![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL
van
SUID-AFRIKA
Saaknommer: 233/92
In die saak tussen
T MAKWANYANE Eerste Appellant
M MCHUNU
Tweede Appellant
TEEN
DIE STAAT
RESPONDENT
Coram: EM Grosskopf, FH Grosskopf en Nienaber ARR
Verhoordatum: 2 Mei 2000
Datum gelewer: 4 Mei 2000
UITSPRAAK
EM Grosskopf AR
[1] Die twee appellante is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling
skuldig bevind op vier klagtes van moord, een van poging tot
moord en een van
poging tot roof met verswarende omstandighede. Op elk van die klagtes van moord
is die appellante ter dood veroordeel.
Ten opsigte van die klag van poging tot
moord is hulle elk tot twaalf jaar gevangenisstraf gevonnis, en ten opsigte van
die poging
tot roof, tot tien jaar gevangenisstraf. Die verhoorhof het gelas dat
vyf jaar van die gevangenisstraf ten opsigte van die poging
tot roof moet
saamloop met die gevangenisstraf op die aanklag van poging tot moord. In effek
was daar dus sewentien jaar gevangenisstraf
op elke appellant
opgelê.
[2] Die appellante het na die Appèlafdeling
appèl aangeteken teen hul skuldigbevindinge en vonnisse. Op 27 Mei 1994
is die appèlle teen al die skuldigbevindinge en teen die vonnisse op die
klagtes van poging tot moord en poging tot roof van
die hand gewys. Aangesien
daar destyds twyfel bestaan het oor die grondwetlikheid van die doodvonnis, is
die appèlle teen
die doodvonnisse uitgestel ten einde die Konstitusionele
Hof in staat te stel om oor hierdie grondwetlike kwessie uitsluitsel te
gee. Die
Appèlafdeling se uitspraak is
gerapporteer: S v Makwanyane en 'n
Ander 1994 (3) SA 868 (A); 1994 (2) SASV 158 (A). Ek sal na hierdie
uitspraak verwys as Makwanyane1.
[3] Daarna het die appellante se
appèl voor die Konstitusionele Hof gedien. Uitspraak is op 6 Junie 1995
gelewer: sien S v Makwanyane and Another 1995 (3) SA 391 (CC)
(Makwanyane2), ook op ander plekke gerapporteer. Die hof se bevel verskyn
in par 151 van die uitspraak. Kortliks kom dit daarop neer dat die doodvonnis
as
ongrondwetlik bevind is, en dat die vonnis dus nie op die appellante voltrek mog
word nie.
[4] Kragtens art 1(10) van Wet 105 van 1997 (soos vervang deur art
25(b) van Wet 34 van 1998) dien die appellante se appèlle
nou weer voor
ons sodat gepaste vonnisse ter vervanging van die doodvonnisse opgelê kan
word.
[5] Die feite van die saak word volledig in Makwanyane1
uiteengesit en ek hoef hulle nie hier te herhaal nie. Ons slotsom destyds was
dat "die moorde wat deur die appellante of hul makkers
gepleeg is, waarvoor
hulle almal regtens aanspreeklik is, so 'n vergryp teen die norme van 'n
ordelike gemeenskap is dat hulle die
swaarste vonnis regverdig waarvoor ons
regstelsel voorsiening maak" (873B). Indien ons steeds hierdie mening huldig,
sou die gepaste
straf lewenslange gevangenisstraf wees (sien S v Siluale en
Ander 1999 (2) SASV 102 (SCA)).
[6] Namens die appellante word egter
nou betoog dat 'n vonnis van lewenslange gevangenisstraf ook, soos die
doodstraf, ongrondwetlik
is. Dit is effens ironies. In Makwanyane2 het
die afskrikkende waarde van die doodvonnis vanselfsprekend heelwat aandag gekry.
In hierdie verband het Chaskalson P een van
die vrae wat ontstaan soos volg
gestel (par 123):
"In the debate as to the deterrent effect of the death sentence, the issue is sometimes dealt with as if the choice to be made is between the death sentence and the murder going unpunished. That is of course not so. The choice to be made is between putting the criminal to death and subjecting the criminal to the severe punishment of a long term of imprisonment which, in an appropriate case, could be a sentence of life imprisonment. Both are deterrents, and the question is whether the possibility of being sentenced to death, rather than being sentenced to life imprisonment, has a marginally greater deterrent effect, and whether the Constitution sanctions the limitation of rights affected thereby."
[7] Ook wat betref voorkoming het die
moontlikheid van 'n vonnis van lewenslange gevangenisstraf 'n rol gespeel in
Chaskalson P se
beredenering. Aldus sê hy (par 128):
"Prevention is another object of punishment. The death sentence ensures that the criminal will never again commit murders, but it is not the only way of doing so, and life imprisonment also serves this purpose."
By sy
uiteindelike slotsom sê Chaskalson P (par 145):
"In the balancing process the principal factors that have to be weighed are, on the one hand, the destruction of life and dignity that is a consequence of the implementation of the death sentence, the elements of arbitrariness and the possibility of error in the enforcement of capital punishment, and the existence of a severe alternative punishment (life imprisonment) and, on the other, the claim that the death sentence is a greater deterrent to murder, and will more effectively prevent its commission than would a sentence of life imprisonment, and that there is a public demand for retributive justice to be imposed on murderers, which only the death sentence can meet."
[8] In
hierdie opwegingsproses het Chaskalson P bevind dat die faktore wat teen die
regverdigbaarheid van die doodvonnis tel, swaarder
weeg as die faktore in die
guns van die vonnis. Dit is duidelik dat hy wesentlik beïnvloed was deur
die beskikbaarkeid van lewenslange
gevangenisstraf as 'n moontlike alternatiewe
straf. Sien ook Ackermann R (par 170-1), Kentridge R (par 203) en Madala R (par
239).
Geen lid van die hof het hierdie standpunt verwerp nie.
[9] Die ironie
van die appellante se huidige standpunt lê vir my daarin dat hulle in die
Konstitusionele Hof die doodvonnis
vrygespring het ten dele omdat lede van
daardie hof beskou het dat die vonnis van lewenslange gevangenisstraf beskikbaar
is vir die
afskrikking en voorkoming van misdaad. Nou veg die appellante hierdie
grondslag van hul destydse sukses aan. Hoe dit ook al sy, daar
is nie voor ons
betoog dat die appellante nie geregtig is om nou hierdie houding in te neem nie.
Al wat ek dus kan sê is dat
die bogemelde passasies uit die uitsprake in
Makwanyane2 heelwat steun aan die Staat se betoog in die onderhawige
appèl besorg.
[10] Namens die appellante is betoog dat
lewenslange gevangenisstraf inbreuk maak op die volgende grondwetlike regte, nl
die reg
op vryheid van beweging (art 21 van die Grondwet, 108 van 1996), die reg
op menswaardigheid (art 10) en die reg op lewe (art 11).
Die reg op lewe is myns
insiens nie hier ter sake nie. Daar is niks voor ons geplaas ten effekte dat die
appellante se lewensverwagtinge
benadeel sou word deur lewenslange
gevangesetting nie.
[11] Wat die regte op menswaardigheid en vryheid van
beweging betref is die situasie egter anders. Uiteraard maak enige vonnis van
gevangenesetting inbreuk op 'n persoon se waardigheid en vryheid van beweging.
Die vraag is dan of dit ooreenkomstig art 36 van die
Grondwet geoorloof is. Die
artikel bepaal onder meer soos volg:
"Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens 'n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in 'n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid ..."
[12] Die
uitwerking van konstitusionele regte op die grondwetlikheid van lewenslange
gevangenisstraf is al heelwat gedebatteer. Onder
meer is dit oorweeg in twee
hofuitsprake, nl 'n uitspraak van die Duitse grondwetlike hof gelewer in 1977 en
gerapporteer in BVerfGE
45, 187 en een van die hoogste Namibiese hof in S v
Tcoeib 1996 (1) SASV 390 (NmS). Hoewel hierdie buitelandse regstelsels tot
'n mate verskil van ons s'n is die grondbeginsels vergelykbaar,
en die
laasgenoemde saak is trouens in Suid-Afrika gevolg in S v de Kock 1997
(2) SASV 171 (T). Die appellante het swaar gesteun op hierdie uitsprake. In
Tcoeib se saak stel Mahomed H R sy uitgangspunt soos volg (398 a -
c):
"... an order deliberately incarcerating a citizen for the rest of his or her natural life severely impacts upon much of what is central to the enjoyment of life itself in any civilized community and can therefore only be upheld if it is demonstrably justified. In my view, it cannot be justified if it effectively amounts to a sentence which locks the gates of the prison irreversibly for the offender without any prospect whatever of any lawful escape from that condition for the rest of his or her natural life and regardless of any circumstances which might subsequently arise".
Verder sê hy (op bl
399i tot 400a):
"It must, I think, be conceded that if the release of the prisoner depends entirely on the capricious exercise of the discretion of the prison or executive authorities leaving them free to consider such a possibility at a time which they please or not at all and to decide what they please when they do, the hope which might yet flicker in the mind and the heart of the prisoner is much too faint and much too unpredictable to retain for the prisoner a sufficient residue of dignity which is left uninvaded".
'n Soortgelyke
gevolgtrekking is in die bogemelde Duitse beslissing bereik (sien bl 187 para
3).
[13] Albei partye het voor ons aanvaar dat dieselfde uitgangspunt hier
geld. Dit is nogtans denkbaar dat 'n omvattende ondersoek
na omstandighede hier
te lande 'n strenger benadering sou regverdig as dié wat as gepas beskou
is in Duitsland of Namibië.
So 'n ondersoek het egter nie plaasgevind nie
en ek sal dus veronderstel dat die beginsels uiteengesit deur Mahomed H R ook in
Suid-Afrika
geld. Ek moet gevolglik nagaan watter voorsiening regtens gemaak
word vir die uiteindelike bevryding van persone wat tot lewenslange
gevangenisstraf gevonnis word. Dit word bevat in opeenvolgende Wette op
Korrektiewe Dienste (8 van 1959 en 111 van 1998). Laasgenoemde
Wet bepaal dat 'n
gevonnisde gevangene in beginsel aangehou word vir die duur van sy vonnis (art
73 (1)) Hierdie beginsel is egter
onderhewig aan bepalings met betrekking tot
korrektiewe toesig, dagparool, parool en vroeë vrylating in Hoofstuk VII
van die
Wet. Kragtens art 78 het die hof die bevoegdheid om parool of dagparool
toe te staan of voorwaardes van korrektiewe toesig voor te
skryf. Die beginsels
wat deur die hof toegepas moet word, word nie duidelik uitgespel nie maar blyk
tog uit die aard van die bevoegdheid
en die inligting wat voor die hof geplaas
moet word. Die ondersoek wat uiteindelik tot 'n besluit deur die hof lei, begin
by 'n Gevallebestuurskomitee
kragtens art 42 van die Wet. Hierdie komitee moet
aandag gee aan faktore soos die kriminele geskiedenis van die gevangene, die
aard
en erns van die misdaad waarvoor hy gevonnis is, die waarskynlikheid van sy
terugval in misdaad, die risiko wat dit inhou vir die
gemeenskap en die wyse
waarop hierdie risiko verminder kan word. Die hof moet klaarblyklik hierdie en
soortgelyke faktore opweeg
om te besluit of lewenslange gevangenisstraf getemper
mag word ooreenkomstig art 78. Uiteraard is dit 'n regterlike bevoegdheid wat
nie willekeurig uitgeoefen mag word nie. Art 73(6)(b)(iv) bepaal dat 'n persoon
wat tot lewenslange gevangenis veroordeel is, nie
op parool vrygelaat mag word
totdat hy 25 jaar van sy vonnis uitgedien het nie, of die ouderdom van 65 bereik
het nadat hy minstens
vyftien jaar van sy vonnis uitgedien het nie. Hierdie
bepaling word weer getemper deur art 82(1) wat aan die President die
oorheersende
bevoegdheid verleen om 'n gevangene wat tot lewenslange
gevangenisstraf gevonnis is, onder korrektiewe toesig of parool te plaas
onderhewig aan sodanige voorwaardes as wat die hof mag aanbeveel, of om 'n deel
van die vonnis vry te skeld. En dan, ten slotte,
behou die President kragtens
art 82(2) sy bevoegdheid om oortreders te begenadig.
[14] Die Wet van 1998
bevat dus uitvoerige bepalings wat aan 'n persoon wat tot lewenslange
gevangenisstraf veroordeel is, die moontlikheid
bied om voor die einde van sy
natuurlike lewe sy vryheid geheel of ten dele te herwin. Dit is waar, soos deur
die appellante se advokaat
betoog, dat so 'n persoon nie vooraf sal weet presies
hoelank hy in die gevangenis sal deurbring nie, maar dieselfde geld vir enige
persoon wat tot gevangenisstraf veroordeel word. Die werklike termyn word bepaal
onder meer deur die beoordeling van ander persone
oor die mate waarin die
gevangene in die gevangenis gerehabiliteer is, en dit kan uiteraard nie vooraf
voorspel word nie.
[15] Na my mening voldoen die Wet van 1998 aan enige
vereistes wat daar mag wees om die vonnis van lewenslange gevangenisstraf in
ooreenstemming met die Grondwet te bring. Die enigste probleem is dat die Wet,
hoewel behoorlik aangeneem en gepromulgeer, nog nie
ten volle in werking is nie.
Die rede, neem ek aan, is dat die nodige administratiewe strukture nog nie
geskep is nie. Ek meen nie
dat, bloot omdat daar 'n vertraging met die
inwerkingstelling van die Wet is, die appellante 'n mindere straf moet kry as
wat die
omstandighede van die saak myns insiens vereis nie.
[16] Die
appellante is op 28 April 1992 gevonnis. Selfs al sou lewenslange
gevangenisstraf van daardie datum bereken word, sou
daar normaalweg nog
heelparty jare moet verloop voordat hulle vir parool in aanmerking kom. Niks is
voor ons geplaas om aan te dui
dat daar buitengewone omstandighede is wat 'n
vroeëre vrylating sou regverdig nie. Die Wet is nie om dowe neute op die
Wetorde
geplaas nie en ‘n mens kan dat Hoofstuk VII van die 1998 Wet
binnekort in werking gestel sal word. Indien hierdie veronderstelling
later blyk
verkeerd te wees en die appellante benadeel word deur die afwesigheid van
sodanige bepalings, kan hulle 'n bevoegde hof
nader om hul voortgesette
gevangenisstraf aan te veg, of om die owerhede te verplig om gepaste voorsiening
vir parool te maak. Om
enige probleme in hierdie opsig te vermy, behoort die
owerhede Hoofstuk 7 van Wet III van 1998 onverwyld in werking te stel.
Natuurlik,
selfs al sou die bepalings nou reeds gegeld het, sou daar steeds die
moontlikheid bestaan het dat hulle te enige tyd gewysig kon
word. Dan ook sou
die appellante se enigste middel gewees het om weer die hof te
nader.
[17] Selfs in die afwesigheid van die 1998 Wet het die President
bevoegdhede om parool toe te staan, afslag te verleen, of gevangenes
vry te laat
(art 66 van die 1959 Wet). Aangesien die Wet van 1998 reeds gepromulgeer is,
meen ek nie dat dit nodig is om te oorweeg
of die bepalings van die 1959 Wet nie
in elk geval voldoende sou gewees het om die grondwetlikheid van lewenslange
gevangenisstraf
te verseker nie. Daar moet in gedagte gehou word dat die
Konstitusionele Hof se goedkeurende kommentaar oor die vonnis van lewenslange
gevangenisstraf gelewer is in die lig van die 1959 Wet in sy destydse vorm.
Klaarblyklik het die betrokke regters beskou dat daardie
wet genoegsame
beskerming aan 'n gevonnisde persoon verleen het. Ons hoef nie te oorweeg of
wysigings wat sedertdien aangebring is,
enige verskil maak nie.
[18] Weens
die voorgaande meen ek dat 'n vonnis van lewenslange gevangenisstraf onderhewig
aan die bepalings van Wet 111 van 1998
nie teenstrydig met die Grondwet is nie.
Ek is steeds van oordeel dat die appellante die swaarste straf verdien waarvoor
die reg
voorsiening maak.
[19] Gevolglik word die volgende bevel uitgereik:
Die doodvonnisse op klagtes 2, 3, 4 en 5 word tersyde gestel en vervang met vonnisse van lewenslange gevangenisstraf. Die vier vonnisse van lewenslange gevangenisstraf en die vonnisse op klagtes 7 en 8 sal ooreenkomstig art 32(2) wan Wet 8 van 1959 almal saamloop. Die aanvang van die vonnisse van lewenslange gevangenisstraf sal teruggedateer word na 28 April 1992.
EM GROSSKOPF
APPèLREGTER
Stem saam:
FH GROSSKOPF
AR
NIENABER AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/2000/22.html