![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saaknommer: A 644/96
In die saak tussen:
MESHACK SILUALE Eerste Appellant
VIVIAN KHALELANI
MAYESA Tweede Appellant
HENRY JOHNSON Derde Appellant
en
DIE STAAT Respondent
Coram: Grosskopf, Howie en Marais, ARR
Verhoor: 17 Mei
1999
Gelewer: 26 Mei 1999
Vonnisse - buitengewone lang
termyne van gevangenisstraf - verlof om slegs teen kumulatiewe effek van
vonnisse te appelleer - effek
van so ’n
bevel.
________________________________________________________________
U I T S P R A A K
________________________________________________________________
F
H GROSSKOPF AR:
[1] Die drie appellante was respektiewelik beskuldigdes
1, 2 en 4 tydens die verhoor in die Transvaalse Provinsiale Afdeling voor
Weyers R en twee assessore. Al drie die appellante is skuldig bevind op
drie aanklagte van moord (aanklagte 1, 2 en 3), een van poging tot
moord
(aanklag 8) asook aan roof met verswarende omstandighede (aanklag 4). Die
eerste en tweede appellante is verder skuldig bevind
aan die wederregtelike
besit van AK 47-gewere en ammunisie (aanklagte 5 en 7) en die wederregtelike
besit van ander vuurwapens (aanklag
6). Vir sover daar enige twyfel mag bestaan
het, is die oorkonde op aansoek van die respondent, en met instemming van die
derde
appellant se advokaat, by die aanvang van die appèl reggestel
sodat dit nou duidelik is dat die derde appellant wel skuldig
bevind is op
aanklag 4 (roof met verswarende omstandighede.)
[2] Die eerste en
tweede appellante is elkeen vir die volgende termyne van gevangenisstraf op die
onderskeie aanklagte gevonnis:
aanklag 1 (moord) 35 jaar
aanklag 2 (moord): 35
jaar
aanklag 3 (moord): 35 jaar
aanklag 4 (roof): 20
jaar
aanklagte 5, 6 en 7 (besit van vuurwapens en ammunisie): 15
jaar
aanklag 8 (poging tot moord): 15 jaar
___________
Totaal: 155 jaar
Die verhoorregter het egter gelas dat die vonnisse op aanklagte 5,
6, 7 en 8 gesamentlik uitgedien word, wat meegebring het dat die
eerste en
tweede appellante elkeen tot ’n effektiewe termyn van 140 jaar
gevangenisstraf gevonnis is.
[3] Die derde appellant is soos volg op
die verskillende aanklagte gevonnis:
aanklag 1 (moord): 30 jaar
aanklag 2 (moord): 30
jaar
aanklag 3 (moord): 30 jaar
aanklag 4 (roof): 15
jaar
aanklag 8 (poging tot moord): 10 jaar
_____ __
Totaal: 115 jaar
_______
In sy geval is gelas dat die
vonnisse op aanklagte 4 en 8 gesamentlik uitgedien word, wat tot gevolg het dat
sy vonnis ’n effektiewe
termyn van 105 jaar gevangenisstraf
beloop.
[4] Die hof a quo het verlof tot appèl teen die
skuldigbevindings en vonnisse in die geval van al drie die appellante geweier.
Na oorweging
van petisies gerig aan die Hoofregter is verlof tot appèl
aan die eerste en derde appellante verleen, maar slegs teen die
onderskeie
vonnisse wat hulle opgelê is. In die geval van die tweede appellant is
verlof tot appèl slegs teen die kumulatiewe
effek van sy vonnisse
verleen. Die vraag of die bevoegdheid van hierdie hof om vryelik met die
tweede appellant se vonnis in te
meng daardeur beperk is, sal later bespreek
word.
[5] Dit is nodig om kortliks te beskryf onder watter
omstandighede die misdrywe gepleeg is, en watter rol elkeen van die drie
appellante
by die pleging daarvan gespeel het.
[6] Gedurende die
vroeë oggendure van Woensdag 1 September 1993 het twee motorvoertuie van
SBV Dienste vanaf hulle hoofkwartier
in Midrand vertrek en in ’n
noordelike rigting met die N1-snelweg gery. SBV is ’n onderneming wat
banknote en munte
namens sekere groot handelsbanke langs bepaalde roetes na
verskillende banktakke vervoer. Die twee SBV-voertuie wat op hierdie bepaalde
Woensdagoggend noord gery het, was ’n Toyota Hi-Ace pantservoertuig,
waarin ’n bedrag van R3,114 miljoen in banknote
vervoer is, en ’n
Toyota Corolla motor wat as begeleidingsvoertuig gedien het. In elkeen van
hierdie voertuie was daar ’n
bestuurder en ’n passasier gewapen met
vuurwapens.
[7] Die derde appellant het op daardie stadium reeds
’n geruime tyd by SBV gewerk en het geweet dat SBV-pantservoertuie met
geld op Woensdagoggende die N1-roete vanaf Midrand na die noorde volg. Die
derde appellant het hierdie inligting aan sy vriend
Trevor Liesering
(beskuldigde 3 in die hof a quo) oorgedra, en dit ook met ander
mededaders bespreek. Die derde appellant het dit gedoen met die wete dat hulle
beplan om ’n
SBV-voertuig te beroof. Op die dag van die rooftog was die
derde appellant egter saam met ander SBV-voertuie wat vroeër daardie
oggend
na die noorde vertrek het.
[8] ’n Swaar gewapende bende van
ongeveer vyftien rowers het die betrokke twee SBV-voertuie dié
Woensdagoggend voorgelê
en in ’n Ford bakkie en Mikrobus agtervolg.
Die eerste appellant het die bakkie bestuur. Die tweede appellant was saam met
’n groep rowers agterop die bakkie. Hulle was gewapen met AK 47-gewere.
Die bakkie het die pantservoertuig op die N1-snelweg
in die omgewing van
Centurion ingehaal en die groep op die bakkie het met die AK 47-gewere op die
twee insittendes van die pantservoertuig
losgebrand. Die bestuurder van die
pantservoertuig is doodgeskiet (aanklag 1), maar sy passasier (die klaer in
aanklag 8 ) het die
aanval gelukkig oorleef. Die pantservoertuig het daarna
teen ’n wal langs die pad tot stilstand gekom.
[9] ’n
Broodafleweringsvragmotor het pas tevore met ’n oprit vanaf Centurion op
die N1-snelweg opbeweeg. Die bestuurder
van daardie voertuig en sy passasier
het gesien hoe die Mikrobus langs die begeleidingsvoertuig inbeweeg en hoe daar
deur die oop
skuifdeur van die Mikrobus met AK 47-gewere op die insittendes van
die begeleidingsvoertuig geskiet word. Beide die bestuurder van
die
begeleidingsvoertuig en sy passasier is daar doodgeskiet (aanklagte 2 en 3).
Die begeleidingsvoertuig het onder ’n bos
op die grondstrook tussen die
twee bane van die snelweg tot stilstand gekom.
[10] Die Mikrobus het
’n u-draai gemaak en teruggekeer na waar die pantservoertuig tot stilstand
gekom het. Die eerste appellant
het daar opgedaag en ’n sogenaamde
“lang vuurwapen” op die insittendes van die broodvragmotor gerig en
hulle aangesê
om stil te sit. Die eerste appellant het ook ’n
handwapen teen die kop van mnr Momberg (die passasier in die pantservoertuig)
gedruk en hom beveel om die sleutel van die agterste deur van die
pantservoertuig aan hulle te oorhandig. Die tweede appellant het
toe die
traliehek aan die binnekant van die pantservoertuig met ’n breekyster
oopgebreek. Die rowers het sakke met geld agter
uit die pantservoertuig
verwyder en in die Mikrobus gelaai en toe weggejaag (aanklag 4). Een geldsak
met R175 000,00 se banknote
het egter in die pantservoertuig
agtergebly.
[11] Al drie die appellante het in die buit gedeel. Die
polisie het ook later groot bedrae kontant gevind wat deur die onderskeie
appellante versteek is.
[12] Die rooftog was klaarblyklik deeglik
vooraf beplan en toe volgens plan deur ’n bende swaar gewapende rowers
uitgevoer.
Hulle het die oorledenes sonder genade koelbloedig met outomatiese
gewere afgemaai sodat hulle ongehinderd met die roof van die
geld kon voortgaan.
Die eerste en tweede appellante het aktief deelgeneem. Die derde appellant was
weliswaar nie op die toneel teenwoordig
toe die moorde en roof gepleeg is nie,
maar hy was ’n belangrike skakel in die uitvoering van hulle
gemeenskaplike oogmerk.
[13] Daar kan geen twyfel bestaan oor die erns
van die reeks misdade wat die appellante gepleeg het nie. Hulle doel was
klaarblyklik
om hulleself wederregtelik te verryk. Die appellante het almal
gewerk en ’n inkomste gehad. Die roof is uit suiwer hebsug
gepleeg, en
in die proses het hulle letterlik oor lyke geloop om hulle doel te
bereik.
[14] Volgens die betoog van die respondent vereis die
gemeenskapsbelang dat daar baie streng teen hierdie soort misdadigers opgetree
word. Hierdie hof het inderdaad reeds by herhaling beslis dat die elemente van
afskrikking en vergelding sterk op die voorgrond
tree wanneer die doelstellings
van straftoemeting in gevalle van gewapende roof met gepaardgaande verlies aan
menselewens oorweeg
word. Die appellante het betoog dat die element van
hervorming nogtans nie uit die oog verloor moet word nie. In dergelike gevalle
word enige vooruitsig op hervorming egter heeltemal oorskadu deur die elemente
van afskrikking en vergelding. (Kyk S v D 1991(2) SASV 303(A) op 307G;
I Molefe v Die Staat, ongerapporteerde uitspraak van Kriegler Wnd
AR in hierdie hof, gelewer op 11.03.93 onder saaknommer 120/92; J Mnisi
v Die Staat, ongerapporteerdee uitspraak van Smalberger AR in hierdie
hof, gelewer op 16.03.93 onder saaknommer A1/92; S v Mhlakaza and Another
1997(1) SASV 515 (A) op 519 d-i.)
[15] Die persoonlike
omstandighede van die appellante kan in hierdie geval ook nie opweeg teen die
erns van die misdade en die gemeenskapsbelang
nie. Die appellante is almal as
eerste oortreders behandel. Die eerste appellant was egter ’n welvarende
besigheidsman wat
uit blote gierigheid aan die rooftog deelgeneem het.
Daarbenewens het hy ’n leidende rol tydens die pleging van die misdade
gespeel. Die tweede appellant was beslis ook nie ’n passiewe meeloper
nie. Die derde appellant was weliswaar nie op die toneel
teenwoordig toe die
misdade gepleeg is nie en die hof a quo het in sy guns aanvaar dat daar
in sy geval nie dolus directus nie maar slegs dolus eventualis
aanwesig was. Die vonnis wat die verhoorregter hom opgelê het, was dan
ook ietwat ligter as dié van die eerste en tweede
appellante.
[16]
Die appellante was onderskeidelik 35, 27 en 31 jaar oud toe hulle gevonnis is.
Die verhoorregter het doelbewus vir elkeen van
die appellante ’n
effektiewe termyn van gevangenisstraf opgelê wat sy verwagte lewensduur
ver oorskry het. Dit is gedoen
ten einde te verseker dat die appellante nooit
weer vrygelaat sou word nie. Ondanks die erns van die misdade en al die
strafverswarende
omstandighede van die geval is ek van mening dat die
kumulatiewe effek van die opeenvolgende vonnisse meebring dat die effektiewe
termyn van gevangenisstraf wat elke appellant opgelê is, so buitengewoon
lank is dat dit heeltemal ontoepaslik en onrealisties
is. Soos beslis in die
saak van S v Nkosi 1993(1) SASV 709(A) op 717 g-h (waar die termyne van
gevangenisstraf gesamentlik 122 jaar en ses maande beloop het) is ’n
vonnis
van lewenslange gevangenisstraf veel meer realisties in ’n geval
soos hierdie, ook “omdat dit nie een is wat die appellant
nooit sal kan
uitdien nie”. (Kyk verder Mhlakaza se saak, supra, op 522
h-i en 523 c-i; S v Tcoeib 1991(2) SASV 627 (NmS).) Trouens, indien
die omstandighede van ’n saak vereis dat die oortreder vir alle praktiese
doeleindes
permanent uit die samelewing verwyder word, is lewenslange
gevangenisstraf die enigste gepaste straf. Dit is bedoel as die swaarste
vonnis
wat opgelê kan word, maar daar is darem ook erkende prosedures wat parool
in gepaste gevalle moontlik maak, bv waar
die oortreder (selfs teen alle
verwagting in) werklik hervorm. Om daarenteen so ’n buitengewone lang
termyn van gevangenisstraf
op te lê dat dit geen moontlike hoop vir die
oortreder inhou dat hy ooit vrygelaat sal word nie, al gebeur wat ook al, pas
nie by ’n beskaafde regstelsel nie.
Volgens my oordeel is
lewenslange gevangenisstraf die mees gepaste vonnis vir al drie die appellante
in die onderhawige
saak.
[17] Die verhoorregter wou verder klaarblyklik
verhoed dat die verlening van parool en moontlike begenadiging deur die
uitvoerende
gesag enige werklike effek op die appellante se vonnisse sou
hê. Daardie oorweging kan egter nooit die oplegging van ’n
onrealistiese swaar vonnis regverdig nie. ’n Hof is immers nie bevoeg om
deur middel van ’n ontoepaslike vonnis die
toekenning van parool te
probeer neutraliseer nie. (Kyk Mhlakaza se saak, supra, 521 e
-522 h.)
[18] Die enigste oorblywende vraag is egter of hierdie hof
bevoeg is om die tweede appellant se vonnis na een van lewenslange
gevangenisstraf
te verander, gesien die beperkte verlof tot appèl wat in
sy geval verleen is, en wat soos volg lui:
“The applicant is granted leave to appeal to the Appellate Division but only in respect of the cumulative effect of his sentences.”
[19] In Mhlakaza se
saak, supra, is verlof tot appèl in soortgelyke terme toegestaan
en het die hof soos volg op 517f opgemerk:
“Pursuant to a petition addressed to the Chief Justice, leave to appeal was granted to this Court only in respect of the cumulative effect of the sentences imposed by the trial Court. The individual sentences were thus not the subject of any debate before this Court, and it has to be assumed that they are proper.”
Dit is nie heeltemal duidelik
waarom dit in daardie geval veronderstel moes word dat die individuele vonnisse
gepas was nie. Dit
kan wees omdat die toepaslikheid van die individuele
vonnisse nie gedebateer was nie, of dit kan wees omdat die verlof om te
appelleer
die appellant tot so ’n mate beperk het dat hy nie geregtig was
om die individuele vonnisse as sodanig te bevraagteken nie.
Ek kan egter nie
aanvaar dat die bewoording van die tweede appellant se verlof om te appelleer in
die onderhawige geval meebring
dat hierdie hof in die uitoefening van sy
diskresie beperk word nie. Dit sou beteken dat al slaag die appèl op die
besondere
grond waarop verlof om te appelleer aan hom toegestaan is, nl die
kumulatiewe effek van die vonnisse, daardie kumulatiewe effek slegs
op een
manier deur hierdie hof verlig sou kon word, nl deur te gelas dat sekere van die
vonnisse samelopend uitgedien word. Hierdie
hof sou dan nie by magte wees om
bv lewenslange gevangenisstraf as moontlike vonnis vir die tweede appellant te
oorweeg nie.
[20] Na my mening verleen die bepalings van subartikels
322(2) en (6) van die Strafproseswet 51 van 1977 in ieder geval wye bevoegdhede
aan hierdie hof om strawwe op appèl te verander, en kan die diskresie wat
aldus deur die wet aan die hof verleen word nie
deur die verlening van verlof om
te appelleer beperk word nie. Die betrokke subartikels lui soos volg:
“(2) By ’n appèl ingevolge artikel 316 of 316B teen ’n vonnis, kan die appèlhof die vonnis bekragtig of dit tersyde stel of wysig en die straf oplê wat by die verhoor opgelê behoort te gewees het.”
“(6) Die bevoegdhede wat by hierdie artikel aan die appèlhof met betrekking tot die oplegging van strawwe verleen word, sluit die bevoegdheid in om ’n straf op te lê wat swaarder is as dié wat die hof benede opgelê het of om ’n ander straf in die plek van of benewens sodanige straf op te lê.”
[21]
Soos reeds in paragraaf [16] hierbo gemeld, is ek van oordeel dat lewenslange
gevangenisstraf die gepaste vonnis vir al drie
die appellante is. Die
bewoording van die verlof wat aan die tweede appellant verleen is om teen sy
vonnisse te appelleer, verhoed
myns insiens nie dat ook hy lewenslange
gevangenisstraf opgelê word nie. Die verhoorregter het die derde
appellant ’n
effens ligter vonnis opgelê as dié van die ander
twee appellante. Die derde appellant se effektiewe vonnis was egter
steeds 105
jaar. Na my oordeel verdien die derde appellant egter wel lewenslange
gevangenisstraf. ’n Ligter vonnis sal myns
insiens onvanpas wees in die
lig van sy besondere deelname aan die misdade.
[22] Daar is geen
beswaar dat aanklagte op appèl tesame geneem word vir doeleindes van
vonnis nie. (Kyk S v Nkosi, supra, op 717 h-i.) In die onderhawige
geval kan aanklagte 1,2,3,4 en 8 aldus tesame geneem word en kan ’n vonnis
van lewenslange
gevangenisstraf dan vir al daardie aanklagte saam opgelê
word. Wat die statutêre oortredings betref waar die wetgewer
’n
maksimum vonnis neergelê het, nl aanklagte 5,6, en 7, kan die opgelegde
bepaalde vonnisse van gevangenisstraf bly
staan aangesien sulke vonnisse in
ieder geval volgens die bepalings van art 32(2)(a) van die Wet op Korrektiewe
Dienste 8 van 1959
saam moet loop met ’n vonnis van lewenslange
gevangenisstraf.
[23] Gevolglik slaag die appèl van al drie
die appellante in die volgende opsigte teen die onderskeie vonnisse wat hulle
opgelê is:
1. In die geval van die eerste en tweede appellante word al die vonnisse wat hulle op aanklagte 1,2,3,4 en 8 opgelê is, tersyde gestel.
2. In die plek daarvan word aanklagte 1,2,3,4 en 8 tesame geneem vir doeleindes van vonnis en word die eerste en tweede appellante elkeen ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf op daardie aanklagte opgelê.
3. Die vonnisse wat die eerste en tweede appellante op aanklagte 5,6,en 7 opgelê is, bly onveranderd staan.
4. In die geval van die derde appellant word al die vonnisse wat hom op aanklagte 1,2,3,4 en 8 opgelê is, tersyde gestel.
5. In die plek daarvan word aanklagte 1,2,3,4 en 8 tesame geneem vir doeleindes van vonnis en word die derde appellant ’n vonnis van lewenslange gevangenisstraf op daardie aanklagte opgelê.
-----------------------
F
H GROSSKOPF
Appèlregter
Howie AR)
Marais AR) stem saam
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1999/33.html