![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
LL Saak No 652/1993
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAEDELING
Insake die appèl van:
ALPHUS NDLOVU Appellant
teen
PRESIDENT VERSEKERINGSMAATSKAPPY
BEPERK Respondent
HOF: VAN HEERDEN, VIVIER, F H GROSSKOPF,
VAN DEN HEEVER ARR en SCOTT Wnd AR
VERHOORDATUM: 10 NOVEMBER 1995
REDES INGEHANDIG OP: 21 NOVEMBER 1995
REDES VIR UITSPRAAK
VAN HEERDEN AR:
2
Omstreeks 17.30 op 3 Junie 1989 het 'n botsing plaasgevind tussen 'n
Valiant motor ("die Valiant") en 'n Hiace Kombi ("die Kombi")
terwyl
laasgenoemde voertuig van oos na wes op die teerpad tussen Ozizweni en
Newcastle, Natal, gery het. Die bestuurders van die
Valiant en die Kombi was
onderskeidelik ene Khubeka en Zwane. Daar was 13 passasiers in die Kombi,
waaronder die appellant, sy broer
en sy suster. Die appellant het tweede van
ïinks in die derde sitplekbank van die Kombi gesit. Aan die heel linkerkant
van die
tweede bank, en teenoor die skuifdeur van die Kombi, het die
appelïant se suster gesit, met sy broer langs haar. As gevolg van
die
botsing het die suster beserings opgedoen waaraan sy oorlede is, terwyl die
broer ook beseer is.
Voortspruitende uit bostaande het die appellant
se broer in die Transvaalse Provinsiale Afdeling 'n aksie vir skadevergoeding
teen
die respondent ingestel. Die respondent is gesiteer as 'n benoemde agent
soos
3
beoog in art 13 van die Skedule tot die Multilaterale Motorvoertuig-ongelukkefonds 93 van 1989 ("die Wet"). Die appellant se broer het bedrae van R5 000 en R20 000 gevorder ten opsigte van verwagte toekomstige mediese koste en ideële skade. Hierdie vordering was gebaseer op bewerings dat die botsing, en derhalwe ook die beserings wat die broer opgedoen het, te wyte was aan die nalatigheid van Khubeka òf Zwane òf albei, en dat hy in die Kombi vervoer was teen vergoeding en in die loop van die besigheid van die eienaar van daardie voertuig. Behoudens om te erken dat die twee voertuie gebots het, het die respondent in sy verweerskrif bedoelde bewerings ontken.
Op 'n stadium na die instel van die aksie, maar blykbaar voor sluiting van die pleitstukke, is die appellant se broer oorlede. Tydens die voorverhoorkonferensie is geboekstaaf dat die appellant ooreenkomstig hofreël 15 as eiser gesubstitueer was, en dat die padvervoerpermit wat op
4
die Kombi betrekking gehad het die vervoer van passasiers teen vergoeding
slegs binne die grense van Soweto gemagtig het. Voorts is
ooreengekom dat die
geskille aangaande nalatigheid en aanspreeklikheid afsonderlik van die kwessie
van quantum van skade verhoor
sou word.
By die aanvang van die
verhoor het die hof a quo gevolg aan die ooreenkoms gegee. Dit het meegebring
dat slegs die appellant en Khubeka
getuig het.
Volgens die appellant
was daar in die omgewing van die botsingspunt 'n verdere teerpad ("die sypad")
wat vanaf die suide 'n T-aansïuiting
met die pad tussen Ozizweni en
Newcastle ("die hoofpad") gevorm het. 'n Entjie verder wes het 'n tweede pad
vanuit die noorde by
die hoofpad aangesluit. By die T-aansluiting was daar 'n
síopïeken op die sypad. Die Valiant het vanuit die suide op
die
sypad beweeg en die bestuurder het die stopteken verontagsaam. Dit het
meegebring dat die
5
voorkant van die Valiant die skuifdeur van die Kombi getref het. Kort voor die botsing het Zwane die remme van die Kombi aangeslaan. Omdat die pad nat was, het die voertuig na regs geswenk en dit, tesame met die geweld van die botsing, het veroorsaak dat dit die hoofpad aan die noordekant daarvan verlaat en omgeslaan het. Die Valiant het op sy beurt met sy neus in 'n noordelike rigting, en oor die middellyn van die hoofpad, tot stilstand gekom. Die linker voorkant daarvan was erg beskadig.
Dit was gemene saak dat hoewel dit reënerig was die uitsig van beide bestuurders goed was. Daar was ook nie 'n noemenswaardige geskil aangaande die posisies waarin die voertuie na die botsing tot stilstand gekom het nie. Betreffende die gebeure voor en tydens die botsing het Khubeka egter 'n heeï ander verhaal as die appellant vertel. Volgens hom het hy die Valíant van wes na oos op die noordelike helfíe
6
van die hoofpad besluur. Hy het gesien hoe die Kombi, wat in die teenoorgesíelde rigting in aantog was, 'n ander voertuig verbygesteek het. Die Kombi was toe ongeveer 300 meter voor die Valiant en het na die suidelike helfte van die hoofpad terugbeweeg. Tussen dié twee voertuie was daar 'n stuk of vyf ander voertuie ("huurmotors") wat op die suidelike baan van die hoofpad van oos na wes beweeg het. Toe die Valiant en die Kombi sowat 200 meter vanaf mekaar was, het die bestuurder van laasgenoemde weer na sy verkeerde kant van die hoofpad gery om die huurmoíors verby te steek. Ten einde Zwane in staat te stel om met veiligheid verby die huurmotors te ry, het Khubeka die Valiant op die noordelike skouer van die hoofpad afgetrek en tot stilstand gebring. Desnieteenstaande het die voorkant van die Kombi die linker voorkant van die Valiant getref. Na die botsing was die linker voorkant en die skuifdeur aan die linkerkant van die Kombi beskadig.
7
Hoewel die appellant as getuie 'n beter indruk as Khubeka gemaak het, was
die verhoorhof nie bereid om bloot op grond daarvan laasgenoemde
se getuienis te
verwerp nie. Na opweging van die botsende weergawes kon die hof ook nie die een
as waarskynliker as die ander aanmerk
nie. In die veronderstelling dat Zwane
nalatig was, het die hof egter voortgegaan om te besin of die respondent
aanspreeklik gehou
kon word in die lig van die omskrywings van "besigheid" en
"vergoeding" in artikel 1 van die Skedule tot die Wet. Aangesien bevind
is dat
hierdie vraag ontkennend beantwoord moes word, is 'n bevel van absolusie van die
instahsie met koste verleen. Verlof is egter
aan die appellant verleen om na
hierdie hof te appelleer.
Om redes wat aanstons sal blyk, is dit
onnodig om die verhoorhof se tweede bevinding in meer besonderhede uiteen te sit
of om daarop
in te gaan.
8
Die appellant se advokaat het betoog dat Khubeka se getuienis in verskeie opsigte weersprekend of andersins onbevredigend was maar dit is nie nodig om na die bewuste kritiek te verwys nie. Hy het voorts aangevoer dat daar genoegsame aanduidings is dat die waarskynlikhede die appellant se weergawe begunstig, en ek meen dat hy gelyk gegee moet word. Volgens Khubeka kon die voertuie nie kop aan kop gebots het nie want dan sou die hele voorkant - in teenstelling tot slegs die linkerkant - van elk beskadig gewees het. Die enigste gangbare afleiding is dus dat die linker voorkant van die Kombi dié van die Valiant moes getref het. Dit sou meebring dat minstens die regter voorkant van die Kombi ten tye van die botsing reeds aan die noordekant van die skouer van die hoofpad moes gewees heí. Khubeka het egter nie gesien dat die Kombi voor die botsing grootliks verby die voorkant van die Vaíiant beweeg het nie. Hy sê trouens nie dat hy ooit waargeneem het dat die
9
Valiant vanaf die teergedeelte van die hoofpad tot op die noordelike
skouer gery het nie.
Uit ondervinding weet 'n mens dat dit soms
gebeur dat wanneer een voertuig 'n ander aan eersgenoemde se verkeerde kant van
die pad
nader, albei bestuurders in 'n toestand van paniek op as't ware die
laaste oomblik in dieselfde rigting uitswenk en dan met mekaar
bots. Dit is
egter nie wat volgens Khubeka se weergawe in die onderhawige geval gebeur het
nie. Hy het, aldus sy getuienis, vroegtydig
tot op die skouer van die hoofpad
beweeg en reeds voor die botsing die Valiant tot stilstand gebring. Indien dit
gebeur het, val
dit nie maklik te begryp waarom Zwane nie eenvoudig die Kombi in
die ongevulde noordelike rybaan van die hoofpad sou laat bly voortbeweeg
het
nie. In hierdie verband moet 'n mens in gedagte hou dat volgens Khubeka die
hoofligíe van die Valiant aangeskakel was
en dat dit dus onwaarskynlik is
dat Zwane eers op 'n
10
kritieke oomblik van die aanwesigheid van daardie voertuig bewus sou
geword het.
Soos reeds aangedui, was dit gemene saak dat die
skuifdeur van die Kombi as gevolg van die botsing beskadig is. Dit pas natuurlik
in by die appellant se getuienis dat die voorkant van die Valiant die skuifdeur
getref het. Die verhoorhof het egter gewys op moontlike
verklarings vir die
beskadiging van die skuifdeur aangenome dat die voorkante van die twee
voeríuie met mekaar gebots het.
Maar veral in die lig van die feit dat
die appellant se suster, wat reg langs die skuifdeur gesit het, gesterf het, is
dit vir my
aanneemliker dat die voorkant van die Vaïiant die linker sykant
van die Kombi getref het.
Ten slotte is dit ook nie maklik om te begryp hoe 'n botsing op die skouer van die hoofpad sou meegebring het dat die Valiant in n dwars posisie tot op die pad teruggestamp is nie.
11
Ek neem in aanmerking dat volgens die appeïlant se getuienis Khubeka hom aan roekeloosheid skuldig moes gemaak het, maar dieselfde kan natuurlik van Zwane gesê word indien Khubeka se weergawe die juiste een sou wees. In die lig van bostaande oorwegings meen ek dus dat die waarskynlikhede die appellant se weergawe begunstig. Dit is tereg nie betwis nie dat, indien aldus bevind sou word, bewys is dat Khubeka oorsaaklik nalatig was.
Om bogenoemde redes is die appèl by die verhoor daarvan met kosíe gehandhaaf en is die bevel van die verhoorhof met die volgende vervang.
"(1) Dit word verklaar dat die botsing veroorsaak is deur die nalatigheid van die bestuurder van voertuig MDH 686 T.
(2) Die verweerder word gelas om die koste
12 van die verhoor te betaal."
H J O VAN HEERDEN AR
VIVIER AR
F H GROSSKOPF AR
STEM SAAM VAN DEN HEEVER
AR
SCOTT Wnd AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1995/132.html