SAFLII [Home] [Databases] [WorldLII] [Search] [Feedback]

South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1999 >> [1999] ZASCA 68

[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]


Vaal Reefs Exploration and Mining Company v Burger (2) (264/97) [1999] ZASCA 68 (21 September 1999)



IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

VAN SUID AFRIKA

SAAKNOMMER: 264/97



In die saak tussen


VAAL REEFS EXPLORATION
AND MINING COMPANY LIMITED Appellant


en


BRENDA BENJAMIN BURGER Respondent

HOF: VAN HEERDEN Adj HR, GROSSKOPF, HARMS, MARAIS en STREICHER ARR


VERHOOR: 27 Augustus 1999


GELEWER: 21 September 1999

Sleutelbegrip: Art 15 van die Wet op Huweliksgoedere 88 van 1984




UITSPRAAK





MARAIS/AR





MARAIS AR:
[1] Ek het die voordeel gehad om die uitspraak van Harms AR te lees. Ek is dit met hom eens dat die appèl moet slaag maar om ander redes. Ek glo nie dat dit op die pleitstukke die hof vrystaan om te bevind dat die sessie aksessoor t.o.v. die hoofskuld is en nie die borgverpligting nie. Appellant (eiser) se saak was juis die teendeel. In bede (c) het appellant uitdruklik gevra vir ‘n verklarende bevel “declaring the plaintiff to be holding as security for the aforesaid claim against the defendant [nie die hoofskuldenaar nie] the proceeds standing to the credit of account number 11994091009 with Saambou Bank and declaring the plaintiff to be entitled to the proceeds so standing to the credit of such account up to a maximum of R500 000,00". (My beklemtoning.) As appellant sou beweer het dat die sessie ter onderskraging van die hoofskuldenaar se verpligting gegee was, sou respondent dit moontlik betwis het en, indien nodig, in die alternatief gepleit het dat, as die ooreenkoms anders vertolk moet word dit nie ‘n juiste weerspieëling van die gemeenskaplike bedoeling was nie.
[2] Die bede berus ook, na my mening, op die korrekte vertolking van die dokument. Nêrens is daar enigiets daarin te vinde wat sou aandui dat die sessie nie ter ondersteuning van die borgstelling was nie maar ter ondersteuning van die hoofskuldenaar se skuld. Trouens, sonder die meegaande borgstelling sou dit moeilik gewees het om te konkludeer dat die sessie nie ‘n uit en uit sessie maar ‘n sessie in securitatem debiti was. Selfs as die mondelinge getuienis voor die hof a quo as toelaatbaar beskou word nieteenstaande die afwesigheid van enige eis vir rektifikasie deur die appellant, is daar geen stawing vir so ‘n bevinding nie. Dit is nie verbasend nie want, soos ek voorheen gesê het, was dit nie die appellant se saak dat die sessie ter ondersteuning van die hoofskuld was nie. Toe die appellant se advokaat die appellant se saak geopen het, het hy gesê “Your Lordship will note, it is a composite document this. It has two elements; it has a cession and it has a suretyship. No doubt the defendant will contend that it (sic) is inextricably tied up and interdependent.” Die respondent se advokaat het op sy beurt die volgende gesê: “In the plaintiff’s particulars of claim what they claim is firstly .................. payment of the amount of R500 000,00 which is the amount of the suretyship, and then in prayer (c) a declarator to the effect that the plaintiff is holding as security the cession of the investment. So what plaintiff (my onderstreping) contends is that they are interrelated and the cession was done as a security, and the argument of the defendant in that regard would be that that is specifically excluded by the powers bestowed on the curatrix in terms of the court order. She cannot cede anything unless it is for a valid reason.” Hy het later gesê: “If your Lordship finds that the suretyship was valid, then the matter will continue as to whether there was any indebtedness, and everything is dependent on the principal debtor’s indebtedness. If your Lordship finds that the suretyship is valid (sic - hy het klaarblyklik “invalid” bedoel) in law, then the defendant contends that the plaintiff’s claim cannot succeed at all.” Kort daarna het die hof gesê: “You say a finding on the validity of the suretyship is simultaneously a finding on the validity of the cession?” Die antwoord was: “Yes, and I would point out to your Lordship that in terms of the powers given to the curatrix, ............. she cannot pledge anything....................................” Laasgenoemde verwysing was na die woorde “of vir enige regsgeldige rede te verpand, of met verband te verswaar” in paragraaf 4 van die aanhangsel tot die hofbevel. Daar was daarna geen poging aangewend om aan te toon dat die sessie nie ter ondersteuning van die borgstelling was nie of dat dit van die borgstelling skeibaar was nie.
[3] Ek glo nie dat dit gesê kan word dat die sessie en die borgstelling volgens algemene beginsels skeibaar is nie. Geen sodanige betoog is deur appellant se advokaat geopper nie. Die blote feit dat die sessie se ware juridiese kleur (in securitatem debiti) slegs bepaalbaar is as gevolg van sy koppeling aan die borgstelling is op sigself ‘n sterk aanduiding dat hulle nie bedoel was om skeibaar te wees nie.
[4] Nog ‘n aanduiding dat hulle nie selfstandige en skeibare verpligtings is nie is dat die enigste verwysing in die betrokke dokument na ‘n beperking van aanspreeklikheid tot die bedrag van R500 000,00 in die borgstelling gedeelte daarvan(as daar van gedeeltes gepraat kan word) te vinde is. As die borgstelling weggedink word, word die sessie nie alleen ‘n uit en uit sessie nie maar ook ‘n sessie van al die geld wat tot die krediet van die betrokke rekening mag staan. Selfs as dit nog steeds as ‘n sessie in securitatem debiti beskou sou kan word, en selfs as aanvaar kan word dat die sessie ter ondersteuning van die hoofskuld was, as die bedrag bv R600 000,00 was en as die hoofskuldenaar dieselfde of ‘n groter bedrag verskuldig was, sou dit volg dat die hele R600 000,00 deur die skuldeiser aangewend sou kon word ter betaling van die skuld. Dit was seer sekerlik nie die bedoeling van die partye nie en dit sou lynreg met die gewone betekenis van die betrokke dokument bots.
[5] Die gevolg hiervan is dat die saak benader moet word op die grondslag dat, soos deur die hof a quo bevind, die sessie en die borgstelling nie van mekaar geskei kan word nie en dat, as dit so is dat die borgstelling ongeldig is, dit moet volg dat die sessie, as aksessore verpligting, onafdwingbaar is. Dit is derhalwe nodig om te beslis of daar enige ander grondslag is waarop bevind kan word dat die sessie en borgstelling geldig en afdwingbaar is.
[6] Uit die aard van die saak kon die hof wat mev Burger as kurator aangestel het nie die bepalings van art 14 en 15 in gedagte gehad het nie want daardie bepalings was destyds nie van toepassing op die huwelik nie. Daar was destyds geen statutêre beperking op die gemeenregtelike bevoegdheid van die pasiënt om ‘n borgstelling aan te gaan en die gemeenskaplike boedel daardeur te verbind nie. Toe die hof besluit het om die pasiënt se gade as sy kurator aan te stel wel wetend dat hulle binne gemeenskap van goedere getroud is, moes dit besef het dat, as gevolg van die aanstelling, mev Burger die enigste persoon sou wees met die bevoegdheid om namens beide hom en die gemeenskaplike boedel op te tree. Gegewe die intieme verhouding tussen haar en die pasiënt, die mutualiteit van belange, en die praktiese probleme waarvoor sy te staan sou kom in haar daaglikse lewe indien sy nie vir alle doeleindes met die bevoegdhede van die pasiënt beklee sou word nie, was dit te verwagte dat die hof wye magte aan haar sou toestaan.
[7] Volgens paragraaf 2 van die bevel word mev Burger “aangestel .......as kurator tot sy persoon en goedere en met die bevoegdheid en magtiging beklee........... om in die algemeen alle sake met betrekking tot sy persoon en goedere te behartig, ooreenkomstig die voorskrifte van aanhangsel ‘A’ ........”. Sommige van die voorskrifte is deur Harms AR aangehaal. As daar gekyk word na die verreikende magte deur die hof aan mev Burger verleen, is die moeilik om te bevind dat sy nie gemagtig was om ‘n borgstelling aan te gaan wat die gemeenskaplike boedel sou verbind nie. Trouens, as sy nie daardeur gemagtig was om dit te doen nie, sou daar destyds niemand gewees het wat bevoeg sou wees om dit te doen nie. Ek vind dit moeilik om te aanvaar dat dit die hof se bedoeling was.
[8] Toe die tersaaklike bepalings van die Wet toepaslik gemaak is op huwelike binne gemeenskap van goed wat voor die inwerkingtreding van die Wet gesluit is, was Mev Burger alreeds deur die hof as kurator aangestel en gemagtig om haar eggenoot en die gemeenskaplike boedel ooreenkomstig ‘n borgstelling te verbind. Die feit dat die wysiging van die Wet daarna op hulle van toepassing geword het, het meegebring dat sy in haar eie reg magte bekom het wat sy nie voorheen gehad het nie, maar dit het nie die magte deur die hof aan haar verleen toe sy as kurator aangestel is tot ‘n einde gebring of beperk nie. Sy het bevoeg geword as gevolg van art 14 van die Wet om ‘n borgstelling namens haarself aan te gaan en die gemeenskaplike boedel daardeur te verbind mits sy haar eggenoot se skriftelike toestemming bekom het. Sy was alreeds bevoeg as gevolg van haar aanstelling deur die hof om namens haar eggenoot ‘n borgstelling aan te gaan en die gemeenskaplike boedel te verbind. Die gekombineerde uitwerking van die aanstelling as kurator en die wysiging van die Wet was in wese om sy en haar eggenoot se juridiese bevoegdhede in haar te verenig.
[9] Ek is met Harms AR dit eens dat so ‘n geval nie deur art 15 (2) geraak is nie. Die bepaling het betrekking op ‘n situasie waar die gade wat die betrokke regshandeling wil verrig die toestemming van die ander gade nodig het en dit nog nie het nie. In hierdie geval was mev Burger beklee met die bevoegdheid om die regshandelinge te verrig wat sy verrig het. Om die redes deur Harms AR uitgestip sou dit absurd wees om daarop aan te dring dat sy toestemming aan haarself op die formalistiese wyse in die Wet uiteengesit moet gee voordat sy ‘n party tot ‘n regsgeldige transaksie kan wees.
[10] Ek stem ook saam met Harms AR se opmerkings i.v.m. prof de Wet se siening in sy oorspronklike bydrae in 1 LAWSA par 107 dat “a contract can only come into being by agreement between at least two persons”.
[11] Na my mening moet die appèl slaag met koste en die bevel van die hof a quo vervang word met die volgende bevel:

“(a) It is declared that the cession in securitatem debiti and the suretyship obligation contained in the undertaking of 7 December 1994 are valid in law and binding upon the joint estate;
(b) Defendant is ordered to pay the costs attributable to the separate hearing of specific issues.”



R M MARAIS

APPèLREGTER





























SAFLII: | Terms of Use | Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1999/68.html