![]() |
[Home]
[Databases]
[WorldLII]
[Search]
[Feedback]
South Africa: Supreme Court of Appeal |
[Database Search] [Name Search] [Recent Decisions] [Noteup] [Help]
LL Saak No 109/1992
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
APPèlAFDELING
In die saak tussen:
F J G SMIT Appellant
en
H I ABRAHAMS Respondent
CORAM: BOTHA, E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, VAN
DEN HEEVER ARR et MAHOMED WND AR
VERHOORDATUM: 15
MAART 1994
LEWERINGSDATUM: 16 MEI 1994
UITSPRAAK BOTHA AR:
2 Op 22 Desember 1988 het daar 'n
botsing plaasgevind tussen 'n motorvoertuig wat bestuur is deur die appellant en
'n bakkie waarvan
die respon-dent die eienaar was. Die bakkie is onherstelbaar
beskadig. Die respondent (hierna: "die eiser") het in die landdroshof
van
Piketberg 'n aksie om skade-vergoeding ingestel teen die appellant ("die
verweerder"). In sy dagvaarding het die eiser beweer
dat die botsing veroorsaak
is deur die nalatigheid van die verweerder en het hy twee afsonderlike eise
uiteengesit. Die eerste eis
was vir die betaling van die markwaarde van die
bakkie. Die tweede eis was vir die vergoeding van huurgeld wat die eiser na
bewering
betaal het vir die gebruik van 'n ander bakkie wat hy moes verkry het
ten einde sy besigheid as 'n smous te bedryf. Die verweerder
se verweer-skrif
het al die wesenlike bewerings in die dagvaar-ding in geskil
geplaas.
3 Met die aanvang van die verhoor is die landdros deur die
partye se regsverteenwoordigers meegedeel dat hulle tot 'n vergelyk gekom
het
oor twee aspekte van die saak: die quantum van die eiser se skade ten
opsigte van die eerste eis is geskik op R3 630, en daar is ooreengekom op 'n
verdeling van die skadevergoeding
in die verhouding 70% tot 30% ten gunste van
die eiser. Wat die eerste eis betref het daar gevolglik geen geskilpunte
oorgebly nie.
Ten aansien van die tweede eis het die eiser getuienis
afgelê, waaruit dit geblyk het dat hy vir 'n tydperk van 3 maande, van
24
Desember 1988 tot 24 Maart 1989,'n bakkie gehuur het van ene Patrick Esau teen
'n huurgeld van R60 per dag. Bereken teen 6 werksdae
per week het sy totale
vordering onder die tweede eis te staan gekom op R4 680. Die verweerder het geen
getuienis aangebied nie.
Aan die einde van die verhoor het die landdros vonnis
toegestaan ten gunste
4 van die eiser vir die betaling deur die
verweerder van 70% van R3 630 (op die eerste eis) en 70% van R4 680 (op die
tweede eis),
met koste.
Teen die vonnis op die tweede eis het die
verweerder geappelleer na die provinsiale Afdeling Kaap die Goeie Hoop. Die
appèl
is deur ' n volle hof afgewys met koste. Die uitspraak is gelewer
deur FARLAM Wn R en dit is gerapporteer: sien Smit v Abrahams 1992 (3) SA
158 (C). Die hof a quo het aan die verweerder verlof verleen om na
hierdie Hof in hoër beroep te kom.
Soos sal blyk uit wat
hieronder volg, het die manier waarop die eiser se tweede eis behandel is in die
hof a quo verskil van die wyse waarop dit behandel is in die landdroshof,
alhoewel die resul-taat dieselfde was. Ek is van voorneme om eers
stil te staan
by die manier waarop die saak in die land-droshof behandel is, om daarna die
benadering in die
5 hof a quo te bespreek, en om uiteindelik
kommentaar te lewer oor die verskillende benaderings.
Die getuienis
wat die eiser in die land-droshof afgelê het, kan saamgevat word soos
volg. Ten tye van die ongeluk het hy smouswerk
gedoen tussen Elandsbaai,
Lambertsbaai en Kaapstad, en daarvoor het hy elke dag, behalwe Sondae, sy bakkie
gebruik. Hy het geen ander
werk gedoen behalwe smous nie, en sonder 'n bakkie
kan hy die werk nie doen nie. As gevolg van die botsing was sy bakkie 'n "totale
wrak". Twee dae na die ongeluk, op 24 Desember 1988, het hy 'n bakkie by Patrick
Esau gekry, vir die gebruik waarvan hy R60 per dag
moes betaal, en daarmee het
hy sy smousbesigheid voort-gesit. Hy het navraag gedoen by twee firmas en
vasgestel dat om daar 'n bakkie
te huur, hom R550 per week meer sou gekos het as
by Esau. Hy het te min kontant gehad om 'n bakkie te koop. Ook in
dié
6 verband het hy navraag gedoen, by drie firmas. Daar was
'n bakkie beskikbaar vir R9 000, maar hy kon dit nie bekostig nie. Hy het
ook
nie geld gehad vir ' n deposito nie. Hy het nog R600 op sy bakkie geskuld. Nadat
hy Esau se bakkie vir 3 maande gehuur het, tot
op 24 Maart 1989, het Esau die
bakkie teruggevat omdat hy dit toe self nodig gehad het. Die eiser het toe 'n
voorraad aartappels
wat hy gehad het, met stootwaentjies
gesmous.
Onder kruisondervraging het die eiser gesê dat hy 'n
bakkie wou gehuur het net totdat hy genoeg geld gehad het om een te koop,
en dat
hy dit teen die einde van 1989 sou kon gedoen het. Hy het besef dat hy iets in
die plek van sy bakkie moes kry, en hy het
gesoek, maar hy het nie 'n bakkie
gekoop nie omdat hy nie geld gehad het nie. Nadat Esau sy bakkie terug-geneem
het en die eiser
sy voorraad aartappels verkoop het, het hy nie gewerk nie. Hy
is werkloos
7 omdat hy nie 'n voertuig het nie. Op 'n vraag wat sy
wins per dag was, het die eiser geantwoord: "Omtrent R300 per dag wins". In
herverhoor, volgens die landdros se optekening van die getuienis in die oorkonde
(die verrigtinge is nie meganies opgeneem nie),
is die eiser gevra: "Het jy R300
per week verdien?", waarop hy "Ja" geantwoord het. Op 'n latere vraag wat sy
totale uitgawes per
dag was, het hy geantwoord: "R150 per dag".
Uit
die aantekeninge wat die landdros gemaak het van die argumente wat namens die
partye aan hom voorgedra is aan die einde van die
getuienis, en wat in die
oorkonde opgeneem is, is dit duidelik dat die hele strekking van die betoog
namens die eiser was dat die
verweerder nie aangetoon het dat die eiser
onredelik opgetree het, of dat die bedrag van sy eis onredelik is, of dat hy sy
skade
kon verminder het nie, terwyl die betoog namens die
8
verweerder tot die teendeel was. Hierdie benadering tot die geskilpunte en die
bewyslas het waarskynlik voortgespruit uit die manier
waarop die tweede eis in
die dagvaarding geformuleer was. Dit lui soos volg (met inagneming van 'n
wysiging van die datums wat by
die verhoor aangebring is): "CLAIM
II:
1. As a result of the collision referred to in Claim I, the Plaintiff, who is a hawker and requires the use of a bakkie, has had to obtain the use of another bakkie to conduct his business operation. 2. As and from the 24th December 1988 to the 24th March 1989 the Plaintiff has had to pay the sum of R60 per day for the use of the aforesaid bakkie, which the Plaintiff holds the Defendant liable for."
Die eis is beskou as een vir die vergoeding
van uitgawes wat die eiser aangegaan het ten einde
die skade
te vermy wat hy andersins sou gely het in
die vorm van ' n verlies
aan inkomste uit sy besig-
9
heid. Dat dit die benadering was, blyk verder uit
die feit
dat die eiser, volgens die landdros se
aantekeninge, hom beroep het
op Cooper Motor Law Vol
2 op 392 par (c), waar die volgende
gesê word (die
aanhaling in die teks is uit die uitspraak
van
CLAYDEN R in Shrog v Valentine 1949 (3) SA 1228
(T)
op 1237-8);
"A plaintiff is entitled to claim for loss of income or loss of profits which results from his being deprived of the use of the vehicle while it is being repaired.
Since a party is bound to mitigate his loss a businessman should normally hire another vehicle in place of the damaged one, and he may then claim the expense of hiring it. In that event, however, he does not have to prove that the expense was reasonable, the reasoning being:
' . . . the lost prof its owing to the deprivation of the use of a vehicle are not required to be reasonable. They are the actual profits. Here that loss was avoided by the taking of steps by the plaintiff to hire a lorry to replace the damaged vehicle. The expense is an expense for which
10
the defendant is responsible unless he can show that the action of the plaintiff in hiring a lorry at all, or in hiring a lorry at that cost, was unreasonable.'"
Aansluitend by hierdie benadering het die
landdros in sy skriftelike redes vir vonnis die
volgende
gesê:
"5. Die Hof is van oordeel dat die Eiser in die omstandighede opgetree het soos 'n redelike man ook sou opgetree het en die bedrag wat Eiser vra redelik is om die volgende redes:
(a) Toe hy opmerk sy voertuig waarmee hy sy brood en botter verdien is 'n wrak, het hy dadelik gesoek om 'n ander voertuig te koop, maar kon nie een vind wat hy kon bekostig nie. (b) Hy het daarna probeer om 'n voertuig te huur om te smous teen die mees redelike prys. Hy het ook hier uitgevind wat die goedkoopste is wat hy kon kry. (c) Die Eiser is 'n smous wat sy bakkie nodig het om sy beroep te beoefen. Hy ry selfs af-stande vanaf Kaapstad, Elands-baai, Lambertsbaai en terug.
11
Hy het besef hy moes sy beroep voortsit en die redelike man sou in hierdie omstandighede dieselfde gedoen het.
(d) Die redelike man sou ook nie van beroep verander het, as hy dit op so 'n wyse kon voortsit nie. (e) Die Eiser eis slegs die koste van die gehuurde voertuig op die dae wat hy dit werklik vir sy werk gebruik het. (f) Die Eiser eis slegs die huur-tarief vir drie maande waar hy werklik die voertuig gehuur het. (g) Vir die tydperk na 24/3/89 eis die Eiser geen bedrag nie alhoewel hy sy werk verloor het as gevolg van Verweerder se nalatigheid van 70% in Eis 1.
6. Die Hof het bevind dat die Verweerder nie aangetoon het dat die Eiser nie soos 'n redelike man opgetree het nie en dat die bedrag en die tydperk wat die Eiser vra onredelik is nie.
Daar is geen getuienis voor die Hof dat Eiser 'n bakkie vir goedkoper as R9 000,00 kon gekoop het of 'n goedkoper huurtarief kon gekry het nie. "
Op die grondslag van die saak soos dit aan
12 die landdros
voorgelê is, kan daar na my mening nie fout gevind word met die bevinding
waartoe hy geraak het nie. Soos blyk
uit Shrog v Valentine supra op
1236-7 kan die eienaar van 'n voertuig wat hy in sy besigheid gebruik en wat
deur dle nalatigheid van 'n ander beskadig word,
skadevergoeding verhaal ten
opsigte van verlies aan inkomste as gevolg van die ontneming van die gebruik van
die voertuig; huur hy
'n ander voertuig om in sy besigheid te gebrulk in die
plek van die beskadigde een, is hy besig om die intrede van skade weens verlies
aan inkomste te verhinder of te beperk; gevolglik kan hy sy uitgawe ten opsigte
van huurgeld verhaal, tensy, volgens die bekende
beginsel wat geformuleer is in
Hazis v Trans-vaal and Delaqoa Bay Investment Co Ltd 1939 AD 372 op
388-9, die verweerder kan bewys dat die eiser se optrede nie redelik was nie.
Die landdros se bevind-ing in paragraaf
6 van sy redes, hierbo
aangehaal.
13 kom daarop neer dat die verweerder hom nie van die
bewyslas gekwyt het nie, nóg wat betref die bedrag van die eiser se
uitgawe,
nóg wat betref die tydperk daarvan.
Wat die bedrag
betref, het die landdros nie bevind wat die eiser se inkomste of wins uit sy
besigheid was nie. As die eiser se wins
minder was as die huurgeld wat hy aan
Esau betaal het, sou daar denkbaar geargumenteer kon geword het dat sy uitgawe
onredelik was.
Soos blyk uit die opsomming van die eiser se getuienis hierbo,
het hy oënskynlik teen-strydige antwoorde oor sy daaglikse wins
en sy
week-likse verdienste gegee. My indruk van sy getuienis as 'n geheel is dat sy
pertinente stelling dat sy wins R300 per dag
was, as deurslaggewend beskou
behoort te word. Hoe dit ook al sy, in soverre die eiser se getuienis op hierdie
aspek onseker mag
wees, kan dit die verweerder nie baat nie: hy het hom
dan
14
nie van die las gekwyt om te bewys dat die uitgawe onredelik was
nie.
Wat die tydperk van die huur betref, is dit implisiet in
paragrawe 5(a), (b) en (c) van die landdros se redes dat hy in aanmerking
geneem
het dat die eiser geldelik nie in die vermoë was om 'n ander voertuig te
koop nie. Die landdros se benadering was reg.
Om te beoordeel of 'n eiser se
optrede in verband met die vermyding of vermindering van skade redelik of
onredelik was, moet daar
gekyk word na al die omstandighede waarin hy hom bevind
het (vgl bv De Pinto and Another v Rensea Investments (Pty) Ltd 1977 (4)
SA 529 (A) op 529E-530B) . Een van die tersaak-like faktore is die eiser se
finansiële posisie. As hy weens onvermoëndheid
nie oor die middele
beskik om stappe te doen waardeur die oplopende skade beperk kan word nie, dan
kan hy sekerlik nie verwyt word
vir sy versuim om sulke stappe te doen nie. In
die
15
huidige geval blyk dit uit die eiser se getuienis dat
hy nie
die geld gehad het, of redelikerwyse kon bekom
het, wat nodig was om
'n ander voertuig te koop ter
vervanging van die beskadigde een
nie.
Die gronde van appèl wat in die verweerder
se kennisgewing van appèl na die hof a quo geopper
is, was oënskynlik steeds gebaseer op die wyse
waarop
die saak in die landdroshof behandel was. Die
strek-
king daarvan blyk uit paragrawe 1 en 3, wat soos
volg
lui:
"1. Die landdros het fouteer deur te bevind dat Appellant nie aangetoon het dat
Respondent nie soos 'n redelike man opge-tree het in en met die beperking van sy skade vir sover dit die huur van 'n ander voertuig aanbetref nie;
3. Die landdros het fouteer deurdat hy bevind het dat hy die Respondent se gelde-like posisie in ag moes neem, en deurdat hy dit inderdaad in ag geneem het, by die oorweging en bepaling van Appellant se aanspreeklikheid teenoor Respondent."
Na my mening was hierdie
aanval op die landdros se
16 uitspraak ongegrond, om die redes
hierbo aangegee.
Met die beredenering van die appél in die
hof a quo het die saak egter 'n nuwe wending geneem: die betoog namens die
verweerder
is oor 'n ander boeg gegooi. Soos blyk uit die gerapporteerde
uitspraak van die hof a quo (op 159I-160A) was die betoog dat vergoeding
van die eiser se skade (synde die huurgeld wat hy aan Esau betaal het) nie
verhaalbaar
was nie omdat die skade teweeggebring is deur die eiser se eie
onvermoëndheid. In hierdie betoog, so blyk dit verder, is daar
heeltemal
wegbeweeg van die gedagte dat die eiser die huurgeld betaal het ten einde sy
skade in die vorm van verlies aan inkomste
uit sy besigheid te temper. In plaas
daarvan is die eiser se uitgawe aan huurgeld beskou as skade, die ver-goeding
waarvan die eiser
gepoog het om te verhaal op grond daarvan dat dit voortgevloei
het uit die ver-weerder se delik, synde die nalatige en
onregmatige
17 vernietiging van die eiser se bakkie as 'n bruikbare
voertuig. Met dié uitgangspunt is aangevoer dat die oorsaaklike verband
tussen die eiser se skade en die verweerder se optrede wat nodig is om
laasgenoemde aanspreeklik te hou, ontbreek, vanweë die
feit dat die eiser
weens sy onvermoëndheid nie 'n plaasver-vangende voertuig gekoop het nie.
Vir hierdie betoog is daar veral
gesteun op die beslissing van die House of
Lords in Owners of Dredger Liesbosch v Owners of Steamship Edison 1933 AC
449 (HL), ook gerapporteer as The Edison [1933] All ER Rep 144 (sien die
uit-spraak a quo op 160B; ek sal, soos die hof a quo, na die saak
verwys as "The Edison").
Die hof a quo het hierdie
betoog op sy meriete behandel en dit verwerp. In hooftrekke was die beredenering
soos volg. Met betrekking tot die vraag
of die eiser se skade "veroorsaak" is
deur die verweerder, is daar verwys (op 161C-162J) na die
18
onderskeid tussen feitlike kousaliteit en juridiese kousaliteit, soos dit
bespreek is in, onder meer, Minister of Police v Skosana 1977 (1) SA 31
(A) op 34E-35D en Siman & Co (Pty) Ltd v Barclays National Bank Ltd
1984 (2) SA 888 (A) op 914F-915A. Daar is bevind dat, op die feite van die
huidige saak, die vereiste van feitlike kousaliteit bevredig
is (op 163A-B). Ten
opsigte van die vraag na juridiese kousaliteit (soos geformuleer op 162E en
163B-C) is daar verwys na verskillende
toetse om dit te bepaal (op 163D-165D) en
tot die slotsom geraak dat die korrekte toets om toe te pas dié is van
die redelike
voorsienbaarheid van die betrokke skade, in die sin van 'n
"redelike moontlikheid" soos omskryf deur FARLAM Wn R (op 165E-F) . Op
die feite
van die saak is daar bevind dat hierdie toets wel bevredig is (op 165G-I). Die
res van die uitspraak (op 166-180) is gewy
aan 'n diepgaande en breedvoerige
bespreking van
19 The Edison, wat uiteindelik gelei het (op
180F) tot die gevolgtrekking dat daardie beslissing nie in die weg staan van die
bevinding dat die
verweerder aan-spreeklik is om die eiser se skade te vergoed
nie.
In die konteks van die kousaliteitsvraag stem ek saam met die
resultaat wat die hof a quo bereik het, naamlik dat die verweerder
aanspreeklik is om die eiser se skade te vergoed, maar die beredenering wat my
tot daardie
gevolgtrekking lei, is nie in alle opsigte dieselfde as dié
van die hof a quo nie, soos sal blyk uit wat hieronder
volg.
Die vraag na feitlike kousaliteit verskaf nie probleme in
hierdie saak nie (soos meestal die geval is in die praktyk, waar die kwessie
van
veroor-saking ter sprake kom). In 'n feitlike sin is die eiser se skade
ongetwyfeld veroorsaak deur die verweerder se optrede.
Dat die eiser nie in
staat was om 'n plaasvervangende bakkie te koop nie,
20
beteken dat sy onbemiddeldheid in 'n feitlike sin 'n mede-oorsaak van die
skade was. Dit is die omstan-digheid wat aanleiding gee
tot die vraag of die
vereiste van juridiese kousaliteit bevredig is.
Gesien die
belangrike rol wat die beslis-sing in The Edison in die hof a quo
gespeel het (en trouens ook, soos weldra sal blyk, in die betoog namens die
verweerder voor hierdie Hof), is dit gerade om eers dié
saak te behandel.
Die feite daarvan word uiteengesit in die uitspraak a quo op 166A-G, en
die tersaaklike gedeelte van die uitspraak van LORD WRIGHT word aangehaal op
166G-167I. Dit is onnodig om dit alles
hier te herhaal. Vir huidige doeleindes
is dit genoeg om die feite en die beslissing te vereenvoudig soos volg. Toe die
verweerders
veroorsaak het dat die eisers se bagger-masjien sink en verlore
gaan, het die eisers nie oor die geldelike vermoëns beskik om
'n
plaasvervangende
21 masjien te koop nie. Om hulle besigheid voort te
sit, het die eisers 'n masjien teen hoë koste gehuur. In hulle aksie om
skadevergoeding
ten opsigte van die waarde van die verlore masjien en van die
uitgawe aan huurgeld, het die House of Lords beslis dat laas-genoemde
eis nie
kan slaag nie, omdat die uitgawe teweeggebring is deur die eisers se
onvermoëndheid en daardie onvermoëndheid "a
separate and concurrent
cause, extraneous to and distinct in character from the tort", "an independent
cause", was. Die uit-werking
van die beslissing, soos dit namens die verweerder
aan die hof a quo (en aan hierdie Hof) voorgehou is, was om 'n
algemeen-geldende en onwrikbare reël neer te lê dat skade bestaande
uit uitgawes
wat meegebring is deur die eiser se onver-moëndheid, in
beginsel nie verhaalbaar is nie (vgl die uitspraak a quo op 160D/E). Ek
sal aanvaar (sonder om daarop in te gaan) dat die uitspraak in
22
The Edison wel voorgegee het om so ' n rigiede reël
neer te lê, en ek sal voortaan daarna verwys as "die
ratio van The Edison".
In ons reg kan daar na my mening geen
twyfel wees nie dat die ratio van The Edison
geen
bestaansreg het nie. Die strakheid daarvan
is
onbestaanbaar met die soepele benadering wat in ons
reg gevolg word, soos dit verduidelik is in die
uitspraak van
hierdie Hof in S v Mokgethi en Andere
1990 (1) SA 32 (A). Met aanhalings (op 39E-H) uit
Minister
of Police v Skosana supra en S v Daniëls en
'n Ander 1983 (3) SA 275 (A) as die
aanknopingspunt,
het VAN HEERDEN AR die volgende gesê (op
39J-41B):
"In die regspraak en die literatuur -hier te lande en in die buiteland - is daar dan ook voorstanders van 'n reeks kriteria vir die bepaling van juridiese kousaliteit; so bv die afwesigheid van 'n novus actus interveniens, 'proximate cause', 'direct cause', voorsienbaarheid en adekwate ver-
oorsaking Die voorstanders van die
verskillende kriteria het
dit in gemeen: 'n handeling wat 'n conditio sine qua
non
23
van 'n gevolg is, kan te ver verwyderd van die gevolg wees om regtens as oorsaak daarvan beskou te word. Hulle meen egter dat 'n maatstaf waarvolgens 'n genoegsame noue verband tussen die dader se handeling en die gevolg vereis word, te vaag is. Vandaar die soeke na meer eksakte kriteria.
Dit spreek vanself dat 'n elastiese maatstaf sy nadele het. Dit het egter ook sy voordele. So bv sê Gordon (op cit op 109): 'Remoteness is at once the most difficult and the most useful of the causal criteria, because it is the vaguest.' Ek betwyfel dan ook of 'n regstelsel sonder 'n oorheersende elastiese maatstaf vir die bepaling van juridiese oorsaaklikheid kan klaarkom. Soos blyk uit die passasies wat hierbo uit Skosana en Daniëls aangehaal is, kom beleidsoorwegings ter sprake en moet daarteen gewaak word dat 'n dader se aan-spreeklikheid nie die grense van redelik-heid, billikheid en regverdigheid oorskry nie. Sodanige oorwegings en begrippe is moeilik vatbaar vir nadere omskrywing. Dit is daarom, meen ek, dat in Blaikie and Others v The British Transport Commission 1961 SC 44 op 49, gesê is:
'The law has always had to come to some kind of compromise with the doctrine of causation. The problem is a practical rather than an intellectual one. It is easy and usual te bedevil it with subtleties,
24
but the attitude of the law is that expediency and good sense dictate that for practical purposes a line has to be drawn somewhere, and that, in drawing it, the court is to be guided by the practical experience of the reasonable man rather than by the theoretical speculations of the philosopher.'
Wat die onderskeie kriteria betref, kom dit my ook nie voor dat hulle veel meer eksak is as 'n maatstaf (die soepele maat-staf) waarvolgens aan die hand van beleids-oorwegings beoordeel word of 'n genoegsame noue verband tussen handeling en gevolg bestaan nie. Daarmee gee ek nie te kenne nie dat een of selfs meer van die kriteria nie by die toepassing van die soepele maatstaf op 'n bepaalde soort feitekompleks subsidiêr nuttig aangewend kan word nie; maar slegs dat geen van die kriteria by alle soorte feitekomplekse, en vir die doeleindes van die koppeling van enige vorm van regsaanspreeklikheid, as 'n meer kon-krete afgrensingsmaatstaf gebruik kan word nie."
Dieselfde benadering is kort daarna deur hierdie Hof
toegepas met betrekking tot 'n deiiktuele eis
om
skadevergoeding: sien International Shipping Co
25 (Pty) Ltd v Bentley 1990 (1) SA 680 (A) op
700H-701F.
In 'n stelsel waar juridiese kousaliteit bepaal word deur
die vraag te stel of daar 'n genoeg-same noue verband tussen handeling en
gevolg
bestaan, en dié vraag beantwoord moet word aan die hand van
beleidsoorwegings en die grense van redelikheid, billikheid
en regverdigheid, is
daar geen ruimte vir die aanwending van die ratio van The Edison
nie. Die onvermoëndheid van die eiser as 'n mede-oorsaak van die skade is
maar net nog 'n feit wat tesame met al die ander feite
van elke besondere saak
in oorweging geneem moet word by die toepassing van die "oorheers-ende elastiese
maatstaf" waarvolgens bepaal
word of die betrokke skade die verweerder
toegereken behoort te word.
Die voorgaande beskouing is op sigself
afdoende rede om die ratio van The Edison opsy te
26
skuif as ontoepaslik in ons reg. Dit is gevolglik onnodig om in te gaan op die
kritiese ontleding waaraan die beredenering van
LORD WRIGHT in daardie saak in
die uitspraak van die hof a quo onderwerp is, of op die kommentaar wat
The Edison ontlok het in die latere Engelse regspraak en deur verskeie
skrywers, wat in die uitspraak a quo behandel word.
Op
dieselfde grondslag is dit onnodig, meen ek, om die beslissings in die
provinsiale en plaas-like afdelings waarin daar verwys is
na die ratio
van The Edison te onderwerp aan die noukeurige ontleding wat hulle in die
uitspraak a quo te beurt geval het (op 174A-179C) . In die mate dat daar
in enkele van die belissings oënskynlik gesteun is op die ratio van
The Edison om tot 'n gevolgtrekking te kom aangaande die vraag na
juridiese kousaliteit, kan daar, in die lig van die soepele maatstaf van ons
reg, aan hulle geen groter betekenis toegeskryf word as dat hulle
27
net illustrasies is van hoe die vraag in die bepaalde feitekompleks van
die betrokke geval opgelos is nie. Alles hang altyd af van
die feite. In soverre
die motivering van enige van die beslissings stellings bevat wat dalk die indruk
mag skep dat die ratio van The Edison toepaslik is in ons reg, is
daardie indruk verkeerd.
Voor hierdie Hof is daar nietemin namens
die verweerder getrag om 'n bestaansreg vir die ratio van The
Edison in ons reg uit te maak, by wyse van 'n argument wat soos volg
saamgevat kan word: in ten minste twee sake, Charles v Malherbe, Bosch &
Co (Pty) Ltd 1949 (3) SA 381 (C) en Muller NO and Others v Government of
the Republic of South Africa 1980 (3) SA 970 (T), was die ratio van The
Edison deel gemaak van die ratio decidendi in daardie sake; in 'n
paar ander sake (bv Ntuli v Hirsch and Adler 1958 (2) SA 290 (W)) is die
ratio van The Edison aanvaar as
28 geldende reg, maar
bevind dat die feite van die betrokke saak onderskeibaar was van die feite in
The Edison; gevolglik is die ratio van The Edison reeds
ingeburger in ons reg; dit moet dus beskou word as 'n reeds gevestigde
beleidsoorweging wat ook in die konteks van die soepele
maatstaf toegepas moet
word; dit is waarskynlik dat "landsburgers hulle sake ingeklee het in die
veronderstelling dat die betrokke
beslissings die reg juis weergee" (Du
Plessis NO v Strauss 1988 (2) SA 105 (A) op 142F); gevolglik behoort die Hof
nie nou van die bestaande regsposisie af te wyk nie.
Hierdie
argument moet verwerp word, met verwysing na elkeen van die onderdele daarvan,
om redes wat kortliks aangegee kan word. Die
opmerkings wat ek hierbo oor die
betrokke beslissings gemaak het, dui reeds daarop dat hulle nie gebruik kan word
as 'n grondslag
waaruit 'n algemeen-geldende regsreël
29
geëkstraheer kan word nie. Daar was geen oorwoë ondersoek na die bestaan van so 'n reël of na enige beleidsoorweging nie. Ad hoc beskouings oor oorsaak-likheid kan nie aanleiding gee tot 'n rigiede beleidsoorweging wat lynreg in stryd is met die buigsaamheid van ons reg insake die maatstaf om juridiese kousaliteit te bepaal nie. Van inburgering kan daar nie sprake wees nie. Die gedagte dat mense hulle sake sou ingerig het na aanleiding van hierdie beslissings is vergesog. Dit is aan die hand gedoen dat die belissings 'n uitwerking sou gehad het in die versekeringswese, deurdat versekeraars hulle premies dienooreenkomstig sou aangepas en bereken het. Ek kan nie aanvaar dat hierdie suggestie verband hou met die werklikheid nie. Daar is geen rede om te dink dat enige vaste kommersiële praktyk voortgespruit het uit wat beskou kon gewees het as 'n gesaghebbende uiteensetting van enige algemeen-geldende regsreël
30
nie. Hierdie Hof het, sover my kennis strek, hom nog nie uitgespreek oor
die ratio van The Edison nie. Daar is na my oordeel geen rede
waarom hierdie Hof nie nou sal beslis dat die ratio van The Edison
nie deel is van ons reg nie.
Vervolgens moet die vraag oorweeg word
of daar, met die toepassing van die soepele maatstaf, 'n genoegsame noue verband
bestaan tussen
die verweerder se onregmatige daad en die skade wat die eiser
gely het. Die verweerder het die eiser blywend ontneem van die gebruik
van sy
bakkie, wat hy nodig gehad het om sy besigheid te bedryf. Om nie sy inkomste te
verloor nie, het die eiser twee dae later
'n bakkie gehuur en daarmee sy
besigheid voortgesit. Die huur wat hy daarvoor betaal het, blyk volgens die
getuie-nis redelik te
gewees het. (Denkbaar kon hy iets aan koste ten opsigte
van die gebruik van sy eie bakkie -as hy een gehad het - bespaar het, maar
dit
is 'n
31
nietigheid wat nie geopper is nie en buite rekening gelaat kan word.) Die
eiser het nie oor die gelde-like middele beskik om vir hom
'n plaasvervangende
bakkie te koop nie. Gevolglik was hy nie in staat om op dié manier die
voortgesette huur van 'n bakkie
te beeindig nie. Dié huur het voortgeduur
vir 'n tydperk van 3 maande, toe dit toevallig deur die verhuurder beëindig
is. Die eiser se besigheid het tot 'n einde gekom.
My beskouing van
die feite is die volgende. Die eiser is in 'n verleentheid geplaas wat
veroor-saak is deur die handeling van die
verweerder. Sy optrede in reaksie
daarop was in alle opsigte rede-lik. Om sy tekort aan geld en gevolglike
onvermoë om 'n bakkie
te koop, te beskou as 'n beletsel om sy uitgawe aan
huur te verhaal, sou onbillik en onreg-verdig wees teenoor hom. Die tydperk van
3 maande waartydens die eiser met 'n gehuurde bakkie sy
32 besigheid
aan die gang gehou het, is nie onredelik lank teenoor die verweerder nie. Dit is
nie onbillik of onregverdig om die verweerder
verantwoordelik te hou vir die
onkoste wat die eiser oor daardie tydperk aangegaan het om sy inkomste te behou
nie. As 'n kwessie
van beleid, behoort hierdie skade van die eiser die
verweerder toegereken te word.
In die uitspraak van die hof a
quo (op 165E-I, 179B en E, en 180E-F) is die vraag na die redelike
voorsienbaarheid van die skade (in die betekenis wat FARLAM Wn R daaraan
geheg
het) beskou as die enkele deurslaggewende maatstaf om aanspreek-likheid te
bepaal. In die lig van die uitsprake in Mokgethi supra en
International Shippinq Co supra was daardie benadering nie korrek nie.
Redelike voor-sienbaarheid kan wel as 'n ondergeskikte toets gebruik word by die
toepassing
van die soepele maat-staf, maar dit kan dit nie verdring nie. Op
daardie
33 grondslag stem ek in die breedste terme saam met die
gevolgtrekking van die hof a quo dat die eiser se skade redelik
voorsienbaar was, maar terselfdertyd dink ek nie dat die toets van redelike
voorsienbaar-heid regtig
van nut is om die eintlike probleme wat in verband met
juridiese kousaliteit in 'n geval soos die huidige kan ontstaan, op te los
nie,
om redes wat weldra sal blyk.
In die betoog namens die verweerder
voor hierdie Hof is dit aanvaar dat dit redelik voorsien-baar was dat die
eienaar van die bakkie
waarmee die verweerder in botsing gekom het, weens sy
finansiële omstandighede nie in staat sou wees om 'n plaasver-vanger
daarvoor
te koop nie, soos die hof a quo bevind het (op 165H-I), maar is
aangevoer dat dit nog nie daaruit volg dat die skade wat die eiser gely het
redelik voorsienbaar was
nie. Die verdere omstandig-hede wat in aanmerking
geneem moet word, is dat die
34 eiser die bakkie vir die bedryf van
sy besigheid gebruik het; dat die produksie van sy inkomste geheel en al van die
gebruik van
'n bakkie afhanklik was; dat die eiser en sy besigheid so
kapitaal-onkragtig was dat nie eens 'n deposito bygebring kon word om 'n
bakkie
op krediet te bekom nie; en dat die eiser versuim het om enige voorsiening te
maak vir die gebeurlikheid dat sy bakkie iets
kan oorkom, by wyse van die
instandhouding van 'n reserwefonds of deur versekering uit te neem. Dit is
hierdie sameloop van omstandighede,
so is aangevoer, wat gelei het tot die eiser
se skade, en dit is so 'n buitengewone sameloop van omstandighede dat dit
aangemerk
moet word as iets wat nie redelikerwyse voorsienbaar was nie. Daar is
veral klem gelê op die eiser se verwytbare versuim om
homself te beskerm
by wyse van 'n reserwefonds of versekering, en in hierdie verband is ons verwys
na sekere uitlatings in 'n Kanadese
beslissing en in 'n
35
artikel in 'n Kanadese regstydskrif (Albertan Caterers Ltd v R Vollan
(Alta) Ltd et al 81 DLR (3rd) 672 op 683 en The Canadian Bar Review
Vol LXVI 129 op 130). In die loop van die argument is voorbeelde voorgehou van
die eienaar van 'n seevarende skip of 'n groot fabriek
sonder reserwes of
versekering, wat enorme bedrae van skadevergoeding ten opsigte van verlore
inkomste sou wou verhaal van 'n verweerder
wat nalatig die skip laat sink of die
fabriek laat afbrand het. Die beginselvraag, so is aangevoer, is of die eienaar
van die skip,
of die fabriek, of die bakkie, toegelaat moet word om die huurgeld
van 'n plaasvervangende voorwerp te verhaal vanaf die datum van
die delik tot op
die datum wanneer hy vonnis teen die verweerder verkry vir die betaling van die
mark-waarde van die verlore artikel.
In die huidige geval het die botsing
plaasgevind op 22 Desember 1988. Die verhoor in die landdroshof het plaasgevind
op 25
36 Januarie 1990, en vonnis is op daardie datum verleen. As
die eiser se huur van Esau se bakkie nie toevallig na 3 maande beëindig
is
nie en die huur oor die hele periode voortgesit sou gewees het, sou die bedrag
van sy vordering bykans R20 000 beloop het, terwyl
die waarde van die bakkie
(volgens ooreenkoms) maar net R3 630 was. Al hierdie oorwegings, so is ten
slotte aangevoer, toon aan dat
die eiser se eis in beginsel verwerp moet
word.
Ter aanvang van die bespreking van die voorgaande betoog ag ek
dit noodsaaklik om 'n paar opmerkings van 'n algemene aard voorop te
stel. Die
belangrikheid en die krag van die oorheersende maat-staf om vrae van juridiese
kousaliteit op te los, wat in Mokgethi supra en International Shipping
Co supra aanvaar is, lê juis in die soepelheid daarvan. Dit is my
oortuiging dat enige poging om aan die buig-saamheid daarvan afbreuk
te doen,
weerstaan moet
37 word. Vergelykings tussen die feite van die geval
wat opgelos moet word en die feite van ander gevalle waarin daar alreeds 'n
oplossing
gevind is, of wat hipoteties kan ontstaan, kan vanselfsprekend nuttig
en waardevol, en soms miskien selfs deurslaggewend, wees, maar
'n mens moet
oppas om nie uit die verge-lykingsproses vaste of algemeen-geldende reëls
of beginsels te probeer distilleer nie.
Die argument dat die eiser se eis "in
beginsel" verwerp moet word, is misplaas. Daar is net een "beginsel": om te
bepaal of die eiser
se skade te ver verwyderd is van die verweerder se handeling
om laasgenoemde dit toe te reken, moet oorwegings van beleid, redelikheid,
billikheid en regverdigheid toegepas word op die besondere feite van hierdie
saak.
Op hierdie grondslag is die Kanadese bronne en die voorbeelde
van vragskepe en groot fabrieke wat aan ons voorgehou is, alhoewel interessant,
van
38 weinig nut by die oorweging van die huidige feite, wat darem
te verskillend is van daardie soort gevalle (hoe húlle ook
al opgelos
behoort te word). Ons het te doen met die onbemiddelde eienaar van 'n
motor-voertuig wat dit gebruik in 'n eenmansbesigheid
waaruit hy sy lewe moet
maak. Daar is derduisende sulke mense in ons land - huurmotorbestuurders,
smouse, kleinbouers, kleinboere,
verkoopsagente, en wat nog. Om te dink, in die
sosio-ekonomiese toestande wat in ons land heers, dat sulke mense reserwefondse
aanhou
of versekering uitneem om hulle te beskerm teen die verlies van hulle
voertuie, is gewoon onwerklik. Na my oordeel is dit vir elkeen
wat op 'n
openbare pad ry redelik voorsienbaar dat hy die risiko loop dat die eienaar van
'n voertuig waarmee hy bots, 'n onbemiddelde
persoon is wat die voertuig gebruik
om 'n lewe mee te maak, dat hy geldelik nie in staat sal wees om dadelik 'n
ander
39 voertuig te koop nie (selfs nie met 'n deposito nie), en
dat hy 'n ander voertuig sal moet huur om nie sy inkomste te verloor nie.
Daarmee wil ek egter geen-sins te kenne gee dat ek redelike voorsienbaarheid as
die beslissende toets sien nie; ek sê slegs
dat ek verskil van die betoog
namens die verweerder in hierdie verband. Die voorsienbaarheidstoets is 'n
oneksakte maatstaf en geleerde
mense kan verskil oor die uitslag van die
toepassing daarvan op bepaalde feite, soos byvoorbeeld in verband met die
sogenaamde talem qualem "reel" of die sogenaamde "eierskedel-gevalle"
(vgl die uitspraak a quo op 180B; en Neethling en Potgieter in 1993
THRHR 157 op 161). Selfs al sou daar gemeen word dat die sameloop van
omstandighede wat gelei het tot die eiser se skade, veral met verwysing
na sy
onvermoë om selfs 'n deposito op 'n ander bakkie te betaal, so
uitsonder-lik is dat dit nie redelikerwyse voorsienbaar
was
40 nie,
sou my beskouing van die feite soos ek dit hierbo gestel het, dieselfde bly: die
aanwending van die oorheersende buigsame
maatstaf lei steeds tot die
gevolgtrekking dat die eiser se skade die verweerder toegereken behoort te
word.
Die oorblywende vraag wat in die betoog namens dle verweerder
geopper is, verdien vervolgens aandag: moet 'n verweerder dan in 'n
geval soos
die huidige aanspreeklik gehou word vir al die skade wat opgeloop het vandat die
delik gepleeg is totdat die verhoor van
die saak plaasvind en vonnis toegestaan
word, selfs al is die skadevergoeding (soos hier) bykans ses keer meer as die
waarde van
die voertuig? Die antwoord, soos altyd, is: dit hang af van die
feite. Al die omstandighede moet in oënskou geneem word om,
met die
toepassing van die soepel maatstaf, te bepaal hoe ver die verweerder se
aanspreeklikheid strek. Die suggestie in die betoog,
van 'n bykans
41
grenslose aanspreeklikheid, is ongegrond. Die nodige begrensing lê
in die maatstaf self, die toepassing waarvan in die huidige
konteks veral
toegespits sal wees op die redelikheid of andersins van die eiser se optrede en
die grense van billikheid en regverdigheid
teenoor die verweerder. In hierdie
opsig lyk dit nie vir my of die toets van redelike voorsienbaarheid enige
nuttige funksie kan
vervul nie.
In die geval waar die beskadigde
voertuig herstelbaar is, soos in Shrog v Valentine supra, sal die eiser
se behoefte aan 'n gehuurde plaasvervanger uit die aard van die omstandighede
tydsgebonde wees. As uitgangspunt is
die posisie nie wesentlik verskil-lend waar
die voertuig onherstelbaar beskadig is nie. Dit kan selfs nie van 'n
vermoënde eiser
verwag word om onmiddellik 'n ander voertuig te koop nie.
Hy moet 'n redelike tyd gegun word om hom aan te pas by die verleentheid
waarin
die verweerder hom gedompel
42
het, om ' n geskikte ander voertuig te soek, om sy geldsake te reël,
selfs om te oorweeg of dit nie gerade is om tydelik (of
permanent) van besigheid
of werk te verander nie. Gedurende 'n redelike tydperk van aanpassing is dit
billik en regverdig dat die
verweerder hom moet vergoed vir sy onkoste om 'n
gehuurde voertuig te gebruik. Die geldelike posisie waarin die eiser hom bevind,
is 'n faktor wat in aanmerking geneem moet word by die beoordeling van die
redelikheid of onredelikheid van die eiser se optrede,
ook met betrekking tot
die tydperk waaroor die huur voortgesit word. 'n Ander faktor wat 'n rol kan
speel, is die houding van die
verweerder. As hy besef, of moet besef, dat hy
aanspreeklik is om die eiser te vergoed vir die markwaarde van die beskadig-de
voertuig,
dan sou dit in sekere omstandighede as onredelik aangemerk kan word
dat hy betaling van die eiser weerhou tot by die verhoor van
die saak. So
'n
43 geval het voorgekom in Zweni and Another v Modimoqale
1993 (2) SA 192 (B AD). Die verweerders ('n staats-amptenaar en 'n
staatsminister) het nie aanspreeklik-heid betwis om die eiseres
te vergoed ten
opsigte van die onherstelbare beskadiging van 'n motor wat sy in haar besigheid
gebruik het nie, soos geblyk het uit
die feit dat haar eis in dié verband
toegegee is enkele dae voor die verhoor. Benewens daardie eis (vir R9 700) is
die eiseres
se verdere eis ten opsigte van onkoste aangegaan om 'n huurmotor te
gebruik vir haar besigheid, deur die verhoorhof toegestaan vir
die hele tydperk
van die datum van die botsing tot die datum van die verhoor (ten bedrae van R12
852). Die appèl teen die
beslissing van die verhoorhof is afgewys, op
grond daarvan dat "the defendants unjustifiably 'kept the plaintiff out of her
money'
until after the commencement of the trial", en dat die toekenning van die
betrokke eis
44
beskou is as "not only approprlate but also
eminently
reasonable" (op 196C-E). In sy uitspraak het
KOTZE
Wn AR gesê (op 196E):
"It should be stressed that the appropriate period during which consequential damage flowing from physical damage should be calculated depends on the facts of each particular case."
Dit
is nie moontlik om riglyne vir die beoordeling
neer te lê wat
op alle feitlike situasies van toepas-
sing sal wees
nie.
Op die feite van die huidige saak is ek van oordeel dat die
eiser, met inagneming van die predi-kament waarin hy hom bevind het, nie
onredelik opge-tree het deur 'n bakkie te huur vir 'n tydperk van 3 maande nie,
en dat dit nie onbillik of onregverdig is teenoor
die verweerder om hom
aanspreeklik te hou vir die vergoeding van die eiser se skade
nie.
Om die voorgaande redes stem ek saam met die gevolgtrekking
waartoe die hof a quo gekom het.
45 Ten slotte is dit nou
nodig om kortliks kommentaar te lewer oor die verskillende maniere waarop
hierdie saak in die landdroshof
en in die hof a quo behandel is. Soos ons
nou gesien het, lei albei metodes om die geskilpunt op te los tot die-selfde
resultaat. Watter benadering is
te verkies? My antwoord is dat dit nie nodig is
om te kies nie. Dit is interessant om daarop te let dat in die Engelse reg die
keuse
tussen die twee benaderings inderdaad tot verskillende resultate
aanleiding gee. In die konteks van 'n eiser se sogenaamde mitigasie-plig
aanvaar
die Engelse howe deurgaans dat die eiser se onvermoëndheid in aanmerking
geneem moet word by die beoordeling van die
redelikheid van sy optrede; dit word
hom nie verwyt dat hy nie stappe gedoen het om sy skade te temper wat hy nie kon
bekostig het
nie. Die toonaangewende saak in dié verband is The
Clippens Oil Co Ltd v Edinburgh and District Water
46
Trustees [1907] AC 291. Maar in The Edison, waar
die
eisers se eis aan die hand van die
kousaliteitsvraag
behandel is, het LORD WRIGHT die saak van
Clippens
Oil onderskei, om tot die gevolgtrekking te
kom dat
die eisers se onvermoëndheid wel in die weg staan
van
hulle eis (sien die uitspraak a quo op 167D-G en
171B-F). Gevolglik is die keuse van beskouing in die
Engelse
reg van wesenlike belang, en dit het
aanleiding tot baie probleme
gegee. In McGregor on
Damaqes (15de uitg) par 321 op
195-6 is daar 'n
bespreking van die Engelse regspraak ná
Clippens Oil
en The Edison (ook Liesbosch), wat
afgesluit word met
die lakonieke opmerking dat
"... it is thought that the precise point at which the dictum in Clippens takes over from the decision in Liesbosch may still have to be worked out."
In ons reg bestaan die probleme nie.
Sonder die tirannie van die ratio van The Edison,
47
speel die redelikheidsmaatstaf by ons 'n deurslag-gewende rol by albei benaderings, soos blyk uit die hele bespreking hierbo. Dit is dus nie verbasend nie, maar te verwagte, dat die resultaat dieselfde sal wees. Daar kan egter gevalle voorkom waar dit dalk nodig sal word om 'n keuse te maak. Een moont-likheid is waar die ligging van die bewyslas 'n verskil kan maak. 'n Ander moontlikheid is dat in die ontwikkeling van ons reg 'n eis erken mag word vir die vergoeding van uitgawes om 'n beskadigde of ontneemde artikel deur 'n gehuurde artikel te vervang selfs waar eersgenoemde nie in die produksie van inkomste gebruik word nie, soos deur verskeie skrywers voorgestaan word (sien bv Lee en Honoré Law of Obliqations (2de uitg) par 576(iii) op 252; Boberg Law of Delict Vol 1 op 627; Stoll en Visser in 23 (1990) De Jure op 347 e v; en Neethling, Potgieter en Visser Deliktereg (2de uitg) op 231), in welke geval
48
daar nie 'n mitigasieplig in die tot nog toe erkende betekenis van die
woord te pas kom nie. Aangesien dit in die huidige saak egter
nie nodig is om 'n
keuse te maak nie, gaan ek nie verder op daardie moontlikhede in
nie.
Die appèl word van die hand gewys met koste.
A S BOTHA AR
E M GROSSKOPF AR
KUMLEBEN AR STEM
SAAM
MAHOMED WND AR
VAN DEN HEEVER AR
2
Ek het die voorreg gehad om die meerderheidsuitspraak te
lees en stem saam met alles daarin wat gaan oor die reg, met slegs een geringe
voorbehoud. Ek het bedenkings of die redelikheid van 'n eiser se optrede
beoordeel behoort te word teen die moontlike onredelikheid
van dié van 'n
verweerder wat betaling van die waarde van 'n beskadigde saak weerhou tot by die
verhoor van die saak. Dit
is onbillik teenoor alle eisers wat delikskade ly, dat
geen rente gelas kan word nie op skadevergoeding totdat die bedrag daarvan
deur
getuienis of ooreenkoms bepaal is. Dit is 'n leemte in ons reg wat die aandag
van die wetgewer verg (5A EAGLE INSURANCE CO LTD v HARTLEY 1990 (4) SA
833 (A) 941-G-842B) eerder as van die hof en dan boonop op 'n ad hoc
grondslag.
Maar soos ek die getuienis verstaan, was dit nóg eiser se saak
nóg bewys dat onvermoëndheid oorsaak was van sy
gevolgskade. Sy
probleem was eerder om dadelik 'n plaasvervanger te vind vir dit wat hy
verloor
3
het. So 'n verskil in omlyning van die
probleem kan beleidsbesluite verg wat nie in die onderhawige geval oorweeg is
nie. Indien ek
'n artikel het met 'n markwaarde van slegs RX maar geen
plaasvervanger daarvoor kan vind teen daardie prys nie, is ek geregtig om
op
koste van die verweerder 'n (waarskynlik meer moderne en beter) plaasvervanger
daarvan aan te skaf teen dubbel die prys? - want
dit is wat eiser voornemens was
om te doen. Sy getuienis m.b.t. syfers was amper so deurmekaar as ander
feitelike bewerings gemaak
in die loop van sy meermaal gewysigde pleitstukke. Hy
het byvoorbeeld aanvanklik beweer dat hy 'n ander bakkie van Dorothy Hoffman
gekry het om sy besigheid mee voort te sit. By die aanvang van die verhoor
verdwyn sy uit die stukke en word haar naam vervang met
die van Patrick Esau.
Volgens sy pleitstukke was dit sy omset wat ongeveer R300 per dag was. In sy
getuienis word "omset" en "wins"
blykbaar sinoniem beskou. Daar is egter namens
verweerder voor ons toegegee dat aanvaar kan word
4
dat eiser se wins darem meer as R60 per dag was terwyl
hy met
sy bakkie gesmous het.
Waar hy aanvanklik huur vir 'n
plaasvervangende voertuig vir 'n onbepaalde tyd gevorder
het, is dit beperk in nadere besonderhede tot 30
November 1989. By die aanvang van die verhoor is die
tweede eis verminder om slegs huur te vorder vir ses dae
per week vanaf 24 Desember 1988 tot 24 Maart 1989. Wat
betref 'n plaasvervangende bakkie was sy getuienis in
hoof as volg aangeteken:
"Ek het probeer om bakkie te koop by Atlantis Toyota Motors en by 'Auctions'. Daar was 'n bakkie vir R9 000 maar ek kon dit nie bekostig nie. Ek het ook nie 'deposit' gehad nie."
Hy sê nie dit was die goedkoopste wat hy kon vind, of
die eweknie van wat hy verloor het nie. Hy self het
"nooit gedink" aan die waarde van sy beskadigde voertuig
nie, ondanks die feit dat namens hom 'n landdroshofreël
24 (9) kennisgewing geliasseer is waarvolgens hy
voornemens was om deskundige getuienis aan te bied dat
5 "the
market value of the Plaintiff's mctor vehicle just prior to the collision was
the sum of R5 000". Van hierdie voorneme het
niks gekom nie omdat daar by die
aanvang van die verhoor ooreengekom is op die markwaarde. Qnder kruisverhoor het
hy vertel dat hy
R2 500 na die ongeluk gehad het om 'n voertuig te koop, en dat
hy van plan was om R9 000 te betaal vir 'n plaasvervanger, wat hy
gemeen het dat
hy 'n jaar na die botsing sou kon vermag. Dit is aan hom gestel dat hy een sou
kon gekoop het vir R5 000. Ek aanvaar
hierdie bedrag kom uit sy eie reël 24
(9) kennisgewing. Sy antwoord op hierdie stelling was "Miskien hier rond maar
nie waar
ek bly nie". Daar is nie verder ingegaan op besonderhede van sy pogings
om 'n plaasvervangende voertuig te bekom nie. Daar is egter
geen getuienis deur
verweerder aangevoer dat eiser binne minder as drie maande 'n plaasvervanger vir
dit wat hy verloor het sou kon
gevind het nie. Volgens die pleitstukke was dit
'n bejaarde bakkie, 'n 1975 Toyota Hilux. Volgens die
6 ooreenkoms
tussen die partye was dit slegs R3 630 werd.
Die landdros se
bevinuing dat die verweerder hom nie gekwyt het van die bewyslas om te toon dat
eiser se optrede onredelik was nie,
nóg wat betref die eiser se uitgawe
op huur, nóg wat betref die tydperk daarvan, kan nie aangekyf word
nie.
Indien dit pertinent by die verhoor geopper was dat eiser nie
'n plaasvervangende voertuig kon koop nie vanweë sy onvermoendheid
(en nie
omdat hy gemik het na 'n verbetering op dit wat vernietig is nie. Die verweerder
se plig is om eiser te vergoed vir sy skade,
nie om hom te verryk nie) en dat
die perke van verweerder se aanspreeklikheid t.a.v. die tweede vordering
beoordeel moet word aan
die hand van juridiese kousaliteit, sou die oorkonde
waarskynlik anders gelyk het as dié aan ons voorgelê. Alles hang
inderdaad altyd af van die feite, by die beoordeling van waar die streep getrek
behoort te word om juridiese kousaliteit te bepaal.
Die tersaaklike feite is na
my mening, met
7 eerbied, nie behoorlik uitgepluis in die
onderhawige saak nie, omdat dit nie die grondslag was waarop die verhoor van die
saak gevoer
is nis.
Ek stem saam dat die appél van die hand
gewys word met koste.
L VAN DEN HEEVER AR
SAFLII:
|
Terms of Use
|
Feedback
URL: http://www.saflii.org/za/cases/ZASCA/1994/64.html