South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Supreme Court of Appeal >>
2001 >>
[2001] ZASCA 3
| Noteup
| LawCite
Naude en Andere v Heatlie en Andere (180/99) [2001] ZASCA 3; [2001] 2 All SA 521 (A); 2001 (2) SA 815 (SCA) (23 February 2001)
Download original files |
SAAKNR: 180/99
In die saak tussen :
PIETER STEPHANUS
NAUDE EersteAppellant
PIETER STEPHANUS NAUDE N.O. Tweede
Appellant
MARGARETHA NAUDE N.O. Derde
Appellant
en
THOMAS HEATLIE Eerste
Respondent
WORCESTER-OOS HOOFBESPROEIINGSRAAD Tweede
Respondent
HEXRIVIER BESPROEIINGSRAAD Derde Respondent
DIE
MINISTER VAN WATERWESE EN BOSBOU Vierde Respondent
SAMUEL HENRI
PELISSIER NAUDE Vyfde Respondent
WINOLA (EDMS) BEPERK Sesde
Respondent
WILHELM HEINRICH NAUDE Sewende Respondent
LOURENS
GELDENHUYS NAUDE Agste Respondent
ARNOLDUS MAURITIUS DU
TOIT Negende Respondent
DANIëL VILJOEN NAUDE Tiende
Respondent
ROELOF JOHANNES DU TOIT Elfde Respondent
HEXVALLEI
BESPROEIINGSRAAD Twaalfde Respondent
Coram: Vivier, Harms, Schutz, Streicher ARR en Melunsky WND AR
Verhoor: 19 Februarie
2001
Gelewer: 23 Februarie 2001
Afskaffing van Waterhowe deur Wet 36 van 1998; effek op hangende gedinge; besproeiingsrade se bevoegdhede ingevolge Wet 54 van 1956.
_________________________________________________________________________________
U
I T S P R A A K
____________________________________________________________________
VIVIER
AR:
Hierdie twee appèlle, die eerste teen 'n beslissing van die Kaapse
Waterhof (appèl no 180/99) en die tweede teen 'n
beslissing van die
Kaapse Provinsiale Afdeling (appèl no 223/99), is saam aangehoor omdat
die partye dieselfde is en die appèlle
nou verband met mekaar hou.
Die
tweede en derde appellante in beide sake is die mede-trustees van die
Denau-trust, die eienaar van die plaas New Glen Heatlie
wat in die distrik van
Worcester tussen die Hexvallei en die Worcestervallei geleë is. 'n
Openbare stroom, die Hexrivier,
vloei oor die plaas en stroomaf vloei dit oor
die besproeiingsdistrikte van die tweede en derde respondente in appèl
no. 180/99.
Dieselfde partye is respondente in beide appèlle maar hulle
is verskillend genommer. Ek verwys voortaan na die respondente
soos hulle in
appèl no. 180/99 genommer is. Die eerste en vyfde tot elfde respondente
boer binne die gemelde besproeiingsdistrikte
op eiendomme wat daarby ingelys is
ingevolg die bepalings van art 88 van die Waterwet 54 van 1956 (“die 1956
Waterwet”).
Die vierde en twaalfde respondente is as partye gevoeg
vanweë enige moontlike belang wat hulle mag hê en geen regshulp
word
teen hulle geëis nie.
Gedurende die tydperk voor 6 Maart 1997 het daar
'n dispuut ontstaan tussen die appellante, aan die een kant, en die tweede,
derde
en twaalfde respondente, aan die ander kant, oor die onttrekking en
gebruik van beweerde openbare water op New Glen Heatlie. Alhoewel
New Glen
Heatlie binne die grense van tweede respondent se besproeiingsdistrik geleë
is, is dit by beide tweede en derde respondente
vir nul hektaar ingelys
ingevolge die bepalings van die 1956 Waterwet. Die kern van die dispuut was dat
volgens die tweede, derde
en twaalfde respondente die appellante tot nadeel van
hul lede openbare water onregmatiglik uit die Hexrivier vir besproeiing onttrek
het, terwyl die appellante se standpunt was dat hulle slegs water vanuit 'n
onttrekkingspunt (“die pompgat”) langs die
oppervlaktebedding van
die Hexrivier onttrek het, wat nie afkomstig was uit die Hexrivier nie en dat
dit gevolglik privaat water
was of, indien openbare water, hulle as
oewereienaars daarop geregtig was.
Op 6 Maart 1997 het die appellante en die
tweede, derde en twaalfde respondente 'n skriftelike ooreenkoms aangegaan
ingevolge waarvan
hulle die dispuut geskik het. Ingevolge die ooreenkoms het
die tweede, derde en twaalfde respondente onder andere onderneem om
nie beswaar
te maak teen die uitreiking van 'n permit om die appellante te magtig om water
uit die pompgat te onttrek vir besproeiing
op 27 hektaar teen die tempo, volume
en tariewe daarin uiteengesit nie. In klousule 2 is egter uitdruklik bepaal dat
hierdie onderneming
nie 'n afstanddoening beteken van die waterregte van die
eiendomme binne die tweede, derde en twaalfde respondente se onderskeie
gebiede
nie. Die ooreenkoms het verder bepaal dat die appellante, benewens die 27
hektaar se water, geen verdere aansprake sou
hê op die onttrekking van
openbare water, soos in die 1956 Waterwet omskryf, uit die Hexrivier nie. Vir
doeleindes van die
skikkingsooreenkoms is die water wat by die pompgat onttrek
word, as openbare water beskou. Die permit is op 8 April 1997 deur die
Departement van Waterwese ingevolge die 1956 Waterwet uitgereik.
Na 6 Maart
1997 het 'n verdere dispuut tussen die partye tot die ooreenkoms ontstaan
deurdat die appellante twee boorgate langs die
oppervlaktebedding van die
Hexrivier op New Glen Heatlie gesink en die water daaruit vir besproeiing
onttrek het. In die stukke
word na hierdie boorgate as die produksie- en
skuurboorgate onderskeidelik verwys. Weereens was die kerngeskil of dit
openbare water
of privaat water was wat aldus onttrek was. Dit het gelei tot
twee afsonderlike bestrede aansoeke in die Kaapse Waterhof (sake
W 3/97 ingestel
op 6 Junie 1997 en W 4/98 ingestel op 19 Mei 1998) waarin die respondente vir
bevele gevra het wat verklaar dat
die water wat uit die twee boorgate onttrek
word openbare water uit die Hexrivier is en vir bevele wat die appellante
verbied om
die water vir enige doeleindes hoegenaamd te onttrek.
In
laasgenoemde saak het die appellante 'n teen-aansoek gebring vir 'n bevel wat
verklaar dat die skikkingsooreenkoms van 6 Maart
1997 nietig of alternatiewelik
onafdwingbaar is. Die teen-aansoek was gegrond op die appellante se bewering
dat die water wat by
die pompgat onttrek word, privaat water is en dat die
tweede, derde en twaalfde respondente gevolglik geen bevoegdheid gehad het
om
die skikkingsooreenkoms te sluit nie.
By die aanvang van die
gekonsolideerde verhoor van die twee aansoeke op 19 Oktober 1998 is die Waterhof
gevra om 'n punt in limine te beslis wat as volg geformuleer is:
“Op die aanname dat die water waarop die ooreenkoms betrekking het en by gemelde pompgat onttrek word, nie openbare water is nie maar privaat water -
Het die Besproeiingsrade die bevoegdheid gehad om die ooreenkoms aan te gaan;
Indien nie, is die ooreenkoms nogtans geldig omdat die partye vir doeleindes daarvan ooreengekom het dat die gemelde water openbare water is;
Het die Besproeiingsrade die bevoegdheid om die ooreenkoms af te dwing?”
Griesel R het die punt in limine teen die
appellante beslis en die verhoor het daarna vir 'n verdere elf hofdae
voortgegaan totdat die appellante op 11 Mei 1999
'n dringende aansoek in die
Kaapse Provinsiale Afdeling geloods het vir 'n verklarende bevel dat sedert die
inwerkingtreding van
die Nasionale Waterwet 36 van 1998 (“die Nasionale
Waterwet”) geen verrigtinge in die Kaapse Waterhof ingestel of voortgesit
kon word nie. Die aansoek is met koste deur Griesel R afgewys. Die
appellante appelleer nou na hierdie Hof teen die afwysing van die punt in
limine en, met die nodige verlof, teen die afwysing van die aansoek om 'n
verklarende bevel.
Gerieflikheidshalwe behandel ek eers die appèl teen
die afwysing van die aansoek om 'n verklarende bevel. Die Nasionale Waterwet
het vir die grootste gedeelte daarvan op 1 Oktober 1998 in werking getree
(Proklamasie R95, gepubliseer in Regulasiekoerant No 19269
van 25 September
1998). Verdere bepalings van die Nasionale Waterwet is op 1 Januarie 1999 in
werking gestel (Proklamasie No 131,
gepubliseer in Staatskoerant No 19618 van 24
Desember 1998). Op 1 Oktober 1999 het die oorblywende bepalings van die
Nasionale Waterwet
ten volle in werking getree (Proklamasie R102 gepubliseer in
Regulasiekoerant No 20513 van 1 Oktober 1999). Ingevolge art 163(1)
van die
Nasionale Waterwet, welke artikel gedeeltelik op 1 Oktober 1998 in werking
getree het, is Hoofstuk IV (artikels 34-55) van
die 1956 Waterwet, waarkragtens
die Waterhowe ingestel was, met ingang van 1 Oktober 1998 herroep. Op 1 Oktober
1999 is die oorblywende
bepalings van die 1956 Waterwet herroep en dit het 'n
einde aan die bestaan van die Waterhof meegebring (sien die ongerapporteerde
uitspraak van hierdie Hof in Oudebaaskraal (Edms) Bpk en ander v Van Vuuren
en ander, gelewer op 12 Maart 1999. Die verwysing op bl. 4 van hierdie
uitspraak na die inwerkingtreding van art 163 moet klaarblyklik 'n
verwysing na
'n gedeeltelike inwerkingtreding van die artikel op 1 Oktober 1998 wees).
In
die huidige saak was beide aansoeke gevolglik reeds hangende en het dit 'n
gevorderde stadium van voorbereiding vir die verhoor
bereik op die stadium toe
die Nasionale Waterwet se eerste bepalings op 1 Oktober 1998 in werking getree
het. Soos reeds daarop
gewys, het die gekonsolideerde verhoor op 19 Oktober
1998 begin.
Namens die appellante is betoog dat alle gedinge wat op 1 Oktober
1998 hangende was in die Waterhof, op daardie dag tot 'n einde gekom
het en as
nietig beskou moet word. Daar is geen uitdruklike oorgangsbepaling in die
Nasionale Waterwet wat handel met die status
van enige hangende gedinge in die
Waterhof nie, of wat uitdruklik voortgesette jurisdiksie aan die Waterhof
verleen om onafgehandelde
of deelsverhoorde sake af te handel en bevele ten
opsigte daarvan te maak nie (vgl art 181(3) van die 1956 Waterwet). Art 163(3)
en (4) van die Nasionale Waterwet bepaal egter wel dat enigiets wat kragtens die
1956 Waterwet gedoen is sowel as enige regulasie
wat daaringevolge uitgevaardig
is, en wat nie onbestaanbaar is met die Nasionale Waterwet nie, van krag bly
totdat dit herroep word
of andersins tersyde gestel word.
Hierdie bepalings
is in ooreenstemming met die algemene reël van ons reg dat waar 'n
wetsbepaling terugwerkend of andersins gewysig
word onderwyl 'n geding hangende
is, die regte van die gedingvoerende partye, by ontstentenis van 'n ander
bedoeling, volgens die
wetsbepalings wat ten tyde van die instelling van die
geding gegeld het, beoordeel moet word. Sien Bell v Voorsitter van die
Rasseklassifikasieraad en Andere 1968(2) SA 678(A) op 683E-684F; Thom en
'n Ander v Moulder 1974(4) SA 894(A) op 901C-902E; Bellairs v Hodnett and
Another 1978(1) SA 1109(A) op 1148 F-G.
Namens die appellante is betoog
dat 'n noodwendige bedoeling uit die Nasionale Waterwet, en veral uit art 35
daarvan, blyk dat alle
gedinge wat in die Waterhof op 1 Oktober 1999 hangende
was, op daardie datum onafgehandel verval het. Dit is wel duidelik uit
bepalings
soos dié in art 35 bevat, dat die Nasionale Waterwet 'n
fundamentele hervorming van ons waterreg teweeg gebring het. Dit
is egter ook
duidelik uit bepalings soos art 4(2) en 34, gelees met art 32, dat beperkte
erkenning verleen word aan bestaande wettige
watergebruik wat kragtens die 1956
Waterwet gemagtig was. Ingevolge art 34(1)(b), gelees met artikels 43-48, kan
'n bestaande wettige
watergebruik voortgesit word totdat dit met 'n lisensie
vervang word indien 'n verantwoordelike gesag vereis dat die persoon wat
op so
'n wettige gebruik aanspraak maak, om 'n lisensie aansoek moet doen. Indien 'n
lisensie uitgereik word, word dit die bron
van die magtiging vir die
watergebruik. Indien die lisensie nie verleen word nie, is die gebruik nie meer
geoorloof nie. Ingevolge
art 35 kan 'n verantwoordelike gesag, ten einde die
wettigheid en omvang van 'n bestaande watergebruik te bevestig, van 'n persoon
wat op daardie watergebruik aanspraak maak, vereis om om bevestiging van daardie
watergebruik aansoek te doen.
Vanweë die beperkte erkenning in die
Nasionale Waterwet aan bestaande wettige watergebruik is 'n vasstelling van die
huidige
partye se wettige watergebruik soos op 1 Oktober 1999 gevolglik nie
irrelevant of onbestaanbaar met die nuwe bestel nie. Ek kan
geen aanduiding in
art 35 of elders in die Nasionale Waterwet vind van 'n bedoeling dat hangende
gedinge op daardie dag sou verval
nie. Die feit dat die Waterhowe afgeskaf is,
is nog geen aanduiding van 'n bedoeling dat die Waterhowe nie hul werk moes
voltooi
en hangende gedinge afhandel en beslis nie (vgl Minister of Public
Works v Haffejee NO 1996(3) SA 745(A) op 754 C-E). Om van gedingvoerende
partye te verwag dat hulle van nuuts af in 'n ander forum moes litigeer, sou
sulke absurde en onbillike gevolge hê dat dit nooit die bedoeling van die
Wetgewer kon gewees het nie. Gevolglik is ek van
mening dat die Waterhof by
magte was om die hangende gedinge af te handel en te beslis en is die aansoek
om 'n verklarende bevel
tereg afgewys.
Ek behandel vervolgens die
appèl teen die afwysing van die punt in limine deur die Waterhof.
Ek sal veronderstel dat die betrokke beslissing wel appelleerbaar is.
Soos ek
voorheen daarop gewys het, was die grondslag vir die appellante se beswaar in
die Hof a quo dat 'n besproeiingsraad ingevolge die 1956 Waterwet nie
bevoeg was om in 'n geskil wat wesenlik oor die aard van die betrokke waterbron
gegaan het, naamlik of dit privaat- of openbare water was, 'n
skikkingsooreenkoms aan te gaan nie tensy dit eers bewys is dat dit
openbare
water is. Voor ons is namens die appellant betoog dat die tweede, derde en
twaalfde respondente in elk geval nie die bevoegdheid
gehad het om die
skikkingsooreenkoms aan te gaan nie selfs al sou aanvaar word dat die betrokke
waterbron openbare water was.
Besproeiingsrade is deur art 79 van die 1956
Waterwet ingestel. Hulle is met regspersoonlikheid beklee deur art 79(2) wat
aan hulle
die nodige locus standi in judicio gegee het om in
hofverrigtinge op te tree en aan hulle die insidentele bevoegdheid verleen het
om alle handelinge te verrig wat vir
die uitvoering van hul pligte of die
verrigting van hul werksaamhede nodig is of daarmee in verband staan. Ingevolge
art 89 kon
die Minister by kennisgewing in die Staatskoerant en skriftelike
kennisgewing aan 'n besproeiingsraad sekere werksaamhede, bevoegdhede
of pligte
aan die raad toewys ten opsigte van openbare water. Dit is nie in geskil nie
dat tweede en derde respondente te alle relevante
tye onder andere die
bevoegdheid gehad het om die waterbronne van die Hexrivier te beskerm (art
89(1)(a)); om die onwettige uitneem
of opgaring van openbare water of
ondergrondse openbare water van die Hexrivier te voorkom of om enige
wederregtelike handeling te
verhoed wat bereken was om die hoeveelheid water in
enige gedeelte van die Hexrivier te verminder (art 89(1)(d)); en om die
distribusie
en gebruik van die Hexrivier se water te reël (art
89(1)(g)).
In die huidige saak was dit deurgans die respondente se
houding dat die appellante wederregtelik openbare water van die Hexriver uit
die
pompgat onttrek. Tweede en derde respondente was gevolglik bevoeg om, in die
uitvoering van hul pligte, 'n regsgeding in te
stel teen die appellante ten
einde sodanige onwettige onttrekking te voorkom en te verhoed dat die openbare
water van die Hexrivier
daardeur verminder word. Vanweë die aard van die
dispuut moes die respondente in die eerste plek bewys dat die water wat onttrek
word, openbare water is. Indien die Waterhof sou bevind dat die water privaat
water is en die geding gevolglik misluk, sou sekerlik
nie aangevoer kon word dat
die tweede en derde respondente hul bevoegdheid oorskry het deurdat hulle
inderdaad nie gemagtig was om
die geding in te stel nie. Die instelling van
die geding was by noodwendige implikasie 'n handeling wat vir die uitvoering van
hul pligte of die verrigting van hul werksaamhede nodig was of daarmee in
verband gestaan het, binne die omvang van daardie woorde
in art 79(2).
Dieselfde geld, na my mening, vir die aangaan van die
skikkingsooreenkoms.
Namens die appellante is betoog dat die tweede, derde en
twaalfde respondente nie gemagtig was om die skikkingsooreenkoms te sluit
nie
omdat 'n besproeiingsraad self geen regte op die gebruik van openbare water
gehad het nie en sy funksies bloot administratief
en toesighoudend van aard was.
Gevolglik, aldus die betoog, kon 'n geskil oor waterregte alleen deur die
reghebbendes onderling geskik
word of deur die besproeiingsraad met hul
spesifieke magtiging, wat nie hier die geval was nie. Hierdie betoog berus op
'n wanopvatting
van die skikkingsooreenkoms. Op 'n behoorlike uitleg daarvan
was dit niks meer as 'n onderneming deur die drie besproeiingsrade
(die tweede,
derde en twaalfde respondente) om nie beswaar te maak teen die verlening van die
betrokke permit vir die besproeiing
van 27 ha nie. In ruil vir hierdie
onderneming het die appellante afstand gedoen van enige aanspraak op meer
openbare water uit
die Hexrivier as wat vir die besproeiing van 27 ha nodig was.
Geen ander oewerregte was geraak deur die skikkingsooreenkoms nie en,
soos ek
reeds daarop gewys het, is uitdruklik bepaal dat die besproeiingsrade se
onderneming nie 'n afstanddoening beteken van die
reghebbendes se regte op die
water van die Hexrivier nie. Geen oewereienaars, behalwe die appellante, was
partye tot die skikkingsooreenkoms
nie en hul regte was geensins daardeur geraak
nie. Deur die skikkingsooreenkoms te sluit het die tweede, derde en twaalfde
respondente
geen regte verkry of 'n geskil tussen reghebbendes oor waterregte
geskik nie maar bloot 'n handeling verrig wat vir die uitvoering
van hul pligte
op die verrigtinge van hul werksaamhede nodig was of daarmee in verband gestaan
het. Die punt in limine is gevolglik tereg teen die appellante
beslis.
Beide appelle word met koste afgewys.
W VIVIER
AR.
HARMS AR)
SCHUTZ AR)
STREICHER AR)
MELUNSKY WND AR)
STEM SAAM