ten aansien van die
betrokke aandele dus aan ‘n koper oorgedra kan word
nie.[13] Die onderlinge
reëling in die statute uiteengesit, in navolging van die gebiedende
aanwysing van art 20(1)(a) van die Wet,
bevat met ander woorde ‘n beletsel
op die aanbieding of oordrag van die aandele hoegenaamd, tensy die uiteengesette
prosedure
eers nagekom word. Gevolglik, sonder nakoming van die voorvereistes,
“the right, from its inception, lacks the attribute of
transmissibility”.[14]
Dit
volg dat Booyens se argument dat Tabel B van Skedule 1 van die Maatskappywet nie
‘n absolute verbod daarstel nie, maar suiwer
prosessuele regte skep wat
slegs deur ‘n interdik afgedwing sou kon word, ongegrond is en dat Smuts
se betoog dat die statute
by implikasie ‘n pactum de non cedendo
daarstel wat oordrag verhoed, gelyk gegee moet word:
“The stipulation against cession is part and parcel of the agreement creating the right, and the right is limited by the stipulation.”
Paiges v Van Ryn Gold Mines Estates
Ltd;[15] Trust Bank of Africa
Ltd v Standard Bank of South Africa
Ltd.[16]
Dat die
beperking op aandele-oordragte in stryd met die statute ten gunste van die
aandeelhouers oor en weer bestaan en dat mede-aandeelhouers
in die beperking
‘n belang het, behoef geen betoog nie. Dit spreek trouens vanself uit die
voorskrif in die Maatskappywet wat
die tersaaklie beperking vereis. Waar dit
vir ‘n skuldenaar in ‘n gewone skuldenaar/skuldeiser-verhouding
“per
slot van sake altyd van belang [is] om te weet wie sy skuldeiser
is”,[17] is dit des te meer
vir ‘n aandeelhouer in ‘n privaatmaatskappy, “waarby die hele
opset juis is om die beheer binne
‘n beperkte kring van goedgekeurde lede
te hou”,[18] van kernbelang,
selfs waar die verhouding oorwegend of suiwer kommersieël van aard
is,[19] om te weet wie sy of haar
mede-lid is.
Dit volg dat die verhoorhof se aanvaarding dat Booyens deur
die koopooreenkoms regte verkry het ten aansien van die aandele en dat
kennis
van die voorkoopsreg in die maatskappy se statute vervat ter sake was, foutief
was.
Hierdie slotsom maak dit onnodig om te beslis oor Smuts se verdere
betoë dat op die feite van die saak daar geen geldige oordragshandeling
plaasgevind het nie (met ‘n beroep op Botha v
Fick);[20] dat indien daar
‘n sessie plaasgevind het, dit verminderde regte aan Booyens oorgedra het
(na analogie van Van der Berg v Transkei Development
Corporation);[21] dat kennis van
die inhoud van Markplaas se statute van regsweë in elk geval aan Booyens
toegedig moes word (met ‘n beroep
op Abrahamse v Connock’s
Pension Fund);[22] en dat
absolusie van die instansie in ieder geval in die omstandighede van die verhoor
verkeerdelik toegestaan is.
Dit volg dat Coetzee WndR insgelyks gefouteer
het met sy aanname dat Booyens die reghebbende ten opsigte van die aandele
geword het
en dat sy bevel op dié grond alleen ter syde gestel moet word.
Daarbenewens is dit myns insiens gepas om daarop te wys dat,
afgesien van die
feit dat Booyens se aansoek onder art 115 van die Maatskappywet in die lig van
die hangende appèlstappe teen
du Plessis R se bevel heeltemal voorbarig
was, dié wetsbepaling kwalik ‘n gepaste uitkoms bied om oordrag van
aandele
in mosie-verrigtinge te verkry of te verleen waar feite-dispute voorkom
wat nie op die stukke opgelos kan word
nie.[23]
Daar is ook
appèl aangeteken teen Coetzee WndR se kostebevel in ‘n
kondonasie-aansoek wat Smuts gebring het, maar Smuts
se advokaat kon op geen
grond wys waarop met hierdie diskresie-uitoefening ingemeng kan word nie. Wat
die koste van die appèl
betref het Smuts se advokaat toegegee dat
een-derde van die appèlrekord onnodig was. Die respondent kan nie met
dié
koste belas word nie. Wat die koste van die verhoor betref, is ek
van mening dat hoewel die verhoor aansienlik verkort (indien nie
uitgeskakel)
sou kon gewees het deur die geskilpunt by wyse van ‘n gestelde saak te
laat bereg, die houding van Booyens ten
dele tot dié verloop bygedra het
en dat dit onbillik sou wees om Smuts van sy koste in die Hof a
quo te ontneem.
Die volgende bevele word gemaak:
In
saaknommer 222/99:
Die appèl slaag met koste, insluitend die koste
van twee advokate, maar uitgesluit die koste van een-derde van die
oorkonde.
Die bevel van die Hof a quo word ter syde gestel en
word met die volgende vervang:
“(i) Die aansoek wat vir verhoor verwys is, slaag met koste.
(ii) Daar word verklaar dat 50% van die aandele in
Markplaas (Edms) Bpk in die kurator van die insolvente boedel P S Roux,
Boedelnommer
T3163/94 vestig.”
In saaknommer 257/99:
Die
appèl slaag met koste, insluitend die koste van twee advokate.
Die
bevel van die Hof a quo word ter syde gestel en met die volgende
vervang:
“Die aansoek word van die hand gewys met koste.”
E CAMERON
REGTER VAN
APPÈL
VIVIER AR )
NIENABER AR)
OLIVIER AR) STEM SAAM
SCHUTZ AR)
[1] 1982 (3) SA 893
(A)
[2] Sien Estate Milne v
Donohoe Investments (Pty) Ltd and Others 1967 (2) SA 359 (A) en Lombard v
Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie, Transvaal 1968 (3) SA 473 (A). Vergelyk
ook Swart v Celliers 1976 (2) PH E10 (K) (waar die koper kennis gedra het
van die beletsels op oordrag), Mendonides v Mendonides and Others 1962
(2) SA 190 (D) en Britz NO v Sniegocki and Others 1989 (4) SA 372
(D).
[3] 1927 AD 240
250
[4] Die Afrikaanse teks is
onderteken; die Engelse teks praat van “the right to transfer its
shares”.
[5] 1973 (3) SA 245
(A) 251C, met beroep op die uitspraak van Lord Reid in Lyle & Scott Ltd v
Scott’s Trustees and British Investment Trust Ltd 1959 AC 763 (HL)
778; [1959] 2 All ER 661 (HL)
668.
[6] Die woord
“oordraagbaar” in die Afrikaanse teks word in die Engelse teks as
“transferable”
weergegee.
[7] [1901] ChD 279
288
[8] Artikels 14-16 van die
Companies Act, 1862 (25 & 26 V. c. 89) het met die aard en aangaan van
‘n maatskappy se statute
gehandel. Art 16 het onder andere bepaal dat
nadat die statute geregistreer was “they shall bind the company and the
members
thereof to the same extent as if each member had subscribed his name and
affixed his seal thereto, and there were in such articles
contained a covenant
on the part of himself, his heirs, executors, and administrators, to conform to
all the regulations contained
in such articles, subject to the provisions of
this Act”. Die eweknie is art 65(2) van die Maatskappywet: “Die
akte
en statute bind die maatskappy en sy lede, in dieselfde mate asof dit
onderskeidelik deur elke lid onderteken is, tot nakoming, behoudens
die
bepalings van hierdie Wet, van al die bepalings van die akte en van die
statute.”
[9] Onder andere
deur Innes HR in Liquidators, Union Share Agency v Hatton 1927 AD 240
251.
[10] 1967 (2) SA 359 (A)
370F-G
[11] In die Engelse teks:
“shall”.
[12] Vir
‘n soortgelyk omvattende uitleg van die woord “oordrag” in
‘n maatskappystatuut, sien Lombard v Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie,
Transvaal 1968 (3) SA 473 (A)
483F-485H.
[13] Prof MS Blackman
in Joubert, Lawsa (Eerste Heruitgawe) vol 4 deel 1 para
232
[14] “Cession”,
Joubert, Lawsa (Eerste Heruitgawe) vol 2 para 254. Dit is vergelykbaar
met die geval waar partye onderling ooreenkom dat ‘n bepaalde reg
slegs op
‘n wyse wat hulle voorskryf, gesedeer mag word: vergelyk aw para
246.
[15] 1920 AD 600
617
[16] 1968 (3) SA 166 (A)
189D-G
[17] De Wet en Yeats
Kontraktereg en Handelsreg (5 uitg, 1992, vol 1) bl 254 n 16, wat die
vereiste in die Paiges- en Trust Bank-sake dat die beperking in
die belang van die skuldenaar moet wees in twyfel
trek.
[18] Lombard v
Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie, Transvaal 1968 (3) SA 473 (A) 485A, per
Steyn HR
[19] Vergelyk Hulett
and Others v Hulett 1992 (4) SA 291 (A)
307E-I.
[20] 1995 (2) SA 750
(A)
[21] 1991 (4) SA 78
(TkGD)
[22] 1963 (2) SA 76
(W)
[23] Verrin Trust &
Finance Corporation (Pty) Ltd v Zeeland House (Pty) Ltd and Others 1973 (4)
SA 1 (C) 9H-11A, 13F-G, 14C-B, per Corbett R
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2001/57.html