![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
VAN SUID-AFRIKA
In die saak
van:
WILLEM DANIëL VICTOR
Appellant
en
DIE
STAAT Respondent
CORAM: HOWIE, MARAIS ARR en MADLANGA Wr AR
DATUM VAN
VERHOOR : 14 Mei 1999
DATUM VAN
UITSPRAAK : 20 Mei 1999
U I T S P R A A K
/HOWIE AR:. . .
HOWIE AR:
Appellant is sewe jaar gevangenisstraf opgelê na
skuldigbevinding in `n streekshof op `n aanklag van sodomie en `n aanklag
van
onsedelike aanranding. Die klagtes is vir vonnisdoeleindes saamgeneem. Sy
appèl teen die vonnis is deur die Transvaalse
Provinsiale Afdeling van
die hand gewys. Met verlof van hierdie Hof appelleer hy teen sodanige
afwysing.
Op grond van getuienis ter versagting deur mnr R N J van der
Westhuizen, `n korrektiewe beampte in die Departement van Korrektiewe
Dienste,
en mnr J F Truter, `n kliniese sielkundige, is namens appellant aangevoer dat hy
tot niks meer nie as korrektiewe toesig
gevonnis moes gewees het.
Alhoewel daar formeel net een aanklag van elk van die misdrywe was, bewys
die getuienis - in ooreenstemming met die klagstaat -
dat appellant die klaer
gedurende die tydperk 1991 tot 1995 herhaaldelik
onsedelik aangerand en/of
met hom sodomie gepleeg het.
Toe die eerste voorval plaasgevind het was die
klaer, `n skoolseun, skaars twaalf jaar oud terwyl appellant, `n getroude
huisvader,
41 was. Van beroep is appellant `n rekenaarprogrammeerder wat ook
rekenaars regmaak. Toe die klaer se rekenaar `n fout ontwikkel
het, is dit op
sy moeder se voorstel na appellant - van wie sy te hore gekom het - vir
herstelwerk geneem. Dit was toe die klaer
en sy ouers die herstelde rekenaar
mettertyd gaan haal het, dat hy appellant ontmoet. Uit altwee se
belangstelling in rekenaars
het dit gevolg dat hulle saam rekenaarprogramme
begin skryf het. Vir daardie doel is die klaer dikwels met sy ouers se kennis
en
goedkeuring na appellant se huis. Uit die aard van die saak was hulle die
meeste van die tyd alleen. Liggaamlike kontak het na
`n paar weke begin toe
appellant aan die klaer se bobeen gevat het terwyl lg op die rekenaar getik het.
Die seun se reaksie was om
dit te probeer vermy deur doelbewus tikfoute te maak
sodat appellant die tikwerk moes oorneem. Dit het egter aanhoudend gebeur
en
met verloop van tyd het appellant verdere geleenthede geskep waartydens hulle
alleen was wat niks met rekenaarwerk te doen gehad
het nie. Hulle was dikwels
in `n woonwa wat op appellant se perseel gestaan het, waar hy toe pornografiese
materiaal te voorskyn
gebring en die klaer se belangstelling daarin probeer wek
het. Boonop het appellant nie net vir die klaer in rekenaarprogrammering
opgelei nie maar hom rekenaarparte en ook ander geskenke gegee. Hy het die
klaer ook saamgeneem as hy rekenaars by bv skole moes
gaan regmaak, in die loop
waarvan hulle plekke besoek het wat vir die seun interessant was. Die
misdrywe is toe ook by sodanige
plekke gepleeg.
In die omstandighede kon
die klaer hom nie daartoe bring
om fisiese kontak te weier of eers van
appellant se huis af weg te bly nie. Van betasting van die klaer se bene het
dit tot seksuele
kontak ontwikkel en uiteindelik, vanaf 1992, tot sodomie.
Laasgenoemde was by tye pynlik. Na die eerste betasting van die klaer
se
geslagsdele het hy deeglik daaroor gedink of hy sy ouers daarvan sou vertel.
Omdat hy verwag het dat hulle baie ontsteld sou
wees, het hy dit egter nie
gedoen nie. Die seksuele kontak was alles op appellant se eie bevrediging
gemik. Daar is geen getuienis
dat die klaer enige seksuele genot of
bevrediging ervaar of gesoek het nie. Trouens, hy het dikwels sy kommer
uitgespreek dat wat
plaasvind verkeerd was.
Dit blyk dus dat die klaer in
`n bose kringloop betrap is: hy het nie die moed gehad om sy ouers te vertel
nie en solank as wat
hy nie weerstand gebied het nie het appellant sy
geleenthede uitgebuit. Hierdie situasie is alleenlik beëindig toe die
klaer
uiteindelik - hy was toe sestien of amper dié ouderdom - besluit
het om appellant “terug te kry” vir wat hy aan
hom gedoen het. Hy
het rekenaarpornografie wat appellant hom gegee het uitgedruk om in lg se huis
neer te sit waar sy vrou dit
sou kon sien. Hy het dit uitgedruk maar alvorens
hy die plan verder kon voer, het sy vader die tersaaklike stuk ontdek en hom
ondervra.
Die storie het toe uitgekom en die saak is later aan die polisie se
kinderbeskermingseenheid gerapporteer.
Die voorgaande is `n opsomming van
die klaer se getuienis. Dit is namens die Staat in hoof gelei nadat appellant
aan albei klagtes
onskuldig gepleit het. Appellant, wat toe deur `n advokaat en
later deur `n prokureur verteenwoordig was, het op geen stadium die
klaer se
getuienis laat bestry of in twyfel trek nie en het daarna sy pleit na skuldig op
albei aanklagte verander. Hy het ook
nie getuig nie.
Appellant is nie `n
eerste oortreder nie. In 1989 is hy skuldig bevind op twee klagtes van
oortreding van art 14(1)(b) van Wet
23 van 1957 (pleging van `n onsedelike of
onbehoorlike daad) ten opsigte van twee jong seuns. Op elke klagte is die
volgende straf
opgelê, t w `n boete van R1000 of 6 maande
gevangenisstraf en daarbenewens 6 maande opgeskort vir 5 jaar. Die
opskortingsvoorwaardes
was, eerstens, dat hy nie skuldig bevind word aan
oortreding van art 14 (1) van Wet 23 van 1957 of onsedelike aanranding gepleeg
gedurende die opskortingstydperk nie en, tweedens, dat hy hom vir een jaar aan
toesig deur `n proefbeampte sou onderwerp.
Appellant is op 29 Mei 1996 in
die onderhawige saak skuldig bevind. Voor hervatting van die saak vir
vonnisdoeleindes op 21 Augustus
1996 het mnr Van der Westhuizen `n verslag
voorberei en het appellant hom tot mnr Truter vir raad en behandeling gewend.
Mnr Van der Westhuizen het in hoofgetuienis sy verslag bekragtig.
Daarvolgens het hy korrektiewe toesig ingevolge art 276 (1)(h)
van die
Strafproseswet 51 van 1977 aanbeveel. Sy redes was dat appellant maklik
moniteerbaar was, dat die “behandeling, streng
struktuur en kontrole van
korrektiewe toesig . . . die risiko [aan die publiek] (kon) verlaag”, dat
dit geblyk het dat hy `n
kandidaat vir aanhouding binne gemeenskapsverband was
en, laastens, dat hy na bewering goed onder sielkundige behandeling (deur mnr
Truter) gereageer het.
In kruisondervraging erken die getuie dat sy taak
was om appellant se geskiktheid vir korrektiewe toesig te oorweeg en nie `n
straf
voor te stel nie. Hy gee ook toe dat gepaste behandelingsprogramme in `n
gevangenis beskikbaar is. Die ideaal, sê hy,
sou wees dat appellant met
die destydse behandeling voortgaan.
Mnr Truter herhaal appellant se
persoonlike en veral seksuele geskiedenis soos deur lg aan hom oorgedra. Na
bewering is appellant
op verskeie geleenthede toe hy tussen sewe en nege jaar
oud was deur `n familielid gemolesteer. Alhoewel hy mnr Truter laat verstaan
het dat hierdie geen traumatiese ervaring was nie, meen die getuie dat appellant
op daardie ouderdom sterker identifisering met jong
kinders ontwikkel het en
veiliger gevoel het om met hulle verhoudings aan te knoop en intiem te verkeer.
Derhalwe, toe seksuele
probleme na bewering gedurende sy huwelik ontstaan het,
het appellant hom tot seuns gewend. Volgens mnr Truter ly appellant dus
aan `n
seksuele versteuring van `n patologiese aard wat met psigoterapie herstelbaar
is, welke behandeling hy begin toepas het toe
appellant hom na Mei 1996 genader
het. Die behandelingsessies het ook appellant se vrou ingesluit en volgens mnr
Truter het dit
positiewe gevolge vir albei eggenote gehad, wat goed daarvoor
gemotiveer was. Appellant het mettertyd sy probleem erken waar hy
dit
vroeër ontken het en die prognose vir hom en sy huwelikslewe was na die
getuie se mening goed. Hy het dus voortgesette
opvolgende individuele en
gesinsterapie aanbeveel wat onwaarskynlik in gevangenisverband prakties
uitvoerbaar sou wees, veral in
ag genome wat die getuie beskryf as `n drastiese
tekort aan sielkundiges in die gevangenis en ook in die lig van die feit dat
appellant
die behoefte het om sy selfwaarde in die gemeenskap op te bou en te
behou.
Wat die vorige vonnis betref sê mnr Truter dat dit daartoe
gelei het dat appellant drie of vier sessies van sielkundige behandeling
bygewoon het maar dat hy dit na bewering redelik oppervlakkig gevind het. Die
betrokke sielkundige het hom blykbaar die indruk
gegee dat omdat sodomie met
jong seuns dikwels in die Griekse en Romeinse tye plaasgevind het sy gedrag nie
so afkeurenswaardig was
nie. (Mnr Truter het enige moontlike mededeling tot
daardie effek, of appellant se afleiding daaruit, in geen opsig onderskryf
of
goedgekeur nie.) Die vorige sielkundige het skynbaar appellant meegedeel dat
gereelde behandeling onnodig was en dat behandeling
voldoende sou wees net soos
die behoefte ontstaan. In hierdie omstandighede, aldus mnr Truter, is die
vorige terapie asook appellant
se motivering in die wiele gery.
Wat die
klaer betref, het mnr Truter geredelik toegegee dat hy met psigiese letsels
gelaat is waarvoor hy intensiewe terapie sou
moet kry om te vermy dat hy
“in dieselfde voetspore loop as die beskuldigde”. In hierdie
verband is die klaer se vader
namens die Staat geroep. Hy het getuig dat die
misdrywe die seun wesenlik negatief geaffekteer het ten opsigte van sy uitkyk op
die lewe, sy gedrag, sy skoolwerk en sy houding en verhoudinge binne
gesinsverband. Een van die grootste probleme, volgens die
getuie, was dat sy
seun gereeld verby appellant se huis (wat naby syne geleë is) moet ry en by
dié geleenthede waar hy
appellant sien, raak hy merkbaar gespanne. By
meer as een geleentheid het hy sy ouers gevra of hulle nie liewers kon wegtrek
nie.
Die verhoorlanddros het hoofsaaklik om twee redes gevangenisstraf
opgelê. Die eerste was dat, te oordeel aan appellant se
vorige
veroordeling en sy gedrag in die onderhawige geval, hy `n gevaar vir jong seuns
was. Met daardie gevolgtrekking kan geen
fout gevind word nie. Hy het egter
ook die volgende rede verstrek:
“I have considered a sentence with a fine. I have also considered a sentence of correctional supervision, but I found both sentences to be inappropriate. The reason I found these to be inappropriate is that the complainant does not stay far away from Mr Victor, and on his way to school and from school he must at some stage or on some occasions pass near Mr Victor’s house and each time he passes Mr Victor’s house, the memory comes back to him and haunts him.”
Na my mening is
hierdie, alhoewel nie `n verkeerde feitestelling nie, nogtans `n onhoudbare rede
vir die oplegging van gevangenisstraf.
Logies toegepas, beteken dit dat die
klaer se reaksie voldoende rede vir so `n straf sou gewees het selfs al sou die
ander feite
en omstandighede `n buitestraf geregverdig het. Dít kan
onmoontlik korrek wees. Die streeklanddros het hom dus wanvoorgelig
en in `n
mate wat sy benadering tot vonnisoplegging wesenlik beïnvloed het. Dit
staan hierdie Hof dus vry om vonnis opnuut
te oorweeg en op te
lê.
Mnr Truter se mening dat appellant aan `n patologiese seksuele
versteuring gely het, blyk met die waarskynlikhede ooreen te stem.
Sy gedrag
is nouliks op enige ander grondslag verklaarbaar. Aan die ander kant sou sy
vorige oortreding hom ongetwyfeld geleer
het (as hy dit nie vroeër ten
volle besef het nie) wat die gemeenskap se houding (soos weerspiëel in die
tersaaklike strafregtelike
bepalings) teenoor seksuele gedrag met jong seuns
was. Dit het hom ook die geleentheid gebied om te verneem dat mens vir sy
soort
probleem sielkundig behandel kan word. Daar is geen getuienis dat sy
versteuring drange laat ontstaan wat moeilik weerstaanbaar
is nie. Hy het ook
geen verduideliking verstrek waarom hy na sy eerste oortreding nie meer
doeltreffende sielkundige hulp gesoek
het nie. Hy het dit vinnig genoeg gedoen
onmiddelik na sy skuldigbevinding in hierdie saak. Hy kon dit klaarblyklik
destyds gedoen
het. Hy moes geweet het dat die vorige behandeling
ondoeltreffend was en dat die seksuele neigings wat hom in die moeilikheid
gebring
het, sou bly voortbestaan. Die onvermydelike afleiding is dat hy
onverskillig ten opsigte van die gevolge was. Dít en
die feit dat hy
binne die opskortingstydperk van sy vorige vonnis weer oortree het, is sterk
verswarende faktore. Die omstandighede
openbaar minagting teenoor die reg en
verontagsaming van die belange en welsyn van die klaer.
Dit is ook
verswarend dat hy berekend en sorgvuldig opgetree het om die klaer te verlei en
die daaropvolgende gebeure geheim te
hou; dat hy vir alle praktiese doeleindes
in `n vertrouensposisie was teenoor die kind; en dat daar nie net een of twee
voorvalle
hier was nie maar dat hy die klaer se klaarblyklike onvermoë of
versuim om sy ouers te vertel, vir amper vyf jaar tot sy eie
voordeel en
selfsugtige bevrediging gebruik het.
Die omstandighede vereis dus dat die
afskrikkings- en vergeldingsoogmerke van strafoplegging in hierdie saak sterk op
die voorgrond
tree. Diegene wat neigings het soos dié wat appellant
geopenbaar het - en waarvan behoorlike behandeling hom hopelik mettertyd
sal
bevry - moet nie skuiling probeer soek agter opvattings gebaseer op wat in
antieke tye plaasgevind het nie. Die regstelsel
van geen beskaafde land het
nagelaat om geslagtelike verkeer per anum strafbaar te maak waar dit
sonder regsgeldige toestemming of met `n persoon onder die leeftyd van
toestemming plaasvind: National Coalition for Gay & Lesbian Equality v
Minister of Justice 1999 (1) SA 6 CC 40 par 66.
Gevangenisstraf vir `n
wesenlike tydperk is derhalwe ongetwyfeld die gepaste straf in appellant se
geval. Dit is ongelukkig dat
dit sy gesin nadelig sal affekteer. Dit is ook
ongelukkig indien dit sy behandelingsprogram tot `n mate ontwrig. Daardie is
egter
die onvermydelike gevolge van uitvoering van die Hof se plig om in die
beste belang van die gemeenskap as geheel en veral van die
kwesbare jeug op te
tree.
Wat `n gepaste tydperk van gevangenisstraf betref meen ek dat sewe
jaar, ongeag die verswarende faktore hier teenwoordig, nietemin
té
swaar is. Myns insiens sou vyf jaar aan al die behoeftes van die saak voldoen
en moet die appèl derhalwe slaag.
Die volgende bevel word
gemaak:
1. Die appèl slaag.
2. Die bevel van die hof a quo word ter syde gestel en met die volgende vervang:
“Die appèl slaag. Die vonnis deur die verhoorhof opgelê word ter syde gestel en vervang met `n vonnis (vir doeleindes waarvan albei klagtes saamgeneem word) van 5 (vyf) jaar gevangenisstraf.”
_______________________
C T HOWIE
MARAIS AR) CONCUR
MADLANGA
Wr AR )
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1999/29.html