![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saaknommer : 389 / 98
VAN SUID-AFRIKA
In die appèl
van
DIE PLAASLIKE OORGANGSRAAD
VAN
BRONKHORSTSPRUIT
Appellant
en
H B SENEKAL
Respondent
Regbank : Hefer WndAHR; Grosskopf, Howie,
Olivier ARR en Melunsky Wnd AR
Verhoordatum : 29 Augustus
2000
Datum van Uitspraak : 29 September
2000
SAMEVATTING
Uitleg van’n uitspraak van ’n hof; uitleg van die statute van
’n gratifikasiefonds, betekenis van oortolligheid
(redundancy) en
uitdiensstelling (retrenchment). Bestrawwende kostebevele teen
praktisyns.
U I T S P R A A K
OLIVIER A R
[1] Die respondent was sedert 1 Maart 1986 die stadsklerk van
Bronkhorstspruit. Sy dienste is op 30 Junie 1996 deur ’n besluit
van die
appellant, geneem op 25 April 1996 (“Raadsbesluit R127/96”),
beëindig. Die respondent was deurgaans lid van die Transvaalse
Munisipale Werknemers Gratifikasiefonds (“die fonds”),
’n
regspersoon met statute (“die statute”) wat op appellant en
respondent bindend was.
[2] Die gratifikasievoordele betaalbaar aan
’n persoon in die respondent se posisie by beëindiging van sy dienste
word beheers
deur arts 34 (1) en (2) van die statute. Indien die
diensbeëindiging van die respondent tuisgebring moet word binne die
bepalings van art 34 (1), is
hy geregtig op betaling van R423 189,80.
Daarenteen, indien dit onder art 34 (2) val, is hy op ’n addisionele
bedrag van
R314 314, 92 geregtig.
[3] Die dispuut wentel om die
vraag : het die respondent se diensbeëindiging geskied kragtens art 34 (1)
(soos deur die appellant
aangevoer) dan wel kragtens art 34 (2) (soos deur die
respondent aangevoer)?
[4] Na ’n verhoor wat vyf weke geduur het, het die verhoorregter, Van
der Walt Wn RP, ten gunste van die respondent beslis. Verlof om teen sy uitspraak te appelleer na hierdie Hof is deur hom geweier, maar later onderhewig aan ’n streng beperking, hier toegestaan. Die bevel wat verlof verleen het, lees soos volg:
“1.1 Leave is granted to the Applicant to appeal to the Supreme Court of Appeal against paras 1, 2, 3 and 4 of the order made by the court a quo on the following issue only : ‘ whether, on an acceptance of the court a quo’s factual findings, the termination of the Respondent’s (Plaintiff’s) service pursuant to resolution R127/96 occurred in circumstances as envisaged by section 34 (2) of the Statutes of the Transvaal Municipal Gratuity Fund.’ ”
[5] Die kwalifikasie in die genoemde bevel is gemaak op grond van die
bewerings in die appellant se petisie om verlof; op grond van
die volledige uiteensetting van die feite deur die hof a quo en in die
lig van die bekende beginsel dat hierdie Hof nie geredelik met die
feitebevindinge van ’n verhoorhof inmeng (tensy
dit op ’n
wanvoorligting berus of klaarblyklik verkeerd) is nie. Die regters wat die
verlof oorweeg het, was klaarblyklik
nie deur die appellant se bewering in die
petisie oortuig dat daar redelike vooruitsigte bestaan om die feitebevindinge
van die verhoorregter
met sukses aan te val nie. Vandaar die bevel wat verleen
is. Ongelukkig het die advokate vir beide partye geen of weinig ag op
gemelde
beperking geslaan en ellelange betoogshoofde oor die feite van die saak
voorgelê.
[6] Die Engelse weergawe van die statute is die
amptelike teks, wat soos volg lui: .
“34. TERMINATION OF SERVICE
(1) RESIGNATION OR DISMISSAL
If a member, who is not qualified to retire in terms of section 32 leaves the service of a local authority voluntarily or is dismissed by the local authority for reasons other than those provided for in section 34 (2), he will become entitled to ...;
(2) REDUNDANCY OR RETRENCHMENT
If a member who is not qualified to
retire in terms of section 32 leaves the service of a local authority as
the result of his having been declared
redundant or having been
retrenched,
and ... he shall be entitled to ... ”
(My beklemtoning)
Die Afrikaanse
teks lui soos volg:
“(1) Bedanking of Afdanking
Indien ’n lid wat
nie geregtig is om af te tree ingevolge artikel 32 nie, die diens van ’n
plaaslike bestuur vrywillig verlaat of deur die plaaslike bestuur
afgedank word weens ander redes as dié bepaal in artikel 34 (2),
word hy geregtig op ...;
(2) Oortolligheid of Afdanking
Indien ’n lid wat nie geregtig is om af te tree ingevolge artikel 32 nie, die diens van ’n plaaslike bestuur verlaat ten gevolge daarvan dat hy oortollig verklaar of afgedank is, en ... is hy geregtig op ...;”
(My beklemtoning)
[7] Dit is gemeensaak dat art 32 nie hier ter sprake was nie. Die vraag is of die respondent
(a) die diens van appellant vrywillig verlaat het; of
(b) deur die appellant afgedank is
(in welke twee gevalle art 34 (1) geld en die appellant in die appèl moet slaag); dan wel of
(c) hy oortollig verklaar is, of
(d) hy “retrenched” is
(in welke twee gevalle art 34 (2) geld en die appèl moet misluk).
[8] Ek het hierbo die woord “retrenched” in aanhalingstekens gebruik. Die rede is dat die woord “afgedank” wat in die Afrikaanse teks vir die woord “retrenched” gebruik is, klaarblyklik nie reg aan die begrip van “retrenchment” laat geskied nie - afgesien daarvan dat dit ook ’n verwarrende herhaling van die woorde “afgedank word” in art 34 (1) bevat. Ten einde ’n gedurige gebruik van “retrench” of “retrenchment” in die teks van hierdie uitspraak te vermy, moet ’n gerieflike Afrikaanse term gevind word om as handvatsel vir die betrokke begrip te dien. Ek sal die terme “uitdiensstel” en “uitdiensstelling” gebruik.
[9] Vervolgens moet die feitebevindinge in die uitspraak van die hof a
quo onder die loep geneem word ten einde te
bepaal welke feitebevindinge gemaak is. ’n Groot deel van die argumente
voor ons was
aan dié aspek gewy omdat dit ongelukkig nie heeltemal
duidelik is wat bevind is nie. Dit skep dan die vraag : wat is die
beginsels
waarvolgens die uitspraak van ’n hof interpreteer moet
word?
[10] Hierdie Hof het hom al meermale in geen onduidelike taal
oor hierdie kwessie uitgelaat onder andere in Firestone South Africa (Pty)
Ltd v Genticuro AG 1977 (4) SA 298 (A) op 304 D - H;
Weber-Stephen Products Co v Alrite Engineering (Pty) Ltd 1992 (2)
SA 489 (A) op 494 E - H en Administrator, Cape, and Another v Ntshwagela
and Others 1990 (1) SA 705 (A) op 715 F - I. In laasgenoemde uitspraak
word t.a.p. deur Nicholas Wn AR gesê:
“ ... the Court’s intention is to be ascertained primarily from the language of the judgment or order as construed according to the usual well-known rules. As in the case of any document, the judgment or order and the Court’s reasons for giving it must be read as a whole in order to ascertain its intention. If on such a reading, the meaning of the judgment or order is clear and unambiguous, no extrinsic fact or evidence is admissible to contradict, vary, qualify, or supplement it. Indeed, in such a case not even the Court that gave the judgment or order can be asked to state what its subjective intention was in giving it. But if any uncertainty in meaning does emerge, the extrinsic circumstances surrounding or leading up to the Court’s granting the judgment or order may be investigated and regarded in order to clarify it.”
[11] ’n Deel van die “usual well-known rules” van interpretasie is dat
mens jou nie moet blind staar teen die swart-op-wit woorde nie, maar probeer vasstel wat die bedoeling en implikasies is van dit wat gesê is. Dit is juis in hierdie proses waartydens die samehang en omringende omstandighede relevant is.
[12] Ek skets kortliks die relevante omstandighede en agtergrond wat
tot die bevindinge in die uitspraak gelei het, as hulpmiddels om dit uit te
lê. Ek beperk my tot die omstandighede en agtergrond soos dit in die uitspraak beskryf en bevind is.
(a) Voor die aanvang van die nuwe konstitusionele bedeling was daar slegs blanke Raadslede in Bronkhorstspruit se plaaslike owerheidsliggaam. In die oorgangsfase voor November 1995 was daar nege wit en nege swart Raadslede met ’n wit voorsitter wat ’n beslissende stem gehad het. Na die November 1995 verkiesing was daar ses swart lede en vier wit lede. Dit was ook die verteenwoordiging toe besluit R127/96 op 25 April 1996 deur die Raad aanvaar is.
(b) Sedert 1 Maart 1986 was respondent die Stadsklerk van Bronkhorstspruit.
(c) Weens die veranderinge in die konstitusionele reëlings in
verband met plaaslike besture is die respondent se voorheen permanente aanstelling vanaf 15 Desember 1994 in ’n waarnemende aanstelling omskep. Op ’n Raadsvergadering van 31 Januarie 1995 is ’n voorstel dat die respondent weereens die permanente amp moet beklee deur die nege wit raadslede ondersteun maar deur die nege swart lede teengestaan. Slegs met die beslissende steun van die Voorsitter is die voorstel aanvaar en is die respondent weer permanent in die pos van Stadsklerk van Bronkhorstspruit aangestel.
(d) Die teenstem is gemotiveer op die basis dat die blanke
Stadsklerk vervang moes word met ’n persoon wat polities meer aanvaarbaar vir die meerderheid van kiesers sou wees.
(e) Die respondent het hierdie teenstand as
’n teken van verset
teen sy voortgesette bekleding van die amp
ervaar. Dié
teenstand het mettertyd toegeneem.
(f) Wanneer
daar in die swart woonbuurt vergaderings oor
munisipale sake plaasgevind het, is sy aanvaarbaarheid in die amp openlik bevraagteken.
(g) Op 30 Oktober 1995 - net ’n dag voor die plaaslike verkiesing
van die Raad - is ’n besluit deur die Raad geneem om die respondent vir sy buitengewone dienste aan die Raad met ’n ex gratia betaling van R215 000,00 te vergoed indien hy as Stadsklerk tussen 28 Februarie en 31 Maart 1996 sou bedank. Dit sou benewens enige ander vergoeding wees. Die respondent het die vergunning nooit uitgeoefen nie, maar het dit as ’n poging van die swart lede om van hom ontslae te raak, ervaar.
(h) Na gemelde verkiesing was daar 6 swart en 4 wit
raadslede. Die uitbundigheid waarmee die uitslae ontvang is, het vir die respondent subjektief op antagonisme jeens hom gedui.
(i) Na die gemelde verkiesing het die nuwe burgemeester,
mnr Nchabeleng, en die nuutverkose voorsitter van die uitvoerende komitee, mnr Seitisho, in hul aanvaardings- toesprake spesifiek na die amp van die respondent verwys en gesê dat sy magte ingekort moes word en dat die nuwe Raad regstellende aksie sal toepas.
(j) Die respondent se getuienis dat mnr Seitisho aan hom
gesê het dat die swart gemeenskap en ook die swart raadslede aandring dat hy uit sy pos verwyder moet word en met ’n swart aanstelling vervang moet word, is deur die hof a quo aanvaar.
(k) Mnr Seitisho was toe die respondent se diens beïndig is, as
Stadsklerk aangestel is.
(l) Op 4 April 1996 het mnr Seitisho ’n spesiale Raadsvergadering aangevra om die bevoegdhede en funksies van die Stadsklerk te bespreek.
(m) Op 15 April 1996 het ’n daglange staking van werkers van die
Stadsraad plaasgevind. Dit was in hoofsaak gerig teen die respondent en sy bekleding van die betrokke amp. Plakkate, vertoon deur die stakers by die munisipale kantore, het die afdanking van die respondent geëis. ’n Memorandum is aan hom oorhandig. Van die voorbokke in die staking (wat deur die S A Munisipale Werkersunie gereël is) het aan respondent gesê dat as hy nie vrywillig padgee nie, hy met geweld uit sy kantoor verwyder sal word aangesien hulle as werkers nie die gesag van ’n wit amptenaar aanvaar nie.
(n) Paragraaf 1 van die genoemde memorandum lui soos volg:
“We the workers of Bronkhorstspruit Transitional Council demand the immediate resignation of Dr H. B. Senekal as he is the main stumbling block towards transformation and the cause of maladministration, corruption, nepotism and racial discrimination.”
(o) Laasgemelde
aantygings is uitdruklik deur die Raad op ’n
spesiale
raadsvergadering op 25 April 1996 gerepudieer.
(p) Intussen het dit duidelik geword dat die finansiële toestand
van die appellant kritiek was. Al die departementshoofde het onder voorsitterskap van die respondent vergader om die probleem aan te spreek. ’n Sogenaamde opsiedokument is opgestel en aan die Raad voorgelê. Twee opsies is uitgespel: eerstens, die sewe bestaande departemente word na drie verminder, en, ingevolge opsie twee, na vier departemente. Daar sou volgens beide opsies personeelverminderings moes plaasvind. Die dokument is deur mnr Grobler, hoof van die bestuursdepartement van die appellant opgestel. Die dokument beveel nie net personeelvermindering aan nie, maar spreek ook die noodsaak van regstellende aksie aan. Die inleiding lui:
“It is also important that the executive administration section of the local government must be acceptable and legitimate in the eyes of the broader community of Bronkhorstspruit. It is the submission of the author hereof that the re-structuring as discussed hereunder also makes provision for affirmative action by the Transitional Local Council with reference to the established management framework.”
(q) Item 2 van die aanbevelings lui soos volg:
“That the approved reorganised structure be incorporated in the operational budget for 1996/97 and that officials retrenched and/or replaced in the process be remunerated and compensated in accordance with the criteria set out in the conditions of service and council resolution.”
(r) Item 7 van die aanbevelings lui soos volg:
“That in view of the fact that a legitimate and representative Administrative structure for the TLC of Bronkhorstspruit is now an imperative for purposes of sound cooperation, effective control, discipline and anticipated growth and development, the current Chief Executive/Town Clerk be replaced by means of affirmative action with an official who will be acceptable and representative of the majority of the employees, the communities and all the stakeholders concerned, and that the aforesaid be effectuated as indicated above.”
(s) Op ’n spesiale Uitvoerende Komiteevergadering gehou op 23 April 1996 het die respondent die opsiedokument (R126/96) toegelig. In die toeligting het hy die noodsaaklikheid van herkonstuksie en regstellende aksie beklemtoon en ondersteun. In verband met sy eie posisie het hy gesê:
“I have no doubt in my mind and I also have no reservations as far as this is concerned that this council will have to have the chief executive who is currently in that position replaced because he is not acceptable to the major portion of the working force, he is not acceptable to the major portion of this council and he is not acceptable to the major portion of the communities involved in the Transitional Local Council. How difficult it is to say, but I have no alternative as to be honest, and please listen to what I am saying, you will not effectively control and discipline this organisation with all the workers concerned whether they are white or black, and you will not initiate growth and development because if you do not have the co-operation of this total administration and the council into one team you will not be able to generate what I have just said. Discipline and control which is totally impossible at the moment before replacing the chief executive and then to have the opportunities Mr Chairman as I have said to you yesterday and to the other gentlemen and the ladies here, do not make a mistake to think that you can replace me with another white official.”
(t) Na afloop van die toeligting het die Uitvoerende Komitee eenparig besluit om aan te beveel dat opsie 2 soos uiteengesit in dokument R126/96 goedgekeur word en het aanbeveel dat konsultasie met die vakbonde plaasvind.
(u) Hierna vind die sewende spesiale Uitvoerende Komitee vergadering op 25 April 1996 plaas. Die kwessie van herorganisaie verskyn as item R127 op die agenda. Aanbeveling 7, die vervanging van die respondent, is in koukus bespreek. Hierna is die kwessie in ope vergadering bespreek. Raadslid Kekana het o.a. gesê:
“ ... our position state is now that we accept a replacement of our Chief Town Clerk for reasons of affirmative action to take its course, and that this be done from today until the end of June, that he may be replaced during that period and he will only leave our council at the end of June.”
(v) Die tweede spesiale Raadsvergadering het hierna op 25 April 1996 plaasgevind. Die raadsbesluit is aangeteken as R127/96. Dit herroep die besluit om ’n spesiale toelaag aan die respondent (soos voorheen besluit) toe te teken. Die kernbesluit wat geneem is, lui soos volg:
“2 That in view of the fact that a legitimate and representative Administrative structure for the Transitional Local Council is now imperative for purposes of sound co-operation, effective control, discipline and anticipated growth and development, the current Chief Executive/Town Clerk be replaced on or before 30 June 1996 by means of affirmative action with an official who will be acceptable and representative of the majority of the employees, the communities and all the stakeholders concerned.
3 That in view of the aforesaid, compensation payable to Dr H B Senekal shall be as follows:
3.1 ...
3.2 That the amount payable to and submitted by the Transvaal Municipal
Gratuity Fund, be paid to the aforesaid fund on behalf of
and to the benefit of
Dr H B Senekal for the purposes of his pension.”
(w) Kort hierna ontstaan daar ’n dispuut in die gemeenskap en onder die amptenary oor die vraag of die respondent afgedank is. Hy het deurgaans ontken dat hy afgedank is en telkens die standpunt ingeneem dat hy vervang (“replaced”) is. Dit was ook die standpunt van die swart raadslede soos dit na vore gekom het op die derde spesiale Raadsvergadering van 30 April 1996, toe die burgemeester, raadslid Nchabeleng, bevestig het dat die respondent nie afgedank is nie, maar vervang (“replaced”) is. Op dieselfde vergadering het die respondent dit ook duidelik gestel dat die vervanging nie bloot vanweë sy eie versoek plaasgevind het nie: “there was no request to be replaced.” Een van die raadslede het weer die noodsaak aan herstukturering (weens regstellende aksie) toegelig, en die Raad was dit ten slotte eens dat die diensbeëindiging van die respondent “ ... is a replacement, it is not a resignation or whatever it is called outside.”
(x) Die laaste relevante feit wat gemeld moet word is dat die Raad tot dié mate van oordeel was dat die respondent se diensbeëindiging onder art 34 (2) val, dat die Raad die bedrag wat in terme daarvan aan die respondent betaalbaar was, aan die gratifikasiefonds vir uiteindelike betaling aan die respondent, oorbetaal het. Eers maande later het die appellant, vir redes wat nie duidelik is nie, van mening verander en die huidige standpunt ingeneem.
[13] Ek kan nou terugkeer na die feitebevindinge van die hof a quo. Dit kan, opsommenderwys, soos volg saamgevat word:
(1) Die respondent is nie “direk afgedank” nie en het ook nie bedank nie.
(2) Die respondent moes vervang word
deur middel van regstellende aksie met ’n persoon wat meer aanvaarbaar is,
en die pos
is inderdaad bykans ’n jaar later gevul met ’n persoon
wat klaarblyklik vanweë regstellende aksie aangestel is.
(3) Die
respondent is uit diens geplaas vanweë Raadsbesluit R127/96 van April 1996
wat bepaal dat:
“ ... the current Chief Executive Town Clerk be replaced .... by means of affirmative action with an official who will be acceptable and representative of the majority concerned.”
Die hof a
quo het bevind dat die besluit beteken
“Met ander woorde die pos bly bestaan, maar die bekleër van die pos word vervang. Sy dienste word beëindig sonder dat daar kontraktuele redes vir die diensbeëindiging bestaan.”
(4) Die rede vir die diensbeëindiging was herorganisasie van die appellant se administrasie met die oog op regstellende aksie en die vermindering van personeel. Die tersaaklike besluit, aldus die hof a quo, was
“... nie ’n kostebesparingsmaatreël nie maar as ’n pos wat in die woorde van die inleiding geherorganiseer kan word om ruimte te laat vir regstellende aksie. Alhoewel slegs die Stadsklerk op 25 April 1996 uit diens geplaas was, was die stap tog die eerste stap in die proses van herorganisasie of hersamestelling of ‘restructuring’ en personeelvermindering wat die Raad wel later mee voortgegaan het.”
[14 Ek het nou die feitebevindinge van die hof a quo en die agtergrond
en relevante omstandighede soos uit die uitspraak blyk, uiteengesit. Met aanvaarding van die korrektheid daarvan, is die vraag of die afleiding wat die hof a quo gemaak het, nl. dat die respondent se diens ooreenkomstig art 34 (2) van die statute beëindig was, korrek is
[15] Konsensuele diensbeëindiging
Die appellant se eerste loopgraaf van verdediging teen die
respondent se aanspraak was dat die diensverhouding konsensueel
beëindig is. Die diensbeëindiging was dus vrywillig soos bedoel in art 34
(1).
In hierdie verband het die appellant veral staatgemaak op
die respondent se toespraak, waartydens hy te kenne gegee het dat regstellende
aksie sal moet plaasvind, ook wat sy eie posisie betref. Die appellant, so is
aangevoer, het dié voorstel aanvaar en daarop
gehandel. Die respondent
het dus die diens van die appellant vrywillig verlaat.
Vrywillige
diensbeëindiging deur ’n werknemer, so wil dit my voorkom, kan een
van twee implementeringsvorme aanneem:
’n bedanking deur die werknemer of
konsensuele diensbeëindiging. In die onderhawige geval kan daar geen
sprake wees
van ’n bedanking deur die respondent nie : feit is dat die
handeling wat die diensverhouding beëindig het, van die appellant
(die
werkgewer) se kant gekom het. Tereg dus die feitebevinding van die hof a
quo (waaraan ek gebonde is weens die terme van die toegestane verlof) dat
die respondent nie bedank het nie.
Was daar ’n konsensuele
diensbeëindiging? Alvorens dié aangeleentheid ontleed kan word, so
het die respondent
aangevoer, moet eers bepaal word of die uitspraak van die hof
a quo nie reeds hieroor ’n feitebevinding gemaak het waaraan ons
gebonde is nie. Respondent het betoog dat daar wel so ‘n
bevinding ten
minste by implikasie uit die reeds genoemde feitebevindinge blyk, te wete dat
daar geen konsensuele diensbeëindiging
was nie.
Ek meen dat dit
’n logiese implikasie van die uitspraak is dat daar geen konsensuele
diensbeëindiging was nie. Immers,
daar is deur die appellant besluit
onder andere dat die respondent in die loop van herorganisasie vervang moet word
en dat dit die
rede vir sy diensbeëindiging is, welke besluit onnnodig sou
wees as daar ’n ooreengekome diensbeëindiging was.
Maar selfs as
dit aangevoer kon word dat dié kwessie nog vir oorweging deur hierdie Hof
oop was, sou bevind moes word, op
die feitebevindinge soos aangestip deur die
hof a quo, dat daar geen konsensuele diensbeëindiging was nie. Dit
sou onmoontlik wees om uit te maak waar en wanneer dié konsensus
bereik
is. Ook is daar geen feitebasis waarop die inhoud, omvang en gevolge van die
beweerde ooreenkoms vasgestel kan word nie.
[16] Afdanking of oortolligheid (redundancy) of
uitdiensstelling (retrenchment)
Die oorblywende stryd, en die kern
van die geskil, wentel oor die vraag of die respondent oortollig verklaar is of
uitdiensgestel
is. (“ ... as the result of his having been declared
redundant or having been retrenched ...”). Die hof a quo het
bevind dat die respondent “nie direk afgedank” is nie; dat hy
weens ’n besluit van die appellant uit diens gestel is
(“replaced”) by wyse van
regstellende aksie. Die pos bly bestaan,
maar die bekleër van die pos word vervang. Daar is geen kontraktuele
redes vir
die diensbeëindiging nie, aldus die hof a quo. Die
besluit van die appellant was deel van ’n herorganisasie van die hele
personeel, om voorsiening te maak vir kostebesparing
en regstellende aksie.
Alhoewel slegs die respondent op 25 April 1996 uit diens geplaas was, was dit
die eerste stap in die proses
van herorganisasie of hersamestelling of
“restructuring” en personeelvermindering waarmee die Raad wel later
voortgegaan
het; so beslis die hof a quo.
[17] Die probleem in die onderhawige geval is natuurlik dat die statute
van die fonds ’n baie beperkte perspektief op die maniere
waarop die diens van ’n amptenaar beëindig kan word, openbaar.
Voorsiening word gemaak vir voordele indien die werknemer aftree (art 32);
indien hy te sterwe kom (art 33); indien sy dienste
tot ’n einde kom (art
34) en indien hy afgedank word vanweë ongeskiktheid of swak gesondheid (art
35). Art 34, wat hier
ter sprake kom, is eweneens baie skraal - dit stel, in
wese, bedanking of afdanking teenoor oortolligverklaring of
uitdiensstelling, en maak nie uitdruklik voorsiening vir
diensbeëindiging met die oog op regstellende aksie nie.
[18]
Namens die appellant is eerstens aangevoer dat hierdie Hof moet bevind dat
die respondent afgedank is binne die betekenis van art 34 (1) - weliswaar
nie direk nie (ooreenkomstig die woordgebruik van die hof a quo) - maar
“indirek”, vir ’n rede wat niks met art 34 (2) te doen het
nie. Daar is aangevoer dat die rol wat regstellende
aksie hier gespeel het,
hoogstens slaan op die agterliggende beweegrede vir die afdanking. Hoe
prysenswaardig die motiewe van die
appellant mag gewees het, die
diensbeëindiging was en bly ’n afdanking soos bedoel in art 34(1),
aldus die appellant se
advokaat.
[19] Die probleem met die argument is dat dit, steeds in die konteks van
art 34, ’n alte wye uitleg aan die woord afdank of “dismiss” in art 34 (1)
gee. Feit is dat art 34 (2) bestaan en belangrike regsgevolge in teenstelling
met art 34 (1) het.
[20] Die appellant was derhalwe gedwing om ’n tweede offensief te
loods:
met volle aanvaarding van die feitebevindinge van die hof
a quo kan die respondent se diensbeëindiging eenvoudig net nie as
’n oortolligverklaring of uitdiensstelling soos beoog in
art 34 (2) gesien
word nie. Al wat dan oorbly is ’n bevinding dat daar ’n afdanking
in terme van art 34 (1) was.
[21] Die advokate het uitvoerige
argumente aangevoer oor die betekenis
van oortolligverklaring en
uitdiensstelling (“redundancy” en “retrenchment”). Dit
is namens die appellant
aangevoer dat hierdie begrippe ’n suiwer
arbeidsregtelike konnotasie het. Die dominante beginsel is m.i. egter dat waar
dié
terme in wetgewing of statute soos tans ter sprake gebesig word
’n onbevange uitleg daaraan gegee moet word, in die lig van
die besondere
bepalings en die konteks waarin en doel waarvoor dit gebruik is. In die
onderhawige geval byvoorbeeld is ’n
onbillike arbeidspraktyk glad nie ter
sprake nie, nóg die regmatigheid al dan nie van die
diensbeëindiging. Dit gaan
hier bloot om die vraag welke betekenis aan
die terme van die statute gegee moet word in die konteks van
gratifikasievergoeding.
Arbeidsregtelike uitsprake kan dus in hierdie geval
hoogstens ’n oriënterende gesagswaarde dra.
[22] Beide
advokate het aangevoer dat daar nie ’n regsgeldige onderskeid tussen
oortolligverklaring en uitdiensstelling (“redundancy”
en
“retrenchment”) bestaan nie. Beide het in hierdie verband die
uitspraak, tot dien effekte, van die Nywerheidshof
in National Union of
Mineworkers and Others v Free State Consolidated Gold Mines (Operations)
Ltd (1994) 15 ILJ 1161 ondersteun. Daarin is verwys na die beslissing
van die Industriële Hof in Hlongwane and another v Plastix (Pty)
Ltd (1990) 11 ILJ 171 (IC) waar op 175 J - 176 A tussen die twee
begrippe onderskei is, en bevind dat daar geen sodanige onderskeid is
nie :
iemand word uitdiensgestel omdat hy oortollig is.
[23] Ek vind dit
onnodig om in hierdie appèl die seël van goedkeuring op die
beslissing, op hierdie punt, in National Union
of Mineworkers and Others v Free
state Consolidated Gold Mines (Operations) Ltd te plaas. Want selfs met
aanvaarding van die korrektheid
van die beslissing moet steeds vasgestel word
onder welke omstandighede gesê kan word dat ’n werknemer se diens
beëindig
is weens oortolligverklaring.
[24] Myns insiens moet aan die begrip oortolligheid (“redundancy”) ’n
wye betekenis gegee word. Die voor die hand liggende geval van oortolligverklaring kom voor waar die werkgewer sy bedryf sluit of afskaal, met die gevolg dat poste verdwyn. Maar die begrip slaan klaarblyklik ook op ’n herorganisasie van ’n bedryf of onderneming waar ’n spesifieke werknemer, om operasionele of ander redes, in die slag moet bly. Dit is wat in die onderhawige geval gebeur het. In National Union of Mineworkers, supra, is met goedkeuring verwys na Brassey et al. The New Labour Law, op 279:
“... ‘retrenchment means dismissal because the employee is redundant. The redundancy can be caused by the introduction of new technology, the reorganization of the enterprise, the rationalization consequent upon a merger, or a drop in production caused by an economic downturn or any number of other circumstances’ ... ” (My kursivering.)
[25] Ek meen nie dat daar ’n numerus clausus van omstandighede, wat
tot oortolligverklaring kan lei, bestaan nie. Die wye begrip wat ek hierbo
skets, vind ook tot ’n mate steun in National Union of Mineworkers,
supra. Daar is op 1167 B gesê:
“Thousands of cases have demonstrated that there are only two kinds of dismissals. The first is due to the fault of the employee e g misconduct or incompetence, and the second is due to no fault of the employee, e g retrenchment. Each type of dismissal has its own procedures, rules or guidelines. I can see no good purpose in affixing different labels to each particular set of circumstances of a dismissal and laying down further procedures, rules or guidelines which should be applied.”
[26] In die onderhawige geval was daar geen skuld aan die kant van die
respondent nie; inteendeel. Hy is sy pos kwyt weens die proses
van herstrukturering van die appellant se organisasie met die oog
op
finansiële probleme en regstellende aksie. In hierdie proses het die
respondent oortollig geraak.
[27] Vorige beslissings, ook van
hierdie hof, oor die betekenis van woorde van algemene betekenis is in die
huidige feitestel en in die
konteks van die besondere bepalings hier ter sprake
van weinig nut. Die gewone betekenis van “redundancy” moet op
realistiese
en praktiese wyse toegepas word, eerder as ontoepaslike formules wat
op ’n ander tyd vir ander omstandighede uitgespreek is.
“Redundancy” sluit in, volgens die Oxford English Dictionary,
“ ... the condition of being surplus to an organisation’s
staffing
requirements; loss of a job as a result of this; a case of unemployment due to
reorganisation, mechanization, etc.” (My beklemtoning.) Die
beëindiging van die respondent se dienste in die onderhawige geval val
m.i.
vierkantig binne hierde formule. Sy geval moet dus ingevolge a 34 (2)
beoordeel word.
[28] Koste
Die onsuksesvolle appellant moet die koste van die appèl,
insluitende die koste van twee advokate, dra. Daar is egter
twee
kompliserende faktore wat verdere aandag verg. Die eerste raak die
koste
verbonde aan die verkryging, deurlees, voorbereiding, lewering en
indiening van die appèlrekord, wat sestien bande beslaan. In die
lig van
die terme van die bevel wat verlof verleen het om na hierdie Hof te
appelleer, was, ruim geskat, nie meer as vier bande nodig nie. Dit sal
onbillik wees as die appellant die onnodige koste in verband met die orige
12 bande aan sy prokureurs moet betaal. Ooreenkomstig die herhaalde
waarskuwing aan praktisyns om nie onnodige dokument en oorkondes
voor te lê nie (sien Absa Bank Ltd v Davidson 2000 (1) (SA) 1117 (A) op
1126 paragrawe [28] en[29]) behoort ’n bestrawwende kostebevel teen die
appellant se prokureurs gemaak te word, soos gedoen is in Minister of
Health v Malizewski and Others (’n tans nog ongerapporteerde
uitspraak van hierdie Hof gelewer op 30 Mei 2000). Die advokate in die
huidige saak is gevra om ’n verduideliking te gee waarom
daar nie
behoorlike aandag aan hierdie aspek gegee is nie. Geen
oortuigende verduideliking was aangebied nie.
[29] Die tweede aspek raak die kwessie van beide advokate se betoogs-
hoofde. In beide gevalle wil dit voorkom asof die
bepalings van die bevel wat verlof verleen het om na hierdie Hof te appelleer,
oor die hoof gesien of geïgnoreer is. Die gevolg was dat die
betoogshoofde in besonderhede op die feite ingegaan het. Dit
was nie alleen
ontoelaatbaar nie, maar het weinig bygedra om hierdie Hof behulpsaam te wees met
die uitleg van die bevindinge van
die hof a quo en met die tersaaklike
regsbeginsels. Dit het ook gelei tot veel tydverkwisting met die voorbereiding
vir die aanhoor van die appèl
en met die verhoor daarvan. Daarbenewens
is die voorskrifte van Reël 10 (3) (a) van die Reëls van hierdie Hof
nie nagekom
nie. Dié Reël vereis betoogspunte wat duidelik,
saaklik en sonder onnodige besonderhede is.
Die advokate is gevra om die
genoemde gebreke in die betoogshoofde te regverdig. Geen aanvaarbare
regverdiging is aangebied nie.
’n Bestrawwende kostebevel is in hierdie
geval nie buite orde nie. Ek meen dat ’n gepaste bevel sal wees dat
geeneen
van die advokate geregtig is om enige koste, direk of indirek, in
verband met die voorbereiding en opstel van hul betoogshoofde van
hul
opdraggewende prokureurs en kliënte te verhaal nie.
[30] Die bevel van die Hof is die volgende:
1 Die appèl word van die hand gewys met koste, wat die koste van twee advokate insluit.
2 Die appellant se prokureurs sal slegs
geregtig wees om van hul kliënt een kwart van die koste verbonde aan die
verkryging,
deurlees, voorbereiding, voorlegging, lewering en indiening van die
appèl- rekord te verhaal.
3 Geeneen van die advokate sal geregtig wees
om enige koste, direk of indirek, in verband met die voorbereiding en opstel van
hul
betoogshoofde van hul opdraggewende prokurkeurs en kliënte te verhaal
nie.
OLIVIER A R
SAMESTEMMEND :
HEFER Wnd AHR
GROSSKOPF
AR
HOWIE AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2000/51.html