![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
Saak nr: 483/96
VAN SUID-AFRIKA
In die saak tussen:
Die Kommissaris van
Binnelandse Inkomste 1ste Appèllant
Mark Bryen
N.O. 2de
Appèllant
en
William Andrew
Willers 1ste Respondent
Albert van Zyl
Willers 2de Respondent
Jan Bernardus
Willers 3de Respondent
GJ Holy 4de
Respondent
Pieter de Witt 5de
Respondent
Meester van die Hooggeregshof van
Suid-Afrika
(Transvaalse Provinsiale Afdeling) 6de
Respondent
Coram: Hefer, Marais, Schutz, Plewman ARR
en Madlanga Wnr AR
Datum van verhoor: 18 Maart 1999
Datum van uitspraak: 30 Maart
1999
Inkomstebelasting - Belastingpligtige nie in staat om te
betaal - Actio Pauliana - Bedoeling om te bedrieg.
U I T S P R A A K
Hefer AR
[1] Inkomstebelasting is natuurlik betaalbaar deur die persoon aan wie
die inkomste waarop dit gehef word, toegeval het. In die
gewone loop van sake
word dit van hom verhaal. In die onderhawige geval is die belastingpligtige
`n private maatskappy, Bergbries
(Edms) Bpk (‘Bergbries’), wat
vrywillig deur sy lede gelikwideer is, en geen bates besit nie, en nie in staat
is om sy
belasting te betaal nie. Die aksie is gemik teen persone wat voor
likwidasie voordeel getrek het uit die vervreemding van die maatskappy
se
enigste bate, en teen `n voormalige likwidateur wat na likwidasie nagelaat het
om eise in te vorder wat Bergbries na bewering
in staat sou gestel het om die
belasting te betaal.
[2] Die Kommissaris (as eerste eiser) en die huidige
likwidateur (as tweede eiser) het die aksie in die Transvaalse Provinsiale
Afdeling
ingestel. Vier lede van die Willers familie is as eerste, tweede,
derde en vierde verweerders gevoeg en die voormalige likwidateur
wat inmiddels
van sy amp onthef is, as vyfde verweerder. In die dagvaarding is verskillende
bedrae uit hoofde van verskeie alternatiewe
skuldoorsake van die verweerders
geëis.
[3] Aanvanklik het die verweerders `n eksepsie teen die
besonderhede van eis geneem wat later deur hierdie Hof beslis is in
Kommissaris van Binnelandse Inkomste en `n Ander v Willers en Andere 1994
(3) SA 283 (A). Om moontlike verwarring te vermy moet daarop gewys word dat
sommige van die feitebewerings waarop die eise destyds
gebaseer was later
verkeerd geblyk te gewees het. (Op daardie stadium was die eisers se saak
gebaseer op betalings wat die voormalige
likwidateur na bewering aan Bergbries
se aandeelhouers gemaak het. Sulke betalings het inderdaad nooit geskied nie;
soos aanstons
sal blyk, het Bergbries voor likwidasie sy vaste eiendom verkoop
en die opbrengs onder sy aandeelhouers verdeel. Via twee filiale
wat die
ontvangde geld elk op sy beurt onder sy eie lede verdeel het, het bykans die
totale bedrag wat oorspronklkik uit Bergbries
se koffers gevloei het,
uiteindelik in die sakke van die eerste vier verweerders beland.) Na hierdie
Hof se uitspraak is die besonderhede
van eis gewysig, nie net om hierdie aspek
van die saak reg te stel nie, maar ook deur die byvoeging van `n rits verdere
alternatiewe
skuldoorsake.
[4] Die verhoor op die gewysigde pleitstukke het
voor Southwood R plaasgevind. Die enigste getuies was twee amptenare verbonde
aan
die Kommissaris se kantoor in Pretoria wat deur die eisers geroep is. Hulle
getuienis dra niks by tot die geskilpunte wat tans ter
sprake is nie. Origens
het die partye hulle verlaat op dokumente wat by ooreenkoms sonder formele bewys
ingehandig is. Sommige hiervan,
mag ek dadelik sê, is nuttig; ander is
van geen nut nie of van twyfelagtige toelaatbaarheid teenoor bepaalde
verweerders,
soos dikwels die geval is wanneer massiewe bundels ingehandig word
sonder om eers die bewyswaarde van elke dokument te oorweeg.
Nadat die eisers
sommige skuldoorsake laat vaar het, het Southwood R op al die oorblywendes
uitspraak teen die eisers gelewer maar
verlof verleen om te appelleer.
[5] In hierdie Hof het die eisers se advokate nog `n skuldoorsaak laat vaar.
Voordat ek met die wat nou nog oorbly handel, is dit
nodig om kortliks die
verloop van gebeure te beskryf aan die hand van feite wat nie in geskil is
nie.
[6] Ongeveer `n jaar voor likwidasie het Bergbries se direkteure die
enigste vaste bate van die maatskappy verkoop en die opbrengs
onder die
aandeelhouers verdeel. Soos reeds aangedui, het bykans die hele bedrag via
filiale uiteindelik in die eerste vier verweerders
se sakke beland. Hulle was
almal aandeelhouers en/of direkteure van Bergbries en/of die filiale.
[7] Die bedrae wat Bergbries aan sy aandeelhouers betaal het, is teen
laasgenoemde se leningsrekenings gedebiteer en daarna deur al
die betrokkenes
behandel as lenings wat op aanvraag terugbetaalbaar was. Die rede was dat die
maatskappy se ouditeure (`n firma
genaamd Pim Goldby) die direkteure vroegtydig
gewaarsku het dat die wins uit die verkoping moontlik onderhewig sou wees aan
inkomstebelasting
en die gedagte was dat, sou Bergbries inderdaad belas word,
elke aandeelhouer `n terugbetaling sou maak sodat die belasting betaal
kon
word.
[8] Die voormalige likwidateur was `n vennoot in Pim Goldby. Enkele
maande na sy aanstelling het hy `n eerste en finale likwidasie-
en
distribusierekening by die Meester ingehandig waarin die aandeelhouers se
leningsrekenings in die vorm van eise ten gunste van
die maatskappy as die
enigste bates getoon is. Nadat voorsiening gemaak is vir betreklik geringe
administrasiekoste is die balans
vir distribusie aan die aandeelhouers toegewys
maar, klaarblyklik omdat dit teen die leningsrekenings verreken is, nie aan
hulle
uitbetaal nie. Om dieselfde rede was dit op daardie stadium ook nie nodig
om die leningsrekenings in te vorder nie. Na die inhandiging
van die rekening
het die Kommissaris vorendag gekom met `n eis vir inkomstebelasting ten opsigte
van die wins op die verkoopte eiendom.
Hoe sake daarna verloop het, sal beskryf
word in die behandeling van die eise teen die voormalige likwidateur. Al wat
nodig is om
op hierdie stadium te sê, is dat die rekening uiteindelik in
ongewysigde vorm geadverteer is en ter insae gelê het.
In die afwesigheid
van beswaar deur die Kommissaris, het die Meester dit later bekragtig. Nog
later is die voormalige likwidateur
van sy amp onthef en die tweede eiser in sy
plek aangestel.
[9] Ek behandel vervolgens elke skuldoorsaak afsonderlik.
Die eise teen die voormalige likwidateur is `n gerieflike beginpunt.
Die eise teen die voormalige likwidateur.
[10] In die gewysigde Besonderhede van Vordering is hierdie eise soos volg geformuleer:
‘35 bis.1 Vyfde verweerder was nie later as begin April 1986 bewus van die bedrag wat Bergbries ten opsigte van inkomstebelasting aan Eerste Eiser verskuldig was nie;
35 bis.2 Vyfde verweerder was verder te alle wesenlike tye bewus
daarvan dat Bergbries die uitbetalings aan sy aandeelhouers gemaak het
soos in
paragrawe 32 bis.1 en 32 bis.2 hierbo uiteengesit;
35
bis.3 Nadat Vyfde Verweerder bewus geword het van die bedrag wat
Bergbries ten opsigte van inkomstebelasting aan Eerste Eiser verskuldig
was, het
daar `n regsplig op hom gerus om uit vermelde bedrae wat deur Bergbries
uitbetaal is voldoende bedrae terug te vorder om, wanneer hy deur Eerste Eiser
versoek word
om dit te doen, die bedrag aan Eerste Eiser verskuldig aan hom te
kan betaal;
35 bis.4 Vyfde Verweerder het gemelde regsplig wat
op hom gerus het, opsetlik, alternatiewelik nalatiglik, verbreek
deur te versuim om uit vermelde bedrae wat deur Bergbries uitbetaal is
voldoende bedrae terug te vorder om hom in staat te stel om
as likwidateur van
Bergbries die bedrag wat Bergbries ten opsigte van inkomstebelasting aan Eerste
Eiser verskuldig was, te kon betaal;
35 bis.5 As gevolg
van Vyfde Verweerder se vermelde opsetlike, alternatiewelik nalatige,
verbreking van die regsplig wat op hom gerus het, is Bergbries tans nie
in staat om enige gedeelte van die inkomstebelasting wat hy aan Eerste Eiser
verskuldig is, te kan betaal nie;
35 bis.6 As ‘n verdere gevolg
van Vyfde Verweerder se vermelde opsetlike, alternatiewelik nalatige,
verbreking van die regsplig wat op hom gerus het, ly Eerste Eiser skade in `n
bedrag van R3 264 234,00 welke skade
die bedrag verteenwoordig wat Eerste
Eiser in staat sou gewees het om van Bergbries te kon vorder indien Vyfde
Verweerder nie die
regsplig wat op hom gerus het, verbreek het, soos hierbo
uiteengesit nie ......
48 bis.1 Tweede Eiser herhaal paragrawe 35 bis.1, 35
bis.2, 35 bis.3 en 35 bis.4 hierbo;
48
bis.2 As `n verdere gevolg van Vyfde Verweerder se vermelde
opsetlike, alternatiewelik nalatige, verbreking van die regsplig wat op
hom gerus het, ly Tweede Eiser in sy hoedanigheid vermeld skade in `n
bedrag van R3 264 234,00 welke bedrag die kapitale bedrag inkomstebelasting
deur
Bergbries aan Eerste Eiser verskuldig, verteenwoordig ...’
(Die
doel van die beklemtoning is om aandag te vestig op die feit dat die eisers se
saak teen die voormalige likwidateur uitsluitlik
op die verbreking van `n
besondere regsplig gebaseer is en op die aard en omvang van die regsplig waarop
hulle steun.)
[11] Die herhaalde verwysing in die Besonderhede van Vordering
na die voormalige likwidateur se ‘opsetlike, alternatiewelik
nalatige’ verbreking van sy regsplig is opvallend. In hierdie Hof het Mnr
Delport namens die eisers te kenne gegee dat hulle
steeds op `n
opsetlike verbreking steun in die sin dat die voormalige
likwidateur daadwerklik bedoel het om die Kommissaris te benadeel. Die
eenvoudige
antwoord op hierdie deel van die betoog is dat so ‘n bedoeling
nie gepleit is nie en nog minder bewys is. Soos ek aanstons
sal aantoon
wanneer ek sy beweerde nalatigheid behandel, mag daar op die waarskynlikhede `n
volkome onskuldige verduideliking wees
waarom die voormalige likwidateur versuim
het om terugbetalings van die aandeelhouers te vorder.
[12] By die
beoordeling van die vraag of nalatigheid bewys is, moet beklemtoon word dat dit
slegs gaan om die voormalige likwidateur
se versuim om (soos in paragraaf 35
bis.3 beweer) ‘voldoende bedrae terug te
vorder’. Ek sê dit omdat hy, soos reeds genoem, ook
versuim het om die likwidasie- en distribusierekening te wysig deur die
invoeging van die Kommissaris se eis. Waarom hy die rekening nie reggestel het
nadat alle twyfel uit die weg geruim is oor Bergbries
se aanspreeklikheid vir
betaling van die belasting nie, maar dit inteendeel geadverteer en die Meester
se bekragtiging daarvan verkry
het, weet ons nie. In die afwesigheid van `n
verduideliking het Mnr Burman namens hom toegegee dat hy prima facie grof
nalatig was. Hierdie toegewing neem die eisers se saak egter niks verder nie
omdat die werklike vraag is of nalatigheid, in
die enkele opsig dat hy versuim
het om bedrae terug te vorder, bewys is.
[13] Vir `n antwoord
op hierdie vraag is ons aangewese op die inligting wat die dokumente verskaf.
Daaruit blyk die volgende:
(a) Die voormalige likwidateur het Bergbries se inkomstebelastingopgawe ten
opsigte van die jaar waarin die eiendom verkoop is gedurende
April 1985
ingehandig. Daarin het hy die verkoping openbaar. Toe die Kommissaris hom kort
daarna versoek het om redes te verskaf
waarom die wins nie belas moes word nie,
het hy die saak na die direkteure of hulle prokureurs verwys en laasgenoemde het
die redes
aan die Kommissaris verskaf.
(b) Desondanks het die Kommissaris
gedurende Maart 1986 `n eis vir betaling van die belasting ingelewer en op 1
April 1986 het `n
aanslag gevolg.
(c) By ontvangs van die eis het die
voormalige likwidateur terugbetalings van Bergbries se aandeelhouers aangevra.
Sy brief aan elke
aandeelhouer eindig met die waarskuwing dat
‘[i]ndien die aanslag nie betaal word nie sal die Ontvanger teen die
Maatskappy vonnis neem, die hof sal `n likwidateur aanstel
wie op sy beurt sal
optree om [die aandeelhouers se leningsrekenings] in te vorder.’
(d) Geen terugbetaling het egter geskied nie omdat die direkteure beswaar
aangeteken het teen die aanslag. Toe die beswaar van die
hand gewys is, het
hulle, eers na die Spesiale Hof, en later na hierdie Hof geappelleer en met die
Kommissaris gereël dat die
belasting nie betaal sou word terwyl die
appèlle hangend was nie. Die appèl na hierdie Hof is eers
gedurende Februarie
1990 teruggetrek.
(e) Intussen het die vraag ontstaan of
die leningsrekenings nog afdwingbaar was. In `n memorandum wat die prokureurs
vir `n aandeelhouer
in een van die filiale gedurende Junie 1988 voorberei het
met die oog op die verkryging van `n advokaat se mening, verskyn die
volgende:
‘Soos u sal merk is konsultant en die ouditeure (Pim Goldby) in dispuut
met betrekking tot die aanspraak van konsultant as sou
die eis van Bergbries
reeds verjaar het ...
Pim Goldby het aangedui dat hulle bereid is om te berus
by die regsmening van `n Senior Advokaat na aanleiding van die dispuut.’
(f) Die betrokke advokaat se mening is eers `n jaar later verskaf. Die
strekking daarvan was dat die leningsrekenings inderdaad verjaar
het.
(g) Later gedurende 1989 het een van Bergbries se direkteure `n opinie
oor dieselfde vraag van `n ander advokaat gekry. Hoewel in
hierdie opinie gewys
is op art 13(1) van die Verjaringswet waarvolgens voltooiing van verjaring
uitgestel word indien die skuldeiser
`n regspersoon is en die skuldenaar `n
bestuurslid daarvan, was die slotsom dat dit wou voorkom asof minstens die die
leningsrekening
van die betrokke direkteur inderdaad verjaar het. Of hierdie
opinie ooit tot die kennis van die voormalige likwidateur gekom het,
blyk nie
uit die dokumente nie.
[14] Word al hierdie feite in ag geneem, meen ek nie
dat nalatigheid ten opsigte van die voormalige likwidateur se versuim om fondse
terug te vorder, bewys is nie. Dit is verstaanbaar dat hy dit nie gedoen het nie
gedurende die tydperk van onsekerheid wat geskep
is deur die beswaar teen die
aanslag en die appèlle : sou hy op daardie stadium aangedring het op
betaling sou die antwoord
heelwaarskynlik (en tereg) gewees het dat die
Kommissaris uitstel verleen het vir betaling en dat Bergbries se
aanspreeklikheid vir
belasting in elk geval nie `n uitgemaakte saak was nie. En
nadat die onsekerheid gedurende Februarie 1990 verdwyn het, het hy nog
steeds
gesit met minstens een advokaatsopinie tot die effek dat die leningsrekenings
verjaar het.
[15] Dit moet verder nie uit die oog verloor word nie dat die
voormalige likwidateur ooreenkomstig die bepalings van art 386(3)(c)
gelees met
art 386(4)(a) van die Maatskappywet nie by magte was om aksie in te stel sonder
die magtiging van Bergbries se lede nie.
Boonop is alle aanduidings dat hy oor
geen fondse vir `n geding teen die aandeelhouers beskik het nie; selfs die
administrasiekoste
is betaal uit inbetalings wat laasgenoemde spesiaal vir die
doel gemaak het. Prima facie was sy hande afgekap.
[16] Weens hierdie
redes is ek van oordeel dat Southwood R tereg tot die gevolgtrekking gekom het
dat die eise teen die voormalige
likwidateur van die hand gewys moes word. Dit
is nie nodig om die redes te behandel wat die geleerde regter aangevoer het vir
die
mislukking van die eise nie.
Die actio Pauliana.
[17] Die
partye is dit eens dat enige regshandeling waardeur `n skuldenaar in fraudem
creditorum van sy goed vervreem, vernietig kan word onder die moderne vorm
van die actio Pauliana. In die lig van uitsprake soos dìe in
Fenhalls v Ebrahim and Others 1956(4) SA 723 (D) op 727D-G en
Commissioner of Customs and Excise v Bank of Lisbon International Ltd and
Another 1994(1) SA 205 (N) op 209D-J het Mnr Delport aanvaar dat `n
suksesvolle eis om vernietiging bewys verg, onder andere, dat die regshandeling
`n vermindering van die skuldenaar se bates tot gevolg gehad het en verrig is
met die doel om te bedrieg in die sin van `n bedoeling
om skuldeisers, of `n
besondere skuldeiser, te benadeel.
[18] Omdat fraus creditorum
gewoonweg beweer word in die konteks van die vervreemding van bates voor die
insolvensie van die skuldenaar of die likwidasie van
`n maatskappy, kon verwag
word dat die eis in die onderhawige geval gemik sou gewees het op die
aanvanklike verdeling van Bergbries
se bates onder sy aandeelhouers. Dit is
egter nie wat die opsteller van die Besonderhede van Vordering in gedagte gehad
het nie.
Die kern van die eis blyk uit die volgende bewerings:
‘32 ter.5 Eerste tot vierde verweerders, in hul hoedanighede as
direkteure en aandeelhouers van Bergbries, het dit bewerkstellig dat
Bergbries, alternatiewelik Vyfde Verweerder in sy hoedanigheid vermeld,
nie `n voldoende gedeelte van die bedrae uitbetaal teruggevorder het om
die bedrag aan Eerste Eiser verskuldig aan hom te kan betaal nie, welke optrede
plaasgevind het met die bedrieglike oogmerk om
te verhoed dat Eerste Eiser in
staat sou wees om die bedrag wat Bergbries aan hom verskuldig is van Bergbries
te kan verhaal;
32 ter.6 As gevolg van Eerste tot Vierde Verweerders se bedrieglike
optrede soos in die vorige paragraaf uiteengesit, is Eerste Eiser tans
nie in
staat om die bedrag wat Bergbries aan hom verskuldig is van Bergbries te verhaal
nie;
32 ter.7 In die vooropstelling is Eerste tot Vierde Verweerders,
gesamentlik en afsonderlik, die een betalende die ander kwytgeskeld te
word,
regtens verplig om aan Eerste Eiser `n bedrag van R3 264 234,00 te betaal, welke
bedrag die kapitale bedrag inkomstebelasting
verteenwoordig wat deur Bergbries
aan Eerste Eiser verskuldig is tesame met rente daarop ...’ (Beklemtoning
bygevoeg.)
[19] Mnr Delport het verduidelik dat hierdie skuldoorsaak,
soos die vorige een, betrekking het op die feit dat die voormalige likwidateur
nie die leningsrekenings ingevorder het nie. Volgens hom kom kwytskelding van
`n skuld neer op die vervreemding van `n bate en het
die voormalige likwidateur
die eerste vier verweerders kwygeskelt; daarom is aan die eerste bewysvereiste
voldoen. Omdat die kwytskelding
ex titulo lucrativo geskied het (wat die
aandeelhouers betref), het hy voorts geredeneer, is dit nie nodig om `n
bedrieglike opset te bewys nie.
[20] Aanvanklik moet ek sê dat ek dit
moeilik vind om die redenasie te korreleer met die bewerings in die Besonderhede
van Vordering.
Ek behandel nie die verwarrende bewering in par 32 ter.5
dat Bergbries nie van die uitbetaalde geld teruggevorder het nie
omdat dit in die samehang van die hele saak totaal onsinnig is en Mnr Delport
nie daarvan gewag gemaak het in sy betoog nie. Word die res van paras 32
ter.5 en 32 ter.6 saamgelees en in verband gebring met die
voorafgaande gedeelte van par 32 ter wat ek nie aangehaal het nie, word
die Kommissaris se saak duidelik. In die voorafgaande gedeelte word die
geskiedenis van die uitbetalings
en die manier waarop `n gedeelte van die geld
na die eerste vier verweerders gevloei het, beskryf; origens word slegs beweer
dat
die Kommissaris laatstens vanaf April 1986 `n skuldeiser van Bergbries was,
dat die maatskappy na die uitbetalings nie oor fondse
beskik het om die
belasting te betaal nie en dat geeneen van die eerste vier verweerders enige
teenprestasie gelewer het vir die
geld wat hulle ontvang het. Opgesom is die
saak wat gepleit is dat die eerste vier verweerders op bedrieglike wyse
bewerkstellig
het dat die voormalige likwidateur nie geld van hulle
teruggevorder het wat hulle sonder teenprestasie ontvang het nie.
[21] In
die lig hiervan kom die beroep op die actio Pauliana my misplaas voor.
‘n Opvallende leemte is die afwesigheid van ‘n bewering van `n
bedrieglike bedoeling aan die kant van
die voormalige kurator. Dit is nie
korrek dat dit onnodig is om sodanige opset te beweer en te bewys in gevalle
waar die ontvanger
`n bate ex titulo lucrativo verkry het nie. Die
passasie in die uitspraak in Coetzer v Coetzer 1975(3) SA 931 (E) op 936F
waarop gesteun word, lui soos volg:
‘Generally speaking this actio required a collusive dealing
in fraudem creditorum by the two parties to the transaction, but where
the alienee acquires the property ex titulo lucrativo it is not necessary
to show that he was a party to or knew of the fraud.’
Die laaste
opmerking het slegs betrekking op die ontvanger (kyk ook Commissioner of
Customs and Excise supra op 209I-J). In Heedendaegse
Rechtsgeleertheyt 5.6.17 verduidelik Huber soos volg (volgens Gane se
vertaling):
‘As regards the possessor the distinction is made whether he obtained
the property on a lucrative or onerous title. If he obtained
it on an onerous
title, such as purchase or barter, then the property cannot be reclaimed from
him, unless it is clear that he knew
of the fraud: but with a lucrative title,
like donation, legacy or such like this action holds good, even though the
possessor did
not know of any fraud.’
Op gesag, onder andere, van
hierdie uiteensetting is in Commissioner of Customs and Excise op 210C-D
opgemerk:
‘There is therefore authority for the view that an actio in
factum lies for the recovery of property from a person who has acquired the
property gratuitously or without valuable consideration from
someone who has
alienated the property in fraudem creditorum even though the person who
acquired the property was innocent of the fraud.’
Dit beteken nie
dat `n bedrieglike opset aan die kant van die vervreemder nie
vereis word nie. So `n bedoeling is juis die wesenlike grondslag van die
fraus creditorum begrip. Dit mag wees dat die verkryging van `n bate
ex titulo lucrativo sonder bedrieglike opset aanvegbaar is as `n
vervreemding sonder teenwaarde in geval van die vervreemder se insolvensie maar
sonder bewys van laasgenoemde se bedrieglike
opset kan dit nie tersydegestel
word as in fraudem creditorum nie.
[22] In die onderhawige geval is
daar, afgesien van die afwesigheid van gepaste bewerings in die Besonderhede van
Vordering, geen
getuienis van `n bedrieglike opset aan die kant van die
voormalige likwidateur nie. Inteendeel, in die lig van die feite in paragraaf
13
hierbo en my opmerkings in paragrawe 14 en 15, dui die beskikbare getuienis
eerder op `n onskuldige rede waarom die leningsrekenings
nie ingevorder is nie.
[23] Bloot weens hierdie leemte in die Kommissaris se saak kan die eis nie
gehandhaaf word nie, maar ek ag dit gerade om die volgende
by te voeg:
(a) Niks wat in die Besonderhede van Vordering beweer of in die beskikbare getuienis te vinde is, regverdig die afleiding dat die versuim om die leningsrekenings in te vorder teweeggebring is deur enige optrede, bedrieglik of andersins, van die eerste vier verweerders nie.
(b) Hoewel ek argumentshalwe bereid is om te aanvaar dat `n aksie onder die
actio Pauliana betrekking kan hê op die vervreemding van bates na
insolvensie of likwidasie en dat die kwytskelding van `n skuld op die
vervreemding
van `n bate neerkom, word dit nie in die Besonderhede van Vordering
beweer, en is daar ook geen getuienis, dat die voormalige likwidateur
die
aandeelhouers kwytgeskeld het nie. Inderdaad het hy versuim om die
leningsrekenings in te vorder maar dit volg geensins dat
hy die skuldenaars
kwytgeskeld het van betaling nie.
Onregmatige
toeëining
[24] `n Volledige uiteensetting van hierdie skuldoorsaak
soos dit in die Besonderhede van Vordering verskyn, is nie nodig nie. Dit
is
gebaseer op die feit dat al die partye die bedrae wat Bergbries aan sy
aandeelhouers betaal het, beskou het as lenings wat op
aanvraag terugbetaalbaar
was, en op die eerste vier verweerders se versuim om terug te betaal. Bondig
gestel kom dit daarop neer
dat die eisers skade gely het as gevolg van die
hierdie verweerders se onregmatige toeëining van die geld wat elkeen
ontvang
het. Die beweerde toeëining het egter nie plaasvind by die
aanvanklike ontvangs van die geld nie; dit het eers later geskied
toe die
Kommissaris belasting gehef het en die betrokke verweerders besluit het om nie
terug te betaal nie.
[25] Ek vind dit ook nie nodig om die betoog namens die
eisers volledig te bespreek nie want daar steek klaarblyklik niks in nie.
Wesenlik word beweer dat die eerste vier verweerders `n gedeelte van die geld
van Bergbries gesteel het. Maar ons weet dat Bergbries
self die opbrengs van
die verkoping oorbetaal het. Omdat daar gevolglik geen sprake kan wees van
diefstal op daardie stadium nie,
poog die eisers om `n latere dieftige handeling
te konstrueer wat net eenvoudig nie bestaan nie. Mnr Delport het aanvanklik
aangevoer
dat Bergbries die geld oorbetaal het met die spesifieke doel om
inkomstebelasting wat moontlik gehef sou word, daaruit te betaal.
Volgens hom was die aandeelhouers (en ek neem aan alle andere wat later daarvan
ontvang het) verplig om terugbetalings
uit die ontvangde geld te
maak; en toe hulle versuim het om hierdie plig na te kom, het hulle diefstal
gepleeg. Gewys op die klaarblyklike onhoudbaarheid
van so `n redenasie (wat in
elk geval niks meer as blote bespiegeling is nie), het hy volstaan met `n ewe
onrealistiese en spekulatiewe
submissie dat die aandeelhouers verplig was om
fondse, hetsy van hulle eie of afkomstig van Bergbries, beskikbaar te hou vir
betaling
op aanvraag. Dit is nie nodig om die opsigtelike leemtes in hierdie
submissie uit te wys nie en daar is in elk geval geen getuienis
dat die
verweerders nie fondse beskikbaar gehou het nie.
[26] Die eisers het
hulself in die uiteensetting van hierdie skuldoorsaak die taak op die hals
gehaal om feite te bewys wat die versuim
van die ontvangers van die geld om
hulle verpligtings na te kom, van blote kontrakbreuk tot diefstal sal verhef.
Hulle het nie daarin
geslaag nie en die eise is tereg van die hand gewys.
Ongeregverdigde verryking
[27] Die bewerings onder hierdie hoof
verskyn in par 32 bis van die Besonderhede van Vordering. Nadat die nou
bekende geskiedenis van die uitbetalings en die effek van die afwesigheid van
terugbetalings
in die voorafgaande sub-paragrawe beskryf is en aangedui is wat
elkeen van die eerste vier verweerders ontvang het, word die volgende
beweer:
‘32 bis.10 Vyfde Verweerder het nagelaat om van elk van Eerste, Tweede,
Derde en Vierde Verweerders die bedrae in die vorige
paragraaf uiteengesit,
terug te vorder in die bona fide en redelike, maar foutiewe geloof dat
elk van die verweerders geregtig was om die volle bedrag van elke oorbetaling te
ontvang;
32 bis.11 In die alternatief en kumulatief tot paragraaf
32 bis.10:
Nòg Eerste, nòg Tweede, nòg Derde, nòg Vierde
Verweerder het enige teenprestasie aan Bergbries gelewer
ten aansien van die
bedrag wat elk van hul ontvang het uit die uitbetalings wat deur Bergbries
gemaak is.’
Daarna word beweer dat die eerste vier verweerders, elk
in `n bepaalde bedrag, ongeregverdig ten koste van die Kommissaris en die
huidige likwidateur verryk is.
[28] Omdat hierdie skuldoorsaak ook mank gaan
aan `n gebrek aan getuienis vind ek dit weereens nie nodig om die bewerings in
die Besonderhede
van Vordering en die betoog daaroor volledig te bespreek nie.
Ek is ook nie van plan om uit te wei nie oor die eienaardigheid van
`n beroep op
die condictio indebiti in `n geval waar dit nie gaan om die
terugvordering van `n onverskuldigde betaling nie, maar om die versuim om `n
bedrag in te vorder
wat na bewering verskuldig is. Die verhoorregter het die
condictio onvanpas gevind in so `n geval maar, hoewel dit
ontgetwyfeld tot allerlei komplikasies kan lei, is ek bereid om argumentshalwe
te aanvaar dat daar
nie beginselbesware teen so `n aanwending kan bestaan
nie.
[29] Die werklike probleem wat ek met die beroep op die condictio
indebiti het, is dat daar oor kernelemente geen getuienis is nie. Daar is
geen getuienis dat die voormalige likwidateur onder die foutiewe
indruk was dat
die ‘verweerders geregtig was om die volle bedrag van elke oorbetaling te
ontvang’ nie. Ons weet eenvoudig
nie wat sy indruk was nie. Nog minder is
daar getuienis dat so `n indruk inderdaad foutief was; trouens, die eisers het
deurgaans
in beide howe aanvaar dat die betalings uit hoofde van `n
leningsooreenkoms geskied het . Op watter basis kan dan beweer word dat
die
ontvangers nie geregtig was om die geld te ontvang nie?
[30] Wat die
ander condictio betref, begryp ek nie hoe beweer kan word dat die
betalings sine causa geskied het bloot omdat daar geen teenprestasie was
nie waar die eisers aanvaar dat dit uit hoofde van `n leningsooreenkoms gemaak
is. `n Geskenk kan tog nie as `n betaling sine causa teruggevorder word
op grond van die afwesigheid van teenprestasie nie; en so ook nie `n lening nie.
[31] Boonop is ek nie oortuig dat die reëling waarvolgens Bergbries die
geld aan sy aandeelhouers betaal het inderdaad as `n
leningstransaksie beskryf
kan word nie. Natuurlik is dit hoe die partye dit beskou het, en dat dit
stellig `n gepaste metode was
om die reëling boekhoukundig te behandel, is
waar. Maar, volgens verskeie uitsprake van hierdie Hof en ander howe, is die
ware aard van `n transaksie nie te vinde is in die naam wat die partye dit gee
nie; soms gebeur dit juis dat hulle die aard daarvan
probeer verberg deur dit
in te klee as iets wat dit nie werklik is nie (Zandberg v Van Zyl 1910 AD
302 op 309); en, selfs waar dit nie geval is nie, moet effek steeds gegee word
aan die ware aard van die transaksie. Pim
Goldby het die reëling destyds
beskryf as ‘the understanding that should tax arise, the required amount
would be repaid
to the company,’ wat omgekeerd beteken dat geen
terugbetalings sou geskied het indien belasting nie gehef sou word nie. Die
onderliggende transaksie kan nouliks as `n lening beskryf word wanneer iemand
aan `n ander `n bedrag betaal wat moontlik nie terugbetaalbaar
sal wees nie; en
verder kom dit my nie waarskynlik voor dat Bergbries se direkteure lenings in
die ware sin van die woord beoog het
nie. Die beskikbare aanduidings is eerder
dat hulle wou toesien dat die opbrengs van die verkoping vir die voordeel van
die familielede
aangewend word. Maar hulle was gewaarsku teen die moontlikheid
van inkomstebelasting, vandaar die verstandhouding waarop die geld
uitbetaal is.
Die reëling kan eerder beskryf word as `n voorwaardelike onderneming deur
die ontvangers om geld beskikbaar te
stel vir die betaling van die belasting
indien belasting inderdaad gehef word.
[32] Geen getuienis is natuurlik
beskikbaar wat verdere lig op hierdie aspek van die saak kan werp nie, maar die
konstruksie in die
voorafgaande paragraaf is, indien nie waarkynliker nie,
minstens net so waarskynlik as die ander een. Indien dit korrek is, kan
daar
geen sprake wees van betalings wat sine causa gemaak is nie.
[33] Myns insiens is hierdie eise ook tereg van die hand gewys.
[34] Ten
slotte is daar enkele opmerkings wat gemaak moet word :
(a) In beide howe het die eisers se advokate die groot aantal alternatiewe skuldoorsake gewyt aan die feit dat hulle kliënte nie vooraf volle kennis gedra het van die verloop van sake sedert die verkoping van Bergbries se eiendom nie. In die lig van die Kommissaris se wye bevoegdhede om inligting vir belastingdoeleindes te bekom, begryp ek die verduideliking nie. Indien enigiets, bevestig dit net my indruk dat die aksie sonder behoorlike ondersoek ingestel is en daarna voortgesit is deur die eisers se saak eenvoudig aan te pas by ongekontroleerde bewerings in die verweerders se pleitstukke. Ek begryp ook nie waarom die Kommissaris nie beswaar gemaak het teen die likwidasie- en distribusierekening nie. Een van sy getuies het getuig dat die staatskoerante waarin kennis gegee word van sulke rekenings wat ter insae lê, gereeld nagegaan word, juis om te verseker dat beswaar waar nodig aangeteken word. Om die een of ander onverklaarde rede het dit in hierdie geval nie geskied nie of is die kennisgewing nie opgemerk nie.
(b) By die aanvang van die verhoor is die verhoorregter meegedeel dat die
boedel van die vierde verweerder (Mev Holy) intussen gesekwestreer
is. Die
verhoor het gevolglik slegs teen die ander verweerders voortgegaan. Sover
bekend is Mev Holy se saak nog hangende in die
Hof a quo. In hierdie Hof
is ons verwittig dat dieselfde lot die eerste verweerder (Mnr William Andrew
Willers) sedert die verhoor toegeval
het. Die sake teen die betrokke twee
verweerders word dus nie geraak deur hierdie uitspraak nie.
Die volgende
bevel word gemaak:
1. Die appèl teen die tweede, derde en vyfde respondente word van die hand gewys met koste wat, in die geval van die vyfde respondent, die koste van twee advokate insluit.
2. Die appèl teen die eerste respondent word sine die
uitgestel.
___________________
HEFER AR
Stem saam: Marais AR
Schutz AR
Plewman AR
Madlanga Wnr
AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1999/24.html