SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1999 >> [1999] ZASCA 7

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


Brummer v Gorfil Brothers Investments (Pty) Ltd and others (2) (138/97) [1999] ZASCA 7 (6 March 1999)





DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID-AFRIKA

Saaknommer: 138/97



In die saak tussen:



PAULUS PHILLIPUS BRUMMER Appellant

en

GORFIL BROTHERS INVESTMENTS
(PTY) LTD Eerste Respondent
SOLLY GORFIL Tweede Respondent
DAVID GORFIL Derde Respondent
NYLSTROOM HOTEL BK Vierde Respondent

Coram: VAN HEERDEN AHR, NIENABER, HARMS, STREICHER ARR en NGOEPE Wnd AR

Verhoor: 12 NOVEMBER 1998

Gelewer: 5 MAART 1999



___________________________________________________________________________________________

UITSPRAAK

___________________________________________________________________________________________





STREICHER AR/



STREICHER AR:
Die wesenlike vraag wat in hierdie appèl beslis moet word, is of `n eksekusieverkoping wat gehou word om `n skuldenaar se reg, titel en belang in `n aksie te bekom ten einde die litigasie te beëindig en nie om die onderliggende vonnisskuld te verhaal of gedeeltelik te verhaal nie regsgeldig is en of dit teen die openbare belang is en tersyde gestel kan word.
Die appellant het `n aksie vir skadevergoeding uit hoofde van die beweerde repudiasie van `n kontrak teen die tweede, derde en vyfde respondente ingestel. Hy het later die aksie teen die tweede en derde respondente teruggetrek en is beveel om hulle koste te betaal. Die getakseerde koste het R52 436,48 beloop. Die appellant het nie die koste betaal nie waarop die tweede en derde respondente opdrag aan die balju gegee het om beslag te lê op sy reg, titel en belang in die aksie teen die vyfde respondent (“die hangende geding”). Die balju, die vierde respondent, het daarop op die appellant se reg, titel en belang in die aksie teen die vyfde respondent beslag gelê as synde sy enigste bate en dit in eksekusie verkoop. Die eerste respondent, `n maatskappy, was die koper teen `n koopprys van R300 welke bedrag nie eers die koste van die beslaglegging en eksekusieverkoping gedek het nie. Die tweede en derde respondente is vader en seun en die vyfde respondent, die oorblywende verweerder in die hangende geding, is `n beslote korporasie waarvan die tweede respondent die enigste lid is. Die eerste respondent, die eksekusiekoper, is `n maatskappy wat die tweede en derde respondente as sy enigste aandeelhouers en direkteure het.
Ten tyde van die verkoping was die hangende geding deels verhoor en het die verhoorregter reeds `n aansoek deur die vyfde respondent om absolusie van die instansie van die hand gewys. Na die eksekusieverkoping het die eerste respondent se prokureurs die appellant se prokureurs in kennis gestel dat die eerste respondent reghebbende geword het van die appellant se belang in die hangende geding en opdrag gegee dat verdere litigasie gestaak moes word. Die appellant het daarop aksie ingestel teen die respondente vir die tersydestelling van die eksekusieverkoping op grond daarvan dat dit 'n misbruik van die "hofprosedure" daargestel het en contra bonos mores was. In die onderhawige geval moes die eksekusielasbrief uitgereik word deur die griffier van die hof en ingevolge die reëls van die hof en moes die eksekusieverkoping plaasvind ingevolge die reëls van die hof. Vir die rede word die eksekusieverkoping in die appellant se besonderhede van vordering beskryf as 'n misbruik van die hofprosedure. Ek verkies om te praat van die regsproses synde die prosedure wat daargestel is vir die verhaal van 'n geldskuld. Dit sluit dus die litigasieproses sowel as die eksekusieproses in. Slegs die eerste, tweede, derde en vyfde respondente het die aksie verdedig. Ek sal voortaan na hulle gesamentlik verwys as die respondente.
Die hof a quo het die appellant se aksie van die hand gewys. Die uitspraak is gerapporteer as Brummer v Gorfil Brothers Investments (Pty) Ltd 1997 (2) SA 411 (T). Die hof a quo het beslis dat waar eksekusiestappe gedoen word en dit nog nie volvoer is nie, daar geen twyfel bestaan dat `n hof in gepaste gevalle daarmee kan inmeng nie maar dat die posisie anders is waar die eksekusieproses reeds volvoer is. In laasgenoemde geval sou `n hof slegs inmeng as daar `n hersienbare onreëlmatigheid in die proses was wat die skuldenaar benadeel het. Bybedoelings, bedekte beweegredes of selfs nydigheid, sou dan nie meer aangevoer kon word as gronde waarop die volvoerde proses tersyde gestel moes word nie. Met die verlof van hierdie hof appelleer die appellant teen die uitspraak.
Tydens die voorverhoorsamespreking het die respondente erken dat hulle gesamentlik besluit het om beslag te laat lê op die appellant se reg, titel en belang in sy eis en om dit te koop by die eksekusieverkoping. Hulle het verder erken dat hulle hoofbedoeling was om `n einde aan die litigasie te maak. In die opdrag aan die balju om voort te gaan met die eksekusieverkoping het die respondente se prokureurs in opdrag van die tweede en derde respondente en tot die kennis van die eerste en vyfde respondente, gesê dat hulle kliënt glo dat die aksie kwelsugtig is. Die afleiding kan gevolglik gemaak word dat die beslaglegging en eksekusieverkoping nie geskied het met die doel om die tweede en derde respondente se koste te verhaal nie.
`n Reg op skadevergoeding uit hoofde van kontrakbreuk is `n onliggaamlike saak. Dit is `n bate in die reghebbende se boedel en kan in die reël deur hom verkoop word en by wyse van sessie oorgedra word. Na instelling van aksie deur die reghebbende en voor litis contestatio kan die reg steeds deur hom verkoop en oorgedra word. In die Romeinse reg was die voorwerp van die oordrag `n aksie en nie `n reg nie (Scott, The Law of Cession, 2de uitgawe, bl.12). By litis contestatio het `n actio in personam `n actio litigiosa geword waarvan die oordrag verbode was (Waikiwi Shipping Co. Ltd. v Thomas Barlow and Sons (Natal) Ltd. 1978 (1) SA 671 (A) (“Waikiwi”) op 676H). In Waikiwi is die vraag oopgelaat of die Romeinse verbod steeds geld, d.w.s. of die oordrag van `n eiser se reg, titel en belang in `n aksie steeds nie na litis contestatio kon geskied nie (678F). Dit is egter wel beslis dat indien dit gedoen kon word, `n gepoogde vervreemding slegs effektief kon wees tot die mate wat die verweerder nie daardeur benadeel word nie (678F). Soos uitgewys in Waikiwi op 677G is sedert 1926 in `n aantal Suid-Afrikaanse sake óf aanvaar óf aangeneem dat `n actio litigiosa gesedeer kan word. In beginsel is daar geen rede om die sessie van `n reg vóór litis contestatio toe te laat, maar nie die sessie van die reg, titel en belang van die reghebbende in die aksie, onderhewig aan die regte van die verweerder, ná litis contestatio nie. Na my mening geld die Romeinse verbod gevolglik nie meer nie.
Die appellant betoog dat die beslaglegging en verkoping slegs die beslaglegging en verkoping van `n spes was, en met `n beroep op die beslissing in Mears v Pretoria Estate and Market Co. Ltd 1906 TS 661 op 668, dat `n spes nie beslaglegbaar is nie. In Waikiwi, op 677H, is `n onderskeid getref tussen die reg ten opsigte waarvan die aksie ingestel is, die reg wat voorspruit uit litis contestatio om die aksie te volvoer tot sy einde en die vooruitsig op voordele wat mag voortspruit uit `n suksesvolle volvoering van die aksie of te wel `n spes. Of `n bepaalde vervreemding `n vervreemding is van die reg ten opsigte waarvan die aksie ingestel is, of slegs van `n spes, is `n vraag wat aan die hand van die feite van die bepaalde geval beantwoord moet word (Waikiwi op 678 in fine). In die onderhawige geval was die beslaglegging en verkoping nie `n beslaglegging en verkoping van die spes of die vooruitsig op die voordele wat die appellant moontlik kon toeval as gevolg van `n gunstige volvoering van die hangende geding nie, maar wel van die appellant se reg, titel en belang in die hangende geding.
Die appellant betoog verder dat alhoewel die tweede en derde respondente beslag kon lê op sy reg, titel en belang in die hangende geding en dit in eksekusie kon laat verkoop, hulle dit nie kon doen met die doel om die geding tot 'n einde te bring nie. So’n oogmerk, is aldus die appellant se betoog, `n “ulterior motive” wat “die regmatigheid van andersins regmatige optrede negativeer”. Die appellant voer aan dat dit uiters onbillik en teen die openbare belang is om so’n verkoping toe te laat. As gesag steun hy hoofsaaklik op die beslissing in Whitfield v Van Aarde 1993 (1) SA 332 (EC) (“Whitfield”).
In Whitfield het die applikant aansoek gedoen vir die opskorting van `n eksekusieverkoping tot 14 dae na die finale afhandeling van `n aksie deur hom ingestel teen die respondent. Die aksie was vir skade wat na bewering deur die applikant gely is as gevolg van nalatige behandeling deur die respondent, `n neurochirurg. Op die dag waarop met die verhoor begin sou word, is die aksie op versoek van die applikant uitgestel omrede een van sy deskundige getuies hom die aand vantevore meegedeel het dat hy van mening verander het. Die applikant is beveel om die koste te betaal en op grond van `n getakseerde kosterekening het die respondent op die applikant se reg, titel en belang in die aksie teen hom beslag gelê. Nepgen R het beslis dat die hof `n inherente diskresie het om `n eksekusieverkoping op te skort (337F). In dié verband het hy gesteun op Graham v Graham 1950 (1) SA 655 (T) op 658 waar Clayden R na 'n verwysing na `n skuldeiser se reg ingevolge die toepaslike reël om `n eksekusielasbrief uit te reik, gesê het “the discretion must, I think, still be in the Court to stay the use of its process where ‘real and substantial justice’ requires such stay, where injustice would otherwise be caused.” Daarbenewens het Nepgen R gesteun op Strime v Strime 1983 (4) SA 850 (C) op 852A met dieselfde strekking; Soja Ltd v Tuckers Land Development Corporation 1981 (2) SA 407 (W) (“Soja”) op 411A-C; Bestbier v Jackson 1986 (3) SA 482 (W) op 484 I en First Consolidated Leasing Corporation Ltd v Theron 1974 (4) SA 244 (T) op 247.
Ten aansien van die vraag of hy sy diskresie ten gunste van die applikant moes uitoefen, het Nepgen R gesê (op 339C-G):

“In my judgment a factor which has a considerable bearing on the question of whether I should exercise my discretion in the applicant's favour is that the respondent has little, if any, prospect of obtaining satisfaction of the whole or any part of the judgment debt should the sale in execution be allowed to take place. However, of even greater importance in this regard is the fact that it is apparent that the respondent is not really seeking satisfaction of the judgment. His motive is to put an end to the litigation by obtaining possession and control of the applicant's claim against him. During the course of argument this was expressly stated by Mr Buchanan, who appeared on behalf of the respondent, to be the respondent's only motive. . .

I have no hesitation whatsoever in coming to the conclusion that I should exercise my discretion in the applicant's favour. The contentions to the contrary, insofar as they relate to the actual payment of the costs, advanced on behalf of the respondent are of no significance, once it is realised that the respondent's motive is not to recover such costs but to put an end to the litigation. This is not a case of a judgment debtor having to pay the price of forfeiting his claim in order to put the judgment creditor in possession of funds which will go towards satisfying his claim, for the judgment creditor is not in this case seeking to obtain such funds. Therefore the reliance the respondent seeks to place on the dicta referred to in Madden's case supra and Marais v Aldridge and Others (supra), is unfounded. The true position is that the respondent is attempting to make use of a process of the Court, which is designed to enable him to obtain satisfaction of the judgment for costs granted in his favour, for the purpose of putting an end to the litigation against him and for that purpose only. His purpose is therefore an ulterior one. In this regard it is in my view appropriate to refer to what was stated by De Villiers JA in Hudson v Hudson and Another 1927 AD 259 at 268:

'When therefore, the Court finds an attempt made to use for ulterior purposes machinery devised for the better administration of justice, it is the duty of the Court to prevent such abuse. But it is a power which has to be exercised with great caution, and only in a clear case.'

A clearer case of an abuse of the process of Court than the present one is difficult to imagine.”

In Bestbier v Jackson 1986 (3) SA 482 (W), `n ander beslissing waarop die appellant steun, het die verweerder op grond van `n kostebevel vanweë `n uitstel van die saak op die eiser se belang in die aksie beslag gelê. Hangende `n aansoek vir die hersiening van die taksasie van die betrokke kosterekening het die verweerder opdrag gegee aan die balju om voort te gaan met die eksekusieverkoping. Die eiser het daarop aansoek gedoen vir die opskorting van die eksekusieverkoping. Coetzee R het die aansoek toegestaan. Hy het saamgestem met Nestadt R se beslissing in Soja op 411A dat hy `n diskresie het om so’n bevel te maak. Dit was vir Coetzee R duidelik dat die belang waarop beslag gelê is geen waarde gehad het vir enigiemand anders as die twee verweerders nie; dat, indien dit opgeveil sou word, dit verkoop sou word vir feitlik niks nie en dat die eiser van sy vordering in die saak waarin die kostebevel gemaak is, ontneem sou word. Op 485B-F het hy gesê:

“(T)his kind of execution is something that ought not to be and will not be encouraged by the Courts. . . .

It is perfectly obvious that justice requires that this review of taxation be proceeded with, or at least that the applicant be given an opportunity to proceed with it, and that, pending that, this rather harassing sale in execution of his very cause of action in that action, be stayed.”

Die appellant betoog dat die feit dat, anders as in Whitfield, in die onderhawige geval reeds `n verkoping plaasgevind het, nie enige verskil maak nie omrede die tersydestelling van die eksekusieverkoping nie die regte van onskuldige derdes affekteer nie en dit moet volg, aldus die betoog, dat indien die beslaglegging teen die openbare belang is, die verkoping ook teen die openbare belang moet wees.
Enige twyfel wat mag bestaan het oor die bevoegdheid van `n hof om `n verkoping in eksekusie op te skort, is uit die weg geruim deur die bepalings van hofreël 45A wat uitdruklik bepaal dat die hof die uitvoering van `n bevel mag opskort vir sodanige tydperk as wat dit mag goeddink. Waar die vonnisskuldeiser en beslaglegger van `n eiser se reg, titel en belang in `n aksie die verweerder in daardie aksie is, sal die feit dat die eiser se eis, indien suksesvol, sy vonnisskuld teenoor die verweerder sal uitwis, `n relevante faktor wees wat die hof in die uitoefening van sy diskresie ingevolge reël 45A in ag sal moet neem. Indien die verweerder `n teeneis, anders as `n vonnis maar wat deur die eiser erken word, teen die eiser gehad het vir die betaling van `n geldsom, sou die eiser ingevolge reël 22(4) kon vra dat uitspraak ten opsigte van daardie gedeelte van die verweerder se teeneis wat deur sy eis, indien suksesvol, uitgewis sou word, uitgestel word tot tyd en wyl uitspraak op sy eis gegee is. Uitspraak op die verweerder se teeneis sou dan in die geheel of gedeeltelik uitgestel word tensy die hof anders sou beveel. Dit kan duidelik onbillik teenoor `n verweerder wees om van hom te verlang om sy skuld aan `n eiser te betaal indien dit moontlik uitgewis sal word deur `n ongelikwideerde teenvordering wanneer vonnis ten opsigte daarvan gegee word. Dit is waarskynlik die oorweging wat aanleiding gegee het tot die aanname van reël 22(4). Dieselfde oorweging geld ook waar `n party tot `n geding `n kostebevel teen `n ander party wat `n ongelikwideerde vordering teen hom het, wil afdwing. In die onderhawige geval was die beslaglegger natuurlik nie die verweerder in die betrokke aksie nie.
In Eastwood v Shepstone 1902 TS 294 (“Eastwood”) op 302 het Innes HR gesê:

“Now this Court has the power to treat as void and to refuse in any way to recognise contracts and transactions which are against public policy or contrary to good morals. It is a power not to be hastily or rashly exercised; but when once it is clear that any arrangement is against public policy, the Court would be wanting in its duty if it hesitated to declare such an arrangement void. What we have to look to is the tendency of the proposed transaction, not its actually proved result.”

Ooreenkomste is “against public policy” indien hulle teen die openbare belang is (sien Sasfin (Pty) Ltd v Beukes 1989 (1) SA 1 (A) (“Sasfin”) op 8A-C). Smalberger AR sê in Sasfin op 8D:

“Agreements which are clearly inimical to the interests of the community, whether they are contrary to law or morality, or run counter to social or economic expedience, will accordingly, on the grounds of public policy, not be enforced”.

Alhoewel normaalweg `n onderskeid getref word tussen kontrakte wat onwettig of onafdwingbaar is omrede hulle teen die openbare belang is of omrede hulle contra bonos mores is, wys Smalberger AR daarop dat die klassifikasie van kontrakte in kontrakte wat contra bonos mores is en kontrakte wat teen die openbare belang is, omruilbaar is, en dat wanneer `n hof weier om `n kontrak af te dwing dit per slot van rekening gedoen word op grond van die openbare belang (8E-F). Vir dié rede is die feit dat die appellant in sy besonderhede van vordering beweer het dat die verkoping contra bonos mores was, maar betoog het dat dit teen die openbare belang was, van geen belang nie.
Die waarskuwing in Eastwood om nie te geredelik te weier om erkenning aan `n kontrak of transaksie te verleen op grond daarvan dat dit teen die openbare belang sou wees om dit te doen nie, is weer eens beklemtoon in Sasfin. Smalberger AR sê in dié verband op 9 B en E:

“No court should ... shrink from the duty of declaring a contract contrary to public policy when the occasion so demands. The power to declare contracts contrary to public policy should, however, be exercised sparingly and only in the clearest of cases, lest uncertainty as to the validity of contracts result from an arbitrary and indiscriminate use of the power. One must be careful not to conclude that a contract is contrary to public policy merely because its terms (or some of them) offend one’s individual sense of propriety and fairness. . . .
. . .
In grappling with this often difficult problem it must be borne in mind that public policy generally favours the utmost freedom of contract, and requires that commercial transactions should not be unduly trammelled by restrictions on that freedom.”

`n Faktor wat in ag geneem moet word by die beoordeling van die vraag of `n transaksie teen die openbare belang is al dan nie, is dat die openbare belang ook gedien word deur “simple justice between man and man” (sien Sasfin op 9G en ook per Van Heerden AR op 28A-B; sien ook Botha (now Griessel) v Finanscredit (Pty) Ltd 1989 (3) SA 773 (A) op 783A-B).
Ek handel eers met die vraag of die beslaglegging en eksekusieverkoping met die doel om die hangende geding te beëindig en nie om 'n vonnisskuld, synde die tweede en derde respondente se getakseerde koste, te verhaal nie, 'n misbruik van die regsproses daargestel het.
In Hunter v Chief Constable of West Midlands and Another [1981] 3 All ER 727 (HL) (“Hunter”) het Lord Diplock gesê op 729:

“My Lords, this is a case about abuse of the process of the High Court. It concerns the inherent power which any court of justice must possess to prevent misuse of its procedure in a way which, although not inconsistent with the literal application of its procedural rules, would nevertheless be manifestly unfair to a party to litigation before it, or would otherwise bring the administration of justice into disrepute among right-thinking people. The circumstances in which abuse of process can arise are very varied; those which give rise to the instant appeal must surely be unique. It would, in my view, be most unwise if this House were to use this occasion to say anything that might be taken as limiting to fixed categories the kinds of circumstances in which the court has a duty (I disavow the word discretion) to exercise this salutary power.”

Wat in `n bepaalde geval as `n misbruik van die regsproses in Engeland beskou mag word, sal natuurlik nie noodwendig as sodanig in Suid-Afrika beskou word nie. Die beginsel hierbo aangehaal en waarop die saak beslis is, is egter dieselfde beginsel as waaraan erkenning verleen is in Hudson waarna in Whitfield verwys is en wat ook hierbo aangehaal is. In Hudson het die eiser `n eksepsie opgewerp teen `n tweede verweerder se verweerskrif op dieselfde basis as waarop eksepsie onsuksesvol geneem is teen die eerste verweerder se verweerskrif. Die hof het bevind dat dit gedoen is slegs om `n uitstel te verkry en dat dit `n misbruik van die regsproses was. Die eksepsie is gevolglik geskrap. Die respondente het gepoog om Hudson te onderskei op die basis dat die eiser in Hudson geen bedoeling gehad het om `n eksepsie op te werp nie terwyl die bedoeling in die onderhawige geval wel was om op die betrokke reg beslag te lê en dit in eksekusie te verkoop. In Hudson is geen aanduiding te vinde dat die beslissing enigsins anders sou gewees het indien die eiser, ten einde `n uitstel te verkry, van voorneme was om deur die futiele oefening, om sy eksepsie te argumenteer, te gaan nie. Dit blyk ook nie dat die hof van mening was dat dit nie die bedoeling van die eiser was nie. Dit is nietemin, aldus die respondente, die basis waarop die beslissing in Hudson versoen moet word met die beslissing in Tsose v Minister of Justice 1951 (3) SA 10 (A) (“Tsose”).
In Tsose het Schreiner AR op 17G-H gesê

“For just as the best motive will not cure an otherwise illegal arrest so the worst motive will not render an otherwise legal arrest illegal.”

Tsose is gearresteer op `n klagte dat hy onwettig op `n plaas was. Die saak teen hom is uitgestel en hy is op borgtog vrygelaat. Daarna en voor die datum waarna die saak uitgestel is, is hy weer eens gearresteer. Die saak is na dieselfde datum as die vorige een uitgestel maar geen borgtog is aan hom verleen nie. Hy het aansoek gedoen vir `n interdik wat die polisie sou verbied om hom te arresteer op `n klagte van betreding terwyl `n ander klagte van betreding hangende was. Dit was nie betwis dat die polisie te kenne gegee het dat hulle sou voortgaan om hom te arresteer wanneer ookal hy op die plaas gevind word tot tyd en wyl hy die plaas verlaat het nie. Die vraag was of hierdie motief die arres onregmatig gemaak het. Schreiner AR het ten aansien van hierdie vraag beslis op 17 C-E:

“If the object of the arrest, though professedly to bring the arrested person before the court, is really not such, but is to frighten or harass him and so induce him to act in a way desired by the arrestor, without his appearing in court, the arrest is, no doubt, unlawful. But if the object of the arrestor is to bring the arrested person before the court in order that he may be prosecuted to conviction and so may be led to cease to contravene the law the arrest is not rendered illegal because the arrestor’s motive is to frighten or harass the arrested person into desisting from his illegal conduct.”
Tsose is geen gesag vir die proposisie dat waar die prosedurereëls van die hof aangewend word ten einde `n ander doel te bereik as waarvoor hulle bestem is, `n hof niks daaromtrent kan doen nie. Die arrestasies was waarskynlik wettige arrestasies ingevolge die Strafproseswet 31 van 1917 wat op daardie stadium gegeld het en is nie gedoen ingevolge die prosedurereëls van die hof nie. Hulle is gevolglik nie geraak deur die beginsel waarna in Hudson en Hunter verwys is nie.
In Estate Logie v Priest 1926 AD 312 (“Estate Logie”) het die hof beslis dat dit nie onbehoorlik van `n krediteur was om aansoek te doen vir die sekwestrasie van sy skuldenaar se boedel met die doel om betaling van sy skuld te kry en nie om `n concursus creditorum te bewerkstellig nie. Die hof was van mening dat die beweegrede van persone wat sekwestrasieverrigtinge aanhangig maak normaalweg was om betaling van hulle skuld te verkry en dat hulle nie beïnvloed word deur altruïstiese oorwegings of besorgdheid oor ander skuldeisers wat hulle eie belange kan behartig nie (319). Die hof was gevolglik van mening dat die regsproses nie misbruik is nie. In sy uitspraak het Solomon AR verwys na King v Henderson [1898] AC 720 (“King”). Volgens Solomon AR (op 320) is in King beslis dat “it is neither fraud nor an abuse of the powers of the Court to petition for a sequestration order with an indirect motive, that is, for a purpose other than the equal distribution of the testator’s assets, as, for example, to exclude the appellant from a partnership”. Hierdie passasie was egter nie bedoel om te sê dat motief of doel nooit ter sake is nie en dit is ook nie hoe Solomon AR dit verstaan het nie. Al wat in King beslis is, is dat motief op sigself nie `n misbruik van die regsproses daarstel nie. Lord Watson het op 731 gesê:

“In the opinion of their Lordships, mere motive, however reprehensible, will not be sufficient for that purpose (to constitute an abuse of process or a fraud on the Court); it must be shewn that, in the circumstances in which the interposition of the Court is sought, the remedy would be unsuitable, and would enable the person obtaining it fraudulently to defeat the rights of others, whether legal or equitable.”
[Die gedeelte tussen hakies is deur my ingevoeg.]

Ter illustrasie het Lord Watson verwys na Ex parte Gallimore 2 Rose 424 (“Gallimore”); Ex parte Wilbran 5 Madd. 1 (“Wilbran”); In re Davies 3 Ch. D. 461 (“Davies”)en Ex parte Griffin 12 Ch. D. 480 (“Griffin”). In Gallimore is sekwestrasieverrigtinge tersyde gestel nieteenstaande die feit dat al die vereistes aanwesig was omrede die applikant `n indirekte en onbehoorlike doel gehad het, naamlik die beëindiging van `n huurkontrak. Dit is beskou as `n gebruik van die prosedure vir `n bedrieglike doel (King op 732). Na verwysing na en goedkeuring van die stelling in Wilbran dat “the courts of justice had no concern with the motives of parties who asserted a legal right” het Lord Watson op 732 gesê:

“Motive cannot in itself constitute fraud, although it may incite the person who entertains it to adopt proceedings which, if successful, would necessarily lead to a fraudulent result; and it is not the motive, but the course of procedure which leads to that result, which the law regards as constituting fraud.”

(My kursivering.)

Hierdie passasie is met oënskynlike goedkeuring deur Solomon AR aangehaal in Estate Logie (320).
In In re Majory [1955] Ch 600 op 623-624 het Evershed M.R., Jenkins en Romer L.JJ. na verwysing na verskeie gewysdes, ook Wilbran, gesê dat daar `n algemene reël is “that court proceedings may not be used or threatened for the purpose of obtaining for the person so using or threatening them some collateral advantage to himself, and not for the purpose for which such proceedings are properly designed and exist; and a party so using or threatening proceedings will be liable to be held guilty of abusing the process of the court and therefor disqualified from invoking the powers of the court by proceedings he has abused.” Die beginsel dat die regsproses misbruik word wanneer dit gebruik word vir `n doel waarvoor dit nie bestem is nie word ook in Australië erken (sien Packer v Meagher [1984] 3 NSWLR 486 op 492 en T J M Products (Pty) Ltd v A & P Tyres (Pty) Ltd [1988] 78 ALR 579 (Federal Court) op 585).
Sedert die beslissing in Hudson is ook in verskeie Suid-Afrikaanse beslissings geweier om toe te laat dat die regsproses misbruik word deur die aanwending daarvan vir 'n doel waarvoor dit nie bestem is nie (vgl Janit v Motor Industry Fund Administrators (Pty) Ltd 1995 (4) SA 293 (A) op 308G; Beinash v Wixley 1997 (3) SA 721 (SCA) ("Beinash") op 734G).
In Beinash moes die hof beslis of die uitreiking van 'n getuiedagvaarding 'n misbruik van die regsproses was. Mahomed HR sê op 734 F-G:

"What does constitute an abuse of the process of the Court is a matter which needs to be determined by the circumstances of each case. There can be no all-encompassing definition of the concept of 'abuse of process'. It can be said in general terms, however, that an abuse of process takes place where the procedures permitted by the Rules of the Court to facilitate the pursuit of the truth are used for a purpose extraneous to that objective. ... A subpoena duces tecum must have a legitimate purpose."

In Standard Credit Corporation Ltd v Bester 1987 (1) SA 812 (W) is in nog meer algemene terme gesê (op 820A-B):

"In general terms, however, an abuse of the process of the court can be said to take place when its procedure is used by a litigant for a purpose for which it was not intended or designed, to the prejudice or potential prejudice of the other party to the proceedings."

In Goldsmith v Sperrings Ltd [1977] 2 All ER 566 [CA] was die vraag of sekere aksies `n misbruik van die regsproses daargestel het. Scarman LJ het die toets soos volg geformuleer op 582c:

“In the instant proceedings the defendants have to show that the plaintiff has an ulterior motive, seeks a collateral advantage for himself beyond what the law offers, is reaching out ‘to effect an object not within the scope of the process’: Grainger v Hill (1838) 4 Bing NC 212 at 221 per Tindal CJ. In a phrase, the plaintiff’s purpose has to be shown to be not that which the law by granting a remedy offers to fulfil, but one which the law does not recognise as a legitimate use of the remedy sought: ...”

Dit is nie net die hoofdoel waarvoor 'n spesifieke regsproses bestem is wat geoorloof is nie en ek meen nie dat die voormelde formulerings van die toets om te bepaal of 'n aanwending van die regsproses 'n misbruik daarvan is, verstaan moet word om te sê dat dit die geval is nie. Die aanwending van 'n regsproses vir 'n doel anders as die spesifieke doel waarvoor dit bestem is, kan nietemin redelik wees. Dit sal die geval wees indien daardie doel binne die breë bestek van die betrokke regsproses val. So byvoorbeeld kan in sekere omstandighede aansoek gedoen word vir 'n bevel dat die eiser sekuriteit vir koste verskaf. 'n Verweerder wat so 'n aansoek doen met die doel om 'n einde aan die litigasie te maak, maak nietemin redelike gebruik van die betrokke regsproses omrede sy doel binne die breë bestek van die betrokke regsproses val. Dit is in die woorde van Mahomed HR 'n "legitimate purpose". Daarteenoor, indien dit onredelik is om die regsproses vir sodanige doel te gebruik, word dit misbruik. Dit sal die geval wees indien die regsproses gebruik word vir 'n doel wat geen verband hou met die doel waarvoor dit bestem is nie.
In King, Wilbran en Estate Logie was die hof nie van mening dat die regsproses onbehoorlik aangewend is nie. In beide Wilbran en King is beslis dat `n sekwestrasie om die vennootskap wat aan die applikant geld skuld te ontbind eenvoudig `n bymotief was wat geen misbruik van die prosedure daargestel het nie. In Estate Logie is na my mening heeltemal tereg bevind dat die aanwending van die sekwestrasieprosedure ten einde betaling van `n geldskuld te bekom nie `n onbehoorlike aanwending van daardie prosedure was nie.
Weer eens word nie te kenne gegee dat wat elders beskou is as `n misbruik van die regsproses ook in Suid-Afrika so beskou sal word nie. Opvattings verander van tyd tot tyd en van gemeenskap tot gemeenskap
Die uitwinningsprosedure vervat in die hofreëls is bestem om gebruik te word om `n vonnisskuld te verhaal. In die onderhawige geval het die respondente die uitwinningsproses ten opsigte van die appellant se reg, titel en belang in die hangende geding teen die vyfde respondent aangewend, nie om die appellant se vonnisskulde teenoor die tweede en derde respondente of `n gedeelte daarvan te verhaal nie, maar wel om sodanige reg, titel en belang te bekom ten einde die litigasie te beëindig.
Die respondente betoog dat soortgelyke optrede goedgekeur is in die sake Marais v Aldridge 1976 (1) SA 746 (T) (“Marais”), Madden v BP Southern Africa (Pty) Ltd 1967 (2) SA 326 (D) (“Madden”), Mahabeer v Rajpathi 1961 (4) SA 269 (D) (“Mahabeer”)en Klisser v Gold 1961 (1) SA 821 (D) (“Klisser”). Na my mening is dit nie so nie.
In Marais het `n derde party op `n eiser se belang in `n aksie beslag laat lê en is dit in eksekusie verkoop aan die verweerder in die aksie. Enige samespanning tussen die derde party en die verweerder is ontken. Daar was geen suggestie dat die derde party nie gepoog het om die eiser se vonnisskuld teenoor hom te verhaal nie. Onder die omstandighede stem ek saam met die stelling van Melamet R wat die saak beslis het, dat dit nie saak maak dat die koper die reg van die eiser om met die aksie voort te gaan, sou frustreer nie (750C). Die uitwinningsprosedure is nie misbruik nie. Die derde party het dit gebruik om sy vonnisskuld te verhaal.
In Madden het die respondent beslag laat lê op die applikant se belang in die uitslag van `n appèl wat die applikant aangeteken het teen `n vonnis ten gunste van die respondent betreffende die applikant se reg op okkupasie van sekere persele. Die applikant het aansoek gedoen vir `n opskorting van die eksekusieverkoping op grond daarvan dat die respondent sy reg kon inkoop en die appèl kon frustreer. Miller R het soos volg beslis (328 A-C):

“It seems to me to be correct that in the event of Mr. Friedman's clients purchasing this particular asset, namely the interest which the judgment debtor has in the appeal presently pending, he could in effect frustrate the applicant's whole intent and purpose, which is to have the decision of this Court set aside by a higher tribunal. It does not follow, of course, that the judgment creditor will acquire this right at the sale in execution but, even if he does and decides to utilise his right in a way which would frustrate the applicant's right of appeal, that is merely one of the incidents of the sale in execution; it is part of the price which the judgment debtor, who cannot pay his creditor in any other way, has to pay in order to put the judgment creditor in possession of funds which will go towards satisfying his claim.

No other ground has been advanced by the applicant why the advertised sale should be stayed nor am I aware of any.”

Dit is dus nie aangevoer dat die uitwinningsprosedure nie aangewend word om `n skuld te verhaal nie. Wat die effek sou wees indien dit die geval was, is gevolglik nooit deur die hof oorweeg nie.
Ook in Klisser en Mahabeer, waarin die applikante aansoek gedoen het vir bevele wat die balju magtig om op hul teenpartye se belange in die betrokke gedinge beslag te lê, is nie aangevoer dat die uitwinningsprosedure nie aangewend word vir die doel waarvoor dit bestem is nie en dat dit gevolglik `n misbruik van die regsproses daargestel het nie.
Alhoewel die sake waarna hierbo verwys is en waarin gehandel word met 'n misbruik van die regsproses, meestal handel met 'n misbruik van die resproses insoverre dit betrekking het op die litigasieproses,bestaan daar na my mening geen logiese rede of beginsel op grond waarvan 'n hof se plig om 'n misbruik van die "machinery devised for the better administration of justice" (synde die woorde gebruik in Hudson) te voorkom, beperk behoort te word tot die litigasieproses nie en waarom dit nie ook moet geld ten opsigte van die eksekusieproses nie.
Dit is onwaarskynlik dat enigiemand anders as `n verweerder, of `n vriend van die verweerder, of `n persoon wat `n belang in die verweerder het (hierna `n handlanger genoem), met die doel om `n einde aan die litigasie te maak, op `n eiser se eis teen die verweerder sal laat beslag lê en dit sal koop op die eksekusieverkoping. So’n aanwending van die eksekusieproses is `n aanwending daarvan vir `n doel wat geen verband hou met die doel waarvoor die uitwinningsproses bestem is nie. Daar is ander prosedures wat gevolg kan word om `n eiser aan bande te lê indien beweer word dat die verrigtinge deur hom ingestel, kwelsugtig is. So’n aanwending van die uitwinningsproses is verder `n aanwending daarvan wat onbillik teenoor `n verweerder kan wees en wat die regsadministrasie in `n swak lig kan stel. Indien dit toegelaat word, kan enige kostebevel of enige ander skuld van `n minvermoënde eiser teenoor die verweerder of `n handlanger of 'n skuld wat deur die verweerder of handlanger bekom kan word, fataal wees vir die eiser se eis. Dit kan meebring dat hy, omrede hy nie `n skuld kan betaal nie, sy eis ontneem word sonder dat sy skuld enigsins verminder word en dít deur die aanwending van `n prosedure wat nie vir daardie doel bestem is nie. Dit is so omrede litigasie `n baie duur en uitgerekte proses kan wees en in baie gevalle, veral waarskynlik waar die eiser `n minvermoënde, ongesofistikeerde persoon is; die verweerder `n vermoënde persoon is; die eis hand en tand beveg word en die bewys daarvan afhang van die eiser se getuienis, daar hoegenaamd geen mark vir daardie eis sal wees nie. Indien so’n proses toegelaat word, word die minvermoënde eiser, indien hy 'n fout in die geding deur hom ingestel sou maak wat 'n kostebevel teen hom tot gevolg het, uitgelewer aan die genade van die verweerder. Die feite in Whitfield illustreer die onbillike resultate wat sulke optrede tot gevolg kan hê. In die onderhawige geval het die appellant, wat met regshulp litigeer en wat geen ander bates gehad het waarop beslag gelê kon word nie, dan ook sy eis verloor sonder dat sy vonnisskuld teenoor die tweede en derde respondente verminder het. Aan die ander kant sal dit geensins onbillik wees om nie die verweerder of `n derde toe te laat om so op te tree nie. Al wat van hulle verlang word, is om nie die regsproses te gebruik vir `n doel waarvoor dit nie bestem is nie.
Vir die voormelde redes is ek van mening dat die beslaglegging op appellant se reg, titel en belang met die doel om dit by die eksekusieverkoping te koop ten einde `n einde aan die litigasie te maak en nie om die onderliggende vonnisskuld te verhaal nie, `n misbruik van die uitwinningsproses was wat nie toegelaat behoort te word nie.
Dit is betoog dat selfs indien die beslaglegging tersyde gestel kon word dit nie meer die geval was toe die verkoping plaasgevind het nie. Aldus die betoog moes die appellant aansoek gedoen het vir die opskorting van die tenuitvoerlegging van die hofbevel. Nieteenstaande die feit dat die appellant nie aansoek gedoen het vir die opskorting van die beslaglegging nie, was die eksekusieverkoping `n integrale deel van die misbruik wat van die uitwinningsproses gemaak is. Die misbruik is van so 'n aard en die gevolge daarvan is sodanig dat dit teen die openbare belang is om dit toe te laat. Die verkoping as sulks was gevolglik teen die openbare belang
In Sookdeyi v Sahadeo 1952 (4) SA 568 (A) op 572A verwys Van den Heever AR na die traagheid, volgens ons gewysdes, om met eksekusieverkopings wat reeds uitgevoer is in te meng. Hy noem egter ook dat hulle in sekere uitsonderlike gevalle aangeveg kan word. Daar kan na my mening geen rede bestaan waarom `n eksekusieverkoping wat teen die openbare belang is nie tersydegestel kan word as geen onskuldige derdes deur so’n tersydestelling geraak sal word nie.

Ek meen gevolglik dat die appèl behoort te slaag en dat die eksekusieverkoping tersyde gestel behoort te word.

__________________

P E STREICHER
APPéLREGTER





NGOEPE Wnd AR - Stem saam


SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1999/7.html