![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
VAN SUID-AFRIKA
SAAKNOMMER: 264/97
In die saak
tussen:
VAAL REEFS EXPLORATION
AND
MINING COMPANY LIMITED
Appellant
en
BRENDA
BENJAMIN BURGER Respondent
Hof: VAN HEERDEN Adj HR, GROSSKOPF, HARMS, MARAIS en STREICHER ARR
Gelewer: 21 SEPTEMBER
1999
Sleutelbegrip: Art 15 van die Wet op
Huweliksgoedere 88 van 1984
U I T S P R A A K
HARMS AR:
[1] Sedert die opheffing van die maritale mag het 'n vrou
getroud binne gemeenskap van goed dieselfde bevoegdhede met betrekking
tot die
aangaan van skulde wat van die gemeenskaplike boedel verhaal kan word as wat die
man vantevore gehad het. In die algemeen
gesproke mag elke gade sonder die
ander se toestemming nou regshandelinge aangaan wat die gemeenskaplike boedel
betrek (Wet op Huweliksgoedere
88 van 1984, veral arts 13, 14 en 15(1)). Daar
is uitsonderings waarvan twee vervat in art 15(2) tans ter sake is. Een gade
mag
nie sonder die skriftelike toestemming van die ander gade -
"(c) enige ..... vaste deposito's of enige derglike bates, of 'n belegging deur of ten behoewe van die ander gade in 'n finansiële instelling, wat deel van die gemeenskaplike boedel uitmaak, ..... sedeer of verpand nie;”
of
“(h) hom as borg verbind nie."
Terloops,
in hierdie Wet sluit die manlike nog die vroulike in. In die geval van
borgstelling word bykomend vereis dat die toestemming
deur twee bevoegde getuies
geattesteer moet word (art 15(5)). 'n Transaksie sonder die voorgeskrewe
toestemming is nietig tensy
die derde party nie geweet het en rederlikwys nie
kon geweet het dat die transaksie in stryd met die verbod gesluit is nie (art
15(9)(a)).
Indien 'n gade toestemming weerhou of "wanneer die toestemming om
'n ander rede nie verkry kan word nie" mag die hof toestemming
verleen (art
16(1)).
[2] Op 7 Desember 1994 teken mev Burger (die respondent) 'n dokument
waarin sy 'n vaste deposito van R500 000 by Saambou Bank
aan die appellant
sedeer en haarself as borg en mede-hoofskuldenaar jeens die appellant verbind.
Omdat die bewoording van die onderneming
ter sake is, haal ek dit aan:
"The Procurement Manager
Vaal Reefs Exploration and Mining
Company Limited
. . ..
AGREEMENT BETWEEN VAAL REEFS EXPLORATION AND MINING COMPANY LIMITED (COMPANY) AND MICHETTE MINING SERVICES (PTY) LTD (CONTRACTOR) FOR THE MINING OF AFRIKANDER LEASE DIVISION
With reference to the abovementioned agreement I, Mrs Brenda Benjamin Burger, ID No. 4305050064004 hereby cede all title to Bank Account No. 11994091009 held at Saambou Bank, Potchefstroom to Vaal Reefs Exploration and Mining Company Limited and hereby bind myself jointly and severally as Surety and co-principal debtor in solidum with the contractor for the sum of . . . FIVE HUNDRED THOUSAND RAND (R500 000,00) in respect of the contractor fulfilling all his obligations in terms of the contract and I hereby specifically renounce the benefit of the exceptions non causa debiti and ordinis seu excussionis and division.
I agree that, should you grant the contractor any
extension of time for the fulfilment of the said contract, such extension shall
not affect your rights in terms of this bond.
Upon me receiving written
notice from the Procurement Manager, Vaal Reefs Exploration and Mining Company
Limited, that the contractor
is in default in terms of the contract, I undertake
to pay the face value of this bond forthwith to the company, irrespective of
the
reason which caused the contractor to default. Such payment being without
prejudice to any rights the company may have in terms
of the contract.
This
bond is neither negotiable nor transferable. This bond shall remain valid until
the contractor's obligations have been fulfilled
in terms of the
contract.”
Sy teken as "Mrs Brenda Benjamin Burger" en twee getuies
attesteer die onderneming.
[3] Mev Burger is sedert 13 Julie 1963 met ene
Victor Burger getroud. Die huwelik is in gemeenskap van goed. Hy is tydens 'n
motorongeluk
beseer en as gevolg daarvan het die Hooggeregshof (TPA) op 17 Maart
1992 hom op aansoek van mev Burger "geestelik verstoord verklaar
..... en
derhalwe onbekwaam ..... om sy eie belange te behartig." Sy is aangestel as die
kurator ten aansien van sy persoon en goedere
en die magte en bevoegdhede
waarmee sy beklee is, is in 'n aanhangsel uitgestip. Van belang is par 4 en
6:
“4. Om enige eiendom wat aan die pasiënt behoort, of waarin hy 'n belang mag hê te verhuur, verruil, onderverdeel of vervreem; of vir enige regsgeldige rede te verpand, of met verband te beswaar.”
“6. Om enige bevoegdheid uit te oefen, of om toestemming te verleen wat benodig word vir die uitoefening van sodanige bevoegdheid; waar sodanige bevoegdheid in die pasiënt gevestig is vir sy eie voordeel, of waar die bevoegdhede van 'n voordelige aard vir die pasiënt skyn te wees.”
[4] Met dié dat die hoofskuldenaar nie sy verpligtinge teenoor die appellant nakom nie, spreek die appellant met 'n beroep op die sessie en ook op die borgstelling vir mev Burger aan, o a, om betaling van R500 000 (sy het, terloops, ten spyte van die sessie die deposito onttrek). Mev Burger verweer haarself teen die eis veral op grond daarvan dat die sessie en borgstelling nie jeens haar geldig en bindend is nie. Nadat die appellant in repliek met sekere van hierdie bewerings gehandel het en verder in geskil getree het , is die hof benede versoek om vooraf te oorweeg of die sessie en borgstelling geldig is. Aan die versoek is voldoen en na die aanhoor van getuienis is beslis dat haar onderneming nietig is. Die eis is met koste afgewys. Verlof tot appèl is deur die verhoorhof geweier maar 'n aansoek om verlof gerig aan die Hoofregter was suksesvol.
[5] Met
verwysing na die bepalings van art 15 van die Wet beweer mev Burger ten aanvang
dat haar man nie sy skriftelike toestemming
tot die sessie ingevolge art
15(2)(c) of tot die borgstelling in terme van art 15(2)(h) gegee het nie. (Dit
is gemeensaak dat die
hof nie die transaksie ingevolge art 16(1) gemagtig het
nie.) Die repliek van die appellant is te dien effekte dat mev Burger,
vanweë
haar aanstelling as kurator, nie haar man se toestemming benodig nie
en dat, in ieder geval, sy namens hom aan haarself toestemming
gegee het toe sy
die dokument onderteken het.
[6] De Villiers R het ten aansien van hierdie
geskilpunt bevind dat die hofbevel aan mev Burger die bevoegdheid verleen om aan
haarself
toestemming te gee om 'n borgakte te sluit. (Ek hou voorlopig sy
benadering oor die sessie ietwat agterweë.) Namens mev Burger
is in die
hof benede en hier ook betoog dat dit verkeerd is omdat 'n borgstelling nie,
ooreenkomstig die bewoording van par 6, vir
die voordeel van Burger kon wees
nie. Die verhoorhof het egter beslis dat die bevoegdheid wat in Burger
“vir sy eie voordeel
gevestig het” juis die bevoegdheid was om
toestemming tot borgstelling te verleen en dat dít is wat in mev Burger
setel
en dat dit iets anders is as om te sê dat alleen waar die
uitoefening van die bevoegdheid voordeel vir die pasiënt (Victor
Burger)
inhou dit uitgeoefen kan word. Tensy die kar voor die perde ingespan is,
voorveronderstel sowel die pleit en die uitspraak
as die betoog dat die hofbevel
borgstelling magtig.
[7] Ten spyte van sy bevinding dat par 6 die verlening
van toestemming magtig, het De Villiers R beslis dat mev Burger regtens nie
die
bevoegdheid aan haarself kon verleen nie omdat daar voldoende steun vir die
beginsel sou bestaan dat een persoon nie as verteenwoordiger
van 'n ander met
homself 'n kontrak kan sluit nie. Eweneens sou mev Burger nie regtens as
verteenwoordiger van haar man aan haarself
in haar persoonlike hoedanigheid
skriftelike toestemming kon verleen om die borgkontrak aan te gaan nie. Die
beginsel waarop die
verhoorhof steun, het skynbaar sy ontstaan in prof J C De
Wet se oorspronklike bydrae in 1 LAWSA par 107. Hy het dit as vanselfsprekend
beskou dat een persoon nie as verteenwoordiger van 'n ander met homself 'n
kontrak kan sluit nie omdat "a contract is a juristic
act for which expressions
of common intention by at least two persons are required" en omdat "a contract
can only come into being
by agreement between at least two persons." So ook Du
Plessis in 1 LAWSA 1st re-issue par 106. Ek vind egter nie 'n
soortgelyke opmerking deur prof De Wet in Kontraktereg en Handelsreg 5e
uitgawe nie. Hierdie motivering vir die reël is natuurlik nie van
toepassing en kan nie van toepassing gemaak word op die
huidige geval nie omdat
toestemming soos in art 15(2) in die vooruitsig gestel, 'n bloot eensydige
regshandeling is.
[8] 'n Mens sou amper kon sê cessante ratio
cessat lex, maar dit sou impliseer dat ek dit met prof De Wet eens is oor
die bestaan van 'n algemene regsreël soos deur hom geformuleer.
Daar is
gevalle waar die reg nie sulke transaksies gedoog nie. Voorbeelde is waar 'n
voog sy pupil se goed koop of 'n verkoopsagent
self die saak inkoop (vgl Osry
v Hirsch, Loubser & Co Ltd 1922 CPD 531) maar hierdie gevalle word
gewoonlik onder die hofie van troubreuk tuisgebring (Kontraktereg en
Handelsreg p 387). Die geval wat in Gutman NO v Standard General
Insurance Co Ltd 1981 (4) SA 114 (C) ter sprake gekom het, kan egter
beswaarlik oor dieselfde kam geskeer word. Daar het die eienaar van 'n besigheid
die besigheid verkoop aan 'n maatskappy wat, vir huidige doeleindes, aan hom
alleen behoort het. Die bevinding in Gutman dat vanweë die feit dat
die eienaar ook namens sy maatskappy opgetree het die kontrak nietig is, is
onrealisties. Die behoeftes
van die regsverkeer is nie in ag geneem nie. Om 'n
paar retoriese vrae te vra: Hoe leen 'n alleen-aandeelhouer en enkeldirekteur
geld aan sy maatskappy of omgekeerd? Hoe word bates tussen sulke partye
vervreem? Hoe geskied transaksies tussen verwante maatskappye?
Dis immers 'n
alledaagse verskynsel dat 'n persoon in twee hoedanighede optree. Afgesien van
die praktiese, stem ek nie met prof
De Wet se teoretiese grondslag saam nie.
Die wil van die verteenwoordiger is, van regsweë, die wil van die sg
prinsipaal en
nie sy eie nie. As die verteenwoordiger in 'n geval soos
Gutman kontrakteer, vind die uitdrukking van 'n gesamentlike bedoeling
van twee persone plaas. Samevattend dus op hierdie aspek, ek is van
oordeel dat
daar regtens geen belet op mev Burger rus om haarself in 'n geval soos die
huidige toestemming te verleen nie.
[9] Hierdie uitstappie bring 'n mens
ongelukkig nie nader aan die oplossing nie. Die vraag wat na regte gevra moet
word, betrek
die trefwydte van art 15, veral die toestemmingsvereiste. Dit kan
gerieflik aan die hand van 'n voorbeeld of twee getoets word.
Bv, art 15(3)(a)
magtig die een gade om met die toestemming, wat selfs mondeling of stilswyend
kan wees, sekere losgoed te vervreem.
Die hofbevel voorsien aan mev Burger die
identiese bevoegdheid. Sy wil 'n meubelstuk verkoop. Sy mag, volgens die
hofbevel sonder
meer en volgens die Wet met haar man se toestemming. Moet sy
nou in haar hoedanigheid as kurator haarself mondeling of stilswyend
toestemming
gee? 'n Verder illustrasie: Sy wil vaste eiendom verkoop. Kragtens art 15(2)(a)
benodig sy die skriftelike toestemming
van haar man geattesteer deur twee
bevoegde getuies. Volgens die hofbevel het sy die bevoegdheid sonder 'n
toestemming, skriftelik
of andersins. Moet sy nou aan haarself die
statutêr vereiste toestemming met al die gekoppelde formaliteite gee of
moet sy
die hof ingevolge art 16(1) nader om 'n toestemming wat sy alreeds het?
Na my oordeel toon hierdie eenvoudige voorbeelde dat die
vereiste van
toestemming soos vervat in art 15 nie van toepassing kan wees op 'n buitengewone
geval soos die huidige waar die handelende
eggenoot uit 'n ander bron 'n
bestaande magtiging het om die boedel te bind nie. Enige ander gevolgtrekking
lei tot absurde gevolge,
iets wat die wetsuitlegger moet vermy. Die vraag of
mev Burger aan haarself toestemming kon gee en inderdaad gegee het, verval
gevolglik.
[10] Die feit dat die vormvereistes van art 15 nie op mev Burger
van toepassing is nie, beteken nie noodwendig dat sy sonder meer
die
gemeenskaplike boedel kan verbind nie. Haar bevoegdheid om die boedel te
verbind, spruit immers uit die hofbevel. In hierdie
verband is haar verweer dat
'n sessie nie binne haar algemene bevoegdhede as kurator val nie.
[11] Die
sessie van die bankrekening is, ten spyte van die bewoording, klaarblyklik nie
'n uit-en- uit sessie nie. Inderdaad is
dit 'n sessie van die regte in die
vaste deposito van R500 000 ter versekering van 'n skuld. Par 4 van die
aangehaalde hofbevel
verleen wel aan mev Burger die bevoegdheid om enige eiendom
wat aan Victor Burger (oftewel die gemeenskaplike boedel) behoort "vir
enige
regsgeldige rede te verpand". Aangesien 'n sessie ter versekering van 'n skuld
'n vorm van verpanding is, het mev Burger dus
die bevoegdheid kragtens die
hofbevel om so 'n sessie te bewerkstellig. Wat art 15 betref, het die hof benede
in die lig van 'n toegewing
aanvaar dat sy vanweë die bepalings van art
15(2)(c) saamgelees met art 15(7) bevoeg was om hierdie regte sonder haar man se
toestemming regsgeldig in securitatem debiti te sedeer. Of
hierdie uitgangspunt korrek is al dan nie is eintlik nie ter sake nie omdat ek
reeds bevind het dat die toestemmingsvereiste
hoegenaamd nie op die saak van
toepassing is nie.
[12] Na regte behoort dit op enigeen van die twee
benaderings die einde van haar verweer te wees. Die verhoorregter het hierdie
probleem
oorkom deur te bevind dat die borgstelling nietig is (ek behandel sy
redes hierna) en dat die sessie met dieselfde lot getref word
omdat die sessie
aksessoor tot die borgverpligting is, 'n benadering wat namens mev Burger
onderskryf word. Volgens my oordeel staaf
nóg die onderneming nóg
die getuienis die siening dat die sessie aksessoor tot die borgverpligting is.
Aksessoor is
die sessie wel, maar t o v die hoofskuld. Beide die sessie en die
borgstelling onderskryf die hoofskuld. Hulle staan langs mekaar
maar die een is
nie ondergeskik aan of afhanklik van die ander nie. Die twee is volgens
algemene beginsels skeibaar. Die moontlike
nietigheid van die borgstelling raak
dus nie die geldigheid van die sessie nie. Die afdwingbaarheid van die
hoofskuld is immers
nie in geskil nie. Hierdie gevolgtrekking bring ook 'n
einde aan die betoog dat die verpanding slegs geldig kan wees as dit
ooreenkomstig
die hofbevel, "vir 'n regsgeldige rede" geskied en dat, omdat die
borgstelling nietig is, die sessie nie om 'n regsgeldige rede plaasgevind
het
nie.
[13] Die vraag of die hofbevel, in besonder par 6 daarvan, aan mev
Burger die bevoegdheid verleen om namens haar man 'n borgverpligting
aan te
gaan, is - anders as die sessie - nie op die pleitstukke 'n geskil nie. Soos
gepleit en betoog, is die vraag of sy die bevoegdheid
gehad het om aan haarself
namens haar man toestemming te verleen om deur haar handtekening die
gemeenskaplike boedel te bind. Hierdie
bevoegdheid om toe te stem, het die
verhoorhof in die hofbevel gevind, maar bevind dat die formele
toestemmingsvereiste van art 15
(2) ontbreek. Ek het reeds die gles in die
tweede been uitgewys. Die eerste been is dus ontersaaklik.
[14] Ten tye
van die hofbevel was die bepalings van artikels 14, 15 en 16 van die Wet nie op
hierdie huwelik van toepassing nie
omdat die huwelik voor die inwerkingtreding
van die Wet gesluit is. Alvorens sy die onderneming geteken het, is art 11 van
die Wet
gewysig en sedertdien is die gemelde artikels op alle huwelike binne
gemeenskap van goed van toepassing, ongeag die datum van sluiting
daarvan (art
29 van die Vierde Algemene Regswysigingswet 132 van 1993). Gevolglik het mev
Burger eers haar statutêre bevoegdheid
gekry om 'n borgkontrak te sluit
nadat die hofbevel verleen is. Of die hofbevel 'n soortgelyke magtiging bevat,
hang af van die
uitleg van par 6 en, meer in besonder, of die bevoegdheid
omsluit word deur die frase "enige bevoegdheid" wat daarin voorkom. Hoewel
die
begrip met die eerste oogopslag onbegrens skyn te wees, is dit opvallend dat die
ander paragrawe van die bevel spesifieke bevoegdhede
soos vervreemding,
verpanding en dies meer uitdruklik verleen. Dit is dus onwaarskynlik dat so 'n
verreikende bevoegdheid soos borgstelling
onder 'n algemene bewoording
tuisgebring sou word. Opmerklik is verder dat die vermoë van mev Burger
"om enige bevoegdheid
uit te oefen" daardeur gekwalifiseer word dat "sodanige
bevoegdheid in [Victor Burger] gevestig is vir sy eie voordeel." Dis nie
moontlik om die gemeenregtelike vermoë van die beheerder van die
gemeenskaplike boedel om die boedel deur 'n borgakte te bind,
onder daardie
kwalifikasie tuis te bring nie.
[15] As mev Burger volgens die hofbevel
nie die bevoegdheid gehad het om die gemeenskaplike boedel met 'n borgakte te
bind nie, ontstaan
die vraag of die wetswysiging aan haar hierdie bevoegdheid
gegee het. Aangesien die vraag nie voor ons gedebatteer is nie, laat
ek die
probleem onopgelos.
[16] Al sou die borgstelling ongeldig wees, affekteer
dit nie die sessie se geldigheid nie. Gevolglik moet die appèl slaag.
Omdat daar uitstaande geskilpunte is, word die bevel van die hof benede met 'n
verklarende bevel vervang. Hierdie saak illustreer
egter die noodsaak om by die
aanstelling van kuratore meer aandag te skenk aan die formulering van hulle
magte. Die bevel ter sprake
is op lukrake wyse opgestel en die bewoording is
nie alleen onbevredigend nie maar ook teenstrydig. Selfs die gebruik van
leestekens
is ontoepaslik. Die bevoegdhede van kuratore moet spesifiek omlyn
word en daar behoort onderskei te word tussen bevoegdhede wat
'n kurator sonder
meer kan uitoefen, dié wat met die Meester se goedkeuring uitgeoefen moet
word en daardie wat hoegenaamd
nie toegeken word nie. Borgstelling behoort nie
in die eerste kategorie te val nie.
[17] Die appèl slaag met koste en
die bevel van die hof a quo word vervang met 'n bevel wat -
(a) verklaar dat die onderneming van 7 Desember 1994 nie ongeldig is weens die bewerings gemaak in par 8 en 9(a) van die pleit nie;
(b) die verweerderes gelas word om die koste verbonde aan die aparte beregting te betaal.
_____________________
L T C HARMS
APPèLREGTER
Stem saam:
GROSSKOPF
AR
STREICHER AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1999/67.html