South Africa: Supreme Court of Appeal

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Supreme Court of Appeal >> 1994 >> [1994] ZASCA 71

| Noteup | LawCite

Twylight Funeral Home v Kiewiedo (588/1992) [1994] ZASCA 71 (23 May 1994)

Download original files

PDF format

RTF format

Bookmark/share this page

Bookmark and Share

LL Saak No 588/1992

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

Insake die appèl van:
TWYLIGHT FUNERAL HOME Appellant

teen

LENA KIEWIEDO Respondent

HOF: VAN HEERDEN, KUMLEBEN ARR en OLIVIER Wnd AR

VERHOORDATUM: 6 MEI 1994

LEWERINGSDATUM: 23 MEI 1994

UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:
2 Gedurende die oggend van 11 Julie 1987 het ene Bonters, 'n werknemer van die appellant, 'n lykswa tussen Bloemfontein en Dealesville bestuur. In die voertuig was drie passasiers. Die respondente het voor langs Bonters gesit, en mevv Nelson en Block agter. Tussen hulle was 'n kis waarin die lyk van wyle mev Julies was. Haar begrafnisdiens sou die middag in Douglas plaasvind.
Betreklik kort nadat die lykswa by 'n dam verby is, het die insittendes 'n harde slag gehoor. Die rede was dat 'n agterband van die voertuig gebars het. Dit het toe na die regterkant van die pad beweeg, daarvandaan na die linkerkant, weer regs en weereens links waarna dit omgeslaan het. As gevolg daarvan het o a die respondente beserings opgedoen.

Voortspruitende uit bostaande het die respondente, bygestaan deur haar eggenoot met wie sy in gemeenskap van goed getroud is, 'n aksie vir
3 skadevergoeding in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling teen die appellant ingestel. Die enigste bewerings in die besonderhede van haar vordering wat vir huidige doeleindes ter sake is, was dat die ongeluk te wyte was aan die nalatigheid van Bonters en dat hy die lykswa bestuur het binne die omvang van sy diensbevoegdhede as werknemer van die appellant. Hierdie bewerings is ontken deur die appellant, 'n firma wat in Bloemfontein sake doen as 'n begrafnis-ondernemer en waarvan mnr Twayie die eienaar is. Die
appellant het ook in die alternatief gesteun op
beweerde bydraende nalatigheid van die respondente maar het nie met dié verweer volhard nie.
By die aanvang van die verhoor is 'n bevel verleen waarvolgens alle geskilpunte, behalwe dié wat op die omvang van die respondente se skade betrekking gehad het, eers besleg sou word. Na aanhoor van getuienis het die verhoorhof toe verklaar dat die
4 appellant aanspreeklik was "vir sodanige skade as wat die eiseres [die respondente] mag bewys wat voort-spruit uit die voorval wat op 11 Julie 1987 plaasge-vind het en die bedrag van R25 000 oorskry". (Hierdie bedrag is die som wat deur die respondente ingevolge art 9(1)(a) van die Motorvoertuigongelukke-wet 84 van 1986 van 'n versekeringsmaatskappy as benoemde agent gevorder kon word.) Hierna het die verhoorhof (Wright R) aan die appellant verlof ver-leen om teen die verklarende bevel na hierdie hof te appelleer.
Dit is dienstig om eers te let op die vraag of die respondente bewys het dat Bonters oorsaaklik nalatig was. Sy getuig dat net nadat die lykswa by die genoemde dam verby is, Bonters vir die passasiers gevra het: "Mense het julle senuwees?" Hy het toe spoed vermeerder en op 'n stadium het sy gesien dat die spoednaald op 160 kpu lê. Net daarna het sy die
5 slag gehoor. Toe die lykswa die tweede keer op die regterkant van die pad was, het mev Nelson geskreeu: "Watch, daar kom 'n kar". Bonters het weer na links geswenk en die remme hard aangeslaan. Toe het die voertuig omgeslaan.
Mev Nelson beaam dat kort nadat die lykswa by die dam verby is Bonters bogenoemde vraag gevra het. Volgens haar het hy egter die volgende byge-voeg: "Ons gaan nou ry, ons is alreeds laat". Die voertuig het toe heelwat vinniger begin beweeg. Haar
skatting van die spoed was 130 kpu. Toe die lykswa
die tweede keer na regs geswenk het, het dit effens op die skouer van die pad oorgegaan. Sy sien toe 'n motor van voor af in aantog en hoewel dit nog 'n ent weg was, het sy vir Bonters gesê dat hy daarvoor moes pasop. Sy het toe gevoel dat die remme van die lykswa hard getrap word. Net daarna was haar gewaar-wording dat die lykswa "in die grond ingaan".
6 Bonters het ontken dat hy die vraag gevra het of die opmerking gemaak het wat die respondente en mev Nelson aan hom toeskryf, en ook ontken dat hy ooit vinniger as 120 kpu gery het of dat hy rem getrap het. Toe die lykswa die tweede keer op die regterkant van die pad was, het hy 'n motor sien aankom maar dit was nog te ver om 'n gevaar te skep. Hy kon toe weer egalig na links swenk maar die lykswa het nietemin omgeslaan. Die enigste rede wat hy daarvoor kon verstrek, was dat die lykswa "skuins"

geloop het.

Mev Block het ook namens die appellant getuig. Die verhoorhof het haar getuienis in verband met die bestuur van die lykswa nie as van veel waarde beskou nie, en die appellant se advokaat het voor ons ook nie daarop gesteun nie. Ek laat dit dus ter syde.

As getuies het die respondente en mev

7 Nelson klaarblyklik vir Wright R beïndruk. Hy het voorts bevind dat die waarskynlike hul weergawes onderskraag het, en gevolglik het hy Bonters se botsende weergawe verwerp. Kortom is bevind dat hy die lykswa teen 'n baie vinnige spoed bestuur het, en dat hy wel rem getrap het toe hy die tweede keer na die linkerkant van die pad geswenk het. Aldus, na die mening van die verhoorhof, het hy nalatig bestuur en was dit die oorsaak van die ongeluk.
Op appèl is bogenoemde geloofwaardigheids-bevindinge nie aangeveg nie. Wel is betoog dat Bonters sonder sy toedoen in 'n skielike krisis-situasie beland het en dat hy daarna redelik opgetree het.
Ek kan nie akkoord gaan nie. Na my mening weet 'n redelike bestuurder dat dit gevaarlik is om rem te trap wanneer 'n band van 'n voertuig gebars het; des te meer indien die voertuig teen 'n vinnige
8 spoed bestuur word. In casu is daar geen sprake dat voordat die remme aangeslaan is die lykswa buite beheer was nie. Die pad was reguit, die uitsig goed, die swenkbewegings egalig en die aanslaan van remme was nie nodig om 'n botsing met die aankomende motor te vermy nie. Daar was dus geen rede vir die trap van remme nie; iets wat volgens Bonters se wete die lykswa sou kon laat omslaan. Die waarskynlikhede dui daarop dat Bonters nie beheer oor die lykswa sou verloor het indien hy nie rem getrap het nie, en gevolglik is daar nie fout te vind nie met die ver-

hoorhof se bevinding dat Bonters se nalatigheid die

ongeluk veroorsaak het.

Ek kom dan by die kwessie van die appellant

se middellike aanspreeklikheid. Die eerste - en

afhangende van die antwoord die beslissende - vraag

in hierdie verband is of Twayie ingestem het dat die

appellant vir die respondente en die ander dames

9 vervoer na die begrafnis sou verskaf.
Die respondente getuig dat sy op 8 Julie 1987 vir Twayie gevra het of "ons" na mev Julies se begrafnis kon "saamry" en dat hy bevestigend geant-woord het. Hy het egter bygevoeg dat sy later moes kom seker maak dat alles nog in die haak was. Op 10 Julie is sy toe weer na die appellant se besigheids-plek waar Twayie bevestig het dat alles in orde was. Hy het bygevoeg dat sy en haar metgesellinne die volgende oggend om 7 uur by bedoelde besigheidsplek

moes wees. Sy, mev Nelson en mev Block het hulle by

hierdie reëling gehou en hulle omstreeks 6.45 vm aangemeld. Hulle het toe in Twayie se kantoor gewag totdat hulle omstreeks 9 vm vertrek het. Totdat hulle by die lykswa gekom het, was sy onder die indruk dat hulle in 'n sogenaamde familiemotor sou reis. So 'n motor is by tye deur die appellant beskikbaar gestel vir die vervoer van naasbestaandes

10

na 'n begrafnis.
Mev Nelson se getuienis bied stawing vir die respondente se weergawe. Sy sê dat die respon-dente haar meegedeel het dat laasgenoemde gereël het dat hulle na Douglas kon "saamry", en dat hulle om 7 uur die betrokke oggend by die appellant se besig-heidsplek moes wees. Sy, die respondente, en mev Block het toe betyds opgedaag maar moes tot 9 uur in Twayie se kantoor wag. Daar is hulle in Twayie se teenwoordigheid van koffie bedien. Ook sy was onder
die indruk dat hulle in 'n familiemotor sou reis.
Die appellant se getuienis vertel 'n ander verhaal. Twayie ontken dat die respondente hom genader het en ontken ook dat die drie dames die oggend van 11 Julie in sy kantoor was. Hy sê trouens dat hy hulle daardie oggend nooit gesien het nie. Volgens hom is 'n familiemotor nooit beskikbaar gestel wanneer 'n begrafnis buite Bloemfontein plaas-

11

gevind het nie. In sulke gevalle was naasbestaandes tot op 'n stadium wel in die lykswa vervoer. Betrek-lik kort voor die ongeluk het hy egter verneem dat 'n ander begrafnisondernemer probleme met 'n verseker-aar ondervind het nadat 'n lykswa in 'n ongeluk betrokke was. Hy het toe die appellant se bestuur-deres, mev Claasen, opdrag gegee dat geen van die appellant se bestuurders in die toekoms passasiers in 'n lykswa mog vervoer nie. Indien 'n bestuurder die verbod sou verontagsaam, sou hy summier ontslaan

word.

Mev Claasen staaf ten dele Twayie se getuienis aangaande die gee van die opdrag. Sy sê egter dat Twayie in haar teenwoordigheid die opdrag aan die bestuurders, insluitende Bonters, gegee het. Sy sê ook dat die respondente op 10 Julie kom navraag doen het of sy die lyk van mev Julies na Douglas kon vergesel. Mev Claasen het toe gesê dat slegs die
12 lykswa na Douglas sou gaan en dat die respondente nie daarin kon reis nie. Dit het gelyk asof die respon-dente ontevrede was en sy het gesê dat sy met Twayie wou praat. Mev Claasen het egter geweier om haar toegang tot sy kantoor te verleen.

Ten slotte sê mev Claasen dat ene Cholo op 11 Julie die betrokke lykswa na Douglas sou bestuur. Sy het eers na die ongeluk verneem dat Bonters by Cholo oorgeneem het.

Bonters en Cholo beaam dat Twayie in hul

teenwoordigheid bogenoemde opdrag gegee het. Bonters
sê ook dat hy op 10 Julie gehoor het dat mev Claasen die respondente meedeel dat sy nie in die lykswa kon reis nie. Hulle getuig voorts dat toe hulle kort voor 8 vm op 11 Julie by die appellant se besigheids-plek opgedaag het, hulle die drie dames by die hek van die agterplaas aangetref het. Die respondente het gesê dat sy met Bonters wou praat. Hy het haar
13 versoek om te wag, die gebou binnegegaan, en na 'n ruk teruggekeer. Die respondente het hom eenkant toe geroep en hom in effek versoek dat sy en haar met-gesellinne in die lykswa na Douglas kon ry. Uitein-delik het hy besluit om aan die versoek te voldoen. Hy het toe die sleutels van die lykswa by Cholo gekry en aan hom gesê dat hy (Bonters) die lykswa sou bestuur. Later het hy die drie dames op 'n afge-spreekte plek aan die voorkant van die perseel opgelaai.
Bonters gee twee redes vir sy inwilliging. Eerstens het hy die dames jammer gekry, en tweedens het hy gemeen dat hy nader kennis sou kon maak met mev Block op wie hy 'n oog gehad het.
Laastens moet gelet word op die getuienis van mev Block wat, soos reeds genoem, namens die appellant getuig het. Sy getuig dat die respondente vir haar gesê het dat vervoer beskikbaar was om die
14 begrafnis in Douglas by te woon. Die oggend van 10 Julie het die respondente haar egter laat weet ("ons [kan] nie meer ry nie, want die mense laat ons nie toe nie". Omstreeks 4 nm het sy 'n verdere boodskap ontvang. Daarvolgens sou hulle die volgende oggend na Douglas vertrek. So het dit gekom dat die drie dames die oggend van 11 Julie by die appellant se besigheidsplek opgedaag het. Om 'n rede waarvan sy nie bewus is nie, het hulle na die agterplaas gegaan. Daar het die respondente op twee geleenthede met
Bonters gepraat. Later het hulle vanuit die agter-
plaas om 'n hoek na die voorkant van die perseel gestap en daar in die lykswa geklim. Sy ontken dus dat hulle ooit in Twayie se kantoor was.
Die verhoorhof het bevind dat die appellant se getuies, met uitsondering van mev Claasen, 'n minder gunstige indruk gemaak het as die respondente en mev Nelson wat, soos reeds genoem, as baie goeie
15 getuies bestempel is. Na oorweging van die waarskyn-likhede is voorts bevind dat Twayie wel toestemming verleen het dat die dames in die lykswa na Douglas kon reis. In die veronderstelling dat sodanige toestemming nie verleen was nie, en dat Bonters in stryd met Twayie se opdrag opgetree het, is ten slotte gekonkludeer dat Bonters in elk geval die drie dames binne die omvang van sy diensbevoegdhede ver-voer het.

Die appellant se advokaat het die respon-

dente se getuienis in 'n aantal opsigte gekritiseer.
Hierdie kritiek het egter weinig om die lyf en betrek sekerlik nie die kern van haar getuienis nie. Dit is dus nodig om op die waarskynlikhede te let.
Aan die een kant is dit vreemd dat waar Twayie redelik kort vantevore 'n verbod op die ver-voer van passasiers in lykswaens geplaas het, hy in effek toestemming verleen het dat die respondente en
16 haar metgesellinne wel in die betrokke lykswa na Douglas kon reis. Aan die ander kant is daar gewigtige oorwegings wat die respondente se weergawe begunstig. Eerstens is dit duidelik dat toe mevv Nelson en Block die oggend na die appellant se besig-heidsperseel gegaan het, hulle op grond van mede-delings van die respondente vas onder die indruk was dat hulle na Douglas vervoer sou word. Indien die respondente geweet het dat sodanige reëlings nie getref was nie - en dat mev Claasen inderdaad haar versoek afgewys het - is dit hoogs onwaarskynlik dat sy nie die ander twee dames sou ingelig het nie en hulle inteendeel onder 'n valse waan sou gelaat het. Tweedens sou die respondente nie geweet het wanneer die dames hul moes aanmeld indien Twayie dit nie vir haar meegedeel het nie. Sy sou dus nie geweet het of die lykswa reeds op 10 Julie of baie vroeg op 11 Julie sou vertrek, en dus ook nie of dit enige sin
17 gehad het om op 11 Julie omstreeks 7 vm by die appel-lant se perseel op te daag nie. Derdens het die respondente nie geweet wie die lykswa sou bestuur nie. Daar was dus nie 'n rede waarom sy Bonters om toestemming sou genader het nie. Vierdens, indien Twayie nie toestemming verleen het nie, kom sy gebrek aan optrede teenoor Bonters vreemd voor. Onthou sal word dat toe Twayie die meermaal genoemde opdrag gegee het, hy gesê het dat 'n bestuurder wat dit sou verontagsaam summier ontslaan sou word. Volgens
Bonters het Twayie hom egter nie eens 'n ordentlike
skrobbering gegee nie. Twayie se verduideliking vir sy versuim om Bonters te ontslaan laat ook veel te wense oor.
Indien al bostaande oorwegings opgeweeg word, meen ek dat die verhoorhof tereg bevind het dat die oorwig van waarskynlikhede die respondente se weergawe begunstig. Dit was tereg gemene saak dat
18 indien hierdie gevolgtrekking bereik sou word die appellant wel middellik aanspreeklik was.

Die appêl word met koste afgewys.

H J 0 VAN HEERDEN AR

KUMLEBEN AR
STEM SAAM OLIVIER Wnd AR