![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer : 71/2000
In die saak tussen :
CIBA-GEIGY (EDMS) BPK Appellant
en
LUSHOF PLASE (EDMS) BPK
Eerste Respondent
ALBIE VAN STADEN Tweede
Respondent
CORAM : Nienaber, Harms, Schutz, Mpati ARR en Conradie Wnd AR
DATUM : 1 & 2 November
2001
GELEWER : 29 November 2001
Opsomming:
Onkruiddoder - skadelike newewerking vir peerbome - boer spreek
handelaar-verkoper asook vervaardiger onderskeidelik kontraktueel
en deliktueel
aan - aanspreeklikheid van elk - vervaardiger se aanspreeklikheid teenoor
handelaar op grond van 'n indemniteit as
'n beding ten behoewe van derde -
appèl teen weiering van aansoek deur verhoorhof om pleit te wysig deur op
'n laat stadium
'n nuwe verweer te opper - spesiale
kostebevel.
___________________________________________________________
UITSPRAAK
___________________________________________________________
NIENABER AR en CONRADIE Wnd AR/
NIENABER AR en CONRADIE Wnd AR:
Aanloop
[1] Die appellant is die vervaardiger, die tweede respondent die handelaar-verkoper en die eerste respondent die koper van 'n onkruiddoder genaamd Folar 525 SC. Die koper, 'n grootskaalse kommersiële vrugteboer van Prince Alfred Hamlet, in die Warm Bokkeveld naby Ceres, beweer dat dié middel wat hy met die oog op onkruidbestryding gedurende September-Oktober 1994 op aanbeveling van die verkoper van laasgenoemde aangekoop en op die peerboorde op sy plaas, Lushof, gespuit het, fisiese skade aan sy bome en aldus ekonomiese skade by wyse van oesverliese aan hom berokken het. Vandaar sy eis om skadevergoeding ten bedrae van R932 054 wat hy in die Kaapse Provinsiale Afdeling teen sy verkoper as eerste verweerder (op grond van 'n verbreking van die gemeenregtelike waarborg teen verborge gebreke) en teen die vervaardiger as tweede verweerder (op grond van delik) aanhangig gemaak het. Op sy beurt het die verkoper 'n derde party-kennisgewing aan die vervaardiger gerig waarin hy laasgenoemde op grond van 'n indemniteit, alternatiewelik, delik aanspreeklik hou vir enige skadevergoeding waarvoor hy teenoor die koper blootstaan. Bewys van die omvang van die skade is by ooreenkoms tussen die partye en ooreenkomstig 'n bevel van die verhoorhof voorlopig agterweë gehou. Die hof a quo (Brand R) handhaaf ‘in beginsel’ sowel die koper se eise teen beide verweerders gesamentlik en afsonderlik as die verkoper se ondergeskikte eis teen die vervaardiger. In laaste instansie trek die vervaardiger dus aan die kortste end. Vandaar sy appèl wat hy met verlof wat op aansoek aan hom verleen is teen die ander twee partye aanhangig gemaak het. Na die appellant (die tweede verweerder) verwys ons voortaan gerieflikheidshalwe as ‘Ciba’, na die eerste respondent (die eiser) as ‘Lushof Plase’ en na die tweede respondent (die eerste verweerder) as ‘Van Staden’.
[2] Ciba, voorheen bekend as Ciba-Geigy (Edms) Bpk, tans as Novartis South Africa (Edms) Bpk, is lid van 'n wêreldwye groep vervaardigers en verspreiders van 'n verskeidenheid chemiese middels, die hoofkantoor van die moedermaatskappy waarvan in Basel, Switserland, geleë is. Een van die middels wat die groep ontwikkel het en wat Ciba ingevolge die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels 36 van 1947 gedurende 1993 op kernvrugte in Suid-Afrika geregistreer het, was Folar 525 SC (‘Folar’). In die voubiljet wat die produk vergesel, word Folar beskryf as
‘'n Suspensie-konsentraat onkruiddoder vir nie-selektiewe na-opkom beheer van 'n breë spektrum eenjarige onkruide en met residuele breëblaar aktiwiteit indien toegedien as 'n gerigte bespuiting op appels, pere, Eucalyptus plantasies, sitrus en wingerd’
Die aktiewe bestanddele is glifosaat 180 g/l en terbutielasien 345 g/l. In die ‘opleidingsmodule’ wat deur Ciba uitgereik is, word die ‘werkingswyse’ van die middel soos volg beskryf:
‘terbutielasien:
Opname deur wortels en blare.
Xileemvervoer na plek van aksie. Fotosintese van vatbare plante word
geblokkeer’;
en glifosaat:
‘Opname deur groen bas en blare. Sterk afwaartse vervoer na ondergrondse plantdele. Verskaf aanvanklike na-opkoms aksie. Simptome van beheer eers sigbaar vanaf 7 - 14 dae na toediening.’
[3] In dieselfde dokument word die ‘gewasveiligheid’ van die middel ook sterk beklemtoon. Van fitotoksisiteit, oftewel die vergiftiging van die landbougewas self (in teenstelling met die onkruid), word gesê:
‘Folar’ 525 SC kan op die volgende gewasse met veiligheid gebruik word as 'n gerigte bespuiting vanaf een jaar na uitplant:
appels
pere
sitrus
wingerd’
en voorts:
‘Navorsing dui daarop dat terbutielasien selektief is op die gewasse soos geregistreer’;
en
‘Folar’ kan met gerustheid herhaaldelik gebruik
word’;
en
‘Gemoedsrus dat gewasse nie beskadig sal word
nie.’
[4] In sy uitspraak verstrek die hof a quo die volgende beskrywing:
‘[40] Die Terbutielasien is 'n chemiese molekule wat reeds lankal geskep is en ook lank reeds suksesvol as onkruiddoder in gewasse anders as sagtevrugte en in die besonder by grasagtige gewasse, soos mielies en suikerriet, aangewend en in terme van Wet 36 van 1947 geregistreer is. Soos reeds genoem, is dit egter in 1993 vir die eerste maal vir gebruik in sagtevrugteboorde geregistreer.
[41] Onkruiddoders word aangewend en geregistreer vir spesifieke gewasse en teen spesifieke onkruide. Anders gestel, bepaalde onkruiddoders is effektief slegs ten aansien van bepaalde onkruide en dit is 'n erkende feit dat 'n bepaalde onkruiddoder vir sommige landbougewasse onskadelik is maar fitotoksies vir ander. Die term wat in laasgenoemde verband gebruik word is selektiwiteit. Daar bestaan verskillede tipes selektiwiteit. Die twee tipes wat hierin ter sprake gekom het was plasingselektiwiteit en biochemiese selektiwiteit. Van biochemiese selektiwiteit word gepraat wanneer die bepaalde landbougewas in staat is om die betrokke onkruiddoder sistemies op te neem en dit dan metabolies te vernietig sodat dit veilig is om die middel op daardie landbougewasse aan te wend.’
[5] Folar is nie aanvanklik in Suid-Afrika ten opsigte van onder
meer pere geregistreer en aangewend nie. Volgens Hugo, 'n amptenaar
van Ciba
wat grotendeels met die registrasie van die middel vir sagte vrugte in
Suid-Afrika gemoeid was, was daar egter ook ten opsigte
van kernvrugte, soos
appels en pere, 'n aanvraag en na 'n aanvanklike mislukte poging tot registrasie
het dit uiteindelik in 1993
geskied.
[6] Ciba het die produk onmiddellik
begin bemark, onder meer met behulp van Van Staden. Van Staden was sedert 1987
'n werknemer van
Ciba, maar sy status het vroeg in 1993 verander toe Ciba van
onafhanklike verspreiders gebruik begin maak het. Een van hulle was
'n
onderneming, destyds bekend as Landbouchemiese Verspreiders BK (hierna
‘LCV’ genoem), met wie Ciba 'n sogenaamde ‘distribution
agreement’ aangegaan het. LCV het op sy beurt 'n soortgelyke ooreenkoms
met Van Staden aangegaan. Die aanhef tot die ooreenkoms
tussen Ciba en LCV lui
onder meer:
‘A. Ciba has the right, under licence granted by Ciba-Geigy Limited, Basle, Switzerland, to formulate, pack, sell and distribute and use certain agricultural chemicals patented by Ciba-Geigy Limited in Southern Africa.
B. Ciba wishes to appoint the Distributor to
distribute the agricultural chemicals in the territory as the agent of Ciba and
on the
terms defined hereafter.
C. The Distributor is prepared to sell and
distribute the said agricultural chemicals in the said terms.’
Van
belang is ook die volgende klousules:
‘2.2 The Distributor [LCV] is not entitled to appoint any sub-agent or sub-distributor for the distribution or promotion of any of the Products in the Territory or elsewhere, without the written consent of Ciba which shall not unreasonably be withheld, or to sell, distribute and promote any of the Products outside the Territory.
2.3 The relationship of the
Distributor to Ciba shall be that of an independent contractor engaged in the
distribution of the Products
to third parties in the Territory. As an
independent contractor, the Distributor and its employees are not the legal
representatives
of Ciba for any purpose and have no power or authority to bind
or commit Ciba.
2.4 ...
2.5 Ciba shall be entitled, if it should deem
necessary, ... to appoint other agents and/or distributors to sell the Products
in the
Territory on its behalf.’
[7] Van Staden is deur LCV as een
van sy sub-verspreiders aangestel. 'n ‘Verspreidingsooreenkoms’ is
op 12 Mei 1993 tussen
LCV en Van Staden aangegaan. Met sommige van die ander
bepalings van hierdie ooreenkoms word later in hierdie uitspraak in meer
besonderhede gehandel. Op hierdie stadium word klem net op die volgende
gelê:
‘Manufacturer’ word gedefinieer as:
‘... Ciba-Geigy (Proprietary) Limited or any other agricultural manufacturer or formulator of the Products starting from or containing the approved active substances of the Products and includes filling the manufacturer’s Product into suitable containers’.
Net soos in die ander ooreenkoms bepaal
klousules 2.1 en 2.3 onder meer:
‘2.1 LCV grants the Distributor [Van Staden] the right to distribute and promote the Products in the Territory on an exclusive basis subject to the terms and conditions of this agreement and the Schedules hereto.
2.2 ...
2.3 The relationship of the
Distributor to LCV shall be that of an independent contractor engaged in the
distribution of the Products
to third parties in the Territory. As an
independent contractor, the Distributor and its employees are not the legal
representatives
of LCV for any purpose and have no power or authority to bind or
commit LCV.’
(Tydens die verhoor is daar betoog dat Van Staden
ondanks gemelde bepalings as Ciba se ‘verteenwoordiger’ in egte sin
gehandel het toe hy die Folar gedurende September/Oktober 1984 aan Lushof Plase
verkoop het, maar dié betoog is tereg deur
die verhoorhof verwerp en geen
appèl is teen dié bevinding deur óf Lushof Plase óf
Van Staden geloods
nie.)
[8] Van Staden wat reeds sedert 1988 gereeld met
Lushof Plase geskakel het, het die Folar sterk by De Clercq, Lushof Plase se
algemene
bestuurder, aanbeveel. De Clercq het aanvanklik teenoor die nuwe
produk skepties gestaan. Hiervan sê die hof a quo:
‘[9] ... Na registrasie van Folar vir gebruik op pere het Van Staden met De Clercq gereël dat demonstrasieproewe met die middel op Lushof gespuit word. Die proefspuite is gedoen in November 1993 en weer in Maart 1994 in 'n boord op Lushof bekend as boord 14.
[10] Na die proewe was almal
baie beïndruk met die effektiwiteit van Folar. Dit het duidelik die
onkruid baie goed beheer.
Nietemin was De Clercq nie geneë om Folar op
groot skaal aan te wend nie. Hy het geweet dat een van die aktiewe bestanddele
in Folar Terbutielasien is, wat behoort tot die Triasiene-groep van
onkruiddoders. De Clercq was bekend met 'n ander lid van die
Triasiene-groep,
Simasien. Omdat hy geglo het dat Simasien peerbome benadeel, het hy nie
bogenoemde middel op peerbome gebruik nie.
Volgens De Clercq, wat namens eiser
as getuie geroep is, is hy egter deur Van Staden meegedeel dat Folar baie
veiliger as Simasien
is en het hy ook aan De Clercq 'n tegniese verduideliking
gegee oor waarom dit so is. Gevolglik is De Clercq op die ou end deur
Van
Staden oorreed om al die peerboorde op Lushof, behalwe boord 23 en 'n gedeelte
van boord 17, met Folar te bespuit.
[11] Die fakture wat op eiser se aankope
van Folar betrekking het, strek oor die tydperk 12 September 1994 tot 18 Oktober
1994. Gevolglik
was al die partye bereid om te aanvaar dat die toediening van
Folar kort na 12 September 1994 begin het en 'n paar dae na 18 Oktober
1994
opgehou het. Volgens De Clercq het hy toe op 'n later stadium simptome by die
bespuite peerbome waargeneem wat vir hom daarop
gedui het dat alles nie pluis
was nie. Hy is nie presies seker wanneer hy die simptome vir die eerste maal
waargeneem het nie.
Hy sê die simptome het geleidelik verskyn en
vererger. Sy skatting is egter dat hy so teen die einde van November begin
Desember
werklik van die onrusbarende simptome bewus geraak het. Nadat De
Clercq hierdie waarnemings gemaak het, het hy vir Graaff [die aandeelhouer
van
Lushof Plase] laat weet en die hulp van dese en gene ingeroep. Onder meer is
Van Staden na die plaas ontbied en het 'n deskundige
hortoloog van Ceres Fruit
Growers, Mnr Gert Marais - wat as deskundige getuie namens eiser geroep is - ook
op die plaas aangedoen.
Marais het die mening uitgespreek dat simptome
sogenaamde Triasien-simptome is, oftewel dat dit deur die Terbutielasien in die
Folar
veroorsaak is. Die verteenwoordigers van Ciba wat ook op die plaas
aangedoen het, het egter ontken dat die simptome die gevolge
van die bespuiting
met Folar kon wees.
[12] Soos wat die seisoen aangegaan het, sê De
Clercq, het die simptome gaandeweg vererger. Uiteindelik het die bome groot
gedeeltes van hulle blare afgegooi. In sommige van die jonger boorde is al die
vrugte afgepluk om die bome 'n beter kans op oorlewing
te gee. In blokke 31 tot
38 - waar slegs jong bome was - moes van die bome vervang word. Ander van die
jong bome wat dit oorleef
het, se groei is duidelik geïnhibeer. Eiser se
saak is dan dat hy in die eerste plek skade gely het weens die skade wat deur
Folar aan die jong bome aangerig is. Daarbenewens, voer Eiser aan, het hy weens
beskadiging van die produserende bome 'n oesverlies
gely in die 1994/1995
seisoen.’
[9] Dagvaarding is in Januarie 1997 deur Lushof Plase
teen Van Staden as eerste verweerder en teen Ciba as tweede verweerder
uitgereik.
Daarna het Van Staden, soos reeds gemeld, vir Ciba as derde party in
die geding tussen hom en Lushof Plase betrek. Die ellelange
verhoor wat op 8
Junie 1998 'n aanvang geneem en om en by veertig dae geduur het, het by tye wye
draaie geloop waartydens talle verwere
deur Ciba geopper en weer laat vaar is.
In die loop daarvan het die verhoorhof verskeie orde-beslissings gemaak waaroor
Ciba beswaard
voel. So byvoorbeeld is 'n aansoek van Ciba om sy pleit op 'n
laat stadium, nadat Lushof Plase reeds sy saak gesluit het, te wysig
ten einde
hom op 'n nuwe verweer te beroep (as sou 'n oordosis Folar op die lande
toegedien gewees het), van die hand gewys. Ook
is Ciba nie toegelaat om
getuienis te lei van beweerde internasionale proewe wat ten opsigte van Folar
uitgevoer is en waarvan daar
nie ooreenkomstig die Hofreëls behoorlik
kennis gegee is nie. Ook teen hierdie beslissings, soos teen die uiteindelike
bevel
wat gemaak is, word beswaar gemaak.
[10] Daardie bevel lui onder meer
soos volg:
‘(a) Dit word verklaar dat eerste en tweede verweerders gesamentlik en afsonderlik teenoor eiser aanspreeklik is vir die skade wat die bespuiting met Folar van eiser se peerboorde op Lushof Plase - beide in die vorm van oesverlies en die beskadiging van jong bome - tot gevolg gehad het.
(b) Eerste en tweede verweerders word
gesamentlik en afsonderlik gelas om eiser se gedingskoste van die verhoor op die
meriete te
betaal.
(c) Die kostebevel in terme van paragraaf (b) sal die
volgende deskundige getuies se kwalifiserende fooie insluit: ...
(d) Dit word
verklaar dat tweede verweerder aanspreeklik is om eerste verweerder te
indemnifiseer vir enige bedrag (insluitende gedingskoste)
waarvoor eerste
verweerder deur eiser aanspreeklik gehou word.
(e) Tweede verweerder word
gelas om eerste verweerder se gedingskoste van die verhoor op die meriete te
betaal.
(f) ...’
Simptome, skade en
oorsaak
[11] Alvorens daar na die onderskeie eisoorsake gekyk word, is
dit nodig om te bepaal of die verhoorhof reg was in sy siening dat
Lushof Plase
skade gely het en dat sodanige skade aan die toediening van Folar te wyte was.
[12] Twee skadekategorië is uiteindelik deur Lushof Plase beweer. Die eerste is die beskadiging van jong bome deur die toediening van Folar met 'n gevolglike oesverlies in die 1994/5 seisoen. (Onder jong word verstaan bome wat ouer is as een jaar maar wat nog nie volwassenheid bereik het nie.) Hiervan sê die hof a quo:
‘Tydens argument was die regsverteenwoordigers van die partye dit egter met mekaar eens dat ek gevra word om 'n beslissing met verwysing na elkeen van die kategorieë te maak. Vervolgens poog ek om aan dié versoek te voldoen.’
Tydens argument voor hierdie hof is
dié bewering namens Ciba bevraagteken maar namens Lushof Plase bevestig.
Geen verdere
gronde is deur enige van die partye aangevoer waarop gesê kan
word dat die verhoorhof in dié opsig fouteer het nie.
Bowendien is
Lushof Plase se getuienis (dat 'n aansienlike aantal jong bome wel gevrek het en
vervang moes word en dat van die
ander jong bome se groei vertraag is sodat
Lushof Plase langer sou moes wag om 'n opbrengs van hulle te verkry) ook nie
weerlê
nie. Daar was dus fisiese skade.
[13] Die tweede kategorie geld
die verminderde produksievermoë van die ouer bome. Die getuienis van
Bezuidenhout, 'n dataverwerker
by Ceres Fruitgrowers, was dat dié
instansie noukeurige statistieke byhou waarin elke lid se produksiesyfers
voorkom. Die
tonnemaat per hektaar vir elke afsonderlike kultivar word
weergegee. Grafieke is met betrekking tot vyf van die belangrikste kultivars
wat op Lushof Plase, op plase in die distrik Prins Alfred Hamlet, asook op plase
in die hele Warm Bokkeveldgebied, verbou word, voorberei.
Hulle toon stygings
en dalings in produksiesyfers oor die jare 1990 tot 1997. Namens Ciba is nie
aangevoer dat die syfers nie betroubaar
was, of dat die statistieke wat Strydom
namens Ciba voorberei het bo dié van Bezuidenhout te verkies was nie. Die
verhoorregter
het Bezuidenhout se ontledings aanvaar. Aan die hand daarvan is
dit duidelik dat daar in die 1994/5 seisoen dramatiese oesafnames
op Lushof was
wat nie op buurplase of elders in die omgewing ondervind is nie. Daar was dus
wat albei kategorië betref, skade.
Dat die jong bome deur Folar beskadig
was, is uiteindelik nie betwis nie. Die oorblywende vraag is of oesverliese aan
die toediening
van Folar toegeskryf kan word.
[14] Ciba het 'n deug in
terbutielasien gesien wat nie aan ander triasienes eie is nie. Terbutielasien,
so is bevind, loog minder
as die ander. Dit beteken dat dit minder geredelik as
ander triasienes deur water die grond ingedra word. Daarvoor is daar twee
redes. Terbutielasien is minder wateroplosbaar en adsorbeer buitendien sterker
aan gronddeeltjies, aan organiese material in die
besonder. Baie van die
terbutielasienmolekules bly aan gronddeeltjies in die boonste grondlae vassit,
en dit wat oorbly, los nie
so maklik in reën- of besproeiingswater op nie.
Watter hoeveelheid terbutielasien ook al die peerboomwortels bereik, so is
geglo, sou dus nie voldoende wees om die boom enige skade te berokken nie.
Hierdie verskynsel, soos vroeër gesê, staan
as plasingselektiwiteit
bekend. Plasingselektiwiteit se doeltreffendheid hang daarvan af dat soveel
moontlik onkruiddoder van die
wortels van die gewasplant (wat dieper as twee of
drie sentimeter onder die oppervlakte lê) weggehou word, en beskikbaar
gestel
word vir opname deur die wortels van onkruide wat oor die algemeen binne
die boonste paar sentimeter voorkom.
[15] Terbutielasien is egter so 'n
aggressiewe onkruiddoder dat selfs die klein hoeveelhede daarvan wat die wortels
van gewasplante
bereik, genoeg sou wees om skade aan daardie plante te verrig,
as dit nie vir 'n ander verskynsel was wat as biologiese selektiwiteit
bekend
staan nie. Sommige gewasplante is in staat om klein hoeveelhede terbutielasien
te metaboliseer. Die plant breek die onkruiddoder
af. Mits die hoeveelheid wat
die plant opneem nie sy toleransiedrempel oorskry nie, kom die plant niks oor
nie. Die vermoë
om terbutielasien af te breek varieer van spesie na
spesie, van variëteit na variëteit en selfs van boom na boom.
Individuele
variasie kom voor omdat die fisiologiese toleransie van 'n andersins
weerstandige plant geknou kan word deur voedingstekorte, byvoorbeeld
'n gebrek
aan spoorelemente. Dit blyk uit die getuienis dat selfs in dieselfde boord wat
op dieselfde tipe grond gevestig is, sommige
bome beter as ander presteer.
Dié wat beter groei het 'n hoër detoksifikasiedrempel en kan
derhalwe fitotoksisiteit
makliker weerstaan.
[16] Hoe groter die vatbaarheid
van 'n gewasplant vir terbutielasien is, hoe belangriker is dit om die produk
van die wortels weg
te hou. Die twee veiligheidsmeganismes is dus
interafhanklik. Albei is vir die beskerming van die gewasplant noodsaaklik,
veral
omdat die doeltreffendheid van albei onder veldtoestande kan varieer.
Plasingselektiwiteit is of meer of minder doeltreffend na gelang
van die klei-
en organiese materiaalinhoud van die grond, die vogvlakke, die pH van die grond,
en selfs die kwaliteit van die water
wat vir bespuiting gebruik word. Daar is
bowendien ander veranderlikes. Die diepte van die hoofvoedingswortels van die
gewasplant
is van deurslaggewende belang: dit bepaal naamlik hoeveel van die
terbutielasien deur die plant opgeneem sal word. Peerbome groei
goed in
marginale gronde, maar dan is hulle wortelstelsels merkwaardig vlak. In dieper
grond lê die wortels dieper.
[17] Nie al die duisende peerbome op
Lushof is in dieselfde mate aangetas nie. Sommige het erger simptome as ander
getoon. Terbutielasientoksisiteit
manifesteer deur 'n aanvanklike vergeling van
die blaarrand gevolg deur tussennerfse vergeling en, in ernstige gevalle, deur
nekrose
van die blaar. Die simptome kom voor omdat terbutielasien die
fotosinteseproses in die blaar inhibeer en uiteindelik die chloroplaste
wat
chlorofiel vervaardig, vernietig. As dit gebeur, verhonger die plant omdat hy
nie langer koolhidrate kan vervaardig nie. Ter
illustrasie kan ons meld dat 'n
wisselwerking van grondgeaardheid en vog bepaal hoeveel terbutielasien deur die
wortels opgeneem
word. 'n Swak transpirasiestroom - byvoorbeeld op 'n koue dag
- sal die boom meer tyd gee om die opgeneemde terbutielasien af te
breek; 'n
sterk transpirasiestroom sou die teenoorgestelde uitwerking hê en, les
bes, sal die gesondheidstatus van die boom
bepaal of hy genoeg ensieme afskei om
terbutielasien in die blare te vernietig sonder dat dit skade aanrig.
[18] As
al die onderskeie faktore wat absorpsie deur die wortels bepaal en al die
faktore wat die boom se vermoë om die opgeneemde
hoeveelheid te verwerk, in
ag geneem word, is dit dus duidelik dat daar 'n oneindige aantal risikoprofiele
is. Hierop kom ons later
terug.
[19] Vir die eerste elf dae van die verhoor
in die hof benede het Ciba ten ene male ontken dat die simptome wat op die blare
van volwasse
peerbome en aan die groeiwyse van jong bome opgemerk is, deur Folar
veroorsaak is. Op die dag waarop die verhoor na die winterreses
hervat is,
wysig Ciba sy verweerskrif ten einde 'n erkenning te pleit dat die aanwending
van Folar waarskynlik die fotosinteseproses
in die blare van die peerbome
inhibeer het. Hy ontken nogtans dat die inhibering van hierdie proses tot
verwronge groei in jonger
bome of oesverliese in ouer bome aanleiding gegee het.
In sy nadere besonderhede tot die gewysigde pleit verduidelik Ciba dat, alhoewel
inhibering van die fotosinteseproses wel in beginsel skade aan jong bome
en oesverlies by ouer bome kan veroorsaak, dit in hierdie besondere geval nie
gebeur het nie. Terselfdertyd
word bewerings in die pleit geskrap as sou skade
wat Lushof Plase gely het die gevolg gewees het van die toediening van Folar in
stryd met sekere etiketvoorwaardes. Daar was dus op die pleitstukke geen sprake
meer van 'n wanaanwending van die middel nie, behalwe
dat volhard is met die
bewering dat Folar, in stryd met die etiketvoorwaardes, op bome aangewend is wat
jonger as een jaar na oorplanting
was. (Ook hierdie bewering is mettertyd laat
vaar.)
[20] Ciba se erkennings het hom met die dilemma gelaat dat daar 'n
verklaring, anders as oesskade as gevolg van fitotoksisiteit, vir
die
onteenseglike oesafname in die 1994/95 oesseisoen gevind moes word.
[21] In
dié verband is daar gesteun op getuienis van Ciba se deskundiges dat
sigbare triasiensimptome aan gewasplante kan voorkom
sonder dat produksieskade
noodwendig daarop volg. Hierdie gevolgtrekking is nie deur Lushof Plase se
deskundiges betwis nie. Hulle
standpunt was dat die waarskynlikheid van
oesskade afhang van die stadium van die boom se ontwikkeling op die tydstip
waarop die
middel toegedien word en natuurlik van die graad van vergiftiging van
die gewas. Indien daar vry ernstige simptome en bowendien
bewese skade is, is
mens prima facie geregtig om aan te neem dat die onkruiddoder die skade
veroorsaak het. Hulle het egter verder gegaan en 'n waarskynlike meganisme
vir
die oesverlies aan die hand gedoen.
[22] 'n Peerboom het die eienaardigheid
dat hy geneig is om in die tydperk van veertig tot vyftig dae na volblomstadium
'n beduidende
aantal van die embrioniese vruggies aan die boom af te gooi. Dit
is die natuur se manier om te bepaal hoeveel van sy vruggies die
boom daardie
seisoen sal kan grootmaak. Die ‘bepaling’ word gedoen aan die hand
van stresfaktore soos voedings- of vogtekorte
wat gedurende daardie tyd
teenwoordig is. Dit is dus by uitstek die tyd dat 'n peerboom besonder vatbaar
is vir stres en hewiger
as onder ander omstandighede op stresfaktore
reageer.
[23] Terbutielasien, soos trouens die ander triasienes, beskadig 'n
plant deur die fotosinteseproses in die blare te inhibeer. Die
inhibering van
fotosintese het die neiging om die gewas se energiereserwes uit te put en
sodoende sy gesondheidstatus te benadeel.
Dit is wat die stres veroorsaak. Dit
is gemene saak dat Folar binne die veertig tot vyftig dae -tydperk toegedien is.
Dit is ook
gemene saak dat 'n peerboom gedurende hierdie kritieke tyd so vatbaar
is vir stres dat 'n verhoogde vrugteval, selfs sonder fitotoksisiteitsimptome,
nie vreemd sou wees nie. Dit was nie onder die kundiges aan beide kante in
geskil dat die toediening van die Folar tot verhoogde
afspening van vruggies
aanleiding kon gegee het nie. Die geskil was of dit wel gebeur het.
[24] Dit was vroeg in die seisoen reeds opmerklik dat daar met die oes iets
fout was. Namens Ciba is die getuienis dat daar minder
as die verwagte aantal
peertjies aan die bome was, nie bevraagteken nie. Wat wel bevraagteken is, is
of hierdie afname in getalle
aan 'n verhoogde vrugteval te wyte was. Nóg
De Clercq nóg Langenhoven, die boordbestuurder, het gedurende November
1994 enige tekens van so 'n buitengewone vrugteval onder die bome opgemerk. Na
ons mening val dit nie vreemd op nie. Die vruggies
was op daardie stadium baie
klein en hulle getalle sou nie maklik op die ongelyke oppervlakte van die boorde
geskat kon word nie.
Miljoene vruggies word elke jaar in die Lushofboorde
afgespeen. Dit is nie moontlik om deur toevallige waarneming vas te stel of
daar 'n paar miljoen meer of minder op die grond lê nie. So iets sou
moontlik by noukeurige ondersoek bepaal kon word, maar
daar was op die stadium
van die vrugteval geen rede om 'n verhoogde vrugteval te vermoed nie.
[25] Nietemin is daar namens Ciba betoog dat die versuim van die twee
bestuurders om meer afgespeende vruggies as wat verwag sou word
op die grond
waar te neem, nie daarop dui dat die vruggies nie afgeval het nie maar eerder
dat hulle nooit gevorm was nie. Vir hierdie
betoog is gesteun op die verskynsel
van ‘alternatiewe drag’.
[26] Die November-val is nie 'n
peerboom se enigste eienaardige eienskap nie. 'n Verdere kenmerk is dat die
aantal vrugte wat dit
in 'n betrokke seisoen dra, in die breë gesproke
reeds grotendeels in die vorige seisoen bepaal word. Hoe meer vrugte die boom
in
die vorige seisoen dra, hoe kleiner is die drag in die daaropvolgende seisoen.
Dit is so omdat die aantal knoppe wat in reproduktiewe
organe (in teenstelling
met vegetatiewe organe) ontwikkel deur die aantal sade in die vorige seisoen
bepaal word. Hulle skei 'n
hormoon af wat die vorming van reproduktiewe knoppe
inhibeer.
[27] Op 'n goed bestuurde peerplaas word die natuur egter nie
toegelaat om sy gang te gaan nie. Kundige bestuurspraktyke soos snoei
en uitdun
van die bome beperk die effek van hierdie verskynsel. Deur vrugte in die vorige
seisoen van die boom te verwyder (en sodoende
te sorg dat minder sade
uiteindelik gevorm word), word die potensiaal vir blomknopvorming in die
daaropvolgende seisoen verhoog.
[28] Daar is geen aanduiding dat snoei- of
ander bestuurspraktyke voor die 1994/5 seisoen swakker was as in ander jare nie.
Inderdaad
was die onbetwiste getuienis dat dit steeds dieselfde was. Die
seisoenale afwykings vergeleke met vorige jare en ander plase in
die omgewing
was nie naastenby groot genoeg om die drastiese afname in die 1994/5 oes op die
grondslag van alternatiewe drag te verklaar
nie.
[29] Die oorwig van
waarskynlikhede dui derhalwe daarop dat dit die verhoogde November-val was, en
nie alternatiewe drag nie, wat
vir die afname in produksie verantwoordelik was.
Die aansoek om wysiging
[30] Die moontlike oorsake vir die skade het almal een vir een weggeval. Al
suggestie van Ciba se kant wat oorgebly het, was dat
daar 'n oordosis Folar op
die pere toegedien is. As 'n verweer is dit egter nie aanvanklik gepleit nie.
Daar is geen aanduiding
dat Ciba op enige tydstip tydens die ter plaatse
ondersoeke of met die voorbereiding van die pleitstukke, of selfs vir verreweg
die
grootste gedeelte van die verhoor, enige bedenkinge oor die nougesetheid van
die toediening van Folar op Lushof gekoester het nie.
[31] Bedenkinge het
veel later en van die kant van deskundiges gekom wat uit Switserland hierheen
ontbied is om getuienis oor sekere
tegniese aspekte te lewer. Hulle het tot die
gevolgtrekking gekom dat wanneer 'n mens die area wat volgens Van Staden bespuit
is
in die aantal liters Folar indeel wat vir die bespuiting van die Lushofboorde
aangekoop is, dit op 'n dosering van tot dubbel soveel
liter per hektaar uitwerk
as wat voorgeskryf is. Op grond van hierdie berekening het Ciba dus op die
nege-en-twintigste dag van
die verhoor aansoek gedoen om sy pleit te wysig deur
toediening van die middel in stryd met die etiketvoorwaardes as 'n nuwe
strydpunt
te opper.
[32] Sowel Lushof Plase as Van Staden het die aansoek
teëgestaan. Die verhoorregter het dit in die uitoefening van sy diskresie
geweier. Hierdie weiering is een van die bevele wat op appèl aangeveg
word.
[33] Aangesien die weiering om die wysigingsaansoek teë te staan
'n diskresionêre aangeleentheid was, moes Ciba op appèl
aantoon dat
die uitoefening van die verhoorregter se diskresie gebrekkig was. Wat in
dié verband veral in gedrang was, was
of die verhoorhof se bevinding dat
die aansoek nie 'n ‘triable issue’ geopper het nie, korrek
was.
[34] In Trans-Drakensberg Bank Ltd (under judicial management) v
Combined Engineering (Pty) Ltd & Another 1967 (3) SA 632 (D) is op
641A-B gesê:
‘Having already made his case in his pleading, if he wishes to change or add to this, he must explain the reason and show prima facie that he has something deserving of consideration, a triable issue; he cannot be allowed to harass his opponent by an amendment which has no foundation. He cannot place on the record an issue for which he has no supporting evidence, where evidence is required, or, save perhaps in exceptional circumstances, introduce an amendment which would make the pleading excipiable. ...’
Die betrokke uitlating van Caney R word met goedkeuring deur Corbett HR aangehaal in Caxton Ltd and Others v Reeva Forman (Pty) Ltd and Another 1990 (3) SA 547 (A) te 565G-I. Ook die volgende stelling van De Villiers RP in Krogman v Van Reenen 1926 OPD 191 te 195 word daar goedgekeur:
‘...[H]e must show, for instance, that the matter involved in the amendment is of sufficient importance to justify him in putting the Court and the other party to the manifold inconveniences of a postponement ...’
Blykens die aangehaalde dicta kan
‘triable issue’ verstaan word in die sin van:
(a) 'n geskilpunt wat, selfs al sou dit aan die hand van die getuienis wat die applikant in sy aansoek in die vooruitsig stel, bewys word, nie lewensvatbaar of relevant sou wees nie; of
(b) 'n geskilpunt wat op die waarskynlikhede nie deur die getuienis wat aldus in die vooruitsig gestel word, bewys sou wees nie.
In die onderhawige geval bevind die verhoorhof:
‘In hierdie omstandighede was ek nie oortuig dat die nuwe verweer wat verweerder wou introduseer “something worthy of consideration” was nie of, andersom gestel, dat die geskilspunt wat tweede verweerder wou invoer, inderdaad een was waarvoor daar “supporting evidence” bestaan het nie.’
Hieruit wil dit voorkom of die verhoorhof 'n
‘triable issue’ in die tweede sin hierbo vermeld, in gedagte gehad
het.
Die vraag is of hy sy diskresie in dier voege korrek uitgeoefen
het.
[35] Die verhoorregter het die vertraging met die bring van die aansoek
in die lig daarvan betrag dat die beoogde wysiging 'n ingrypende
nuwe verweer
sou invoer (dat daar nie aan die etiketvoorwaardes voldoen is nie) sonder dat
Ciba bereid was om te onthul watter getuienis
'n sleutelgetuie (Langenhoven) in
die verband sou lewer. Hierdie faktore het hy opgeweeg teen die benadeling wat
die vertraging
vir Lushof Plase en Van Staden sou beteken.
[36] Die eerste
aangeleentheid wat 'n aansoeker moet bewys, is dat hy nie met die aansoek getalm
het nadat hy van die bewysmateriaal
waarop hy wil steun, bewus geword het nie.
In casu word aangevoer dat dit eers laat in die verhoor met die
kruisondervraging van Van Staden bekend geword het dat slegs die sogenaamde
‘bankies’ en nie die hele oppervlakte van elke hektaar bespuit is
nie. Hierdie argument kan nie slaag nie. Die ‘bankies’
is 'n
strook weerskante van 'n ry peerbome, waar die meeste van die bome se wortels
voorkom. Dit is die gebied wat die boer onkruidvry
wil hê. In die middel
tussen elke ry bome bly daar 'n strook oor wat nie met onkruiddoder behandel
word nie.
[37] In sy nadere besonderhede op verhoor beweer Lushof Plase dat
die demonstrasie-toets wat in November 1993 op Lushof uitgevoer
is (en op grond
waarvan De Clercq oorreed is om Folar op die boorde te gebruik) gedoen is op
‘die gewone onkruidstand op die
bankies in die peerboorde’ nadat
Lushof Plase geadviseer is ‘om die bankies weerskante van die rye
ooreenkomstig gewone
praktyk te spuit’. Daar is nie deur Ciba aangevoer
dat die demonstrasie nie op hierdie wyse gedoen is of dat dit nie die korrekte
manier van doen was nie.
[38] Die boorde is op presies dieselfde manier
bespuit. Ciba se plaaslike deskundiges moes die opsigtelik onbespuite groen
stroke
tydens hulle ter plaatse ondersoeke gesien het. Dit het hulle
klaarblyklik nie as vreemd opgeval nie. Die waarskynlikste afleiding
hieruit is
dat dit die beproefde manier is waarop vrugteboorde teen onkruid bespuit word en
dat dit die rede was dat die betreklik
eenvoudige berekening waarmee die
Switserse deskundiges later vorendag gekom het (die indeel van die bespuite
oppervlakte in die
aantal liters gebruikte Folar) nie deur die plaaslike
verteenwoordigers gedoen is nie.
[39] Die mees voor die hand liggende oorsaak
van fitotoksisiteit in gewasplante is sekerlik onnoukeurige toediening van 'n
onkruiddoder.
Mens weet dat Ciba so onthuts was deur wat in die Lushofboorde
waargeneem is dat sy ondersoekers, op een na, geweier het om te aanvaar
dat wat
hulle sien fitotoksisiteitsimptome kon wees. Hulle sou nie so seker van hulle
saak kon wees tensy hulle allereers die kwessie
van oordosering as 'n moontlike
oorsaak van fitotoksisiteit uitgeskakel het nie. Daar is dan ook nie tydens die
wysigingsaansoek
aan die hand gedoen dat die kwessie van juiste dosering nooit
deur Ciba se kundiges oorweeg is nie.
[40] Dit is nie asof bewysmiddele
ontbreek het nie. Langenhoven was op daardie stadium deel van Ciba se geledere.
Sy getuienis was
vir Ciba beskikbaar. Hy het destyds beheer oor die bespuiting
uitgeoefen. Van almal sou hy by uitstek bewus gewees het van hoeveel
van die
middel doseer is. As hy enigsins huiwerig was oor die kwessie van oordosering
sou die geskilpunt stellig reeds op daardie
stadium geopper gewees
het.
[41] Na die erkenning op die twaalfde dag van die verhoor dat die bome
wel vergiftig is, sou mens aanvaar dat die moontlikheid van
oordosering as
oorsaak van die fitotosisiteit weer ernstige aandag sou geniet het. Daar was
immers niks anders meer wat Ciba as
verontskuldiging van die simptome kon
aanvoer nie.
[42] Op die stadium toe die nuwe verweer geopper is, was die
sake van beide Lushof Plase en Van Staden reeds gesluit. Albei sou hul
sake
moes heropen en getuies sou teruggeroep moes word om die nuwe bewerings die hoof
te bied. Hoe groter die ontwrigting wat deur
'n wysiging veroorsaak word, hoe
groter word die vergunning wat aangevra word, en, daarmee gepaardgaande, die las
wat op 'n applikant
rus om 'n hof te oorreed om hom tegemoet te
kom.
[43] Alhoewel dit dikwels nie in die geval van 'n vroeëre en minder
ontwrigtende aansoek aangewese is om van 'n applikant te
vereis om aan te dui
hoe hy voornemens is om sy gewysigde saak voortaan te bewys nie, sou 'n
applikant se vooruitsig om op die feite
met 'n nuwe gedingsoorsaak te slaag, in
'n geval soos hierdie weldeeglik 'n element in die uitoefening van 'n hof se
diskresie wees.
[44] In die onderhawige geval is daar, soos reeds gesê,
nege-en-twintig dae na die aanvang van die verhoor 'n ingrypende wysiging
aangevra sonder dat Ciba bereid was om te onthul wat sy getuie, Langenhoven, oor
die onderwerp te sê sou hê. Dit het
per slot van sake nie net oor
die totale hoeveelheid Folar wat gespuit is, gegaan nie, maar ook oor die
kalibrering van die spuitpomp
en die snelheid waarmee die trekker waarop die
pomp gemonteer is, deur die boorde beweeg. Langenhoven het van al hierdie dinge
eerstehandse
kennis gedra. Ons meen nie dat dit 'n onbillike uitoefening van
die verhoorregter se diskresie was om te vereis dat Ciba moes aandui
wat die
vooruitsig was dat die veelbesproke deelsom nie maar net 'n interessante
berekening was nie.
[45] Die aansoekstukke toon voorts dat Lushof Plase en
Van Staden ernstig deur die vertraging met die aanvra van die wysiging benadeel
sou word. Volgens Lushof Plase was dit geen uitgemaakte saak dat al die Folar
wat aangekoop is inderdaad uitgespuit is nie. Dit
gebeur byvoorbeeld dat 'n
nuwe werkspan 'n nuwe houer oopmaak terwyl daar nog gifstof in 'n reeds
oopgemaakte houer oorbly. Die
enigste getuienis oor hoeveel Folar kort na
bespuiting daarvan in die gifstoor oorgebly het, was dié van een van
Lushof Plase
se deskundiges, Hartman. Aangesien dit tóé nie 'n
geskilpunt was nie, het niemand dit nodig gevind om die akkuraatheid
van sy
waarneming of herinnering te ondersoek nie en sy getuienis dat die middel korrek
doseer is, is deur niemand betwyfel nie.
Nadat die gifstoor op Lushof
skoongemaak en ou en halfleë houers ingevolge 'n aansporingskema aan die
Departement van Landbou
vir gratis vernietiging oorhandig is, het fisiese
aanduidings van hoeveel Folar moontlik ná toediening in houers in die
stoor
oorgebly het, finaal verlore gegaan.
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2001/140.html