![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
RAPPORTEERBAAR
SAAKNOMMER:
381/97
IN DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL VAN SUID-AFRIKA
In die saak tussen:
ABRAM PAULUS
VENTER Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM:
HARMS, MARAIS et SCOTT ARR
VERHOORDATUM: 2 SEPTEMBER
1999
LEWERINGSDATUM: 8 SEPTEMBER
1999
Voorbehoue regsvraag in terme van art 319 van
Strafproseswet - betekening van stukke op pro deo advokaat na beskuldigde se
ontslag
kan nie as betekening op hom beskou word nie - die vraag moet ’n
regsvraag wees en nie ’n verskuilde feitevraag nie
- Magmoed v Janse
van Rensburg and Others 1993(1) SA 777 (A) toegepas - roof gepleeg slegs
wanneer daar ’n verbintenis bestaan tussen elemente van diefstal en
geweldpleging.
U I T S P R A A K
SCOTT
AR/...
SCOTT AR:
[1] Die appellant,
tesame met ’n mede-beskuldigde (‘beskuldigde 2’), het in die
Witwatersrandse Plaaslike Afdeling
voor Coetzee R en assesore op een aanklag van
moord en een aanklag van roof met verswarende omstandighede tereggestaan. Die
appellant,
wat tydens die verhoor 18 jaar oud was, is onskuldig bevind aan moord
maar skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede.
Hy is gevonnis tot
6 jaar gevangenisstraf, waarvan 2 jaar voorwaardelik vir 5 jaar opgeskort is.
Beskuldigde 2, wat tydens die verhoor
17 jaar oud was, is onskuldig bevind op
beide aanklagte.
[2] Na afhandeling van die saak en op versoek deur die
staat is twee regsvrae vir oorweging deur hierdie hof in terme van artikel
319
van die Strafproseswet 51 van 1977 deur die verhoorregter voorbehou. Die eerste
vraag handel slegs met die posisie van die appellant;
die tweede vraag slegs met
die posisie van beskuldigde 2. Volgens die staat moes die hof altwee om
verskillende redes aan moord,
of minstens ’n geoorloofde misdryf
ingevolge art 258 van die Strafproseswet, skuldig bevind het. Verlof is
terselfdertyd aan
die appellant verleen om teen sy skuldigbevinding aan roof met
verswarende omstandighede te appelleer en sy appèl dien tans
voor hierdie
hof. Beskuldigde 2 is egter nie ’n party tot die appèl nie; daar
is ook geen verskyning namens hom in
hierdie hof nie.
[3] Voordat die
geskilpunte in die appèl oorweeg word, is dit nodig om eers die feite van
die saak kortliks uiteen te sit.
Die oorledene, Leonard Tayitayi, is op 5
Desember 1994 te Vrededorp, Gauteng, vermoor. Voortspruitend uit sy dood is vier
persone
aanvanklik aangekla, die appellant en beskuldigde 2 in die huidige saak
(‘die twee beskuldigdes’) asook twee broers,
Reinhard en Jaco
Goosen. Reinhard Goosen het skuldig gepleit aan moord asook diefstal van geld
van sy ma. Jaco Goosen het skuldig
gepleit aan moord en roof met verswarende
omstandighede, d w s dieselfde aanklagte as in die huidige saak. Die twee
beskuldigdes
het onskuldig gepleit en ’n skeiding van verhore is gelas. In
die hof a quo was die twee Goosen broers die enigste
ooggetuies.
[4] Dit blyk dat in die laat middag op Maandag 5 Desember 1994
die twee beskuldigdes, die Goosen broers en ander persone by die woonstel
van
die appellant se ma te Vrededorp gesit en drink het. Die groep het die appellant
se ma asook sy stiefpa ingesluit. Dit blyk ook
dat hulle almal ’n
aansienlike hoeveelheid drank ingeneem het. Om en by 10 nm het die Goosen broers
tesame met die appellant
se broer, Riaan Venter, en ene Evert van der Merwe nog
drank by ’n sjebeen gaan koop. Op pad terug het hulle die oorledene
opgemerk. Laasgenoemde het iets gemompel en toe omgedraai en begin hardloop. Die
Goosen broers het hom agterna gesit en ingehaal.
Die ander twee, Riaan Venter en
Evert van der Westhuizen, het aangestap. Volgens die Goosen broers het hulle die
oorledene albei
met die vuis in die gesig geslaan. Nadat hy bewusteloos op die
grond geval het is hy deur altwee geskop. Hulle het getuig dat hulle
in
dié stadium die oorledene slegs teen sy lyf geskop het. ’n
Lykskouing wat op 8 Desember 1994 uitgevoer is, het egter
aangetoon dat die
beserings tot die oorledene se gesig en kop beperk was. Geen beserings is aan
die lyf deur die pataloog tydens
die lykskouing waargeneem nie. Die oorsaak van
dood was ‘n duik-fraktuur aan die skedel en ’n subdurale
bloeding.
[5] Na hierdie aanval het die oorledene, volgens die Goosens,
doodstil bly lê. Hulle is toe terug na die woonstel waar hulle
vir die
groep vertel het, blykbaar met ‘n groot mate van trots, wat hulle gedoen
het. Omtrent 15 tot 20 minute daarna is die
Goosen broers saam met die twee
beskuldigdes terug na die toneel. Die oorledene het nog op dieselfde plek
roerloos bly lê.
Volgens hulle het hulle almal die oorledene toe geskop
en geslaan. Aanvanklik het hulle te kenne gegee dat dit net die twee
beskuldigdes
was wat die oorledene in die gesig geskop het. Later het hulle
erken dat hulle ook die oorledene teen sy kop en in die gesig geskop
het.
[6] Die appellant het ook getuig. Hy het alle deelname aan die
aanranding ontken. Volgens hom het hy en beskuldigde 2 bloot uit nuuskierigheid
die Goosens terug na die toneel vergesel. Hy sê dit was slegs die Goosen
broers wat die oorledene toe aangerand het. Hy het
egter erken dat hy op
‘n stadium die oorledene se polshorlosie van sy arm afgehaal het. Hy
sê hy het dit gedoen op versoek
van Jaco Goosen wat die horlosie toe
dadelik uit sy hand gevat het. Sy weergawe aangaande die horlosie is deur Jaco
Goosen bevestig.
Beskuldigde 2 het geswyg.
[7] Die hof a quo was van
mening dat die Goosen broers nie oop kaarte met die hof gespeel het nie en dat
daar nie op hulle getuienis gesteun kon word
nie, veral wanneer dit by die
implisering van die appellant en beskuldigde 2 kom. Die Goosens is beskryf as
‘twee van die
swakste getuies wat ons in ’n lang tyd voor ons in
hierdie hof gehad het’. In die omstandighede was die hof a quo
van mening dat daar geen betroubare getuienis bestaan het om beskuldigde 2 te
impliseer nie en dat die enigste getuienis teen die
appellant waarop die staat
kon steun sy eie getuienis aangaande die neem van die horlosie was.
Beskuldigde 2 is derhalwe onskuldig
bevind op altwee aanklagte en die appellant
is onskuldig bevind aan moord maar skuldig bevind aan roof met verswarende
omstandighede.
[8] Dit is gerieflik om die posisie van beskuldigde 2 eers te
oorweeg. Uitspraak is deur die hof a quo op 13 Februarie 1996 gelewer en
op daardie datum is beskuldigde 2 onskuldig bevind en ontslaan. Die staat se
‘Kennisgewing
van Aansoek om Voorbehoud van Regsvrae’, gedateer 27
Februarie 1996, is op beskuldigde se pro deo advokaat beteken. Die kennisgewing
is blykbaar ook per geregistreerde pos aan beskuldigde 2 by sy laasbekende adres
gestuur. Die kennisgewing het egter onafgehaal teruggekom.
Omtrent 8 maande
daarna en op 24 Oktober 1996 is die aansoek aangehoor. Beskuldigde 2 se pro deo
advokaat het dit onsuksesvol teengestaan.
Dit blyk dat sy toe daarna niks meer
met die saak te doen gehad het nie. Daar is geen aanduiding dat beskuldigde 2
enige kennis
van die aansoek gehad het nie of dat die advokaat tydens die
aansoek op sy instruksies opgetree het nie. Daar is ook geen aanduiding
in die
oorkonde dat hy kennis dra van die huidige verrigtinge of dat die verhoorregter
’n voorbehoue regsvraag na hierdie
hof verwys het
nie.
[9] Nóg die Strafproseswet nóg die hofreëls maak
uitdruklike voorsiening in ’n geval soos die huidige vir
die betekening op
’n beskuldigde of sy regsverteenwoordiger van dokumente soos bv die staat
se aansoek om die voorbehoud van
’n regsvraag, ’n afskrif van die
regsvraag soos deur die verhoorhof vasgestel word, of ’n kennisgewing van
die
datum van die aanhoor van die regsvraag deur hierdie hof. Dit is egter
vanselfsprekend dat dokumente soos die bogemelde wel beteken
moet word sodat
’n beskuldigde die geleentheid verleen word om sy saak voor hierdie hof te
plaas. Die teendeel sou met die
audi alteram partem reël teenstrydig
wees en is ondenkbaar. (Sien R van Wyk and Another 1960 (2) SA 106 (C).)
Namens die staat is betoog dat weens die betekening van die kennisgewing van
aansoek op beskuldigde 2 se pro
deo advokaat en haar verskyning by die aanhoor
van die aansoek, daar voldoende betekening op beskuldigde 2 was en dat hierdie
hof
derhalwe geregtig is om met die beregting van die regsvraag aangaande
beskuldigde 2 voort te gaan. Ek kan nie saamstem nie. Wat die
posisie in die
geval van ’n skuldigbevinding ookal mag wees - en ek spreek geen
mening hieroor uit nie - is dit m
i vanselfsprekend dat in die afwesigheid
van enigiets tot die teendeel die mandaat van ’n advokaat om sy
kliënt in ’n
strafsaak te verteenwoordig outomaties by die
kliënt se ontslag beëindig word. Hierdie benadering is ooreenstemmend
met
die gewone beginsel dat wanneer ’n opdrag uitgevoer is, die mandaat
outomaties tot ’n einde kom. (Vgl De Villiers and Macintosh: The
Law of Agency in South Africa 3 ed op 611; sien ook Pothier’s Treatise
on the Contract of Mandate, vertaal deur Rogers en De Wet, par 143 op 81.)
Enige betekening op beskuldigde 2 se pro deo advokaat na die beskuldigde se
ontslag
kan dus nie as betekening op hom beskou word nie. Dit volg dat na my
mening die regsvraag aangaande beskuldigde 2 nie behoorlik voor
hierdie hof is
nie en moet van die rol geskrap word.
[10] In elk geval en al word dit
aanvaar dat betekening op die pro deo advokaat as betekening op beskuldigde 2
beskou kan word,
is ek van mening dat die omstandighede sodanig is dat gewone
beginsels van geregtigheid en billikheid verhoed dat met die beregting
van die
regsvraag voortgegaan word. Soos reeds gemeld, is daar geen verskyning namens
beskuldigde 2 in hierdie hof nie. Daar is ook
geen aanduiding dat hy enige
kennis van hierdie verrigtinge dra nie.
[11] Die voorbehoue regsvraag wat
betrekking het op die appellant (soos deur die verhoorregter vasgestel) lees
soos volg:
“Of ’n skuldigbevinding aan moord, of minstens ’n bevoegde uitspraak op daardie aanklag soos bedoel in artikel 258 van die Strafproseswet 51 van 1977 nie noodwendigerwys vir die [appellant] aangewese is in die lig van feitelike bevindings en/of bewese feite soos bevind in hierdie verhoor nie”.
In S v Nkwenja en ’n Ander
1985 (2) 560 (A) op 567A - F het hierdie hof beklemtoon dat wanneer ’n
regsvraag soos in art 319 van die Strafproseswet voorbehou
word, daar sekerheid
oor al die feite waarop die vraag betrekking het, moet bestaan en dat die
verhoorhof daardie feite in sy uitspraak
as deel van die voorbehoue vraag moet
vermeld. Die vraag, soos deur die geleerde regter vasgestel, is dus nie
behoorlik voorbehou
nie. Daar is egter ’n ander en miskien belangrike
aspek van die vraag wat aandag verg. Soos duidelik uit art 319 blyk, is
dit net
’n regsvraag wat voorbehou kan word. Is die vraag wat hierbo aangehaal
word inderdaad ’n regsvraag of bloot ’n
verskuilde feitevraag? Die
verskil is nie altyd so voor die hand liggend nie. In Magmoed v Janse van
Rensburg and Others 1993 (1) SA 777 (A) op 808A - B tref Corbett HR ’n
verskil tussen die vraag of bepaalde bewese feite ‘n beskuldigde se
handelinge binne die omvang van ’n besondere misdaad bring en die vraag of
‘the evidence establishes one or more of the
factual ingredients of a
particular crime, when there is no doubt or dispute as to what those ingredients
are’.
[12] Die eerste vraag is ’n regsvraag. Wat behels word
is ‘an inquiry as to the essence and scope of the crime charged’.
Die tweede vraag is ’n blote feitevraag. In die onderhawige geval is dit
duidelik dat die hof a quo nie die appellant se ontkenning van enige
deelname aan die aanranding op die oorledene verwerp het nie. Om sy skuld te
bewys moes
die staat daarom op die leerstuk van gemeenskaplike opset steun, d w
s op grond van ’n beweerde toetredingshandeling aan die
kant van die
appellant. Die feitelike vereistes wat regtens nagekom moet word om ’n
gemeenskaplike opset in sulke omstandighede
te bewys, is in S v Mgedezi and
Others 1989 (1) SA 687 (A) op 705 I - 706 C uiteengesit. Hierdie vereistes
is deur die hof a quo aanvaar. Wat wel in geskil was, is die vraag of die
getuienis voor die hof voldoende was om daardie vereistes te bewys. Dat dit die
geval was, blyk uit die volgende passasie in die hof a quo se
uitspraak.
“Dit is betoog dat beskuldigde 1 [appellant] deur middel
van die leerstuk van gemeenskaplike doel, ‘common purpose’
skuldig
is aan moord deurdat hy die horlosie verwyder het maar na ons mening het die
Staat nie die bewyslas gekwyt om vereistes
[3,] 4 en 5 in S v Mgedezi and
Others 1989 (1) 687 op 705 en 706 te bewys nie -
‘In the first
place he must have been present at the scene where the violence was being
committed.’
Daaraan is voldoen.
‘Secondly he must have been aware of the assaults of the inmates of room 12.’
Hy was bewus gewees van die aanranding op die
oorledene.
‘Thirdly he must have intended to make common cause with
those who were actually perpetrating the assault.’
Daar is nie
aanvaarbare getuienis dat hy gemeenskap gemaak het met die plegers van die
aanranding nie.
‘Fourthly he must have manifested his sharing of the
common purpose with the perpetrators of the assault by himself performing
some act of association with the conduct of the others.’
Daar is nie
aanvaarbare getuienis dat dit gebeur het nie.
‘Fifthly, he must have had the requisite mens rea; so, in respect of the killing of the deceased, he must have intended them to be killed.’
Daar is geen getuienis van dolus directus nie.
‘or he must have foreseen the possibility of their being killed and performed his own act of association with recklessness as to whether or not death was to ensue.’
Dit kan nie gesê
word dat sy daad om die horlosie te verwyder van so ’n ‘aard was
dat dit gereken kan word as
dolus eventualis met betrekking tot die
moord nie’. ”
Die bevindings wat die hof a quo in
hierdie passasie gemaak het is blote feitebevindings. Dit is egter die juistheid
van hierdie bevindings wat in werklikheid die
onderwerp is van die voorbehoue
vraag. Dit volg dat dit niks ander as ’n feitelike vraag is nie en val nie
binne die bestek
van art 319 van die Strafproseswet nie. (Sien bv die
Magmoed saak, supra, op 802 E - 811 G waar hierdie hof tot die
slotsom gekom het dat ’n soortgelyke vraag nie ’n regsvraag was nie
en dus
nie ’n vraag wat regtens in terme van art 319 voorbehou kon word
nie.) In die omstandighede bestaan daar geen grondslag waarop
hierdie hof met
die verhoorhof se bevinding aangaande die aanklag van moord kan inmeng
nie.
[13] Ek behandel nou die appellant se skuldigbevinding aan roof. In die
hof a quo is dit namens die appellant betoog dat daar nie bewys is dat
toe die horlosie vanaf die oorledene geneem is, hy nog geleef het nie.
Die hof
a quo het tot die slotsom gekom dat dit wel bewys is en weens die
appellant se erkenning dat hy die horlosie geneem het, hy aan roof skuldig
is.
Vir doeleindes van die appèl sal ek aanvaar dat die oorledene nog geleef
het. Die vraag wat ontstaan, is of die appellant
nogtans skuldig is aan roof.
[14] Dit is geykte reg dat die misdaad van roof slegs gepleeg word wanneer
daar ’n verbintenis bestaan tussen die elemente
van diefstal en
geweldpleging. Met ander woorde die gebruik van geweld of ’n dreigement
van geweld moet met die bedoeling
wees om daardeur die slagoffer se wil tot
weerstand uit te skakel of sy weerstand te oorkom of te verhoed sodat die
slagoffer se
goed geneem kan word. (Sien bv S v Moloto 1982 (1) SA 844
(A) op 850 B - C; S v Witbooi 1984 (1) SA 242 (K) op 245 H - 246 A; Ex
parte Minister van Justisie : In re S v Seekoei 1984 (4) 690 (A) op 707 B -
C.)
[15] Dit blyk uit die getuienis van die Goosen broers dat die motivering
vir die aanval op die oorledene blote boewery was. Nadat
die oorledene
bewusteloos geslaan is het die Goosens hom nog geskop. Hulle is toe terug na die
woonstel sonder om sy horlosie of
enigiets van hom af te neem. Daar was niks om
hulle te verhoed om sy goed te neem indien die motivering vir die geweldpleging
diefstal
was nie. Met hulle terugkoms op die toneel saam met die beskuldigdes is
die oorledene weer op ’n brutale wyse aangerand. Weereens
was hierdie
aanval glad nie nodig om die oorledene se goed te steel nie. Hy het nog altyd
bewusteloos en in ’n weerlose toestand
bly lê. Alles dui daarop dat
die verwydering van die horlosie ’n nagedagte was. Daar is in elk geval
geen grondslag vir
’n afleiding dat die aanranding gepleeg is met die
opset om die oorledene se goed te steel nie. Na my mening het die staat
dus nie
daarin geslaag om roof te bewys nie en moes die hof a quo die appellant
aan diefstal skuldig bevind het. Dit volg dat die appèl moet
slaag.
[16] Die kwessie van vonnis moet opnuut oorweeg word. Tydens pleging
van die misdaad was die appellant 16 jaar en 11 maande oud.
(Hy is nou 21 jaar
oud.) Hy was ook ’n eerste oortreder. Dit is gemene saak dat hy die
horlosie op versoek van Jaco Goosen
geneem het en dat laasgenoemde toe dadelik
die horlosie van hom afgeneem het. Aan die anderkant, kan die gruwelike
omstandighede
waaronder die diefstal gepleeg is nie oor die hoof gesien word
nie. In al die omstandighede is ek van mening dat gevangenisstraf
vir ’n
tydperk van 6 maande ’n paslike vonnis sou wees. Die appellant is op 13
Februarie 1996 in die hof a quo gevonnis. Ons is deur sy advokaat in
kennis gestel dat hy nie borg hangende appèl toegestaan is nie en dat hy
moontlik nog
besig is om die opgelegde gevangenisstraf uit te dien. Indien dit
die geval is, volg dit dat hy onmiddellik vrygelaat moet word.
[17] Die
volgende bevel word toegestaan:
(a) Die appellant se appèl slaag; sy skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel en met die volgende vervang.
“Beskuldigde 1 word skuldig bevind aan diefstal en word gevonnis tot 6 maande gevangenisstraf.”
(b) Die twee vrae wat deur die hof a quo vir oorweging deur hierdie hof ingevolge die bepalings van art 319 van die Strafproseswet voorbehou is, word van die rol geskrap.
D G SCOTT
AR
HARMS AR - Stem saam
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1999/56.html