![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPÈL
VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer : 535/2000
In die saak tussen :
SAVVAS
IANNOU KYRIACOU Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM : VIVIER, OLIVIER en STREICHER
ARR
DATUM : 15 JANUARIE 2001
GELEWER : 15 JANUARIE 2001
_______________________________________________________________
TRANSKRIPSIE
VAN REDES MONDELING GELEWER IN DIE OPE HOF OP 15 JANUARIE 2001 DEUR VIVIER AR
WAARMEE OLIVIER AR EN STREICHER AR
SAAMGESTEM
HET.
_______________________________________________________________
VIVIER AR/
VIVIER AR :
Hierdie is ‘n appèl, met verlof van
die Hof a quo, teen die intrekking van die appellant se borgtog ingevolge
art 68 van die Strafproseswet 51 van 1977, soos gewysig (“die Wet”).
Die appèl is buite die hoftermyn as ‘n saak van dringendheid
aangehoor.
Die appellant is op 28 September 1999 op aanklagte van diefstal
gearresteer en is dieselfde dag op borgtog van R100 000 onderworpe
aan sekere
voorwaardes vrygelaat. Op 24 Julie 2000 het hy voor Lombard R in die
Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling op 102 aanklagte
van diefstal waarby
‘n bedrag van ongeveer R4,5m betrokke was, verskyn. Op 30 Augustus 2000,
gedurende die verhoor, het die
Staat ingevolge art 68 van die Wet aansoek gedoen
dat die borgtog ingetrek word. Na aanhoor van getuienis het die Hof a
quo ingevolge art 68(1)(g) van die Wet bevind dat dit in die belang van
geregtigheid is dat die borgtog ingetrek word. ‘n Bevel
is gevolglik
gemaak dat die borgtog ingetrek word en dat die appellant tot die
beëindiging van die verhoor aangehou word.
In hierdie Hof is namens die
Staat betoog, met ‘n beroep op S v Mohamed 1977 (2) SA 531 (A) op
541 A, dat ‘n weiering of intrekking van borgtog deur die Hoërhof as
hof van eerste instansie
nie appelleerbaar is nie. In die Mohamed-saak
het Trollip AR die aard van borgverrigtinge ingevolge art 97 van die vorige
Strafproseswet 56 van 1955, die voorganger van die
huidige art 65, as volg
beskryf (op 539H-540A)
“[The] proceedings under sec. 97 of the Code originate in and are closely associated with the accused’s arrest, detention and prosecution for a criminal offence. Hence, although they are civil in form, they are criminal in substance, and must be so regarded for the purposes of the relevant sections of the Supreme Court Act.”
Met verwysing na art 21(1) van
die Wet op die Hooggeregshof 59 van 1959, waarvolgens hierdie Hof regsbevoeg is
om, behoudens die
bepalings van die artikel en enige ander wetsbepaling,
“’n appèl teen enige beslissing van die hof van provinsiale of plaaslike afdeling te verhoor en te beslis”
sê
Trollip AR dat daar so ‘n beperking op appelle in strafsake in art 362 (2)
van die vorige Strafproseswet, wat die voorganger
is van die huidige art 315(4),
te vind is, maar dat ten opsigte van appelle in borgverrigtinge, die
beperking slegs geld
waar die Hoërhof die hof van eerste instansie
was (op 541A).
Die Hof a quo het, sonder verwysing na die
Mohamed-saak, en met ‘n beroep op S v Pienaar 1992 (1) SASV
178 (W); S v Maki en Andere 1994 (2) SASV 630 (O) en S v Ndjadayi
1995 (2) SASV 583 (E) bevind dat borgverrigtinge ‘n siviele saak en nie
‘n strafsaak is nie en dat, met die nodige verlof,
‘n reg van
appèl van ‘n beslissing van ‘n Hoërhof as hof van eerste
instansie wel bestaan. Die vraag
of borgverrigtinge ‘n siviele
aangeleentheid is, is deur hierdie Hof oopgelaat in S v Ramokhosi 1999
(1) SASV 497 (SCA) op 500f-g.
Namens die appellant is betoog dat in die
omstandighede van die huidige
saak ‘n reg van appèl ook
bestaan uit hoofde van art 35(3)(o) van die Grondwet van die Republiek van
Suid-Afrika 108
van 1996 wat bepaal dat elke beskuldigde persoon ‘n reg op
‘n billike verhoor het, waarby inbegrepe is “die reg
op appèl
na, of hersiening deur, ‘n hoër hof.”
In die huidige saak
is dit nie nodig om te beslis of borgverrigtinge in die lig van die Grondwet nou
as ‘n siviele aangeleentheid
beskou moet word en dus nie onderhewig is aan
die beperking op appelle in strafsake bevat in art 315(4) van die Wet nie. Dit
is
ook nie nodig om te beslis wat die effek van art 35(3)(o) van die Grondwet is
nie. Ek sal veronderstel, sonder om te beslis, dat
die bevel van die Hof a
quo wel appelleerbaar is.
Die appellant is ‘n 56-jarige sakeman en
handelaar van Bloemfontein wat volgens sy eie getuienis die eienaar is van 10
sakeondernemings
en 35 eiendomme in die stad en omgewing. Hy bedryf onder
andere algemene handelaarsbesighede by verskeie winkels en pakhuise.
Die
strafsaak teen hom het gespruit uit ‘n groot aantal voorvalle van
gewapende roof, diefstal van goedere in transito, diefstalle
en huisbrake wat in
Bloemfontein en elders in die land in die tydperk vanaf Januarie 1996
plaasgevind het. Die staatsaak was nie
dat die appellant self betrokke was by
hierdie voorvalle nie, maar dat massiewe voorrade van die aldus gesteelde
goedere deur hom
onwettig verkry is en in sy pakhuise en winkels in Bloemfontein
en omgewing beland het.
Die aansoek om intrekking van die appellant se
borgtog was hoofsaaklik daarop gegrond dat hy met misdadige optrede voortgegaan
het
selfs nadat die polisie-ondersoek begin het en selfs nadat hy op 28
September 1999 op borg vrygelaat is. Die ondersoekbeampte, kaptein
Van Wyk, het
getuig dat ‘n jaar nadat die polisie-ondersoek op 9 Februarie 1998 begin
het, die polisie op 5 Februarie 1999
by een van die appellant se besighede,
Modern House Furnishers, beslag gelê het op goedere wat in Januarie 1999
gesteel is.
Verder was daar nadat die appellant op borgtog vrygelaat is,
‘n inbraak en diefstal by die appellant se pakhuis by Bastionstraat
in
Bloemfontein. Onder die gesteelde goedere was klere wat weer geblyk het
voorheen by Edgars gesteel was. Die appellant wou nie
‘n klagte van
diefstal lê nie. Op 28 Julie 2000 het die polisie op vermoedelik
gesteelde goedere ter waarde van R300
000 beslag gelê by die appellant se
winkel, Viva Cash & Carry in Botshabelo (“die Viva-ondersoek”).
Verdere
ondersoek het getoon dat hierdie goedere gesteel is deur twee
ondernemings wat aan die Rand opereer, Buy & Save en Haul Bulk,
en dat
sommige van die goedere slegs die vorige maand gesteel is. Soos deurgaans
voorheen, was die appellant se verduideliking dat
hy die goedere gekoop het.
Volgens Van Wyk was ‘n hele aantal van die eienaars van hierdie goedere
reeds geïdentifiseer.
Van Wyk het verder getuig dat hy rede het om te
vermoed dat ‘n verdere R700 000 se goedere wat deur Buy and Save en Haul
Bulk
gesteel is, in pakhuise van die appellant geberg is.
Die appellant is
op die aanklagte van diefstal wat spruit uit die Viva-ondersoek op 28 Julie 2000
gearresteer en is steeds op hierdie
aanklagte in aanhouding.
Die appellant
het in sy getuienis gesê dat hy die goedere waarop beslag gelê is in
die Viva-ondersoek van ‘n verteenwoordiger
van Buy & Save gekoop het.
Hy het die persoon geken en het nie vermoed dat dit gesteelde goedere was nie.
Hyself dryf handel
in groot voorrade handelsware en koop daagliks vragmotors vol
goedere, die waarde waarvan miljoene rande per maand beloop. Met ‘n
beroep op regsadvies was hy nie bereid om verdere vrae te beantwoord oor die
goedere waarop in die Viva-ondersoek beslag gelê
is nie. Die appellant
het nie die persoon se naam genoem van wie hy die goedere gekoop het nie, hy het
nie gesê wanneer of
waar of teen welke prys of onder welke omstandighede
hy die goedere gekoop het nie. Hy het dus geen besonderhede verskaf van die
aankoop of aankope nie en het gevolglik versuim om voldoende rekenskap te gee
van sy besit van goedere, ten opsigte waarvan daar
redelike verdenking bestaan
dat dit gesteelde goedere is. Daar is dus aanvaarbare getuienis dat hy hom aan
’n oortreding van
art 36 van Wet 65 van 1955 skuldig gemaak het.
(
Sien S v Osman and Another v Attorney-General, Transvaal 1998(4) SA
1224(CC).)
Die appellant het wel getuig oor ’n ander voorval toe
’n man met ‘n vrag skoene afkomstig van Edgars by hom opgedaag
het
en dit aan hom teen R35 per paar instede van die werklike prys van R165 per paar
wou verkoop. Hy het met die polisie in verbinding
getree van wie hy die
versekering gekry het dat die transaksie in orde is. Teen R35 per paar was die
koopprys wat hy moes betaal
ongeveer R27 000, maar die verkoper was tevrede om
‘n vrag wasgoedpennetjies as betaling te ontvang. Die appellant het
getuig
dat hy oor dokumentêre bewys van die skoentransaksie beskik.
Volgens die appellant se eie getuienis is hy ‘n persoon
wat daagliks groot
handelsvoorrade op informele en onkonvensionele wyse aankoop. In die
omstandighede sou mens des te meer van die
appellant verwag dat hy op bewyse
van die bron van die goedere en die verkoper se reg om te verkoop sou aandring
en in staat sou
wees om voldoende rekenskap te gee vir sy besit van die
gesteelde goedere betrokke by die Viva-ondersoek. Soos ek reeds daarop
gewys
het, was hy nie in staat om dit te doen nie.
Die Hof a quo het
bevind dat daar aanvaarbare getuienis is dat die appellant sy misdadige optrede
voortgesit het nadat hy op 28 September 1999
op borgtog vrygelaat is. Dit is
duidelik uit die uitspraak dat hierdie die belangrikste faktor was wat die Hof
a quo teen die appellant in ag geneem het in sy gevolgtrekking dat dit in
belang van geregtigheid was om die appellant se borgtog in te
trek. Die Hof
a quo was klaarblyklik geregtig om hierdie faktor teen die appellant in
ag te neem. Die uitdrukking “die belang van geregtigheid”
word
meermale in die borgbepalings van die Wet gebruik, sien subartikels (1), (4),
(9), (10), (11) en (12) van art 60 wat met die
toestaan van borgtog handel. In
die konteks waarin dit in art 68 gebruik word, behels dit ‘n
waarde-oordeel van wat reg en
billik is vir al die betrokkenes na ‘n
opweging van alle relevante faktore ten gunste van en teen die intrekking van
borgtog
(vgl S v Dlamini S v Dladla and Others; S v Joubert; S v
Schietekat 1999 (4) SA 623 (CC) op 655E-658A).
Na my mening het die Hof
a quo alle relevante faktore vir en teen die intrekking van borgtog
behoorlik oorweeg en ek is nie daarvan oortuig dat sy beslissing verkeerd
is
nie.
Die appèl word afgewys.
W VIVIER AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2001/1.html