![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer : 52/99
In die saak tussen :
JOHN
MOSEHLA Appellant
en
SANCOR BK Respondent
CORAM
: NIENABER, HARMS, SCHUTZ, MPATI ARR en MTHIYANE Wnd AR
DATUM : 6
MAART 2001
GELEWER : 27 MAART 2001
Huurarbeider of plaaswerker
kragtens Wet 3 van 1996 - summiere
vonnis
________________________________________________________________
UITSPRAAK
________________________________________________________________
NIENABER AR/
NIENABER AR :
[1] Die appellant was gedurende 1997 ‘n
werknemer van die respondent, ’n beslote korporasie met sy plek van
besigheid
te die plaas Enkeldebosch, in die distrik Middelburg, Mpumalanga. Die
vraag wat ter sprake is, is of die appellant, vir doeleindes
van die Wet op
Grondhervorming (Huurarbeiders) 3 van 1996 (“die Wet”), en ten
opsigte van die bepaalde eiendom oftewel
’n onomskrewe deel daarvan
(“die perseel”), ’n huurarbeider was (soos hy te kenne gee)
dan wel ’n plaaswerker
(soos die respondent te kenne gee).
[2] Uit die
stukke is dit duidelik dat die appellant reeds voor 11 Maart 1997 ’n
werknemer op die plaas was waar hy en sy familie
’n huis bewoon het. Op
daardie datum het die partye, met ingang 1 Maart 1997, ’n skriftelike
dienskontrak aangegaan.
Die ooreenkoms maak voorsiening vir ’n
kontantloon aan die appellant van R350 en twee 80 kg sakke mieliemeel per maand.
Klousule
7.1 van die kontrak bepaal:
“7.1 Die WERKNEMER sal geregtig wees op die gebruik van die huis te Plaas Enkeldebosch, distrik Middelburg waarvoor hy die aanspreeklike persoon sal wees. By die beëindiging van die dienste van die WERKNEMER, sal die WERKNEMER en die persone genoem in 8.7 [lees 7.7] die huis ontruim binne DERTIG (30) dae vanaf die datum waarop die diens beëindig is, of aan die einde van die kennis tydperk, in die diskresie van die WERKGEWER.”
Klousule 8 bepaal:
“8.1 Die WERKNEMER is geregtig om TIEN (10) beeste op die perseel aan te hou;
8.2 Enige beeste meer as in 3.1 [lees 8.1] moet binne DRIE (3) maande van aanvangsdatum van die ooreenkoms verkoop word.”
Kragtens klousule 9 onderwerp die
appellant hom aan “die huidige Dissiplinêre Prosedure van die
bestaande Dissiplinêre
Prosedure van die WERKGEWER” en klousule 3.2
gee aan laasgenoemde die reg “om hierdie ooreenkoms te beëindig met
onmiddellike effek indien die WERKNEMER homself skuldig maak aan ’n
oortreding van die reëls en prosedures wat dit regverdig.”
[3] En dit is presies wat gebeur het. Die appellant het hom na bewering
skuldig gemaak aan kontrakbreuk (onder meer deur nie sy beeste
op die perseel na
tien te verminder nie), ’n dissiplinêre verhoor is gehou en die
appellant is op 25 Junie 1997 ontslaan,
wat beteken het dat die dienskontrak
terstond beëindig is. Die appellant het egter geweier om die huis waarin
hy en sy familie
gewoon het te ontruim en in Augustus 1997 word hy (as
verweerder) deur die respondent (as eiser) in die Landdroshof te Middelburg
gedagvaar vir “’n bevel dat die Verweerder uitgesit word van die
perseel”. (Ek verwys vervolgens gerieflikheidshalwe
na die partye as
“die eiser” en “die verweerder”
onderskeidelik.)
[4] Toe die verweerder verskyning aanteken, doen die eiser
ooreenkomstig Landdroshofreël 14 aansoek om summiere vonnis. Die
beëdigde verklaring ter ondersteuning van die aansoek word onderteken deur
ene Hugo McGrath wat beweer dat hy “die eiser/applikant”
is (wat hy
natuurlik nie was nie), dat hy by magte is om die betrokke verklaring te maak en
dat die feite daarin binne sy kennis
val en na die beste van sy wete waar en
korrek is.
[5] Die verweerder liasseer ooreenkomstig reël 14(3)(c)
’n beantwoordende verklaring waarin hy hom op die bepalings van
die Wet
beroep (a) dat hy na regte ’n huurarbeider is en aldus in sy voortgesette
besetting van die perseel deur artikels 3(1)
en (5) daarvan beskerm word; en (b)
dat hy ingevolge artikels 16 en 17 aansoek gedoen het om ’n toekenning ten
opsigte van
die betrokke perseel en dat artikel 14 van die Wet gevolglik enige
uitsetting daaruit verbied solank ’n ondersoek daarna hangende
is. Die
bestaan en regmatige beëindiging van die skriftelike dienskontrak word
egter nie in sy beëdigde verklaring as
sodanig aangeval of bevraagteken
nie.
[6] Die verweer misluk in sowel die Landdroshof as op appèl na
die Transvaalse Provinsiale Afdeling (Mosehla v Sancor CC 1999 (1) SA 614
(T)), maar ’n aansoek om verlof om na hierdie Hof te appelleer word op
petisie toegestaan.
[7] Die eiser se eis om uitsetting is uitsluitlik
op die bepalings van die dienskontrak gegrond. Die dienskontrak maak
voorsiening
vir die bewoning deur die verweerder en sy familie van “die
huis te plaas Enkeldebosch, distrik Middelburg” asook vir
die reg om
’n aantal beeste “op die perseel” aan te hou. Die
beëindiging van die dienskontrak sou dus beteken
dat die verweerder
voortaan nie meer (a) teenoor die eiser en (b) uit hoofde van die bepalings van
die dienskontrak op okkupasie
van die perseel aanspraak kan maak nie. Daaruit
volg dit egter nie dat die eiser sonder meer op ’n bevel van uitsetting
teenoor
die verweerder geregtig sou wees nie. Dit sou daarvan afhang of die
eiser, as beslote korporasie, ’n eie regmatige aanspraak
op besit van die
perseel, as byvoorbeeld eienaar of huurder, gehad het. Presies wat die eiser
se titel ten tyde van die instel
van die aksie en ten opsigte van die plaas
Enkeldebosch was, blyk nêrens uit die eiser se besonderhede van vordering,
uit
McGrath se beëdigde verklaring ter ondersteuning van die aansoek om
summiere vonnis, of selfs uit die verweerder se beëdigde
verklaring of die
dokumente waarna daarin verwys word nie. Daar was wel suggesties dat ene Jan
Schoeman te een of ander tyd die
eienaar van die plaas was. Wat die verhouding
tusssen Schoeman en die eiser en McGrath was, blyk egter ook nie uit die stukke
nie.
Die beswaar, as sou die eiser se status ontbreek om teen die verweerder op
te tree, is nóg in die verweerder se opponerende
verklaring, nóg
in betoog voor die Landdros of die Hof a quo geopper. Dit is vir die
eerste keer in die aansoek om verlof om te appelleer en vir die tweede keer voor
hierdie Hof te berde gebring.
Die Hof a quo het dit tereg verwerp. Dat
’n punt wat so opsigtelik is so laat geopper word, skep die vermoede dat
daar ’n eenvoudige
antwoord op is. Was dit wel vroegtydig in die
beëdigde verklaring geopper en was die beswaar daarteen wel
onbeantwoordbaar,
sou die eiser stellig daar en dan bes gegee het; andersins
sou hy die ontbrekende bewerings by wyse van ’n wysiging van sy
dagvaarding aangebring het. Dit kan nie op hierdie laat stadium van die
verrigtinge, sonder dat dit ooit ondersoek is, as ’n
volkome antwoord op
die eis beskou word nie. Vir doeleindes van die beoordeling van die aansoek om
summiere vonnis op appèl
moet daar dus na my mening aanvaar word dat die
eiser wel ’n eie aanspraak op besit van die perseel gehad het. Indien die
verweer wat origens in die beantwoordende verklaring geopper is, nie slaag nie,
sou ’n bevel van uitsetting dus wel behoorlik
verleen kon gewees
het.
[8] Die vraag is dan of die verweerder se beëdigde verklaring
’n bona fide verweer openbaar, dit wil sê, of dit bewerings
bevat wat, indien bewese, van hom ’n huurarbeider kragtens die bepalings
van die Wet sou maak. Die beantwoording van dié vraag verg ’n
analise van wat die verweerder presies beweer, gemeet
aan die hand van die
tersaaklike bepalings van die Wet.
[9] Die volgende bepalings van die Wet is
vir huidige doeleindes van belang en word gerieflikheidshalwe agtereenvolgens
aangehaal:
“Huurarbeider” word in artikel 1 omskryf as:
“...’n persoon -
(a) wat op ’n plaas woon of die reg het om daarop te woon;
(b) wat die reg het of gehad het om grond vir verbouing of weiveld op die plaas, in paragraaf (a) bedoel, of ’n ander plaas van die eienaar te gebruik, en as teenprestasie vir daardie reg arbeid aan die eienaar of huurder verskaf of verskaf het; en
(c) wie se ouer of grootouer op ’n plaas woon of gewoon het en die gebruik van grond vir verbouing of weiveld op daardie plaas of ’n ander plaas van die eienaar gehad het, en as teenprestasie vir daardie reg arbeid aan die eienaar of huurder van daardie of daardie ander plaas verskaf of verskaf het,
met inbegrip van ’n persoon wat ooreenkomstig die bepalings van artikel 3(4) en (5) as opvolger van ’n huurarbeider aangestel is, maar uitgesluit ’n plaaswerker;”
“Plaaswerker”
word weer omskryf as:
“’n persoon wat in diens is op ’n plaas ingevolge ’n dienskontrak wat voorsiening maak dat-
(a) in ruil vir die arbeid wat hy of sy aan die eienaar of huurder van die plaas lewer, hy of sy hoofsaaklik in kontant of in ’n ander vorm van vergoeding betaal sal word, en nie hoofsaaklik in die reg om grond te bewoon en te gebruik nie; en
(b) hy of sy verplig is om sy
of haar dienste persoonlik te verrig;”
Artikel 3(1) bepaal:
“3. Reg om grond te bewoon en te gebruik. - (1) Ondanks die bepalings van enige ander wet, maar behoudens die bepalings van subartikel (2), het ’n persoon wat op 2 Junie 1995 ’n huurarbeider was, die reg om saam met sy of haar familielede -
(a) daardie gedeelte van die betrokke plaas te bewoon en te gebruik wat hy of sy of sy of haar geassosieerde op daardie datum gebruik en bewoon het;
(b) daardie gedeelte van die
betrokke plaas te bewoon en te gebruik ten opsigte waarvan die reg om dit te
bewoon en te gebruik ingevolge
hierdie Wet of enige ander wet aan hom of haar
herstel word.”
Artikel 3(6) lui:
“’n Huurarbeider kan, behoudens subartikel (7), van sy of haar regte of ’n gedeelte van sy of haar regte afstand doen indien sodanige afstanddoening vervat is in ’n skriftelike ooreenkoms wat deur beide die eienaar en die huurarbeider onderteken is.”
Artikel
3(7):
“Die bepalings van ’n ooreenkoms waarkragtens die huurarbeider ingevolge subartikel (6) van sy of haar regte of ’n gedeelte van sy of haar regte afstand doen, tree nie in werking nie tensy -
(a) die Direkteur-generaal gesertifiseer het dat hy of sy tevrede is dat die huurarbeider ten volle kennis gehad het van die aard en omvang van sy of haar regte asook die gevolge van afstanddoening van sodanige regte; of
(b) sodanige bepalings in ’n
bevel van die Hof of van ’n arbiter kragtens artikel 19 aangestel,
geïnkorporeer word.
”
Artikel 5:
“Verbod op uitsetting. - Behoudens die bepalings van artikel 13, kan ’n huurarbeider of sy of haar geassosieerde slegs op grond van ’n bevel van die Hof, wat kragtens hierdie Wet uitgereik is, uitgesit word.”
Artikel 14:
“Uitsetting in afwagting van aansoek vir verkryging van regte in grond. - Geen huurarbeider kan, terwyl ’n aansoek deur hom of haar ingevolge Hoofstuk III hangende is, uitgesit word nie: Met dien verstande dat die Hof uitsetting mag beveel indien die Hof tevrede is dat, met inagneming van alle omstandighede, spesiale omstandighede bestaan wat dit regverdig en billik maak om so te beveel.”
Artikels 16(1) en (2) soos dit
indertyd gelui het:
“16. Reg om grond te verkry. - (1) Behoudens die bepalings van hierdie Wet, kan ’n huurarbeider of sy of haar opvolger aansoek doen om ’n toekenning van -
(a) die grond wat hy of sy ingevolge artikel 3 geregtig is om te bewoon of te gebruik;
(b) die grond wat hy of sy of
sy of haar familie gedurende ’n tydperk van vyf jaar onmiddellik voor die
inwerkingtreding van
hierdie Wet bewoon of gebruik het, en waarvan hy of sy of
sy of haar familie in stryd met die bepalings van ’n ooreenkoms tussen
die
partye ontneem is;
(c) regte in grond elders op die plaas of in die omgewing
wat deur die eienaar van die plaas voorgestel is; en
(d) die serwitute van
reg van toegang tot water, reg van weg of ander serwitute wat redelikerwys
noodsaaklik is of redelikerwys bestaanbaar
is met die regte wat hy of sy geniet
of voorheen as huurarbeider geniet het,
of die ander vergoedende grond of regte in grond en serwitute wat hy of sy ingevolge artikel 18(5) kan aanvaar, te koop en te laat registreer: Met dien verstande dat die reg om aansoek te doen om ’n toekenning van sodanige grond, regte in grond en serwitute verval indien geen aansoek binne vier jaar vanaf die inwerkingtreding van hierdie Wet ingevolge artikel 17 by die Direkteur-generaal ingedien word nie.”
(2) Die bepalings van ’n ooreenkoms waarkragtens ’n huurarbeider afstand doen van sy of haar regte wat ingevolge hierdie artikel aan hom of haar verleen word, tree nie in werking nie tensy -
(a) die Direkteur-generaal gesertifiseer het dat hy of sy tevrede is dat die huurarbeider volle kennis gehad het van die aard en omvang van sy of haar regte sowel as van die gevolge van sodanige afstanddoening; of
(b) sodanige bepalings ingesluit is
in ’n bevel van die Hof of ’n arbiter ingevolge artikel 19
aangestel.”
Artikel 17 reël dan die prosedure wat in die geval
van so ’n aansoek deur ’n huurarbeider nagekom moet
word.
[10] Voldoen die bewerings wat die verweerder in sy beëdigde
verklaring uiteengesit het aan die drie primêre vereistes
vir die
omskrywing van ’n huurarbeider? Wat vereiste (a) betref, is dit
gemeensaak dat die verweerder indertyd op die plaas
gewoon het; die hele doel
van die eiser se verrigtinge was juis om hom daarvan af te kry. Wat vereiste
(b) betref, blyk dit uit
die verweerder se bewerings dat hy die reg gehad het om
beeste op die plaas aan te hou - of dit nou 24 was (soos hy beweer) of, na
1
Maart 1997, slegs 10 (soos Klousule 8 van die kontrak bepaal) - kom nie daarop
aan nie. Origens word beweer dat hy, as gedeeltelike
teenprestasie vir die
bewoning en beweiding op die plaas, vir die eiser (of die eiser se voorganger in
titel) op die plaas gewerk
het. In ’n brief wat namens hom aan die
Direkteur-Generaal van die Departement van Grondsake gerig is, en waaarna daar
in
sy beëdigde verklaring verwys word, word hy dan ook as ’n
“general farm labourer” beskryf. Wat vereiste
(c) betref, beweer
hy in para 8(a) van sy beantwoordende verklaring soos volg:
“My father France Mosehla resided on the same farm I am currently residing upon, more specifically the farm Enkeldebosh situated in the district of Middelburg - Mpumalanga. My late father also had the use of cropping land and/or grazing land on the aforesaid farm and in consideration of such right provided the owner/lessee of the said farm with labour. My father and I were obliged to perform our services personally on the aforesaid farm. Therefore, my father and I were not farm workers as described in section 1(ix) of Act 3 of 1996.”
[11] Word die bewerings wat die verweerder aldus
maak in die verhoor bewys, voldoen die verweerder aan die drie basiese
vereistes
vir ’n huurarbeider. Dit opper dadelik die verdere vraag of die
verweerder, vir doeleindes van die negatiewe voorbehoud in
die definisie van
“huurarbeider”(“maar uitgesluit ’n plaaswerker”),
nie nietemin “’n plaaswerker”
was nie.
[12] In Ncgobo
& Others v Salimba CC; Ncgobo v Van Rensburg 1999 (2) SA 1057
(SCA), is die vraag in par 28 oopgelaat op wie die bewyslas in so ’n geval
nou eintlik rus. Ek sal in die
guns van die eiser aanvaar (sonder om die
omstrede vraag te beslis) dat dit onder die omstandighede van hierdie geval by
die verweerder
berus het om in sy opponerende verklaring aan te toon dat hy
nie ’n “plaaswerker” was nie.
[13] Volgens die Hof
a quo is die relevante datum vir bepaling van die status van die
werknemer die 2de Junie 1995. Aldus is te 621D-F gesê:
“The definition of ‘labour tenant’ has a negative component, namely that he is not a farm worker. Should one have to determine whether a person is at present a labour tenant, one would as part of the exercise look at the present situation to determine whether that person is a farm worker. But where one has to determine whether at a date in the past (2 June 1995) a person was a labour tenant, then it follows that the object is also to determine whether he was then (not now) a farm worker. In the process the almanac has to be turned back and the situation considered as at 2 June 1995 in the light of the values then pertaining.
We are obliged by s 3(1) of the Act to consider the situation as at 2 June 1995. It follows that the appellant had to focus his defence on that date. He failed to do so.”
In Ncgobo, supra, par 25 op
1075, is egter gesê, onder meer met verwysing na die uitspraak van die Hof
a quo, dat dié benadering verkeerd is:
“The date 2 June 1995 is, therefore, in the present context inappropirate as a time for establishing whether the present occupiers are labour tenants or farmworkers for purposes of the Act. It obviously could never have been the intention of the Legislature to exclude from the protection of the Act anyone who has, since 2 June 1995, become a labour tenant as defined in the Act.” (1075E-F).
[14] Dit sou dus ook verkeerd wees om die saak
soos die Hof a quo (supra te 621B-D) te bekyk met verwysing na die
oomblik waarop die kontrak ’n aanvang geneem het (1 Maart 1997).
Insgelyks was dit
verkeerd om die bepalings van die dienskontrak as ’t
ware op die verweerder se beëdigde verklaring in te ent ten einde
die
verweerder se bewerings onder eed (dat die maandelikse waarde van sy bewoning
R450 beloop het) na R100 te verminder.
[15] In par 27 van Ngcobo,
supra, op 1075H-J is gesê:
“If one approaches the definition in this holistic or continuous sense, it follows that what has to be established is the predominant quality of occupation over the whole period during which the present occupier has been complying with paras (a) and (b). It may be, as illustrated above, that in respect of some periods the remuneration paid to the occupier in cash or some other form of remuneration (see para (a) of the definition of ‘farmworker’) may have exceeded the value of the right to occupy and use the land; and vice versa. What we have to find is the overall sense and value of the occupation. The present time is but one moment in this continuum.”
[16] Die pertinente vraag is dan of die
verweerder se bewerings in sy beëdigde verklaring aandui dat hy oor die
tersaaklike tydperk
(dit wil sê die tydperk waartydens hy aan vereistes
(a) en (b) voldoen het), persoonlik op die eiendom as arbeider gewerk het
waarvoor hy vergoeding ontvang het wat oorwegend in kontant en in natura
bereken was, en wat minder was as die waarde van sy bewoning en beweiding
gesamentlik.
[17] Die verweerder heg aan sy beëdigde verklaring ’n
brief wat sy prokureur namens hom aan die Direkteur-Generaal van
die Departement
Grondsake gerig het en waarin verklaar word:
“Our client, until January 1977 earned a salary of R350-00 per month and occupied a house built of stone together with his (our client’s) family. Our client’s rights of occupation aforesaid was an expressed alternatively implied/tacit term of the contract of employment with the owner of the aforesaid farm, Mr Jan Schoeman. In addition to the aforesaid, our client had the right to graze an unspecified number of cattle on the said farm. During January to date hereof our client is grazing 24 cows on the said farm. It is apparent from our client’s remuneration that our client’s rights of occupation and grazing far exceeded the monetary remuneration fee received from Mr Schoeman. Our client therefore satisfy the definition of ‘labour tenant’ contained in Section 1 (xii) of Act No. 3 of 1996.”
In
die brief maak hy dus melding van ’n salaris van R350 per maand.
Vervolgens beweer hy in para 7 van sy beëdigde verklaring
soos volg:
“7. During the trial of this matter it will be shown that the value of my right to occupy Plaintiff’s land which I am currently occupying with members of my family is R450-00 per month. The value of my rights of grazing on Plaintiff’s farm amounted to the sum of R360-00 per month. The said sum is calculated by taking into account the cost of grazing one cow per month on Plaintiff’s farm which amounts to R15-00 and multiplying same by 24. In this regard page 2 of annexure “Z1” [die paragraaf hierbo aangehaal] is illustrative. I was a labour tenant as at 2nd June 1995 and I fall within the parameters of Section 3(1) of Act No. 3 of 1996.”
Saam gelees blyk dit dus dat die
verweerder ’n waarde van R810 per maand op sy bewoning en beweiding van
die eiendom plaas.
Of dié bewerings korrek of selfs waarskynlik is, kom
op die oomblik nie daarop aan nie. Vir doeleindes van summiere vonnis
moet dit
as juis aanvaar word. Gevolglik deug dit nie om, soos die Landdros en die Hof
a quo probeer doen het, die bewerings oor die gehele tydperk aan die hand
van die bepalings van die latere kontrak te toets en desgewens
aan te pas
nie.
[18] Dit is wel so dat dit uit die eedsverklaring nie duidelik is
presies wanneer die verweerder vir die eerste keer aan vereistes
(a) en (b)
voldoen het nie. Hy maak egter wel die bewering dat hy op 2 Junie 1995 aan die
wetlike voorskrifte voldoen het om as
’n huurarbeider te kwalifiseer. Al
word die kloutjie nie uitdruklik by die oortjie gebring nie, is dit in so
’n geval
nodig om by ’n aansoek om summiere vonnis ’n meer
toeskietlike houding in te neem as wat by ’n eksepsie of die
verhoor self
die geval sou wees, omdat summiere vonnis ’n buitengewone remedie is wat
eintlik net toegepas moet word as daar
ten beste vir die verweerder niks vir sy
saak te sê is nie (vgl Tesven CC and Another v South African Bank of
Athens 2000 (1) SA 268 (SCA) 275H-276G). Word dié benadering
toegepas, meen ek dat die feitelike bewerings in die verweerder se
beëdigde
verklaring en die stukke waarna dit verwys, vatbaar is vir die vertolking dat hy
op en sedert 2 Junie 1995 aan vereistes
(a), (b) en (c) van die betrokke
artikel, asook die negatiewe voorskrif waarvan daar in die omskrywing van
“huurarbeider”
ten opsigte van ’n plaaswerker gewag gemaak
word, voldoen het. En as dit die geval is, sou die verweerder, by bewys van die
bewerings wat hy maak, ’n statutêre saaklike reg geniet om die
perseel te bewoon.
[19] Die verweerder se beëdigde eedsverklaring is
weliswaar oppervlakkig, onsamehangend en bra onhandig opgestel, soos die Hof
a quo dan ook tereg beklemtoon. Maar, anders as die Hof a quo,
meen ek nie dat die besonderhede wat verstrek is, so karig was dat dit die
afleiding regverdig dat die verweer wat wel geopenbaar
word nie bona fide
was nie.
[20] Veel is in albei uitsprake van die Howe benede van die
bepalings van die dienskontrak gemaak en van die feit dat die bewering
dat dit
regmatig beëindig is, nie deur die verweerder betwis is nie. Die bepalings
van die kontrak sou egter alleen ter sake
wees indien dit as ’n
afstanddoening deur die verweerder van die statutêre reg wat die Wet hom
andersins verleen, vertolk
kan word. Die vraag is nie, soos die Landdros dit
benader, of artikels 16(2)(a) en (b) van die Wet die kontrak
“vernietig”
nie, maar of die kontrak die verweerder se aanspraak om
’n huurarbeider te wees, vernietig. Die antwoord op laasgenoemde vraag
is
myns insiens ontkennend; aan die voorskrifte van artikel 3(6) en 3(7) van die
Wet is kennelik nie voldoen nie. Dit geld dus
nie as ’n afstanddoening
van die aanspraak wat die verweerder, indien sy bewerings staande bly, as
’n huurarbeider op
die eiendom gehad het nie. Daardie aanspraak is nie op
die kontrak gegrond nie, maar op die bepalings van die Wet, meer bepaald
artikels 3(1)(a) en 5 daarvan. Dit is ’n reg wat die Wet hom gun ongeag
of hy daarbenewens ook aanspraak kan maak op die remedies
wat artikel 16 hom
bied. Vir huidige doeleindes is laasgenoemde aanspraak glad nie in gedrang
nie.
[21] Die klem wat die Howe benede dus op die ooreenkoms asook op die
verweerder se versuim om in sy beëdigde verklaring daarmee
te handel,
geplaas het, is myns insiens nie deurslaggewend nie. Die verweerder se verweer
berus nie op die kontrak nie, maar op
sy beweerde statutêre reg. Die
enigste vraag is of die bewerings in die eedsverklaring so ’n
statutêre reg vestig.
Om die redes vermeld, meen ek dat die antwoord op
dié vraag bevestigend is.
[22] Die volgende bevel word
gemaak:
1. Die appèl slaag met koste.
2. Die bevel van die Hof a
quo word ter syde gestel en vervang met die volgende bevel:
1. Die appèl slaag met koste;
2. Die bevel van die Landdroshof word ter syde gestel en vervang met die volgende bevel:
1. Summiere vonnis word geweier.
2. Verlof word aan die verweerder verleen om die saak te verdedig;
3. Die
koste van die aansoek om summiere vonnis geld as koste in die geding.
...........................
P M NIENABER
Stem saam:
Harms AR
Schutz AR
Mpati
AR
Mthiyane Wnd AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2001/50.html